Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1356 articles
Browse latest View live

Boekbekendstelling: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Bloemfontein)


Video: Kaapstad-bekendstelling van Grensgeval deur Marita van der Vyver

$
0
0

Op Woensdag 6 November 2019 is Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval, by die Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. Annelize Visser het met Marita gesels. Kyk hier na die gesprek:

............

“Opgedra aan al die mans wat nie wou gaan nie en al die vroue wat nie kon bly nie.”  – opdrag in Grensgeval
Titel: Grensgeval
Skrywer: Marita van der Vyver
ISBN: 9781485903796
 
Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
 
Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde.
 
In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
  • Grensgeval is ook in Engels beskikbaar onder die titel Borderline

............

Annelize Visser het met Marita van der Vyver gesels.

Grensgeval is ook in Engels beskikbaar onder die titel Borderline, wat deur Annelize vertaal is.

“Jy maak nooit ’n boek klaar nie, jy versaak dit, anders sal jy nooit klaar skryf nie,” was Marita se raad aan ’n voornemende skrywer in die gehoor.

“As skrywer is jy altyd onseker oor jou skryfwerk, want jy word konstant beoordeel. Ek dink dis goed vir ’n skrywer, want dit beteken jy wil groei,” het Marita aan ’n ander voornemende skrywer in die gehoor gesê. Sy het ook gepraat oor haar blog wat sy gebruik om storie-idees vir haarself uit te redeneer én waar sy gesels oor die struikelblokke op haar skrywerspad: http://www.maritavandervyver.info/

Marita teken boeke by die Book Lounge in Kaapstad.

The post Video: Kaapstad-bekendstelling van <i>Grensgeval</i> deur Marita van der Vyver appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-resensie-essay: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

$
0
0

Titel: Hond se gedagte
Skrywer: Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179294

“Daar is inderdaad in rugby die soort musiek en poësie wat ek later jare in ’n goeie corrida in Spanje leer waardeer het: ofskoon die towerkuns van ’n werklik goeie vertoning hoofsaaklik bepaal word deur die feit dat dit so seldsaam is, is dit net so waar dat ’n werklik goeie rugbywedstryd beoordeel moet word teen die agtergrond van tallose miserabele en dikwels morsige mislukkings. Miskien is dit juis dít wat ’n mens so aangryp omtrent Springbokrugby, wat maar alte dikwels op mislukte kragvertonings uitloop, met die gevolg dat die rare volmaakte juwele skitter met ’n glans wat mens maar selde elders teëkom.”
(André P Brink in ’n Vurk in die pad – ’n memoir, 2009:76)

 

1. Inleidend

Kerneels Breytenbach (Foto: verskaf)

Die pas afgelope Wêreldrugbybekertoernooi in Japan het menige Suid-Afrikaanse rugbyliefhebber groot vreugde besorg toe die Springbokspan op 2 November 2019 die Engelse Rose met ’n eindtelling van 32–12 verslaan het en sodoende die gesogte Webb Ellis-trofee vir die derde keer verower het. Springboktruie is om elke hoek en draai gewaar en op Facebook en ander sosialemediaplatforms het Suid-Afrikaners die Groen-en-goud se sege met trots uitgebasuin. Grapjasse het humoristiese foto’s sowel as sarkastiese opmerkings onder mekaar gedeel en sommige ondersteuners het selfs so ver gegaan om te verklaar (soortgelyk aan die opmerking in Breytenbach se roman) dat hulle “wil wraak neem vir al die mense, swart en wit, wat aan die hand van die Kakies gesneuwel het in die tweede Anglo-Boereoorlog” (Breytenbach, 2019:203). ’n Enerse euforie het in gemeenskappe regoor Suid-Afrika geheers as tydens die Springbokspan se sege oor Nieu-Seeland in die 1995-Wêreldbekereindtoernooi. Vir ’n paar uur het Suid-Afrikaners vergeet van kredietafgraderings, beurtkrag, kommissies van ondersoek na staatskaping en politieke kaskenades. ’n Gevoel van samehorigheid en nasietrots het geheers. 

Intussen het Kerneels Breytenbach se jongste roman, Hond se gedagte, midde dié internasionale rugbyskouspel verskyn. Breytenbach is veral bekend as skrywer, resensent en ouduitgewer. Sy oeuvre tot op hede sluit in Morsdood van die honger (1992), Glimlag (1993), Piekniek by Hangklip (2011) en Ester (2014). Om Hond se gedagte tydens (en na afloop) van die Wêreldbekerskouspel te kon lees, kan bloot beskryf word as ’n rit op die skouspelagtige rugbytuimeltrein wat Erns Grundling se reisboek Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan (en die gepaardgaande televisiereeks wat hoofsaaklik op rugby en die Wêreldrugbybekertoernooi fokus) na ’n kinderpartytjie laat lyk. Breytenbach moker die skandes en sakrale tradisies wat agter die rugbyfenomeen skuil met ’n spreekwoordelike lugdrukboor oop – vergeet maar van die beiteltjie. 

 

2. Rugby en Afrikaanse letterkunde

In sy artikel “Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948–1995: ’n historiografiese studie” wys Wouter de Wet (2016:113) daarop dat “die hervatting van internasionale rugby na die Tweede Wêreldoorlog nuwe belangstelling onder rugbyondersteuners wêreldwyd gekweek [het en] tientalle populêre rugbyboeke in die daaropvolgende jare in Suid-Afrika verskyn [het]”. Hierdie boeke was hoofsaaklik niefiksie en dit is gevolglik opvallend dat daar betreklik min Afrikaanse fiksieboeke met rugby as tema verskyn het indien veral Afrikaanssprekende lesers se liefde vir die spel in ag geneem word.

Die nasionale Springbok-embleem

Verskeie prominente Afrikaanse skrywers en digters was immers self rugbyspelers of het ’n besondere belangstelling in die sport getoon. Die digter-skrywer Uys Krige was ’n kranige rugbyspeler en het in 1932 tydens sy verblyf in Frankryk vir Toulon se tweede span uitgedraf (Kannemeyer 2002:137). In sy reisskets “Rugby in Frankryk” wat in Sout van die aarde (1961) opgeneem is, beskryf Krige op elegiese wyse die Franse se passie vir rugby sowel as sy eie ervarings as speler. Alhoewel André P Brink ’n voorliefde vir tennis gekoester het, was hy ’n toegewyde rugby-ondersteuner. In sy outobiografie ’n Vurk in die pad (2009) skryf Brink waar sy liefde vir die spel begin het en op welke wyse dit sy lewe beïnvloed het – ook (heel ironies!) sy liefdeslewe: “Maar rugby het ook opgeduik in die kosbaarste dimensie van my persoonlike lewe. Teen die end van 2004 het ek Karina [Szczurek] in Salzburg ontmoet. Kort daarna was dit rugby wat die seël op ons verhouding geplaas het” (2009:78).

Uys Krige en André Brink was kranige rugby-ondersteuners (Foto's: verskaf)

Slegs enkele Afrikaanse romans en gedigte waarin rugby prominent as tema figureer, het tot op hede verskyn, waarvan die oorgrote meerderheid jeugromans is. Van die bekendste jeugtekste sluit in ID du Plessis se Springbok-reeks bestaande uit Die Springbok (1932), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon (1934) en Rugby in Rio (1941), Kobus Maree se Proefwedstryd vir Wikus (1993) en Fanie Viljoen se Monsterrugby (2016). John Miles se Blaaskans (1983) fokus op die lewe van ’n onderwyser en rugbyheld Flip Nel wat by ’n gevaarlike politieke spel betrokke raak. Miles se hoofkarakter sinspeel op die befaamde Springbokrugbykaptein Philip Jacobus “Flip” Nel wat tydens sy rugbyloopbaan 46 wedstryde vir die Springbokspan gespeel het. In Hond se gedagte is die Springbokkaptein ironies genaamd Katstert Nel – ’n intertekstuele verwysing na dié legende. Tydens ’n onderhoud met Fleur de Villiers merk Katstert Nel terloops op: “Maar jy moet miskien John Miles se Blaaskans gaan lees, as jy die volle prentjie wil kry.” Die liefde vir rugby word dus van een generasie na ’n ander oorgedra.  

In 1994 debuteer Braam van der Vyver met die satiriese rugbyroman Stywe arm waarin hy onder meer oor korrupsie binne rugbykringe spekuleer. Meer onlangse romans sluit in Louis de Villiers se omstrede Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) en FJ Labuschagne se Beseringstyd (2014) waarin rugby en godsdiens as temas sterk figureer. Breytenbach se roman sluit tematies sterk by Labuschagne aan in terme van rugby en godsdiens as temas en lewer gevolglik ’n belangrike bydrae tot die enkele rugbyromans wat tot dusver in Afrikaans verskyn het.

Afrikaanse romans met rugby as sentrale tema

Wat die Afrikaanse poësie betref, is rugby een van die temas wat nog ontgin moet word. Enkele gedigte, soos Jeanne Goosen se “die dag op nuweland” uit haar bundel ’n Uil vlieg weg (1971), betrek rugby as tema en is veral relevant tot dié bespreking aangesien die gedig as satire tematies aansluit by Breytenbach se roman. In ’n onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba merk Marlene van Niekerk tong-in-die-kies op dat “[d]ie groot ‘rugbybundel’ (ahem) nog geskryf [moet] word” (2016).

3. Hond se gedagte

Die romantitel verwys na die Afrikaanse idioom “om hond se gedagte te kry”. Volgens De Wet (2011:188) dui die idioom daarop dat ’n persoon agterdogtig raak wanneer hy/sy “hond se gedagte” kry. Reeds met die intrapslag dui die titel op die misterieuse gebeure agter die skerms. Die roman speel af oor ’n tydperk van twee weke voor die Wêreldrugbybekereindstryd in 2025.  Ses jaar in die toekoms in word Facebook stelselmatig deur ’n nuwe mediaplatform genaamd SocialEyes uitgeskouer en ’n koning staan aan hoof van die Britse koningshuis. Sportkwotas is iets van die verlede en rugby is steeds Suid-Afrika se spreekwoordelike (en in die roman se geval letterlike) godsdiens.  

