Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1319 articles
Browse latest View live

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die fortuinsoekers deur Lerina Erasmus

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Lerina Erasmus

Lerina Erasmus is gebore in Namibië en studeer drama aan die Universiteit van Pretoria. Sy is bekend as aktrise en is die skrywer van Die Mannheim-sage, wat in 1986 vir televisie verwerk is. Lerina is getroud met Günter Schmikal en woon in Johannesburg. Die leliemoordenaar is haar eerste boek sedert die verskyning van Die Mannheim-sage.

Foto: Robert Hamblin


Opsomming

Die Mannheim-sage 1: Die fortuinsoekers
Lerina Erasmus

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174558

Dis die goudstormloop van die 1880’s. Hebsug, verraad en passie is aan die orde van die dag.

Beeldskone en onafhanklike Deborah von Albein word gedwing om hul familieplaas in die Karoo te verlaat en verhuis na Johannesburg. Te midde van onrusbarende uitdagings – onder meer die dood van haar ma, die
verantwoordelikheid om na haar oppasser, Ma-Fytjie, en haar broer om te sien – moet sy kies tussen Kit Malloy, ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar, en Karl Mannheim, eksentrieke erfgenaam van die Mannheim-fortuin.

Malloy se ambisie kom hom egter duur te staan wanneer sy onderhandelinge met Paul Kruger bots met die ideale van Cecil John Rhodes. En Karl Mannheim se obsessie bereik ’n breekpunt wanneer hy besef dat Deborah
se hart net aan een man sal behoort.

Onvermydelike konfrontasies volg. En so begin die drieluik van Die Mannheim-sage ...


Uittreksel

Die voshings steier verwoed op sy agterpote. Sy voorhoewe klief die lug. Hy probeer desperaat om ontslae te raak van die ruiter wat sy wil na hare wil dwing. Die stang byt ’n oomblik lank in sy bek. Sy oë rol wild. Hy runnik rasend. Dan hoor hy die ruiter met hom praat.

Haar stemtoon is gerusstellend.

Onverwags gee die ferm jong hand wat die teuels vashou die perd speling. Verward skiet hy vorentoe in ’n dawerende vaart na vryheid, onwetend dat dit reeds buite sy bereik lê.

Deborah von Albein buig laag oor die perd se nek waarop die salpetervlekke nou kollerig begin uitslaan. Sy weet sy het gewen. Sy weet sy het die vurige dier onderwerp aan háár wil. Sy haat die woord “inbreek”. Die stuwing van sy spiere tussen haar bene maak haar onverklaarbaar opgewonde. Haar rinkelende lag klink op bo die gedawer van die voshings se hoewe. Ruiter en perd word een in hulle vaart om en om die perdekamp. Hulle spoed skeur die wind, wat weerwraak neem deur die jong meisie se hare los te ruk sodat dit vlasblond om haar gesig en skouers wolk.

Deborah se mond is na aan die hings se platgetrekte ore.

“Vinniger! Vinniger!” por sy hom aan.

Nog twee maal om die perdekamp. Die jong vrou dryf hom aan met druk van knie en dy. Die dier se breë bors hyg. Hy raak vaagweg bewus van ander stemme wat aanmoediging skreeu. Dan voel hy die ligte pluk van die stang in sy bek, en hy weet verlig sy hellevaart is vir eers oor.

Deborah bring die hings geleidelik tot stilstand. Sy spring af en streel oor die moeë, geboë nek. Sy lig sy kop op en kyk hom vas in sy bloedbelope oë. In dié oomblikke van oogkontak word ’n hegte band gesmee tussen perd en ruiter. Hy laat haar gelate toe om die teuels oor sy kop te swaai. Sy lei hom na die houtreling, waar twee ander mense wag.

April Sardyn, die stalkneg van Sorgenfrei, klouter flink deur die tralies om die nuwe perd te gaan koudlei. Heinrich von Albein kom orent waar hy langs April teen die hek geleun het. Daar is ’n onmiskenbare uitdrukking van trots op sy gesig.

Hy wag vir sy dogter wat nog met hul getroue ou perdeman staan en praat.

Daar is min jong kêrels in die hele kontrei van Graaff-Reinet wat hulle sit só op ’n perd kan sit, en dit boonop op dié vurige voshings!

Is dít dalk die rede waarom Deborah so min trek het vir die klompie vryers wat deurentyd rede soek om te kom kuier? Maar dan was sy dogter van meet af aan van ’n ander stoffasie gemaak as hulle.

Heinrich onthou nog die nag van haar geboorte soos gister. ’n Helder ster het dié nag verskiet. Van die bruin mense het dit as ’n voorteken gesien en voorspellings gemaak oor die kind se toekoms. Hy het daaroor gelag.

Heinrich het haar grootgemaak om die grond lief te hê. Sy meisiekind met die vlasblonde hare en donker Von Albein-oë het hom nie teleurgestel nie. Haar liefde vir Sorgenfrei word net deur sy eie geëwenaar.

Deborah was ’n nuuskierige, leergierige kind. Dit het almal wat met haar onderrig belas was plesier verskaf. Haar goewernantes was dit almal roerend eens dat sy verstandelik ’n buitengewoon begaafde meisie is. Heinrich het hulle opdrag gegee om haar nie net Latyn,

Frans en Duits te leer nie, maar ook algebra en meetkunde. Hy het haar self later leer boekhou, en was opnuut verras deur die kind se logika en vinnige begripsvermoë.

Deborah het beslis ’n sakebrein. Met haar vernuf sal sy nie vir een van die boere in die kontrei hoef terug te staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.

Heinrich het Alisha se teregwysings dat hy hulle dogter mannetjiesagtig opvoed, tog ter harte geneem. Daarom het hy sy vrou selfs gesteun in haar pogings om die soms onwillige Deborah te skool in etiketreëls en die sosiale verfyndhede wat so eie aan Alisha is.

Alisha is ’n uitmuntende pianis en het Deborah ook klavierlesse gegee, maar tot haar spyt het die kind geen trek gehad vir elegante salonmusiek nie. Die kind se lenige, jong hande wou veel eerder die drif van ’n Beethoven, uiters onvroulik volgens Alisha, verklank. Sy moes later maar kopgee en aanvaar dat Deborah nie haar musieksmaak deel nie.

Heinrich maak die hek oop vir sy dogter. Die wind en opwinding het ’n blos op haar gesig gelaat. Haar donker oë skitter van genot toe haar pa haar styf teen hom vasdruk. Sy lag.

“Vanjaar trap ek en dié vosperd almal op die skou uit! Dis darem ’n vurige dier, Pa! April dink ons moet hom met Fleur laat paar.”

“Jy’t voorwaar knap gedoen, my meisiekind!” Hy vee die weerbarstige hare weg uit haar gesig en glimlag tergend. “Ek weet nou nie of jy dit so beplan het nie, Deborah, maar jy’t my al weer omgerokkel . . .”

“Wat meen Pa?”

“Die hings is joune.”

“Pa! Bedoel Pa dit?”

Hy knik geamuseer. Haar berekende onskuld is tog so bekoorlik.

Hy is oortuig dat sy met opset die perd voor hom ingebreek het omdat sy gewéét het haar vertoning sou die deurslag gee. Hy hou egter sy gedagtes vir homself en verlustig hom in sy dogter se reaksie. Deborah slaan haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen.

“Dankie, liefste Pappa! Ek gaan hom Vlam noem!”

Heinrich haak by sy dogter in. Sy is al amper so lank soos hy.

“As jy só aangaan, neem jy ál my pronkperde af!”

Sy kind se helder lag laat sy hart warm klop.

Hulle begin koers kry met die skaduryke akkerlaan langs na die opstal wat nou met sy gewels rosig gebaai in die laatmiddagson staan.

Die reusagtige akkerbome ets fyn kantpatroontjies teen die afgewitte mure wat geslagte gelede deur Heinrich se voorvader gebou is toe hy hom as pionier op Sorgenfrei kom vestig het.

Dis aan daardie versiende eerste Heinrich te danke dat Sorgenfrei, in teenstelling met so baie van die ander plase in die kontrei, selfs in die dorste tye groen bly. Hy het die bergfontein se water laat opdam in die natuurlike holte wat laer af links van die opstal lê. Daardie dam is nou, tagtig jaar later, omring deur reuse-treurwilgers, Deborah se geliefkoosde wegkruipplek.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die fortuinsoekers deur Lerina Erasmus appeared first on LitNet.


Van plek-plek na Elders

$
0
0

Voet(pad)notas oor Erns Grundling se lang stap en lekker boek

Dis 17:50 op ’n Donderdag-laatmiddag en my digitale slimfoon biep my dat ’n WhatsApp my aandag soek. Ai, wat sal ons tog hedendaags sonder dié goed doen. Ek druk die groen knoppie met die foontjie op. Dis van Erns af: “Ek sit in die stil hoekie langs die bar by die painting van Joel Stransky se famous skop en ’n reeds saliger Joost wat arms in die lug die World Cup vier.”

Nog altyd ’n man wat die besonderhede en drama in alles kan raaksien. Hy sit met ander woorde in Gino’s, Stellenbosch, langs die groot muurskildery van die welbekende Wêreldbeker-moment van 1995. Ons afspraak is daar vir sesuur en Erns is 10 minute vroeg! Kyk, ek ken hom nou al ’n paar jaar langer as ’n dekade en soos ek nog altyd onthou, moes ’n mens maar jou geduld met die knaap hê. Hy was maar nog altyd soort van plek-plek die tyd kwyt. Hier vat, daar los, soos die Namakwalanders sê. Vra maar vir die verskeidenheid redakteurs vir wie hy al werk op deadline moes lewer.

Met dié dat hy plek-plek die weg soms effe byster raak, veral met die deadline-probleem, tesame met ’n liefdesteleurstelling, ’n swart hond op sy hakke en ’n algemene gatvolgeid, het hy besluit om iets daaraan te doen. Onfiks, oorgewig, onvoorbereid en beseer besluit hy dis die perfekte tyd om die Camino Francés in Mei 2015 te gaan stap. Ses weke lank en 1 025 km ver. Van 20 tot 40 km amper elke dag. Nie sleg nie, sy toestand in ag genome. En hy het verder besluit die proses is ook ’n digitale detoks – sonder rekenaar, slimfoon, kamera of horlosie.

Erns Grundlingh (Foto: Myburgh du Plessis)

Nou gesels ek met hom en hy vertel oor hoe hy hom tot in ’n Forrest Gump ingestap het, verby die eindpunt, die legendariese katedraal by Santiago de Compostela tot by Cabo Finisterra, of wat die vroegste pelgrims genoem het die einde van die aarde. Daar waar die land ophou en so ver die oog kan sien, jy net see sien. Gelukkig kon hy betyds daar omdraai.

“Hallo Erns,” groet ek hom met ’n man-hug. “Jy’s vroeg ...”

“Soms verras ek myself,” antwoord hy, “Nou-nou begin die deadline my mis …”

Ek het nog altyd van Erns se kop gehou. Sy humorsin. En dalk het sy geaardheid om laat te wees en deadlines te mis, wel verander na die Camino ...

Ek onthou die eerste keer wat ons ontmoet het, was by Barlinka-woonstelle reg langsaan Gino’s waar ons so pas loop sit het. Ek en hy was albei beoordelaars van die Rittelfees in Vredendal se plaaslike Idols in 2004. (Moenie vra nie ...) Hoe ook al, ek moes vir Erns sesuur die oggend by sy woonstel kry. Hy was dié oggend net ’n uur en 20 minute agter skedule.

’n Paar dae later, met ons Idols-deelnemers aangewys, is ons weer deur Vredendal toe vir die groot konsert. Elke local sou saam met ’n bekende muso sing. In die bussie was Anton Goosen, Piet Botha, Seranti Rheeders en Valiant Swart. Iewers langs die Weskuspad besluit die natuur dis tyd vir ’n noodstop. Die manne staan in ’n streep tussen die bossies langs die draad. Sonder enige onaanvaarbare blootstelling neem Erns ’n foto. Anton is baie prominent die heel naaste aan die kamera. Wydsbeen geplant.

“Ek gaan die foto op LitNet sit (Erns was toe SêNet-webmeester). As ’n kompetisie. Die beste onderskrif wen. Ek sal die vloer open met een,” grinnik Erns.

“En dit is?” wou ek weet.

“Daar’s ’n pis innie bos,/ maak hom los tokkelos ...”

Nou ja, die eerste bier is voor ons neergesit en ons het onsself los gepraat oor eertyd se dinge.

“Baie geluk met Elders, Erns. Dis ’n baie goeie boek. En ’n baie brawe, eerlike boek. Jy kruip nêrens weg met daai boek nie. Dis soos nou die aand. Ek het vir Zolani Mahola in ’n konsert hoor sing. Daar’s ’n hele band agter haar, maar een hele song sing sy sonder ’n noot begeleiding. Niks om agter weg te kruip nie. Nes sy, moet jy glo in wie jy is en wat jy doen as jy so oop en bloot wil staan. Hoe het mense na aan jou, soos jou ma-hulle, gereageer oor die blootstellinge waaroor jy in die boek skryf, of het hulle nie?”

“Ek is self nogal verbaas dat ek sover so min ‘flack’ kry van mense wat ek dalk verras, verbaas of skok. (Hy lag.) Miskien het ek hulle nie regtig geskok nie! Maar soos daai deel in die boek van die daggapitte – wat ek my ma laat glo het is saadjies vir my Zen-tuin – het ek geskryf nes ek dit onthou het. Dalk was sy nie so naïef soos wat ek moontlik gedink het nie. En ek het nog nie met haar daaroor gepraat nie. Die boek is vir hulle ’n groot verrassing. My pa het hom nou al van hoek tot kant deurgelees en ons het lekker daaroor gechat. Ek was verras dat daar nie iets was wat hom ontstel het nie. Ek het baie respek vir hom, want dis nogal erg as jou seun so ’n boek skryf, so bietjie close to the bone, en jy is dan basies ’n karakter daarin. Ek is baie bevoorreg dat ek met albei my ouers ’n hegte band het. Daar is blinde kolle, geraamtes en kak, maar nou ja, ons is mense. Yvonne Beyers, wat destyds joernalistiek saam met my geswot het, het van die begin af saam gelees. En aanhou aanmoedig: ‘Hou aan, jy is op die regte pad.’ Ek het geweet die Camino is die regte pad, Elders was die moeilike pad ...”

Erns met ’n kat in Rabanal del Camino

In dié stadium is ons biere op en die kelner wil weet of ons nog ’n koue gaan vat.

“Ja, wat, ek pas net my nuwe mantra toe,” reken Erns.

“Herinner my?” por ek.

“Walk it off ...”

