Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1319 articles
Browse latest View live

Jou Romeo deur Fanie Viljoen: ’n resensie

$
0
0

Jou Romeo
Fanie Viljoen

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081210

“Two households, both alike in dignity, in fair Verona, where we lay our scene …”

In Jou Romeo deur Fanie Viljoen kan hierdie aankondiging uit Shakespeare se klassieke liefdesverhaal só vertaal word: “Twee groepe, die dramabrigade en die populêre ‘jocks’ en rasieleiers van die skool, beide stereotipes uit eie reg, van Hoërskool Monument, waar dié Afrikaanse weergawe van High School Musical afspeel …”

Van Romeo en Juliet regdeur Sandy en Danny in Grease tot by Marko en Yvette in Jou Romeo is die storielyn van twee individue wat op mekaar verlief raak ten spyte van die oënskynlik onversoenbare sosiale groeperings waaruit hulle kom, alles behalwe nuut.

Tog werk hierdie kombinasie keer op keer. Dis immers waarom daar van Romeo en Juliet vandag nog films gemaak en boeke geskryf word. So ja, Jou Romeo bevat al die stereotiepe bestanddele van liefdesdramas, van Marko, die skool se aantreklike krieketheld en Yvette, die prinses van die bleeksielige dramabrigade wat op mekaar verlief raak, maar tog is daar ook nuwe bestanddele by hierdie tipiese verhaallyn gevoeg.

Een daarvan is die gebruik van verskillende media in die narratief om die verhaal oor te dra. Daar is die irriterende Mildred, wat ongevraag en onvanpas vir almal wat wil luister of nie wil luister nie die skool se skinderstories wyd en syd op sosiale media uitsaai. Die “oorskakeling” na haar plasings op Facebook, Twitter en vlogs (videoweergawes van blogs) is plek-plek hinderlik, maar dit is kenmerkend van haar inmengerige persoonlikheid. Alhoewel haar kommentaar die gebeure vanuit ’n ander hoek belig, gee haar dialoog die idee van ’n volwassene se idee van die taal wat hulle dink tieners gebruik, miskien nie heeltemal so outentiek nie.

Dialoog tussen karakters word in die formaat van WhatsApp-boodskappe weergegee, ’n tendens wat al hoe meer ook in films gebruik word, soos dan ook te sien in die gelyknamige rolprent waarop Viljoen se boek gebaseer is.

Uiteindelik gaan Jou Romeo oor ’n toneelopvoering van Romeo en Juliet waar die akteurs die aantreklike Marko gebruik net om kaartjies te verkoop. Anders as wat verwag is, is dit die slim aktrise Yvette wat Marko gebruik en nie die “jock” wat háár gebruik nie. In die kreatiewe proses word daar dus ’n film gemaak van ’n toneelstuk en daarna volg ’n boek wat op die film gebaseer is – ’n storie van ’n storie van ’n storie.

In al hierdie genres is show-and-tell, oftewel wys-en-vertel, van die tegnieke wat gebruik word om ’n storie te vertel. Tegnieke wat volgens die Russiese dramaturg Anton Tsjechof baie meer uit wys as uit vertel moet bestaan. “Moenie my vertel die maan glinster nie; wys my ’n glimps van lig op gebreekte glas,” is hoe hy die fyn balans beskryf tussen wat ’n skrywer sê, verduidelik of skryf teenoor inligting wat hy of sy indirek gee deur ’n karakter se aksies, voorkoms of dialoog. In ouer televisiesepies soos Days of our lives was dit gebruiklik dat ’n karakter se gedagtes, dit wat die kyker uit ’n akteur se handelinge sou kon afgelei het, pertinent in ’n buite-raam-stem verwoord sou word. Nog ’n kenmerk van te veel vertel is ’n oordrewe gebruik van byvoeglike naamwoorde waarmee die handelinge van die karakter beskryf word.

Die genre waarin ’n storie vertel word, sal natuurlik die balans tussen wys en vertel bepaal, maar selfs met meer visuele genres soos film en drama moet die wys steeds baie meer as die vertel wees, want dit is waar die geheim van goeie storievertelling lê – om op subtiele wyse ’n grootse verhaal te impliseer.

Waar die uitbeelding van die openingstoneel in Jou Romeo, die film, op ’n natuurlike wyse deur die gebruik van ligte, kostuums, dekor en aksie oorgedra kon word, is die beskrywing van dieselfde toneel in die boek ietwat oordrewe. “Twee skagte lig gloei deur die rook. Dit blink in haar lang rooi hare soos dit met haar rug afkrul oor die swart leotard. Haar gesig is towermooi. Sy is eintlik ’n dramageek, maar dit sal jy nou nie van haar sê nie, want sy ontvou soos ’n skaars blom.” Of ’n ander toneel waar Yvette besig is om haar grimering in haar kamer af te haal: “Hierdie keer is haar mondhoeke gesak en kyk sy treurig vir haarself. Hartseer vir groter hartseer. Lank sit sy na haar spieëlbeeld en kyk. Na haar blou oë wat soms dinge kan wegsteek, wat kan droom en dink en wonder. Wonder oor wat? Romeo and Juliet? Yvette en Tyler?”

Is dit nodig dat die leser presies weet hoe die toneel wat in die film was, gelyk het? Is dit nodig dat ’n leser vertel moet word wat ’n karakter dink, of moet lesers so ’n klein bietjie werk vir hulle kos, of kougom, of wat tieners ook al deesdae in hulle monde prop?

Ten spyte van die narratief wat ietwat te veel na die vertel-tegniek oorhel, is Jou Romeo ’n lekkerlees-tienerboek met kleurryke humor en miskien die enigste blootstelling wat Suid-Afrikaanse leerders in die toekoms met Shakespeare gaan hê as onlangse berigte in die media oor die moontlike weglating van Shakespeare in die 2018-skoolsillabus ’n werklikheid word.

The post Jou Romeo deur Fanie Viljoen: ’n resensie appeared first on LitNet.


’n Blonde bom deur Dihanna Taute: ’n resensie

$
0
0

’n Blonde bom
Dihanna Taute
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174060

Dihanna Taute blom weer eens in die derde aflewering van haar reeks liefdestories vir tieners. Dié boorling van Welkom noem nou Namibië haar tuiste, waar sy haar lewe deel met haar man – ’n ingenieur – en haar vier kinders, een dogter en drie seuns.

Dihanna vertel skryf was nooit op haar agenda nie en sy het as tekenaar by stadsbeplanners gewerk. Dis hier waar sy baie begin lees het en sy besef het sy sal dit geniet om te skryf. Sy het altyd nadat sy ’n boek gelees het, die storie se einde na haar smaak verander. Dit het haar die idee gegee om self ook haar hand aan skryf te waag. Haar wye belangstellingsveld dra perfek by tot die skets van situasies en die hantering van verskillende struikelblokke wat oor die jong Lehandie se pad kom.

Sy skryf gemaklik en vloeiend en in ’n taal waarmee tieners kan identifiseer. Selfs volwassenes sal haar boeke geniet. Sy raak meestal kwessies aan waarmee tieners vandag gekonfronteer word en verweef soms haar eie ondervindings as tiener in die storielyn. Tieners dink so maklik die son gaan nooit weer skyn nie, maar Dihanna probeer vir lesers wys dat probleme nie die einde van die wêreld is nie.

Grotendeels is haar boeke fiksie, maar sy skryf baie realisties en mens identifiseer maklik met haar skrywes, ongeag ouderdom. Dis ’n gemaklike trant en alhoewel my ondervinding was dat die storie baie vinnig vorder en voor jy jou oë knip is die boek klaar, moet mens in gedagte hou dat dit vir ’n jong generasie geskryf is. Daarom is dit dalk beter dat die storie kort en kragtig is om die jeug wat moontlik minder lief is vir lees, te boei en sodoende ’n liefde vir lees te kweek.

In die eerste boek in dié reeks, Ek en Prins Donkerkuif, het sy juis van haar eie tienerervarings gebruik, want haar crush was ’n donkerkop! In die boek trek die graad 10 Lehandi van die platteland Pretoria toe nadat haar ouers huweliksprobleme ondervind. Haar aanpassing in ’n nuwe omgewing en skool bring vele kopsere en sy moet vrede maak dat om gewild te word om ook ’n kêrel te kan hê, is makliker gesê as gedaan.   

In die tweede aflewering, Die Engelsman in my slaai, is Lehandi in graad 11 en moet sy weer eens trek ná haar ouers se egskeiding. Sy is hartseer omdat hul moet trek en verlang na haar kêrel, Drayke. Boonop is daar nou ’n Engelsman wat in Drayke se slaai kom krap. Haar pa en sy flooze verwag ’n nuwe baba en dis moeilik om ’n langafstandverhouding met Drayke, wat haar boodskappe ignoreer, vol te hou, al probeer sy hoe hard. Net soos die eerste boek, lees dit maklik en is dit gans te gou deurgelees.

In Dihanna se nuutste boek, ’n Blonde bom, is Lehandi ’n matriekleerling. Vriendskappe en verhoudings word op die proef gestel. Sy raak deel van ’n nuwe gesin, aangesien haar ma op trou staan, en is allesbehalwe erg oor die aanstaande man se dogter, Prissie die Vissie. Die eens nerdagtige Peyton slaan haar voete onder haar uit en krap haar hart deurmekaar.

Volwassenes kan beslis aanklank vind by die trilogie. Taute se gemaklike skryfstyl lees lekker en die humor is aansteeklik. Geen wonder sy is ’n gewilde skrywer en dat haar boeke van die winkelrakke vlieg nie. Weer eens is die storie in ’n japtrap deurgelees en was ek spyt dit is klaar. Al is ek lankal nie meer ’n hoërskoolmeisie nie, assosieer ek maklik met Lehandi se wroegings. Vir ’n jong meisie is daar soveel onsekerhede en beteken vriendskappe oneindig baie; g’n wonder dit speel deurlopend ’n belangrike rol nie. Die trilogie is beslis ’n aanwins vir enige meisie se boekrak!

The post ’n Blonde bom deur Dihanna Taute: ’n resensie appeared first on LitNet.

AWS vier 100ste bestaansjaar met googleloer, hommeltuig en poenankies

$
0
0

Jubileumuitgawe van die AWS in Augustus 2017 bekendgestel

Die elfde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word op 3 Augustus 2017 bekendgestel – 100 jaar nadat Afrikaans vir die eerste keer amptelik met dié standaardnaslaanbron vir spelling en skryfwyse bereël is.

Die 2017-uitgawe, saamgestel deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en uitgegee deur NB-Uitgewers onder die Pharos-druknaam, is omvattend herbewerk en sluit talle nuwe woorde in wat die tydsgees en breër Afrikaanse taalgemeenskap weerspieël. Reëls is ook verander en vereenvoudig om Afrikaanse spelling en skryfwyse meer sistematies en dus makliker vir gebruikers te maak.

“Afrikaans is ’n dinamiese taal wat deurlopend ontwikkel en die jongste AWS is ’n opwindende, lewende bewys hiervan,” sê Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie.

Onder die nuwe toevoegings tot die 2017-AWS tel woorde wat te make het met tegnologiese ontwikkelinge, soos googleloer, hommeltuig, meem, warsender, antispioenware, selfie en skermgreep; woorde wat ontwikkelinge in die samelewing sedert die verskyning van die vorige AWS agt jaar gelede weerspieël, soos bewarea, BRICS-land of Bricsland, bystanddood en hidrobreking; en leenwoorde of nuutskeppings waarvoor daar nie Afrikaanse woorde is nie, soos brownie, Chanoeka, muffin, nurk (die geluid wat seekoeie maak), venue en flop. Heelwat nuwe woorde uit Afrikaans se gebruiksvariëteite soos Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans is ook opgeneem, byvoorbeeld antie, dhaltjie, gangster en poenankies (oulik).