Fleur de Villiers is ’n vryskutjoernalis wat deur ’n ou vriend genader word om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein Katstert Nel te skryf. De Villiers se karakter is tekenend van (en heel moontlik gebaseer op) ’n gerekende joernalis soos Fleur de Villiers wat tussen 1960 en 1986 ’n prominente rol as ondersoekende joernalis in Suid-Afrikaanse mediakringe gespeel het. Fleur het nie ’n bang haar op haar kop nie. Haar joernalistieke insig en instink is so fyn ingestel soos dié van Devi Sankaree Govender en Debora Patta.

’n Gevoel het haar gepla, nog voordat sy haar laaste ronde onderhoude afgehandel het. Iets word vir haar weggesteek. ’n Ontbrekende brok inligting. Die kropgevoel het oorgegaan in ’n baie sterk spesmaas. Sy het gesoek vir leidrade. Die ongemak het gegroei; sy het haar in die domein van die Corpus Christi en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie bevind, dáár waar God se Groot Waarheid die pas aangee. (23)

Fleur is egter nie ’n kenner of groot liefhebber van rugby nie. Die skryfprojek word uit geldnood aanvaar en soos die gebeure ontvou, kom Fleur tot die besef dat daar ’n slang in Ramses Ellispark se gras skuil. Dit lei haar op ’n speurtog agter die waarheid aan. Skuil daar dalk meer agter die legendariese Katstert Nel?

3.1 Popol Vuh, godsdiens en humor

Tydens Fleur se speurtog om agter die kap van die byl te kom, kuier sy gereeld by haar gunstelingkroeg en restaurant. Popol Vuh. Lesers sal tydens die lees van die roman opmerk dat Breytenbach ’n georkestreerde spel met die leser speel wat naamgewing betref. Dit dra by tot die humor in die roman. Nie alle name is bloot toevallig nie (soos reeds vroeër in Fleur de Villiers se geval aangedui). Die naam Popol Vuh verwys na ’n antieke teks waarin die mitologie en geskiedenis van die K’ich’e-nasiei (deel van die Majas) opgeteken staan. Die naam Popol Vuh verwys na “Boek van die gemeenskap” of letterlik “Boek van die mense”. Sodoende word die kroeg se naam by een van die prominente temas van die roman betrek, naamlik godsdiens. Popul Vuh word as sulks die bron van Fleur se kennis oor die geheime wat agter die skerms afspeel.   

In ’n onderhoud met Naomi Meyer merk Breytenbach op: “Die plesier van Hond se gedagte was vir my om rugby te gebruik om mense oor godsdiens te laat nadink. Die boek handel oor geloof – hoe mense dit verloor, hoe hulle geloof herwin, hoe bereid hulle is om in wonderwerke te glo.” 

Dit sal geen oordrywing wees om te sê dat Suid-Afrikaners ’n obsessie met rugby het nie. By voormalige Model C-skole word rugby sonder twyfel as die belangrikste sportsoort beskou en word die meerderheid hulpbronne aan dié sportsoort toegewys. Dit is dus nie vergesog om te sê dat rugby in talle gemeenskappe waar rugby as sport beoefen word (selfs buite Suid-Afrika), op soortgelyke vlak as godsdiens beskou word nie. Breytenbach stel rugby en godsdiens in die roman gelyk aan mekaar en slaag daarin om deur middel van fiksie lig te werp op die sterk band wat daar tussen godsdiens (of geloof) en rugby bestaan. Laasgenoemde word wel op humoristiese wyse as deel van die narratief ingespan om ’n gewigtige (en selfs omstrede) onderwerp te belig.

Corpus Christi (wat geloof verteenwoordig) en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarvu) word deur Jaap Schvantz, PW Botha se laksman tydens die tagtigerjare, en sy vrou. Krystle, die dogter van ’n struggle-aktivis, Martha Bosch, bestuur. Schvantz (Duits vir die manlike geslagsorgaan) en Krystle se karakters word ingespan om die mens se geldgierigheid uit te beeld, maar plaas veral klem op die misbruik van geloof vir geldelike gewin.

“Corpus Christi is meer as ’n kerk”, sê sy. “Dis ’n maatskappy. Met begrotings en winsteikens.” […] Afrikaners is die grootste ondersteuners van rugby. Of was. En toe die getalle begin verminder, bywoning rampspoedig begin daal, het Corpus Christi die antwoord gebring. Koppel die Afrikaner se godsdiens aan sy sport, en hy is oorwinbaar.” (193) 

Rugby en geloof word deur Corpus Christi en Sarvu tot eenheid saamgevoeg ter wille van geldelike gewin. Sodoende ontbloot Breytenbach die ongesonde verhouding wat tussen rugby en geloof binne die Suid-Afrikaanse samelewing gedy en lewer terselfdertyd belangrike sosiopolitieke kommentaar op die mag wat geloof en sport as eenheid binne ’n gemeenskap kan uitoefen – hoe ongesond dit ook al mag wees.

Wat Hond se gedagte van ander rugbyromans onderskei, is ongetwyfeld Breytenbach se skerp sin vir humor. Skreeusnaakse insidente soos Slapogie Losper se seksorgie met twee Argentynse prostitute waartydens hy ’n toon breek, die losskakel Pedrovene Smith wat gedigte skryf en die sekswerker wat haar vlees en gees op haar taalkundeprofessor gemodelleer het, kom in die roman aan bod. Fleur moet boonop vrede maak met haar bejaarde moeder, die skrywer van Die regte manier om te lewe (Wat uit Emsie Schoeman se Goeie maniere & etiket geplagiariseer is) en 'n demensielyer, wat haar kinderjare ontsier het. Die humor is vlymskerp en Breytenbach se spel met taal dra by tot ’n genotvolle leeservaring.

Breytenbach tree ook intertekstueel met JM Coetzee in gesprek. Tydens die 1995-Wêreldrugbybekertoernooi het Coetzee ’n artikel in Southern African Review of Books gepubliseer waarin hy krities oor Suid-Afrikaners se verhouding met rugby geskryf het. In Hond se gedagte word Coetzee se idees soos volg tydens ’n bespreking van die verhouding tussen rugby en godsdiens betrek:

Dit is ’n laevlak-transendasie. Maar Coetzee het nie Corpus Christi geken nie. Hy het rugby uitgelig, gesê dat Saterdagmiddag danksy rugby vir baie mense ’n groter betekenis het as Sondagoggend. Nou, Corpus Christi verbind die twee, nè? Die rugbywedstryd het net betekenis as jy Sondagoggend gaan dankie sê vir die gawes aan jou toegedeel. (388)

Coetzee se wyse woorde word prakties gedemonstreer deur middel van fiktiewe gebeure in die roman. In Hond se gedagte word die betekenis van Saterdagmiddae met Sondagoggende gekoppel. 

3.2 Waar pas die hond(e) dan in?

'n Duitse herdershond (Foto: Wikipedia)

Een van die belangrike karakters in die roman is Katstert Nel se hond, Dawk. Dawk is ’n Duitse herdershond vernoem na “Dok” Danie Craven (1910–1993)ii wie se invloed op Suid-Afrikaanse rugby legendariese status beklee. Craven se gedagtes en filosofie oor rugby figureer sterk in die roman. (Boonop dra Dawk se karakter by tot een van die groot onthullings in die roman.) Terselfdertyd kom Alice, kleindogter van die gravin van Athlone, op besoek na Suid-Afrika vir ’n internasionale hondeskou. Die Springbokrugbyspan en die gravin se kleindogter gaan voor die eindstryd in dieselfde hotel tuis. Die aand voor die eindstryd sorg die honde egter vir groot drama in die hotel wat almal behoorlik op hol het. (Lesers wat Jeanne Goosen se roman ’n Pawpaw vir my darling gelees het, sal laasgenoemde gebeure veral geniet.)

Sonder om te veel geheime van die roman te verklap (en daar is heelwat!), is dit veral die gravin se kleindogter en Dawk wat onder andere “hond se gedagte” by Fleur de Villiers en haar medejoernaliste geskep het. Terselfdertyd word Katstert Nel en Dawk aan die einde van die roman by die oorkoepelende tema van geloof betrek. Met laasgenoemde slaag Breytenbach daarin om die leser te dwing om ernstig te besin oor die rol en waarde van geloof – hoe geloof verloor, maar ook herwin kan word.

  1. Samevatting

Hond se gedagte is ’n lywige roman waarin belangrike sosiale kommentaar gelewer word oor Suid-Afrikanerskap, rugby, geloof en die rol van die kerk. Belangrike en interessante temas, soos vooroordele, stereotipering, demensie, magsug en geldgierigheid, kom ook aan bod. Hierdie roman vorm ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing (die verlede, hede en toekoms), maar fokus veral op die Afrikanergemeenskap. Breytenbach dwing die leser by wyse van spreke om daadwerklik introspeksie te doen en vrae te vra oor belangrike vraagstukke waarmee die samelewing daagliks gekonfronteer word. Laasgenoemde geskied egter op humoristiese wyse en die roman slaag daarin om ’n genotvolle leeservaring te verseker sonder enige pretensieuse hoogdrawendheid. Breytenbach beskik boonop oor die vermoë om sensuele sekstonele te skryf wat nie sy naam op die Literary Review se Bad Sex in Fiction Award-lys sal laat verskyn nie. Alhoewel nierugbyliefhebbers moontlik langtand aan die roman sal begin lees, sal die geleidelike opbou van spanning, die nimmereindigende dramatiese intrige en skreeusnaakse humor lesers soos een van Jeanne Goosen se opgewonde toeskouers in “dag op nuweland” naarstiglik laat aanhou lees – selfs al weet jy nie wat die verskil tussen ’n skrumskakel en slot is nie. Die eindresultaat was net so opwindend soos die Wêreldbekereindstryd op 2 November 2019.  

Met Hond se gedagte het Breytenbach ’n waardevolle en belangrike bydrae tot die rugbyroman in Afrikaans gelewer.

Bibliografie

Brink, AP. 2009. ’n Vurk in die pad – ’n memoir. Kaapstad: Human & Rousseau.

Coetzee, JM. 1995. Southern African Review of Books (38), Julie/Augustus.

De Wet, J. 2011. Wat praat jy! Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings. Pretoria: Protea.

