Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1338 articles
Browse latest View live

Wit terroriste deur Albert Blake: bekendstelling in Roodepoort


Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: ’n Tuin vir Tessa deur Helena Hugo

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Helena Hugo

Helena Hugo | Foto: verskaf

Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar skryf en vertaal deesdae voltyds. Benewens talle boeiende verhale oor verskillende genres heen, is sy ook regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale. Luisteraars sal haar veral vir Blinkwater en Mooi mense onthou. Sy het ook al drie keer die eerste plek in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama Swane is met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon. Helena en haar man, Henk, woon in Roodepoort en het drie volwasse kinders.


Opsomming

’n Tuin vir Tessa
Helena Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321084

Tessa het die perfekte lewe; haar man Altus se besighede doen goed en haar seuns is goeie kinders. Sy woon in ’n pragtige huis in ’n spogbuurt. Haar tuin is haar stukkie hemel, haar skuilplek, die plek waar sy troos soek en kry. Die laaste tyd begin Altus se stiltes haar pla. Wie of wat sit daaragter? En beteken dit dat sy haar tuin sal moet prysgee?


Uittreksel

Altus speel met die televisie se afstandbeheerder. Tessa het die gordyne van die venster weggetrek. Sy lê op haar sy en kyk deur die dowwe ruite. Die kamer het ’n agterdeur wat uitloop op ’n smal stoepie met ’n smeedystertafeltjie en twee stoele. Vier leë bierbottels, vuil glase en een teekoppie staan die tafel vol. Die peperboom op die rand van die stoepie is behang met trossies ligrooi sade. Dun blaartjies en ronde saadjies val tussen die glase en bottels op die tafel, dwarrel in die ligte wind  oor die vensterbank.

Agter haar soek Altus steeds na ’n program. Hy kry blykbaar niks waarin hy belang stel nie.

Sy kyk by die boom verby en sien ’n skewe draadheining. Agter die heining staan ’n boerbok en snuif die aandlug. Sy wys vir Altus die bok.

“Verlang ek nou na Sêrah,” sê hy.

“Ek ook.”

“Ons sou met hulle kon boer – vir die melk, nie vir die vleis nie.”

Sy antwoord nie. Nee, wil sy sê, nie weer nie.

Hulle lê op die bed en kyk na die plafon. Aan die manier hoe hy haar hand vat, lei sy af dat sy gedagtes ook dwaal – en na dieselfde plek as hare.

Hulle het ’n Switserse melkbok gehad. Dorpsmense, wie se kinders allergies vir koeimelk was, het by hulle kom melk koop. Altus het tagtig melkkoeie gehad, ’n goed toegeruste melkery. Hy het gereeld melk gelewer aan ’n bekende verspreider wat dit op vasgestelde dae en tye kom haal het.

Daardie Sondag was hulle van plan om kerk toe te gaan, maar Altus los nooit sy werkers om alleen te melk nie. Die rowers het hom by die melkery ingewag, kastig om melk te koop. Hy het later vir haar vertel dat hy dadelik onraad vermoed het. Sy voorman was nêrens te sien nie en die koeie nog in die kamp. Hy het verduidelik hy verkoop nie melk aan mense wat nie vooraf met hom gereël het nie.

Een het die praatwerk gedoen. “As jy nie verkoop nie, vat ons,” het hy gesê.

“Ons het nog nie gemelk nie, waar sien julle die melk?”

“Ons sien jou koeie, ryk man.”

“Dis my boerdery, ek boer,” het Altus hom verweer.

Hy is ru rondgepluk. “Huis toe! Kombuis toe! Ons is dors! Ons is honger!”

Daar was drie. Twee het hom vasgegryp, hom kombuis se kant toe gestoot.

Altus het twee boerboele op die werf gehad, Herklaas en Sannie. Die mans is moordenaars, het hy besef, toe hy die getroue diere keelaf elk in sy eie plas bloed sien lê. Hy het die Here in sy gedagtes gesmeek om te keer dat die wreedaards sy vrou en kind leed aandoen.

Tessa was in die kombuis besig om ontbyt te maak. Toe hulle die deur oopstamp, het sy so groot geskrik dat sy die glasbeker met lemoensap wat sy in haar hande gehad het, op die vloer laat val het. Een van die kwaaddoeners het die glasstukke uit die pad geskop, ’n vadoek van die rak af gegryp, haar hande agter haar rug vasgeknoop.

Sy het hom onverskrokke in die oë gekyk, gebid, hardop die geloofsbelydenis: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is …”

Die lafaard het haar geklap deur haar mond, so hard sy kon die bloed proe.

Hulle het Altus se gordel uit sy broek geruk, sy hande vasgemaak, sy broek om sy nek aan die stoelleuning. Sy kon hom nie help nie, nie eens naderstaan nie. Haar oë het syne ontmoet. Dit was asof hulle mekaar vir oulaas vashou. Hulle het hom teen sy kop geklap, geslaan tot sy nek slap gehang het. Sy wou wegkyk, maar haar oë het oopgesper gebly. Bloed het oor sy bors gestroom, sy sterk gespierde bene was aan die bewe asof hy enige oomblik ’n aanval gaan kry. Sodat hy seker nie kan sien nie, net hoor wat hulle nog van plan was om te doen, het hulle hom met een van haar kombuisvadoeke geblinddoek, ’n ander een in sy mond gedruk. Sy het gevrees hy sterf, haar Altus wat as kind rumatiekkoors gehad het en ’n ruising in sy hart oorgehou het.

Sodat hy kon hoor dat sy nie opgee nie, het sy hard gebid: “Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en …”

“Sjarrap!” Die leier was ’n wilde man sonder genade.

Sy het nog ’n paar klappe gekry en is op ’n stoel teen die kombuiskas neergeplak.

“Jy! Sit!”

“… wat begrawe is en neergedaal het na die hel … wat op die derde dag weer opgestaan …”

Een het ’n mes opgetel. “Sjarrap, of ons sny jou keel af!”

Dit was ongemaklik met haar hande agter haar rug. Haar kamerjapon wat sy oor haar naghemp aangehad het, het voor oopgehang. In die somer sou sy nog kaler gewees het. Sy wou nie eens dink aan haar eie lyf nie, haar vrouwees was haar swakpunt. Toe haar borste vol melk skiet, loop die trane. Ewald was, dank die Here, in die slaapkamer. Die middeldeur na die res van die huis was toe, hy was gevoed en rustig in sy bedjie, ’n weerlose ou kindjie wat niemand enige kwaad gedoen het nie. Sy sou haar lewe vir hom gee, soos Simson haar boeie breek, met naels en tande baklei. Ter wille van hom het sy stilgebly, in haar hart gebid dat hy  nie moet huil nie, haar en Altus se babaseun. Ter wille van hom, het sy nie ’n geluid gemaak nie. In haar hart het sy nie stilgebly nie.

… wat op die die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>’n Tuin vir Tessa</i> deur Helena Hugo appeared first on LitNet.

Vyf goed van ... die middaguurgesprek met Annie Klopper oor Die tragiese saak van Pamina Vermaak

$
0
0

Annie Klopper (foto: Naomi Bruwer)

 

Suzanne Koen deel haar gedagtes oor 'n VER[r]as-middaguurgesprek wat op die 20ste September by die US plaasgevind het. Annie Klopper het met Ryan Pedro oor Annie se boek Die tragiese saak van Pamina Vermaak gesels.


  1. Annie dra ’n wit T-hemp, met die letters van Metallica in skokpienk daarop en die frase “Justice for all” onderaan. Ek wonder: as sy swart kortgeknipte hare, ‘n kuif en blou oë moes hê, sou dit Pamina kon wees?
  2. Met die skryf van hierdie selfgeklassifiseerde romkom het Annie haar en haar vriende as teikenlesers in gedagte gehad. As sy dit nie kon geniet nie, sou sy dit nie van lesers kon verwag nie. Aspekte soos register en taalgebruik in die dialoog getuig daarvan dat Annie “wou sing soos (sy) gebek” is. Dis daarom dat sy die dialoog hardop vir haarself gelees het.
  3. Baie aspekte omtrent die verhaal kom vanuit Annie se persoonlike verwysingsraamwerk: onder meer die kontras in milieu tussen Witwaterbaai en die stad waar Pamina beweeg; Pamina se oorlede pa (ook die plateversameling wat sy van hom geërf het); en waarskynlik die mees prominente aspek, die groot rol wat musikale bydraes deurgaans speel. Laasgenoemde getuig van Annie se musiekkennis en ervaring as musiekjoernalis, asook haar vriendskap met onder andere die groeplede van Die Heuwels Fantasties. Met byvoorbeeld ’n eie temalied moedig Die tragiese saak van Pamina Vermaak die eksperimentering met multimodaliteite in literatuur aan.
  4. Pamina se gemengde gesin en sy as die onkonvensionele vroulike hoofspeler weef versigtig temas van ras en feminisme in die narratief in. In Annie se woorde: Pamina “veroorsaak haar eie kak”. Haar probleme is, anders as in die stereotiepe romkom, nie as gevolg van ’n man nie. Die leser word bevredig deur die doelbewuste gebruik van romcom-clichés, soos dat liefde tóg op die ou end gevind word, maar ’n man is nie die eintlike oplossing nie. Eerder dat Pamina leer om met die gevolge van haar besluite saam te leef.
  5. “Hoe sy is, is fine” – of dit nou enige vrou is wat haar met Pamina se “flawed karakter” kan vereenselwig, of Annie wat aanvaar het dat sy nie erkenning as “groot literêre skrywer” met hierdie boek gaan kry nie – sy het iets geskryf wat sy kon geniet, al is dit “kommin”. As jy dus enigiets wil wegneem van Pamina se tragiese saak, is dit om vrede met jouself te maak.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud

The post Vyf goed van ... die middaguurgesprek met Annie Klopper oor <em>Die tragiese saak van Pamina Vermaak</em> appeared first on LitNet.

Annie Klopper “sing soos sy gebek is”

$
0
0

Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Annie Klopper

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708701

Tydens ’n middaguurgesprek, aangebied deur die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) aan die Universiteit Stellenbosch, gesels Annie Klopper met Ryan Pedro oor haar debuutroman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Sy vertel van die keer toe sy haar in die Afrikaanse afdeling van Wordsworth in Seepunt gevind het, en alhoewel sy boeke kon kry waarmee sy haar kon vereenselwig, was daar niks wat spesifiek op haar (en haar portuurgroep) gemik was nie. Dit was buitendien ’n baie smal rakkie: Annie Klopper is die Afrikaanse afdeling van die Wordsworth in Seepunt. Dis toe dat sy besef dat daar ’n leemte in die mark vir ’n lekkerlees-liefdesroman bestaan waarin sy en haar portuurgroep sal tuis voel.

Dit is hoekom niemand in hierdie roman “binnensmonds” swets nie. Die karakters sê “fok” wanneer hulle “fok” wil sê, want “gedoriewaar” het net nie dieselfde effek nie. Dis ’n vermenging van waarheid en fiksie, met rockmusiek en stereotipes wat vernuwende gevolge vir die romantiese komedie in Afrikaans het. Die roman benut die speelruimte wat bestaan binne die perke van die leser se vooropgestelde idees met die oog op die uitdaging van daardie idees. Oor die naam van haar hoofkarakter spot sy dat sy nog altyd gewens het dat haar van eintlik Vermaak was. Pamina Vermaak wyk af van die blonde-poppie-perfeksie wat so gereeld voorgeskryf word, en as karakter word sy gevorm deur omstandighede buite die cliché “white picket fence”. Pamina se eweknie, Wolf de Jager, spruit uit Annie se musiekverwysingsraamwerk (sy het Fokofpolisiekar se biografie, Biografie van ’n bende, geskryf).

Dit is interessant hoe daar wedersydse ontlening bestaan tussen waarheid en fiksie: die lede van Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar, wat kameerolle in die roman vertolk, het self kreatief bygedra tot die verloop van die verhaal. Hulle was, soos Annie hulle beskryf, haar klankbord met betrekking tot die eerlike uitdrukking van hulle fiktiewe handelinge. Hulle het nietemin belangrike bydraes gemaak in verband met die skets van ’n realistiese rocksterlewe.

Die grens tussen feit en fiksie word verder opgehef deur die multimodale aard van die roman. Ryan Pedro het opgemerk hoe hy onmiddellik die boek neergesit het om Wolf se liedjie, "Tyd om eerlik te wees", te soek wat op die meeste digitale musiekplatforms beskikbaar is. Die tragiese saak van Pamina Vermaak leef dus verder as die papier waarop dit gedruk is. Die konstante interaksie tussen feit en fiksie plaas weer eens klem op die outentieke aard van die roman, iets wat Annie, met verwysing na hip-hop, beskryf as “keeping it real”. Daarom “sing sy soos sy gebek is” en bied ’n eerlike uitdrukking van ’n verhaal wat sy met haarself as teikenleser geskryf het, en waarin lesers kan identifiseer met karakters wat praat soos haar portuurgroep, sukkel soos hulle, lief het soos hulle, en uiteindelik vrede maak met hulself en besef dat mens nie altyd so perfek hoef te wees soos wat hulle in die romcoms sê nie.

Kyk hier na ’n opname van die gesprek:

Lees ook:

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud

The post Annie Klopper “sing soos sy gebek is” appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Stof deur Alettie van den Heever

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Alettie van den Heever

Foto: Retha Ferguson

Alettie van den Heever is ’n boorling van Springbok en tans ’n doktorale student in die Afrikaanse letterkunde aan die US, waar sy ook voorgraads studeer het. Sy het in Kaapstad skoolgehou en woon tans in Bellville. Stof (wat deels afspeel in ’n toekomstige Bellville) is haar eerste roman. 


Opsomming

Stof
Alettie van den Heever

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801594

Twintig jaar ná die Hardskip. Dié wat oor is gelooi deur die groot honger toe al die oeste misluk het, deur die stof en die gluur van die son.

Op Kiefmor wonder Ampersand wat geword het van Wakinyan, die swarthaarman wat als kom deurmekaarroer het. Hier’s min vir haar oor ná haar ouma se dood, so sy vat die pad – met haar saad. Sy moet vir Wakinyan vind, en sy moet sorg dat die saad nie in Meconium – die enklawe wat alle saad wil beheer – se hande val nie, want onverklaarde plantsaad is in 2081 ’n streng taboe en Amper se grootste las.

Maar juis in en om Meconium moet sy gaan soek, waar high-tech shit en high-shit tech vennote is. Amper en haar unieke neus wat die groot stof kan deurtas moet haar pad voel-voel baan deur die stank van dié regime.

Stof, Alettie van den Heever se debuutroman, is toekomsfiksie vir vandag. 


Uittreksel

Saad 1
Dinsdag – Woensdag, 1 – 2 Julie 2081

Dit is ’n platstof onwintersdag. Juliemaand het verloor nog voor hy begin het. Haar ouma sou gesê het die son is drie desembers sterk. As ’n mens te lank kyk, sal die Banghoekberge se gebewe jou die floute gee. Glare Gone-lense of te not.

