Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1360 articles
Browse latest View live

Tot die dood ons skei deur Schalk Schoombie: ’n resensie

$
0
0

Tot die dood ons skei: mans wat hul vroue vermoor
Schalk Schoombie

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172905

Enigeen van ons kan ’n moord pleeg. Ek. Jy. Enigeen.

Dit is die mening van talle kenners. Ons almal beskik ook oor ’n donker kant. Duideliker gestel: enigeen van ons kan onder sekere omstandighede moor en wanneer daar bepaalde snellers is.

Ek weet dat vroue wat bloed op hul hande het en hul mans vermoor, of laat vermoor het, byna almal in ’n stadium mishandel, misbruik of verkrag is. Daarom kon ek nie wag om uit te vind wat mans daartoe dryf om die vrou wat hulle na bewering in ’n stadium liefgehad het, gewelddadig te wil laat sterf nie. Die naam vir hierdie kommerwekkende verskynsel is “intieme vrouemoord”.

Hoekom skei hulle nie maar net as die huwelik/verhouding so ondraaglik geword het nie? Hoe lyk ’n man wat sy vrou vermoor? Soos ’n monster wat ’n byl rondswaai of soos die duiwel in die Kinderbybel? En verskil die psige van moordlustige mans van dié van vroue?

Danksy deeglike navorsing deur die skrywer word die antwoorde hierop in veral internasionale gevallestudies in die boek uitgespel. Schoombie skryf dat mans se motiewe minder uiteenlopend as hul metodes blyk te wees. Een ding waaroor kenners wêreldwyd saamstem, is dat intieme vrouemoord se wortels in ’n patriargale sienswyse lê.

Die sinistere titel, Tot die dood ons skei, en die voorblad waarin ’n vrou se gesig in die duister gehul is, trek dadelik aandag. Dit het vir my veel meer emosionele trefkrag as die makabere bloedkolle op misdaadboeke se voorblaaie wat deesdae byna ononderhandelbaar is. Party van hierdie bloedkolle is selfs gelamineer!

Die boek bevat skokfeite, soos dat drie vroue elke dag in Suid-Afrika deur ’n jaloerse, depressiewe of beheersiek man – ’n eggenoot, ’n eks, ’n minnaar of selfs ’n huurmoordenaar, vermoor word.

Van die talle bydraende faktore in ons land wat in die boek gelys word, is stres, misdaad, uiters streng dissipline in die kinderjare en ’n gebrek aan goeie rolmodelle.

Veral interessant is die beskrywing van “eremoorde” en “bruidskatmoorde” elders, wat onderskeidelik deur eer en gierigheid gedryf word, en die feit dat ’n vrou byvoorbeeld Alzheimersiekte kon gehad het en die man nie meer kans gesien het om na haar om te sien nie. Daar is ook bevind dat mans wat hul swanger vroue vermoor, byna altyd psigopate is.

Van die rillermetodes om vroue te vermoor, wissel van bruidverbranding en versmoring deur die vrou se suurstoftenk tydens ’n duiksessie onder water toe te draai tot verdrinking in die bad. Voorwerpe wat al as moordwapens gebruik is, is ’n pen, ’n kierie, ’n toiletbakdeksel, ’n stofsuierpyp en ’n kettingsaag. Dan is daar die grusame voorvalle waar die moordenaars kannibaals optree of hul vrou se oorskot naby hulle hou, byvoorbeeld in ’n drom.

Ongelukkig is dit so dat huishoudelike geweld ’n tameletjie bly. Die polisie sal jou vertel dat hierdie soort sake selde aangemeld word en gereeld teruggetrek word. En dit is deel van die probleem. Schoombie skryf oor vroue wat uit vrees by hul manipulerende mans bly of selfs teruggaan nadat hulle herhaaldelik aangerand is. In een geval het die man aan die vlugtende vrou vertel dat hy kanker het. Sy is terug huis toe, en is net daarna doodgeskiet.

Baie van die mans is as “liefdevol” en skadeloos beskou – die laaste mense van wie mens bloedvergieting sou verwag.

Schoombie maak vroue bedag op die feit dat hoewel daar nie altyd ’n herkenbare profiel is nie, daar wel ’n herkenbare patroon is.

Praktiese raad in die boek oor gevaartekens, vuurwapenwetgewing en beskermingsbevele kan mishandelde vroue hopelik daarvan oortuig om betyds pad te gee. Daar is ook ’n lang lys van hulporganisasies waar hierdie vroue kan gaan aanklop, wat toon dat die skrywer omgee. Mens hoop net mishandelde vroue lees hierdie boek.

Van die beste raad wat verskaf word, is dat geen vrou ooit met ’n man moet trou wat sy ma haat nie.

Schoombie skryf in die toeganklike styl van ’n ervare joernalis, maar steun swaar op taamlik lang aanhalings uit verskeie publikasies en bronne. Niks fout daarmee nie, maar ek sou daarvan gehou het as hy meer oor Suid-Afrikaanse gevallestudies uitgebrei het en meer direkte onderhoude met Suid-Afrikaanse misdaadkenners, forensiese sielkundiges en kriminoloë gevoer het.

Vir aanhangers van narratiewe niefiksie sou dit ook interessant gewees het as hy persoonlike onderhoude met die moordenaars kon gevoer het, maar dan weet ons ook hoe moeilik dit is om toestemming te kry om agter tralies te kom indien jy nie ’n misdadiger is nie. (Talle sal opmerk dat dit net so moeilik is om in die tronk te beland indien jy wel ’n misdaad gepleeg het!) Maar daar is natuurlik ook ruimte vir alle benaderings wat feitelike benaderings soos syne insluit.

Kriminologiestudente, aanhangers van oorsese televisiemisdaadreekse en krimiskrywers sal hierdie boek verslind. Laasgenoemde het al skertsend aan my erken dat hulle altyd bly is as misdaadniefiksieskrywers hul “navorsing” vir hulle doen

Schoombie is ’n selferkende feminis. Soos hy self verklaar, “in murg en been”. Mag die manlike geslag na deser nog vele meer oplewer.

Foto van Schalk Schoombie: verskaf

The post <i>Tot die dood ons skei</i> deur Schalk Schoombie: ’n resensie appeared first on LitNet.