De Wet, W. 2016. Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948– 1995: ’n Historiografiese studie. Historia, 61(1):113–31. 

Esterhuizen, L en M van Niekerk. 2016. Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes. Versindaba. http://versindaba.co.za/2016/06/16/onderhoud-met-marlene-van-niekerk-die-aarde-as-oester-en-ander-skryfkundes (10 November 2019 geraadpleeg).

Kannemeyer, JC. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.

Meyer, N en K Breytenbach. 2019. Kerneels Breytenbach oor die Wêreldbeker 2019 en oor Hond se gedagte. https://www.litnet.co.za/kerneels-breytenbach-oor-die-wereldrugbybeker-2019-en-oor-hond-se-gedagte (11 Oktober 2019 geraadpleeg). 

 

Eindnotas

[i] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Popol_Vuh.

[ii] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Danie_Craven.

Kyk ook:

Video: Bekendstelling van Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach oor die Wêreldrugbybeker 2019 en oor Hond se gedagte

The post LitNet Akademies-resensie-essay: <em>Hond se gedagte</em> deur Kerneels Breytenbach appeared first on LitNet.

Book launch: For the love of the land by Ivor Price and Kobus Louwrens

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

$
0
0

Titel: Sewe-en-veertig 
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178242

Mosi Mosholi, ’n datawetenskaplike met ’n shady verlede en ’n redelik ongesellige fobie vir kieme en stof, het ’n angswekkende patroon in haar gesofistikeerde digitale databiblioteek ontdek. Drie lukrake sterfgevalle in Kaapstad blyk geen ongeluk te wees nie, maar die donker kant van Mosi se data-insamelingsbesigheid verhoed haar om die polisie se hulp in te roep. Enter kuberboffin, Sarah Fourie, in al haar Coke-slukkende, motorfietsryende, kortgat, ongedurige glorie. Oudspeurder Jaap Reyneke is op sleeptou en die twee word uit Gauteng opgekommandeer om te gaan uitvind of Sarah se vriendin se sinistere ontdekking wel water dra. En om nog moontlike opvolgende moorde te probeer keer.

Hulle snuffeltog lei hulle na ’n spesifieke hotel waar ’n paar interessante karakters ’n tyd gelede een oggend tydens die ontbytuur saam in die eetkamer opgeëindig het. Sarah en Jaap moet uitvind wat die konneksie is wat die ontbyteters se lewens in gevaar stel. Of sit een van hulle dalk agter die moorde? Het iemand iets gesien wat die melk in hulle graanvlokkies onmiddellik suur gemaak het? Het hulle tussen happe roereier en spek dalk iets gehoor wat iemand sou noop om hulle die een na die ander af te ransel?

Een van die gaste is ’n bendeleier uit die Flatse. Nog ’n ander een is ’n stinkryk bekende sakeman. Gooi ’n paar buitelanders en ’n plaaslike aktrise ook in die mix en die drade wat jy bymekaar moet trek is interessanter as ’n Venik-massering. Intussen stap die ure aan en as Mosi inderdaad reg is oor die datapatroon, gaan die moordenaar se mes binne enkele dae nog ’n sagte teiken tref. Gaan Sarah en Jaap die knoop betyds deurhaak? Natuurlik gaan hulle.

Irma Venter se sewende boek in die S-reeks is die sewende volronde bewys van haar vernuf as krimiskrywer. Met elke boek kry sy dit weer en nog ’n keer reg om die leser te oorrompel met haar gulhartige skryfwerk. Sy bedérf haar aanhangers. Haar karakters is almal mense met wie jy om ’n braaivleisvuur wil sit en kuier om nog meer van hulle te wete te kom. Haar navorsing oor die buitengewone, hetsy plekke of stede of tegnologie, is altyd raak en die storielyne is immer in pas met die tydsgees. Venter gaan jou regtig nooit verveel nie.

Die onwaarskynlike vriendskap tussen Sarah en Jaap is al in ’n paar boeke in wording en is een van die groot vreugdes van die boek. Hulle unieke verhouding is ook waar die menslikheidsaspek van Sewe-en-veertig die hardste praat, sonder dat die grit deur sentimentaliteit afgewater word. Nuwe dissipels van Venter sal naatloos in die twee se eiesoortige liefde en besorgdheid oor mekaar inval en ’n ellelange backstory is nie nodig om hulle verknogtheid aan mekaar te verstaan nie. Mens sien uit na nog ’n S-boek wat die verhouding tussen die twee verder ontgin. ’n Newekarakter wat hopelik in ’n toekomstige boek haar eie volwaardige spreekbeurt gaan kry, is Mosi se assistent, Smittie. Daar is ryke stof opgesluit in haar doktersgraad oor algoritmes wat menslike gedrag voorspel.

Nog ’n regmerkie vir Venter is haar nié-so-standaard aanbieding van Kaapstad. As jy bekend is met als wat aan die voet van Tafelberg gebeur, sal jy waarskynlik vir ’n oomblik of twee kopkrap oor hierdie weergawe van die Moederstad. Hoewel sekere landmerke onveranderd daar uitsien, is verskeie restaurante, hotelle en kroeë uit haar skrywersduim gesuig. Nie eers Mosi se drones gaan dié interessante plekke vir jou kan opspoor nie. Hierdie Kaapstad is ook nie die Mekka van sonskyn en cocktails soos wat altyd in toerismebrosjures opgedis word nie. Hierdie Kaapstad is koud en droef. Dis donker en onvoorspelbaar en ’n broeiplek vir misdaad en gure karakters. Venter se Kaapstad is die teenpool van vakansiepret en die perfekte backdrop vir skurke om te doen wat hulle die beste doen. Soos in die geval van Nordic noir is die landskap bleek en die bui heel somber.

Sewe-en-veertig is die ideale leesstof vir die naderende somervakansie en dit bevat al die regte bestanddele om jou vas te pen in ’n leesgreep wat moontlik jou familie gaan irriteer. Daar is hope aksie en drama, verskeie verdagtes om jou aan die raai te hou en meer as genoeg Irma Venter-magic om jou enduit te boei. Hoewel dit nie my persoonlike gunsteling uit Venter se pen is nie, doen sy met Sewe-en-veertig steeds als wat van ’n goeie misdaadskrywer verwag word. En sy doen dit, heel natuurlik, damn goed daarby.

The post Resensie: <em>Sewe-en-veertig</em> deur Irma Venter appeared first on LitNet.

Book launch: Will South Africa be okay? by Jan-Jan Joubert

$
0
0

...........

About the book

Author: Jan-Jan Joubert 
Publisher: Tafelberg
ISBN: 9780624087731

After the ANC’s victory in the 2019 elections, president Cyril Ramaphosa’s mandate is stronger than ever. He can now make good on his promises to clean out government corruption. But will he be successful and what does this mean for South Africa and its people? What does South Africa’s future look like with challenges like the land debate, racial tension and a dire economy? Will South Africa survive and thrive amidst the turmoil?

...........

The post Book launch: <i>Will South Africa be okay?</i> by Jan-Jan Joubert appeared first on LitNet.

Boekpakkie-weggee: Pret met Wiskunde, uitgegee deur NB-Uitgewers

$
0
0

Is jou kind volgende jaar in die grondslagfase? Jy kan nou al drie boeke wen om jou kind volgende jaar met wiskunde by te staan! Hier is nog besonderhede rondom die boeke:

Titel: Pret met Wiskunde-werkboeke
Skrywer: Mart Meij & Best Books-paneel

Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9781776070435

Wiskunde-angs is ’n werklikheid wat kinders – en hul ouers – se lewens versuur en uiteindelik ook beroepskeuses beperk. Onder die redes daarvoor is dat basiese syfervaardighede kleintyd nie deeglik vasgelê word nie, en dat Wiskunde só aangebied word dat kinders belangstelling verloor.

Om suksesvol in Wiskunde te wees, moet ’n kind onder meer ’n parate of outomatiese kennis van getalle en die vier hoofbewerkings hê, sodat dit oombliklik, sonder om te dink, opgeroep kan word. Best Books se Pret met Wiskunde-reeks vir die grondslagfase vergemaklik die verwerwing van dié kennis met verbeeldingryke aktiwiteite wat dit maklik én lekker maak om vaardighede stap vir stap in te oefen en heeltemal te bemeester. So word ’n stewige grondslag vir die kind se hele skoolloopbaan gelê.

Die Nuwe Alles-In-Een Pret met Wiskunde-werkboeke vir Graad 1–3 volg die KABV-kurrikulum en toon aan wat deur die jaar van jong leerders verwag word. Die werkboeke bestaan uit oefenbladsye, werkvelle en ’n volkleurspeletjie per kwartaal. Oefenbladsye oefen parate vaardighede in, die werkvelle bevorder kreatiewe denke en probleemoplossing, en die speletjies help om vaardighede verder in te skerp.

Al die vereiste inhoudsareas word gedek: patrone, funksies en algebra; getalle, bewerkings en verwantskappe; ruimte en vorm; datahantering; en meting.

Die boeke is geskik vir gebruik in die klaskamer en tuis.

  • Stuur ’n e-pos aan naomimeyer@litnet.co.za met “Wen: Pret met wiskunde-boeke” as die titel van jou e-pos.  Onthou om jou kontakbesonderhede en ’n Suid-Afrikaanse posadres in te sluit! Die wenner sal deur middel van ’n gelukstrekking bepaal word. Die sluitingsdatum is 4 Desember 2019. 

The post Boekpakkie-weggee: <i>Pret met Wiskunde</i>, uitgegee deur NB-Uitgewers appeared first on LitNet.

Resensie: Soekmekaar deur Dana Snyman

$
0
0

Titel: Soekmekaar
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088660

Twee boeke wat ek onlangs gelees het, het my ervaring van die Springbokke se oorwinning in Japan dieper en betekenisvoller gemaak. Die een is In my vel deur Azille Coetzee, die ander Soekmekaar van Dana Snyman. Azille is ’n jong filosoof en akademikus wat in Amsterdam studeer het en uit daardie perspektief van haar Afrikanerskap probeer sin maak. Dana is ouer, geen akademikus nie, maar gelouter deur die lewe in Suid-Afrika. Albei is baie bedrewe skrywers. Waar mens egter In my vel toemaak met ’n oorweldigende drag wit skuld op jou Afrikaanse skouers, maak jy Soekmekaar toe met die gevoel dat Dana Snyman op die oomblik die persoon in die openbare lewe is wat Afrikanerskap op die eerlikste wyse verken en met die mees gebalanseerde beeld anderkant uitkom.