Wat spelling en skryfwyse betref, is reëls wat verander onder meer dat afstandsamestellings voortaan slegs mét ’n koppelteken geskryf word (hoof- uitvoerende beampte, reuse- politieke vergadering), en dat die integriteit van multiwoordeiename in samestellings en afleidings behou word (Derde Wêreldse in plaas van Derdewêreldse; Konstitusionele Hof-regter of Konstitusionele Hofregter in plaas van Konstitusionelehofregter).

Nuwighede sluit in ’n hoofstuk oor leestekengebruik in Afrikaans, die bereëling van trappe van vergelyking, ’n lys Oosterse plekname, landname met geldeenhede en ISO-kodes, en die Afrikaanse name van elemente in die periodieke tabel. Skryfhulp word ook nou vir die SI-stelsel verskaf.

Volledig digitaal

Die nuwe AWS is volledig omgeskakel in digitale formaat, met behulp van Pharos Woordeboeke, Tswane DJe en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit.

“Die eerste AWS se loopwêreld was ene van pen en papier – ’n dun boekie wat wou wys dat Afrikaans nie net gepraat word nie, maar ook geskryf kan word. Honderd jaar later is die AWS ’n kenteken van Afrikaans se lewenskragtigheid in ’n digitale wêreld – ’n dikke boek wat ook aanlyn beskikbaar is vir ’n ieder en elk wat Afrikaans wil skryf,” sê Van Huyssteen.

Van 1917 tot 2017

Dit is eintlik verstommend hoe stabiel die Afrikaanse spelling- en skryfsisteem oor honderd jaar gebly het, sê Van Huyssteen. Die belangrikste twee verskille tussen die 1917- en 2017-AWS is dat die y in 1917 nog dikwels as ij geskryf is (byvoorbeeld afwijs in plaas van afwys; agterrijer in plaas van agterryer), en dat die slot-w intussen weggeval het (byvoorbeeld afskuw in plaas van afsku; blouw in plaas van blou).

Natuurlik het die AWS ook aansienlik uitgebrei. Die 1917-AWS, wat deur onder meer Jan FE Celliers, Totius en CJ Langenhoven saamgestel is, het 196 bladsy beslaan, teenoor die 800 bladsye van die 2017-AWS.

Dubbele viering

Met die uitgee van die elfde AWS sit NB Uitgewers ’n tradisie voort wat terugstrek na die druk van die eerste AWS in Bloemfontein deur Naspers in 1917.

“Dit is vir NB-Uitgewers ’n enorme plesier en eer om die nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls onder die Pharos-druknaam uit te gee in die jaar wat dié gesaghebbende taalbron sy eeufees vier. Dit val ook per gelukkige toeval saam met die eeufeesviering van boekuitgewery binne die groter Naspers-stal,” sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers en Media24 Boeke.

Liefdestaak

Die nege lede van die huidige Taalkommissie, akademici sowel as taalpraktisyns, het sedert 2009 meer as 700 uur slegs aan gesamentlike vergaderings bestee om die AWS by te werk – sonder enige vergoeding.

“Hierdie uitgawe van die AWS is ’n eerbetoon aan die tientalle taalkenners wat oor ’n tydperk van ’n eeu as lede van opvolgende Taalkommissies ’n vaste plek aan Afrikaans gegee het,” sê Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. “Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is dank verskuldig aan almal wat hul tyd en kennis tot voordeel van Afrikaans aangewend het.”

The post AWS vier 100ste bestaansjaar met googleloer, hommeltuig en poenankies appeared first on LitNet.

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: Durbanville-bekendstelling

Die waarheid oor verhoudings deur Stefan Blom: ’n FMR-resensie

$
0
0

Die waarheid oor verhoudings
Stefan Blom
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172103

Wanneer jy vir die eerste keer ’n ouer word, besef jy maar alte goed dat jy geen opleiding het om jou pienkvoet tot volwassenheid te kan begelei nie. Dieselfde geld verhoudings. Niemand leer jou vooraf hoe om konflik te hanteer of hoe om ’n mislukte verhouding waardig te verlaat nie.

Stefan Blom, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, vertel jou hoe. Sy eerste boek, Die waarheid oor verhoudings, dek verskeie onderwerpe wat nie net op liefdesverhoudings van toepassing is nie, maar ook op verbintenisse met ouers en vriende.

Verhoudings raak elkeen van ons, daarom is hierdie handleiding so belangrik. Blom het sy ervarings in die spreekkamer te boek gestel. Raad, wenke en oplossings word mildelik en professioneel uitgedeel.

Die boek is in nege hoofstukke verdeel, waaronder “Weet hoe om te verskil”, “Deel jou waarhede”, “Seks en intimiteit” en “As jy nuwe mense ontmoet”. Elke hoofstuk bevat subtemas. Die een wat oor jou verhouding met jouself handel, is ingedeel in onder meer “Verander hoe jy praat”, “Leer om jouself te troos” en “Doen wat jy sê”.

Die laaste hoofstuk – besonder interessant – bevat algemene vrae soos: Is dit aanvaarbaar om jouself aansienlik te verander ter wille van ’n rustige huishouding en ’n gelukkige huwelik, mits dit nie teen jou siel indruis nie? En: Hoe gemaak as jy ’n voorstander is van kommunikasie, maar jou lewensmaat vermy dit as ’n manier om kwessies op te los? Blom verskaf natuurlik ook antwoorde.

Die boek bevat insiggewende inligting. Soos dat jou verdraagsaamheid of sensitiwiteit vir volume of ’n harde stemtoon bepaal word deur onder meer hoeveel jy geslaap het, jou hormone, wat jy vir ontbyt geëet het en hoe jou ouers baklei het. Wie sou ook kon dink dat volwasse verhoudings voorwaardelik is en nie onvoorwaardelik soos ons geleer is nie?

Die handleiding bevat algemeen-bekende feite, maar omdat so baie verhoudings sneuwel, is bevestiging soms nodig. Veral wanneer dit knap saamgevat word. Soos hier: “As drie boustene – respek, vertroue en aantrekkingskrag – daarmee heen is, is dit dikwels die einde van die verhouding.”

Van die wenke is reddende leesstof. Blom sê byvoorbeeld dat jy en jou geliefde met mekaar behoort te praat asof julle nie alleen is nie. “Die krag van terapie lê dikwels daarin dat ’n ander persoon jou dophou,” skryf hy ter stawing.

Die redakteur van Die waarheid oor verhoudings moes egter ’n veel fermer hand gehad het. Van die sogenaamde feite is ongelukkig halwe waarhede. Die skrywer reken dat jy, die leser, baie buite-invloede op jou verhouding kan beheer, en verhuising en roem word as voorbeelde genoem. Maar het jy werklik beheer oor jou verplasing indien jou sakeonderneming gedwing word om te verskuif? En is dit aan jou toe te skryf as jou dramatalent jou in die openbare oog plaas, maar jy nie doelbewus roem nagejaag het nie?

Blom se taalgebruik is soms te formeel vir wat ’n lesersvriendelike handleiding behoort te wees. “Dit blyk dat wanneer ...” is so ’n voorbeeld. Die alewige verwysings na “die persoon” pla ook. “Jou geliefde” sou ’n oplossing kon gewees het.

Feite word dikwels herhaal. “Om gesien en erken te word voel soos liefde” is een. Twee sinne verder lees jy: “Wanneer ons voel ons word raakgesien, voel ons geliefd.” En kort daarna word dieselfde feit weer só gestel: “Om te sien en raakgesien te word is om lief te hê en geliefd te voel.” Dis maar een voorbeeld.

Van bladsy 44 tot 55 kom dieselfde tussenkop, “Verhoudingsvaardigheid”, nege keer voor, terwyl daar reeds geskikte opskrifte is. Soos: “Deel jou ontsteltenisse” en “Besluit wat regtig saak maak”.

Soms is die taalgebruik verwarrend, soos wanneer feite gelys word. Blom skryf byvoorbeeld: “Dit is nooit ’n goeie tyd vir gesels as jy onder die invloed of bedwelm.” Daar kort tog ’n “is nie”.

Die perspektiefwisseling pla ook. Die skrywer spreek soms die leser aan. Soos hier: “Die persoon wie se woorde jou so seermaak, is bes moontlik in pyn.” En dan die skuldige: “Jy het nie ’n lisensie om ander seer te maak nie.”

Ten spyte van die kritiek is Die waarheid oor verhoudings ’n moet-hê gids. Vir dié handleiding om egter behoorlik tot sy reg te kom, behoort dit wat pla, beslis met ’n herdruk reggestel te word.

Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.

Foto van Stefan Blom: Youtube

The post Die waarheid oor verhoudings deur Stefan Blom: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kamikaze deur Rudie van Rensburg

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, was medestigter en uitgewer van Bloemnuus, en later redakteur van Die Ekonoom. In 1987 verhuis hy Kaap toe. Rudie se skilderye is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika en oorsee. Pirana is sy vierde roman, na Slagyster, Kopskoot en Judaskus.

Foto: Brenda Veldtman


Opsomming

Kamikaze
Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801303

Kassie Kasselman is kriewelrig. Sy lewe lank poeliesman gewees, maar wragtag, wat hy nóú alles in die media oor sy geliefde SAPD lees. En met sy eie oë sién ook, in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie. Kassie het juis ’n ander werksaanbod gehad ...

En dan moet dit natuurlik só kom dat hy in die middel van sy loopbaankrisis teen die grieseligste moordenaar nóg te staan kom. Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die Apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie wat ook Kassie se aandag verg. Slim skuiwe, dis wat Kassie moet maak, en gou ook ...

Spioenasie en parlementêre wapenhandel-korrupsie, die ontkleeklubskemerwêreld en ’n kil reeksmoordenaar uit jou nagmerries – Kamikaze is Van Rensburg se spannendste roman nóg!


Uittreksel

Claus Prins pluk senuweeagtig aan sy Jasser Arafat-serp.

Die dakligte in die verlate parkade gooi spookagtige skadu’s oor die sementvloer en pilare. Dis eerder die ideale omgewing vir ’n bloederige moord as ’n plek van vreedsame ontmoeting, dink hy.

Met sy skouer teen ’n pilaar geleun, haal hy die pakkie Kent White uit sy baadjiesak en steek een aan met hande wat liggies bewe. Hy is uit sy gemaksone. Gewoonlik laat hy enige gevaarlike job aan Ivan oor.

Maar vanaand het hy nie ’n keuse nie. Die man het daarop aangedring hy wil Claus alleen ontmoet. Dalk is hy paranoïes, maar die wete dat daar honderd-en-vyftigduisend rand in sy BMW se kattebak is, laat trek sy maag in ’n vuis.

Wie sê die bliksem jaag nie ’n koeël deur sy kop en maak spore met die geld nie? Volgens wat hy van hom gehoor het, is dit nie onmoontlik nie. Nog ’n lyk op sy kerfstok gaan die Pion nie slapelose nagte gee nie.

Sy liggaam span styf toe hy die dreuning van ’n motor hoor. Hy luister aandagtig, ontspan toe dit klink of die motor op die onderste verdieping stilhou.

Hy kyk op sy horlosie. Twintig oor nege. Die Pion het gesê hy sal tussen nege en tien hier wees. Hy vee die sweet van sy voorkop af.

Met die kooltjie van die stompie steek hy nog ’n sigaret aan, maar sy gedagtes bly bokspring tussen talle grusame scenario’s.

Desperaat om sy donker gemoedstoestand te verja, dink hy aan Macy. Dis gewoonlik al terapie wat help. Sy wag nou vir hom in die bed, in die versengende Kaapse somershitte moontlik net onder ’n laken. Die kurwes van haar kaal lyf sal duidelik afgeëts wees teen die gladde satynmateriaal. En wanneer sy die laken ooptrek vir hom om langs haar in te klim . . .