Amper kyk anderpad. Links oorkant is die ou wasplek. Een van die min geboue in die nederset met heel vensters. Godliness. Keep your heart clean and your laundry cleaner, staan dit in vier uit elke vyf letters.

Die man voor haar draai sy mummiekop en sien waarna sy kyk. “Hou jou gat skoon en jou dunderm skoner,” sê hy.

Amper ignoreer hom. Laventel. Jasmyn. Sitroengras. Sy het dit nie self geruik nie, maar uit haar vals geheue kom dit uit die kaalgesteelde wasmasjiene aangesweef. Die ry beweeg vorentoe. Sewe mense tussen haar en Weigh In. In ’n glasbrok regs van die ry verskyn haar duikbril, haar skilferlippe wat aan ’n dread suig, en haar kappie met die bruin boskaas wat daaronder uitsteek. By haar haarlyn staan die hare donsies – die vingers wat die dreads gedraai en gehekel het, is dood. Amper kyk weg. Die dread proe soos stof maar dis afwisseling – nog net haar linkerhand se duim- en wysvingernael het ’n stukkie wit oor.

Die skren links van Meshitium se Weigh In-venster gaan aan. Jolige musiek. Noag rem aan sy leiband en blaf vir drie dansende blare op die skren. Die man voor haar buk by Noag en vryf aan sy lang oor, trek die geriffelde punte van die halwe oor na. Die kwyl drup by sy mond uit op Noag se snoet. Amper trek te diep aan die lug. Die reuk van abses en drogies kom deur haar brilfilters. Sy blaas drie keer uit deur haar neus en katrol die hond in, maak die leiband korter waar dit aan haar belt vas is. Net liggies intrek, sodat die lug nie van verder as die streepsel aalwynsalf onder haar neus kom nie. Verdomde neus. Verdomde man wat Noag se vel met sy oë afslag. Kan hy nie die ribbebene ruik nie? Hy kyk steeds agtertoe en steek sy arm uit om die mense te tel.

“Vyf, tien, vyftien, twintig, een-en-twintig. Meshitium het slim geraak met die skrens vir peak hour,” sê hy en wys daarna.

Sy knik en probeer haar mondhoeke lig. Dis nie slimgeit nie; hulle het nie ’n keuse gehad nie. Drie MecSecs het seergekry in die chaos van Januarie se Leegskytkiem. Sy kou aan ’n velletjie langs haar duim. Sy kan nie onthou hoeveel sy geskyt het en of sy in die rye was met die bakleiery nie.

Sy onthou die dag van die inentloting. Die hele Kiefmor op die pêtse teerstraat tussen die tentedorp en die biogastenke agter Meshitium. Amper se naam is dertiende getrek. Net na een van die Jafta-mans s’n. Haar ouma se naam het in die emmer gebly. “Bettina Molooi!” het Amper geskree. “Bettina Molooi!” Niemand het gehoor nie. Baie name is uitgeroep deur desperates. Afgekoude kneukels. Sonsteek wat onder ’n skedel inkruip. Mensvleisasem. Die reuke het haar huis toe laat hol. Daarna onthou sy haar ouma se skedelgesig agter die kliniek se kwarantynvenster en haar laaste preek- en trooswoorde: “En jy bewaar jou innebor, en jou tongkennis, en die dooigoed vir die volgende lewe, en jou hare,” – Ouma het haar voorkop teen die venster gedruk – “die lokke, dis die drade, die drade wat jou aan my verbind.”

Sy’t op ’n stoel gaan sit. “Jy moet weet, kindjie, ek sal lag soos wat ek my annerkant uitskyt. En wanneer ek by die gooie aankom, sal jou oupa vir my wag en saam met my lag. Want om só te dood in hierdie tye – jy maak wins en jy maak komedie en die geweld kom uit jou eie lyf.”

 

Daar’s ’n gejeuk waar die duikbril bo haar oog vassuig. Sy krap rondom die jeuk – die gluur is te erg vir afhaal. Wakinyan het gesê sy lyk soos ’n ruimtewese uit ’n pre-Hardskip comic-boek wat hy iewers gesien het: met die grys dungaree, die duikbril wat donker raak in die gluur en die seekatarms in ’n poniestert.

“Hi there, Kiefmor kids,” sê ’n groen monster op die skren. “I am Div and I am your friend. Together we will learn everything there is to know about diversity and how Meconium, together with all the div enthusiasts from the settlements, wants to protect it.”

“Ek kan nie sien nie,” hoor Amper agter haar. ’n Meisiekind trek aan haar rugsak. Noag lek die kind se wang en sy lag. Sy lyk nie ouer as drie nie, maar sy dra twee vol Shitesavers soos ’n baba in haar arms. Amper tel haar op. Sy’s waarskynlik ligter as die Shitesavers.

“Did you know that Kiefmor is the settlement where we’ve seen the most animals and plants come back after the Hardship?” vra die monster. “In the first half of 2081 alone, you have rediscovered three species in this area. Keep your eyes open and report anything you find to one of the Meconium security guards at your biogas facilities. What’s in it for you? You and your mom or dad can win a trip to Meconium!”

Die man kyk weer om. “In die kakgaslorrie, ja. Daai’s ’n belangrike ding om by te sit.”

Hy grinnik. Die tande wat sit, sit agtertoe.

’n Reeks video’s begin: ’n tier en ’n hond wat saam speel, ’n kat wat toertjies doen.

“Kom, Ulet,” sê ’n vrou langs Amper en steek haar arms na die kind uit. “Dankie,” sê die vrou. “Dis drol van jou.”

Amper knik en sit weer ’n dread in haar mond. Haar maag kramp van leeg en onlekker wees – sedert Wakinyan twee dae tevore verdwyn het, het sy en Noag saam twee Shitesavers volgemaak.

 

“Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas.” Die professor kom jillend om die hoek van die gebou gehuppel. Sy’t hom lanklaas gesien.

’n MecSec stap in sy rigting.

“Akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion!” Die MecSec haal sy laserstok uit. Amper kyk weg en op. Weerskante van die Meconium hoog teen die gebou is twee ewigheidstekens met cob uitgebou. Sy volg ’n teken met haar oë. Die enigste een wat vir die prof tyd gehad het, was haar ouma. Haar ouma kon enige reuk uitstaan. Sy het ’n hand op die professor se skouer gesit en gevra waar hy laas sy besigheid gedoen het. Na haar ouma mooigepraat het, het die MecSecs opgehou om hom toe te sluit as hy nie in Meshitium geskyt het nie – hulle het haar kom roep. Dan is sy met ’n Shitesaver na sy skytplek en sy’t dit kom inruil en vir hom Staple en water gaan haal.

“Is daai nie Bettina Molooi se kleinkind nie?” hoor sy die MecSec sê. Die stywe lap van sy weathergear kraak nader. Noag grom.

“Kyk jý nou na die malle?” vra die MecSec. Sy roer nie.

“Hey, ek praat, meisie. Kyk jý nou na die malle?”

“Nee,” sê sy sonder om die dread uit haar mond te haal.

Sy het genoeg om na te kyk. Die dooigoederfnis, die hond, haarself. Sy beter vir Wakinyan kry: Vir hom is sy nie net ’n etterse oppasser nie.

 

“Next,” roep die man agter die venster. “Gas number?”

“One-three-five-eight-eight-nine-five-eight,” antwoord Amper. Sy stoot die vol Shitesavers onderdeur die tralie op die skaal.

“Eight hundred and fifty grams,” sê die man. “Can I have five Shitesavers,” sê sy.

“That’s worth a hundred grams.” Hy wys na ’n plank bo die venster: Cheaper to number two at a Meconium loo.

“Yes. I want five Shitesavers.”

Hy tel haar koeponne af en gee dit saam met die Shitesavers aan.

 

“Standaardpakket?” vra die vrou agter die Supplies-venster toe

Amper die koeponne, ’n bakkie en leë bottels ingee.

“Nee. Nie gas nie. Een porsie Staple mix, een hempklomp en die orige vir water.”

Toe die bakkie kos, een liter water en een hempklomp voor haar op die toonbank lê, skrik sy. Sy’t vergeet hoe duur die klompe is.

“Hoeveel kred oor op die . . . family account?” vra Amper. “Vyf-en-sewentig BioG’s.”

“Nog twee hempklompe en water. Asseblief.” “Vir die hele lot?”

Amper knik.

“Wag.” Die vrou loop uit die hokkie en skree iets na agter.

Amper kou aan haar duimnael. Die laaste van haar Leegskyt-erfporsie daarmee heen. Die vrou kom terug met ’n houer vol hempklompe. Sy kry twee daarvan en nog ses liter water.

 

Die son jaag die skadu’s net wes van Meshitium – daar’s tyd vir ompad Solamalgia toe loop. Sy’t die winkel vroeg gesluit. Niemand gaan dringend ’n skildery of ’n sybloes nodig hê nie. Behalwe vir Jafta se besoeke was haar laaste koper in Mei daar. ’n Tentelaait wat vir sy meisievrou ’n ring kom koop het. Hy’s weg met die cheapste en blinkste een – ’n plastiekring met ’n pienk kristal. ’n Kierang-ring met ’n kierang-kristal. “Want kierang is nodiger as ’n los maag in hierdie ekonomie,” het haar ouma gesê.

By die koorsboomlaning maak sy vir Noag aan die tyre-swaai vas. Sy klim teen die hoogste van twee peperbome in die hoek van die oop erf op en gaan sit in die skadu van die blare wat nog klou.

Die humanure-lande en die hemplande lyk naby. ’n Ent verder loop ’n groen skeur bergop na die dunblou lug. Daar waai haar ouma tussen die aalwyne en die bergsoutseepbos. Vyf maande het die mayonnaise-bottel langs die music box in die winkel gestaan. Tot Wakinyan haar die moed gegee het om die deksel in die wind oop te maak.

 

Een laatmiddag vroeg in Junie het sy uit hierdie selfde boom gesien hoe hy hom aan die koorsbome verkyk. Sy’t met haar lippe gefluit – kort-kort-lank, kort-kort-lank – totdat hy opgekyk en gewaai het.

“Het jy ontsnap?” het sy gefluister toe hy nader stap. Sy’t hom maar nog ’n week of wat in Solamalgia gesien.

Hy’t gelag en die voorkant van sy leerhoed met sy wysvinger boontoe gedruk. “No, I got permission to wander around. But only for an hour or so.” Hy’t met sy elmboog teen ’n koorsboom geleun, een been gekruis oor die ander. “You better come down and show me around.”

Skielik was daar agt geure in haar neus. Sy’t gesweer sy kap om as sy beweeg.

“Jy moet eerder klim. Van hier af kan jy die hele Kiefmor sien. Hoe hoër jou uitkykplek, hoe beter lyk alles.”

Sy’t hom gewys. Eers die bakens: die Sienhomsberge waarvandaan mens soms barbarfeeste hoor, Meshitium waar almal behalwe die solastalgia-pasjente en die accountless hulle Biogrands loop maak, die humanure-lande tussen die groentetonnels waarvan die groente Meconium-gaaie in besigheid hou, die hemplande waarin Kiefmor se bargaining powers met Meconium lê, en die Banghoekberge.

“Wat gebeur daar?” het hy gevra.

“Niks.” Sy’t hom nog nie vertrou nie. “Anderkant hulle lê die see, sê hulle.”

 

Die Saterdag van sy derde week in Solamalgia is hy saam met haar teen die Banghoekberg op en sy’t nie haar fluitjie en darts saamgeneem nie. Sy’t hom gewys hoe om die stof met seepbos van jou lyf af te skrop en dan jou vel met aalwynblaar in te smeer. Hy het drie aalwynkoppe gepluk en daarmee toertjies gedoen wat hy in die sirkus geleer het. Sy wou nie hê hulle moet te veel pluk nie, maar hy was so opgewonde en het ’n ekstra blaar saam met die parfuumbottel in sy rugsak gebêre.

Dit was die eerste dag wat hy haar teen hom vasgedruk het. Sy kon nie die reuk in sy nek plaas nie – dit was anders as die geure in haar houertjies. Amper het die storie van die Kanniedoodaalwyn vertel terwyl sy haar ouma se as laat waai het en hy het haar weer vasgehou.

Die aand was daar ’n klop aan die winkelvenster en die kort-kort-lang fluit.

“Hoe het jy uitgekom?” het sy gevra.

“No worries. They won’t let the real malles out. The MecSec knows I’ve got a thing for this girl in town.” Sy’t gegiggel. “He turned a tight ass.”

Binne die winkel het hy iets uit sy sak gehaal.

“For Noag. Some protein.” ’n Palm vol rou vleis in ’n lap toegedraai. Meer as wat Noag in jare gehad het.

“Waar het jy dit gekry?” wou sy weet.

“Konkok.” “What! How?”

“Paying up. Konkok can arrange stuff at the right price.” “Oh.”

“But she doesn’t sell info. I’ve been skimping for information about a certain dread-haired girl, but she gets tight-lipped and snaky-eyed when I mention you.”

Sy het geglimlag. “Jy kan mý vra wat jy wil weet.”

“Can I?” Hy’t na haar gekyk totdat sy weggekyk het. “You’re a closed book,” het hy gesê. “I like it.”

Vir haar het hy ’n grasring gevleg en met sy parfuum bespuit. “Dis drol,” het sy gesê.

Hy het op haar ouma se bed geslaap. Snaaks en hartseer. ’n Man in haar ouma se bed. Haar ouma se reuk flouer as vantevore. Sy het die langwerpige pilhouer onder haar kopkussing uitgehaal en dit vir hom gewys en laat ruik. Twee rye van sewe vierkante. M, T, W, T, F, S, S. Veertien dae waarin haar ouma parfuum of plantolies in ’n mengsel van plantbotters, -olies en was ingelê het.

“Vir Ampertjie Stampertjie met die neus van ’n mol. Vir Amper-lekamper wie se verneuklonge saam met die grootstof hol.”

 

 

Bo in die peperboom besef Amper dat sy haar ouma se rympie hardop gesê het. Noag blaf vir haar.

“Ek kom, Noag-honne!” Sy begin afklim.

Wakinyan kon niks in die pilhouer ruik nie. Dit was orraait; haar ouma, Bones en Konkok het lankal gesê dit het vir hulle ook te flou geraak. Maar Wakinyan het gesê sy verbeel haar. Hoe verduidelik jy vir ’n stofneus hoe die wêreld anderkant die stof ruik? Sy was vies vir hom. Buiten die boek met saadstories was dit haar kosbaarste besitting. Die volgende oggend het sy daarvan vergeet: Sy gesig was oor haar gebuk en hy’t ritmies in haar nek geblaas. Mensasem. Onharde swart hare op haar voorkop. Die reuk van ondergrondse water en ’n leerhoed. Die ring aan haar middelvinger.