Dana Snyman het lank reeds volksbesit geword, op grond van sy boeke en sy TV-reeks Op pad. Op sy uitgewer se webblad kan jy sy indrukwekkende rekord gaan bewonder as jy so voel. Op sy Facebook-blad het hy meer as 39 000 volgelinge, wat hy gereeld trakteer op nuwe skryfwerk wat telkens ’n situasie verwoord waarvoor die gewone mens nie altyd die uitdrukkingsvermoë het nie. Hy is uiteraard ’n hoogs talentvolle skrywer en is al talle kere daarvoor vereer.

Wat sy werk uniek maak, is die manier waarop hy die hart van ons volk kan verwoord. Hy ry met sy ou bakkie deur hierdie wye en droewe land en hy soek na dít wat ons maak wat ons is. Hy hemel nie Afrikanerskap op nie. Hy swaai nie die ou vlag rond nie, sing nie patriotiese liedjies oor dapper Boerekrygers nie. Hy trap sy spore in die Suid-Afrikaanse stof saam met die gewone mense wat hy op sy reise raakloop. Hy het klaarblyklik die vermoë om vir enige mens enige vraag te vra – en ’n eerlike antwoord te kry. Hy het definitief die vermoë om joernalistieke vaardigheid met fyn, evokatiewe skryfwerk te kombineer. Soekmekaar is weer eens ’n reis na nie alleen die hart van die volk nie, maar ook na sy eie hart. In sy soeke na die waarheid neem hy sy leser diep in sy persoonlike lewe in sonder om ooit ekshibisionisties of sentimenteel oor te kom.

Soekmekaar is saamgestel uit 59 stukke van wisselende lengte, toonaard en invalshoek. Die leser word aan ’n reeks uiteenlopende karakters voorgestel. Daar is Eugène Terre’Blanche met sy baard en sy perd en sy pakkie Lexingtons in sy bosak wat laatnag Afrikaanse poësie voordra. Daar is Dana se pa, die predikant wat op sy dag die AWB se hoofkapelaan was, ’n huisvriend van Terre’Blanche, wat telkens met sy enigste seun gebots het en teen die einde van sy lewe ontnugter toegee dat hy niks meer verstaan nie, dat sy waarhede in der waarheid nie standgehou het nie. Daar is Dana se ma wat waarskynlik ’n sakevrou in eie reg kon wees, maar getrou saam met haar man van plattelandse gemeente na plattelandse gemeente trek, wat haar laaste tye feitlik bedlêend slyt met haar sigarette en haar huishulp vir wie sy as “Skattebol” aanspreek en wat haar ook so noem. Daar is Karel Schoeman wat sy eie lewe neem en die twee swart vrouens wat hom op sy laaste reis vergesel het.

Dan is daar natuurlik Johannes en Lettie en Koos, wat op Ventersdorp vir Dana se pa gewerk het en na sy dood sy versoek om na Dana om te sien, letterlik tot uitvoer bring. In die eb en vloed van Dana se verhouding met Johannes en sy mense word ons ewige soeke na mekaar verpersoonlik; die frustrasie, die onbegrip, soms die woede, maar altyd die liefde en die eerlike begeerte om mekaar te aanvaar en te probeer verstaan.

Ook die selfdood van Dana se verloofde word met sy kenmerkende eerlikheid hier verwoord. Die leser gaan saam met ’n verpletterde man op reis die binneland in, na die begrafnis van sy verloofde, na ’n groter begrip van die menslike weerloosheid voor depressie, wat vir sommige ’n terminale siekte is. Daarna pak die leser saam met hom sy huis op Jacobsbaai op en vertrek na ’n nuwe lewe met net die nodigste besittings en sy versameling optelhonde. Ons glo ons sal in ’n volgende bundel ook die res van sy reis kan meemaak.

Die insigte wat Dana ten opsigte van depressie verwoord, kan as een van die belangrikste elemente in die boek beskou word. In ’n tyd waar die stigma nog stewig aan geestesiektes kleef, waar dodelik siek mense nog deur oningeligtes aangesê word om hulle “reg te ruk”, is hierdie woorde soos ligte in ’n donker hemelruim: “Depressie is werklik ’n siekte, ’n verskriklike stuk waarheid wat hoop in wanhoop verander tot jou angs vir die lewe groter kan raak as jou angs vir die dood.”

Soekmekaar is die kroniek van ’n soekende siel, ’n lid van ’n volk wat moeitevol en sukkelend op soek is na sy plek in Suid-Afrika, sy plek in Afrika en in die wêreld. Dana Snyman het nie vir ons antwoorde nie, maar hy vergesel ons getrou op ons elkeen se reis na groter begrip, groter deernis en groter hoop.

Soekmekaar is onontbeerlike leesstof vir elkeen wat hierdie land liefhet, elkeen wat ons uitdagings probeer deurgrond, elkeen wat probeer om ten alle koste die hoop te behou. Dana Snyman se persoonlike reis het ongemerk ’n metafoor vir die reis van elke denkende Afrikaner geword; die dokumentasie van ons eindelose soeke na mekaar en na onsself.

Lees Soekmekaar – en verdiep jou in die wonderlike, skrikwekkende ervaring van Afrikaans-wees, soos verwoord deur iemand wat saam met jou op soek is na die ontwykende waarheid.

The post Resensie: <em>Soekmekaar</em> deur Dana Snyman appeared first on LitNet.


Resensie: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux

$
0
0

Titel: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Skrywer: Christine Barkhuizen-Le Roux
Uitgewer
: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179706

Hoeveel kinders in hierdie wêreld slaap met ’n nagliggie? ’n Liggie om die donker te verdryf. My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019) spreek met ’n sombere ondertoon tot dié universele verskynsel onder kinders, maar skud ook die leser wakker vir die realiteit van pedofilie en kindermolestering. Die woorde deur Fiela Komoetie in die openingsaanhaling, “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie” (Matthee, 1985:149), dien as gids vir die leser. Dié boek is nie vir sissies nie en verg deernis van sy leser, al word jy met tye briesend van woede.

Christine Barkhuizen-Le Roux is ’n veelsydige skrywer wat sedert 2000 digbundels, kortverhaalbundels en romans soos Padmaker (2010), Getuie (2013) en Drieklawerblaar (2016) publiseer. Haar romans is telkens verskillende toespelings op ’n ontwykende geheim en die reis na antwoorde, hetsy die geheim ’n skande, duistere verlede of trauma is waaroor daar stilgebly word.

Dié ontwykende geheim word gebruik om die verhaal se verskillende tydlyne, herinnerings en narratiewe saam te snoer. Dit is immers alles waaroor stilgebly word wat die karakters se onderskeie ervarings, herinnerings en (her)belewings verbind.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan handel hoofsaaklik oor die reis van drie karakters wat deur ’n gemeenskaplike trauma verbind word. Corinne (’n sielkundige), haar predikant-man Frank en Corinne se pasiënt, Deon, vertel en (her)beleef elkeen hul verhaal van verwerping, aanvaarding en die hunkering na liefde. Alice Miller, ’n psigoanalis wat in die vroeë tagtigs weggebreek het van tradisionele Freudiaanse psigoanalise, se navorsing oor kindermishandeling en geweld (2006) kan behulpsaam wees. Haar verwonde kind en proses van (her)belewing word hier ontbloot tot voordeel van die leser se insig.

Die karakters worstel elkeen met ’n tweeledige proses van (her)belewing; hulle beleef dit in die verlede en herbeleef dit met verloop van die roman. Die seksuele mishandeling van vier seuns gedurende hul verblyf in ’n skoolkoshuis in die Oos-Kaap is die kern waarom elkeen se verhaal draai. Dis ’n deeglik nagevorste boek, waar feitlike kennis gestaaf word en op kritiese plekke die leser tot insig kan bring. Corrine verduidelik oor pedofiele: “Dit gaan oor die manipulasie en die beheer wat hulle het oor iemand wat weerloos is. Dikwels spruit daardie gedrag uit ’n minderwaardigheidskompleks wat nooit oorkom is nie, of iets wat met die dader self gebeur het” (180). Dit bied sielkundige kennis wat die leser help om die karakters beter te verstaan en diepte in die teks skep.

Die roman se bemoeienis met geheime en stilte is ’n tema wat in Barkhuizen-Le Roux se ander romans ook opduik. In haar nuutste roman is daar verskeie geheime, maar die spilpunt is wat werklik in Skuilkranz se seunskoshuis gebeur het. Dié geheim waaroor daar nie vertel is nie, maar wat gesien is, van geweet is, maar nooit erken is nie en waaroor daar beslis nooit gepraat is nie. Hier kan Alice Miller se insigte moontlik lig werp.

Volgens Miller het te veel van Freud se teorieë berus op die seksuele en spesifiek dat hy toegegee het aan die samelewing se morele hiërargieë en moraliteit. Hy verbind seksuele dade waar kinders betrokke is met ’n uitwissingsdrang by die kind om die ouer uit te wis – die bekende Oedipuskompleks. Miller se grootste bewering is dat die liggaam die prys betaal vir hierdie moraliteit. Die liggaam onthou alle ervarings, en (her)beleef hierdie ervarings sou dit onderdruk word. Hierdie (her)belewing, waar die liggaam onthou, bied insig tot elkeen van die karakters en hoe hulle deur ’n spesifieke ervaring of ervarings as verwonde kinders na vore tree. Deon se verhaal illustreer wat in van die mees ekstreme gevalle kan gebeur. Miller bepleit wel dat hierdie (her)belewing nie genesing bring nie, maar vra vir die erkenning en afsluiting daarvan. In hierdie roman kan Miller se antwoord in die ironiese woorde van Frank gehoor word: “Vergifnis is uiteindelik beter vir die een wat vergewe as die een wat vergewe word” (120).