Dié mantra het gekom na 17 dae op ’n dag wat Erns 23 km moes stap, maar toe dikneus verkoue was. So erg dat hy gedink het hy moet nou professionele raad kry. Waar hy kan. Al wie hy op daai oomblik kon vra, was Mike, die opsigter (’n Amerikaner van Michigan) van die vorige nag se herberg en ’n ou gesoute Camino-stapper. Erns wou weet of hy in die bed moet bly, ’n dag moet rus, dalk net ’n kort entjie stap. “Wat is die beste raad vir so ’n verkoue?” vra hy desperaat vir Mike. Lakoniese Mike gee Erns net een kyk oor sy mop en antwoord droog: “Walk it off.”

Van daar het dit Erns se leuse geword. Soos met die aankoms by die Cruz de Ferro, naas die Santiago de Compostela, die bekendste baken op die Camino – ’n nederige houtpaal met ’n ysterkruis bo-op. Die tradisie is dat pelgrims iets persoonlik daar los. Foto’s, briefies, selfs kledingstukke. By sy aankoms het Erns ’n lint met Suid-Afrikaanse vlaggies gevat en dit om ’n klip gedraai. Maar nie voor hy daarop geskryf het nie: “Walk it off.”

Erns en sy Duitse vriend Sebastian (Foto: Timna Kirshenbaum)

“Erns, jy is al lankal ’n Weg-joernalis en dus ’n reisskrywer. Nou het jy hierdie boek geskryf. Wat dink jy is die belangrikste – die behoefte om te reis en daaroor te skryf of die soeke na die self in die reis?”

Erns antwoord dadelik: “Die lewe is daar om gelewe te word. In die boek skryf ek oor oom David, my eerste sielkundige, wat my baie, baie geleer het, maar bowenal ’n gedagte van Goethe: ‘The point of life is life.’ Net dit. Jy kan jou kop breek oor wat met jou gebeur het, wat met jou aan die gebeur is of wat dalk met jou gaan gebeur, maar die Camino het my laat besef dat mens nie noodwendig moet dink aan die een kant of die ander nie, maar eerder albei.”

“So reisskryf en die soeke na die self is dieselfde?” daag ek.

“Dis alles die lewe. Dis die punt. Soos oom David gesê het: ‘Without it you’re missing the point.’”

Tevrede met sy antwoord lê Erns verder weg aan die hoederlewers en cauli-pizza wat ons bestel het. Op die Camino was ernstige Banting uit soos kan kom, maar terug by die huis gaan Erns sorg dat hy nooit weer 92 km weeg nie.

Ek kou klaar en skiet hom ’n volgende vraag: “Jy was op ’n digitale detoks. Sonder selfoon, rekenaar of kamera. En jy het aanvanklik gesê jy is nie op die Camino om te skryf nie, maar om jouself skoon te stap. Tog het jy na die tyd besluit jy het wel ’n storie om te vertel. En soos die goeie reisskrywer wat jy is, het jy die storie weergegee met ongelooflike besonderhede. Plekke, mense, afstande, geregte en vistas voluit beskryf. Hoe?”

“Ek het op g’n stadium gevoel ek móét blog nie. Ek het hierdie Moleskine-boekies saam gehad en partykeer, na ek lekker moer toe gestap was, na my siësta (wat een van die mees beskaafde aktiwiteite in die lewe is), dan het ek so eenkant gaan sit en sommer net geskryf oor die belewenis. Bloot om dit weer te belewe. Op ’n punt het ek ’n nota vir myself gemaak dat wat ek ook al sit en skribbel nie publiseerbaar is nie. In ‘Famous blue raincoat’ sing Leonard Cohen: ‘You’re living for nothing now/ I hope you’re keeping some kind of record.’ Ek hou van die idee van ‘some kind of record’. Ek het darem nie vir niks geleef nie. Ek het geleef vir stap, stap, stap. Walk it off ...

“Ek weet nie, miskien het ek met ‘some kind of record’ aan ’n Weg-artikel of -rubriek gedink. Dalk ’n gedig of vir die eerste keer in tien jaar weer ’n song. Beslis nog nie ’n boek nie. Later het ek tog besef ek het ’n storie om te vertel. Ek het aanvanklik gesukkel met die formaat van die boek. Ek wou dit nie skryf soos ’n gidsboek of een van Weg se praktiese, brood-en-botter-artikels nie, maar ook nou nie soos ’n esoteriese, selfhelp- en lewensmotiveringsboek nie. Daar was nie ’n Damaskus-ervaring skielik een aand nie ...”

Erns en Camino-vriende (Foto: Robert Purkarthofer)

Soos Erns gesels oor sy dubbelreis – een van 1 025 km en die ander van 80 000 woorde – besef ek dat wat inderwaarheid met hom gebeur het, is transformasie. Hier is ’n man wat van voor ’n reis tot ná ’n reis en van voor sy debuutboek tot daarna getransformeer het. Terug na homself toe. En hy hou van wat hy gekry het. ’n Ou angs, onsekerheid en onrustigheid het plek gemaak vir ’n rustigheid, aanvaarding en bewustheid van die tyd en plek van alles. Hy is baie Zen sonder om Zen te wees.

Die groot ding is, almal kan nie ses weke se tyd en geld bekostig om die Camino te gaan stap om daarby uit te kom nie, maar baie van die ervaring en gewaarwordinge kan mens kry deur Elders te lees.

Erns is lief vir aanhalings – van slim sêgoed tot gedigte en sielvolle songs se lirieke van groot waarseggers. Hy het dit nog altyd gebruik. Baie skrywers, veral reisskrywers, doen dit. Wat ek wel agtergekom het, is dat hy aan die begin van sy stap sulke aanhalings gesien het as iets wat iemand anders gesê het en dat dit weldeurdag en slim is, maar dat hy dan later dit wat hom as woorde beïndruk het, ’n werklikheid en deel van sy lewe gemaak het. Aan die begin van die Camino (en dus vroeg in die boek) by ’n herberg in Beilari lees hy byvoorbeeld ’n aanhaling van Boeddha: “There is no way to happiness. Happiness is the way.” Dit is baie toepaslik en het groot indruk op hom gemaak. Na aan die einde van die boek verwys hy weer na daardie woorde en die leser besef die woorde is nie meer voor sy oë nie, die happiness is in sy hart.

Op pad na Finisterre (Foto: Timna Kirshenbaum)

So kom ons biere, pizza en gesprek heel te gou aan ’n einde. Erns weier dat ek huis toe Uber en in ruil vir die saamrygeleentheid bied ek aan om vir hom twee reisboeke (Peter Moore se Wrong way home en Paul Theroux se Dead hand) wat in die gesprek ter sprake gekom het, en wat ek aan huis het, te leen.

Hy stop in die oprit en saam stap ons huis se kant toe. Ek kry gou die twee boeke en terwyl ons ’n loopdop drink, hoor ons ’n slag buite en glas wat spat. Ons hardloop uit, net betyds om te sien sy Jimny se agterruit lê versplinter op die grond. Erns se werksak met sy laptop, hardeskyf, notaboeke en sy eie eksemplaar van Elders is weg.

Ek voel of ek gaan ontplof van kwaadheid. Ek voel diep ontsteld en verantwoordelik. Dis immers in my oprit en ek het die hek oop gelos. Ek kan slange vang. Ek loop op en af terwyl ons vir die polisie wag. Ek mor. Bal my vuiste. Vloek. Op ’n punt gaan staan ek weer voor Erns en braak gal oor die grypdief en die penarie waarin hy nou is. Briesend ... Erns sit sy hand op my skouer en kyk my vierkant in die oë. Met so ’n skewe glimlag.

“Walk it off ...”

Ek glo dis tyd vir ’n vliegkaartjie Spanje toe.

The post Van plek-plek na Elders appeared first on LitNet.

Cult Sister by Lesley Smailes: Cape Town book launch

Boekbekendstelling: Elders deur Erns Grundling

Queen of the Free State by Jennifer Friedman: book launch

$
0
0

The outsider on the inside. The one who watches and listens. The bearer of tales. There are midnight escapes, stolen loot and banned comics. Frogs' legs, eisteddfods, icy drives with Grandpa, hideous encounters with bras, terrifying policemen, albino messengers and Pa's beatings. Told with humour and pathos, Friedman's memoir brings to life a strong sense of place, love, rebellion and betrayal.

The post Queen of the Free State by Jennifer Friedman: book launch appeared first on LitNet.

The shallows by Ingrid Winterbach: book launch

Web deur Naomi Meyer: bekendstelling

Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989 deur Willem Steenkamp: ’n resensie

$
0
0

Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989
Willem Steenkamp
Tafelberg
2016
ISBN: 9780624076896

Willem Steenkamp se werk oor die grensoorlog is ’n knap, breë oorsig wat in toeganklike taal met hope foto’s vertel word.

Ek beveel dit aan vir alle wit mans wat diensplig gedoen het, en ook vir hulle gades.

Steenkamp vertel glad nie die hele verhaal nie – hy kan nie – maar sy boek gee ’n konteks aan die persoonlike stories waarmee elkeen van ons rondloop. G’n boek oor die oorlog kan volledig wees nie, maar hierdie een verskaf redes vir sekere krygsbesluite wat geneem is danksy talle politieke uitbarstings waarvan ons, wat in uniform was, glad nie geweet het nie.

Dit verskaf ook ’n uitmuntende chronologiese oorsig oor die gebeure in Noord-Namibië en Suid-Angola.

Iets oor “ons”

Ek was in 1987 en 1988 in die weermag.

My ideologiese onderrok het toe al gepla, maar ek was daar. Ek was ’n troep.

’n Jaar ná ek uitgeklaar het, was ek, teen die einde van 1989, weer op ’n troepetrein wat jong latte, my ouderdom, teruggeneem het huis toe. Dit was ’n verskriklike tyd vir daardie troepe wat hulle lewens gewaag het om die “vyand” te gaan opdonner, en dan te hoor die einste vyand gaan nou oorneem in Suidwes (soos Namibië toe nog in die volksmond bekendgestaan het). Deels was die woede gesetel in die troepe se geloof in die weermag se mag: ons hét uitmuntende krygsvernuf getoon – nóg Swapo, nóg die ANC, en ook nie die PAC se gewapende magte nie, had die vermoë om ons in ’n konvensionele oorlog te klop. Selfs in 1987, toe daar geen twyfel meer was dat “ons” stryd nou ook teen die Kubane, die Russe en Fapla was nie, het die SAW se troepe verskeie veldslae gewen.

Ons troepe was lojaal en trots, daarom dan die verbasing toe alles waarvoor “ons” baklei het, skielik ongedaan gemaak is.

Dis hierdie woede waarmee ’n teks soos Steenkamp s’n dalk sal kan help, en daarom beveel ek dit so sterk aan. Steenkamp plaas die oorlog en die politieke onderhandelinge naas mekaar: die manne in grys hou beraad, terwyl die troepe stof eet.

Op die agterblad staan: “Die oorlog het so lank aangehou dat pa en seun dieselfde kompanjiemedalje kon dra vir gevegte aan dieselfde front, al was dit 15 jaar uit mekaar.”

Die boek verduidelik hoekom dit so lank aangehou het, maar ook hoekom dit moes stop.

Daar is ander skrywers en boeke wat veel meer oor sekere aspekte van die oorlog vertel – Al Venter en At van Wyk se werke moet beslis hier genoem moet word.

Steenkamp steun, met erkenning, op Venter se werk en sy breë joernalistieke inslag en insig in die politieke werkinge rondom die front maak dat ek nie sou omgee as my seun hierdie een lees nie. Die knaap vra gereeld uit oor die oorlog en hoewel dié teks vir hom net mooi niks van my dienstyd sou vertel nie, sou dit aan hom ’n goeie beeld gee van die konteks waarbinne ons gewerk het. Vir diegene wat naas Steenkamp nog ’n kykie in die oorlog wil kry, sou ’n mens Leopold Scholtz se Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 kon noem. Aan die einde van 1989 het Steenkamp ook ’n boek geskryf wat deesdae ’n versamelstuk is.

’n “Ons”-perspektief

Steenkamp se inleiding tot die stryd toon simpatie met die politieke bewegings in die toenmalige Suidwes wat van die Suid-Afrikaanse juk ontslae wou raak en hulle uiteindelik tot die wapen moes wend.

Hy doen moeite om bronne en perspektiewe van buite die SAW te betrek, poog ligweg om Unita se problematiese rol in die oorlog te interpreteer en gee duidelike dekking aan die steun wat Rusland en Kuba aan Angola en Swapo verleen het.

Die skrywer maak dit duidelik dat dit nie ’n wit oorlog was nie; op die grens het swart en wit saam geveg, hoe vreemd dit ook mag klink. Swart Namibiërs het sy aan sy met hulle wit landgenote baklei. Lede van 32 Bataljon en verskeie Boesmantroepe was verantwoordelik vir talle welslae wat aan die SAW toegeskryf is.

Reeds op die titelblad is die collage ryk aan veelvoud – talle rasse en geslagte word getoon.

En tog: die boek se ideologiese komvandaan is duidelik. Die “insurgente” (Swapo se gewapende magte) ontvang byvoorbeeld “politieke indoktrinasie”; dit word nooit van die wit troepies gesê nie – ons het skynbaar net weerbaarheidsopleiding ontvang.

Daar word gereeld verwys na linkses en kerkleiers se ongemak oor die behandeling van die Namibiërs, en hier en daar word daar erken dat troepe verkeerd opgetree het, maar die suksesse van die “Hearts and minds”-veldtog word harder uitbasuin. Op bl 36 is daar ’n foto van twee troepies wat in ’n takkraal sit en glimlag, en daarnaas staan dat die Suid-Afrikaanse regering “honderde duisende rande bestee [het] aan projekte om welwillendheid onder die plaaslike bevolking te wen”. Tog is daar op bl 213 ’n foto waar ’n soldaat van 101 Bataljon besig is om juis so ’n takkraal af te breek. Die teks sê die soldaat is op soek na insurgente en daarom word “tradisionele hoflikheid oorboord” gegooi. Ja, ja.

Ek kan aanhou met hierdie soort voorbeelde; op ’n vreemde manier verwelkom ek egter Steenkamp se perspektief, want dit maak sy teks toeganklik vir die wit troepies wat kwaad was toe die SAW onttrek het. Steenkamp praat “ons” taal. Dit is vanuit “ons” perspektief geskryf, maar die skrywer doen moeite om te vertel van talle politieke ontmoetings en feite wat nooit aan “ons” verduidelik is nie.

Waar is die grens?

Steenkamp konsentreer op die bosoorlog wat van 1966 tot 1989 aan die Namibiese grens en in die suide van Angola gewoed het. Daarmee onderbeklemtoon hy die rol wat die SAW in Suid-Afrika self en in lande soos Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho gespeel het.

In ons weerbaarheidsklasse tydens opleiding is ons ingelig dat die grens binne Suid-Afrika was. Cosatu en die UDF was die vyand. Ons het diens gedoen in townships en by padblokkades. Daardie deel van die “grensoorlog” word nie bespreek nie.