Sy knyp ’n peperboomblaar af en vryf dit onder haar neus om die skimreuk te verwiller. Herinneringe vleg ’n mens vas. Sy moet hier weg.

Noag blaf toe hulle verby die Jaftas se toringhuis loop. “Ruik jy kat?” vra Amper.

Daar loop stories oor Mevrou Jafta en ’n kat waarvoor sy skelm kos gee. Honde is orraait as jy belasting betaal en oppit is, maar katte is onwettig: rondlopers en voëlvangers. Amper vat haar gewone pad oor die oop stuk veld na Solamalgia – só dat Mevrou Jafta haar nie uit haar kantoor by die kliniek kan sien nie. Sy weet nie hoekom nie, maar dit voel altyd of die vrou haar dophou.

Teen die kliniekgebou gekom, beweeg sy weer straat se kant toe, na die voorkant. Toe sy om die hoek kom, loop sy haar byna in ’n leer vas.

“Sal jy –” roep iemand van bo af.

“Helsem!” kap Amper terug. Dis Bones. Jafta is ’n kuttel in vergelyking met Bones as dit by ’n dophouery kom. Noag blaf-blaf-blaf en bly by die leer.

“Amper. Kleinkind van Bettina Molooi.”

Haar ouma se naam laat haar terugtrap. Bones kom met die leer af, kalkverfemmer in die hand. Dis een van sy bone pickings, soos hy dit noem. Hy lyk soos ’n maanman. Een van die knappes in die tentedorp het van stukke ou weathergear vir hom ’n oorpak gemaak. Die sirkel van sy gesig wat uitsteek, is bedek met ’n stofmasker en ’n paar ou MecSpecs. Hy trek die masker af.

“Ja?” sê Amper.

“Hoekom het jy nie gister gepitch nie? Ek het jou gesê: As jy –” “Wat het jy laas Saterdag bo by die aalwyn-pêts gesoek?” Sy moet meer afgepis as hy klink.

Hy vroetel met die masker.

“Ek het jou ouma belowe ek sal ’n oog hou.” “Ek kan na myself kyk. En Wakinyan was by.”

“Dis oor hy by was wat ek gekom het. ’n Tentelaait het gesien hoe jy en die mansmens die MecSec by Hemp 3 dods.”

“Dis gross, man. Om ander mense so af te loer.” Hy kom nader en praat sagter.

“Wat gross is, is dat jy jou ouma se loopsaad so loop en afshow aan ’n Meconite.”

“Hy’s nie ’n Meconite nie!” kap sy.

“O nie? En wat het hy gemaak in ’n Meconium-kliniek waar net

Meconites behandel word?”

“Dis nie so nie. Sy baas het ’n hoë contact in Klein China en dié het weer ’n hoë contact in Meconium. Hy’t –”

Bones skud sy kop.

“Wat dink jy gaan hy met daai aalwynblaar doen wanneer hy in Meconium kom?”

Wakinyan het ’n blaar gepluk, dit in sy rugsak gesit en haar vasgehou en gesoen toe sy wou klaarpraat dat hulle dit nie so doen nie.

“Wat het jy als gesien?” vra sy, haar gô ’n bietjie minder.

“Ek het geloop toe ek die skade sien, kleinkind van Bettina Molooi.” Etter!

“Nou hoef jy nie meer spy te speel nie. Hy’s weg. En niks het iets oorgekom nie.”

Sy begin omdraai, maar Bones is nog nie klaar met haar nie. “Wat hoor ek dat jy hom wil loop soek? Met die biogaslorrie van alles. Dis ’n toegatidee. Jou ouma –”

“Ek weet. Ek weet.” Dis haar eie skuld. Dis oor sy eergister – met die skrik van Wakinyan se wegwees in haar maag – elke pasjent en elke werksmens na hom kom vra het. Dié dat almal weet. “Ek gaan nie meer nie.”

Hy bekyk haar agterdogtig.

“Vanaand. Doerstryt voor donker. Konkok se tent.” Sy stem laat geen keuse nie.

Dit voel of haar kake verby haar ore rem. “Ek kort nie meer jou vervlakste –” Sy bedink haar. Hy moet glo sy’s van die plan af. Anders staan en wag hy haar môreoggend by die biogaslorrie in.

“Fine.”

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Stof</i> deur Alettie van den Heever appeared first on LitNet.

Skadujagter: 'n onderhoud met Dihanna Taute

$
0
0

Foto van Dihanne Taute: Brenda Veldtman

Skadujagter
Dihanna Taute
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177290

Dihanna Taute praat met Naomi Meyer oor Dihanne se boek Skadujagter.

Dihanna, waarom het jy Skadujagter geskryf? Was daar 'n spesifieke prikkel of inspirasie, of iets of iemand se situasie wat jy gesien het en wat jou laat voel het: hieroor moet ek skryf?

Ek was nog altyd gaande oor ’n sielkundige riller, een wat mens onverwags tref, een met ’n twist. Die inspirasie agter Skadujagter was meer ’n plek as ’n persoon: ’n godsvergete stuk grond – houthuise, ’n stofstraat en ’n droë graspol wat oor die pad rol. Heibrandt en sy situasie het eers later in die storie kom klim en toe sommer oorgevat.

Vir 'n ma soos ek is dit 'n moeilike tema om te lees: dwelmgebruik by jong volwassenes. Hoe moeilik was dit vir jou, ook 'n ma, om hieroor te skryf?

Ek moes ’n paar keer die pen neersit, verlof vat, iets lekker saam my gesin doen om die donker van Skadujagter af te kon skud, dan asemhaal voor ek weer kon voortskryf. Maar daar is ’n hele paar moeilike temas om oor te skryf, soos dwelmgebruik, selfmoord en gesinsgeweld, om net ’n paar te noem. Maar iemand moet.

Vertel asseblief kortliks die storie sonder om te veel van die intrige te verklap.

Skadujagter sny soveel dieper as dwelmgebruik en ’n seun met daddy issues. Dis ’n reis in die skoene van ’n ongewone tiener, sy soeke na antwoorde, na doel in die lewe, eie identiteit, liefde en aanvaarding.

Dwelms is natuurlik 'n uiters belangrike tema. Nee, dis meer as net 'n tema. Dis 'n gegewe in baie mense se lewens. Hoe skryf mens so 'n boek sonder om dit in 'n lessie te omskep, sonder om jou lesers te laat voel al wat jy doen is om te waarsku? Hoe hou mens dit 'n storie, net 'n leesboek, soos wat jy dit goed reggekry het?

Ek probeer my werk lees uit die leser se perspektief. Ek druk dan die grense tot net voor iets vir my te prekerig voel.

Jy het stewig in jou hoofkarakter se vel ingeklim: 'n jong volwassene, 'n jong man. Half-seun, half-man. Sy stem was helder en duidelik. Hoe het jy dit reggekry om in sy vel in te klim? Help dit dat jy ook kinders het, om iets te weet van hoe hulle koppe werk?

Ek dink dit help meer dat ek ook eenmaal ’n tiener was – nou wel nie ’n seun nie, maar tog nog die omgang van half-mens, half-volwassene moes deurmaak. En natuurlik om soos hulle te probeer dink en te redeneer. 

Jy is bekend vir boeke vir jonger lesers, soos die Lehandi-reeks. Is dit vir jou moeiliker of makliker, lekkerder of meer uitdagend om 'n boek te skryf vir jonger of vir ouer lesers? En ook: wie is jou ideale lesers? (Ek wil byna vra: is dit jou kinders? En: hoe oud is hulle?)

My kinders is 8, 9, 10 en 11 jaar oud, wat my baie gehelp het met die manewales van Die legendariese Lua Verwey, maar nie so seer met Skadujagter nie. Ouer lesers is vir my so ’n bietjie moeiliker om voor te skryf, maar ek hou vreeslik baie van ’n uitdaging. 

Julle het onlangs landuit getrek. Vertel asseblief ’n bietjie van jou lewe in Nieu-Seeland.

Die trek na Nieu-Seeland het ons soos sneeu in die middel van die somer bekruip – onverwags. Dit voel soms nog of ek droom dat ons hier is. Ons lewe het verander; skool en ons kinders se sport is soveel anders: als harde werk, maar op ’n rustige speel-speel-noot. En so tussen die wind en die reën deur is die lewe hier baie duur, maar lekker. Dis net Facebook-profiele van braai, biltong, beskuit en Mrs Ball’s Chutney wat die verlange soms moeiliker maak.

Wat is jou gunstelingboeke, of wat het jy onlangs gelees?

Dis vir my moeilik om ’n gunstelingboek te kies, aangesien daar so baie waardige kandidate is, maar ek het onlangs Karen McManus se One of us is lying en Kara Thomas se Little monsters gelees en dit baie geniet.

The post <em>Skadujagter</em>: 'n onderhoud met Dihanna Taute appeared first on LitNet.

Ankers vir vandag deur Nadine Blom: ’n resensie

$
0
0

Ankers vir vandag
Skrywer: Nadine Blom
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2077-3

Die bekende sangeres Nadine Blom ken kollig en applous, maar ook die donkerte van kritiek, onreg, jaloesie, verontregting.

In Ankers vir vandag deel sy sommige van hierdie persoonlike ervarings, asook insigte wat sy deur swaarkry verwerf het. Sy skryf eerlik en onopgesmuk. Haar getuienis en deurleefde woorde versterk die boek se geloofwaardigheid.

Ankers vir vandag laat die klem op twee soorte ankers val: dié wat ’n mens daarvan weerhou om geestelik te kan groei en ander wat jou stewig vashou wanneer die lewe se storms woed. Elke geloofsanker wys heen na God, die vaste anker wat onwankelbaar en ewig is.

In haar inleiding sit sy haar drie temas duidelik uiteen: God se onwrikbare liefde vir sy kinders; ankers wat losgelaat moet word; ankers waaraan gelowiges in gehoorsaamheid moet vashou.

In die eerste afdeling, “Vashou-ankers”, waarsku die skrywer teen ankers waaraan ’n mens verkeerdelik vasklou, byvoorbeeld vrees, teleurstelling, bitterheid, verwerping, wraak. ’n Mens reken dat die emosies wat hiermee gepaard gaan, geregverdig is, maar dit rem jou terug en beperk geestelike groei. Sy benadruk die feit dat hierdie ankers tyd neem om te lig, omdat ’n mens se eie persepsies moet verander. Eers dán kan die Heilige Gees met sy genesingskrag die plek van dié ankers inneem.

Die skrywer besef dat die loslaat van ankers nie ’n eenmalige proses is nie. Sy gee dwarsdeur die boek riglyne oor hoe om ankers wat jou aftrek, te lig. Vir my is dit ’n pluspunt dat sy nie kitsantwoorde probeer verskaf nie.

Teenoor die ankers wat losgelaat moet word, stel Blom die stewige ankers wat keer dat die storms jou oorweldig.

Die afdeling “Vashou-ankers” bied ’n omvattende verskeidenheid ankers waaraan ’n gelowige daagliks kan vashou. Geloof. God se krag. God se wil. Woorde wat lewe. Stilwees. Vergifnis. Wysheid. Gebed.

Die hoofstukke is netjies en logies uiteengesit. Elke hoofstuk word aan ’n bepaalde geloofsanker gewy. Dit word gerugsteun deur ’n aantal Skrifgedeeltes en ’n gebed aan die einde van die hoofstuk.

Die gebede getuig van ’n innige, persoonlike verhouding met die Here. Die gebed op bl 19 ontroer: “Ek besef dat U nie ’n mens is nie. U is almagtig, alleswetend en alomteenwoordig. Gee my tog goddelike kennis, wysheid en insig sodat ek in donker tye nie in U twyfel nie, maar eerder onthou hoe U my gedra het. Ek het U lief. Amen.”

Die skrywer se taalgebruik is sober. Haar formulering is duidelik en beheers. Dit is egter tog jammer dat sy hier en daar ’n Engelse woord of uitdrukking gebruik waarvoor daar ’n geskikte Afrikaanse eweknie is. Op bl 69 kon “faith in action” gewoon “geloof in aksie” gewees het, sonder dat die seggingskrag ingeboet word. Dieselfde geld vir “musical” wat in plaas van die mooi Afrikaanse woord “musiekblyspel” gebruik word.

Op ’n paar plekke in die teks is die metafore nie weldeurdag nie. In die hoofstuk “Drie lewenspilare”, wat oor geloof, hoop en liefde handel, skryf Blom (bl 152): “Hou vas aan hierdie ankers [geloof, hoop en liefde] in jou lewe.”

Ten spyte van hierdie skryfjakkalsies oortuig Ankers vir vandag. Dis ’n boek wat met vrug gelees en herlees kan word.

The post <em>Ankers vir vandag</em> deur Nadine Blom: ’n resensie appeared first on LitNet.

Skadujagter deur Dihanna Taute: ’n resensie

$
0
0

Skadujagter
Dihanna Taute

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177290

Hierdie nuwe boek van Dihanna Taute verskil radikaal van haar vorige werke uit die Lehandi-reeks met titels soos Ek en Prins Donkerkuif (2016). Dit wil voorkom asof dié lekker ligte liefdesintriges blote vingeroefeninge vir Skadujagter was, want met hierdie ene laat sy die leser winduit, poegaai. Skadujagter herinner aan die briljante Pleisters vir die dooies deur Fanie Viljoen, waar geestesversteurings by jong volwassenes ter sprake kom. Dit is ’n sogenaamde oorgangsroman, ’n werk tussen die jeugverhaal en volwassene-fiksie.

Heibrandt Fouché is 17 jaar oud en in matriek. Die leser kom egter gou agter dat hy nie in ’n gewone skool is nie. Vroeg reeds word daar verwys na ongewone goed soos swartgeklede, streng wagte wat oral rondstaan en pille wat uitgedeel word aan skoliere wat in rye staan en wag. Heibrandt se gedagtegang spreek ook boekdele met monoloë soos “skool is ’n tronk” en “Ek sweer, hierdie plek is die pits. Almal maak of hulle flippen mal is”; en dan is daar die newekarakter James, wat oral opduik en suspisieuse “good stuff” aanbied. Heibrandt spreek telkens sy begeerte uit om uit sy omgewing te ontsnap: “Ek moet eerder wegkom van hierdie plek”, want hy voel soos ’n gevangene.

Die verhaaltempo is snel en die leser het ’n sitplekgordel nodig om by te hou. Dit is moeilik om te bepaal wat is werklikheid en wat is verbeelding of selfs hallusinasie. In hierdie sielkundige riller word dit egter reeds van die proloog af duidelik dat Heibrandt ’n getraumatiseerde siel is. Daar is verwysings na ’n afwesige pa, wat boonop ’n dwelmverslaafde was. Daar is Heibrandt se ma, Cynthia, wie se dood waarskynlik die sneller was vir sy versteuring wat die stemme in sy kop losgelaat het.