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan bied vir die leser ’n blik op hoe ’n slagoffer van seksuele geweld ’n proses van (her)belewing deurmaak om die verwonde kind (diepgaande ervarings) te vind en te troos. Elke karakter moet die “verwonde kind” in hulself eerstens vind en dan probeer verstaan voordat hulle hul onderskeie traumas kan verwerk.

Die boek probeer ook deur die karakters se ervarings sekere wanopvattings oor seksuele geweld en pedofilie onder die loep neem. “Dit het met seksualiteit niks te make nie; soos ek gesê het, dit gaan om mag. Dit gaan nie om liefde en teerheid nie, glad nie, hoewel die dader dit by sy slagoffers inprent” (181).

Barkhuizen-Le Roux skryf in al haar romans, Drieklawerblaar, sowel as in My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, met eerlikheid en deernis oor diep en pynlike ervarings wat die leser sal skok, maar nie sal afskrik nie. Dit onderstreep weereens die stiltes aangaande seksuele geweld, kindermishandeling en spesifiek kindermolestering wat steeds in ons samelewing teenwoordig is.

Boeke soos My naam is Prins, ek slaap met die lig aan voeg nóg ’n stem by ’n verskeidenheid ander boeke in Afrikaans, soos Dis ek, Anna (2004) deur Elbie Lötter, wat handel oor hierdie onderwerp. Buiten die bewusmaking van die gebeure, gaan dit oor mense se stories wat vertel moet word, die behoefte aan erkenning, en die universele soeke na betekenis, liefde, aanvaarding en geborgenheid.

Bibliografie

Terblanche, E. Christine Barkhuizen le Roux (1959–). https://www.litnet.co.za/christine-barkhuizen-le-roux-1959/.

Matthee, D. 1985. Fiela se kind. Kaapstad: Tafelberg.

Miller, A. 2006. The body never lies: The lingering effects of hurtful parenting. Vertaal deur Andrew Jenkins. New York: WW Norton & Company.

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

The post Resensie: <em>My naam is Prins, ek slaap met die lig aan</em> deur Christine Barkhuizen-Le Roux appeared first on LitNet.

Resensie: Mooier as Marilyn deur Anita du Preez

$
0
0

Titel: Mooier as Marilyn
Skrywer: Anita du Preez
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801907

Mooier as Marilyn is ’n vermaaklike, hoewel frenetiese, blik op hoe vrouens reageer nadat hulle verkul is en hoe ’n wraakbende vrouens een man se lewe donker en duister wil maak. Nié ’n teks wat jy met ’n polities korrekte bril van vrouebemagtiging, soos deur vroueregte-pleitgroepe voorgestaan, moet lees nie, want die vryheidstryd draai veel meer rondom uitskoponderrokke, vloeibare oogomlyner en ikone soos Marilyn Monroe en Lady Anne Barnard as om saam te kom om wette te verander.

Vir die soveelste keer wentel ’n boek rondom die vraag oor of daar lewe na ’n egskeiding is. Hierdie verhaal bied die kitsantwoord: Ja, mits jy ’n Uber kan nader haal, genoeg lugtyd het om ’n WhatsApp-boodskap betyds te stuur en jou selfaangestelde lewensafrigter, die altyd beskikbare selfoon-Siri, te raadpleeg. Wat is die lewe sonder tegnologiese foefies en katoeters?

Dr Desiree de Lange (oftewel Van Vuuren ná die skille van haar oë af geval het) se vervelige doktersvroubestaan kom tot ’n einde wanneer haar chirurg-eggenoot die kat in die donker knyp. Haar eie doktorsgraad in geskiedenis het lank reeds in die vergetelheid van ’n dienende Martha vergaan. 

Net daar begin die gerits van een Kaapse restaurant na ’n volgende en die onwaarskynlike blik op die band wat daar tussen vrouens ontstaan as gevolg van één man. Om hul wraakstrategie te laat slaag, hou hulle vergadering, bak en brou saam en pas mekaar se keffers op. Nou nie juis Thelma and Louise nie.

So ontvou die lewens van te veel kartonkarakters wat dikwels papierdun met rekwisiete soos klere en musiek gekarakteriseer word en net te komkommerkoel is om uit hul stereotipes te ontsnap. 

In terme van die teksversorging kon daar dalk meer dikwels alternatiewe vir “flippit” gewees het. Ook die dokterheld se dialoog val swaar en vals op die oor: “Ai Desiree, ek het gedink ons kan gesels. Oor alles. Ek het nie gedink jy sal vanaand hier rondstaan soos ’n halfbesope has-been-aktrise met dialoog uit ’n L’Oréal-advertensie nie” (63). Ek ken nie Kaapse medici of selfs media-tipes uit Johannesburg wat só praat nie, maar miskien het ook ek ’n identiteitsverandering nodig.

Die teks loop soos stroop sodat die verhaal se pas vinnig en op ’n drafstap in hoë hakkies op Kaapse keistene is. Die skrywer is stewig in beheer van elke vrouekarakter se kenmerkende dialoog. Klere, mode en veral die vintage-gier in Kaapstad en waar om in die glipstroom van Obs haute couture te gly, speel ’n groot rol. Die klem op hoe mens se haarkapper jou identiteit kan bepaal (“Om blond te word is nie net vir haar dye nie” (56)) en dat die regte skoene jou toekoms kan verander, gee mens so ’n heerlike gevoel van aspirasie soos wanneer jy op ’n Sondagmiddag ’n goeie glansvrouetydskrif gelees het. Die slagspreuk “styl is alles” oorheers veral die lewe van die koopgierige Christine, wie se longsiekte vir die hoofkarakter Desiree ’n dryfveer word om haar selfaangestelde alter ego, Marilyn Monroe, soos ’n after-the-fact groupie te gaan navors. Christine is ammal-se-pel wat jou deur dik en dun met haar geduldige kredietkaart en lewensraad sal bystaan.

Die openingstoneel en eerste hoofstuk oortuig die leser reeds dat hierdie teks ’n wipwaentjierit is en sit die boek se tema duidelik uiteen: die soeke na identiteit. Alhoewel die oppervlakkighede van so ’n soeke veral in die hormoonstormjare die verhaallyn dryf, is daar hier en daar ’n dieper blik op hoe mens op vir-ewig-vyf-en-dertig wel jou lewe in ’n oogwink kan verander wanneer jy die charades van jou lewe beëindig.

Name van karakters gee reeds ’n aanduiding van wat die skrywer wil kommunikeer met die hoofkarakter wat haar begeertes en drome moet definieer as Desiree en Christine wat eers Ina was.

Die liefdestonele is stoomwarm en meer as ’n lusmakertjie (“ ... dit maak die stripper in enige vrou los” (222)). Die skrywer behoort eintlik meer dikwels haar karakters tussen die lakens te kry, want sy weet hoe liefdestonele op ongebreidelde begeertes met post-koïtus Calvinistiese aanvalle werk en is bedrewe om enige drifblussers, soos agtergrondmusiek, weg te werk wanneer haar hoofkarakter se hormone, soos vir haar Jan Ellispoeding, telkens omgeklits word (“Ek leun terug teen sy bors asof ek smelt” (224)).

Die manne word goed teen mekaar afgespeel, met ’n poniestert-restauranteienaar teenoor die kliniese chirurg. Hulle ondergaan darem ook self ’n identiteitsverandering of twee danksy die verlede wat hulle gerieflikheidswys en sepieteksgewys vir die verhaal se nadraai inhaal. Soos die inleidingsin juis sê: “Die lewe vat en gee mos.”

Te veel onnodige storielyne, soos die skelmpie se eggenootintriges, deurlopende insetsels (e-posse met spyskaarte) en onfunksionele newekarakters, soos die stiefdogter se bestie, fragmenteer die verhaal en die skrywer kon eerder op haar sterk punt gekonsentreer het: om te skryf oor die bevryding van ’n vrou wat haar seksualiteit ontdek (“die soet plekke in my lyf” (280)). ’n Opvolgboek met dié tema uit haar pen sal welkom wees vir ’n wintermiddag se innige lees op ’n stoep met soveel uitsigte as wat daar in die 281 bladsye lofsang aan Kaapstad is.

The post Resensie: <em>Mooier as Marilyn</em> deur Anita du Preez appeared first on LitNet.

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld

$
0
0
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Etienne van Heerden
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089216
 
Izak de Vries het foto’s geneem by die Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Die bekendstelling het op 19 November 2019 in Stellenbosch Hotel plaasgevind.
 
Izak meen dat sommige van die foto’s se invalshoeke vreemd is. Hy skryf: "Hoe sou dit gelyk het as NB-Uitgewers ’n klompie spioenasiekameras sou versteek het? Op onverwagse plekke? Agter Etienne – om mense dop te hou terwyl hy praat? Van bo? Die kiekies word dus speels geneem en die hoeke is vreemd.
 
"Loerbroer is orals. Loerbroer loer waar jy nie dit verwag nie.
 
"Deur die kamerahoek te verander en met ’n baie wye hoek te skiet (soos die geval is met baie spioenasiekameras) kry ’n mens ’n ander gevoel. Dalk sluit dit losweg aan by sekere van die temas in die boek."
 
Hier onder is Izak se foto’s van die geleentheid.
 
 

Marga Stoffer van NB-Uitgewers

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden en Etienne Bloemhof

Chris van der Merwe

Jean Oosthuizen

Sona Lamprechts, Etienne van Heerden en Chris van der Merwe

Remona Voges

Karin Brynard, Hettie Scholtz en Susan Bloemhof

Bernard Odendaal

Antoinette Louw

Piet Bormann, Jaco (Jack) Kooy en Etienne van Heerden

Susan Bloemhof

Kaia van Heerden (links voor) en John Skotnes (regs voor)

Deon Meyer, Marianne Vorster-Meyer en Etienne van Heerden

Johan Kotze

John Skotnes, Marga Stoffer, Etienne Bloemhof en Carolyn Meads

Willie Breytenbach en Etienne van Heerden

André Kruger en Chris van der Merwe in die gehoor

Menán van Heerden

Eben Pienaar, Deon Meyer, Marianne Vorster-Meyer en Lize Vorster (heel regs)

The post Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman <em>Die biblioteek aan die einde van die wêreld</em> appeared first on LitNet.