’n Kreet blêr uit sy keel toe hy ’n ritseling agter hom hoor.

Hy swaai verskrik om. Die man staan ’n paar treë weg van hom,

die skaduwee van ’n pilaar oor sy gesig.

“Ek . . . het jou . . . nie gehoor nie,” stamel Claus met ’n droë mond.

“Claus Prins?” vra die man.

“Ja, dis ek. En . . . en jy’s . . . die Pion?”

Die man knik en kom ’n halwe tree nader. Sy gesig word gedeeltelik verberg deur ’n groot donkerbril. Hy is baie ouer as wat Claus gedink het, skraal en korterig. Met die eerste oogopslag nie die intimiderende monster wat hy in sy verbeelding geskep het nie. Boonop in ’n netjiese pak klere.

Hy steek sy hand uit, maar die Pion ignoreer die gebaar, haal net die donkerbril af en druk dit in sy baadjiesak. Die daklig skyn nou vol op sy gesig.

’n Ligte siddering trek deur Claus. Die man se oë laat hom opnuut sweet. Dis wasig, soos ’n dooie se oë. Amper deursigtig, kleurloos, yskoud. Genoeg om hom die horries te gee. Fok, hy moes nie alleen gekom het nie!

“Ek het nie baie tyd nie,” sê die Pion toonloos.

“Jammer . . . jammer.”

Claus maak die kattebak van die BMW haastig oop. Hy oorhandig eers die koevert. “Hierin is alles . . . alles oor die man, sy naam, ’n foto van hom en die woonadres van sy suster waar hy nou bly.”

Die Pion neem die koevert. “Enigiets anders wat ek moet weet?”

“Jy moet sy rekenaar en alle ander . . .”

“Dit was reeds deel van my opdrag. Nie nodig om dit te herhaal nie.”

“Dit moet binne die volgende drie dae gebeur, want . . .”

“Dis ook ou nuus.”

“Jammer, ek . . . kan nie nou helder dink nie.” Claus se oë brand van die sweet wat oor sy voorkop stroom.

“Waar bly die man as hy nie by sy suster in die Kaap is nie?”

“In Sandton, Johannesburg . . . in ’n dakwoonstel.”

“Wie sê dáár lê nie goed rond nie?”

“Ons . . . een van my manne . . . het gisteraand daar ingebreek en die plek van hoek tot kant deursoek. Daar’s niks.”

Hy lig die aktetas uit die kattebak en oorhandig dit aan die Pion.

“Die volle honderd-en-vyftigduisend, in honderdrandnote soos jy versoek het. Jy kan dit tel as jy wil. Dis in bondels van vyfduisend rand verpak.”

Die man staar strak na hom. “Nie nodig nie. As jy ’n fout gemaak het, sal ek die balans uit jou boedel kry.”

Claus se nekhare rys. Dit klink soos ’n fokken doodsdreigement!

Hy kan net bid Macy het reg getel. Hy wag dat die Pion moet loop, maar die man bly uitdrukkingloos staan.

Uit pure ongemak draai Claus om en maak die kattebak met bewende hande toe. As die bliksem besluit om hom uit te haal, sal hy dit nou doen, flits dit deur sy gedagtes. Hy staal hom teen ’n

moontlike aanslag, sy regterhand naby die baadjiesak waarin Macy se handsakpistooltjie is.

Maar niks gebeur nie.

Toe hy omdraai, is die Pion weg.

Claus kyk verwilderd rond. Geen teken van die man nie. Hy bly versteen staan, maar sy groot liggaam bewe onbeheers. Eers toe ’n motor op die onderste verdieping wegtrek, haal hy weer asem.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kamikaze deur Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: Stellenbosch-bekendstelling

foodSTUFF by Tony Jackman: book launch


Rooi haring deur Schalk Schoombie: bekendstelling

Kamikaze: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg

$
0
0

Kamikaze
Rudie van Rensburg

Uitgewer: NB
ISBN: 9780795801303

’n Telefoonoproep het Kassie Kasselman nuut laat dink oor sy loopbaan. Maar jou lesers is bly hy’s terug – as speurder in Kamikaze, jou jongste roman. Is hy terug om te bly, Rudie?

 Kassie is hier om te bly –- al gaan hy moontlik vorentoe ’n loopbaanskuif maak. Met elke nuwe roman probeer ek hard om nog ’n dimensie by my Kassie-karakter te voeg – gewoonlik deur ’n nuwe persoonlike probleem voor sy deur te lê. Omdat my boeke nooit net uit Kassie se perspektief vertel word nie, gee dit hom ’n langer “rakleeftyd”. Dalk sou ek al uitgeskryf gewees het aan Kassie as hy heeltyd die sentrale karakter was.

Ek vra jou oor Kassie, want ek weet hy is een van die redes waarom lesers terugkom. Hy raak nog net so opgewonde oor sy seëlversameling soos altyd en hy snuffel altyd ’n misdadiger uit wat hom fassineer – dalk weens dié se ooreenstemmende passie vir seëls. Maar hy is net een van die redes. Jou skryfstyl en stories is natuurlik ander baie belangrike redes. Jou stories het ook baie meer sentrale karakters as net Kassie, soos jy pas gesê het, en ook hulle is interessant om te leer ken. Vertel my van sommige van die ander karakters in Kamikaze en hoe hulle jou pad gekruis het.

Die Pion, die moordenaar in die verhaal, is heel moontlik die interessantste ander karakter. Om aan sy karakter te slyp, moes ek diep delf in pakke opleidingsmateriaal wat vir die polisie se destydse speurakademie voorgeskryf is en handel oor die psige van moordenaars. Ek wou nie net bloot ’n moordenaar uit ’n mens se nagmerries skep nie, maar een met ’n geloofwaardige geskiedenis eie aan hierdie spesifieke soort moordenaars in die opleidingsmateriaal –  ’n erg versteurde en donker mens wat reeds as kind die pad byster geraak het oor ’n teleurstelling in sy persoonlike lewe. Van sy ander eienskappe het ek by Rusland se Vladimir Poetin “geleen”, wat self ’n eienaardige skepsel is. ’n Ander interessante karakter is Moos Uys, die ywerige groentjie-agent by die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap, wat sy eie handelinge  vergelyk met dié van baasspioene uit die verre verlede wanneer hy ’n komplot van ’n radikale Islamitiese groep ondersoek. Sy onderduimse en korrupte baas, Abdul Koopman, steek egter ’n stokkie voor sy ondersoek, wat arme Moos duur te staan kom, maar aan Kassie deurslaggewende leidrade verskaf. Dan is daar ook Claus Prins, baas van ’n sindikaat wat vals medisyne smokkel, sy ontroue meisie, Macy, ’n gewese paaldanser, en Ivan, die sindikaat se gewetenlose spiertier en voorheen ’n uitsmyter by ’n nagklub.  

 Wil jy dalk in ’n sin of twee opsom waaroor Kamikaze handel? Waaroor gaan die storie?

Soos in my ander boeke is daar ook in Kamikaze verskeie verhaallyne wat aanvanklik onafhanklik staan, maar waarvan die grense algaande vervaag en teen die einde by mekaar uitkom. Die boek handel oor spioenasie en wapenhandelkorrupsie, vervalste medikasie en ’n moordenaar met ’n moordloopbaan wat na die apartheidsera terugstrek en Kassie se speurvermoëns tot die uiterste beproef en hom dwing om onkonvensioneel op te tree. 

Het hierdie storie ’n spesifieke sneller gehad, of het jy dit geskryf omdat jy baie koerantberigte lees en ook ander navorsing gedoen het, soos jou bronnelys verklap?

Die verhaal het veral twee snellers gehad. Eerstens glo ek dat misdaadfiksie betrokke literatuur is wat die werklikheid moet weerspieël van wat in ’n land aangaan. In te veel Suid-Afrikaanse speurromans word die polisie voorgehou as ’n goedgeoliede organisasie, wat allermins die geval is – net die feit dat gemiddeld 50 mense per dag in ons land vermoor word, dui op die SAPD se onvermoë om hul burgers na behore te beskerm. Daarom het ek die kernvraagstukke in die polisiediens bevraagteken deur die oë van Kassie, wat ’n ernstige loopbaankrisis beleef. Die tweede sneller vir een van die verhaallyne was ’n groot toevalligheid. Ek het in ’n boekwinkel se niefiksie-afdeling Roger Bate se Phake – The deadly world of falsified and substandard medicines opgemerk. Terwyl ek deur die lywige boek geblaai het, het my oog ’n paragrafie gevang waarin Bate sy verbasing uitspreek dat geen misdaadfiksieskrywer nog die wêreld van vervalste medisyne as ’n tema vir ’n boek gebruik het nie. Ek het die boek dadelik aangeskaf. 

Het jy hierdie storie voor die tyd beplan of reeds geweet wat teen die einde (moes) gebeur toe jy dit begin skryf het? Praat bietjie met my oor beplanning voor ’n misdaadroman, asseblief.

Ek soek eerstens na geskikte temas om as agtergrond vir ’n spanningsverhaal te dien, wat gewoonlik baie navorsing verg. Dan skep ek karakters vir hierdie omgewings. Wanneer ek begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verskillende verhaallyne inmekaar gaan skakel, sonder enige formele struktuur waarbinne ek probeer werk. Gewoonlik het ek teen die helfte van ’n manuskrip nog geen idee hoe die verhaal gaan eindig nie, maar ek verkies dit so. Dit is soos om ’n groot avontuur aan te pak. Ek wil die reis nie vir myself bederf deur al te vroeg aan die einde te dink nie. Die storie moet natuurlik soontoe lei.

Kamikaze handel, soos jy gesê het, oor misdade uit die apartheidsera én misdade van vandag. Mens kan maklik sê apartheidsmisdade het te doen gehad met kleur en vandag s’n met korrupsie. Is dit ‘n oorvereenvoudiging? Wat het jy opgemerk terwyl jy navorsing gedoen het – dinge wat ooreenstem, dinge wat verskil? Of maak dit nie juis saak as mens fiksie skryf nie?

Die polisiediens van die apartheidsdae was goed-georganiseerd met verskeie spesialiseenhede. Maar terselfdertyd is hulle nooit gekonfronteer met die hoë misdaadvlakke van vandag nie. Hulle oë was ook nie heeltyd op die misdaadbal gerig nie, maar veel eerder daarop om die apartheidstelsel in stand te hou en politieke opstande te onderdruk. In die proses is onskuldige mense onder andere oor hulle politieke oortuigings vermoor. Deesdae se polisie is nie naastenby so goed opgelei soos hulle voorgangers nie en hul topstruktuur (eers Jackie Selebi en toe Cele en Phiyega) het ’n era van korrupsie en onbevoegdheid gehandhaaf. Hierdie verrotting het deurgesyfer na die polisie op grondvlak. Basiese vaardighede, soos om ’n dossier in te vul sodat oortreders in ’n hof kan verskyn, ontbreek in baie gevalle. Jaarliks is daar miljarde rande se siviele eise teen die polisie weens onwettige inhegtenisnemings en aanhoudings, aanrandings en skietvoorvalle. Dit terwyl die polisiediens onderbeman is en ’n Suid-Afrikaanse speurder gemiddeld drie keer meer dossiere op sy lessenaar het as sy oorsese eweknie. Daarmee beweer ek nie dat ons nie meer funksionele polisiekantore of bekwame polisieamptenare het nie. Trouens, daar is wel nog, maar hulle is ongelukkig dun gesaai. Wat wel ’n feit is, is dat ons huidige polisiediens onder beleg is, en dat veel dringender ingryping van regeringskant nodig is as die “skietplanne” van ons nuwe, breedsprakige minister van polisie.