Somer deur Jaco Fouché: ’n resensie

$
0
0

Somer
Jaco Fouché
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175340

“Lank lê sy so stil, met haar wang teen die boom, haar liggaam op die sagte aarde en in haar gebroke hart die diepe wete dat alles moet verbygaan …” (Van den Heever 1957:149). Met die eerste oogopslag van Jaco Fouché se jeugroman Somer het ek my gehawende 1957-kopie van CM van den Heever se klassieke roman, wat in 1935 verskyn het, geraadpleeg. Bostaande aanhaling is die karakter Linda se woorde en die slotsin in daardie roman. Soos seisoene kom en gaan, loop die mens se lewensiklus sy gang en word daardie somerseisoen van die prille jeug met die bewuswording van verganklikheid vervang.

Jaco Fouché is ’n gesoute romansier met ’n rits romans agter sy naam. In 1997 word die Eugène Marais-prys vir Die Ryk van die Rawe (1996) aan hom toegeken. In 2012 ontvang hy die derde prys in NB-uitgewers se Groot Roman-kompetisie vir Liefste Lena. Vanjaar word laasgenoemde prestasie herhaal en ontvang Fouché dieselfde prys vir Die aanspreeklikheid.

Om ’n jeugroman te skryf sit nie in enige skrywer se broek nie. Somer is Fouché se tweede jeugroman naas Siobhán van die sirkus, wat in 2014 verskyn het. Nadene Kriel se aanloklike omslagontwerp prikkel onmiddellik die leser se herinneringe aan vergange somers en jeugdige drome wat soos die wye oseaan voor menige skoolverlater uitgestrek lê. Soortgelyk aan Hans du Plessis se Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou (1991) handel die verhaal oor die vriendskap tussen twee seuns uit verskillende sosio-ekonomiese groepe – een wit en een bruin. Die roman belig, soos in Du Plessis se geval, die komplekse rasseverhoudings wat steeds in talle gemeenskappe regoor Suid-Afrika aan die orde van die dag is. Na 24 jaar van ’n veelrassige demokrasie word Suid-Afrikaners steeds deur middel van sosio-ekonomiese faktore van mekaar geskei.

Die verhaal word vanuit Maison Jonkers se perspektief vertel. Maison woon in die onderdorp van Hawston. Sy ma het haar gesin versaak om sendingwerk in Kaapstad te doen. Maison word met allerlei uitdagings, soos armoede en werkloosheid, gekonfronteer. In teenstelling woon André Lourens in die gegoede buurte van Onrus en het nie enige materiële tekort nie. Maison en André se paaie kruis op skool en deur die loop van hul matriekjaar en die daaropvolgende somervakansie word ’n vriendskap tussen hierdie twee jong mans gesmee.

Fouché bespreek talle temas in die roman: emigrasie, godsdiens, seksualiteit, vriendskap, geestesgesondheid, armoede, misdaad, afwesige ouers, rassisme en stereotipering kom aan bod. Beide Maison en André se lewensverhale geniet aandag deur die loop van die roman en enkele raakpunte tussen hul onderskeie lewens word sodoende geïdentifiseer.

Alhoewel die narratief op sigself interessant daar uitsien, is daar enkele aspekte wat my kwel. Maison en André se taalgebruik kom as ongeloofwaardig voor. As kritiese leser het die skrywer se volwasse stem te dikwels deurgeskemer en sodoende afbreuk gedoen aan die geloofwaardigheid van die tienerkarakters. Op bl 137 antwoord Maison André byvoorbeeld soos volg: “Aag, hel. Oud en moeg en der dagen sat in die diens van die Here.” Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n tienerseun (wat homself as ’n swak akademiese presteerder beskryf) in 2018 so ’n Nederlandse aanhaling in ’n informele gesprek met ’n vriend sal gebruik. Op bl 34 sê André hy “hoor [h]ulle het teenspoed gehad”. Alhoewel daar nie noodwendig van skrywers verwag word om streng by Standaardafrikaans te hou tydens die skryf van ’n jeugroman nie, is dié twee karakters se taalgebruik effens dik vir ’n daalder.

Sekere aspekte van die narratief, soos André se broer, Martin, se siektetoestand, die ma wat haar gesin uit die bloute verlaat om sendingwerk te gaan doen, en André se obsessie om met Maison bevriend te raak, laat my met meer vrae as antwoorde. Aanvanklik kom Maison en André se vriendskap gedwonge voor. Waarom reik André eers in sy matriekjaar na Maison uit ten spyte van die feit dat hulle in dieselfde skool en graad is en al ’n geruime tyd saam rugby speel? Die uitbeelding van André se broer wat aan ’n senutoestand ly, skep ’n wanindruk van persone wat aan geestesiektes ly. Hy word as ’n patetiese figuur uitgebeeld. Boonop word daar gesuggereer dat Martin genees kan word as Maison se ma hom help deur vir hom te bid. Om godsdiens as Martin se “kruk” te gebruik, grens net te veel aan ’n sedelessie – ’n aspek wat in jeugromans vermy moet word: “Ek hoop eintlik Martin kan weer beter word as hy net by die kerk is” (38). Alhoewel Martin wel later in die roman in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word, is sy obsessie om deur Maison se ma “genees” te word, problematies. Die slot is vertelagtig en opsommend van aard en skep die indruk dat al die onderskeie verhaallyne met ’n enkele handgreep bymekaar getrek moes word.

Die konsep waarmee Fouché gewerk het, het die potensiaal gehad om ’n opwindende jeugroman tot stand te bring. Die teks kon egter strenger geredigeer gewees het om die verhaal in sy geheel meer vaartbelyn te maak. Te veel temas word by die narratief betrek en die soms té formele taalgebruik doen afbreuk aan die hoofkarakters se geloofwaardigheid. Vergeleke met ander jeugromans wat onlangs verskyn het, haal Somer nie die paal nie.

 

Bibliografie

Van den Heever, CM. 1957 (1935). Somer. Pretoria: JL van Schaik.

The post <em>Somer</em> deur Jaco Fouché: ’n resensie appeared first on LitNet.

Ys deur Rudie van Rensburg: bekendstelling

If this be treason deur Helen Joseph: ’n resensie

$
0
0

If this be treason
Helen Joseph

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708176

Dis so maklik om die hoogverraadverhoor van 1956 tot statistieke te reduseer.

Dit begin met 156 beskuldigdes; teen die einde is daar 30. Daar was 211 staatsgetuies; 200 spesiale-tak-polisiebeamptes; 9 000 hofstukke; 1 400 hofure. Totale duur van die saak is vyf jaar (1956–1961); 37 000 km gereis na en van die hof. Die staat se deskundige getuie bring 32 dae in die getuiebank deur, 23 daarvan onder kruisverhoor.