In 1987 en 1988, toe Zimbabwe al lankal onafhanklik was, is talle van my vriende met ongemerkte Land Cruisers soheentoe. Hulle het siviele klere gedra, maar hulle was enige tyd net soveel deel van die oorlog as iemand wat met ’n Ratel in Angola was, of op ’n Buffel in Soweto. Sulke sendings word hoegenaamd nie vermeld nie.

“Dis nie my oorlog nie”

Ek salueer Steenkamp vir wat hy reggekry het in hierdie boek, maar ek neem aan dat talle soldate tog gaan sê: “Dis nie my oorlog nie.”

Die enorme rol wat die recce’s gespeel het, word bloot skrams genoem. Hulle was die ouens wat die grofgeskut moes lei, om nie van die talle ander koverte operasies te praat nie. Die inwin van inligting deur die Seiners word glad nie genoem nie. Valskermsoldate word soms genoem ... So kan ’n mens aangaan.

Die ander brokkie inligting wat ’n mens mis, is die geweldige rol wat Krygkor gespeel het om nuwe wapentuig vir die oorlog te bou. Steenkamp verwys daarna dat ons al hoe beter geword het met landmynbestande voertuie en dat die G5 sonder twyfel vir ’n hele ruk die beste kanon in sy soort was, maar agter die skerms was daar baie ure se harde werk deur ingenieurs en spioene om hierdie krygstuig te ontwerp, te toets en te vervaardig, en dit word nie deel van die vertelling nie – dalk lê hier ’n fassinerende nuwe boek en wag.

Daarom moet ’n mens weer eens sê: Steenkamp het probeer sin maak van die groter prentjie. Daardie prent(jie) is egter só groot dat dit onmoontlik sou wees om alle troepe se stories in een boek te vertel.

Wat Steenkamp wel vertel, is knap.

“Here war is simple”

In 1939 skryf WH Auden: “Here war is simple like a monument:/ A telephone is speaking to a man;/ Flags on a map assert that troops were sent.”

In 1988 was ek in uniform voor so ’n kaart. Die telefone en die teleksmasjiene het vlaggies rondgeskuif.

Rondom Cuito Cuanavale was daar baie vlaggies.

Dit was die senior offisiere, nie die amptelike telekse nie, wat teruggekom het met die nuus dat ons nie meer kan wen nie. Ons Mirages kon nie die nodige dekking verleen  teen die Mig 23’s nie; beide Kuba en Rusland was op daardie stadium van plan om die stryd vir eens en altyd te stop. Ons kon nog terugslaan, en hét ook soos helde, maar die boodskap van die senior soldate se kant af was duidelik: “Nou gaan julle begin body bags sien.”

Op dié punt wil ek vra: léés Steenkamp, want wanneer name soos Niel Barnard genoem word in die onderhandelinge om die oorlog te stop, moet jy weet: die politici het nou begin luister na die ouens met hulle ore op die grond; die baasspioen het sy kaarte fyn gespeel en die troepies het niks daarvan geweet nie. Steenkamp verduidelik hoe Swapo, die Angolese regering, die VSA, die Suid-Afrikaanse regering en Unita by tye halsstarrig en oneerlik was. Ons sou veel vroeër uit Angola kon gewees het as dit nie vir buitelandse inmenging aan alle kante was nie. Fidel Castro se ego was selfs groter as die getal dooies.

Steenkamp se boek is wat Auden sou noem “flags on a map”. Dit is klinies, en dit vertel slegs een perspektief, maar dit word goed gedoen.

Toe ek in 1989 op daardie trein geklim het op pad na ’n kamp, was die gemoed van diegene om my baie donker. Dit was ouens wat nog aksie gesien en ervaar het. Hulle was die ware helde van die Grensoorlog en kon nie die uiteinde verstaan nie.

Ek ken steeds heelwat toenmalige soldate wat aan posttraumatiese stres ly en sien steeds hoe huwelike verbrokkel as ’n gevolg daarvan. Dié boek sou dalk help dat van die troepe en hulle gades ’n beter perspektief sal kry op dit wat om hulle gebeur het: “ons” het nie gefaal nie; die politici het ons gewoon in die duister gehou. Steenkamp se simpatieke houding jeens die SAW is dus nodig; hy praat die taal wat daardie troepe op die trein sou verstaan. Sy navorsing is boonop deeglik.

Ek beveel die teks sterk aan. Dit is ook in Engels beskikbaar.

 

  • Izak de Vries is op die bestuur van PEN Afrikaans. Tydens die Grensoorlog het hy onder andere as joernalis en fotograaf diens gedoen. Hy skryf hierdie resensie in sy eie hoedanigheid.

The post Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989 deur Willem Steenkamp: ’n resensie appeared first on LitNet.


Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Isabella deur Mariël le Roux

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Mariël le Roux

Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Dié ma van vier het haar loopbaan as dosent in Verpleegkunde aan die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Na haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man, Jean, woon op Hermanus.

 


Opsomming

Isabella
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081371

“Trou met my, Isabella, asseblief. Ons sal saam al die stuikelblokke doodvee.” So oorweldigend haalbaar het sy oorreding vir my op daardie oomblik geklink.

Ontvlugting, het ek daar op die strand gedink. My hart het gewen.

Isabella Dickson staak haar studies en trou met Gideon, die joviale boerseun met die ligbruin oë. Saam durf hulle die ongenaakbare myn-wêreld van die Noord-Kaap aan waar sy met die aardsheid van die mynmense kennis maak.

Dit is net ná haar dogter se geboorte dat die lewe Isabella se voete onder haar uitruk. Opdragte van stemme klink op die wind uit die kameeldoringbos, en sy bevind haar in die mees ondenkbare situasie: dit is sý wat die bedreiging is.

Versoening klop op onverwagte wyses aan, en dit is ’n opdraande pad om haarself weer te vertrou. Totdat sy, anderkant die half-eeumerk, langs die branders by Bloubergstrand perspektief kry. Daar waar die suidoos haar
kopdokter geword het.

Isabella is ’n deurdagte verkenning van ’n ongewone moederskap.


Uittreksel

Dis vroegoggend. Die berg lê oop en blou voor my. Die uitgerafelde tafeldoek van gister is afgetrek, weggewaai. Dis nog stil, maar die suidoos sal later opkom. Dan sal die wind die fyn sandkorrels oplig, gister se voetspore in vlae teen vreemde bene vaswaai en die strand skoonvee. Dit ongerep laat.

’n Paar seemeeue hang stil oor die branders, wag op die natuur om gevoed te word. Lusteloos amper in hul geduld.

Die lae duin waarop ek my sit ná ’n ruk kry, het al myne geword hier op Bloubergstrand. Elke keer wat ek gaan stap, kom sit ek hier, wag vir die wind. Dis my verlangplek. My dinkplek. Oor gister, eergister en lank gelede. Veral oor lank gelede. Oor die tyd toe ek my eie pad begin loop het. Oor die dag toe ek uitgestoot is uit die intieme binnekring van ons gesin omdat ek die asynlap op Daddy se voorkop nie kon omruil nie. Dit het my toe gepas, maar dit was nie my keuse nie.

Ek het daardie dag stelling ingeneem in die kil ingang na die Dickson-doolhof, en ek het nooit weer dieper inbeweeg nie.

 

Haroldt Dickson was my pa, Emily my ma, en my suster Queenie is drie jaar voor my gebore. My naam is Isabella. Ek het net-net minder as ’n dekade gelede die halfeeumerk verbygesteek.

My pa was ’n gespanne man. ’n Siek man, ’n senulyer, het my ma gesê. “Julle moet geduldig wees met Daddy,” het sy oor en oor vermaan.

“Sy moeder had dieselfde krankheid. Julle Daddy loop op ’n hoogspanningsdraad, hy is baie kwesbaar.” Ek dink sy het dit so dikwels gesê om haarself ook te oortuig.

“Ma hoef my nie te herinner nie.” Queenie se bitsige antwoord, gereeld soos klokslag. Van kleintyd af het my suster die leisels in ons huis gehou. Sy het geglo sy is gebore om beheer te neem. En sy het dit met oorgawe gedoen.

Ek was bang vir die stil man. Veral ná die dag met die asynlap. Daddy, die mal Engelsman met wie die bure gespot het, was die grap van die straat. Hy het geglo hy was ’n buitestander in hierdie land, ewig klouend aan sy Britse burgerskap. Hy was nog ’n jong seun toe sy vader namens sy gesin hul gemaklike bestaan in Engeland gegroet het om na die suidpunt van Afrika te kom en hier te kom doen wat sendelinge doen. My ouma het nooit op die nuwe vasteland wortelgeskiet nie. Sy is huis toe, terug na die toon van Engeland waar haar mense geslagte lank al met affodille boer, terug na ’n lewe van luuksheid, net ’n maand ná my oupa in sy spore dood neergeslaan het. Die Dicksons moes hier eenvoudig lewe, sendelinge het nie baie geld verdien nie. Daddy het met blommegeld uit Engeland studeer, danksy sy moeder se klaagliedere by haar familie. Hy het pas begin werk toe sy pa so onverwags sy aardse bestaan agtergelaat het. My pa se paspoort was sy reddingsboei, dit het hom kop bo – Afrika se onstuimige – water laat hou. So ’n ietsie verhewe. Daarom het hy verwag om met respek behandel te word. Daar het ’n redelike tikkie voorvaderlike arrogansie in hom bly steek.

Die geringste konfrontasie met mens en dier het Daddy, die besonder lang, effens geboë, nors hoof van ons huis, laat kamer toe gaan. “In ’n migraine in,” het my ma gesê. Konfrontasie was daar meer as gereeld.

Geraas. Dit het hom waansinnig gemaak. As die bure se honde bedags blaf, het hy deur die vensters op hulle geskree. En as die honde tot ná donker gewag het om van hulle te laat hoor, was hy gou buite in die straat en het hy die hele buurt wakker geraas. Dan het van die bure hom luidkeels geantwoord met afstootlike aanmerkings.

’n Paar keer is die honde in die straat vergiftig. Die eienaars het klagtes gaan lê, die polisie is ontbied. Die manne in uniform het by ons huis ook kom navraag doen. Niemand kon ooit iets bewys nie, maar verwytende oë het elke keer ná so ’n vrekte-episode lank nog in die rigting van die mal Engelsman se huis gekyk. Dan het daar maar altyd weer nuwe honde in die buurt ingetrek en die geblaf en geskree het van voor af begin.

Daddy was die ontladingsteiken van menige frustrasie so in die donker. ’n Slaansak. “Niemand in die straat het ’n kopdokter nodig nie, weet jy, ou Harry,” het ’n buurman een oggend, ná ’n verwoede geskreeu in die middel van die vorige nag, vir Daddy oor die draad gesê. Die buurman was in sy voortuin, my pa by ons posbus en ek net buite ons hekkie op pad skool toe. “Ons het mos vir jou. Jy help ons ontlaai. Jy is ons terapeut.” Daddy sou reguit van die posbus af kamer toe gaan, het ek geweet. Ek is met ’n rooi gesig skool toe.

Augustusmaand, wanneer die katte snags rondkuier, het my pa die wollerige vryers nag na nag verskree. Dan het die bure ’n gek van hom gemaak. Vroegaand het hulle ’n gemiaau deur hul vensters begin.

Ek het gewoonlik in my kamer gaan wegkruip. Nie Queenie nie. Sy het langs hom in die straat gaan staan en die wêreld saam met hom verdoem. Motorfietse het hy te voet straataf agternagesit. Met windmeularms. En die jong ryers het hom getart met ’n gebrul van hul kragtige masjiene op en af in die straat totdat hy die voordeur oopgepluk en uitgestorm het. Hulle het die woeste agtervolging geniet, onder in die straat gaan draai en hom soms van agter af weer ingehaal, gevaarlik naby hom weggeswenk. Net een musieknoot uit ’n buurhuis wat sy ore bereik en klippe het uit sy hand op die musiekhuis se dak gereën. Ná sy uitbarstings is hy kamer toe. Vir dae aaneen.

Daddy was ’n boekhouer. Hy het sy praktyk uit die buitekamer van ons huis bedryf. Sy streng, klein donker ogies het oor ’n swartraambril voor op sy neus vir almal geloer. Sy steil swart hare was altyd geolie, styf en plat agteroorgekam. Hy het suinig geleef, vrekkerig selfs. ’n Paar klein ondernemings in ons omtrek het jare lank hul boekhouding aan Daddy toevertrou. Sy kliënte het lojaal gebly; sy werk was pynlik akkuraat.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Isabella deur Mariël le Roux appeared first on LitNet.

Koors deur Deon Meyer, 'n LitNet Akademies-resensie-essay

$
0
0

“Without us, the Earth will abide and endure; without her, however, we could not even be.” – Alan Weisman, The world without us

Met ’n rits blitsverkopers en verskeie literêre toekennings op sy kerfstok is Deon Meyer die onbetwiste meester van die postapartheid misdaadverhaal in Suid-Afrika. Meyer se indrukwekkend oeuvre sluit in, onder meer: Feniks (1996), Onsigbaar (2007), Spoor (2010), 7 Dae (2011) en Ikarus (2015).

Takseer jy die boek op sy baadjie, lyk Meyer se jongste roman, Koors (2016), nie juis na ’n afsien van sy gewone aanbod nie. “Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry,” dreig die reklame-slagsin op die omslag. Ja, dink jy, dit klink omtrent reg vir ’n lekkerlees-Meyer-spanningsriller. Maak jouself maar gereed vir vinnige pas, ’n paar ontploffings en ’n grieselrige moord of twee.

Toe nou nie heeltemal nie ...

Alhoewel Koors al die kenmerke van die Meyer-treffer behou – ’n aksiebelaaide en spannende storielyn; ’n moord om op te los; en goed-ontwikkelde, komplekse karakters – is dit gou duidelik dat Meyer so stilletjies van ons weggeglip het op ’n onverwagste afdraaipaadjie. Skielik bevind ons ons op onbekende terrein, want hierdie is nie jou alledaagse speurverhaal nie.

Koors herinner aan Cormac McCarthy se The road en Margaret Atwood se MaddAdam-reeks. Die roman flankeer met die elemente van spekulatiewe of bespiegelende fiksie en neem as sy vertrekpunt ’n “sê nou maar”- of “wat sou gebeur as?”-scenario wat Meyer self beskryf as iets “wat nie ons huidige werklikheid is nie, maar wat baie maklik sou kon gebeur”.

Koors speel af in ’n distopiese, postapokaliptiese Suid-Afrika. Die jaar is onbekend, maar ons kan aanneem dat gebeure in die nie te verre toekoms nie afspeel, so min of meer in ons tyd.