Resensie: Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit

$
0
0

Titel: Die kinders van Spookwerwe 
Skrywer: Lize Albertyn-du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177207

Lize Albertyn-du Toit se debuutroman Die kinders van Spookwerwe (2019) handel oor die Kaliempies-gesin: ouers Mieta en Hennerik en hulle seun Milano, wie se storie in die Bo-Karoo begin en later na die Boland iewers in die 1970’s verskuif. Wanneer hulle lewens onherroeplik deur tragedie verander word, moet hulle leer om vrede te maak met die dood, wat elke aand “met sy koue pote saam in jou kooi” (69) klim.

Mieta Kaliempies is ’n aangrypende karakter waarsonder geen huishouding of boerdery sou kon voortbestaan nie. Mieta is bekend daarvoor dat sy “werk soos ’n masjien” (106), en sy werk omdat dit ’n helende uitwerking op haar het: “hoe harder sy kan werk, hoe beter” (290). Selfs Hennerik spot teen die einde van die roman: “Gee vir Mieta Kaliempies iets om skoon te maak en sy is gelukkig” (241).

Dit is egter nie noodwendig geluk wat Mieta in haar handewerk vind nie. Dit blyk dat sy eerder troos vind in die voorspelbaarheid en patroonmatigheid van werk, wat sterk kontrasteer met die onvoorspelbaarheid van onbeheersde emosies. Een oggend wanneer sy kwaad is vir Hennerik, is dit “[d]ie gewone skoologgendroetine [wat] die prop op haar bottel” (191) hou. Sy maak staat op die patrone in haar lewe wanneer sy sukkel om vrede te maak met iets, soos wanneer sy in rustelose nagte haar breiwerkpatroon in haar kop herhaal: “1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Dan weer van die begin af: 1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Oor en oor sê sy dit vir haarself op. Dalk kom die slaap” (69).

Die roman bevestig van die staanspoor af dat die natuur ’n integrale deel van die gesin se bestaan is. Behalwe vir die wyse waarop hulle daagliks met die omgewing omgaan vir hulle oorlewing, word die natuur ook as simbool van erfenis aangebied. Milano leer die geheime van die veld by Geelsuiker, wat op sy beurt by sy eie pa geleer het: “die man wat sy neus leer om die veld te ruik, sal fyn begin ruik. As hy sy oë leer om te kyk, sal hy sien, en as hy sy ore leer om baie goed te hoor, sal hulle hom vertel wat die veld en die wind sê” (154).

Ook vir Mieta is roosmaryn spesifiek ’n belangrike merker van haar erfenis omdat dit haar aan haar pa herinner. Daar was “’n roosmarynplantjie by die agterstoep. Dit onthou sy baie helder, want sy het altyd daaraan gevryf en aan haar hande geruik, net soos [haar pa] gemaak het” (71). Wanneer sy haar eie agterstoep in die Karoo het, stuur Mieta ’n paar takkies roosmaryn saam met kuiergaste wat vertrek omdat “[d]ié tog te lief geraak [het] vir die kruiesmakie so met die vleis saam” (134).

Die roman spog verder ook met aangrypende natuurtonele, en die lewe in die veld word op ’n besonderse wyse uitgebeeld: “’n Akkedis blits onder ’n bos in. ’n Lewerik triedelie vooruit van bos tot bos. Op ’n haak-en-steekbos maak die karoolangstertjie alarm: tjiek-tjiek, tjiek-tjiek. Ragfyn toktokkiespoortjies loop in die sand. Kapokdonsies lê onder graspolle ingewaai. Janfiskaal het sy sprinkaan op ’n driedoring se tak gespies” (147). Die natuurverskynsels word ook op ’n interessante manier met mekaar verbind met metafore soos “[d]ie rooi- en geelvinke is opgepof en hang soos ryp vrugte aan riete en takke, besig om neste te bou” (282), en die “spierwit wolkies [wat wei] soos skaaptroppe tot anderkant die vlakte uit” (117).

Ten slotte is Die kinders van Spookwerwe ’n aangrypende roman wat handel oor die Kaliempies se ontwikkeling as gesin, ten spyte van, maar soms juis te danke aan, die struikelblokke wat oor hulle pad kom. Dit is ’n roerende verhaal wat inderdaad, soos die voorblad beloof, “soos die vaal stof van die Bo-Karoo diep in jou hart kom lê”.

The post Resensie: <em>Die kinders van Spookwerwe</em> deur Lize Albertyn-du Toit appeared first on LitNet.

Pasverskyn: Chinatown deur Ronelda Kamfer

$
0
0

Titel: Chinatown
Skrywer: Ronelda Kamfer
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709500

In die bekroonde digter Ronelda Kamfer se vierde bundel, Chinatown, bied sy opnuut poësie met ’n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur ’n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Kwessies wat deel vorm van die huidige sosio­politieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met ’n diep menslikheid hanteer.

Waar Kamfer se vorige bundel, Hammie, die komplekse verhouding tussen ma en dogter ondersoek het, word die skeuring in die verhouding tussen pa en dogter hier bekyk. Die pa word onder meer met die valsheid en klaterigheid van Chinatown vergelyk, met ’n eiewaarde afhanklik van materiële besittings te midde van armoede.

my pa se hele lewe revolve
rondom sy pride
hoewel hy net ? lost boy is
sonder Peter Pan
sy neverland is debt
’n decent medical aid
’n dooie vrou wat haar
standards moes lower
oor sy dertig en childless was
in die ’80s

The post Pasverskyn: <i>Chinatown</i> deur Ronelda Kamfer appeared first on LitNet.

Video: Stellenbosch-bekendstelling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

$
0
0

Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld is op Dinsdag, 19 November 2019, in die Stellenbosch Hotel bekendgestel. Etienne Bloemhof het met hom gesels. Kyk hier na die gesprek:

Etienne van Heerden en Etienne Bloemhof

Etienne se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld

............

Titel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe ... Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

............

  • Foto’s: Izak de Vries 
  • Video: Naomi Bruwer

Lees ook 

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld

The post Video: Stellenbosch-bekendstelling van <i>Die biblioteek aan die einde van die wêreld</i> deur Etienne van Heerden appeared first on LitNet.

Video: Cape Town launch of Will South Africa be okay? by Jan-Jan Joubert

$
0
0

The launch of Will South Africa be okay? by Jan-Jan Joubert took place on Thursday, 21 November 2019 at the Book Lounge in Cape Town. The Book Lounge was packed with people who wanted to know whether South Africa is going to be okay.

“You can’t grow when you’re okay. Being okay is a process,” was Jan-Jan’s response to this question.

The EFF’s national spokesperson, Mbuyiseni Ndlozi, was supposed to talk to Jan-Jan, but was stranded at OR Tambo International Airport in Johannesburg. Owner of The Book Lounge, Mervyn Sloman, was in conversation with Jan-Jan Joubert. Watch the video here:

............

Title: Will South Africa be okay? 17 key questions
Author: Jan-Jan Joubert
Publisher: Tafelberg
ISBN: 9780624087731

After the ANC’s victory in the 2019 elections, president Cyril Ramaphosa’s mandate is stronger than ever. He can now make good on his promises to clean out government corruption. But will he be successful and what does this mean for South Africa and its people? What does South Africa’s future look like with challenges like the land debate, racial tension and a dire economy? Will South Africa survive and thrive amidst the turmoil?

Also available in Afrikaans: Gaan Suid-Afrika oukei wees?

............

Mervyn Sloman in conversation with Jan-Jan

Will South Africa be okay? 17 key questions is also available in Afrikaans: Gaan Suid-Afrika oukei wees? The Afrikaans edition has an additional chapter that discusses whether will Afrikaans will survive.

Jan-Jan Joubert

The Book Lounge

  • Video and photos: Cliffordene Norton 

The post Video: Cape Town launch of <i>Will South Africa be okay?</i> by Jan-Jan Joubert appeared first on LitNet.


Pasverskyn: Gaan Suid-Afrika oukei wees? deur Jan-Jan Joubert

$
0
0

Titel: Gaan Suid-Afrika oukei wees?
Skrywer: Jan-Jan Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087700

Met die ANC se oorwinning in die 2019-verkiesing staan president Cyril Ramaphosa sterker as ooit. Hy het nou die kans om sy beloftes om korrupsie in die regering uit te roei, uit te voer.

Gaan hy suksesvol wees en wat beteken dit vir Suid-­Afrika en sy mense? Hoe lyk ons toekoms in Suid-­Afrika met uitdagings soos die EFF se rooi gevaar, die gronddebat en rassespanning? Gaan Suid-­Afrika te midde van al dié woelinge staande bly?

Kyk ook

Video: Cape Town launch of Will South Africa be okay? by Jan-Jan Joubert

The post Pasverskyn: <i>Gaan Suid-Afrika oukei wees?</i> deur Jan-Jan Joubert appeared first on LitNet.

Pretoria: Woord en wingerd-bekendstelling, Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Pretoria: Boek en koek-bekendstelling, Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Skrywersonderhoud: Kobus van der Westhuyzen oor Landbouweekblad: Hart tot hart

$
0
0

Kobus van der Westhuyzen praat met Naomi Meyer oor sy grootdrukboek, Landbouweekblad: Hart tot hart.

Titel: Landbouweekblad: Hart tot hart
Skrywer: Kobus van der Westhuyzen
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321916

Kobus, die boek is geestelike bepeinsinge vir elke dag van die jaar. Is die boek net vir boere bedoel, of wie het jy in gedagte gehad toe jy die boek geskryf het?

Ek het aanvanklik met die ander boeke wat dit vooraf gegaan het, Die aarde nuut en vry en Daar is geen einde aan sy liefde nie, gefokus op die boere, want dis stukkies wat ook in Landbouweekblad verskyn het. Die groter leserstal is mos maar boere. Toe was daar so ’n goeie reaksie van mense wat nie boere is nie, maar met ’n sterk boere-agtergrond. Dit is vir my opvallend as jy met mense gesels, jy gesels nie lank nie dan sien jy daar is ’n boere-agtergrond. Toe besluit ek om dit oop te maak. ’n Boer se behoeftes is baie keer ook ’n ander mens se behoeftes. Toe ek hierdie boek geskryf het, het ek nie net aan boere gedink nie. Ek het meer gedink aan aktuele aangeleenthede wat ons almal raak. Wat vir my, soos ek ouer geword het, al hoe meer geraak het.