Uitspraak: 40 minute.

If this be treason, geskryf deur beskuldigde twee in die verhoor, Helen Joseph, slaag meesterlik daarin om ons daaraan te herinner dat daar vlees-en-bloed-mense agter die statistieke van hierdie marathonhofsaak was. Dit behoort verpligte leesstof te wees vir elke Suid-Afrikaner wat uit ons politieke geskiedenis probeer sin maak.

Die boek pas nie gerieflik in enige genre nie. Dis niefiksie, maar dit lees so maklik en boeiend soos die beste spanningsfiksie. Dis nie politieke kommentaar nie, maar dit posisioneer ditself gemaklik binne van die stormagtigste dele van ons politieke geskiedenis. Dis nie ’n regsdrama nie, alhoewel die sentrale tema van die boek die hoogverraadverhoor is waar Joseph saam met onder andere Nelson Mandela, Ahmed Kathrada en Walter Sisulu aangekla was. Dis nie ’n tronkdrama nie, alhoewel Joseph vir feitlik die hele tydperk waaroor die boek gaan, in aanhouding was.

If this be treason is in wese ’n dagboek deur ’n vrou in aanhouding op ’n klagte waar skuldigbevinding met die dood bestraf sou word. Die staat wou weerstand in die land smoor deur die militantste lede te dood. Een van die regters in die saak het inderdaad kort voor die hoogverraadverhoor 22 mans ter dood veroordeel, en 21 se vonnisse is voltrek. Joseph en haar medebeskuldigdes was terdeë daarvan bewus dat hulle dieselfde paadjie kon volg. Dis maklik om te vergeet dat terwyl sy besig was om die dagboek te skryf, sy geen idee gehad het van wat gaan gebeur met die saak, of in die land, in die jare vorentoe nie. Sy slaag daarin om die leser te plaas in die kopspasie van ’n persoon wat veg vir wat sy glo reg is, sonder enige versekering dat daar beterskap sal kom.

Joseph se vertelling van die drama tydens die verhoor en hulle tyd in die tronk word in teenstelling geplaas met gebeure wat terselfdertyd in die buitewêreld plaasvind: daar is die Sharpeville-slagting, die noodtoestand wat afgekondig was, gedwonge verskuiwings van groot groepe mense, eetstakings en intimidasie deur die polisie.

Treason se trefkrag lê egter in die beeld wat Joseph skilder van die menslike koste wat die verhoor geëis het. Daar is die verhaal van beskuldigde 17, Robert Resha, wat een middag van die hof terugkeer en vind dat sy huis in Sophiatown deur stootskrapers platgestoot en sy meubels op die sypaadjie gegooi is. Daar is die verhaal van beskuldigde 23, B Ndima, wat vir die eerste keer in agt maande huis toe kan gaan in Port Elizabeth en dan ontdek dat ook sy huis vernietig is, en hy weet nie waar sy vrou en kinders hulle bevind nie. Daar is verhale van beskuldigdes waar beide pa en ma in hegtenis geneem is, en hul jong kinders sonder versorging gelaat is.

Daar is vele verhale van beskuldigdes wat hulle inkomste verloor het en finansiële vernietiging in die gesig gestaar het as gevolg van die verhoor en die intimidasietegnieke wat deur die veiligheidspolisie toegepas is. Joseph vertel aangrypende staaltjies van hegte vriendskappe wat gesluit was tussendeur die stres van die verhoor, van vreugdes wat in klein oomblikke gevind was, van dissipline ten spyte van chaos wat van buite op hulle afgedwing was.

Nêrens word lewe in apartheid-Suid-Afrika beter uitgebeeld as in die verskil in behandeling tussen wit en swart gevangenes nie. Joseph skram nie weg daarvan nie. Dit veroorsaak natuurlik spanning tussen haar en die enigste ander vrou onder die beskuldigdes, Lilian Ngoyi, beskuldigde 14. Hulle word op dieselfde vloer in die tronk aangehou, maar spanning ontstaan uit die staanspoor wanneer Joseph ’n bed, lakens en ’n kussing kry omdat sy wit is. Ngoyi kry ’n matjie om op te slaap. Joseph kry vleis en aartappels om te eet; Ngoyi kry waterige mieliepap. Die eerste nag in aanhouding word die swart manlike beskuldigdes in so ’n klein vertrekkie aangehou dat hulle staan-staan moet probeer slaap.

Daar is ook humoristiese oomblikke, soos toe die tronkbussie gaan staan en daar niemand is om te stoot nie. Op die ou end klim die bewaarder uit en stoot, en Joseph, sy gevangene in aanhouding, bestuur die bussie.

Selfs die publikasie van die boek het met drama gepaard gegaan. Die eerste uitgawe is in 1963 gepubliseer, en blitsvinnig verban. Daarna is dit weer in 1998 uitgegee, en dan is daar hierdie 2018-uitgawe.

Dis jammer dat die uitgewers nie die moeite gedoen het om die inligting in die boek op datum te bring voordat hulle dit hierdie jaar weer uitgegee het nie. Een van die aanhangsels tot die boek is inligting oor elkeen van die 30 beskuldigdes. Beskuldigde nommer 6, Nelson Rolihlahla Mandela, word byvoorbeeld beskryf as die huidige president van Suid-Afrika. Dit sou tog redelik eenvoudig gewees het om sulke inligting by te werk.

Uiteindelik is Treason ’n verhaal van die triomf van die menslike gees oor strukturele en sistematiese pogings tot vernietiging.

If this be treason is ’n boek wat my nog lank sal bybly. Bewys jouself ’n guns: gaan koop dit.

The post <i>If this be treason</i> deur Helen Joseph: ’n resensie appeared first on LitNet.

Leer lees en skryf vir graad 1, 2 en 3 deur Mart Meij: ’n resensie

$
0
0

Leer lees en skryf: graad 1, 2 en 3
Mart Meij
Uitgewer: Best Books
ISBN: 9781776071814 /  9781776071821 /  9781776071838

Nóg ’n kleintjie op pad …?!

In werklikheid het dié nuwe aankomelinkie reeds op 13 Oktober 2017 sy opwagting gemaak – springlewendig en gesond – én al die vingertjies en toontjies daar …

Die nuwe Leer lees en skryf-werkboek vir graad 1 tot 3 Afrikaans Huistaal is goed beplan deur ervare opvoedkundiges en taalkundiges en volgens die vereistes van die KABV: die leeslesse en handskrif- en taaloefeninge in dié werkboeke sal leerdertjies se woordeskat verbeter, hulle help om met selfvertroue en begrip te lees, hulle help om die uitspraak van klanke korrek aan te leer, en hul handskrifvaardighede help ontwikkel.