95% van die wêreld se bevolking is uitgewis deur ’n dodelike plaag, bekend in die volksmond as Die Koors. Die skielike verlies van lewens het verreikende gevolge. Beskawing soos ons dit ken is iets van die verlede. Die land beleef ’n totale ineenstorting van infrastruktuur en wetgewing. Die handjievol mense wat Die Koors oorleef moet veg om oorlewing vir kos en skuiling. Daar is moorddadige motorfietsbendes wat beroof en plunder. Mak diere het skielik teen hulle vorige meesters gedraai. En boonop is Kaapstad weens ‘n kernramp onbegaanbaar.

Dit is in hierdie nagmerrie wêreld dat ons jong protagonis, Nico Storm, hom bevind.

Die roman word as ’n memoir aangebied. Die gebeurtenisse van sy jeug in die eerste jare na Die Koors word uit die oogpunt van die nou volwasse Nico vertel. Nico se terugblikke word afgewissel deur die insette van verskeie gemeenskapslede wat in die Amanzi-geskiedenisprojek opgeneem is. So ontvou die storie van Die Koors, die stigting van die utopiese nedersetting Amanzi by die Vanderkloofdam, en die moord op Nico se pa, Willem Storm.

 

Meyer en die “natuurgerigte” spanningsverhaal

Daar is al baie geskryf oor Meyer se rol as baanbreker in die oplewing van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie en die debat rondom misdaadfiksie as die ‘\”nuwe politiese roman” (sien byvoorbeeld die skrywinge van Leon de Kock en Kavish Chetty).

Met hierdie resensie wil ek fokus op ’n aspek van Meyer se oeuvre, en spesifiek Koors, wat nog betreklik min aandag geniet het: ’n beduidend ekologiese aanslag.

In ’n artikel getitel “Crimes against nature: ecocritical discourse in South African crime fiction” ondersoek Sam Naidu Meyer se Blood Safari (Onsigbaar) en Trackers (Spoor) as voorbeelde van natuurgerigte letterkunde (“nature-oriented literature”).

Naidu ontleen dié begrip aan Patrick Murphy, ’n navorser werksaam op die gebied van die ekokritiek.

Natuurgerigte letterkunde word gedefinieer as

(a)n aesthetic text that, on the one hand, directs the reader's attention toward the natural world and human interaction with other aspects of nature within that world, and, on the other hand, makes specific environmental issues part of the plots and themes of various works. (Naidu 2014:59)

Vir Naidu is dit duidelik dat beide Onsigbaar en Spoor voldoen aan Murphy se definisie van natuurgerigte letterkunde. Hierdie tekste vestig die leser se aandag op die natuurlike wêreld en aktuele ekologiese vraagstukke in Suid-Afrika, soos byvoorbeeld die lot van die swart renoster. Hierdie ekologiese krisisse word verweef in die storielyn en word temas in die tekste. Naidu sien dit as ’n geleentheid vir sosiale, politiese en ekologiese kommentaar om by mekaar aan te sluit. Maar, waarsku sy, Meyer is tog gebonde aan die reëls van misdaadfiksie. Hy moet binne die lyne inkleur, al toets hy so nou en dan die grense van die genre.

What one has to bear in mind, though, is that Meyer is a crime thriller author, and the conventions of the crime thriller genre, not the fact that they are “nature-oriented” determine the form of these narratives. As such, the emphasis in these novels is definitely on “human interaction”. They are anthropocentric narratives with the detective occupying centre-stage, and “specific environmental issues” or crimes against nature inform the plots and themes without necessarily becoming focal elements of the narrative. (Naidu 2014:60)

Die idee dat die grense van die misdaadriller getoets, maar nie oorskry mag word nie, word geëggo deur die Suid-Afrikaanse misdaadskrywer Margie Orford:

(O)ne of the problems I found with (…) Gallows Hill is that you can’t mess with the genre. You can push against it at certain points. The detective character functions as a scopic eye: a way of doing an internal examination, exploring all sorts of aspects of South Africa. But one of the things [crime-fiction] could never do is write a novel about how poverty functions in Gugulethu. (Chetty 2012)

“Politiese” temas soos armoede en die huidige globale ekologiese krisis mag dus aangeraak word in misdaadfiksie, maar nie tot so ’n mate dat dit die pas van die storielyn ondermyn nie.

Kan Meyer se wegbreek van tradisionele misdaadfiksie na spekulatiewe spanningsfiksie gesien word as ’n poging om die grenslyne van die genre nog verder te verskuif? Om groot filosofiese en ekologiese vraagstukke aan te pak buite die beperkinge van die genre?

Soos satire, het wetenskapfiksie en spekulatiewe fiksie ’n reputasie as mondstuk vir sosiale kommentaar, dikwels onder die dekmantel van liggewig vermaak. In die voorwoord van William Gibson se Burning chrome skryf Bruce Sterling:

If poets are the unacknowledged legislators of the world, science fiction writers are its court jesters. We are Wise Fools who can leap, caper, utter prophecies, and scratch ourselves in public. We can play with Big Ideas because the garish motley of our pulp origins make us seem harmless. 

Boonop het spekulatiewe fiksie ‘n lang geskiedenis van omgewingsbewustheid en bied dit genoeg ekologiese trope om te sorg vir ‘n veilige ruimte om die huidige ekologiese krisis en sy moontlike gevolge vanuit aan te pak.

Meyer se verbeeldingsvlug herinner aan ’n “sê nou maar” wat deur Alan Weisman in sy boek The world without us (‘n teks wat ook in Meyer se bronnelys opgeneem is) ondersoek word. Weisman stel die vraag: Hoe vinnig sou die natuur herstel as die mensdom skielik heeltemal van die aardbol sou verdwyn?

Look around you, at today’s world. Your house, your city. The surrounding land, the pavement underneath, and the soil hidden below that. Leave it all in place, but extract the human beings. Wipe us out, and see what’s left. How would the rest of nature respond if it were suddenly relieved of the relentless pressures we heap on it and our fellow organisms? How soon would, or could, the climate return to where it was before we fired up all our engines? (Weisman 2007:4)

In Weisman se denk-eksperiment is daar geen hoop vir die mensdom nie. Ons word summier verwyder van Moeder Aarde om die natuur toe te laat om volkome van ons vernielsug te herstel. Meyer verwyder natuurlik nie die hele wêreld se bevolking in sy verhaal nie, maar Koors is nietemin gemoeid met die idee van ’n ekologiese balans wat herstel moet word.

Koors open met ’n skermutseling tussen Nico en Willem Storm en ’n trop wilde honde. Dit is die eerste in ’n rits onderonsies met ’n verskeidenheid diere in die roman. Dit is gou duidelik dat hierdie ontmoetings met diere gebruik word as ‘n manier om tyd te merk in ‘n wêreld waar die Gregoriaanse almanak nie meer van veel nut is nie. So word daar deurgaans verwys na Die Jaar van Die Hond, Die Jaar van die Leeu, ens. Die boek word ook volgens hierdie arbitrêre tydperke verdeel, sodat die pas van die verhaal geanker is in die natuurlike wêreld.

Wanneer daar skielik dooie kraaie in groot getalle in en om Amanzi gevind word, meen Willem Storm en Birdie dat dit bloot ’n natuurlike gevolg van Die Koors en die verlies van soveel van die menslike bevolking is, ’n manier vir die ekosisteem om weer die balans te herstel.

Sy sê die dooie kraaie is ’n ekologiese regstelling. My pa stem saam. Hy sê hulle het dekades lank al hoe meer geword omdat hulle so goed aangepas het by mense, stede, dorpe, en al die aas van dooie diertjies langs die pad. Ja sê Birdie, daar was met en ná Die Koors nog meer aas vir hulle. En nou is dit alles weg. Mense, stede, dorp, aas. Dis net ’n ekologiese regstelling. (190)

Die implikasie hier is dat Die Koors self ’n ekologiese regstelling was, en dat die mensdom die onvolhoubare element in die vergelyking was.

Hierdie idee van ‘n wanbalans kom ook na vore in verskeie van die onderhoude met gemeenskapslede wat in die Amanzi-geskiedenisprojek opgeneem is. Abraham Frost vertel byvoorbeeld:

Net so paar maande voor Die Koors, toe lees ek ’n artikel oor piesangs. Toe sê hulle piesangs soos ons dit ken, loop gevaar om uit te sterf … (W)at ek probeer sê, is dat ons as mense ‘n aarde geskep het wat baie onnatuurlik was. Ons het groot wanbalans gebring. En toe gebeur met ons presies dieselfde as wat met die piesangs gebeur het … Dit voel net asof dinge nou weer in balans is. (297).

Volgens Sewes Snijders, een van die Weskussers wat later by die Amanzi-gemeenskap aansluit, het Die Koors baie positiewe gevolge vir die natuur gehad:

(O)ns het ’n lewe gemaak op Lambertsbaai, maar eintlik uit die see uit, elke jaar dan is die vis en die kreef meer, jy kan sien die see het mooi reggekom, en die voëls, dis waar jy kon sien, Die Koors was eintlik goed vir die wêreld. (430)

In teenstelling met die onvolhoubaarheid van die mens se verhouding met die natuur in die tyd voor Die Koors, word die Amanzi-gemeenskap as ’n pastorale Arkadië uitgebeeld. Amanzi, die plek van lig en water, is ’n utopiese nedersetting waar die mens weer nader aan die natuur kan leef.

In verband met die postapartheid misdaadriller skryf Christopher Warnes:

(T)he postapartheid crime thriller should be read as negotiating – in the ambivalent sense of the word – the threat and uncertainty that many feel to be part of South African life, creating fantasies of control, restoration and maintenance, and reflecting on the circumstances that gave rise to this unease. (2012:989)

Amanzi kan gesien word as ’n tipe Eden waar fantasieë van beheer, restourering en instandhouding uitgeleef kan word. Die gevaar en gevoel van ongemak wat hier weerspieël word, is kwessies van toepassing op hedendaagse Suid-Afrika: armoede, geweld, oorbevolking, aardverwarming.

Nero Dlamini, ‘n Amanzi-gemeenskapslid wat voor Die Koors ‘n sielkundige was, vertel van ’n “recurring theme” in sy terapiesessies:

You would not believe the stress levels ordinary people had to cope with … And then they worried about the things happening in the world. Terrorism, and recession, and we’re running out of fish to catch, and there’s more plastic than fish in the sea, and there’s global warming … So, getting back to that recurring theme: a disturbing number of my patients had this wish, this fantasy, this urge for a new beginning. Just to walk away from their old lives, their old worlds and their old planets, and start over. Free from the worries. (299).

Die beskawing en instandhouding van Amanzi is in direkte teenstelling met die afskuwelike gedrag van die “slegte ouens” wat Nico en sy makkers deur die loop van die verhaal raakloop: die “ooms” in Vanderkloof-dorp wat Melinda Swanevelder aanhou, die KTM-bende, en nog vele kleurryke skurke.

Meyer bied dus twee teenstrydige filosofieë aan die leser. Die eerste is Domingo se mantra, “The other guy wants to kill me. If I hesitate, I die”, wat gebaseer is op die geloof dat ons almal net diere is onder die dun lagie vernis wat die illusie van beskawing bied:

Hier is my philosophy: Ons is animals, Nico. Social animals. Domesticated, social animals. Thin veneer of civilisation. Gentle creatures as die wêreld orraait is, as die social conditions undisturbed and normal is. Ma’ as jy die conditions disturb, dan skuur daai veneer af. Dan raak ons wild, ons raak predators, killers, ons hunt in packs. Dan raak ons soos die honne. (196)

Die tweede is Willem Storm en Birdie se geloof in die potensiaal van die mensdom. Die geloof in die onblusbaarheid van die menslike gees, selfs wanneer onmoontlike probleme soos aardverwarming ons in die gesig staar:

Ek mis die potential ... Dit was al laat in die nag met global warming, maar die ding is, we were getting closer and closer to a solution. Da’ was die potential of fixing it all. Nou, jy kan sê ja, ma’ daai was net ‘n potential of a solution, ons was eintlik in baie groot trouble. But look at our track record. Kyk wat het ons al gedoen, mankind. Kyk na al die diseases wat ons al ge-eradicate het. Kyk na die theory of relativity. Quantum theory. We mapped the human genome. Ons het dit in ons gehad om al die probleme op te los, we had the potential. (Meyer 195)

Die kiem van hierdie twee perspektiewe – die mens se vernielsug en die mens se potensiaal om met uitvindinge nuwe positiewe te skep wat die wêreld kan bevoordeel – bly voortbestaan na Die Koors. In Meyer se nuwe wêreld is daar plek vir beide moorddadige motorfietsbendes en goedbedoelende wetenskaplikes wat dink hulle kan positiewe bydraes lewer. Die vraag is egter: Is die handhawing van ‘n gesonder ewewig in die natuurlike ekobalans die oorheersende strewe in die post-Koors wêreld of dra die uitkoms van Die Koors die kiem van ‘n volgende aanslag op die ekobalans in die mense wat oorleef het? Watter belange gaan voorrang geniet in die post-Koors wêreld: die ekobalans of die mens se drang om die aarde te beheer en te bestuur, al is dit onder die dekmantel van die handhawing van ekobalans? Is die mens werklik in staat om tweede viool te speel?

Dit is hierdie spanning tussen die ideële en die reële wat Meyer se Koors tot ‘n meer gesofistikeerde ekokritiese diskoers verhef.

 

Slot

In haar ondersoek na die omgewingsgerigte aspekte van Meyer se Spoor en Onsigbaar betwyfel Naidu of die Suid-Afrikaanse misdaadriller ekokritiese diskoers inspan bloot as tema om die plot voort te dryf en of die omgang met ekologiese kwessies dui op die spanningsverhaal as ‘n waardige subkategorie van ekokritiese literatuur.

Soos hier bo gemeld, blyk dit dat Meyer se inspanning van spekulatiewe elemente, asook ekologiese diskoers in Koors, verder strek as temas wat die plot van die sentrale misdaadnarratief voed.

Die mantel van spekulatiewe fiksie bied Meyer wel die vryheid om te speel met groot idees soos dat die drastiese verlaging van die menslike bevolking sal help om die aarde se biosfeer te herstel. Maar Koors ondersoek ook die komplekse verhouding tussen die mens en die natuur, die fyn balans tussen beskawing en animalistiese aard en die mens se reg op die aarde se hulpbronne.

Daarom is die sentrale tema van die roman steeds antroposentries van aard. Dit is egter juis hierdie spanning tussen beskawing en animalistiese aard wat die spekulatiewe elemente meer om die lyf gee, al bly Koors in die eerste plek nog ‘n spanningsroman. Al speel Meyer doeltreffend met tyd en omstandighede, bly die hart van die storie tog steeds die menslike drama wat in hierdie gevaarlike nuwe wêreld ontvou – die lief en leed van die Amanzi-gemeenskap en die humanistiese filosofiese kwessies waarmee hulle worstel met oorgenoeg aksie en ‘n “murder mystery” om hardebaard aanhangers van Meyer aan die lees te hou.