Wat dink jy lê boere die naaste aan die hart? Mens sou amper kon dink dat ’n mens nie ’n boer sou kon wees sonder om geloof te hê nie, of hoe? Waaroor bekommer hulle hulle die meeste, na jou mening? Is dit grondhervorming, droogte, of siekte of gevare weens isolasie op ’n plaas, of geld? Of wat is alles in hulle gedagtes, as jy dink aan gesprekke wat jy met boere het? 

Die groot ding wat maar die afgelope paar jaar die boere vasdruk, is die droogte-kwessie. Ek dink ook ’n bietjie die grondkwessie tot ’n mate. Hoewel die ingeligte boer besef hulle kan nie té rof aangaan met die grond nie, want die grond moet kos gee vir die land. Ek dink hulle besef dit. Grondhervorming is nie in my ervaring so ’n groot bekommernis by boere nie, maar jy kan nie baklei teen die natuur nie. Jy moet vandag heeltemal ’n nuwe denkwyse oor die boerdery hê as jy wil aanhou boer. Tewens, as jy kyk hoeveel naweekboere daar is – dit is mense wat lankal besef het hulle kan nie op die boerdery alleen leef nie. Daar is mense wat dink dit is ’n lekker betalende beroep, maar boerdery is nie vir sussies nie. Die boere kry swaar. Die kleiner plasies is al met die jare uitverkoop. As jy nie vandag op grootskaal boer nie, dan moet jy tweekeer dink oor boer. Jy kan gaan speel as jy die geld het, maar jy moenie dink jy gaan lewe daaruit nie.

As ek met boere praat, en ek het familie en ’n seun wat boer, en ek sien wat hulle moet spandeer om net die diere aan die gang te hou. Dis nie meer soos in die ou dae waar ’n skaap is ’n skaap en ’n bok is ’n bok nie. Die mense werk deesdae met kwaliteit vee. Asjy daardie goed verloor wat deur ’n geslag opgebou is, waar gaan jy dit weer kry? So die boere besef jy moet die goed aan die gang hou en maar kos koop en as daar nie geld is nie, moet jy skuld maak. Jy kan ook net tot op ’n sekere punt skuld maak, dan wil die ouens ook nie meer vir jou geld leen nie. Dit is ’n ander vorm van lyding waarmee hulle te doen het. Hoe staan ek vanoggend op? Hoe gaan slaap ek vanaand as ek nie weet hoe gaan 1 000 of meer skape, ooie en bokke kos kry as jy dit nie het nie? Dit is ’n diere-bekommernis en ek dink daar is baie boere wat vandag hulle grond sal verkoop as hulle net ’n ordentlike prys daarvoor sal kry. 

Ek kom al hoe meer agter die ouens boer omdat dit vir hulle ’n liefhebbery is. Hulle kan nie loskom nie, hulle is verslaaf daaraan. Dit is amper soos ’n diamantdelwer. Jy kry dalk nie vandag ’n diamant nie, maar dan gaan jy maar more weer terug en dan sif jy maar weer deur daardie grond, want jy leef in die hoop dat jy dit eendag gaan kry. 

“Die groot reën kom nog,” is die gesegde waarmee boere mekaar moed in praat. “Toemaar, die groot reën kom nog.”

Landbouweekblad is 100 jaar oud. Wat dink jy het oor die jare verander en wat het dieselfde gebly? In boere se lewens, en as dit kom by geestelike sake?

As ek nou terugkyk op my eie lewe, wat nou ook al ’n klompie jare strek en ek kom ook self van ’n plaas af, ken ek die soet en die suur van ’n plaas. Baie boere se seuns het nie verder gaan studeer nie en die pa het nie altyd besef dat hy nie die plaas, wat reeds nie ’n groot ekonomiese eenheid is nie, gaan verdeel nie. Dan maak dit dit onmoontlik vir die kinders om te boer. Dit het nie altyd gebeur nie. So jy het op baie plekke gekry dat plasies klein was, dit was onekonomies en daar was nie kans om te ontwikkel en groot te gaan nie. Vandag is dit nie meer so nie. Vandag boer boere dikwels as deel van ’n groter eenheid.

Ook die kinders wat gaan boer, moenie dink hulle kan net plaas toe gaan, op ’n trekker klim en boer nie. Hulle moet kundig wees, Boerdery is vandag ’n wetenskap en as jy nie gewillig is om te leer nie en die beste metodes te vorm en die beste keuses te maak nie, dan gaan jy dit nie maak nie. Boerderye het gemoderniseer. Daar het wonderlike aanpassing plaasgevind. Ons het goeie boere in Suid-Afrika, regtig.

Rakende wat dieselfde gebly het kry ek by boere daardie sterk geloof. Jy kan nie boer as jy nie glo nie. Daar is sekeres wat nie so dink nie, maar die meerderheid is wel. Hulle is nie net aardsgebonde nie, hulle is ook Godsgebonde. 

Is daar verskillende temas ter sprake (boek se indeling)? Of hoe is hierdie boek saamgestel?

Ek het maar stukkies geselekteer wat ek gedink het aktueel is vir alle mense om te lees. Tog as jy oplettend lees sal jy op herhalende temas afkom. Daar was dinge wat my sterk aangespreek het, hoe ouer ek geword het. As iets jou innerlik aanspreek is daar die geneigdheid dat dit uitkom op ’n manier. Ek het die wonderlike voorreg gehad, wat Landbouweekblad my gegee het, om daardie dinge ook in hierdie rubriek te laat uitkom. 

Een ding was die swak bestuur van die planeet aarde wat God vir ons gegee het. Of jy nou glo in die skeppingsverhaal of nie, dit is ’n belangrike punt dat toe die Here die mens gemaak het, het Hy hulle totaal anders gemaak as enige ander skepping. Hy het vir die mens ’n redelike en ’n sedelike bewussyn gegee. Hy kan onderskei tussen reg en verkeerd. Hy het vir die mens ’n Godsbewussyn gegee en vir hom gesê dat die mens anders gemaak word. Hy het vir die mens ’n opdrag gegee en dit is dat die mens Sy verteenwoordiger op die aarde is. Jy kan in Genesis daaroor lees. God gee aan ons bestuurskap. Hy gee dit nie aan die primate of ander diere nie, maar die mens. Dit is ’n besonderse verantwoordelikheid en as ek nou vandag moet punte gee aan my geslag, my Homo sapiens, vir hoe hulle hierdie opdrag uitgevoer het, jong, dan gee ek hom ’n baie lae punt. Ons het werklik swak gedoen in ons verhouding tot die natuur. Ons het soveel verkeerde besluite geneem wat die aarde verniel het. As jy kyk hoe lyk ons riviere, hoe ons ontbos, ons water is besmet, ons grond is verspoel. Ek dink die Here huil as hy sien wat ons aangevang het. Dit is beslis ’n tema in die boek.

’n Ander ding wat jy ook sal optel wanneer jy die boek lees, is ons soeke na ’n oplossing vir ons probleme in Suid-Afrika. Ons het ’n land wat geweldige wonderlike potensiaal het, maar ons het ’n land wat so swak bestuur word dat ons nie by die werklike oplossing uitkom nie. Dit het vir my duidelik geword in my roeping as predikant, wat ten nouste met die opvoeding en onderwys saamgehang het. Ek was my lewe lank daarby betrokke en ek kan nie verstaan, en ek verstaan al minder, dat ons nie kan besef waar die probleem in ons land lê nie. Ons wil hier van bo af met mekaar baklei en waaroor? Ons baklei nie oor beginsels nie. Ons baklei oor belange. Ons politiek is belangepolitiek. Nou kom ons en ons soek na oplossings. Kyk hoe lyk ons onderwys. Ek kry ons kinders so jammer. Dit verbaas my nie dat hulle baie dinge aanvang wat my hare laat rys nie. 

Ek sê dit nie sonder my waardering vir die talle onderwysers wat wonderlike werk doen nie, maar daar is leerkragte wat nie eens betyds opdaag om vir die kinders skool te gee nie. Skole wat laat begin, mense wat nie ’n kundige op hulle vakgebied is nie, want onderwys is tog die oordra van die kundige tot die nie-kundige. As jy dit nie het nie, hoe dra jy dit dan oor? As jy gaan kyk na die statistieke, is dit absoluut skokkend. Dit is ’n tema wat jy ook sal raaklees. 

’n Laaste ding, wat my in my eie bediening soos ’n mislukking laat voel het en steeds voel, is hoe spreek jy die tema van lyding aan. Lyding is ’n werklikheid en dit verskil. Ander se lyding is dalk groter. Baie mense dink dominees moet die antwoorde hê en dalk moes ons die antwoorde beter gehad het. Ek het dit blykbaar nie goed gehad nie, want ek het so skuldig gevoel wanneer iemand na jou kom en vertel wat met hulle of hulle kinders gebeur het. Ek hoef nie eers stories te vertel nie. Jy kan net die koerant oopmaak dan kan jy sien die verskriklike goed wat met klein, onskuldige kindertjies gebeur. Dan kom mense na jou toe en hulle dink jy kan hulle help. Dan vra hulle jou: “Dominee, waar was God? Hoekom het Hy dit toegelaat?”

En dan moet jy antwoorde kry en jy het dit nie. Ek behandel dit ook in hierdie stukkies – nie dat ek ’n antwoord het nie, maar om te bely dat ek wel nie het nie. Ek weet nou nog nie. Miskien sal dit een van die eerste vrae wees wat ek eendag vir die Here sal vra wanneer ons van aangesig tot aangesig kom.

Wat is jou agtergrond en wat was jou betrokkenheid by boere en by die Landbouweekblad oor die jare?

Ek het ’n boere-agtergrond. Ek kom van ’n plaas wat ses geslagte in die familie was. Ek is gebore en grootgemaak op daardie plaas. My eerste twee gemeentes was ook plattelandse gemeentes. So ek het van kleins af met boere te doen gehad. Ek het nie net vir hulle gepreek nie, maar ek was saam met hulle in die veld.  Ek het saam met hulle gejag en baie dinge gedoen wat ons verhouding op ’n ander vlak geplaas het omdat ek self iets van boerdery geweet het. Ek het as student ’n kursus in graangradering voltooi en vakansies het ek gaan werk en dan werk jy met boere. Op ons eie plaas kon jy as student vakansie hou, maar jy moes deel hê aan die boerdery. Jy moes soggens die koeie gaan melk en ons het nie masjiene gehad nie. Met sulke en etlike ander dinge het ek ’n nou verhouding met boere gehad.