Vertel my van die Japanse vlieënier wat in ’n selfmoordaanval sy vliegtuig op ’n vyandelike skip laat neerstort het. Waarom het jou boek sy titel aan hom te danke en wie was hy?

Die titel Kamikaze sinspeel eerder op die woord se uitgebreide betekenis van roekelose gedrag met potensieel rampspoedige gevolge.

Het jy ’n skryfroetine of enige spesifieke rituele ten opsigte van skryf?

Ek probeer om ’n baie gedissiplineerde skryfroetine te handhaaf en is soggens van sewe-uur af agter my rekenaar en werk gewoonlik tot drie-uur die middag. Soms doen ek in die aande navorsing vir ’n volgende boek. Ek het geen spesifieke rituele nie, behalwe dat ek my oggendkoerant (in papierformaat) móét lees voordat ek begin werk. 

Ek wil vra of jy aan ’n volgende manuskrip werk, maar dalk moet ek eerder vra hoe ver is jou volgende manuskrip ...?

Volgende jaar se Kassie-manuskrip is reeds klaar en by die uitgewer. In Oktober vanjaar verskyn daar egter ’n boek van my in ’n ander genre. Dis ’n “asemskepboek” tussen die misdaadfiksie deur, wat lig en humoristies van aard is en nie een reël se navorsing vereis het nie. Hans steek die Rubicon oor handel oor ’n 90-jarige oom wat weier om ouetehuis toe te gaan, maar wanneer hy uiteindelik daar land, maak hy behoorlik amok.   

Kassie is, soos ons weet, 'n kranige seëlversamelaar en sekerlik het jy al baie navorsing hieromtrent gedoen – deel asseblief inligting wat vir jou interessant is oor seëlversameling?

Ek doen heelwat navorsing oor posseëls en span die internet mildelik daarvoor in. Wanneer ek op enige seëlinteressantheid in koerante of tydskrifte afkom, knip ek dit uit en liasseer dit in my “Kassie-seëllêer”. Ek het ook al ’n paar keer met seëlversamelaars kontak gemaak om van feite seker te maak.         

Foto van Rudie van Rensburg: Brenda Veldtman

The post Kamikaze: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Kamikaze 
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801303

Kamikaze is Van Rensburg se vyfde roman, na Pirana, Slagyster, Kopskoot en Judas. Die speurder, kaptein Kassie Kasselman, en sy kollega, Rooi, is weer terug met nog ’n gruwelike moordenaar om te vang.

Maar in hierdie boek is Kassie nie sy toegeeflike, gelukkige werknemer-self nie; hy is kriewelrig. Hy is al sy hele lewe lank ’n polisieman, wat ontmoedig voel met alles wat hy in die media oor sy geliefde SAPD lees, hoor en met sy eie oë sien en ervaar in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie.

Hy is in die middel van ’n loopbaankrisis toe die oproep met ’n werksaanbod kom, en terwyl hy met al hierdie innerlike woelinge worstel, kom hy teen die grieseligste moordenaar nóg te staan.

Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie, wat ook Kassie se aandag verg. Voeg hierby spioenasie, huurmoord, parlementêre wapenhandelkorrupsie, die skemerwêreld van die ontkleeklub en ’n koue, berekenende reeksmoordenaar en jy gaan beslis wil lees tot die skuldiges aan die pen ry.

Van Rensburg se debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.

Dis duidelik dat die skrywer gemaklik in sy genre is. Hy ken die fyner nuanses van spanning en sy bekwaamheid as boeiende storieverteller, en vermoë om net genoeg te verklap om jou aandag gevange te hou, maak van hom ’n lekkerlees-outeur.

Hy is ook geen vreemdeling vir behendige taalvaardigheid nie: met ’n joernalistieke loopbaan, skakelwese en ’n bekroonde toneelstuk op sy kerfstok is dit geen wonder nie.

Die joernalis in sy bloed sien klein goedjies soos die fabrikate van motors, sigarette, koeldranke en drank, die kleur van hare en klere en die kilheid in ’n moordenaar se oë raak. Daar is soveel klein besonderhede verweef wat regtig bydra tot die gehalte van die inhoud, sonder dat jy dit agterkom.

Ek het geweldige waardering vir goeie taalgebruik, vir ’n selfvertroue oor goeie sinskonstruksie en woordkeuses, en beslis vir navorsing en feitelik korrekte inligting, selfs in fiksie. Daar skuil geweldig baie navorsing agter hierdie boek, maar baie lesers sal dit nie noodwendig opmerk nie. Die boek se pas is vinnig en opwindend en elke hoofstuk bied meer insigte in die karakters en hoekom hulle op sekere maniere optree en sekere besluite neem.

Die karakters is ook nie jou alledaagses nie. Waar kry jy ’n polisiekaptein wat só vaal is dat hy meestal deur sy kollegas én misdadigers onderskat word en as stokperdjies aan ’n boeremusiekgilde behoort en seëls versamel? Of ’n jong spioen wat ’n verbysterende kennis van die spioene van weleer het en elke nuwe taak aanpak met ’n vergelyking van hoe dit jare gelede deur ’n bekende spioen aangepak sou word?

Die ontvouing van die huurmoordenaar se tragiese lewensverhaal wil jou amper simpatie met hom laat kry – maar net tot hy sy volgende onskuldige slagoffer vermoor.

Van Rensburg het ’n vermoë om die karakters voor jou oë lewe te gee. Jy is jammer as een van hulle uit die storie geskryf word.

Ek hoop daar is nog ’n lang loopbaan voor vir kaptein Kassie Kasselman. Maar sluit maar jou voordeur en sit die alarm aan voor jy die boek begin lees. Daar is ’n paar oomblikke waar jy al die vensters se knippe wil nagaan en jou hart wild in jou borskas bons.

The post Kamikaze deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Per ongeluk deur Lloyd Zandberg

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Lloyd Zandberg

Lloyd Zandberg is in 1991 in Windhoek se nonnehuis gebore. Hy is ’n Libra, wat beteken hy hou nie van kamp, Wimpy, wiskunde, rosyntjies of glashonde nie. Hy is korter as sy pa, mollig, en het ’n ongeskikte baard. Direk na sy geboorte het hy, sy ma en broer Kaap toe getrek op soek na emerald-gras. Toe hulle dit nie kry nie, het hy besluit om maar skool te loop. In die Kaap skryf hy sy matriek by die Hoërskool Durbanville en kry net-net te min punte om iets te gaan studeer wat BMW's, strandhuise en leerbanke kan koop. Met die genade van iewers word hy aanvaar om fotografie by CityVarsity te studeer. Hy werk vir ’n tyd lank as kommersiële fotograaf en was deel van verskeie uitstallings. Na 22 jaar keer hy terug na Namibië, waar hy vir die koerante rubrieke skryf en in die aande waiter by ’n Duitse restaurant. Naweke neem Lloyd foto's van wilde diere en mooi tannies wat lelik sit. Tans woon hy in Swakopmund aan die kus van Namibië. Onlangs het Lloyd ’n Namibiese ATKV-veertjie vir 12 van sy kortverhale verorber en dit hang nou langs die fotografiediploma teen die sitkamermuur. Hy kan nie swem nie en byt al vir 22 jaar sy naels. Lloyd verkies om te glo dat hy op die verkeerde planeet bly. Maar weet ook dat hy niks daaraan kan doen nie.


Opsomming

Per ongeluk
Lloyd Zandberg

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082552

Hierdie versameling kortverhale bied ’n histeriese kykie op alledaagse situasies: ’n tango-les in die platteland; die tannie so "eenvoudig soos ’n ses-stuk legkaart"; ’n besoek aan ’n tandarts en sy assistent wat meer as net ’n spreekkamer deel. Lloyd Zandberg se debuut is ’n boek vol deernis en humor, met vriendelike gebruiksaanwysings vir mense wat nie so goed lees nie. Kyk één keer deur sy oë na die lewe, en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

 


 

Uittreksel

Uit “Blomme”

Aan die onderpunt van die hoofstraat, langs die Hospice, is Flower Hour. Ek stop voor die winkel en loop die affêre binne. Dis onderbelig, klam, vaal en oranje. Dit voel of ek in ’n groot wortelslaai staan.

Die dekor is definitief behartig deur ’n persoon wat kuns gedop het of besig is met ’n egskeiding. Op een van die enigste twee rakke in die winkel staan ’n blou emmer met twee rose in en op die ander ’n sonneblom wat meer verlep is as ek ná tien minute op die treadmill. Al drie die blomme sug gelyk toe ek die deur oopmaak. Die winkel is eensaam, lelik en gaan binne ’n week toemaak as dít die hele voorraad is.

Daar is ook niemand in sig wat die situasie voor my kan verduidelik nie. Op die toonbank, wat so deurmekaar soos ’n hoer se handsak is, staan ’n groot klok wat jy kan sien eens om ’n koei se nek gehang het. Langs die klok is ’n nota teen die kasregister opgeplak. Soek jy hulp? Lui die klok!

Ek lui haar. Niks gebeur nie. Ek wag ’n paar minute. Steeds niks. Die afwesigheid van blomme laat weer die lysie van vrouegeskenke na vore kom. Ek dink aan my formule. My tannie is ’n huismoeder. ’n Dagboek gaan nie werk nie, hulle vergeet mos niks. Nie eens die koning van Afghanistan se verjaardag nie.

Wat van ’n serp? dink ek. Om my is dit doodstil. Ek dink nog.

“Jy kan maar loop,” sê die sonneblom. “Die vrou is moeg en kwaai.”

Ek sê: “My tannie hou nie van handwash nie. Sy sê dit laat haar hande jeuk en serpe laat haar lyk soos iemand wat deur ’n by op die ken gesteek is. Vat die dame altyd so lank?”

“Wag maar eerder. Jou tannie verdien beter,” sê die sonneblom.

“Jy ook, my skat,” sê ek, “ten minste ’n bietjie son, ’n koffieshop-toonbank en ’n glaspot. Gaan julle niks sê nie?” vra ek vir die twee rosies.

“Ons is nervous, ons kan enige tyd ses voet onder die grond beland,” antwoord die een, terwyl die ander oor die rand van die emmer hang soos iemand wat seesiek is.

“Ek is baie jammer om dit te hoor, maar ek ook, en ek wil nie hier beswyk nie, ek hou meer van navy blue, hierdie oranje is te plain, my dood moet baie meer dramaties wees, ek gaan nou eers gaan,” sê ek.

Ek gryp my gemoed en ons loop deur toe. Nes ek buite is, hoor ek ’n vrou se stem. Dit klink asof iemand haar lewend slag. Ek draai terug en probeer weer.

“Sterkte,” sê die sonneblom en die rosies gelyk asof hulle dit geoefen het.

“Julle is almal hartseer,” sê ek.

Van agter ’n burnt orange chiffon-gordyn verskyn ’n vrou met ’n ongemaklik vierkantige lyf. Jy sal haar met ’n waterpas kan level. Haar tande lyk soos halfgesuigde Rennies en haar voorkop is groot genoeg om ’n 5 000-stuk legkaart op te bou. Haar grimering is twee weke oud en haar turtle-neck gil “ek is gatvol!”

Ek is bang, maar ek staan nader.

“Wil jy ook trou? Jong mans koop net blomme as hulle seks soek of wil trou. Dis mos nou die nuutste gier onder julle hipsters – trou jonk, maak babies en gaan bly oorsee,” sê sy.

“Ek het darem matriek,” sê ek. “My tannie verjaar. Ek wil net vir haar blomme koop. En die meeste van my vriende is nog almal ongetroud – ons oefen net om babies te maak. Nou en dan vat een, maar dit gebeur min. Kondome is goedkoop. En jy kry dit hier onder in die biblioteek.”