Koors het egter genoeg om die lyf om ernstiger aandag van ekokritici te ontlok.

 

Bronnelys

 

Chetty, K. 2011. New political novels not so political. SLiPnet, 14 Mei. Beskikbaar by http://slipnet.co.za/view/event/new-political-novels-not-so-political.

De Kock, L. 2012. Roger Smith and the genre snob debate. SLiPnet, 9 Januarie. Beskikbaar by http://slipnet.co.za/view/reviews/crime-fiction-the-'new-political-novel'/

Meyer, Deon. 2016. Koors. Kaapstad: Human & Rousseau.

Naidu, Sam. 2014. Crimes against nature: Ecocritical discourse in South African crime fiction. Scrutiny2: Issues in English studies in Southern Africa, 19(2):59–70

Sterling, Bruce. 1995. Foreword. (William Gibson). Burning chrome and other stories. Londen: Harper Collins.

Warnes, Chris. 2012. Writing crime in the New South Africa: Negotiating threat in the novels of Deon Meyer and Margie Orford. Journal of Southern African Studies, 38(4):981–91.

Weisman, Alan. 2007. The world without us. Londen: Virgin Books.

 

The post Koors deur Deon Meyer, 'n LitNet Akademies-resensie-essay appeared first on LitNet.

Bending the rules by Rafique Gangat: book launch

Kaalvoet tot in die Drakensberge

$
0
0
Elders
Erns Grundling

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801341
Dansend met die lewe: In die jeug van veroudering
Kobus Anthonissen

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316728

 

Koos Kombuis vertel hoe hierdie twee boeke hom gehelp het om ’n naweek in die Drakensberge betekenisvol te maak.

Oukei, dit was nie streng gesproke die Drakensberge nie. Ek het nie oor kranse geklouter en aan toue gehang nie. Maar dit was Paasnaweek, en dit was ’n musiekfees op ’n plaas buite Clarens, en ek moes soontoe ry met deadlines wat my wurg en emosionele bagasie wat my wurg en die verskriklike waarheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie wat pas tot junkstatus gedaal het.

Dis nie die soort situasie waar inspirerende reisverhale of godsdienstige selfhelpboekies mens eintlik kan help nie. In sulke situasies is dit beter om heeltemal jou brein af te skakel en iewers heen te gaan waar niemand jou ken nie …

Soos Erns Grundling gemaak het?

Toe LitNet my vra om Elders te resenseer, was ek huiwerig. Die ding is, ek ken Erns en beskou hom as ’n vriend. Sê nou maar dis ’n kak boek? Die ding is, ek het al die boek op die winkelrakke gesien, en wou dit baie graag lees, maar was te suinig om geld uit te haal daarvoor.

Alreeds was die aanhaling voorin deur Henry David Thoreau genoeg om my baie lus te maak vir die res:

If you are ready to leave father and mother, and brother and sister, and wife and child and friends, and never see them again; if you have paid your debts, and made your will, and settled all your affairs, and are a free man; then you are ready for a walk.

Helaas, die versending van die boek het sy eie probleme geskep. Toe ek ’n paar dae voor my vertrek Drakensberge toe by die poskantoor aankom, hoopvol met die slippie in my hand, het die poskantoor die pakkie met Erns se boek verloor.

“Waar is my pakkie dan?” het ek gevra na ’n baie lang gewag en ’n geskarrel van poskantoorpersoneel wat hoog en laag soek.

“Jou pakkie is elders, Meneer,” was die skouerophalende reaksie. No pun intended.

Wat daar wel was, was ’n ander pakkie, ’n boek wat ek nie verwag het nie en glad nie wou hê nie. Blykbaar ’n nuwe publikasie van Naledi, iets vaagweg Christelik met ’n omslag wat lyk soos babatjiekots of seewiere, met ’n skandalige setfout op die agterblad en aanhalings deur Jeremia en ander wysgere voorin.

Oukei. Hierdie een is ’n glitch, het ek vir myself gesê. Dis beslis nie ’n boodskap van die Universe af nie. Ek het die boek op my lessenaar laat lê en summier daarvan vergeet.

Erns self het my kort daarna op my selfoon gebel op ’n baie ongeleë tyd. Die 7de April, om presies te wees.

“Wat doen jy?” het Erns gevra.

“Ek march teen Zuma!” het ek onnodig hard in sy oor geskree, want ek het gesukkel om myself te hoor bo die gerumoer van wapperende plakkate en motortoeters.

Toe Erns van my dilemma met die poskantoor hoor, het hy gesê: “Ek stuur vir jou die boek per courier!”

’n Paar dae later lees ek op bl 14 van die boek wat Erns gecourier het: “Douglas Adams het geskryf: ‘I love deadlines. I love the whooshing noise they make as they go by.’”

Die boek het ’n heerlike persoonlike trant. Erns vertel hoe hy inpak en regmaak vir sy staptog deur Spanje – ’n staptog waarin hy hoop om homself te “vind” na ’n liefdesteleurstelling en ’n oor die algemeen kakkerige tyd in sy lewe – met die deadline van ’n ongeskryfte vryskutartikel wat nog soos ’n swaard oor sy kop hang. Selfs op die vliegtuig op pad Europa toe moet hy nog navorsing doen oor iets vreesliks wat eeue gelede by Slagtersnek gebeur het. ’n Totale konflik van metafore.

Net so vertrek ek Drakensberge toe met ’n rubriekdeadline vir Taalgenoot. Vir navorsing moet ek die hele Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika google en deurlees. Ek probeer halfhartig daarvan werk maak terwyl ek halsoorkop inpak, maar gooi op die ou end tou op en laat weet my redakteur: “Sal dit nie maak nie. Ek stuur die storie Maandag of Dinsdag!” Ek troos my daaraan dat die meeste ministers in ons kabinet in ons land waarskynlik ook nog nooit die Grondwet gelees het nie.

Op die laaste oomblik vang die boek met die seewier-babatjiekots-voorblad my oog. Ek slaan dit oop, en lees in die eerste hoofstuk: “Dans is ’n getuienis dat jy leef. Friedrich Nietzsche beklemtoon dit: ‘The value of life cannot be underestimated.’”

Nietzsche, nogal. Daar is ook aanhalings uit Leonard Cohen en Jacques Brel.

Kobus Antonissen, die skrywer, is duidelik nogal ingelig vir ’n dominee. Op die ingewing van die oomblik moer ek die babakotsboek ook in my rugsak.

Op die ou end vlieg ek Bloemfontein toe, die stad waar Angus Buchan weke later sy massasaamtrek van biddende Suid-Afrikaners sou hou, met twee slapbandboeke in my rugsak: een oor ’n sekulêre wedergeboorte en een oor ’n Christelike wedergeboorte. Goed dan.

Later sou ek uitvind dat Erns se pel by Weg, Toast Coetzer, voor Erns se vertrek na die Spaanse Camino vir hom uitgewerk het presies hoe ver hy sou stap indien mens die getalle van toepassing sou maak op Suid-Afrika: “Erns, as jy omtrent ’n duisend kilometer stap, is dit net mooi van die Kaap tot by die laaste Pitstop na Bloemfontein.” (Ek is natuurlik nie seker of dit sy presiese woorde was nie, maar die afstande klop.)

Dit is ’n allamintige ver ent om te stap om mens se siel te vind. G’n wonder Afrikaners kies meesal die kits-opsie van “enkel uit genade” nie. Eerder dit as seer enkels en blase op jou voete.

Nietemin. Ek “stap” verder saam met Erns terwyl ek in die vliegtuig op pad na die einste Bloemfontein sit. Tot my verbasing vind ek uit dat hy sy idee om op hierdie spesifieke staptog te gaan, gekry het na ’n persoonlike telefoonoproep met Paulo Coelho. In lewende lywe!

The Santiago pilgrim’s road … Paulo Coelho se laaste antwoord het my destyds gelei na die ontdekking van die Camino, die pelgrimstog wat al sedert die negende eeu na die katedraal in die dorpie Santiago de Compostela lei, waar die dissipel Jakobus glo begrawe lê.

Ons kan maar nie wegkom van die Bybel nie, nè!

Gestel Jakobus was inderdaad in Spanje, sou hy een van die eerste dissipels wees wat werklik aan Jesus se opdrag, soos vervat in Matteus 28;19, gehoor gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees …”

Anthonissen se boek eggo soortgelyke sentimente:

Dus: wanneer die Heilige Gees van gelowiges besit neem, verdiep hulle lewe. Daarby bring die koppeling aan die opstanding van Christus ’n dieper perspektief op die lewe.

Die synchronicity loop dik nog voor ek afklim op die Bram Fischer-lughawe!

En daar eindig dit nie. Van Bloemfontein moet ek met ’n gehuurde motor die paar uur aflê omdat ek vanaand, die aand van Goeie Vrydag, ’n konsert het in … van alle plekke ... Bethlehem.

Terwyl ek deur die Vrystaatse vlaktes bestuur, dink ek hoeveel Afrikaanse jongmense in die afgelope paar dekades weggedryf het van die kerk. Hierdie jongmense het nie almal noodwendig alle geloof afgesterf nie, maar hulle het hul heil in ander simbole en mites gaan soek.

Soos Erns self skryf, ietwat tong-in-die-kies:

Ek het in 1999 ’n Boeddha-beeldjie by my eerste meisie present gekry. Sy het dit glo in een of ander tannie wat ’n vryskutwaarsêer was se karavaan gevind. Dit was so ’n ronde, vet Boeddha (kry ’n mens enige ander tipe?) met lang oorlelle en die glimlag van iemand wat hoofletter-Verligting in elke sel ervaar.

Wat die Boeddha nogal eiesoortig gemaak het, was die Afrikaanse frase op die beeldjie: VIR GEWIGSVERLIES.

Op die ou end, so het die inleiding tot Elders my reeds meegedeel, sou Erns tydens sy duisend-kilometer-reis te voet goed tien kilogram afskud; soos ’n slang wat vervel, sou hy sy ou persona, met al die ou patrone en maniere van doen, al sy sosiale-media-verslawing en al sy negatiewe ingesteldhede, afskud en iewers op die Camino agterlaat soos ’n paar voosgestapte tekkies.

Dis ’n bonus wat nie sonder meer ingesluit word by die pakket van tradisioneel Christelike “wedergeboorte” nie.

Terwyl ek bestuur, dring dit vir die eerste keer tot my deur hoekom ek self op die ou end die kerk verlaat het ten spyte van – of dalk as gevolg van - ’n sterk en vreugdevolle bekeringservaring as tiener. Die deurlopende tema van die kerk se prediking, deur al die jare van my jeug, was dieselfde refrein wat immer opgeklink het uit die kele van dominees, kringleiers en ander gesalfdes: “Maak dood die eie ek. Kruisig die ou sondige self. Ontken al jou drange en begeertes. Word iemand wat jy nie regtig is of wil wees nie.”

Dit is juis om die teenoorgestelde rede dat ouens soos Erns wil stap. Hulle wil juis hulleself vind, die “ek” leer liefhê, koester en herontdek. Daarom vind hulle dit nodig om dit “elders” te probeer doen as tussen die gepoetste houtpanele van die NG Kerk. Party van hulle, soos Erns, wil so ver as moontlik wegkom van hulle ou kondisionering, selfs tot in die noordelike halfrond. Hulle wil afstand plaas tussen hulleself en die woedende God van hul kinderjare.

Erns vertel juis van ’n insident toe hy, as jong tiener, onder die invloed van die kerk al sy Nirvana-CD’s vernietig het en kortstondig ’n Christelike bekering ervaar het.

Kragdadige tienerbekerings is ’n meer algemene verskynsel by Afrikaners as wat mense besef. Baie van ons probeer vir die res van ons lewens sin maak van wat presies gebeur het, en tot watter mate ons later daardie ondervinding wil integreer of wegwens. Die wroeging oor kerk en geloof loop dik deur die pynlike akkers van ons kollektiewe jeug.

Hoeveel jongmense is die afgelope paar dekades deur kerke verinneweer, sielkundig afgebreek, emosioneel en fisiek verkrag, ontnugter, vernietig? En natuurlik nie net in ons eie NG Kerk nie. Die loodglasvensters van die Rooms-Katolieke mag pragtig wees, maar as jy deur so ’n venster na buite val, kan jy lelike snywonde opdoen.

Die aand na my konsert in Bethlehem, moeg, halfdronk en hees gesing, lees ek in my bed in ’n baie lekker gastehuis verder aan beide boeke.

Op bl 99 skryf Erns: Weer eens ervaar ek stap as meditasie. Dit is eintlik so eenvoudig: (i) Haal asem. (2) Een voet voor die ander. (3) Hou net aan om (1) en (2) te doen.

Heelwat eenvoudiger as die Dordtse Leerreëls, nie waar nie?

Terselfdertyd ontdek ek twee verrassende tendense in Kobus Anthonissen se boek:

(i) Hy is baie krities teenoor die kerk.

(ii) Hoewel hy glo dat ’n mens deur Christus wedergebore kan word, erken hy dat daar ander paaie ook na God mag wees.

(iii) In plaas daarvan om die “eie ek” af te breek, soos wat die meeste dominees doen, vier hy juis die waarde van die ware Self:

Die fokus is dus op die wedergebore skepsel, die ware Self met integriteit en selfliefde, die vrygemaakte mens. Hierdie Self bereik nou ’n innerlike kenmerk wat selde in menslike lewe en geskiedenis aangetref word. Daardie één wat in ons samelewing en die kerk uiters skaars is: ’n outonome mens … dit is iemand, nie niemand nie; ’n individu, nie ’n dier of slaaf nie.

Hy vergelyk dit met voorbeelde uit die dieptesielkunde, en haal aan uit die werk van vele denkers wat buite die tradisioneel Christelike metafoor te werk gaan: “Dit is die ‘ware held’ waarna Jung soek.”

Skielik is ek bly ek het beide boeke saamgebring.

Die volgende oggend eet ek ’n luilekker ontbyt en durf die laaste entjie na Clarens toe aan, aan die voet van die Drakensberge.

Die musiekfees waar ek moet optree – bekend as die “Lush”-fees – is geleë in ’n wonderskone vallei. Hier het ’n tentedorp van tienduisende feesgangers ontstaan. Ons is omring deur crazy rotsformasies.

As ek hier was tydens ’n katkisasiekamp as tiener, sou die dominee gesê het mens kan die teenwoordigheid van God aanvoel.