Die werkboeke is ook uiteengesit volgens die voorgeskrewe KABV-volgorde vir die leer van klanke, drukhandskrif en taalwerk in die onderskeie grade.

Die handskrifoefeninge, skrifstrokies en skrifpatrone is daarop gemik om lettervormingsvaardighede en druk- en lopende skrif in die regte lettertipe en met die korrekte reëlspasiëring, soos die KABV vereis, te oefen.

Die nuwelinkie is gretig om tevrede te stel en plesier en genoegdoening te verskaf: ná elke leesstukkie (volgens progressie in moeilikheidsgraad gegradeer) volg daar oefeninge wat die bepaalde klanke, spelling en taalstrukture en sigwoorde vaslê, en die leerdertjies sal leer hoe om woorde en volsinne te skryf, én terselfdertyd fyn motoriese en lopende en drukhandskrifvaardighede in die korrekte fonttipe en reëlspasiëring ontwikkel. Dié oefeninge kan ook vir assessering ingespan word.

Benewens ’n aantreklike voorblad is daar duidelike en kreatiewe illustrasies, met ’n Suid-Afrikaanse aanslag, wat die leerdertjies ook kan inkleur om hulle verder te stimuleer en betrokke te hou.

Die temas is gepas vir die ouderdomme en interessant en oorspronklik – vanaf die onmiddellike omgewing, alledaagse menslike bedrywighede en verskillende kulture tot die verkenning van die natuur, die aarde en die maan!

Elke kleintjie kom met sy eie potjie pap, lui die spreekwoord. Só kom dié kleintjie ook met ’n CD en die nodige gebruiksaanwysings vir onderwysers en ouers voor in elke boek.

Hierdie nuwelinkie verdien om met ope arms verwelkom te word.

The post <i>Leer lees en skryf</i> vir graad 1, 2 en 3 deur Mart Meij: ’n resensie appeared first on LitNet.

Keur 3 deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud

$
0
0

Keur 3
Helene de Kock
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177504

Helene de Kock gesels met Naomi Meyer oor haar skryfwerk en ook oor die heruitgawe van Helene de Kock, Keur 3.

Helene, ek het 'n versameling van jou verhale hier op my lessenaar: Keur 3. Hierdie bundel bestaan uit verhale van jou wat herdruk is en bevat stories van jou wat in die vroeë negentigerjare geskryf is: Vuurvliegie, Sewende somer en Windspoor. Kan jy elkeen van hulle nog onthou, al het daar so baie tyd verloop sedert die skryf daarvan? Of enige van die karakters?

Ja, Naomi, ek kan hulle baie goed onthou. Die karakter van Alfons in Vuurvliegie en ook Zach in Sewende somer onthou ek by name goed. Moontlik omdat hulle albei geheimsinnige karakters is. En ek onthou die verhale helder.

Wat was die inspirasie vir die skryf van elkeen van die verhale, of die snellers daarvan? Kan jy nog enigiets hiervan herroep?

Naomi, ek onthou dit baie goed. Ek weet byvoorbeeld dat ek Windspoor geskryf het toe ons nog op Bethlehem gewoon het. Die inspirasie vir die roman was die jaarlikse lugballonvaart wat daar plaasvind. Die roman is, soos die ander twee romans in Keur 3, so ’n mengsel van ’n spanningsverhaal en ’n liefdesverhaal. Daardie jare (1989–1990) was daar nie so ’n streng skeiding tussen genres nie en spanningsverhale het op sigself amper nie bestaan nie. Vuurvliegie is eweneens ’n spanningsverhaal met ’n sterk liefdeselement en het sy beslag gekry tydens ’n vakansie op Nature’s Valley toe ons in ’n strandhuis tuisgegaan het waar mense vroeër soms vir die veiligheidspolisie weggekruip het. Sewende somer is ’n moordstorie – ook met ’n liefdesverhaal verweef. Die sneller daarvoor was ’n ou herehuis op ’n verlate Vrystaatse dorpie. Dit was om die een of ander rede die impetus van dié verhaal.

Die negentigerjare voel glad nie so lank gelede nie, maar tog het sekere praktiese dinge sedertdien in die samelewing verander: selfone en die internet byvoorbeeld. Hoe dink jy het dit jou verhaalgegewens beïnvloed, indien enigsins?

Alhoewel ek ook eietydse romans skryf, soos Kruispad vir Kara wat Junie by CUM verskyn waarin hedendaagse tegnologie natuurlik ’n rol speel, reken ek verhale wat in vorige dekades geskryf is, moet net so bly. Lesers behoort ook bewus te raak van ander tye, ander vorme van tydgees en werklikheidsbeeld. Dis altyd verrykend om kennis te neem van sogenaamde ander tye. Lesers behoort dan te sien dat universele, basiese dinge nie werklik verander nie, maar dat sieninge wel mense se optredes kan swaai. Daarom het ek die verhale wat nou vir die derde maal verskyn, net so gelos.

Om my argument te staaf: my generasie het byvoorbeeld drie vorme van tydgees of werklikheidsbeeld beleef: die moderne, die postmoderne en nou die neiging na die post-postmoderne. Moontlik is ons (dié wat nie verstar het nie) die generasie wat vorme van werklikheidsbeeld die beste verstaan, omdat ons dit beleef en beleef het. Daarom vind ek dit goed dat lesers soms insae kry in hoe dinge wás.

Wat beskou jy as die uitdagings van die skryf van 'n liefdesverhaal? En wat is vir jou lekker daarvan?

Ek skryf eintlik verhoudingsverhale omdat dit my standpunt is dat mense nie in ’n vakuum liefkry nie. Daar is altyd ander verhoudings met ouers, familie en vriende betrokke. En dit is juis die uitdaging: om die liefde te integreer in die alledaagse lewe en die eise wat dit stel.