Sy hap ’n oomblik na lug soos ’n baber op die wal van ’n droë dam.

“Het jy blomme daar agter iewers, of is dit jou hele verhaal?” vra ek.

“Hier’s niks. Kry eers môreoggend stock. Dit wat jy kan sien, kan jy koop,” sê sy. 

En loop weer agtertoe.

“En die arme rosies?” gil-vra ek. Ek wys na die blou emmer agter my.

“Dis al wat oorgebly het. Die mense dink mos hoe meer blomme op die kis en in die kerk is, hoe liewer het hulle die persoon gehad. Geen blom verteenwoordig liefde nie, dit is wie hom gee of ontvang wat hom waardevol maak. Maar ons doen baie goed, die sente stroom in en die kerke is kleurvol,” sê Rennies.

“Ek sit met die goue lepel hier. Ek wil in Maart by my dogter in Londen gaan kuier. Ons sien mekaar baie min en met dié dat sy nou swanger is met ’n Engelsman se kind, wil ek seker maak ek is daar vir die geboorte. As daar nog so agt dood en vier trou, dan is my kop deur. Die vlugkaartjies is op special, ek sal moet roer. Jy kan daai twee rose verniet kry, hulle sal in elk geval môre verlep wees,” laat hoor sy van backstage af.

Ek kan nie besluit of ek die twee rose moet vat of nie.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Per ongeluk deur Lloyd Zandberg appeared first on LitNet.

Tafelberg en NB-Uitgewers bring hulde aan PG du Plessis

$
0
0

Tafelberg en NB-Uitgewers verneem met leedwese van die afsterwe van een van ons grootste Afrikaanse skrywers.

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, sê: “PG het homself in ons harte ingeskryf. Van Siener in die suburbs tot Fees van die ongenooides het hy sy gehoor ten diepste geraak.  Hy was nie net ’n uitermate talentvolle skrywer nie, maar veral ook ’n ware mensch. Ons sal hom verskriklik mis.”

Marga Stoffer, uitgewerbestuurder van NB-Uitgewers, sê: “Ek is baie hartseer oor PG se heengaan. Hy was so veelsydig: as literêre skrywer en ernstige dramaturg het hy van ons belangrikste Afrikaanse werke geskryf: dramas soos Siener in die suburbs en Die nag van Legio, en sy groot Afrikaanse roman, Fees van die ongenooides. Maar hy was ook gefassineer deur mense en hulle hebbelikhede, en het ’n wonderlike sin vir humor gehad – en hy het gewone mense verstaan. Daarom dat hy ook as storieverteller op TV, en as skrywer van die gewilde Koöperasiestories ’n groot plek vir homself in mense se harte oopvertel het. Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om as jong uitgewer saam met hom aan ’n projek te kon werk. Nie net het ek baie by hom geleer nie; ek het ook onder die indruk gekom van sy gulhartigheid, wysheid en ongelooflike kennis. Ons sal hom mis.”

Lees meer oor PG du Plessis se lewe en werk in sy ATKV|LitNet Skrywersalbum, saamgestel deur Erika Terblanche.

The post Tafelberg en NB-Uitgewers bring hulde aan PG du Plessis appeared first on LitNet.

Die naamlose deur Mariël le Roux: ’n resensie

$
0
0

Die naamlose (herdruk)
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082491

Die naamlose spog in 2017 met ’n splinternuwe baadjie. In 2010 het dié roman as naaswenner in Sanlam se Groot Romanwedstryd uit die stryd getree. Nóú, na sewe jaar, pronk sy tweede uitgawe op die rak – ’n bewys dat dié boek beslis nie in die afgelope paar jaar vergeet is nie. ’n Mens mag dit maar erken. Dit wil nogal gedoen wees vir ’n skrywer van wie Die naamlose in 2010 slegs roman nommer twee op haar kerfstok was. Slegs drie jaar vantevore het sy met Wilhelmina – Kampkind op Java gedebuteer. Hierna pak die skrywerskoors Le Roux behoorlik beet. ’n Vrugbare dekade volg waartydens Die naamlose in 2010, Klara in 2013 en Isabella in 2017 gepubliseer word. In Isabella sentreer die verhaal vir die eerste maal nie rondom ’n onskuldige kind nie, maar om ’n volwasse vrou wat self die verantwoordelikheid vir haar eie besluite moet dra.

Dit is egter met Klara dat Die naamlose ’n belangrike ooreenkoms deel: in beide staan die plaasmilieu voorop.

Gedurende die vyftiger- en sestigerjare was die idilliese plaaslewe miskien vir baie Suid-Afrikaanse plaaskinders ’n vervroegde hemel op aarde. Maar nié vir Carli Botha nie. Dalk omdat daar maar min op Grootvlei, hul familieplaas, was om haar aan enige soort hemel te herinner.

Tydens ’n stormagtige nag op Grootvlei skenk Carli se ma te vroeg geboorte aan haar boetie en sterf kort hierna. Dit is egter nie slegs die dood van Ma Bella wat aan dié nag ’n eiesoortige swartgalligheid verleen nie. Eerder is dit die moord op Carli se nuutgebore boetie met anensefalie wat dié nag vir haar eerste swartgallige spoke op Grootvlei sou sorg. Met sy plat kop en uitpeuloë verwys Lena na hom as ’n katkoppie. Carli se pa beskou die kind as ’n gedrog en beveel Lena (een van hul huisbediendes) om vinnig ’n einde aan die lewe van sy katkoppie te maak. Hierna kyk die amper sewejarige Carli toe hoe Lena haar breinlose boetie in die wasbak verdrink. Dié gebeurtenis was veronderstel om ’n stil dood te sterf – soos die katkoppie se laaste benoude borrels binne die wasbak. Sake loop egter skeef wanneer dié geheim die volgende kwartaal tydens Carli se “My vakansie"-mondeling onskuldig oor haar eie lippe uitborrel.

Hierna is dit nie net Wilhelm Botha se hand wat om die brandewynbottel vou nie. Mettertyd vou die duisternis ook dig om die kinderlewe van Carli. Wilhelm Botha, haar pa, sorg eerste hiervoor. Na die swartgallige nag gee hy homself vrywillig aan die drankmonster oor. Dit is ook hy wat die skuld vierkantig op Carli se skouers pak nadat sy in haar kinderlike onskuld Grootvlei se geheim uitblaker. Soos ’n volwasse Carli dit later self verwoord, het haar pa al die ellendes van Grootvlei voor haar deur neergesit (179). Met die sersant as sy drinkebroer is dit ook nie moeilik vir Wilhelm om skotvry van al sy sondes af te kom nie.

Met verloop van tyd vervaag die gesig van Ma Bella, asook haar belofte aan Carli: om haar eendag-op-’n-reëndag na haar familie in Annerland, wat soos ’n stewel lyk, te vat.

Tog is die lewe na die moord op die katkoppie nie net een uitgerekte dodemars vir Carli nie. Sy het vir Dora, hul huisbediende, as beskermengel en vir Wimpie, die seun van Dora, as maatjie op die plaas. Na die uitblaker van die groot geheim vermoed die welsyn onraad op Grootvlei. Kort voor lank moet Carli dan ook vir Grootvlei groet, want die welsyn vereis dat sy in die pastorie op die dorp moet gaan bly. Dit is hier waar Carli leer dat die duiwel nooit onderskat moet word nie. Hy het baie gedaantes en is oral tuis. Selfs op die preekstoel en in die gange van die pastorie. Met sy kriewelrige duime en sweterige hande leer die Gesalfde binne die pastorie vir Carli dié les. Met Dora weg, neem Evelyn, die huisbediende van die pastorie, die rol van Carli se nuwe beskermengel oor.

Nietemin ís dit steeds op Grootvlei waar Carli haar skoolvakansies deurbring. Vakansies waartydens Carli en Wimpie met verloop van tyd die soet smaak van die verbode vrug ontdek. Gou raak die Tuin van Eden – die kerktuin – en die adamsvyeboom hul lekker verbode paradys. Verbode, want oënskynlik hang die vlymskerp lem van die berugte Ontugwet oor hulle kop. Maar dis op hul laaste dag by die rivier dat Carli self finaal wéét: van Grootvlei moet sy weg.

Opvallend is die wyse waarop die roman daarin slaag om die leser op ’n emosionele vlak reeds vanaf die eerste bladsy binne die palm van sy hand te hou. Deur middel van Ma Bella se Annerland- en Grootvleistories word daar al vroeg vir kleurvolle karakters en ’n boeiende intrige gesorg. Die stories ontlok ook ’n spontane nuuskierigheid, want binne hulle lê ’n paar raaiselagtige vrae wat aanvanklik onbeantwoord in die lug bly hang. Die raaiselagtigheid verskaf die nodige prikkelende element om die leser uit die staanspoor vasgenael te hou.

Binne die roman is dit ook die intrige se sterk ironiese invalshoek wat beïndruk. Dit is immers ironies dat Carli se breinlose katkoppie, sonder dat hy self ’n vinger kon verroer, almal op die werf só kon aanraak. Op roerende wyse verwoord Carli self dié ironie (76). Juis hierom is Die naamlose as titel, wat na die breinlose boetie van Carli verwys, so gepas. Dit is immers die naamlose wat so ’n kragtige impak op Grootvlei en sy inwoners se lewens sou uitoefen.

Verder is dit ook opmerklik dat menige aktuele en eietydse kwessie in Die naamlose onder oog gebring word. Daar word onder andere fokus verleen aan versteurde gesinsverhoudings. Die klem val op die verhouding tussen dogter en pa. Of moontlik eerder die gebrek aan ’n verhouding. Nie net is Carli se pa dikwels in haar lewe afwesig nie, maar hy laat haar ook “ontsenu” en “angsbevange” in sy gereelde besope toestand (101). Verder word drank se vermoë om as vernietigende sosiale euwel te dien ook met oortuigende hale vir die leser geskets. Carli se pa is nie die enigste karakter wat in diens van die drankmeester staan nie. Onder andere is Klaas, ’n arbeider op die plaas, en die sersant almal slawe van dieselfde Meester.

Met die lees van die roman het dit opgeval hoe gepas en raak die keuse van fokalisasie telkens is. Aan die begin ervaar die leser Grootvlei en sy lief en leed deur die kinderoë van Carli. Die kort sinne en eenvoudige woordkeuses vang ’n opregte kinderlike onskuld vas. Dié pretensielose wyse van vertelling is ook besonder effektief in dramatiese tonele aangewend. So ondergrawe die kinderperspektief op die moord van die katkoppie byvoorbeeld enige vorm van oordadige melodrama en sentimentaliteit. Ek het hier gevoel die gestroopte stilistiese aanslag is juis effektief, omdat dit die skok en afgryse by my as leser kon intensiveer.

Telkemale kom dit ook na vore dat Carli nie die gebeure of al die “groot woorde” rondom haar verstaan nie. Haar beperkte kinderbegrip word deernisvol verwoord wanneer sy wonder wat op aarde “reputasie” beteken:

Ek weet nog nie wat dit beteken nie. Ma Bella het gesê sy sal my sê as ek groot is, maar sy is na Liewe Jesus toe en Dora ken nie groot woorde nie. Nou weet ek nie of ek ooit gaan weet nie. [Oorspronklike skuinsdruk] (109)

Lag-met-’n-traan. Dis seker hoe bostaande beskrywing kort en kragtig op sy beste beskryf kan word. Dit is wel met dié aanslag dat Le Roux sorg dat sy ’n ongenaakbare werklikheid, waarbinne kinders te jonk verstrengel raak, op ’n geloofwaardige wyse vasvang. Voorts is ek ook beïndruk deur die gebruik van “As Hy weer kom”, as Christelike kinderliedjie tydens, asook kort na die moord. Op ’n ongewone, maar treffende wyse laat die skrywer twee wêrelde skerp teenoor mekaar afsteek: die skuldbevlekte grootmenswêreld teenoor die onskuldige wêreld van kindwees. Dit dra by tot die versterking van die emosionele betrokkenheid van die leser.