Ek is gelukkig genoeg om die enigste solokamer – ja, selfs en suite! – te kry in ’n oorvol plaashuis waar musikante se kitare en bagasie opstaan. Kannetjie se kwaai e-posse en streng kontrak het gehelp! ’n Swart hip-hop-orkes sit nog rond in hulle slaapsakke op die banke en mat in die sitkamer en groet my luidkeels en vriendelik. Dis chaos. Die kombuis lyk asof Noord-Korea ’n missiel daarheen afgevuur het. Maar ek wil nie kla nie, want Erns moes feitlik elke aand in die Camino in bunkerbeddens deurbring, in slaapsale wat talle reisigers huisves. Hoe moes dit gevoel het om vir veertig dae en veertig nagte geen privaatheid te hê nie? G’n wonder hy het so dikwels as moontlik bedags alleen gestap nie:

Wanneer my gedagtes wil ontspoor, bring ek dit rustig terug na my onmiddellike omgewing: die dun grondpad wat amper tot op die horison strek, die voëlgeluide, die tik-tok van my stapstokke, my voeteval en die stemme van pelgrims in die verte.

Alleen in my en suite-kamer kry ek kans om te dink terwyl die partytjies buite in volle swang is. Ek onthou ’n droom wat ek onlangs gehad het toe ek op die punt was om my album Langpad na Lekkersing te begin opneem. Ek was vir die eerste keer in ’n lang tyd op ’n goeie plek. Daar was basie vergifnis en vrede en ek het amper weer gevoel soos toe ek 16 was. Was ek gereed om terug te keer na die Christendom toe? Selfs na my geestelike album, dertien, wou ek nie daardie stap neem nie, en het uitnodigings na gospelfeeste van die hand gewys.

In die droom daag ek op by die see na ’n lang pad vol gevare deur ’n wilde woesteny. Ek wonder: “Hoe het ek dit tot hier gemaak? Hoe is dit moontlik dat ek nog lewe? Na soveel jaar van dwelmmisbruik en chaos? Het iemand my gelei tot by hierdie veilige plek?” Ek kyk dan af na die sandale wat langs my kaal voete op die seesand lê. Is dit Jesus s’n? Het hy saam met my gestap tot hier? Ek kyk toe terug om te sien of daar twee rye spore agter my in die sand is wat tot hier lei. Tot my verbasing sien ek slegs een ry spore: my eie. En wanneer ek afkyk na die sandale, sien ek dat dit nie sandale is nie, maar Crocs. My eie ou voosgestapte gehawende Crocs. Op die een of ander manier het ek alleen gestap tot by hierdie goeie plek in my lewe. En tog was dit geloof wat my staande gehou het. Geloof in wat?

Ek soek na antwoorde in Kobus Anthonissen se boek. “Dominee, praat met my! Is daar ’n God? Waar het die onblusbare vreugde vandaan gekom wat ek gevoel het op sestien, en wat ek geleidelik die laaste paar jaar weer van bewus geword het?”

Tot my opperste verbasing haal Anthonissen op bl 286 ’n bekende rockmusikant aan (in stede van ’n Bybelversie!):

’n Treffende beskrywing van ekstase kom van Keith Richard, beroemde kitaarspeler van die popgroep The Rolling Stones in sy biografie. Hy beskryf hulle eerste optrede:

The feeling is worth more than anything. There’s a certain moment when you realize that you’ve actually just left the planet for a bit and that nobody can touch you. You’re elevated because you’re with a bunch of guys that want to do the same thing to you. And when it works, baby, you’ve got wings. You know you’ve been somewhere most people will never get; you’ve been to a special place …. It’s flying without a license.

Hel, dink ek. Ek like hierdie dominee!

Op daardie oomblik is daar ’n klop aan my deur. Ek moet gaan sing!

Vir die volgende uur of langer sing ek my hart uit op die hoofstage van die tentedorp.

Natgesweet keer ek die aand terug in my kamer. Ek begin teug aan die halwe bottel brandewyn waarsonder ek nooit reis nie.

Buite dreun die doef-doef van die baskitare tot ounag voort.

Terwyl Erns al verder stap, en soms heerlik kuier en dronk word langs die Camino-pad met sy vriende, en eindelik die katedraal in Santiago bereik na vele wedervaringe, neem ek bestekopname van my lewe, en ek besef: “Alles is oukei. Ek is wie ek moet wees. Party mense vind troos in die kerk en godsdiens, ander mense moet ’n duisend kilometer ver stap of ry of vlieg. Dis alles eintlik om ’t ewe. Fok dit.”

Die ooreenkomste tussen die twee boeke wat ek tot hier toe saamgebring het om te lees, val my op. Elke boek bied ’n ander roete na persoonlike vryheid. Erns Grundling en Kobus Anthonissen gebruik selfs dieselfde woord, heel per toeval, om hulle uiteindelike innerlike vrede te beskryf. Erns noem dit “die hiernoumaals”; Anthonissen praat van “Hier-Nou-Maals”.

Tog is Anthonissen die een wat sy slotsom afsluit met ’n aanhaling uit ’n bepaald sekulêre eksistensialistiese denker:

Na hierdie ervaring van innerlike bestendigheid verwys Albert Camus wanneer hy uitroep: “Skielik, te midde van die winter het ek binne-in my ’n onoorwinlike somer ontdek.”

Terwyl dit Erns is wat, sonder om na God te soek, op die ou end uitroep:

Die refrein van Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed” meld in my gedagtes aan toe ek Santiago de Compostela se katedraal in die verte gewaar:

“Alle pelgrims keer weer huis toe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na U boardinghuis.”

Met die leë brandewynbottel raak ek eindelik stil en rustig aan die slaap, soos ’n kind aan die boesem van die Groot Onbekende.

Foto van Erns Grundling: Myburgh du Plessis

The post Kaalvoet tot in die Drakensberge appeared first on LitNet.

Karel Schoeman (1939–2017), ’n oorsig oor hierdie lewe

$
0
0

Human & Rousseau (H&R) en NB-Uitgewers verneem met leedwese van die afsterwe van een van ons grootste Afrikaanse skrywers. Die internasionaal-bekroonde Karel Schoeman is Maandagaand 1 Mei in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein, waar hy die afgelope 10 jaar gewoon het, oorlede.

Kerneels Breytenbach, voormalige uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, sê: “Karel Schoeman se dood is ’n groot skok, maar op ’n vreemde manier maak dit sin. Karel Schoeman het alles op ’n eie, unieke manier gedoen. Ook sy heengaan. As uitgewer het mens kennis gemaak met iemand wat enersyds baie formeel en afstandelik kon wees, en andersyds intens medemenslik, iemand wat omgegee het vir die wel en wee van mense. Dit is eienskappe wat ook blyk in sy outobiografiese Die laaste Afrikaanse boek, maar om in die praktyk daarmee kennis te maak, het my altyd diep onder die indruk gebring van hoe ’n besonderse mens hy werklik was. Ek het ook ondervinding van die maniere waarop hy sy formidabele navorsingsvernuf tot ander mense se voordeel kon inspan, iets wat dan ook neerslag gevind het in sy niefiksie en veral sy werke oor die Vrystaat en ons ouerland, Nederland. As mens het hy hom nie maklik laat ken nie, maar in die geledinge van sy romans is dit duidelik dat hy ’n groot waarnemer van gedrag en emosie was, en dat sy afstand op die mensdom nie ’n volledige afsluiting was nie.”

Nèlleke de Jager, Schoeman se uitgewer by H&R, beskryf hom as “een van Suid-Afrika se groot geeste”. “’n Man wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis so deurgrondelik kon oopvlek, kon oopskryf, en tegelykertyd die gawe had van ’n romansier wat die Nobelprys waardig is. Dit is ’n hartseer dag vir ons as uitgewery, maar ook vir alle liefhebbers van Schoeman se oeuvre. Dis eenvoudig ’n verlies wat nie in woorde omskryf kan word nie.”

“Om byna 20 jaar saam met Karel Schoeman te kon werk aan verskeie van sy boeke, om gereeld met hom te kon korrespondeer, dit was en is een van die mees betekenisvolle en verrykendste ervarings van my hele lewe en loopbaan,” sê Alida Potgieter, voormalige uitgewer by H&R.

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Dit was vir ons ’n enorme voorreg om Karel Schoeman se boeke uit te gee. Sy roman ’n Ander land eindig met, ‘Halwerweë op die pad ontdek jy effens verras dat die reis voltooi is, en die bestemming reeds bereik.’ Die einde van sy lewens- en skrywersreis het ons onverhoeds betrap en is ’n onuitspreeklike verlies vir die Afrikaanse letterkunde en sy lesers – vir Suid-Afrika.”

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die spesifieke oorsaak van sy dood te bepaal, hoewel ’n verklaring daarop dui dat dit selfdood was.

Skepelinge, sy jongste publikasie by H&R, sal in September uitgegee word.

Karel Schoeman (1939–2017): biografiese inligting

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 op Trompsburg in die Vrystaat gebore. Hy is Tromp genoem, waarmee hy nie aldag gediend was nie, “omdat dit ongebruiklik was” (Beeld, 2 Mei 1995). In sy derde jaar het hy die naam Karel aangeneem na ’n Franciskaanse monnik, Karel Van Sezze.

Nadat sy ma en pa geskei is (toe hy drie jaar oud was), is hy en sy ma na die Paarl. Daar bring hy sy laerskooljare aan die WA Joubertskool deur en matrikuleer in 1956 aan die Hoër Jongenskool Paarl. Hy het van jongs af geskryf en sy skryfwerk is gereeld in die skooljaarblaaie opgeneem. Op ’n vraag van André le Roux of sy skryfwerk gedurende sy hoërskooljare beslag gekry het, het Schoeman gesê: “Daardie onbenulle wat vir ons onderwys gegee het, jy kan dit nie glo nie, wat op kinders losgelaat word.”

In 1959 behaal Schoeman sy BA-graad aan UOVS (nou die UV). Hy het Calvinisties grootgeword, maar die Katolieke leerstellinge het hom meer getrek en in Bloemfontein is hy in die Katolieke kerk gedoop. In 1961 is hy na Ierland, na die Minderbroers in Killarney, en later na Galway om opleiding as monnik te kry. Hy keer terug na Pretoria en in 1968, na drie jaar by die Franciskaanse Seminarie, besluit hy die monnikelewe is nie vir hom bedoel nie en gaan studeer hy biblioteekkunde aan die UV, waarna hy as vertaler in Johannesburg werk.

In Amsterdam werk hy vir vyf jaar (1968 tot 1973) as bibliotekaris en daarna tot 1976 as verpleër in Glasgow. Terug in Suid-Afrika kry hy werk as vertaler in Pretoria, en daarna, tot 1981, in Bloemfontein as boekkeurder by die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens. Hy skud die Vrystaatse stof van sy voete en vanaf 1982 is hy navorser by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad. Tydens sy verblyf in Kaapstad verdiep hy hom in sy navorsing en sy skryfwerk. Sy moeder is in 1989 in Kaapstad oorlede en hy gaan strooi haar as op die plaas Witlaagte in die distrik Edenburg in die Vrystaat.

In 1999 keer hy terug na Trompsburg om hom daar te vestig. Hy het later teruggekeer na Bloemfontein, waar hy tot sy afsterwe in ’n aftreeoord gewoon het.

In 1965 word Schoeman se eerste werk, Veldslag, deur Human & Rousseau gepubliseer, ’n verbintenis wat baie lank sou voortduur. Vir Koos Human was dit as uitgewer “’n seldsame ervaring om ’n manuskrip van gehalte deur ’n onbekende persoon te ontvang.”

Toe Schoeman in 1976 na Suid-Afrika teruggekeer het, het ’n hele aantal boeke van hom al verskyn. Die Hertzogprys word drie maal aan hom toegeken (1970 vir By fakkellig, ’n Lug vol wolke en Spiraal; 1986 vir ’n Ander land; 1995 vir Hierdie lewe), die Recht Malan-prys vier keer, die CNA-prys twee maal, asook die WA Hofmeyr-prys en die Louis Hiemstra-prys vir Niefiksie (twee maal). In 1997 ontvang hy die Stals-prys vir Kultuurgeskiedenis.

In 2000 word die hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging aan sy werk gewy en die bundel Sluiswagter by die dam van stemme: beskouings oor die werk van Karel Schoeman word in 2002 by Protea Boekhuis gepubliseer.

Met die toekenning van die Hertzogprys in 1970 spreek WEG Louw die huldigingswoord: “Schoeman het met die viertal boeke (Veldslag, By fakkellig, ’n Lug vol helder wolke en Spiraal) gewys dat hoewel hy die waarde van die tradisie erken, hy in staat is om onafhanklik daarop voort te bou; dat hoewel hy heelwat geleer het van die romantegniek van ons tyd, hy sy werk nooit aan blote mode ondergeskik gemaak het nie; bowenal dat hy ’n Afrikaans skryf wat eenvoudig dog soepel, gevoelig dog virtuoos is. Sy prosa besit ’n vaart en eie innerlike ritme wat die kenmerk van die rasskrywer is.”

Schoeman het nie normaalweg toekenningsgeleenthede bygewoon nie, maar in 1998 het hy die Orde van Ikhamanga persoonlik van president Nelson Mandela ontvang. Al wat hy by die geleentheid gesê het, is: “Dis ’n besondere eer vir die Afrikaanse taal.”

In 2000 ontvang hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad en in 2004 een van die UV. In 2004 word hy saam met André P Brink en Toek Blignaut vereer met die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings vir hul lewenswerk as bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde.

Benewens sy skeppende werk lewer Schoeman ook ’n veelbeduidende bydrae tot die kultuurhistoriese boekstawing van die Vrystaatse erfenis, asook oor die sendinggeskiedenis en die slawegeskiedenis aan die Kaap. Hennie van Coller meen dat Schoeman in sy rekonstruksie van die verlede telkens stem gee aan die stemloses; die uitskot van die maatskappy, dikwels so verskillend soos slawe, oujongnooitantes en politieke opstandelinge.

In 2002 word sy outobiografiese aantekeninge, Die laaste Afrikaanse boek, gepubliseer.

Verskeie van sy niefiksie-publikasies oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis het die afgelope jare ook by Protea Boekhuis verskyn.

Met Schoeman se 60ste verjaardag skryf Johan Rossouw in Fragmente van 1999: “Hoe bring ’n mens hulde aan iemand wie se werk sedert 1965 met die verskyning van Veldslag in meer as ’n honderd publikasies ’n geduldige weefwerk van die lewe in hierdie land geword het. (...) Van Schoeman se werk kan gesê word dat dit ons geleer het van die band tussen landskap en wees, dat dit die waarde van die brose woord aanstip, dat dit ons tot die onmoontlike, dog onvermydelike, taak van herinnering wend, dat dit die vreugde van verwagtinglose, versigtige lees skenk, dat dit die eenvoudige skoonheid van die getuigende lewe as voortdurende geboorte en wording spieël. [...] Vir die Afrikaanse taal is dit ’n besondere eer dat jy daarin skryf. Dankie, Karel.”