Daarby het ek steeds die geneigdheid om ’n stywe spanningslyn te probeer behou. My laaste twee romans vir Human & Rousseau byvoorbeeld is historiese romans met ’n sterk spanningslyn. Debora en seuns en Debora gaan huis toe is ’n tweeluik wat handel oor die veertigerjare van die vorige eeu en ook die sestigerjare. Wat ek toe in ag moes neem, is dat die Afrikaans van toe heel anders geklink het as die Afrikaans wat vandag gebesig word. Ook die sestigerjare se taalgebruik verskil natuurlik heelwat van die huidige neiging om Engfrikaans te besig. Dit was nie te moeilik nie, aangesien ek ’n student was tydens die sestigerjare en ek baie goed onthou hoe Afrikaans toe geklink het.

Vertel my asseblief van skryfprojekte waarmee jy nou besig is?

Ek werk aan ’n historiese roman wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel. Ek doen natuurlik navorsing en sorg dat feite korrek weergegee word, maar moet ligloop vir te veel inligting wat lesers paragrawe sal laat oorslaan. Die inligting moet geheel en al geïntegreer wees met die res van die teks. Die leser behoort eers agterna te besef dat hy of sy iets daaruit geleer het. Dis wat ek hoop sal gebeur.

The post <em>Keur 3</em> deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud appeared first on LitNet.

Dors deur Marinda van Zyl: bekendstelling in Stellenbosch

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Dors deur Marinda van Zyl

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Marinda van Zyl

Marinda van Zyl is op 11 September 1948 te Gobabis (Namibië) gebore. In 2011 was sy die naaswenner in LAPA se romanwedstryd met haar manuskrip Vrypas na Vergenoeg wat as Wilhelmina Radebe kom tuis gepubliseer is. Haar roman Amraal haal in 2015 die kortlys van NB-uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd.

Benewens Honeursgrade in Geskiedenis en Biblioteekkunde by Unisa, het sy ook ’n MA in Geskiedenis (UOVS) en MBibl (cum laude) aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf en dit opgevolg met ’n PhD in Geskiedenis by Vista Universiteit.

Marinda en haar man, Jan, woon sedert hulle aftrede op Langebaan.


Opsomming

Dors
Marinda van Zyl

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084365

In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek — ’n land wat hulle net uit die stories van jagters ken. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op ’n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan.

Anderkant die dors wag daar nie ’n land van melk en heuning nie, maar koors, tsetsevlieë, olifante en leeus. ’n Land vir mense wat uit hardekool se hout gesny is. ’n Land vir mense wat die dood kan vat en kan doodmaak sonder om ’n oog te knip.


Uittreksel

1

Junie 1876, Greyling-staning naby sameloop van die Marico- en Krokodilrivier

“Kraa, kraa,” lawaai die swartkraai in die haakbos digby die waens.

Dit voel vir Betta Greyling asof die swart kraalogies haar oral volg. Ontstig soek sy ’n klip om die voël te verwilder, maar daar is net sand en blare van die doringbosse wat reeds uitgekap is. Die seuns het gister net genoeg bosse onder die withaakboom uitgekap vir takkrale en só ’n oopte geskep vir die vier waens. Om haar lê ongerepte Bosveld. Iewers wes is die Maricorivier, het Jan gesê.

“Voertsek, voertsek,” probeer sy die kraai met swaaiende arms verwilder, maar hy sit sy sit asof hy die bos gekoop het.

“Nou lyk jý soos ’n reusekraai wat probeer vlieg,” terg Jan. “Los die voël, hy kom aas seker vir ’n stukkie biltong.”

“Jy vergeet al weer ons ma’s het gesê ’n swartkraai bring onheil. Die ding moet weg hier.”

“Ai, my vrou, jy weet tog dit was bogstories van twee susters wat enigiets sou sê om ons twee uitmekaar te hou. Nie een van hulle voorspooksels het ooit waar geword nie.”

“Almiskie, die voël pla my. Maak tog ’n plan.”

“Ek gaan gou ’n draai maak by die anders stanings,” het Jan soos gewoonlik ’n verskoning gereed.

Betta glimlag verlig toe hy die kraai met sy hoed verwilder voor hy tussen die bosse verdwyn. Sy vee die sweet van haar voorkop. Bedags is dit nog somer al is dit reeds Juniemaand. Sy skreef haar oë teen die rooi stof wat dwarrel terwyl Bêrend die grond gelykmaak by die kookskerm.

“Waar loop Elisabet en Janetta rond?” wonder sy hardop.

“Ousus-hulle is bossies toe,” antwoord Bêrend.

Betta ril. Dis nog iets waaraan sy nie gedink het toe sy besluit het om saam met Jan op hierdie tog te kom nie. Sy sal daaraan en aan die sand en stof gewoond moet raak, want dit gaan nog dae en baie vate water neem voor die grond vasgetrap is. Kla daaroor kan sy nie, maar in haar hart verkwalik sy tog vir Jan oor sy nou hier in die wildernis is. Toe hy verlede jaar op Louw du Plessis se aandrang saam met die Alberts-trek was om die beste pad Damaraland toe te vind, het hy haar die pad hel toe en terug laat loop. Daardie vrees toe hy nie, soos met elke ander jagtog, teen September terug was nie en toe November aanbreek, die doodsangs dat sy die pad vorentoe alleen sou moes loop, wil sy nooit weer ervaar nie.

In Februarie, terwyl sy een aand knus met hom lepelgelê het, het hy terloops gesê: “Ek moet volgende maand weer vort om vir Louw du Plessis-hulle deur die Dors tot by Ngami te vat.”

Sy wou vir hom sê: Ek het jou kinders alleen in die wêreld gebring en grootgemaak terwyl jy in die jagveld was; die familie se spot dat jy net huis toe kom om kinders te maak met ’n glimlag verduur, maar ek gaan waaragtig nie weer ’n kind alleen begrawe nie.

Maar sy kon nie die woorde uitkry nie. Net die huil oor jare se eensaamheid en die slap liggaam van ’n seuntjie wat sy nie lewend kon bid nie. Toe Jan beloof om grond in Damaraland, op die jagveld se voorstoep, te kry het sy oorhaastig ingestem.

Sy hoor Jan se hartlike lag by een van die ander gesinne wat saam met hulle uit Pretoria vertrek het. Hy het aan elke gesin ’n boom toegesê sodat hulle nie onder mekaar se voete is nie. Hier in die veld is hy ’n ander mens. Die rusteloosheid wat hom sy pypsteel laat stukkend kou het toe die voorbereidings vir die trek te lank na sy sin geduur het, is weg.