Tog sorg die ongekunstelde kinderperspektief ook vir ’n paar nodige komiese oomblikke. Genoeg humoristiese en genotvolle momente bied sodoende goeie afwisseling van die neerslagtige atmosfeer wat by tye heers. Ter illustrasie kan daar verwys word na die toneel toe Nero, Carli se hond, dood is. Wanneer hy halfpad onder die grond lê, wil Carli graag na Nero gaan kyk, maar terselfdertyd is sy ook bang. Sy is daarvan oortuig dat sy vir Jesus sal sien terwyl hy vir Nero uithaal, want sy is geleer dat Jesus die dooies kom haal. Hier kan ’n mens die instinktiewe glimlag kwalik keer.

By tye word die kinder- en tienerperspektief (later in die roman) funksioneel afgewissel met die beskouing van ’n volwasse Carli wat op vroeë gebeure in haar lewe terugkyk. Die terugskouende perspektief word in aparte hoofstukke gebruik en is in skuinsdruk gedruk. Tydens een van die tonele kom Carli gedurende haar jare as verpleegstudent op ’n foto van ’n katkoppie in haar handboek af. Hier is die manier waarop die “koue, kliniese mediese inligting” oor anensefalie met Carli se eie ervaring en emosionele verwonding vermeng word, besonder roerend.

Verder bied die terugskouende perspektiewe ook die nodige intieme blik op die psige van Carli. Dit help ook die leser om keuses en die gedrag van Carli, veral in haar tienerjare, beter te begryp. ’n Interessante perspektief op Carli en Wimpie se storm-en-drang-periode word ook in die hoofstukke verskaf. Oor wat op Carli wag, word daar plek-plek vae, maar genoeg inligting verklap om die leser nader aan die punt van sy stoel te verskuif. Dit dra doeltreffend daartoe by om die spanning, maar ook die fassinasie met die intrige te verhoog.

Een of twee hoofstukke uit die perspektief van Wimpie sou wel vir die leser moontlik ook insiggewend kon gewees het. Die leser word nie genoegsame geleenthede gebied om Wimpie werklik van binne te leer ken nie. Dit frustreer effens en pla onderliggend ’n bietjie. Hier en daar vergoed dieperliggende beskouings van ’n volwasse Carli, wanneer sy meer oor die verskille tussen haar en Wimpie deel, wel in ’n mate hiervoor.

Wat die karakterisering van die milieu aanbetref, word die gees van ’n korrupte kleindorpse samelewing knap vasgevang. Wat egter veral opval, is die wyse waarop Le Roux te werk gaan om die ongerepte en idilliese plaasruimte te ontluister. Deur middel van personifiërende beskrywings ontwikkel Grootvlei deur die loop van die roman as ‘t ware tot ’n afsonderlike karakter. Maar iets van die plaas se vroeë onskuldige en bekoorlike karakter ontbreek. Dit is immers op sý stoepe wat die kleintydspoke vir Carli jaag, onder sý grond wat daar ’n onrustigheid skuil en op sý grond wat te veel offers gevra word (1, 36, 86). So verkry die bekoorlik-eenvoudige plaasruimte ’n treurige dimensie waar daar te veel trane val (99). Dit was ook vir my treffend wanneer Carli amper digterlik beskryf hoe die mooi op Grootvlei vir haar uitgeloop het. In die geheel beïndruk die wyse waarop daar ’n unieke soort personifiërende outentisiteit aan die treurige plaasruimte verskaf word.

Dit is egter by die ontwikkeling van haar menslike karakters waar Le Roux soms teleurstel. Hoewel Carli ’n komplekse, maar ’n geskakeerde en dimensievolle karakter is, is daar ’n stereotiepe eendimensionaliteit wat aan die ander Afrikaanse blanke karakters kleef. Carli se pa word van die begin af as ’n afstootlike karakter voorgestel wat die leser skok en vervreem deur sy wrede, ongevoelige en barbaarse gedrag. Daar is wel goeie rede vir dié tipe uitbeelding.

Nietemin kan ’n mens nie anders as om ’n bietjie kop te krap oor die feit dat al die ander Afrikaanse blanke karakters deur die bank as onbegrypend, skynheilig, kleingeestig en ongevoelig voorgestel word nie. Is die Afrikaanse prosa nie al oorversadig aan hierdie tipe voorstellings nie? Dit is asof daar by almal – Oudominee, die sersant en sy gesin, die skoolhoof en selfs die dokter – sprake is van ’n morele bankrotskap.

’n Meer genuanseerde voorstelling sou vir ’n meer gebalanseerde, asook ’n vernuwende perspektief kon gesorg het. Die stereotiepe voorstelling is immers verouderd en herinner aan ’n era in die Afrikaanse prosa waar karakters van verskillende rasse dikwels in terme van binêre opposisies (goed versus sleg) uitgebeeld is. Die gebrek aan genuanseerdheid skend ook die betroubaarheid van ’n reeks gebeurtenisse binne die intrige. Dit was nie vir my baie geloofwaardig dat Dora, Evelyn en Siena as huisbediendes Carli se enigste vriende in haar skooljare was nie. Sy kon uit die aard van die saak goed met hulle oor die weg gekom het, maar dit was onnatuurlik dat daar nêrens van een ander vriendin of vertroueling sprake was nie. Nêrens word daar genoem dat sy hoegenaamd ’n ander meisie- of seunsvriend (behalwe Wimpie) êrens gehad het nie.

Daar is ook sprake van tonele in die roman waar die waarskynlikheid van gegewens minder seker blyk. Ma Bella deel byvoorbeeld aan die begin van die roman Ouma Maria se hartseer verhaal met Carli. Die verhaal bevat ontstellende gegewens, aangesien Ouma Maria selfmoord gepleeg het deur haar polse te sny. Aangesien Carli se ma dood is toe sy amper sewe was, moes sy dié tipe stories aan Carli meegedeel het toe Carli nog bitter jonk was. Sal ’n ma werklik so ’n jong kind aan sulke grusame besonderhede oor die familie (wat hulle maar eers later kan hoor) blootstel? Dit is debatteerbaar.

Dit het ook soms gevoel asof Dora en Evelyn spieëlbeelde van mekaar kon wees. Hulle het net verskillende name. Beide haal dikwels net té herhaaldelik op dieselfde moedelose en soms prekerige manier uit Die Bybel aan. So sê Dora êrens aan die begin van die roman aan Carli dat niemand se sonde ongestraf sal bly nie. Later in die roman is dit opvallend en bietjie hinderlik dat Evelyn omtrent woordeliks dié woorde van Dora teenoor Carli herhaal. Sodanige gevalle kom in die loop van die roman ’n paar keer voor.

In die geheel bly Die naamlose egter ’n roman wat jy nie onaangeraak op die boekrak sal terugsit nie. Hiervoor sorg die fassinerende intrige, die gepersonifieerde outentieke milieu en skerpsinnige fokalisasiekeuses. Aan die einde kom die roman ook met ’n paar onvoorsiene en verrassende ontknopings vorendag wat vir ’n heerlike onvoorspelbare element sorg. Ten laaste is dit ook die boeiende emosionele reis wat tot die aanwinsstatus van Die naamlose vir enige boekrak bydra. Die roman kan aanklank vind by ’n wye lesersmark wat van spanningsvolle dramas tot lekkerlees-literatuur hou.

The post Die naamlose deur Mariël le Roux: ’n resensie appeared first on LitNet.

Paaie van hoop deur Nadia Beukes: ’n onderhoud

$
0
0

Paaie van hoop
Nadia Beukes

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320117

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Nadia Beukes gesels met Liné Enslin oor Paaie van hoop.

Hallo Nadia. Baie geluk met die verskyning van jou boek! Ek sien dat jy die boek onder andere aan die Dinamiese Dames opdra. Wie is die Dinamiese Dames en watter invloed het hulle op jou lewe gehad?

Baie dankie vir die gelukwense. Die Dinamiese Dames is ’n groep van vyf vriendinne wat saam drome deel en dinge doen – als van teepartytjies tot konserte, mekaar ondersteun in moeilike tye en saam oorwinnings en sommer net die lewe vier. Ons is hartsvriendinne: ek, Edrien Erasmus, Soné Combrinck, Marisa Drummond en Melissa Swart. Dit is dames wat my hart ken, my altyd onderskraag en my ’n beter mens maak. Ek kan maar net hoop dat ek vir hulle ook soveel kan beteken as wat hul vir my beteken.

Jy sê in jou boek dat jy hardkoppig is en reeds van kleintyd af alles bevraagteken het. Het jy al bevraagteken hoekom slegte dinge met mense gebeur, en ook waar dit vandaan kom?

Ek dink die meeste van ons vra maar daardie tipe "groot vrae", veral as die lewe ooglopend onregverdig voorkom. Ek wens ek kon sê ek het die antwoorde, maar ongelukkig het ek beslis nie. Tog het ek op my pad al gevind dat die vrae nie noodwendig altyd ’n antwoord het nie en dat sommige dinge in die lewe aanvaar eerder as verstaan moet word. Met dit gesê, het ek ook al geleer dat God nie iets oor my pad sal laat kom waarvoor ek nie toegerus is nie en dat dinge op die ou einde ten goede sal meewerk.

Ek lei uit jou boek af dat jy iemand is wat emosies nie net halfpad ervaar nie – jy ervaar hartseer, opgewondenheid, verliefdheid, geluk, alles met dieselfde intensiteit. Is dit ’n moeilike eienskap om te hê? En hoe gebruik jy dit tot jou voordeel?

Soms dink ek dit is ’n voorreg om my emosies so intensief te ervaar, en dit het in my loopbaan al vir my baie beteken omdat dit my toelaat om opreg met die emosies van die karakters wat ek vertolk te kan identifiseer – ’n tipe empatie met die karakters te ontwikkel. En natuurlik is iets soos geluk wonderlik om in die oortreffende trap te ervaar. Dit is egter as dit kom by die swaarder emosies dat ek soms wens ek kon dit eerder onder ’n mat invee en aanbeweeg, maar dit is nie wie ek is nie. Ek het al geleer om vir myself oomblikke van hartseer of kwaad of teleurstelling te gun, sodat ek dit kan probeer verwerk en verstaan en vroeër eerder as later kan opstaan en aangaan, hopelik met ’n les wat ek uit daardie ervaring geleer het. Ek het vir baie lank die negatiewe dinge probeer vermom, maar dit het my nie veel gebaat nie. Inteendeel het ek gevind daardie donker tye laat die goeie tye se lig selfs meer helder skyn.

Jy vertel in jou boek dat optredes maklik is, omdat daar ’n teks is en ’n regisseur wat vir jou sê waar jy moet staan en hoe jy moet optree. Die lewe is egter nie so eenvoudig nie. Hoe moeilik is dit om jou innerlike worsteling agter kostuums en grimering te verbloem? En waar kry jy in die werklike lewe raad en leiding oor wat om te doen en watter rigting om in te slaan?