Skepelinge is die laaste manuskrip wat Schoeman aan H&R voorgelê het; dit sal later vanjaar verskyn. Schoeman self het dit beskryf as die aanloop tot ’n roman, wat “in laaste instansie tog as produk van die skeppende verbeelding beoordeel moet word eerder as van navorsing”. Die teks fokus bowenal op die eerste immigrante aan die Kaap, die skepelinge wat werksaam was vir die VOC tydens die 1600’s en 1700’s, hul oorsprong aan die Europese vasteland, die moeilike en gevaarlike reis na Afrika, en die aankoms in die vreemde.

Skepelinge is uiteindelik ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op die skrywer se kennis van die VOC-tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het Karel Schoeman dit beskryf as ’n “hibriede skepping, êrens in die midde tussen fiksie en niefiksie”. Dit is ‘n teks wat nie op ’n meer geleë tyd kon verskyn het nie.

The post Karel Schoeman (1939–2017), ’n oorsig oor hierdie lewe appeared first on LitNet.

Die Poort: Helers deur Nelia Engelbrecht: ’n resensie

$
0
0

Die Poort: Helers
Nelia Engelbrecht
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077534

As skrywer wat vanaf 1994 haar hand aan fiksie slaan, het dit Nelia Engelbrecht ’n wyle geneem om nog groter sukses te behaal met kinder- en jeugverhale. Haar heel eerste kinderboek heet Alicia en die Zitstappers en het in 2007 by Human & Rousseau verskyn. Kort daarna is Die seun met die blou hare by Lapa uitgegee. Daarna volg Dieter en Madame Zenobia (Human & Rousseau). Haar eerste jeugverhaal, Pandora se boks, uitgegee deur Tafelberg, het in 2010 die Scheepersprys en ATKV Kinderboektoekennig ontvang. Van kortverhale tot liefdesromans en wenner van verskeie skryfkompetisies, word Die Poort: Helers, die derde in dié reeks deur Tafelberg vrygestel.

Nelia vertel: “Dit is vir my lekker om te skryf, die karakters kom klop soms aan my deur en vra om geskryf te word.” So het Boek 1, Die Poort: Bewakers, lesers bekendgestel aan die nuwelinge Tara, Nomsa, Leonardo en Kali. Na Tara se ma se ontvoering oorreed sy hulle om deur die Poort te gaan om haar ma te soek, al is dit teen die Raad van Bewakers se wense. In die tweede aflewering, Die Poort: Reisigers, reis die viermanskap deur die onderwaterpoort. Die Ander se planeet is ’n vreemde mengsel van bekend en onbekend en die vier jongmense moet al die magte tot hul beskikking gebruik om ongesiens daar te beweeg. Met hul terugkoms reis daar per ongeluk twee van die Ander saam deur die Poort. In die derde aflewering van dié fantasiereeks, Die Poort: Helers, vind meer legkaartstukke vir die vier Nuweling-bewakers hulle plek.

Die viermanskap reis terug in die tyd en Kali ontmoet haar Hugenoot-voorouers op die skip Oosterland. Met die naderende skoolvakansie moet Kali saam met Leonardo, Tara en Nomsa Italië toe reis terwyl Zak alleen agterbly. Die verhaal neem die leser op avonture wat strek van ’n 1688-houtskip wat dobberend rondgeslinger word in ’n storm op see tot ’n reis op soek na Die Poort in Venesië. Die verhouding tussen Kali en Zak word tot die uiterste beproef met haar reis daarheen en Leonardo se belofte dat hy mooi na haar sal kyk.

In Helers voer Nelia jou weg op ’n reis wat jou asem wegslaan en jou laat uitsien na wat volgende gebeur. Jy leef jou in in die superreise en ervarings, beleef die angs, voel die spanning, die emosies. Nelia kwyt haar goed van haar taak om die leser vas te vang, byna soos in ’n surrealistiese borrel vol avontuur en bonatuurlike gebeure. Die opbou is soos ’n orkes wat rustig speel en opbou en werk na ’n klimaks. Wanneer die klimaks bereik word, is dit ’n hoogtepunt in haar skryfwerk en kan jy voorwaar nie wag vir die volgende aflewering nie. Dis ’n boeiende tienerverhaal en Nelia slaag beslis daarin om haar teikenmark geïnteresseerd te hou in die derde boek in die reeks. Jong lesers behoort uit te sien na die volgende aflewering in die avonture van Kali en haar vriende en die vreemde, maar uiters opwindende reise wat voorlê.

The post Die Poort: Helers deur Nelia Engelbrecht: ’n resensie appeared first on LitNet.

Web deur Naomi Meyer: ’n FMR-resensie

$
0
0

Web
Naomi Meyer

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801204

Web is Naomi Meyer se debuutwerk in volwassene-fiksie. ’n Jeugroman, Ruik jy die filmster?, het in 2006 by Tafelberg verskyn.

Web speel af in Stellenbosch, waar die hoofkarakter, Sophia, soos die skrywer, vir ’n boekewebblad, genaamd BoekWeb, werk. Sophia en haar “brokkelrige” gesin (soos Meyer dit stel) het onlangs met ’n hoop buitelandse skuld uit Ierland na Suid-Afrika teruggekeer en in Stellenbosch probeer hulle om ’n nuwe begin te maak. Sophia se man, Diederick, is ’n speurder betrokke by die polisiëring van gesinsgeweld en hulle twee kinders, Magriet en Mathys, is onderskeidelik sewe en vyf jaar oud. Magriet is ’n aangenome kind en die spanning in die verhaal draai enersyds om Magriet se verdwyning en andersyds om Sophia se ontvoering deur ’n ou liefde, Anders Bester, kort nadat haar kind verdwyn.

In ’n doelbewuste oorvleueling van vorm en inhoud word die verhaal episodies en op nieliniêre wyse vertel. Dié tegniek is oorwegend funksioneel. Ander inkorporasies van die webtematiek is egter minder geslaagd. Die vele episodes waarin spinnekoppe ’n rol speel, neig in die geheel tot ’n oorbeklemtoning. Afsonderlik beskou kom sommige van hierdie episodes ook geforseerd en selfs oppervlakkig voor – byvoorbeeld Sophia en Mathys se ontmoeting met die ouers van die vermisde Magriet se maatjie in Jonkershoek op presies die oomblik toe hulle besig is om ’n spinnekop van nader te bestudeer.

Die indruk van onwaarskynlikheid, of kunsmatigheid, spoel ook oor na ander tegniese aspekte van die roman, veral wat segging, vergelyking en uitdrukkings in die algemeen betref. So is Mathys op ’n stadium geheg aan ’n pak malvalekkers soos Sophia en Diederick “aan hulle herinneringe aan Suid-Afrika”. Of Sophia se leuens vir haar kinders is “so glad soos die seep wat sy van hulle lywe afspoel”. Of koue druppels reënwater “sny” in die boemelaar, Jackson, se lyf in soos die mes waarmee hy kort gelede gesteek is. Op ’n ander kol, laat in die verhaal, sien Magriet haar ma “spring net soos daardie springspinnekop die nat oggend in die tuin”. By die lees van hierdie vergelykings wil mens telkens vra of die skrywer ernstig is met hierdie hiperbole. Voorts is daar oomblikke waarop Meyer ’n ongeloofwaardige gladdebekkigheid in dialoog met volwassenes aan die kinderkarakters toeken. Ons almal weet dat kinders soms die mees verrassende dinge kwytraak, maar wanneer hierdie slimmighede, soos hier, die reël in stede van die uitsondering word, oortuig dit nie.

Tog kom oortuigende en selfs briljante uitdrukkings ook dikwels voor, byvoorbeeld wanneer Sophia vrees dat sy soos “’n hoërskoolmeisie wat dwangrym-gedigte skryf” sal klink wanneer sy met Anders praat, of wanneer Sophia die ontvoering beskryf as ’n “idilliese nagmerrie” (’n stelling wat herinner aan ’n sekere psigoanalitiese definisie van die nagmerrie as die droom wat bewaarheid word). Vir my was die mees oortuigende beskrywings egter dié waarin traumatiese en gewelddadige gebeure aan bod kom. Veral die toneel waarin klein Magriet sien hoe ’n ander kind van haar ouderdom – Zoë – verkrag word, bly by mens spook. Trouens, die uitbeelding van gebeure vanuit Magriet se oogpunt werk in die geheel baie goed. Meyer se ondervinding as jeugromanskrywer skemer in hierdie opsig duidelik deur – as skrywer is sy op haar gemaklikste wanneer sy deur die oë van ’n kind kyk.

Dit beteken egter nie dat daar nie ook volwasse en selfs eksistensiële inhoud is wat oortuig en die webmotief doeltreffend en op vindingryke wyse versterk nie. ’n Voorbeeld hier is wanneer Google in een van die hoofstukke in die eerste persoon praat en mens opnuut onder die indruk kom van Jacques Lacan se siening dat die mens se begeerte die begeerte is van die Ander (“my desire is the Other’s desire”) – wanneer mens dus besef hoe ons almal in mekaar se webbe vasgevang word en is en dat die internet-era hierdie aspek van ons bestaan intensiveer.

Daar sal natuurlik diegene wees wat sou wou argumenteer dat hierdie soort psigoanalitiese of filosofiese beskouing nie by die ontspanningsroman tuishoort nie. Mens hoef egter nie Slavoj Žižek te gelees het om te weet dat ons populêre kultuur, en veral die spanningsroman as genre, deurspek is met verwysings na sogenaamde high theory nie. Dink maar aan Hercule Poirot se onvergeetlike aforismes. Of Bennie Griessel se lewenswyshede. Wanneer Meyer dus skryf: “Niks is onder beheer nie, Mathys. Dalk is vandag die regte tyd om vir jou te sê: Hou op om te dink dinge kan ooit onder beheer wees. Daar bestaan nie iets soos beheer nie, Mathys. Daar is net verlies en chaos”, dan kan en mag hierdie woorde gelees word as veel meer as net die desperate gedagtes van ’n ma wie se kind vermis word in ’n spanningsroman.

Een van die hoofredes waarom Web ’n sterk en oorspronklike bydrae is, is dat dit geskryf is vanuit die oogpunt van karakters wat meestal in die Afrikaanse spanningsroman ’n sekondêre verteenwoordiging kry: die vrou, die moeder, kinders. Hierdie perspektiewe is ’n welkome toevoeging tot ’n genre wat, in Afrikaans én Engels, steeds deur die manlike stem en deur manlike karakters oorheers word. In ’n boek waarin die spanning draai om die spil van geweld wat mans teen vroue en kinders pleeg, is dit heeltemal gepas dat die verhaal vanuit die perspektief van die slagoffers vertel word. Web gaan verder ook op vindingryke wyse om met die ras- en klasverdeeldheid in Suid-Afrika en veral met die soms gruwelike vooroordele wat daarmee gepaardgaan.

Ondanks die betreklik klein irritasies wat ek hier bo genoem het, is Web in die geheel ’n boek wat besonder netjies uitgewerk en afgewerk is, wat boei en wat mens laat dink oor die maatskaplike ongeregtighede wat daagliks in ons land afspeel, veral daardie ongeregtighede wat gepleeg word teen weerlose kinders – weerlose kinders wat nie, soos Magriet, gelukkig genoeg is om ’n “superhero” (haar woord) vir ’n pa te hê nie; weerlose kinders wat nooit uit die wrede web van mishandeling, misdaad en algemene verwaarlosing ontsnap nie. Meyer se spannende verhaal vestig ons aandag opnuut op daardie kinders, die volwassenes van môre.

  • Jaco Barnard-Naudé is professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad en die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot aan die Universiteit van Westminster, Londen.

Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.

The post Web deur Naomi Meyer: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.


Ink deur Ingrid Mennen, ’n resensie

$
0
0

Titel: Ink 
Skrywer: Ingrid Mennen
Illustreerder: Irene Berg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077947

Hierdie boek bied ongetwyfeld iets nuuts vir die klassifisering van prenteboeke. Buiten die postmodernistiese aard kan dit gebruik word om ’n leeskultuur by jong kinders te bevorder.

Ink is postmodernisties van aard omdat dit handel oor ’n boek binne ’n boek.

Dié boek is die skrywer Ingrid Mennen en haar dogter Irene Berg se tweede projek saam. Hul eerste kinderboek as span was Ben en die walvisse (2012). Ben en die walvisse het onder andere die MER-prys vir beste geïllustreerde boek in 2013 ontvang, asook die gesogte Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur in 2015. Ink bou voort hierop en is nog ’n suksesvolle projek wat ’n kwaliteitboek opgelewer het.

Die illustrasies is pragtig en werk goed saam met die tema van koerante en die geskrewe medium. Daar is van gemengde mediums gebruik gemaak, wat bydra tot die skep van tekstuur. Dit maak die boek tasbaar vir die leser – die koerant lyk so werklik.

Die boek is ’n lekker grootte vir jonger lesers om te hanteer en is nie te groot of swaar nie.

Ink is ideaal vir kinders wat tussen voorlees en selflees staan en die teks is bevorderlik vir leerprosesse soos tel, spel en lees.

Die inleiding stel kinders bekend aan die formaat van meer gevorderde leesboeke met individuele hoofstukke. Die boek begin eenvoudig, met enkele woorde, en die sinne en paragrawe groei soos die boek vorder. Hierdie benadering bevorder die ontwikkeling van leesvaardighede, wat dit ideaal maak vir kinders wat leer lees en nog steeds kan baat by ’n ouer of volwassene se hulp.

Ink is só geskryf dat dit vir beide die kind en die volwasse voorleser ’n eiesoortige leeservaring kan bied. Die interessante element is die postmodernistiese aard van die teks wat die volwasse leser sal betrek. Daar word baie fyn met die stylverskynsels van postmodernisme gespeel.

Dit is Ink se treffendste eienskap, omdat teoretiese konsepte soos postmodernisme nie gewoonlik eksplisiet in prenteboeke gebruik word nie. In hierdie geval is dit baie effektief.

Maar eers ’n vlugtige oorsig van postmodernisme en wat die stylverskynsels daarvan behels.

Postmodernisme is ’n kunsbeweging wat gemoeid is met selfbewustheid. Hambidge gee ’n kompakte verduideliking van wat die postmodernisme behels; sy sê dit is:

’n kunsbeweging wat die grense van die kunsmedium ondersoek, (her)definieer en verironiseer. Die parodie is stellig die uiterste vorm van die postmodernisme, aangesien dit by uitstek die leser/kyker attent maak op beperkinge én vindingrykheid van ’n bepaalde stelling. (Hambidge 1995:9)

Hambidge wys op verskillende stylverskynsels wat as leidrade kan dien vir die leser om ’n teks as postmodernisties te klassifiseer. Hierdie stylverskynsels word dan funksioneel gebruik om met die leser se aandag “te speel”.