Die verhaalgebeure, alhoewel ’n verstrengeling van realiteit en surrealiteit, vertel van ’n uiters verwarde, angsbevange en siek jong man. Hy voel dood en leweloos en gaan in sy verbeeldingsvlugte dikwels terug na die dorre, stowwerige wêreld van die begraafplaas waar sy ma begrawe lê. Heibrandt noem dit Cowboy Country. Tog is dit ook hier waar sy demone hom op hulle felste konfronteer. Dié monster (chimera) het “verskillende gesigte”. Soms is dit ’n arend, soms die monsterman met die swart mantel, soms ’n kat met rooi oë. Hoe dit ook al sy, Heibrandt baklei teen ’n oormag.

Ook die stemme in sy kop is soms dié van sy ma (wat smeek dat hy haar moet help), soms dié van sy ouma (wat troos, maar wat ook vermaan en gospelliedjies sing). Soms is dit Shane, die dokter/psigiater, en soms is dit die dominee met sy rasperstem en sy tekste uit die Bybel. Meestal is hierdie monster egter in homself, ’n soort boosheid, “’n donkerte [wat] deur my lyf trek” en wat hom gewelddadig maak, hom wil laat moor. Dit is ’n kant van hom wat selfs sy ouma vrees: “Sy’s bang vir jou, brand dit in my kop.”

Heibrandt het ’n obsessie met Shane. Hy sien hom oral, vrees hom en beplan selfs om hom dood te maak. Ook die leser word deur hierdie newekarakter gefnuik. Waar pas hy in? Is hy (en ook James) daar om te help of is hy besig met sy eie bose plan om die inwoners bedwelmd te hou? Is Heibrandt se vrees en woede jeens hierdie man geregverdig? Dit is duidelik dat Heibrandt gereeld medikasie ontvang, hetsy pille of inspuitings. Die leser wonder egter voortdurend of dit daar is om te help en of dit ’n rol speel in die hoofkarakter se haglike situasie. Is dit medikasie of is dit dwelms of is dit dalk een en dieselfde ding?

Intense skuldgevoelens bring verdere teistering: “Ek voel die skuldgevoel in my maag brand.” Heibrandt voel verantwoordelik. Hy reken hy kon meer gedoen het om sy ma te red, selfs ander sterftes te keer, soos dié van ’n medeskolier, Thinus, en die dogtertjie wat verdrink het. Verder leef hy met die immer teenwoordige vrees dat sy ouma, by wie hy na sy ma se dood gaan bly het, ook iets sal oorkom.

Heibrandt haat sy pa. Hy neem hom kwalik dat hy gedros het met sy seun se geboorte, dat hy ’n dwelmslaaf was en dat hy net nooit die afgelope 17 jaar daar was vir Heibrandt nie. Hy verwyt selfs sy pa vir sy eie afhanklikheid van pille/medikasie: “Wat ek eintlik die meeste haat is dat die appel nie ver van die boom gerol het nie. Ek het vervloekte gene.” Tog is dit asof hy na sy pa smag, dat hy hom wel in sy lewe soek en dat hy so half hoop die man met die swart baadjie en die blink sneakers is wel sy pa.

Teen die einde word die leser met Heibrandt se selfdoodpoging gekonfronteer en kry sy toestand ’n naam: “schizoaffective disorder”. By nadere ondersoek blyk dit dat hierdie psigiese versteuring gekenmerk word deur ’n kombinasie van psigotiese simptome soos delusie, hallusinasies, depressie, gevoelens van intense hartseer en hopeloosheid, asook redelose vrese en skuldgevoelens. Tydperke van maniese gemoedstoestande kom voor, eiewaarde word bevraagteken en selfdoodgedrag manifesteer. Dit is onseker wat hierdie tipe wanfunksionering veroorsaak, maar traumatiese gebeure kan dit aktiveer, en hierdie gebeure in Heibrandt se lewe is waarskynlik die dood van sy ma en die feit dat hy as jong seuntjie op sy ma met haar gesnyde polse afgekom het.

Die geweldige impak wat Heibrandt se ma se dood op hom gehad het, word beklemtoon deur ’n interessante tegniek van die skrywer. Telkens, in elke hoofstuktitel, word ’n letter vetgedruk. Wanneer hierdie letters saamgevoeg word, word ’n verskuilde boodskap aan die leser duidelik. Die hoofoorsaak van Heibrandt se situasie word ontmasker. Heel aan die einde van die boek, na die epiloog, word die lirieke van Skadujagter (die “band”) se lied ook bekendgemaak. Dit vertel die tragiese verhaal van ’n intens verwarde en getraumatiseerde jong man se stryd met chimera, die “monster in jou kop”.

Tog is daar uiteindelik ook ’n boodskap van hoop in hierdie verhaal. Heibrandt besef uiteindelik dat daar mense is wat hom liefhet, wat hom wil help: “Maar die man wat daar onder langs die ouvrou loop, is my pa! Ek weet dit of ek raai dit of ek wens dit!” Daar is ook die rooikop Lisa op wie hy verlief is en wat bereid is om saam met hom te stap: “Kom ek help jou.” Saamgevat in die lirieke van Skadujagter lê ’n antwoord vir Heibrandt, maar ook vir die leser. En dit is hierdie antwoord wat hoop bring:

Probeer aanbeweeg, try eerder vergewe.
Voor die meester jou analyse,
doen dit self en vat hom by surprise.
Familie, friends en vyande,
help jouself, neem hulle hande.

Die sielkundige riller spreek tot lesers se soeke na donker, spannende storielyne en verhaalgebeure. Dit is ’n groeiende tendens ook in die jongvolwassene-lesersmark en een wat nog onderontgin is in Afrikaans. Te midde van ’n suksesvolle riller staan ’n gekwelde, verwarde en onbetroubare verteller, en ’n dramatiese keerpunt is dikwels deel van ’n slottoneel. Hierdie genre het uiteraard ’n fassinerende uitwerking op die leser. Dit bied egter ook ’n geleentheid aan jong lesers om, in ’n veilige ruimte, bestaande konflikte en vrese te konfronteer. Dit is broodnodig in ’n tyd waarin geweld in skole, dwelmmisbruik en ander sosiale kwessies ’n werklikheid in die lewens van die jeug is.

Skadujagter is ’n aangrypende verhaal wat die skrywer met intense deernis, maar ook met hope insae, deel. Sy skryf vernuftig en behendig, met ’n styl en aanslag wat by die jong volwassene aanklank sal vind. Die tempo is verbysterend, soos wat van ’n spanningsverhaal verwag word, en die tema is, alhoewel onthutsend, relevant en gepas. Taute kry dit reg om diep in die psige van ’n uiters gekwelde karakter te klim en die leser by ’n sielkundige wipwarit te betrek. Dit is egter dalk ook juis hierdie spronge in tyd en in realiteit wat lesers mag verwar, wat dit moeilik kan maak om kop of stert van die verhaal uit te maak. Dat dit egter ’n uitstekende oorgangsverhaal is, is vir seker, een wat lesers van alle ouderdomme mag geniet.

The post <i>Skadujagter</i> deur Dihanna Taute: ’n resensie appeared first on LitNet.


Stroomop deur Adeline Radloff: ’n resensie

$
0
0

Stroomop
Adeline Radloff

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801747

Die Stroomop-boek is gebaseer op die draaiboek van die Stroomop-film, ’n film wat ek nie besonder baie geniet het nie. Die boek word nie toegelaat om op eie voete te staan nie, maar vorm bloot deel van die bemarking vir die film. Die filmplakkaat as voorblad, die 16 filmfoto’s regdeur die boek en die boodskappies voorin vanaf regisseur Ivan Botha en aktrise DonnaLee Roberts verswelg als.

Radloff volg die narratief (en dialoog) van die film heel getrou. Ek bewonder die bietjie vleis (en waagmoed) wat sy hier en daar bygewerk het, maar sy was einde ten laaste vasgekeer binne ’n stroopsoet en veels te veilige resep waarmee Ivan Botha en DonnaLee Roberts al jare lank werk.

Die teks is te stroperig en dramaties vir my smaak, maar dalk nie vir almal nie. Besluit self aan die hand van die volgende voorbeelde.

Die verwese figuur van ’n klein dogtertjie, haar skraal lyfie vol hulpelose verlange na iemand wat sy nooit eens regtig geken het nie.

Sy probeer haarself regruk, maar die amperse geweld van die verligting klief deur haar skanse …

Sy klem die blomme stywer vas, smyt dit dan in ’n oomblik van rebelse woede met al haar mag teen die muur. Dit tref ’n geraamde sertifikaat … Die sertifikaat tref die grond met ’n harde slag. Die glas breek in ’n duisend skerwe.

Op bl 57 (waar Adri oor haar jongste skryf) verskyn die volgende beskrywings almal op een bladsy: “haar kleintjie”, “klein seuntjie”, “klein seuntjie”, “baba”, “ou kleintjie”.

Die leser word met ’n lepel gevoer. Die inleidende hoofstuk, “Oomblikke”, bevat lewensbelangrike oomblikke in elke karakter se lewe. Die formaat van die paar paragrawe is deurgaans dieselfde. Radloff vat een karakter op ’n slag en beskryf die toneel waarin hulle hul bevind. Dan sê sy:

Tot jy weer kyk
Kyk van naderby
Maar knip weer jou oë
Tot jy weer kyk
Maar kyk weer
Maar knip jou oë vinnig.

Daarna beskryf sy ’n dieper betekenis / ander invalshoek binne dieselfde toneel.

Konsepte word tot vervelens toe herhaal, wat ook aansluit by lesers met ’n lepel voer.

Daar is altyd die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. ’n Laaste strooihalm wat die kameel se rug breek. ’n Laaste oomblik wat selfs die sterkste wil laat knak. Vir Lana kom daardie oomblik op ’n gewone oggend, na ’n gewone noodgeval – ’n doodgewone, eintlik alledaagse tragedie vir iemand met ’n werk soos hare. 

Die ry swartgeraamde mediese grade en toekennings is die enigste persoonlike items in Lana se moderne oop-plan-woonstel. Alles anders is duidelik van ’n hoë gehalte – funksioneel, prakties, duursaam – maar ook effens klinies en sonder karakter.

Soos in die film, is dit baie gou duidelik dat Stroomop, die boek, op een sentrale karakter, Lana, fokus. Sy word egter nie toegelaat om jou te wys wie sy is nie. Sy word aan jou beskryf (en opgehemel, as jy kyk na die beskrywing van haar fisieke voorkoms en die hoeveel nabyskote van DonnaLee Roberts in die boek [en film]). Die volgende voorbeelde is net binne die eerste helfte van die boek raakgelees:

Die vrou is sekerlik nog nie eens vyf-en-dertig nie (hoewel dit met Botox deesdae moeilik is om regtig te weet) en absoluut beeldskoon: lang donker hare, goudbruin oë, perfekte gelaatstrekke, fantastiese lyf.

Sy was nog nooit juis een vir hande vashou of trane wegpink nie.

… haar gewone gedissiplineerde manier …

’n Sterk wil en ’n skerp intellek …

Die woonstel van ’n vrou wat nie tyd het vir tierlantyntjies nie. Iemand wat nog altyd op haar loopbaan in plaas van haar leefstyl gefokus was – wat goed weet waarheen sy op pad is en wat sy van die lewe wil hê.

… haar intellek ingespan en voluit gefokus op die nuutste mediese boeke en joernale, vasbeslote om ’n antwoord te vind …

Sy het nog nooit in haar lewe ’n toets gedop nie.

… niemand is beter in haar werk as dokter Lana Marais nie.

Sy bring haar emosies met een diep asemteug onder beheer, haar brein gefokus.

In die geordende, kliniese woonstel …

Die ander karakters bly agterweë. Adri is oorgewig. Vivian oorleef ’n selfmoordpoging. Diona werk te hard. Jy weet nooit hoekom nie.

Stroomop lees boonop op plekke soos ’n hygroman:

… en begin haar soen, sy tong soos ’n lomp oester in haar mond. Dis romanties, probeer Vivian haarself oortuig, toe hy haar optel en bed toe dra.

Vivian voel hoe haar oë rek toe sy nader kom, want selfs die man se kakieklere, swartleerhoed en vol, donker baard kan nie die lyne van daai sterk kaak, reguit neus en breë skouers wegsteek nie.

… Sy oë is net só mooi, en sy voorarms so gespierd, en hy is net so … mánlik.

Die ontknoping (en herknoping) gebeur te maklik. Oor ble 107 en 108 (waar die perspektief heen weer spring tussen karakters) kom al die vrouens een vir een binne ’n paar minute tot nuwe insigte (en val dan maar net weer later terug op ou patrone).

Die boek (en film) se lighartige hantering van ernstige vraagstukke soos PTSD, depressie, poging tot selfmoord, liggaamsbeeld en die rouproses is vir my veral problematies. Ek dink nie ek verklap te veel as ek sê al die karakters is wonderbaarlik genees teen die einde nie. Volgens Stroomop verg dit slegs een avontuurbootrit om al die karakters se jare lange sielkundige probleme op te los.

The post <i>Stroomop</i> deur Adeline Radloff: ’n resensie appeared first on LitNet.

Huppelkind, gister en vandag: ’n onderhoud

$
0
0

Die nuwe Huppelkind-omslag is links, in kleur

Huppelkind
Skrywer: WO Kühne 
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624085485

Michelle Cooper, een van die uitgewers by NB-Uitgewers se afdeling kinder- en jeugboeke, gesels met Naomi Meyer oor Huppelkind, wat nou onlangs weer deur NB uitgegee is.

Tye verander, lesers verander (want hul verwysingsraamwerke verander). Wat dink jy veroorsaak dat Huppel steeds ’n karakter is by wie vandag se leser of luisteraar-as-die-ouer-voorlees kan aanklank vind? 

Huppel is die universele kind. Hy is sorgvry en nuuskierig oor die mense, diere en dinge om hom. Ander kinders verstaan hom, want hulle herken iets van hulleself in hom en volwassenes vind aanklank by hulle kinderlike self.

Raakpunte tussen Afrikaanse kinderletterkunde, toe en nou: Langenhoven se stories met die magiese elemente (byvoorbeeld Brolloks en Bittergal en Kootjie Totjie), en Huppelkind, met die maats wat hy langs die pad teëkom wat glad nie almal soos aardse karakters voel nie. Wil jy iets sê oor destydse kinderletterkunde en hoe dit vergelyk met magiese elemente in vandag se kinderletterkunde? Wat is eenders, wat is anders?

Sjoe, dis omtrent ’n onderwerp vir ’n magisterverhandeling! As ek ’n bietjie daaroor dink, sou ek sê dalk is daar vandag meer wat eenders is as anders. In die fantastiese wêrelde wat skrywers vandag optower, is tegnologie dalk net meer geïntegreer met fantasie, soos karakters wat die internet gebruik om ’n raaisel op te los, of vervoermiddels wat gevorderd is. Die magiese elemente, die goeie wat die slegte oorwin, die lewenslesse wat subtiel geleer kan word: ek sien dit steeds in moderne fantasie.