Boere sou my, byvoorbeeld, soggens vroeg bel terwyl ek nog slaap net om te sê hulle het ’n lekker reëntjie gehad. Dan wil hy praat, want hy is bly. Ek dink ek kan oor die boere praat omdat ek met hulle gepraat het en saam met hulle geleef het en toe ek die kans kry om vir Landbouweekblad die Hart tot hart-rubriek te behartig. Toe het die destydse redakteur vir my baie uitdruklik gesê ek moet tot die boere se harte praat sodat hulle my kan verstaan. Ek moenie vir hulle ingewikkelde preke gee nie. Hulle is nie lus daarvoor nie. Hulle wil uit die hart praat. Dit was ’n wonderlike voorreg wat Landbouweekblad vir my gegee het en die stuk of agt redakteurs met wie ek gewerk het. Dit het my gemeente seker die grootste in Suid-Afrika gemaak. Ek het mense leer ken al het ek hulle nooit gesien nie, maar ons het met mekaar gesels asof ons ou vriende is, want ons het dieslfde taal gepraat, letterlik en figuurlik. 

Wat is die vreugdes van boerdery en die belangrikheid daarvan in Suid-Afrika?

Die vreugdes sal elke boer seker vir jou kan sê – dis mooi as jy ’n land gesaai het en dit staan pragtig, en as die sybokkies uit die diptenk gejaag word en hulle begin hardloop. Dit is ’n mooi gesig wanneer die veld groen is en die skape gaan uit en hulle speel wanneer die son ondergaan. Dan gaan staan ek daar om vir ’n tyd lank net die skouspel te aanskou. Dis mooi dinge van die boerdery.

Oor die belangrikheid van boerdery kan ek nie vir jou genoeg sê nie. ’n Land, veral soos ons s’n wat gebuk gaan onder armoede, gaan moeilik bestaan as mense nie iets kan eet wat hulle self produseer nie of as dit nie op ’n billike manier aan hulle verskaf word nie. Suid-Afrika het ’n besondere sterk behoefte aan ’n sterk landbou-sektor. Ons kan nie baklei oor grondhervorming en al sulke goed as ons nie eers seker maak dat daar genoeg kos vir die mense is nie.

Enige mens moet kan sien hoe belangrik boerdery is en die regering gee en doen bitter min. As jy sien hoe hulle in ander lande die boerderye subsideer, veral in moeilike tye. By ons is daar min daarvan.

Waarom vandag, in 2019, boer en ook elke oggend of elke dag ’n dagstukkie lees en daaroor nadink?

’n Mens kan nie lewe sonder voedsel nie. Daar is die voedsel wat ons almal ken en dis die kos wat jy eet. Maar daar is ook ander voedsel, daar is ook geestelike voedsel. As jy nie daardie voedsel kry nie, gaan jy swaar kry en nie weet waarnatoe nie. Elke mens soek ’n adres om by te gaan sê “help my” as jy voel jy gaan sink. Die stukkies in die boek het daarvan kennis geneem. Partykeer was dit net ’n geroep saam met die boere om te sê “Here, ons is in die nood, help ons”. Ek het ook baie wonderlike, waarderende reaksie van mense gekry, wat gesê het hulle was tot teen die grond gedruk en het nie geweet waarnatoe om te gaan nie. Toe maak hulle ’n Landbouweekblad oop en lees die stukkie wat ek geskryf het en kon weer opstaan en weet hulle het ’n God wat lewe en Hy sal hulle dra. Ek dink Landbouweekblad het op hulle eie manier ’n wonderlike bydrae gemaak om ons boere in tye van nood by te staan en aan te moedig. 

Moed, mense, hou moed:
Die kwaad sal verander in goed -
Die môrelig kom uit die duister!” 
 – C Louis Leipoldt (1980)

Wat is vir jou die diepere betekenis en sin van die lewe?

Ek dink dit word vir ons baie mooi weergegee in die samevatting van die Wet. Jy moet God liefhê bo alles en almal en jou naaste liefhê soos jouself. As ons dit doen, sal ons ’n wonderlike wêreld hê. Die liefde is so diep, dat jy jou lewe vir iemand anders sal gee. Ek kan niks beter kry as dit nie en dit was en is my strewe om te lewe volgens die eise wat die Here vir my stel en om iets vir my medemens te beteken. Om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak omdat my Skepper ’n verskil in my lewe gemaak het. Dat mense kan sê, hy het iets beteken, hy het ’n verskil gemaak, hy het iets probeer skep, hy het probeer heelmaak wat ander gebreek het, hy het probeer versoen waar ander kwaad gestook het. Ek kon niks dieper as dit kry nie. Jou menswees moet kwaliteit wees en die standaard van daardie kwaliteit gee Hy vir ons in sy Woord. Hy sê vir ons hoe om te lewe. Dan sal jy sien hoe dit van jou werklik die mens maak wat God wil hê jy moet wees.

The post Skrywersonderhoud: Kobus van der Westhuyzen oor <em>Landbouweekblad: Hart tot hart</em> appeared first on LitNet.

Resensie: Vloek deur Rudie van Rensburg

$
0
0

Titel: Vloek
Skrywer: Rudi van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801976

In Rudie se eerste Kassie Kasselman-roman, Slagyster (gepubliseer in 2013), ontmoet ons vir Carl Bester, gevalle oudspeurder. In Vloek is Carl terug. Hy kan na Suid-Afrika kom – sy bannelingstatus uitgewis, teen ’n prys. “Ons vergeet jou sondes in ruil vir ’n teenprestasie,” sê sy nuwe werkgewer. Hy moet ’n lykbesaaide saak van internasionale belang help ontrafel – een wat met lyke besaai lê. Nou sal hy weer soos ’n volbloedspeurder moet redeneer om dié saak saam met ’n spul rookies op te los.

Carl se polisiedae lê ver in die verlede en hy word gedwing om as volbloedspeurder te redeneer om dié saak saam met ’n spul rookies op te los. Dié berugte rokjagter het natuurlik ook versoekings, soos die pragtige Sarah. Sal hy die versoeking kan weerstaan om betrokke te raak by dié beeldskone kollega? Gaan sy paaie kruis met Kassie Kasselman, die speurder wat sy diefstal destyds aan die Skerpioene blootgelê het? Dan is daar die neo-Nazi uit Carl se verre verlede. Gevul met die “heilige krag van die Führer” is hy vasbeslote om wraak te neem op die man wat hom agter tralies laat beland het.

Vloek is beslis ’n boek wat jou vasgenael hou, byna soos ’n speurderverhaal wat op die kassie afspeel. Skielik lees jy nie net meer'n boek nie, jy is deel van die gebeure:

Hy skud die gevoel van verlammende paniek af en hardloop, druk mense uit sy pad, struikel toe hy 'n paar kissies groente by 'n straatstalletjie met sy heup omstamp, behou sy balans en beur vorentoe. Elke sening en spier in sy lyf is gespan, maar dit voel of hy lood in sy skoene het. Hy sien die steeg tien meter voor hom. Dit is donker en smal. Daar is skielik voetstappe agter hom. Hulle het hom die steeg sien vat, besef hy. Paniek klop opnuut in sy slape.

Riloomblikke is daar vele van, dalk te veel vir die gemiddelde vrou se smaak. Die meeste vroue is sensitief wanneer dit by kinders en wreedheid/marteling kom, soos wanneer klein Imani lyfstraf kry:

Twee gryp hom aan sy arms en 'n derde aan die bene. Hulle dra hom protesterend en spartelend na die boom langs die hooftent. Die luitenante maak die seun se gewrigte bo sy kop aan 'n laaghangende tak vas. Hy bewe soos 'n riet.

Daar is geen gebrek aan ’n deurlopende spanningslyn wat jou op die punt van jou stoel hou en beslis sal wakkerhou sou jy slaaptyd dié skrywe aandurf nie. Dit lees gemaklik en alhoewel dit jou hare laat regop staan en beslis nie ’n boek is om op ’n nugter maag te lees nie, getuig dit van ’n goeie woordeskat en storielyn wat perfek ingespan en saamgesmee word.


Agtergrondinligting, wikipedia:

Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore as die oudste van twee seuns. Ná skool studeer hy verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy eers ’n Hoër Onderwysdiploma en later deeltyds ’n BA-graad in Kommunikasiekunde behaal. Aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal hy daarna ’n BA Honneurs-graad in Kommunikasiekunde. Nadat hy sy onderwysdiploma verwerf het, begin hy sy loopbaan as joernalis by Volksblad in Bloemfontein, waar hy hoofsaaklik in die sportredaksie diens doen. In 1982 word hy medestigter en uitgewer van die plaaslike koerant en later redakteur van die saketydskrif Die Ekonoom. Hy verlaat die joernalistiek na sowat tien jaar en sluit aan by die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo. In 1987 aanvaar hy ’n pos in Sanlam se reklame-afdeling en verhuis na Kaapstad. Hy is ook ’n bekende skilder en van sy kunswerke is in versamelings in verskeie lande te sien.

In 2009 tree hy af by Sanlam, waarna hy hom aanvanklik op sy skilderkuns toespits, maar later op sy skryfwerk. Vir twee dae in die week werk hy ook as taalversorger by Die TygerBurger. Hy het al sewe gewilde panningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Piranha, Kamikaze, Ys en Medusa, ’n kleuterboek, Die Doempies van Tafelberg (self geïllustreer en gepubliseer), die komiese roman, Hans steek die Rubicon oor asook ’n drama, Die begrafnis. Kamikaze was die 2018-wenner van die ATKV-Woordveertjie vir Spanningsfiksie. Hy skryf ook onder die skuilnaam Phil Janse.

Hy is getroud met Lize en hulle het drie kinders, MC, Neil en Amieke.

The post Resensie: <em>Vloek</em> deur Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.

Viewing all 1356 articles
Browse latest View live
<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>