Elisabet en Janetta klets vrolik toe hulle uit die bosse kom. Dit was tog ’n goeie besluit om saam te trek, glimlag Betta, want nou het sy vir Piet ook weer onder haar vlerk. Toe hy uit Rustenburg laat weet het hy gaan ook trek, want die boerdery saam met sy skoonpa werk nie uit nie, het sy haar voorgeneem om haar skoondogter met ope arms te ontvang. Dis nie dat sy iets teen Janetta gehad het nie, maar sy moes tog haar seun waarsku teen die sotheid om met ’n kind vyf jaar jonger as hy te trou. Wat weet ’n dogter van vyftien van huishou en die behoeftes van ’n man? Toe wip hy hom en gaan trek by die skoonouers in.

Tiaan Roets kom met die perdewa vol watervate aangejaag en skop nog stof op. “Skuus Tante moes so lank wag. Dis ’n hele ent Maricorivier toe.” Hy en Motshoare laai twee vate af voor hy weer die perde leisels gee om die ander vate by hulle eienaars te besorg.

“Jy sal nog water moet bring!” roep Betta agter hom aan. “Die grond by die kookplek moet nat kom.”

Met die leisels in een hand lig Tiaan sy hoed sodat sy rooiblonde hare in die son vlam. ’n Week gelede het sy die jongman nie geken nie, nou voel hy al soos ’n eie kind. Die mengsel van vrees en wanhoop in sy ma se oë bly haar by, asook die haas waarmee sy Tiaan se klere gaan pak het toe Jan instem om hom as kneg in diens te neem. Wat moet in ’n ma se gemoed omgaan as sy nie haar kind teen sy stiefpa kan beskerm nie?

Soos al die ander gesinne langs die pad het Tiaan se mense by die suiping nuuskierig kom verneem waarheen die trek op pad was. Die uitdrukking op Jan se gesig toe Tiaan sê hy wil saam Damaraland toe agter ’n voël aan, laat Betta nou weer glimlag.

“Wat! Wat vir ’n voël jaag ’n man die wildernis in?” het hy gevra en oopmond vir die antwoord gewag.

“’n Troupant met ronde stertvere, Oom. ’n Oom wat uit Damaraland gekom het, het vir ons die prent gewys. Ek het hom al probeer teken, maar kan nie al die kleure onthou nie.”

Toe dreig die stiefpa om hom daar en dan ’n loesing te gee.

Dit was die magteloosheid in die ma se oë wat Betta laat praat het. “Jan, jy’t gister gesê jy kort nog hande by die vee.”

Jan het geknik, die pa geïgnoreer en die ma se toestemming gevra om haar seun saam te vat as kneg. Eers later, toe sy vir Elisabet met Tiaan hoor skerts, wou sy haarself skop oor sy vergeet het van haar groen koring op die land.

’n Ruiter uit die noorde trek Betta se aandag. Sy herken Louw du Plessis dadelik al het sy hom bykans twee jaar laas met nagmaal in Pretoria gesien. Dit lyk asof die perd enige oomblik onder sy groot lyf gaan swik. Uit gewoonte is sy breërandhoed afgetrek tot teen sy ruie wenkbroue. Maar goeie maniere vereis dat hy dit moet lig toe hy groet en Betta kyk vinnig weg om nie te gril vir die letsels oor sy pankop nie. Sy kan haar indink hoe sy ma gehuil het terwyl sy die kopvel moes vaswerk nadat ’n leeu hom kleintyd beetgekry het.

“Bêrend, kom groet die oom voor jy jou pa gaan roep,” roep Betta.

Louw lyk ontevrede terwyl hy die kampplek bekyk. “Julle doen erg moeite met ’n oornagplek.”

“Jy’s vroeg op my spoor,” red Jan vir Betta van ’n antwoord. “Die plan was om teen môre by jou uit te kom. Die plek moet eers leefbaar kom vir die vroumense.”

“Maar jy weet tog ons laer is langs die Krokodil. ’n Volle uur te perd hiervandaan.”

Betta beloer die twee mans onderlangs terwyl sy koffie skink. Alhoewel Jan ’n paar jaar ouer as Louw is, lyk hy met sy seningtaai lyf heelwat jonger. Iets aan Louw se houding pla haar. Sy onthou hom as ’n vrolike platjie wie se blou oë kon skitter van die pret as hy iemand ’n streep getrek het. Nou vroetel hy senuweeagtig met sy stompievingers in sy blonde baard terwyl hy wag op Jan se antwoord.

“Met die spul vee wat julle het, is dit seker nou kaalgevreet teen die Krokodil en my diere moet vet wees vir die trekpad. Is julle reg om in die pad te val?”

“Ja, opperhoof Khama het al in Desember vir my toestemming gegee om deur sy land te trek en in Maart laat weet Haakdoringpan is vol, maar toe was al die mense mos nog nie hier nie.”

“Ek’s jammer,” maak Jan verskoning, “ek wou einde Maart hier gewees het, maar iets het voorgeval.”

Betta ignoreer die kyk wat Jan haar gee. Mans begryp nie dat jy nie jou hele lewe in ’n paar dae kan oppak en boonop voorsiening moet maak vir honger mae vir wie weet hoe lank nie. Ten minste weet sy hoe om Louw van die oponthoud te laat vergeet. “Ek het vir julle ’n baksel beskuit, ingelegde vrugte en ’n paar pampoene saamgebring. Jan sal dit môre bring.”

Louw se gesig verhelder. “Ag, dankie, nig Betta. Truia bak lekker brood in ’n miershoop, maar daardie oond deug nie vir uitdroog nie. Dalk kan Jan die goedjies sommer nou met die perdewaentjie bring, want ons moet vir Daniël Erasmus gaan spreek.”

“Waaroor nogal?” frons Jan.

“Daniël voel ons kan die trek nie sonder regulasies aanpak nie. En daar moet ampsdraers gekies word.”

“Maar jy’s mos die kommandant, Louw. My akkoord is met jóú om julle die pad deur die Dors te wys. Verder moet elke man sy eie mense in toom hou en bestraf.”

“Daniël sê sy mense het hom nog voor hulle by die Pienaarsrivier weg is as kommandant verkies en hy het die meeste mense met hom saamgebring. Daarom behoort hy die trekleier te wees.”

“Wie dink die man is hy dat hy hom so aanmatig?”

“Hy’s Van Straat Erasmus se neef. Nou ja, jy sal seker nie weet nie, want jy is mos meer in die jagveld as by die huis. Van Straat was ons waarnemende president voor Burgers verkies is. Daniël self het glo naby Paul Kruger geboer en ken hom persoonlik.”

“En dit gee hom die reg om ons te hiet en gebied?”