Wie is Huppelkind, en hoe kan mens hom beskryf as mens nog nooit van hom gehoor het nie?

Huppelkind is ’n seuntjie van so vyf, ses jaar oud, nuuskierig oor die wêreld en met ’n versugting om dit te verken, en ’n liefde vir die natuur.

Huppelkind is stories, maar dis ook as ’t ware klankryke rympies. Dis vir voorlees, maar ook vir beginners wat leer lees. Wat dalk minder bekend is, is dat die skrywer en die illustreerder man en vrou was. Wat is die agtergrond en oorsprong van hierdie boek?

Wilhelm Kühne het reeds in die jare toe hy skoolgehou het besef dat daar baie min oorspronklike Afrikaanse boeke vir laerskoolkinders is. Nadat hy as joernalis begin werk het, het hy die destydse hoof van Tafelberg-Uitgewers oorreed om dit te waag met ’n nuwe genre – ’n reeks geïllustreerde kinderboeke. Wilhelm en sy vrou Dorothy was in daardie jare jonkgetroud en hulle seuntjie, Klaus, was so vyf jaar oud. Dorothy het die karakter van Huppel op hom gebaseer.

Is hierdie boek vandag weer uitgegee presies soos wat dit was, of is daar aan die taalgebruik verander? Wat het dieselfde gebly, wat is verander (en hoekom)?

Ons het dit presies soos dit was heruitgegee – nie ’n komma of punt is verander nie. Die verhale is so bekoorlik, en die lees daarvan gee ’n besonderse terugblik op die eerste kinderboeke in Afrikaans. Ek kon nie dink om enigiets te verander nie.

The post <em>Huppelkind</em>, gister en vandag: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Kinnes deur Chase Rhys: bekendstelling in Kaapstad

The Echo of a Noise by Pieter-Dirk Uys: book launch

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sondag deur Irma Venter

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Irma Venter

Irma Venter is ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Johannesburg. Sy het in 2012 die Siemens Africa Profile-toekenning vir haar skryfwerk oor wetenskap en tegnologie ontvang. Sy het die ATKV-woordveertjie vir spanningsverhale ontvang vir haar debuut, Skoenlapper. Dit word opgevolg deur Skrapnel, Sondebok, Skarlaken en Sirkus.


Opsomming

Sondag
Irma Venter

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177399

Sondag. Oukersaand. Ná ’n inbraak by die Stables Estate in Pretoria-Oos word bekende sakeman Lafras van Zyl vir dood agtergelaat. Die res van die Van Zyl-gesin verdwyn spoorloos: Katerien van Zyl, vryduiker met ’n Amerikaanse paspoort, en ook haar kinders Willem en Cath. Ná ses weke is daar nog geen leidrade nie, en kaptein AJ Williams van die Brooklyn-speurtak moet inspring om te help.

Joernalis Alex Derksen en fotograaf Ranna Abramson is op die spoor van sewentienjarige Martina Buitendag van Stilfontein. Sy het in Johannesburg vermis geraak en die enigste leidrade oor waar sy haar bevind is ’n verslete tas met R20 000 kontant en ’n handvol foto’s.

Twee misdade. Talle sondes. Meer vrae as antwoorde.


Uittreksel 

Die voordeur swaai geruisloos oop toe ek die knip afdruk. Ek staan vir ’n oomblik stil in die skemerte van die dag, luister hoe die geelvinke kwetter in die tuin se wuiwende luiperdbome, swaar van voëlneste, asof ek ’n indringer is. Asof hulle die huis se mense wil waarsku dat hier ’n ongenooide gas is.

Te laat om dit nóú te wil doen.

Ek skop my gemaklike swart skoene uit, leun af en rol wit materiaalsokkies oor my kouse. Trek latekshandskoene aan en raakvan my baadjie ontslae. Die aand bied geen genade teen die hitte nie en hier is niemand om vir die pistool aan my sy te skrik nie.

Ek maak my hare in ’n poniestert vas en tree tot in die voorportaal van die ruim  ubbelverdiepinghuis in Brooklyn.

Die vinke skree blou moord.

Binne die huis is daar minder stof as wat ek sou dink. Die plek staan al ses weke toe. Die reuk verras my ook. Laventel en suurlemoen.  Niks van die sweet of bloed wat ek sou verwag nie, die kloustrofobiese paniek van mense wat wegskarrel voor geweld nie.

Ek sit die sitkamerlig aan, soek die reuk se oorsprong. Vind dit op die televisiekas: ’n aërosol wat kort-kort parfuum die lug in blaas. Sjjjt, sê dit toe ek verbyloop, die reuk skerp in my neus, die sproei wat in fyn druppels op my val.

Ek stap verby die leerrusbanke, die Kersboom wat steeds rooigeel- groen flikker. Verby die kombuis. Ek tree versigtig oor die bloed – so baie bloed – op die trappe, teen die muur.

Dis lankal nie meer rooi nie, eerder amper swart.

Ek mik na die boonste verdieping, waar een van hierdie saak se grootste raaisels lê. Die een wat my eerste in die dossier opgeval het toe ek dit vanoggend ontvang het.

In by die eerste deur aan die linkerkant. Cath van Zyl se kamer.

Ek skakel die lig aan, gaan sit op die deurmekaar bed. Die spierwit beddegoed lyk nog nuut.

Teen die oorkantste muur is twee geraamde swart-en-wit foto’s van die Amerikaanse ballerina Misty Copeland. Dit hang waar mens dit heeltyd kan sien, of jy in die bed lê of by die kas staan en aantrek. Die een waar sy reguit in die kamera kyk, is geteken. Op die ander een staan EK KAN in dik swart letters. ’n Plakkaat wat ’n uitvoering van Giselle in Londen adverteer, hang bo die bed.

Ek staan op en loop na die venster, maak dit oop. Dis ’n houtraamvenster sonder diefwering hier op die huis se boonste verdieping. My eenslaapkamerwoonstel op die tiende vloer in Hatfield het oral Trellidors, selfs voor die vensters wat nie oopmaak nie. Seker ’n polisieding. En dalk is dit nodig in Hatfield, maar sekerlik nie hiér in die Stables Estate met sy 25 luukse huise, groot erwe, sekuriteit en 24-uur-patrollies nie.

Ek leun buitetoe, soek na bewyse dat die Van Zyls se enigste dogter tydens die aanval by die venster uit is. Die driemotorgarage se dak is net onder die venster, teenaan die huis, seker so twee, drie meter ondertoe. Cath van Zyl is jonk en atleties; dié sprong sou geen moeite wees nie.

Dis te sê as sy gevlug het en nie ontvoer is soos wat die dossier suggereer nie.

Ek soek weer, maar kan niks ongewoons in die flou straatligte uitmaak nie. Geen gebreekte dakteëls of flenters klere nie.

Ek kan nie die gevoel afskud dat sy nié ontvoer is nie. Niemand het dan nog enigiets van haar gehoor nie.

Nee, iets anders het hier gebeur.

Die donkerte verbaas my. Wanneer het die son gesak? Ek kyk op my horlosie. Dis al halfagt.

Ek gaap moeg. Tyd om huis toe te gaan. Ek sal môre terugkom. Ek trek die handskoene uit en druk dit in my jeans se sak terwyl ek ondertoe loop. Op die oog af is alles in die huis steeds nes die Sondagnag toe die Van Zyls verdwyn het.

Nee. Die nag toe Lafras van Zyl vir dood agtergelaat is en sy gesin verdwyn het.

Katerien, Willem en Cath van Zyl. Skoonveld.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Sondag</i> deur Irma Venter appeared first on LitNet.

Weerklink van ’n wanklank deur Pieter-Dirk Uys: bekendstelling in Pretoria

Landbou Boerekos deur Arina du Plessis: van die plaas na die tafel

$
0
0

Landbou Boerekos
Arina du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177139

Arina du Plessis gesels met Naomi Meyer oor Landbou Boerekos, wat onlangs by NB-Uitgewers verskyn het.

Hallo Arina, baie geluk met Landbou Boerekos - die boek. Is hierdie boek soos wat die naam verklap: 'n samestelling van resepte wat voortspruit uit die Landbou Boerekos-tydskrifte? Wat is eenders, wat is anders (as mens boek en tydskrif met mekaar vergelyk)?

Dankie! Landbouweekblad se kostydskrif, Landbou Boerekos, se lesers het al na die eerste paar uitgawes begin vra vir ’n kookboek met van die gewildste resepte. Na 12 uitgawes van die kostydskrif het ons gevoel die tyd is reg om ’n boek saam te stel. Die boek bevat nie net resepte uit vorige uitgawes van Boerekos nie, maar ook van die lekkerste resepte uit Landbouweekblad se kosrubrieke. Die resepte is dus bekende gunstelinge, maar die kookboek is in afdelings ingedeel volgens plaasprodukte, wat dit ’n heel ander gevoel gee as ons kosrubrieke in Landbouweekblad en ook as ons Boerekos-tydskrif.

Julle Landbouweekblad se kostydskrif is 'n baie herkenbare en geliefde tydskrif. Wil jy dalk die agtergrond en geskiedenis van hierdie betrokke tydskrif gee?

Landbou Boerekos het ons almal se verwagtinge oortref. Toe ’n paar Landbouweekblad-redaksielede in 2012 een middag begin gesels het oor ’n kostydskrif as handelsmerkuitbreiding vir Landbouweekblad, sou ek nie kon geraai het dat dit so suksesvol gaan wees nie.

Die eerste uitgawe het van die rakke gevlieg en lesers het oorweldigend positief daarop gereageer. Ek is nog steeds na elke uitgawe uitgeboul oor die aantal lesersbriewe wat ons ontvang. Die tydskrif het ’n baie lojale en betrokke lesersmark wat dikwels die moeite doen om te bel of ’n e-pos te stuur net om te laat weet hoe baie hulle ’n sekere storie of resep geniet het.

Boerekos verskyn twee keer per jaar – ons someruitgawe is van Oktober tot April top die rak en die winteruitgawe van Mei tot September.

Praat asseblief met my oor Landbouweekblad en kos. Dis seker vanselfsprekend dat kos en boerdery met mekaar saamloop: die meeste kommersiële boere se oogmerk sal die verskaffing van kos en inkomste wat hieruit voortspruit, wees – of hoe? Dalk kan jy hierop uitbrei, as jy wil?

Landbouweekblad skryf al vir byna 100 jaar oor onder meer die produksie van kos. Tog was baie mense skepties oor die idee van ’n kostydskrif as handelsmerkuitbreiding vir Landbouweekblad. Hoekom sal ’n landboutydskrif hom nou besig hou met kos en resepte? Dan was Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, se antwoord altyd: “Landbouweekblad is die oorspronklike kostydskrif! Want sonder boere wat Suid-Afrika se winkelrakke en spense laat kreun onder ’n verbysterende verskeidenheid kos, sou daar bitter min gewees het om oor te skryf in daardie fensie glanskostydskrifte!”

Van die begin af was ons doel met Landbou Boerekos tweeledig: ons wou eerstens skryf oor daardie geliefde geregte en geure wat uit plaaskombuise kom – die kos en smake waarna ons verlang en wat ons nostalgies laat voel; goeie kos, gemaak met vars plaasprodukte en sonder enige tierlantyntjies. Maar ons wou ook die lig laat skyn op die mense wat ons kos produseer. Ons Boerekos-tydskrif moes boere nader bring aan die mense wat hulle kos koop.

Die gepubliseerde gesprekke met boere – waar boere self met lesers kan praat oor hul bedrywe, produkte en die uitdagings wat hulle elke dag moet aanpak om te sorg dat die res van ons kan eet – is uiters gewild by ons lesers. Wat my keer op keer laat besef het dat daar ’n behoefte is onder verbruikers om te weet waar hulle kos vandaan kom, om die mense agter die produkte te ontmoet.

Daar verskyn baie kookboeke op die rak, maar hierdie een het my aandag getrek. (Ek is immers ’n koper van julle Landbou Boerekos-tydskrif.) Wat, dink jy, maak hierdie een uniek of onderskei dit van ander resepteboeke?

Omdat Boerekos ’n kostydskrif met ’n landbouhart is, het ons besluit om die boek se resepinhoud volgens plaasprodukte in te deel, soos ek reeds genoem het. Die A–Z van die lekkerste kos met plaasprodukte: van aartappels en amandels, beet, dadels, lamsvleis en lemoene tot by waterblommetjies en wortels. Die boek bied ook uitstekende waarde vir geld, met meer as 300 resepte. Die boek bevat ’n lekker mengsel van oud en nuut – tradisionele treffers en meer moderne boerekos. Daar is regtig iets vir elke smaak.

Die tydskrif is dikwels gekoppel aan 'n seisoen of 'n streek (in die herfs was daar nou onlangs 'n uitgawe met die klem op appels en pere, en die streeksfokus was die Overberg). In die boek word egter, soos jy nou reeds gesê het, klem gelê op produkte. Watter soort produkte?

Elke winteruitgawe van Landbou Boerekos is ’n reisuitgawe. Ons besoek ’n streek soos die Overberg, Kalahari of Oos-Vrystaat, waar ons saam met boere en hul gesinne in hulle plaaskombuise kook en bak. Ons vertel elke gesin se storie en fokus in hierdie uitgawes op tradisionele kos, familieresepte en streeksprodukte. Die mees onlangse reisuitgawe, oor die kos en mense van die Overberg, het onder meer heerlike resepte met streeksprodukte soos appels en pere, lamsvleis, persimmons en graanprodukte bevat.

Jy het reeds noem dat daar ou gunstelinge in die boek is, sowel as nuwe resepte – produkte wat ander baadjies aantrek? Kan jy effens hieroor uitbrei?

Al die ou gunstelinge is daar, ja! Wildspastei, tamatiebredie, afval, souskluitjies en sagopoeding, maar daar is ook ’n groot verskeidenheid vinnige, maklike en moderne resepte. Ons voel sterk daaroor dat alle resepte in Landbouweekblad en in Landbou Boerekos toeganklik moet wees vir ons lesers. Goeie kos, maar sonder vreemde bestanddele. Baie van ons lesers woon op plase of in klein dorpies waar hulle nie toegang het tot deliprodukte en spesialiteitswinkels nie. Dus maak ons seker dat ons resepte met alledaagse, bekostigbare bestanddele gemaak word.

Jy is ’n kosskrywer - wat is vir jou lekker daarvan om oor kos te skryf en wat is uitdagend? (Is dit nie soos die afneem van kos nie – mens moet beslis weet wat jy doen sodat mense die skepping wil eet – dit moet ware lusmakers wees?)