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe kosbaar ware vriende en naby familie is. Daardie mense wat jou aanvaar vir wie en wat jy is en jou altyd en onvoorwaardelik ondersteun, in goeie en slegte tye. Dit is daardie mense wat ek vertrou vir raad en leiding. My man David, my ouers, my hartsvriende en ook my agentskap Talent-etc, wat my nog altyd ondersteun in my loopbaan en lewe. Meer onlangs het ek met die skryf van Paaie van hoop met ’n uitgewer en medeskrywer, Jana van der Merwe, gewerk en dit was so lekker om veilig te voel by hierdie mense wat my met soveel geduld deur die skryf van hierdie boek gelei het. Wat my werk as aktrise betref, het ek al regtig met ongelooflike mense agter die skerms gewerk, mense wat my so veilig laat voel dat ek nie juis my eie gevoelens verbloem deur karakters nie, maar eerder juis daardie gevoelens gebruik om met ’n karakter of storielyn te identifiseer, en dan word my werk ’n tipe uitlaatklep wat ek altyd met eerlikheid en integriteit probeer aanpak.

Was dit vir jou moeilik om weer al die kronkelpaaie, kruispaaie, snelweë en bergpasse van jou emosionele en geestelike lewe te konfronteer toe jy die boek geskryf het? Was die proses van boekskryf ook nog ’n pad wat jou na ’n beter plek in jou lewe gebring het?

Dit was soos ’n tipe terapie om weer al die paaie wat die lewe al met my geloop het, te gaan besoek tydens die skryf van hierdie boek. Ek voel of ek opnuut weer iets van myself geleer het deur die skryfproses, of ten minste herinner is aan die lesse wat ek al op my pad geleer het. By sommige plekke of paaie het ek vasgehaak en opnuut besef wat ek al als in die lewe geleer het. By ander paaie het ek net vinnig gestop, want ek het al so ver aanbeweeg van daardie tye af, maar juis dit het my ook opnuut herinner aan God se genade en die deurlopende tema van hoop wat ek konstant in my eie lewe ervaar. Dat die tyd genees en dat God werklik alles ten goede laat meewerk. Natuurlik het dit ook baie gehelp om my medeskrywer as ’n objektiewe gids te hê om my deur die roetes van my verlede te lei, deurdat sy ’n tydlyn vasgestel het en altyd insiggewende vrae aan my gestel het wat my dan dienooreenkomstig na die antwoorde en ook die woorde in die boek gelei het. Saam met Jana en Susan Breytenbach by Lux Verbi kon ek eerlik my stories en staaltjies deel met die hoop dat lesers daarmee sal kan identifiseer en so ook herinner word aan die hoop in hul eie harte.

Wat was die grootste uitdagings?

Vir my was die grootste uitdaging om by die sperdatums van die inlewer van elke hoofstuk te bly. Daar is altyd nog iets wat jy kan of wil byvoeg, en natuurlik altyd ruimte vir verbetering, maar ek moes leer om die uitgewer te vertrou en braaf genoeg te wees om my gedagtes uiteindelik met Jana, Lux Verbi en hopelik heelwat lesers te deel. Ek noem ook in die boek dat ek werklik nie dink dat my stories uniek is nie, maar dit is uniek tot my en ek het nou hierdie platform gekry om my verhaal te deel, dus is my grootste wens is dat die persoon wat dit lees, ’n tikkie inspirasie daaruit sal put.

Jy noem dat dit belangrik is vir iemand om die regte passasiers te kies vir hulle pad. Hoe onderskei mens? Hoe weet jy wanneer die mense in jou lewe goeie of slegte passasiers is? Of vind jy dit maar na die tyd uit?

Ek glo ’n mens weet eintlik altyd wat reg en verkeerd is; soms kies ons net om nie te luister na ons intuïsie nie, en dit kan om verskeie redes wees. Dalk is ons bang, dalk voel ons ons verdien nie beter nie, dalk is daar nie op die gegewe oomblik enige ander opsies nie. Tog is daardie stemmetjie altyd daar, en ek glo dit is die Heilige Gees wat vir ons die waarheid fluister, en as ons kan leer om daardie intuïsie, sesde sintuig, stemmetjie of waarheid te begin vertrou sal ons weet wanneer iets, of dan nou iemand, nie reg "voel" nie. Ek het ook al geleer voordat jy enige binnestem kan vertrou, moet jy eers jouself vertrou, weet wie jy is, wat jy wil hê en deur dit als, jouself leer liefkry en vir jouself geluk gun. Almal van ons verdien om gelukkig te wees en as jy braaf genoeg is om ’n kans op geluk te vat, glo ek die lewe sal jou die meeste van die tyd met sakke vol vreugde verras. 😉

Jy is al deur trauma, egskeiding, depressie en baie ander moeilike tye. Hoe kom mens heel aan die anderkant uit? Het jy miskien ’n gunsteling-aanhaling uit jou boek waarmee jy die vraag kan beantwoord?

Die feit dat ek vandag hierdie boek en my pad tot hier met mense kan deel, staan as ’n getuienis van God se genade. Daar was beslis al tye in my lewe waarin ek nie enige lig aan die einde van die tonnel kon sien nie, maar ten spyte van myself het daar uiteindelik wel ’n lig verskyn en het ek besef daar is altyd hoop – soms kom dit net nie soos en wanneer ons dit verwag of wil hê nie, maar dit is uiteindelik altyd daar. Hou uit, hou aan, droom groot en wees braaf ... "You have the seed of greatness within you ... Bloom where you are planted."

The post Paaie van hoop deur Nadia Beukes: ’n onderhoud appeared first on LitNet.


Per ongeluk deur Lloyd Zandberg: ’n onderhoud

$
0
0

Per ongeluk
Lloyd Zandberg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082552

Skrywers oor hul nuwe boeke. Lloyd Zandberg beantwoord Liné Enslin se vrae oor per ongeluk.

Hallo Lloyd. Baie geluk met jou debuutpublikasie! Vertel ons asseblief kortliks wat lesers te wagte kan wees wanneer hulle jou bundel optel.

Baie dankie. Kenmerkend van my skryfstyl is eenvoud, en dis ook te sien in die manuskrip. Ek glo ’n boek moenie moeite wees nie. As ek die eerste sin van ’n boek lees en daar is twee woorde in die eerste sin wat ek nie kan uitspreek of verstaan nie, frustreer dit my. En die hartseer deel is: dan verloor ek belangstelling. Ek moes myself al met baie rooiwyn troos om net deur die eerste paragraaf van sekere boeke te kom. Boeke was (en is vandag nog) vir my intimiderend. Veral as hy so dik soos die Wêreldspektrum is of as ek moet notas maak om kop te hou oor wie waar in die verhaal inpas. So ek het besluit om iets lekker, eenvoudig, eerlik en naïef te skryf. Maak nie saak hoe oud jy is of wat jou gunstelingkos is nie, jy sal jouself met iets in die boek kan vereenselwig.

Per ongeluk is ’n versameling stories wat in kombuis-Afrikaans geskryf is. Dieselfde tipe Afrikaans wat jy met jou ma, oupa, oom, niggie of nefie sou praat. Ek hou dit eenvoudig, juis vir die ouens, soos ek, wat nie ’n graad in letterkunde het nie. Ek wou nie mense impress met wonderlike woordkeuses en ander taalkundige tricks nie. Die meeste lesers sal die boek maklik in een aand kafdraf, behalwe as jy vroeg gaan slaap. Jy hoef nie matriek agter jou naam te hê om die boek te verstaan nie. Ek het dit vir mense geskryf wat nie van lees hou nie, want ek weet hoekom hulle nie lees nie. Ek het basies alles wat ek in ’n boek wil hê, ingewerk.

Eerlikheid is vir my ’n groot ding. Iemand het vir my gesê dis omdat ek so eerlik is dat Per ongeluk so snaaks is. Sy’t gesê haar tandvleise het begin jeuk van die lag. As jy van lag hou, en veral om vir jouself te lag, is dit die boek vir jou. Jy gaan vir jou seer lag – oor doodgewone goed.

Die voorblad van jou bundel is baie besonders! Hoe interpreteer jy die beeld? Het jy enige insette in die ontwerp gehad?

Ironies genoeg het ek reg aan die begin, toe die manuskrip nog soos ’n ou mop was (stukke hier en daar), gedink ek wil ’n spesifieke kleur op die voorblad hê. ’n Vriendin van my se gunstelingkleur is geel. Sy het altyd iets geel aan. En dit lyk vir my mooi. En ek hou baie van haar. Toe besluit ek in my agterkop dat ek iewers geel soek. Toe dit op die punt kom waar ons die voorblad moet bespreek en ontwerp, het Tertius, my uitgewer, vir my gesê hy ken ’n vrou, Maja, van Pole, wat mooi maak. Ek was verlede jaar Desember in Pole en het baie daarvan gehou. So, toe ek hoor die vrou in Pole sal vir my iets uitwerk, was ek onmiddellik opgewonde. Ek hou van alles in Pole.

Tertius het ’n paar dae later vir my ’n idee gestuur en toe ek dit oopmaak, het ek ’n bietjie flou geword. Dit was net geel waar jy kyk. Dit was asof iemand my gedagtes kon lees. Die pynappel het geen motief nie. En hoekom moet hy in elk geval een hê? Dit is ’n pragtige vrug en hy smaak agter die oor. Tussen my, Tertius en Maja het ons hier en daar ’n dingetjie verander. Byvoorbeeld die man se silhoeët was oorgewig, toe vra ek of iemand hom nie bietjie maerder kan maak nie. Netnou dink die mense dis ek!

Waar kom jou idees vandaan? Wag jy vir iemand om iets snaaks te sê of doen, of sien jy as’t ware elke situasie deur die lens van humor?

Die meeste van my stories is op die werklikheid gebaseer. En dan kleur ek dit so ’n bietjie in met ander snaakse goed wat met my of die mense om my al gebeur het. Ek kan na aanleiding van ’n enkele woord wat iemand sê, ’n hele storie skryf. Mense het my nog altyd snaaks gevind, hoewel ek dink ek is flou en boring. Maar toe besef ek ek is altyd besig om mense te vertel wat met my of met iemand wat ek ken, gebeur het. En dis altyd vir my snaaks. Ek dwing myself om dit so te sien. Dit hou my lewe opwindend en eenvoudig.

 

Watter ander skrywers se werk lees jy graag? Vind jy dat die lees van ander se stories ook jou eie skryfwerk beïnvloed?

Ek hou van enigiets wat my laat lag. Of boeke waarmee ek my kan vereenselwig. Al is dit een woord of ’n sin – as ek lag, het jy my. Ek lees graag gedigte. Van my gunstelingskrywers is Jeremy Clarkson, Pablo Neruda, Nataniël, Leonard Cohen, Bob Dylan, Jeanne Goosen en Odette Schoeman. Ek put gereeld inspirasie uit ander se skryfwerk. Ek kyk wat in die boek vir my lekker of mooi was en dan vind ek uit hoekom. Dan probeer ek dit by my stories inwerk. Ek het groot bewondering vir iemand wat mens met woorde kan move. Ek kan byvoorbeeld nie Nataniël se werk lees voor my blaas nie leeg is nie. Ek lek partykeer as ek sy stories lees.

Wanneer en hoekom het jy begin skryf?

Ek kan nie aan ’n spesifieke oomblik dink wat ek begin skryf het nie. En wat is skryf? Is dit wanneer jy agter ’n lessenaar sit en woorde in ’n spesifieke volgorde sit sodat dit sin maak? Ek skryf die heeltyd stories in my kop. Ek kan na ’n hond kyk en al begin dink aan ’n lekker intrige. Ek sit met omtrent 10 boeke hier iewers tussen my breinlobbe. Ek het eintlik nog altyd dinge neergeskryf wat vir my interessant was en dan weer daarvan vergeet. Later sal ek dan die moeite doen om dit te skryf.