Eerstens word daar breedvoerige gebruik gemaak van intertekste. Sodoende word die leser as aktiewe rolspeler betrek. Die leser moet die verbindings tussen die verskillende tekste maak en betekenisse daarin raaksien. In Ink se geval sal die ingeligte leser sien dat Tinka ook ’n kopie van Ben en die walvisse besit. Ons sien ook dat sy vir Ink uit die bladsye van Die Burger knip.

Selfrepresentasie is sekerlik die duidelikste stylverskynsel. Die postmodernistiese teks maak die leser spesifiek bewus van ’n teks se tekstualiteit en dat die verhouding tussen fiksie en realiteit problematies is. Postmodernistiese tekste is daarom selfverwysend en verwys na hulself as teks en die teks as ’n verteenwoordiging van ’n enkele waarheid of werklikheid.

Ink bewerkstellig hierdie stylverskynsel baie duidelik en suksesvol. Eerstens is die titel, Ink, en die karakter Ink verbind tot woorde, teks en taal. Die feit dat Tinka besluit om haar afgetrekte maat Ink te noem en dat sy uit koerantpapier bestaan, onderstreep die selfverwysing van die boek as ’n teks. Wat tot die stylverskynsel van dekonstruksie lei.

Postmodernisme bevraagteken hiërargieë en ordes (Hambidge 1995:11). Hiermee saam word die grense van ordening bevraagteken deur vrae te vra, soos: Wie is die skrywer? Is Ingrid Mennen die skrywer of Tinka? En wie is dan die karakter? Hierdie tipe dekonstruksievrae word bevorder deur die genre-eienskappe van ’n prenteboek, waar daar baie min tot amper geen teks is om te ontleed nie. Die prente word dan deel van die teks.

Die grense tussen die werklikheid en die fiktiwiteit van die boek word dus bevraagteken.  

Die gesag van die skrywer word ook in twyfel getrek en vorm die middelpunt van die boek. Soos reeds gevra: Is Tinka of Ingrid Mennen die skrywer? Want Tinka lees aan die einde ook ’n boek getiteld Ink. Hierdie aspek wys ook terug na die selfverwysing van ’n postmodernistiese teks asook waar die grense tussen werklikheid en fiktiwiteit lê.

Laastens is die postmodernisme se gunsteling-stylverskynsel die parodie. ’n Parodie is die gebruik van ’n bestaande teks waarop iemand anders grappige ironiese kommentaar lewer. Die populêre gebruik van “meme’s” op die internet is ’n goeie eietydse voorbeeld, want ’n eenvoudige foto of grafika word uit die oorspronklike konteks gehaal en daar word kritiek of kommentaar daarop gelewer binne die raamwerk van ’n nuwe konteks.

Tinka gebruik koerantpapier om vir Ink te maak en sy neem vir Ink oral saam – sy is selfs ’n gas tydens aandete. Volgens Tinka is haar nuwe maat werklik. Tinka meld ook dat Ink nie mag nat word nie, al is sy vuil. Ten einde word Ink ’n boek, dalk dieselfde boek wat die leser lees. En waar laat dit die grense van werklikheid teen oor fiktiwiteit? Is Ink dan nie werklik omdat sy ’n boek word nie?

Hierdie postmodernistiese stylverskynsels funksioneer baie goed binne die raamwerk van ’n kinderboek, omdat dit verbeeldingsvlugte aanwakker, maar ook in ’n werklikheid grond – die werklikheid van die boek, maar ook die fiktiwiteit.

Ten slotte is Ink nie net ’n oppervlakkige prenteboek nie, maar ontgin die gebruik van postmodernistiese stylverskynsels suksesvol. Hierdie boek is beslis geskik om ’n leeskultuur tuis te skep, wat dit die ideale geskenk maak vir kinders wat hierdie jaar “grootskool” toe gaan en leer om te lees.

 

Bibliografie

Hambidge, J 1995. Postmodernisme, Pretoria: JP van der Walt

 

The post Ink deur Ingrid Mennen, ’n resensie appeared first on LitNet.

Debora gaan huis toe deur Helene de Kock: bekendstelling

Get up! Stand up! by Mark Heywood: book launch

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: Pretoria-bekendstelling

Klim op die Bant Wagon deur Nick Charlie Key, ’n mediese beskouing

$
0
0

Klim op die bant wagon
Nick Charlie Key
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798172691

Die verskyning van die Afrikaanse vertaling van Nick Charlie Key se Jump on the Bant Wagon is ‘n welkome toevoeging tot die warm debat oor die “lae koolhidraat, hoë vet”- (LKHV-) dieet wat tans heers. Die algemene publiek is verward, en weet nie meer wat om te glo oor die oënskynlik teenstrydige mediese uitsprake wat gemaak word aangaande die voor- of nadele van hierdie dieet nie.

Die laekoolhidraat-eetplan is reeds in 1972 deur die kardioloog Robert C Atkins voorgestel en staan bekend as die Atkins-dieet. Die doel van die dieet is om dieetpatrone te verander ten einde gewig te verloor en normale gewig te behou. Die Banting-dieet stem ooreen met die Atkins-dieet. Albei beperk die inname van koolhidrate en suiker asook sekere plantolies, met die Banting-dieet wat meer klem lê op die inname van meer laekoolhidraatgroente.

Dit is betekenisvol dat die eerste voorstanders van hierdie laekoolhidraat-dieetpatroon almal vooraanstaande mediese wetenskaplikes was. Na die twee vernietigende Wêreldoorloë het die Amerikaanse departement van landbou in 1977 mense aanbeveel om ‘n dieet hoog in koolhidrate te volg. Dit is gedoen sonder enige grondige wetenskaplike bevindings oor die langtermyngevolge van hierdie dieet, maar waarskynlik om goedkoop voedsel aan die honger menigtes te voorsien. Dokters is besorg oor die gevolglike toename in ernstige mediese toestande, soos die metaboliese sindroom, diabetes, hoë bloeddruk en kardiovaskulêre siektes. Dit het bekend geword dat hierdie siektes voorkom en selfs omgekeer kan word deur net gewig te verloor. Mediese wetenskaplikes het bevind dat die aanbevole lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet siektes soos tipe II-diabetes en kardiovaskulêre siektes kan veroorsaak. Met die toenemende bekendmaking van navorsing wat klem lê op die ernstige newe-effekte van sommige van die medikasies, soos die cholesterolverlagende middels, begin dokters toenemend lewenstylmodifikasies voorstel om hierdie epidemie van siektes wat met oorgewig verband hou te beheer.

Dit is interessant dat Key nie ‘n dieetkundige of mediese wetenskaplike is nie, maar die moeilike paadjie geloop het om gewig te verloor; en vandag is hy 22 kg ligter. Die verskil is dus dat hy weet hoe dit voel om vet te wees en hy weet hoe ‘n groot stryd dit is om gewig te verloor. Die boekie is volgepak met 90 smullekker resepte, almal laag in koolhidrate en glutenvry, en hy gebruik ook alternatiewe vir suiker. Dit is dus nie ‘n mediese handleiding met raad wat moeilik in die praktyk gevolg kan word nie. Hy lê klem op resepte wat maklik en bekostigbaar is, sodat goeie gesondheid en hope energie nou binne elkeen se bereik is. Die visuele uitleg van die boek, vol pragtige kleurfoto’s van smullekker geregte, dra by tot die oorredingsvermoë daarvan. Die feit dat Key nie ‘n professionele sjef is nie, en geen kulinêre opleiding het nie, maar net ‘n passie vir kosmaak en gesondheid het en hierdie ervaring met ander wil deel, dra by tot die boek se sukses. Die boek slaag daarin om die boodskap van gesonde eetpatrone op ‘n aanvaarbare wyse oor te dra.

Daar is ‘n groeiende bewuswording onder dokters van die belang van lewenstylmodifikasie in die bekamping van die epidemie van chroniese en degeneratiewe siektes soos diabetes, hartsiektes, osteoporose en osteoartritis. Dokters is ook bekommerd dat die medisynes wat vir hierdie siektes ontwikkel is, ernstige newe-effekte het en nie daarin slaag om hierdie siektes te genees nie. Alternatiewe hanteringsmetodes soos gewigsverlies, oefening en dieet-ingrypings word ondersoek om die liggaam se eie inherente genesingspotensiaal te stimuleer, en nie net die simptome te behandel nie. Dit het ook bekend geword dat cholesterol nie hartaanvalle veroorsaak nie, maar slegs geassosieer is met kardiovaskulêre siektes. Wat meer is, die lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet wat die Amerikaners oor die afgelope 50 jaar aan ons voorgehou het en slaafs nagevolg is deur dieetkundiges wêreldwyd, was die oorsaak van die toename in diabetes en hartsiektes. Hierdie siektes was in die verlede betreklik onbekend .

Daar is ook bevind dat verfynde suiker byna net so verslawend is as kokaïen. Mense kan net nie afsien van versoete produkte nie, en die voedselbedryf is maar alte bewus van hierdie “swakheid” en laai hulle produkte gevolglik met suiker om verkope te bevorder. Hierdie suikerryk produkte word dikwels naby die betaalpunte uitgestal, en mense kan net nie die versoeking weerstaan nie, en die lekkergoed beland in die inkopiemandjie.

Wat egter nie algemeen bekend is nie, is dat daar by ‘n klein persentasie mense ‘n verskuilde genetiese afwyking is wat hulle aan die risiko blootstel om die metaboliese sindroom en insulienweerstandigheid te ontwikkel. Die metaboliese sindroom is die voorloper van suikersiekte en hartsiektes, insluitend hoë bloeddruk. Hierdie genetiese risikofaktor vir bloedvatsiektes van die hart kan geaktiveer word deur uitwendige faktore soos oorgewig en onaktiwiteit. Mense met insulienweerstandigheid kan ook nie te veel fruktose eet nie, en moet dus selfs vrugte in hulle dieet beperk.

Dit beteken dat die laekoolhidraatdieet dus nie op almal van toepassing is nie. Mense wat nie insulienweerstandig is nie, fisiek aktief is en ‘n normale bloedglukosevlak en cholesterolkonsentrasies het, hoef nie op so ‘n laekoolhidraatdieet te gaan nie. Dokters kan bepaal of jy ‘n hoërisikogeval is om kardiovaskulêre siektes te ontwikkel. Daar is verskeie bloedtoetse wat die genetiese en biochemiese risiko vir die metaboliese sindroom kan bepaal lank voordat suikersiekte of ‘n hartaanval te voorskyn kom.

Die beginsels om die koolhidrate te beperk, en meer op vette en proteïene te konsentreer, hou nog steeds stand; die versadigingswaarde van vette en proteïene is beter as dié van suiker. Suiker veroorsaak ‘n insulienreaksie wat die bloedsuikervlak laat daal en ’n hongersensasie laat ontstaan. Gesonde vette en proteïene stimuleer nie insulienafskeiding nie. Mens word dus nie so gou weer honger nie, en die neiging om te peusel word beperk.

Wat soms uit die oog verloor word, is die feit dat mense geneig is om persentasie te verwar met hoeveelheid. Die klem op die laekoolhidraatdieet is dat ‘n groter persentasie energie in die vorm van vette en proteïene verkry moet word as van koolhidrate. Vette is ook meer energieryk, wat die persoon gouer versadig laat voel. Natuurlik sal te veel vet ook tot gewigstoename lei. Die klem val dus op die dieetsamestelling. Die feit is: verfynde koolhidrate in die vorm van suiker en wit gesifte meel is leë kalorieë sonder addisionele voedingstowwe. Wanneer jy een teelepel botter en ‘n avokado eet sonder suiker of brood, kom die kalorieë 100% van vet; dit dui nie die hoeveelheid aan nie, maar slegs die persentasie van die energie afkomstig uit vette. Vet onderdruk die eetlus, en dit is die beste manier om suiker verslawing te oorkom. Kalorie-inname verminder sonder om hongerpyne te veroorsaak, met die gewenste gewigsverlies.

Die kernboodskap van hierdie dieetpatroon is dat ons onsself moet losmaak van die gevestigde dieetpatroon soos deur die Amerikaners voorgestel, en moet ag slaan op navorsing wat toon dat gesonde vette ryk aan omega 3-vetsure nie so skadelik is as wat voorheen aan ons voorgehou is nie. Goeie bronne van vet is botter, room, klapperolie, neute en avokado’s en dierevet. Die idee dat cholesterol in die dieet die oorsaak is van die abnormale cholesterolprofiel in die bloed word nou bevraagteken.

Geneeshere begin om toenemend hulle pasiënte aan te moedig om meer verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie gesondheid en nie net staat te maak op medisyne om reg te maak wat verkeerd geloop het nie. Die chroniese en degeneratiewe siektes wat aan ‘n ongesonde lewenstyl gekoppel is, kan nie met geneesmiddels alleen reggemaak word nie. Voorkoming is hier beter as genesing.

Die boek beklemtoon ook nie die feit dat kos geweeg moet word nie. Die beste maatstaf van hoeveel elke persoon kan eet, bly maar sy of haar gewig. Wanneer die gewig stabiel bly, eet jy dieselfde hoeveelheid kalorieë wat jy verbruik. Wanneer jy gewig optel, eet jy te veel! Die geheim van hierdie dieetpatroon is dat dit volhoubaar is en nie noodwendig onbekostigbaar is nie. Key se resepte bied ‘n wye verskeidenheid opsies wat maklik in ‘n knap begroting kan inpas. Wat mense soms uit die oog verloor, is die geld wat bespaar word deur nie meer afhanklik te wees van duur medisyne nie. Daardie besparing kan gebruik word om gesonde kos te koop.

Mediese wetenskaplikes verwelkom enige poging om mense meer gesondheidsbewus te maak en self by hulle hanteringsprogram betrokke te raak. Suid-Afrika het ‘n onaanvaarbaar hoë persentasie mense wat oorgewig is. Dit plaas groot druk op die gesondheidsorgstelsel. Hierdie dieetpatroon sal meewerk om die voorkoms van hartaanvalle te beperk en mense meer gesondheidsbewus te maak. Ongelukkig is daar nog verskeie dokters wat op sleeptou geneem word deur die farmakologiese bedryf wat middels te promoveer om hierdie siektes wat met oorgewig verband hou te behandel. Mense soos Nick Charlie Key wat hulle persoonlike ervaring met die laekoolhidraat              dieet met ons deel, lewer ‘n groot bydrae tot die beter verstaan van die vetsug epidemie.  Dokters leer dikwels by hulle pasiënte van die waarde van dieet-ingrypings wat dalk nie met die aanvaarde opleidingsdogma strook nie.

Ons ken nie alle antwoorde nie, maar begin om antwoorde te bevraagteken!    

The post Klim op die Bant Wagon deur Nick Charlie Key, ’n mediese beskouing appeared first on LitNet.

Viewing all 1319 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>