Alles omtrent my werk as kosskrywer is vir my lekker – die uitdagings (soos weeklikse spertye!) ook. As kosskrywers kry ons die geleentheid om kreatief te wees, tyd in die kombuis te spandeer en om te skryf – al my gunstelinge. Ek het op ’n plaas grootgeword en boerekos en plaasprodukte was van kleins af deel van my verwysingsraamwerk, daarom is dit nie vir my moeilik om vir Landbouweekblad te skryf nie. Dit is my mense – ek verstaan die mark. Ek was baie jonk toe ek aangestel is as kosredakteur by Landbouweekblad en aan die begin was dit nogal intimiderend om kosdemonstrasies te doen of kosartikels te skryf vir mense wat al baie langer as ek kosmaak!

Ek sien jy het ook ander boeke geskryf - wil jy dalk nog hiervan vertel? Hoe verskil Landbou Boerekos van ander boeke waarby jy betrokke was?

My eerste kookboek, Onthaal, het in 2004 verskyn en daarna was daar ’n reeks kinderpartytjieboeke saam met Bernice van der Merwe. Ook nog twee kookboeke vir Landbouweekblad. In 2016 het ek Plaaskos geskryf, die boek wat my die naaste aan die hart lê – oor die kos waarmee ek grootgeword het en wat ek in my ma en oumas se kombuise leer ken het. Die styl van die resepte in Plaaskos is baie dieselfde as die resepte wat ek vir Landbouweekblad en vir Landbou Boerekos skryf – boerekos, plaaskos is wat ek ken en waarvoor ek lief is.

Wat is jou gunstelingresep in die boek? Kan jy dit dalk met ons lesers deel?

Dit is onmoontlik om net een te kies! Maar ek het vanmiddag die gebakte kersiekaaskoek met sjokoladekors (bl 97) gemaak met ’n bakkie kersies wat ek in die vrieskas gehad het, en ek het al vergeet hoe lekker die resep is. Die kersieseisoen begin een van die dae – dis ’n fantastiese somernagereg of iets soet om vir teetyd te maak.

http://www.humanrousseau.com/Books/20467

The post <em>Landbou Boerekos</em> deur Arina du Plessis: van die plaas na die tafel appeared first on LitNet.


Onderhoud met Chase Rhys, skrywer van Kinnes, ’n novelle

$
0
0

Kinnes
Chase Rhys

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708763

Chase Rhys se boek Kinnes het pas die rakke getref. Die storie handel oor vier jong mense op die Kaapse Vlakte wat op die rand van volwassenheid staan. Rhys (29) woon in Ocean View, Kaapstad en het in 2010 sy graad in Theatre and Performance aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Benewens sy skryfwerk, is hy ook ’n stigterslid van Borderlands. Borderlands is ’n gemeenskapsprojek wat kuns gebruik om letterlike en figuurlike grense tussen gemeenskappe te oorbrug. Rhys is ook die eerste wenner van die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers.

Mercy Kannemeyer het ’n bietjie met Rhys gesels.

Hoekom het jy besluit om die storie te vertel?

Ekkit die story vertel om te probeer sin maak van die donkerte in my omgewing oppie Kaapse Vlakte. Ek skryf sodat ôs nie verniet suffer nie – ôs kan die pyn gebruik en verander na iets positief. Ek wil mense remind dat ôs oneindig helderder as donkerte is. 

Wie is jou teikengehoor?

Die dedication in die boek het net twie woorde: "Vi ôs".

"Ôs" is die mense oppie Vlakte.

"Ôs" is die mense wattie hulself en hul taal in boeke sienie. Representation is altyd belangrik, daavoo het ek insist dat daa jong bruin mense oppie boek cover is.

Dieselfde tyd is die boek vi ammel van ek weet – ultimately is daar net een van "ôs". 

 Wou jy nog altyd ’n skrywer word?

Skryf is die gift wat ek gekry et, dit kô natuurlik. Van kleins af dra ek altyd ’n boek en pen op my. My hele lewe ontwikkel ek my skryfstyl in private. Ek het nieman toegelaat ommit te lees nie, wan ek het gewiet ek moes eers myself vind voordat ek iets kan offer, anneste maak ek net geraas. Nou wiet ek wie ek is en die werk is uit in die wêreld om te doen wat dit moet doen. 

Chase Rhys | Foto: Retha Ferguson

Vir hoe lank kom Kinnes nou al saam met jou?

Ek het Kinnes, die teaterstuk, in 2016 geskryf. Maar twie vannie karakters; Ahnie Brandt en Rolanda Fisher, het ek al tien jaar gelede create as ’n performative parody van Die Antwoord. Ek’s ’n character-driven skrywer, ek gebruik acting tegnieke om ’n karakter te skep en inhabit, dan vertel hulle soema self hul stories.

Toe ek Kinnes skryf, wassit my ou favourite, Rolanda, wat onverwags eeste uitgestiek et – sy't die story begin met "Yoh, I really lus for ’n entjie." Van daai een lyn vloei Kinnes se wêreld, die story ennie ander karakters vinnig na my toe. 

Ek het die teaterproduksie gesien – vertel so bietjie oor die skuif wat jy moes maak vanaf die stuk vir die verhoog tot die boek.

My drama-agtergrond help my om interessante karakters met outentieke dialoog te skep. Met die boek moes ek oek descriptive wies, especially vannie omgewing. Ek moes andaag gie annie plekke om my en leer hoe om ’n imaginary wêreld te bou met die selfde intricacies soes wat ek my karakters skep. 

Wie is die mense na wie jy opkyk in jou bedryf? Het jy enige rolmodelle?

Die mense wat voor my gekom et – Richard Rive, Adam Small en K Sello Duiker. En currently is Nathan Trantraal een van my favourite skrywers.

Wat is jou advies vir jonger skrywers? Mense wat dalk rolmodelle soos jy kort?

Vind uit wie jy is en skryf dan van daai posisie. Om persoonlike ervarings in jou skryfwerk te gebruik hoefie seer te wies nie – jy sal verstaan dis net deel van jou story, dis nie wie jy is nie. 

* Kinnes, die teaterproduksie, met regie deur Hennie van Greunen, is 6–17 November terug op die planke by die Kunstekaap. Kaartjies kan nou by Computicket gekoop word.

The post Onderhoud met Chase Rhys, skrywer van <em>Kinnes, ’n novelle</em> appeared first on LitNet.

Liefde in die tyd van die internet: ’n onderhoud met Fransi Phillips

$
0
0

Liefde in die tyd van die internet
Fransi Phillips
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801686

Fransi Phillips praat met Naomi Meyer oor Fransi se roman, Liefde in die tyd van die internet.

'n Moderne stadsprokie, en 'n romanse. So word jou Liefde in die tyd van die internet deur die uitgewer en deur die resensente beskryf. Hoe beskryf jy dit?

My doel was eintlik om die heersende tydsgees met sy potensiaal vir gruwels en wonderwerke te beskryf. Aan die een kant is daar die aanhaling voor, van Paul Simon: “These are the days of miracles and wonder” en aan die ander kant ou suurgat Phillips se kommentaar: “As daar al ooit ’n gefokte tyd was, is dit reg nou.”

Teenoor die hedendaagse tydsgees wat in die boek bespreek word, is daar tekens van ’n meer nostalgiese tydsgees aan die begin van die 20ste eeu, tot 1930, waarna Hanna se juwele en artistieke belangstellings, soos Art Nouveau, Art Deco, Diaghilev, Fabergé en die Belle Époque terugverwys.

Natuurlik is daar sprake van ’n romanse in die boek, maar om die verhaal in sy geheel as ’n romanse te bemark, sou misleidend wees. Dis ’n sprokie in soverre as wat dit die werklikheid en verbeelding integreer. Dis vir my belangrik dat liefde, erotiek en verbeelding met filosofiese, politieke, kulturele en historiese insigte en ook humor gekombineer moet word.

Jy is in jou storie. Nee, regtig, jy is ... Is jy?

Ek sou graag die Portugees-Mosambiekse skrywer Mia Couto uit sy kortverhaalbundel Every man is a race” wou aanhaal as antwoord hierop. Ongelukkig is al my boeke weggepak, so ek kan nie die spesifieke aanhaling gaan soek nie. Hy sê iets wat daarop neerkom dat mens nooit net een mens is nie, maar gedurig vermenigvuldig in ’n oneindigheid van identiteite. En hy eindig daardie aanhaling met ’n frase wat ek in Afrikaans vertaal en gememoriseer het: “Selfs nou terwyl ek my geheime ontrafel, sak die duisternis oor my toe, asof daar dinge is wat net die blindes kan sien.” So, daardie Phillips, soos wat sy in daardie boek is, was op daardie tyd een van my identiteite wat op haar beurt weer vermenigvuldig het in die identiteite van haar karakters. Maar op die oomblik is ek besig met navorsing oor die Boesmankunstenaar Vetkat Regopstaan Kruiper, wat beteken dat ek reeds weer iemand anders is.

Maar jy is nie die hoofkarakter van jou storie nie. Jy weet wat ek bedoel. My gevoel is dis Hanna. Wat dink jy – wie is die belangrikste karakters hier?

Jy’s reg, Hanna is beslis die belangrikste. Op een stadium neem sy selfs die storie oor, waar sy by die see vir ’n denkbeeldige Wolf79 sê dat haar sprokie kwalik swakker as Phillips s’n kan wees.

Die verteltegniek reg aan die begin, met die shrink. Dis bietjie soos Griet skryf 'n sprokie – ten opsigte van om die weg te baan vir die res van die verhaal. Of om die “lay of the land” aan te dui. Doelbewus? Hoe skryf jy 'n storie: planmatig, of soos die karakter/storie jou lei?

Nee, ek skryf absoluut nie planmatig nie. Gewoonlik het ek ’n einde as ek begin,maar in hierdie boek was selfs die einde vir my ’n verrassing. As ek te veel vooraf weet, word die verhaal opgevreet deur verveling. Ek voer nie graag opdragte uit nie, nie eers my eie opdragte nie. Die storie moet homself skryf of anders gaan niemand dit doen nie. Ek het ook baie min tyd om te skryf. My digbundel My lied van die niet het ek in twee dae geskryf, en die grootste deel van Liefde in die tyd van die internet is tussen treine op die Moskou-metrostasies geskryf, met die mees ondenkbare lawaai in my ore.

Jou storie laat mens lag, dit laat mens huil. Daardie verkragtingsaak en die manier waarop dit geskryf word. Wat is jou agtergrond (en het jy ooit in 'n prokureurskantoor gewerk)? Anders gestel: Hoe outobiografies is elemente van die storie (waarin Fransi Phillips, die karakter, haar nie bevind nie)?

Hmmm, ja. Ek het daardie verkragtingsaak bygewoon. Ek het in ’n prokureurskantoor gewerk, maar die prokureur in my boek is, net soos Hanna, denkbeeldig. Ek kry soms ’n soort agtergrond in die werklikheid, en laat dan my verbeelding daarin los. Die groot aantrekkingskrag van die skryf van ’n verhaal, en eintlik die enigste rede hoekom mens die moeite sal doen om te skryf, is juis dat jy jou verbeelding kan toelaat om ’n vervelige werklikheid te herskep soos wat jy lus kry.

'n Ent weg in die boek lewer jy sosiale kommentaar op hoe pateties die meeste vroue in heteroseksuele verhoudings is of kan wees. Mans se slawe, mans se speelgoed, I'm a Barbie girl vir wie Ken genoeg geld gee dat sy darem ook speelgoed van haar eie kan koop? Eintlik is Barbie slim. Maar sy is so dom om met hom in 'n verhouding te wees! Wat gaan aan met jou hoofkarakter, dat sy, slim soos wat sy is, by daardie prokureur is?

Die prokureur sê Hanna is dom, nie ek nie. Ek dink nie dit was domheid wat haar in die situasie met die prokureur laat beland het nie, eerder desperaatheid. Dom sou gewees het om by hom te bly. Sy was tydelik gevang in ’n situasie waar sy ter wille van oorlewing iets ondraagliks moes doen. Baie vrouens is binne die huwelik in so ’n situasie. Ek was ook al daar. Phillips was wel later vies vir Hanna omdat sy nie dadelik geval het vir Wolf79 nie, maar eers op haar simpel werk wou konsentreer. Op daardie stadium het Phillips, nie ek nie, vir haar gesê sy is onnosel om ’n kans om ’n verhouding met Wolf79 aan te knoop, deur haar vingers te laat glip. Dit gaan hier eerder oor vrouens wat feministies of onafhanklik probeer optree omdat dit “fashionable” is. Dis immers deel van die hele kringloop van stupidity waarin vrouens gevaar loop om opgeneem te raak. In Rusland is so ’n houding fisiek gevaarlik.

Die verhaal self staan teenoor die #MeToo-beweging wat mans vir alles blameer (en wat deel is van ’n tydsgees wat Phillips “gefok” noem). Hanna is dus heeltemal reg om haarself verantwoordelik te hou vir die situasie waarin sy is, en sy verwag van haarself om uit dit uit te kom. Wat dit betref, respekteer ek haar absoluut.

Die verhaal is ook teen die hedendaagse opvatting dat mans niks reg kan doen nie. Dis iets wat ek in Rusland geleer het: as daar nie die kere dat ek op die ys gegly het ’n sterk man was om my te help nie, sou ek letterlik kon verkluim het. Dis ’n harde kultuur, waarin die sterk man ’n baie belangrike plek het. Dis waar Wolf79 se karakter vandaan kom.

Is daar enige ander manier om oor die liefde te skryf as oor die absurditeit daarvan? Wat is die liefde?

Huh? Liefde sonder absurditeit? Dis te veel gevra. Ek dink absurditeit is ’n voorwaarde vir liefde.

Ek het op ’n stadium besluit ek gaan probeer uitvind wat die liefde is, maar hoe harder ek probeer het, hoe minder het ek dit reggekry. Op Doha-lughawe sê Phillips mos vir Hanna in ’n e-pos: “Ons sien deur ’n spieël in ’n raaisel”, waarop Hanna vir Phillips herinner dat sy nie op daardie oomblik, tussen vlugte, tyd het vir ’n preek uit I Korinthiërs 13 nie.

TEFL! In die negentigs en vroeë 2000's was dit Engeland, Leyton en so aan. Nou is dit die Ooste, en TEFL. Is dit wat jy ook in die werklike lewe daagliks doen om jou brood te verdien? Wil jy hiervan vertel?

Ek het dit vir die afgelope ses jaar gedoen, meestal in Rusland, maar ook vir ’n paar maande in Kroasië en in die Kalahari onder die Boesmans. Om met skeepsmagnate, Sberbank-bestuurders en Putin se raadgewers te werk was ongelooflik interessant. Die probleem is dat, in die huidige ekonomiese klimaat in Rusland, waarvoor ons Westerse sanksies moet bedank, mense eerder vir hulle kinders as vir hulleself betaal vir Engelse klasse. En al is die kinders hoe oulik, raak mens na ses jaar bietjie gatvol om voor ’n klas te staan en “one potato, two potato, three potato four” te sing. Ek wil nou iets anders doen.