Ek beskou myself nie as ’n skrywer nie. Daarvoor is ek te kommin. Skrywers lyk anders as ek en hou van sekere goed. Ek rook cheap sigarette en dra nie eers ’n bril nie. Ek lyk meer soos ’n verkoopsman as iemand wat weet hoe die taal werk. Ek skryf net sodat mense nie skaam hoef te voel oor goed wat met hulle gebeur nie. Ons is almal eintlik maar net tydelike bewoners van ’n planeet wat ons nog nie lekker verstaan nie. Ek wil mense vermaak. Die lewe is reeds erg genoeg. My stories is ’n manier om te ontsnap uit die gejaagde roetine van elke dag.

 

The post Per ongeluk deur Lloyd Zandberg: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Video en foto's: Bekendstelling van Op die spoor van

$
0
0

Die kortverhaalbundel Op die spoor van is Saterdag in Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel. Hierdie bundel, saamgestel deur Rudie van Rensburg, is 'n versameling speurverhale en van Suid-Afrika se grootste misdaadskrywers se verhale is daarin opgeneem. Van Rensburg het Saterdag gesels met die skrywers Karin Brynard, Tertius Kapp, Bettina Wyngaard, Henry Cloete, Martin Steyn en Frederick Botha.

Martin Steyn

Frederick Botha

Rudie van Rensburg

Bettina Wyngaard

Henry Cloete

Karin Brynard

Tertius Kapp

The post Video en foto's: Bekendstelling van Op die spoor van appeared first on LitNet.

Op die spoor van, saamgestel deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Op die spoor van
Saamgestel deur Rudie van Rensburg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082583

Een van die belangrikste ontwikkelings in die Afrikaanse boekwêreld die afgelope dekade of wat is die geweldige opbloei van die speurverhaal. Dus het dit net ’n flinke uitgewer gekos om die gaping raak te sien vir ’n bundel kortverhale in dié genre. Die oudkoerantman Rudie van Rensburg was ’n goeie keuse as samesteller, aangesien hy self een van ons voorste speurverhaalskrywers is.

Volgens die voorwoord lê die fokus van die verhale by die uitpluis van ’n misdaad en die spoor wat gevolg word om die skuldige vas te trek (of nie). ’n Versamelbundel het altyd ’n storie, en ’n mens sou tog graag wou weet hoe hierdie spesifieke versameling gekies is – of die skrywers spesifiek gevra is om ’n verhaal te skryf, en ook of daar ’n groter aanbod was as net hierdie keur van veertien verhale. Hoe ook al, die bundel bied ’n heerlike kaleidoskoop van stories, met goeie afwisseling in tema en skryfstyl.

In die meeste van die verhale speel ’n speurder die hoofrol, wat seker bevestig dat die dun blou lyn ons grootste toeverlaat teen misdadigers bly, maak nie saak hoe onbeholpe of korrup dit soms daaraan toe gaan nie. Van onbeholpe gepraat, Rudie van Rensburg se komiese verhaal “Hond se gedagte” handel oor die sukkelende pogings van so ’n speurder (met die ongelukkige naam Fanus Fokker), met ’n openingsin wat volpunte verdien: “Debra Dicks is vermoor.” 

Martin Steyn, alom bekend vir sy speurromans, het hom met die afgelope twee Woordfeesbundels bewys as ’n bedrewe kortverhaalskrywer. Hy lewer hier ’n aangrypende verhaal, “Sprokie vir ’n Plain-kind”, met ’n gesublimeerde pa-seun-verhouding en ’n slot wat jou tref soos ’n hou in die maag. Deborah Steinmair, eweneens bekend vir haar romans en ook met puik bydraes tot die Woordfeesbundels, se verhaal “Die nebbish” getuig van haar tipies aweregse benadering met ’n amateurspeurder vir wie “die DNS-dobbelstene nie so lekker geval het nie” – overgeset synde, hy is dom.

Nog ’n speurderstorie (en my gunsteling in die bundel) is Tertius Kapp se “Bon voyage” – kaptein Dino de Wet en sy kollega Vincent Weyers verdien sommer ’n hele boek van hul eie.

Die rubriekskrywer Johan Jack Smith sorg met “Die Goudveld-mamba” vir ’n onthoubare verhaal wat wys dat ’n breë algemene kennis vir ’n speurder net so waardevol is as vir ’n teksredakteur. Karin Brynard, nog een van ons gewikste speurskrywers, se bydrae is “Begrafnis vir ’n ongelowige”, ’n verhaal wat nes haar treffer Onse Vaders in ’n rykmansbuurt op Stellenbosch afspeel, kompleet met kolonel Vuvu Quebeka as die kookwaterspeurder.

“Norooz” deur Bettina Wyngaard, met ’n Koerdiese vryheidsvegter en ’n Interpolagent as speurspan, het ’n besonder interessante agtergrond en ’n puik slot, maar die begin word bederf deur onnoukeurige fokalisering – ek moes die eerste bladsy nog ’n keer lees om die twee karakters in dialoog van mekaar te onderskei.

Interessant genoeg handel twee van die verhale oor broers: Zirk van den Berg se uitstekende “Braaiboet” en Francois Smith se “Portapool”. Laasgenoemde is ’n fyn, gedetailleerde verhaal, maar ly aan ’n te obskure slot – in die sin van Abraham H de Vries se definisie dat die slot ook ’n sleutel moet wees wat die verhaal oopsluit.

Henry Jack Cloete se oorspronklike en grieselige “Die vlieg in die salf”, Frederick J Botha se “Vryheid” en Carien Smith se “Verslag oor ’n ring” verteenwoordig die jonger garde met verhale waarin kommunikasietegnologie en sosiale media ’n sentrale rol speel. Botha en Smith het al twee gedebuteer in die Nuwe Stories-bundels en is jong skrywers om dop te hou.

Nathan Trantraal is nie net ’n uitstaande digter en rubriekskrywer nie, maar bewys hom hier ook as kortverhaalskrywer met “Winston”. Die verhaal is ’n herbesoek aan die vroeë 1990’s en gee ’n binneblik op die skrikbewind van Mitchells Plain se stasiemoordenaar.

Die bundel sluit met “Die geval van die onsigbare moordenaar” deur Kerneels Breytenbach, ’n lekker komplekse verhaal deur ’n ervare persoon in die skryfbedryf.

Op die spoor van is nommerpas vir speurstorievrate, maar behoort ook in die smaak te val van alle liefhebbers van die kortverhaal.

Foto van Rudie van Rensburg: Brenda Veldtman

The post Op die spoor van, saamgestel deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Word ’n boekfluisteraar

$
0
0

Bennie Boekwurm en Louise Smith

Mense verklap hulle ouderdom wanneer hulle spontaan die kenwysie van Wieliewalie begin sing, tog is dit presies wat gebeur het toe Bennie Boekwurm hom kom tuismaak by ’n werkswinkel oor die rol van biblioteke in die onderwys. Die geleentheid het plaasgevind op 14 Junie 2017 by die Laerskool Welgemoed in die Kaap. Meer as 100 mense het dit bygewoon.

Haas Das en Louise Smith

Haas Das was ook daar, so ook die skrywer, Louise Smit, wat verantwoordelik is vir die ontstaan van hierdie twee karakters.

Die oorkoepelende tema van die geleentheid was: “Word ’n boekfluisteraar”.

Die Wes-Kaap-onderwysdepartement, die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, LAPA Uitgewers en NB Uitgewers het die werkswinkel ondersteun en het deelgeneem.

Chareldine van der Merwe

“Ons glo daar is ’n boek vir elke mens,” het Chareldine van der Merwe van die VVA verduidelik. “Biblioteke is die plekke waar ’n mens daardie boek kan ontmoet. Daarom is mense wat in biblioteke werk, boekfluisteraars.”

Talle biblioteekmense het kom verduidelik hoe hulle leerders en boeke by mekaar laat uitkom. Aan die een kant is pret beklemtoon (en pizza!), maar hierdie opmerking, per e-pos ná afloop van die geleentheid, som waarskynlik die gebeure ten beste op:

My terugvoering aan die skool was dat ek besef het dat al die bibliotekarisse wat as sprekers opgetree het, die woorde “veilige hawe” gebruik het! Toe ek afgekyk het op my notas het ek ook die woorde “veilige hawe” daarin raakgelees! – Stephanie van Wyk, Laerskool Mikro

Van Wyk was een van die sprekers. Vier ander skoolbibliotekarisse het ook deelgeneem. Praktiese raad is gedeel, soos toe Janine de Villiers van die Laerskool Welgemoed verduidelik het dat ’n grootmens plat op die grond moet sit om die biblioteek te sien soos die heel jongste leerders dit ervaar.

John Nicholson, wat saam met sy vrou ’n biblioteek in hulle agterplaas gestig het om die kinders van Lavender Hill van die straat te hou, het voortborduur op die tema van ’n veilige hawe. John kon trots verwys na ’n aantal mense wat vandag geleerdheid het omdat hulle geborge gevoel het in daardie agterplaasbiblioteek en só begin lees het. Nicholson is verlede jaar vereer met ’n ATKV-Veertjie vir sy groot werk om lees in Lavender Hill te bevorder.

Bellville se openbare biblioteek het ook baie moeite gedoen om meer tienervriendelik te word. Dit het gewerk en hulle is baie trots daarop dat daar elke weeksdag 300 of meer leerders in die biblioteek kom huiswerk doen en oplees.

Sprekers van die Wes-Kaap-onderwysdepartement het beklemtoon dat dit wat by Bellville gebeur, ook elders in die Wes-Kaap plaasvind, al is dit op ’n kleiner skaal.

Die departement was baie eerlik oor die finansiële dilemmas waarmee hulle sit, maar het ook moeite gedoen om onderwysers daarop te wys dat hulle wel hulpbronne beskikbaar het. “Kom praat met ons, ons wil julle help,” was die boodskap.

Spontane applous het losgebars ná ’n kort video gespeel is oor die biblioteekbus wat 11 skole naby Rawsonville bedien. Hierdie bus, die bibliotekaris en die bestuurder, word gefinansier deur plaaswerkers op die 22 plase wat druiwe aan Du Toitskloof Kelder lewer. Dít is ’n voorbeeld van die privaatsektor wat hande vat met omliggende gemeenskappe, want Du Toitskloof Kelder het Fair Trade-akkreditasie en dit beteken dat ’n bedrag geld van elke bottel wyn wat verkoop word, teruggeploeg word na werkers.

Middagete is voorsien deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, die twee baaskokke van Bonteheuwel wie se kookboeke so suksesvol deur LAPA uitgegee is.

Ná ete het die skrywers Louise Smith, Wendy Maartens en Edyth Bulbring gesels.

Dit was ’n besonderse geleentheid waar mense wat almal lief is vir boeke, kon koppe bymekaarsit. Lana van der Westhuizen van die Parel Vallei Hoërskool in Somerset-Wes, het geskryf: “Ons almal daar was soos droë sponse wat net alles opgesuig het. Ek het soveel geleer en dit was heerlik om die ander mense in my veld te ontmoet en inligting uit te ruil. Ek hoop regtig dat dit nie die laaste keer was nie."

Foto’s van die sprekers, in volgerde van optrede

Timothy Cloete (WKOD)

Marianne Serfontein (WKOD)

Helen Johnston (WKOD)

Aubrey Africa (WKOD)

Lona Gericke (afgetrede bibliotekaresse)

Janine de Villiers (Laerskool Welgemoed)

Maryna van Zyl (Laerskool Eversdal)

Stefanie van Wyk (Laerskool Mikro)

Erika Lourens (Laerskool Eikestad)

Venessa de Beer (Hoër Meisieskool Bloemhof)

John Nicholson (’n agterplaasbiblioteek in Lavender Hill)

Christelle Connor en Christelle Lubbe (Bellville Openbare Biblioteek)

Louise Smit (skrywer)

Wendy Maartens (skrywer)

Edyth Bulbring (skrywer)

The post Word ’n boekfluisteraar appeared first on LitNet.

Firepool by Hedley Twidle: book launch

Viewing all 1319 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>