“Dit klink vir my of hy meer skoolgeleerdheid as ek en jy het, Jan.

Ons het al klaar so ’n bietjie gesels oor die regulasies waaronder ons sal trek. Nou moet die kommissie gekies word om dit op skrif te stel,” sê Louw baie vernaam.

Betta weet ná sewe en twintig jaar saam met Jan dat hy hom gaan vererg. “Wat van nog ’n dronkie koffie met beskuit?” bied sy aan om sy aandag af te trek.

Maar dit stuit Jan nie. “Loop sê jy vir Erasmus al die kennis wat ons nodig het om deur die Dors te kom is in hierdie kop van my. Ek weet waar elke put en pan is en wanneer jy waar kan loop infoeter. Ek was al op hoeveel jagtogte die Dors in. Die eerste in ’52 tot by Ngami. In ’65 was ek en die groot olifantjagter Hendrik van Zyl tot by die Okavango. As Erasmus dink hy kan met boekkennis die Dors tem, God behoede almal wat saam met hom trek.”

“Nou kom sê dit self vir hom,” paai Louw.

Betta glimlag. Dis nou een ding van Louw. Hy het die statuur van ’n reus. Met sy ruie baard en fors bou lyk hy nou wel na ’n leeumannetjie, maar ’n bakleier is hy gewis nie.

Louw se kalmte laat Jan afkoel. “Vandag moet ek eers die kinders se velskoene versool. Dis ’n lang pad wat ’n touleier te voet moet aflê. Ons kan môre praat.”

Louw glimlag verlig. “Tot môre dan. So tienuur by Erasmus se laer.”

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Dors</i> deur Marinda van Zyl appeared first on LitNet.


Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon: ’n resensie

$
0
0

Ter wille van die vaders
Marzanne Leroux-Van der Boon

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320841

Ter wille van die vaders is die tiende in ’n reeks titels deur Marzanne Leroux-Van der Boon wat hulle grootliks in Israel afspeel, met die lewe in Israel en die Joodse geloof as agtergrond – en telkens met Marc Krige as hoofkarakter.

In ’n resensie oor Tikkun Haòlam: Herstel die wêreld, ’n vorige titel in die reeks, word dié boek aan flenters geskiet en beskryf as een wat “geen struktuur en geen ruggraat het nie: Die boek is ’n vormlose massa woorde.”

Dis bitter en venynige woorde ... maar is dit geldig? Móét ’n boek, selfs ’n roman, aan tradisionele maatstawwe – soos ’n sterk struktuur en deurlopende funksionaliteit – voldoen om bestaansreg te hê? Is dit verkéérd om ’n boek te skryf wat eerstens daarop gerig is om inligting te gee, met intrige en karakterontwikkeling in die tweede plek? Dalk het die genoemde resensie dit mis – en het Leroux-Van der Boon iets is beet.

Om dit te bepaal is dit nodig om met ’n oop gemoed en “vars” oë na Ter wille van die vaders te kyk.

Die eerste 60 bladsye handel oor ’n besoek aan Auschwitz. Die gruwels en ontbering wat gevangenes in dié konsentrasiekamp moes deurmaak, word in besonderhede beskryf. Sulke beskrywings is interessant en skokkend, maar helaas: niks in dié beskrywings is openbarend nie en is vir die meeste van ons ou, deurtrapte nuus. Dié sekwens kan wel as funksioneel gesien word, omdat dit voorgehou kan word as motivering vir die Israeliete se onvoorwaardelike bereidwilligheid om vir hul land te sterf – wat die soms onredelike aggressie teenoor die Palestyne insluit.

Net soos in vorige boeke in die reeks, maak Ter wille van die vaders hom skuldig aan blatante propaganda: die Palestyne word uitgebeeld as kwylende terroriste wat Jode met messe vermoor. Natuurlik is Palestynse militantes se moorddadige metodes onder verdenking, maar Leroux-Van der Boon sê nie veel oor Israel se alombekende vergrype in dié konflik nie.

Daar word selfs, die hemel behoed, ’n lansie of twee gebreek vir Donald Trump – met sy oranje gevreet en die kraaines op sy kop, maar dan moet ’n mens aanvaar dat die meeste Israeli’s na aanleiding van Trump se vooroordeel teenoor Israel, hom as ’n gawe kêrel beskou.

Te veel ruimte word aan die verduideliking van die Joodse dogma afgestaan, maar gelukkig nie die een bladsy ná ander soos in Tikkun Haòlom nie.

Daar gebeur hier en daar iets. Marc se stiefpa sterf en hy reis na Suid-Afrika. Hier ontmoet hy Simon, Marc se kunsonderwyser toe hy (Marc) ’n tiener was. Sy besoek aan Suid-Afrika bring ook herinneringe aan Nicola, Marc se eerste liefde van jare gelede (daar kan meer hieroor gelees word in Tyd van herkenning, die boek waarin Marc aan lesers bekendgestel word en wat jare gelede verskyn het). ’n Herontmoeting met Nicola en die konflik wat daarmee kon saamgegaan het, sou ’n gawe kinkel aan die narratief verskaf het, maar Leroux-Van der Boon laat dié geleentheid verbygaan.

Marc moet haastig na Israel terugkeer toe sy seuntjie siek word. Die seun het ’n gewas op die brein wat in ’n operasie verwyder moet word, maar ook dié gegewe loop nie regtig op iets uit nie.

Indien dit moontlik is om ’n roman te skryf wat meestal steun op die deurgee van inligting en waarin intrige tot die minimum beperk word en wat nogtans die leser se aandag hou, is Ter wille van die vaders nié so ’n boek nie. Al is die roman ’n effense verbetering op sy voorgangers, is die doodsteek weer eens in die eerste plek ’n gebrek aan struktuur: dis nie hoe ’n roman moet lyk hierdie nie.

Met apologie aan die skrywer en haar lesers: ek is nogmaals nie beïndruk nie.

The post <i>Ter wille van die vaders</i> deur Marzanne Leroux-Van der Boon: ’n resensie appeared first on LitNet.

Ys deur Rudie van Rensburg: bekendstelling in Bloemfontein

Die dao van Daan van der Walt – en die dao van Lodewyk G du Plessis

$
0
0

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624082521

Die dao van Daan van der Walt is deur Lodewyk G du Plessis geskryf.  Naomi Meyer probeer by hom uitvind wie hy is.