Wat in jou verhaal is waar en wat is fiksie? Diek Grobler is ook daar. En Elsibe Loubser-McGuffog. Dit kan nog werk as Fransi Phillips vir Hanna skryf, maar hoe gemaak as Diek Grobler dit doen? Of Liekie Fouché (ek's nou al naby aan klaar gelees)? Wie's aan die woord: Is dit jy, is dit hy?

Ek hou glad nie rekening met wat is waar en wat is fiksie nie – ek gun myself al die vryheid op aarde om tussen die twee te fluktueer. In my heel vroegste werk regverdig ek hierdie neiging deur terug te val op die kwantumfisika, waar die onmoontlikheid om te onderskei tussen partikels en golwe ook die onderskeid tussen ’n “werklike” en “droom”-situasie ophef.

Diek Grobler se woorde kom uit sy mond; Liekie s’n het ek opgemaak. Agtergrondskarakters, net soos agtergrondswinkels, -geboue, -kerke en -stede bestaan iewers tussen die werklikheid en fiksie. As ek die naam van Moskou kan gebruik, kan ek die naam van Elsibe Loubser-McGuffog gebruik. By mense vra ek darem eers toestemming.

Wie is Hanna, uit Fransi Phillips (in die storie) se oë? En uit joune?

Hanna se karakter het geleidelik ontstaan. Haar voorkoms is ’n mengsel tussen dié van prinses Charlotte van Monaco en Danté Gabrielle Rosetti se La Ghirlandata. Soos baie van my ander vroulike hoofkarakters verwys ook haar karakter terug na die wilde, selfdestruktiewe en geheimsinnige Melisande in Maeterlink se Pelléas en Mélisande, na wie ek ’n paar keer verwys. Sy dra juwele en bestudeer kuns, ontwerpe en geboue wat terugdateer na die vroeë twintigste eeu, wat die tyd is toe Maeterlink die drama geskryf het. Sy het dieselfde geweldig lang hare, en ook die ring, ’n simbool van trou, speel by haar en by Melisande ’n rol. Uiteindelik keer Hanna egter Melisande se selfvernietiging, wat ook tot ’n groot mate deur haar spesifieke tydsgees teweeggebring word, in ’n postmoderne wonderwerk om.

Vir Phillips is Hanna ’n moeilike, eiesinnige en soms onnosel en ondankbare hoofkarakter, wat op ’n stadium selfs verdwyn uit die verhaal waarvan sy nie hou nie. Maar ek is trots op haar: sy’s mooi, classy, slim en ordentliker en meer diplomaties as Phillips. Sy staan haar man teen Phillips, werk haar eie heil uit en skryf selfs teen die einde haar eie storie.

Vertel my van Rusland wat jy leer ken het die afgelope tyd?

My eerste indruk, terwyl die vliegtuig land, was eindelose woude. Dit was in September, vroegherfs. My woonstel was naby so ’n woud, buite Moskou. Daarna die parke vol van hierdie witgesigmense wat snaakse geluide uitkners terwyl hulle skaak speel en langs die fonteine loop en vry, Baboesjkas met bloedrooigekleurde hare en plat goue skoene, ballerinas in die metro by Frunzenskaya, en jongmense met viole nader aan Metro Teatralnaya, wilde honde uit die woude wat sonder betaling op die metro’s saamry. Dae wat geleidelik kouer en donkerder word, die sneeuwerkers met die plat gesigte uit die suide wat my leer hoe om op ys te loop, die vodkatoue in die supermark, die winde uit Siberië wat my Tunisiese woonstelmaat van haar rocker af dryf, die onheilspellende gevoel dat een of ander moerse tragiese opera die uitspansel gaan tref. Pelsmusse en -jasse, kerkklokke wat mens deur die sneeubedekte woude lok na ’n binnekant van ikone en kersvlamme wat in goud weerkaats en waarvan die harmonieë in kore herhaal word. Stukkende houthuisies onder sneeu, tienerseuns in skaatsringe wat meisies se voete onder hulle uit skaats om hulle aandag te kry, ys in my keel en oë, ’n verlore teddiebeer in ’n ysblok, stukke ys wat van ’n lamppaal af teen mens kop vasslet. Pannekoekfees op die plein waartydens ’n strooiheks verbrand word wat winter verteenwoordig. My patetiese verlange na die son, wat wanneer hy terugkom byna deur die nag bly skyn sodat die voëls waansinnig raak en uit die bome val. Vrek stoute kinders wat mens versmoor onder blomme en geskenke, seuntjies in kerkpakke en meisietjies met intricate vlegseltjies om hulle koppe. Kremlin, Rooi Plein, Gorky Park, Moskourivier, die Bolsjoi, die vreemde huis van Gogol in ’n styl tussen Art Nouveau en Gotiek, metrostasies wat meer soos paleise lyk, eindelose goue koepels teen die horison, knaende vuurwerke. Wanneer ek daar is, die gevoel dat ek nooit grondvat nie; wanneer ek terug is, ’n verlange wat nooit weer sal ophou nie.

Wat was die inspirasie(s) van die verhaal?

Aanvanklik het ek bloot begin tob oor die snaakse ding van ’n netwerk wat alle plekke op aarde met mekaar verbind. Daarna was ek in die Kalahari, waar ek video’s gemaak het van die veranderende skaduwees. Êrens tussen hierdie twee eienaardige uiterstes het my storie begin uitbroei, en ek het dit geskryf toe ek ’n ruk later terug is Rusland toe.

Wat lees die Russe?

Russe moet op ’n baie jong ouderdom die Russiese klassieke werke lees, waarskynlik voordat hulle heeltemal gereed is daarvoor. Ek was eenkeer verstom oor twee sewejarige seuntjies wat mekaar beledig het met name soos Tolstoi en Poesjkin voordat hulle mekaar te lyf gegaan het. In ’n klas van volwassenes wat bestaan uit mans en vrouens, is dit opvallend hoe sentimenteel die vrouens steeds oor Anna Karenina en Onegin voel, en hoe hulle Tsjechof, Gogol, Dostojewski, Turgenev en ander groot Russiese skrywers bewonder, terwyl die mans dit haat. Die laaste plek waar ek gewerk het, Zheleznodorozhny, is bekend daarvoor dat dit die stasie is waar Anna Karenina voor ’n trein ingespring het. Die naam beteken “by die treinspoor”. Daar was lang besprekings in ons klas oor die verskille in die karakters Anna Karenina en Tatiana uit Onegin, tot groot irritasie van die mans. Dit lyk my die mans verkies deesdae wetenskapsfiksie: hulle hou van dinge soos “artificial intelligence” en robothonde wat hulle as soldate in ’n oorlog sou kon vervang. Ek is trots om te kan sê dat van my studente, voordat ek daar weg is, begin lees het aan The beautiful and damned van Scott Fitzgerald.

Een van daardie groep van Russiese jongmense wat ons verlede jaar hier kom beïndruk het met hulle perfekte Afrikaans, Dasha Turyanitsa, het in Moskou vir my Bulgakov se The master and Margaritha present gegee. En vir ’n ander een van my vriende in Moskou, Evgeny Artemov, wat besig is met ’n Russies-Afrikaanse woordeboek en ’n kortverhaalbundel in Afrikaans, het ek onlangs op sy versoek die 1942-uitgawe van ID du Plessiss se Goëlstories oorgestuur: net een van baie versoeke deur hom vir Afrikaanse boeke die afgelope paar jaar. Hy lees ook graag Lawrence Green se boeke oor Kaapstad.

 Die Russiese tieners is versot op Harry Potter, maar is ook lief vir Japannese animasiestories.

Die titel, en Love in the time of cholera: Is jou prokureur 'n seksuele predator, soos Florinto (is Florinto een)? Is Liefde in die tyd van die internet doelbewus 'n spel met Love in the time of cholera, of net 'n kopknik in daardie rigting?

Ek het gedink Love in the time of cholera is ’n mooi titel, omdat dit my herinner het aan Thomas Mann se Dood in Venesië, maar om een of ander rede het ek die boek na die eerste paar bladsye neergesmyt. Ek sou sê dat Marquez se Memories of my melancholy whores, wat Hanna tydens ’n Skype-klas met Wolf79 bespreek het, in werklikheid meer raakpunte het met Liefde in die tyd van die internet. Die titel het wel in my kop vasgesteek.

Liefde in die tyd van die internet en die vraag of dit bestaan. Ten spyte van. Soos met cholera. Gaan dit maar voort, meedoënloos, die liefde? Te midde van die moderne wêreld?

Liefde bestaan in my storie, as dit nêrens anders bestaan nie. Of dit ewig is? Niks op aarde is ewig nie. Meedoënloos? Ek dink dis meer meedoënloos as cholera. In die moderne wêreld floreer die hele popkultuur op die liefde. In my storie maak die internet die fisiese verwerkliking daarvan moontlik, en vorm sodoende ’n brug tussen die oersprokie en die inligtingseeu.

Vertel my van Wolf79.

Eers vertel ek jou hoe Russiese mans is. Russiese mans beskerm hulle vrouens en kinders. Verkrag ’n Russiese vrou, en jou keel word afgesny. Dis die rede hoekom die Russe oorloë wen: hulle beskerm wat hulle s’n is, en vra nie om verskoning daarvoor nie, en hou niks terug nie. Hulle gaan voluit, met ’n karakteristieke mengsel van fatalisme en vrygewigheid, wat op ’n sekere punt dieselfde ding is. Daarby is hulle ’n klein bietjie arrogant, soos Wolf79 wat totaal verbaas is wanneer Hanna nie dadelik vir hom val nie. Wolf79 se karakter was vir my ’n verrassing in die sin dat hy, meer as wat ek self verwag het, vir my gewys het presies hoe ek die Russiese mans wat ek in my tyd in Rusland ontmoet het, ervaar het. En dan natuurlik die voorkoms van Rudolph Nureyev, wat my vroegste kennismaking met ’n Russiese man was.

Het jy, Fransi, ooit tjello gespeel?

Nee, die dwarsfluit was my instrument.

Watter van die genres waarvoor jy al boeke geskryf het, is jou gunsteling?

Ek dink absoluut glad nie aan die verskil tussen genres nie. ’n Storie, of ’n gedagte, moet ’n vorm kry waarin hy gemaklik voel. Dis dit.

Wie is jou ideale leser? (Sê maar Bill Clinton kon Afrikaans verstaan?)

Ek het geen ideale leser in gedagte nie. Alles wat Bill Clinton oor homself in my boek kan lees, sou hy reeds op Wikileaks kon gelees het, in Engels. Blykbaar hou hy maar sy bek eerder as om nog meer aandag daarop te vestig deur daarop te reageer. Die waarheid van wat in Wikileaks staan, is op geen stadium bevraagteken nie. En die pogings om die boodskapper te skiet, kan op geen manier moreel regverdig word nie. Die bestaan van Julian Assange is wat my betref een van die “miracles and wonders” waarna die Paul Simon-aanhaling voor in my boek verwys.

En meng Fransi Phillips nie te veel in met haar karakters nie?

Ja wel, Wolf79 het haar eenkeer in die nag gaan wurg omdat sy nie genoeg aandag aan die verhaal gegee het nie, terwyl Hanna meestal net gewens het sy wil verdwyn. So, dit hang van die karakter af: wat vir een te min is, is vir die ander een te veel.

As jy bedoel polities: nee, polities is dit die karakters wat met Phillips ingemeng het. Net soos Wolf79, maak Russiese mans geen geheim van hulle politieke oortuigings, wat grotendeels met Wolf79 s’n ooreenstem, nie. En ek self, en Phillips, en ook Hanna, het hierdie menings teen wil en dank gekry.

Is daar liefde in die tyd van die internet? Is daar liefde in enige tyd? Is daar liefde? Wat is liefde? En die sin van die lewe?

Ja, daar is liefde. Op die internet werk dit vir my persoonlik beter: dit lê my minder aan bande en gee my meer kans om te droom. Die internet as medium tussen droom en werklikheid leen hom uitstekend tot die liefde.

Die sin van die lewe het te doen met ons eie projeksie van drome en vorme op ’n chaotiese realiteit, wat ook die punt is waar ons die goddelike in onsself ontmoet.

  • Alle foto's verskaf deur Fransi Phillips

The post <em>Liefde in die tyd van die internet</em>: ’n onderhoud met Fransi Phillips appeared first on LitNet.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie: ’n onderhoud met Pieter Odendaal

$
0
0

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
Pieter Odendaal
Tafelberg
9780624085614

Pieter Odendaal gesels met Naomi Meyer en Liné Enslin oor sy bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie.

Pieter, oor die titel van jou bundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Woon berge, of woon ons eintlik rondom berge? En ook: Waar is "hier"?

Berge is ou geeste; hulle is groter en wyser as ons – daar sal altyd iets onkenbaar aan hulle bly. In Peru het ek ’n poet-healer ontmoet, Américo Yábar. In die laatnagure het ons by sy huis begin praat oor die dinge wat altyd wild sal bly. Salka is die Quechua-woord vir die ontembare, die undomesticable. Dis die energie wat ons moet uitsoek, waar ons onsselwe moet begrawe om ’n ander, wilder self te begin kweek. Berge is die vergestalting van hierdie Salka, van die élan vital wat deur ons almal bruis. Dus: berge wóón vir seker; hulle is ’n force op hul eie, klipforte wat nie net woon nie, maar ook skuiling bied vir die lewensvorme wat rondom hulle woon.

“Hier” is die Boland in die eerste plek, omdat dit daar is waar ek rêrig vir die eerste maal saam met berge gewoon het. Maar “hier” is ook Suid-Afrika en ons geskiedenis van afmoor, afpen en tuismaak. Laastens is “hier” ook die planeet soos sy nou daar uitsien – troebelblou van al die vuiligheid wat ons agterlaat. I guess the title speaks to a particular way of being in this world, dismissing mountains, the histories of settlement and exploitation that they have undergone, the social fractures that they have witnessed.

Die boek is opgedra aan al jou “medestryders”. Omdat ons weet jy is betrokke by baie poetry collaborations in meertalige omgewings, wonder ons of jy verwys na spesifieke mense of na struggle-stryders. Wil jy hierop uitbrei?

Die opdrag is ’n provocation, ’n uitnodiging, ’n vraag. Waarvoor struggle ons generasie vandag, en struggle ons saam? Waar lê die ongeregtighede en die ontmensliking? I guess die medestryders is almal wat op een of ander manier ’n historiese sensibility aanwend om die teenwoordige “hier” in die soort toekoms te help transformeer wat ons braaf genoeg is om te verbeel. Ons het almal interseksionele identiteite, konfigurasies van self in terme van ras, klas, gender, seksualiteit en geestelikheid, en op grond van hierdie aspects of being beleef ons kombinasies van bevoorregting en marginalisering. Alhoewel ons elkeen se struggle teen hierdie privilege en verarmings daarom uniek is, deel ons tog ’n universele struggle – om onsself en ander se menslikheid ongetem te laat blom.

Jou gedigte is baie singtuiglik geskryf. Is dit vir jou belangrik en skryf jy doelbewus op hierdie manier sodat al daardie elemente (sien, voel, ruik, ens) vir die leser tasbaar word?

Ons sintuie anker ons in die wêreld. Dit rig ons en bevestig dat biede ons en die wêreld hier is. As ek ’n gedig skryf, probeer ek beliggaamde ervarings in die gedig oproep wat die leser ook sensueel kan ervaar. Dis immers die goëlary én oëverblindery van poetry: dat jy iets in die wêreld in woorde kan lê sodat iemand anders dit ook só, en ook noodwendig anders as jy, kan herleef.

Nie net die berge nie, maar ook die see, speel ’n rol in jou gedigte. Voel jy die digter is skeibaar van die aarde?

Die berge en die see deel iets – ’n onreduseerbaarheid, ’n geheimenis, ’n belofte. Hulle is my relativerende toevlug as die wêreld te veel raak. So is poetry ook vir my ’n terugkeer na die aarde, ’n pryslied vir hierdie soort toevlug. Maar as mense is ons obviously alte maklik skeibaar van die aarde in ’n geïndustrialisserde, neoliberale bestel – grotendeels te danke aan dit wat die supply chain aan ons doen. Ons word self deel van die supply chain met ons 9-5’s: als word kitskos om op sosiale media te verorber; en ons dink as ons ’n foto van ’n seeskilpad vasgevang in plastiek ge-share het en by Woolies kos koop, dan het ons ons deel gedoen. Maar daar is noodsaaklike dinge wat baie van ons vergeet – dat ons sonder skoon grond, lug en water eenvoudig sal vrek en dat ons altyd fundamenteel geborge aan Pachamama (Moeder Aarde in Quechua) bly.

Jy skryf meestal in Afrikaans, maar ook soms in Engels. En gebruik woorde van ander Suid-Afrikaanse tale in jou gedigte. Hoe sien jy die rol van ’n Afrikaanse digter in ’n meertalige en multikulturele land?

Ek kan hier net vir myself praat, en voorskriftelikheid het ’n manier om vining “suid te gaan”, maar Afrikaans is vir donkiejare lank kunsmatig afgesny van die veeltalige risome wat ons land deurkruis. Daarom probeer ek ’n deurlaatbaarheid met ander tale kweek wat anyway daagliks net so op duisende mense se tonge klap. Terwyl jy hierdie sin lees, meng iemand vier tale in ’n enkele sin in Jozi en praat mense oor en weer in Xhosa en Afrikaans in Kayamandi met mekaar. Daar’s ’n problematiese neiging om te dink dat die “suiwerheid” van ’n taal of kultuur sy lewensvatbaarheid bepaal. In ’n apartheidsklimaat sou so ’n siening sin maak as ’n strategie om die illusie van separatisme te perpetuate. Maar in 2018 voel dit vir my na ’n surefire way om jouself nog verder te isoleer en die toekomsmoontlikhede van saamleef en saampraat in ons land te verongeluk. En as iets makliker kom of beter klink in Engels, dan sê ek hom só.

Hoekom het jy hoofsaaklik in Afrikaans geskryf, ten spyte van al die politieke bagasie?

Ek skryf nie ten spyte nie, maar as gevolg van die bagasie. Op dieselfde tyd dat ek besig is om uit te reik na ander tale, keer ek ook inwaarts, want Afrikaans is my murgtaal en daar’s allerhande onverwerkte dinge in die Afrikaanse psige wat vir te lank te diep in kaste weggebêre is – die sielkundige effekte van isolasie op ons vermoë om onsself anders te verbeel, die kloof tussen wit en coloured, die traumas van die grens wat aangepass word na ons toe omdat ons pa’s nie praat nie.

Jy kombineer by voorlesings somtyds musiek of ander klanke met jou werk. En gedigte op sigself is eintlik reeds musiek, of het ’n musikaliteit en ritme van hulle eie. Benader jy dit anders as jy weet jou gedigte gaan saam met musikante voorgedra word as wanneer jy dink aan ’n gedig wat in stilte, op sy eie, gelees word? Hoe verskil daardie skryfproses vir jou (indien jy wel dink dis verskillend)?

Die gedig kom in die eerste plek in al sy woorderigheid na my toe, so ek laat die woorde toe om hul ding te doen, en kerf en plak op die bladsy tot die gedig op sy eie klaar staan voor ek engsins begin om die performance te oorweeg. Vir my is dit crucial om potensiële lesers en toehoorders te vergeet in die skryfproses – om die heeltyd te moet dink aan hoe die woorde ontvang gaan word sal lethal wees. Obviously kan mens later verstellings aan die poem maak as jy begin rehearse en dinge gel nie lekker nie. Maar om die gedig in stilte sonder verbeelde ore te skryf beteken dat ek die woorde kans gee om hulself te klink, dat ek die ritme en klankpatrone kan amplify. Dan kom die groot toets om hom hardop vir myself te lees – om myself en my brose ego dan ook te probeer vergeet, dat ek meer krities kan luister en ontvanklik kan wees as iets oneg of lomp klink. Eers daarna kan ek begin dink aan die performance self.

En wat stil voorlees aanbetref: ek glo dis anyway die beste om ander se gedigte hardop te lees, om die woorde in jou eie mond te laat klink – dan word dit ’n soort buikspraak, die woorde word inkantasie en kan hul magic op ’n ander manier in jou liggaam voltrek.

Daar is baie plekspesifieke gedigte: Hongkong, Bloemfontein, Stellenbosch, Zanzibar, Namibië. Jy het al op baie plekke gebly. Hoe beïnvloed jou leefwêreld en omgewing jou gedigte se geboorte of ruimte?

Die meeste van my poems is gewortel in my eie ervarings, om sin te maak van my verhoudings met die ruimtes en die mense wat saam my daar was. En dis in spesifieke plekke in spesifieke oomblikke met spesifieke mense waar ek iets van die terrible beauty van die wêreld ervaar wat my tot skryf laat neig.

Waar het jy al gebly en wil jy dalk foto's stuur van omgewings wat tot jou gespreek het, of enige persoonlike herinneringe.

Om te bly en te reis is twee verskillende goed, al moet mens ultimately anyway groet as jy aan die beweeg wil bly. Maar as jy lank genoeg iewers vertoef om nie aan die gegroet te hoef te dink nie, dan begin jy daar bly. In hierdie sin het ek al in Pretoria, Bloemfontein, Stellenbosch, Nottingham, Brisbane, Kaapstad en Cusco gebly – soms langer, soms korter. Onlangs was veral Cusco ’n transformerende ervaring gewees – ’n stad in die Globale Suide wat, ten spyte van haar armoede, tog ’n soort leefbaarheid het wat ons soms hier ter plaatse mee sukkel. Ek vermoed dit het onder andere te doen met die feit dat die grond nie daar net aan ’n handjievol bevoorregtes behoort nie, maar dat die campesino’s, die plaaswerkers, elk hul eie stuk grond het om te bewerk. Verder is gesonde, vars kos oral spotgoedkoop beskikbaar, of dit nou by die mark of kafee is. Peru het egter ook, nes Suid-Afrika, gebuk gegaan onder ’n koloniale geskiedenis en ’n onlangse fascistiese regime, en beide is multikulturele samelewings. So Peruvians and South Africans share similar but distinct negotiations of postcolonial identity politics, en dit is daar waar ons by mekaar kan leer. Ek het ook in Cusco ’n sense of spiritual purpose ontdek wat help om my kreatiewiteit te rig, en die berge en riviere bekoor my, soos hulle hier in Suid-Afrika ook doen.

Cusco stad; en die Templo de Agua, ’n sacred site net buite Cusco

’n Cypher op ’n rots langs die see by Byron Bay; en ’n feesstraat in Brisbane

Kaapstad se treinstasie, altyd aan die wag

Intersectional posbus, Observatory; en Deer Park saam met ’n groep waterdigters, beide Kaapstad

The post <i>Asof geen berge ooit hier gewoon het nie</i>: ’n onderhoud met Pieter Odendaal appeared first on LitNet.

Kinnes deur Chase Rhys: ’n resensie

$
0
0

Kinnes
Chase Rhys

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708763

Waarskuwing: Indien jy nog nie die boek gelees het nie – dié stuk bevat besonderhede oor dele van die storie. Lees op eie risiko.

Kinnes, deur Chase Rhys, handel oor die wel en wee van vier jongmense op die Kaapse Vlakte. Hulle woon in Jurassic Park en probeer tussen bendegeweld, dwelms en familietwis deur hulle bestaan voer.

Oor die karakters

 “Die kinnes van vedag dink rêrag hulle’s in ’n movie, nuh,” sê ma Mary na aanleiding van die dramatiese gebeure wat die jongmense in die verhaal moet deurmaak. En dit is hoe die lees van die boek ook voel. Rhys se skryfwerk is gedetailleerd en die beelde wat hy oproep, word glashelder in die leser se brein vergestalt.

Anwaar Peter Brandt, beter bekend as Ahnie Brandt, en sy vriende, wat almal deel is van die Butcher Boys, word gevra om ekstras te wees in ’n internasionale fliek, GangStar. Nadat hulle populariteit begin groei, begin hulle hul eie flieks maak en dis op hierdie punt waar realiteit en fiksie begin vervleg. Ahnie bly by sy ma, Mary, wat hom alleen grootgemaak het. Sy sal enigiets vir haar kind doen. Nicole Lamb is die slim en stil meisie in die skool. Derick Delcarme gaan sit langs haar in die wiskundeklas en kort voor lank raak dié twee verlief en Nicole word swanger. Rolanda Fisher, die mooi en gewilde meisie wat elke jaar die modeparade by die skool wen, wil graag ’n Cape Kardashian wees. Sy roem haar op haar mooi voorkoms en dra uiteraard die groot ironie wat aan die einde van die storie ontvou.

Temas wat aangeroer word

Sommige van die temas wat in die storie aan bod kom, is: om jonk en uitgelewer aan jou omstandighede te wees; die menslikheid van die verkeerde besluite neem; die invloed wat die teenwoordigheid of afwesigheid van ouers in ’n kind se lewe kan hê, met spesifieke betrekking op die rol van die pa of patriarg in die familiegegewe.

Die jongmense in die storie, die “kinnes”, gaan elk deur hul eie krisis en moet met alle mag probeer om te oorleef. Rhys kry dit reg om deur middel van die karakters se lewens die lewe en realiteite van talle ander op die Kaapse Vlakte te ontbloot. Hy doen dit egter met soveel empatie en deernis dat die leser toegelaat word om met elke karakter te simpatiseer. Tydens die lees van die novelle het ek konstant gewonder hoekom elke karakter optree soos wat hulle optree. Die kinnes is vasgevang in ’n fisiese sowel as geestelike ruimte wat moeilik is om uit te ontsnap. Die fisiese ruimte word al hoe moeiliker om in te leef, deur faktore soos dwelmmisbruik en geweld, terwyl die geestelike ruimte maak dat hul uitkyk op die lewe as gevolg daarvan, swaar daaronder begin ly.

Binne die werklikheid van die menslikheid van verkeerde besluite neem, kry die leser insig in die werklikheid van menswees sowel as wat dit beteken wanneer iemand deur hul omstandighede gedwing word om sekere besluite te neem.

Terwyl al die karakters hul eie vorm van die menslikheid van verkeerde besluite ervaar, val Derick se omstandighede my die meeste op. Derick moet noodgedwonge skool verlaat wanneer hy uitvind Nicole is swanger. Hy sukkel dan om werk te kry en besluit om vir Uncle Mikey, wat die leier is van die UML’s (Uncle Mikey’s Laaities) te begin werk. Dit wat hy gedog het ’n tydelike oplossing sal wees om geld in te samel, verander later sy lewe soveel so dat hy uiteindelik in ’n rolstoel beland.

Ouerskap is ’n belangrike tema in die verhaal. Kinders kry kinders en moet dan hul kinders grootmaak terwyl hulle self nog nie werklik kinders was nie. Dit laat my dink aan lirieke wat die kunstenaar en liedjieskrywer Frazer Barry onlangs geskryf het: “Die kind kry ’n kind, die kind se kind kry kind en die grootmense is kinders wat nooit eers kinders was nie.” Ma Mary doen alles in haar vermoë om vir Ahnie te beskerm, doodeenvoudig omdat hy haar kind is. Die liefde wat sy vir hom het, word duidelik in die manier waarop sy tot die uiterste sal gaan om seker te maak dat Ahnie nie iets oorkom nie. Wanneer hy uiteindelik in groot moeilikheid beland, stuur sy hom na sy pa toe. Die pa’s in die storie is grotendeels afwesig. Dit laat ’n mens wonder oor die sosiale konstruk en realiteit van afwesige pa’s en die invloed wat dit op ’n mens se lewe kan hê.

Chase Rhys | Foto: Retha Ferguson

Hoekom is die storie belangrik?

Rhys kry dit reg om ’n snaakse, dog eerlike en menslike verhaal te vertel wat tot mense van verskillende areas van die lewe sal spreek. Die storie is nog meer belangrik omdat die kwessies eg is. Die werklikheid word op so ’n manier uitgebeeld dat ’n mens nie anders kan as om met die karakters te simpatiseer nie. “Ons kannie meer onse kinnes verloor nie …” sê Nicole, en dié woorde resoneer diep met wat in ons land aan die gebeur is. Te veel jongmense word slagoffers van ’n onregverdige bestel, en met Kinnes skyn Rhys lig daarop dat dinge nie langer so kan aanhou nie. Verandering is nodig.

Jongmense wat uitgelewer word aan hul omstandighede, het ongelukkig so algemeen geraak dat ’n mens geneig kan word daartoe om onsensitief daarmee om te gaan. Nadat Ahnie in groot moeilikheid beland en sy ma die een is wat na hom uitreik, sê sy: “Anwaar is mos oek ieman se kind.” En dit skakel weer met die menslikheid wat Rhys op so ’n deernisvolle manier in die storie verwoord. Alhoewel al hierdie vreeslike onregte aan die gebeur is, is dit belangrik om in ag te neem dat almal iewers behoort. En dan kan ’n mens net hoop dat die lewe se dobbelsteen in jou guns sal reg val.

Voor in die boek skryf Rhys die boek is “Vi ôs”, en hy kry dit reg dat die “ons” in die storie ’n universele ons word. Die kwessies in Kinnes raak ons almal, soos dit behoort.

Lees ook

Onderhoud met Chase Rhys, skrywer van Kinnes, ’n novelle

The post <i>Kinnes</i> deur Chase Rhys: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé: Bekendstelling by Love Books

Viewing all 1338 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>