Hallo Lodewyk. Jy is al gevra waarom jy die boek onder 'n skuilnaam geskryf het. Kan jy dalk, sonder om dan jou naam te verklap, vertel wie jy is?

Hallo Naomi, ek gaan ’n paar van my belangstellings met jou deel wat terselfdertyd ’n bietjie agtergrond gee vir my boek Die Dao van Daan van der Walt. Ek stuur ook vir jou ’n paar foto’s wat jy dalk tussenin kan gebruik as ek te lank praat.

Ek is lief vir reis.

Na my aftrede het ek ’n paar jaar in Asië gewoon. Ek sê meer oor dié tyd in my lewe wanneer ek hierna ander van jou vrae antwoord.

Ek is lief vir lees.

Verlede week het ek Lila deur Marilynne Robinson gelees, die laaste in die trilogie oor die predikant John Ames en sy mense. Die ander twee boeke is Gilead en Home.

Oor die jare versamel ’n mens met lees pêrels wat jy met jou saamdra. In Gilead, wat ek lank gelede gelees het, het Robinson my weer laat besef hoe belangrik die eerste paar sinne en bladsye in ’n roman is. Ek gaan keer op keer terug na die eerste vier bladsye van Gilead om te sien hoe briljant en met groot insig in die karakter van John Ames sy die leser inlei in die geheimenisse van haar roman. Daan was natuurlik beïndruk met die ou predikant wat sy storie vir sy jong seuntjie in ’n lang brief neergepen het.

Onlangs het ek Shusako Endo se The samurai gelees. Soos in sy vroeëre boek, Silence, wat ek gedurende die skryf van Daan se storie gelees het, gaan dit oor sendingwerk in Japan vroeg in die 17de eeu. Die Japannese het alle sending in Japan verbied omdat die Christelike boodskap in stryd was met hulle kultuur en hulle het Christene en sendelinge in die see aan kruise vasgemaak sodat hulle stadig met hoogwater, soos die golwe oor hulle spoel, verdrink. (In die Filippyne was dit weer die sendelinge wat Chinese mans wat by mans geslaap het, op brandstapels verbrand het.)

Hoe ouer ek word hoe minder fiksie lees ek. Van my tydgenote vertel my dat dit ook hulle ondervinding is. (In die Maart-uitgawe van Literary Review is daar 47 resensies, waarvan sewe misdaadromans dek en net agt fiksie. Wat sê dit vir ’n mens van die stand van fiksie in die Verenigde Koninkryk! En elders?) In my studeerkamer lê ses boeke waaraan ek tans lees oor mitologie, die Griekse, Romeine en Middeleeuse geskiedenis. Ek lees selfs fiksie stuk-stuk. Elsa Joubert en Cecile Celliers se onlangse boeke was ’n uitsondering. Twee boeke wat ek nie kon neersit nie.

Ek is lief vir kos.

Ek en Daan hou van Boerekos. Pampoenkoekies, souskluitjies en pannekoek. Al drie het kaneel in.

In Kuala Lumpur eet ek beef rendang en assam prawns, tamaryngarnale by Madam Kwan op die sesde verdieping in die dubbeltoringgebou in KLCC. (Tamaryn word ook suurdadels genoem.) In China smaak Chinese kos heeltemal anders as die kos in Suid-Afrika en dis wenslik om uit te vind wát jy eet vóór jy dit eet. Ek hou van hairy crabs. Moet net nooit vra in watter water die krappe geteel word nie. Of dalk moet jy dit reeds vra. Ek het nog nie virgin boy-eiers probeer eet nie.

Ek is lief vir musiek.

Met die uitsondering van die hartseertonele in Die Dao van Daan van der Walt het ek nie na musiek geluister gedurende die skryf van die roman nie. By dié dele het ek soms geluister na Forever young gesing deur Alphaville, Gregorio Allegri se Miserere mei, Parce mihi Domine gespeel deur die saksofoonspeler Jan Garbarek en na die Tibettaanse sangeres Jiangyang Zhuoma (Jamyang Dolma). Een middag het ek in die dorpie in China waar ek tai ji geleer het, in ’n straat by ’n winkel verbygeloop toe ek die stem van dié sangeres hoor. Ek is by die winkel in, hulle het haar naam op ’n stukkie papier geskryf en ’n Chinese vriend het uiteindelik vir my haar CD, Golden Glory, in die hande gekry. Sy is ’n kind uit ’n arm boeregesin. In ’n kroeg waar sy as kelner – en sanger? – gewerk het, is haar sangstem ontdek. Wanneer ek na haar luister, sien ek die uitgestrektheid van die Tibettaanse landskap in my verbeelding. Luister hoe sing Jiangyang Zhuoma “Hulunbuir grassland” en “The night on the grassland is beautiful”.

Agtien maande gelede het ek die twee uitvoerings van die ballet Moon water deur die Cloud Gate-geselskap in die Guangzhou-operahuis in China gesien. Ja, daar was net twee uitvoerings. ’n Onbeskryflike ondervinding. Ek het spesiaal die vier uur lange vlug van Singapoer na Guangzhou toe onderneem om die ballet te gaan kyk. Die eerste aand het ek in die middel van die ouditorium gesit en kon ’n geheelbeeld vorm. Die volgende aand, drie rye van die verhoog af, kon ek die detail waarneem. Moon water is die ballet waaroor Daan skoon liries raak in die roman. ’n Onderhoud met die uittredende Lin Hwai-min, die stigter en direkteur van Cloud Gate-dansteater, gee die leser ’n idee van hoe intensief die voorbereiding van die dansers is. En hoe hulle dans. Lin gee ’n veel beter weergawe daarvan as my poging in die boek.

Die Guangzhou-operahuis waarin ek die ballet gesien het, is deur die Irakse argitek Zaha Hadid ontwerp. (Sy is oorlede ’n paar maande voor my besoek aan die teater.) Google gerus “Guangzhou Opera House” om dié argitektoniese wonderwerk te aanskou.

In Singapoer daardie tyd het ek die voorreg – dit wás ’n voorreg! – gehad om te luister hoe András Schiff Bach se Goldberg-variasies speel …

Kom ons gaan liewer na jou volgende vraag, anders gaan my lofuitinge nie end kry nie. Frederik de Jager onthou dan glad hoe Schiff dieselfde werk jare gelede as jong man in Stellenbosch gespeel het.

Borobudur (foto verskaf deur die skrywer)

Praat met my oor die grense tussen waarheid en fiksie. As dit Daan van der Walt se dao is, is dit ook joune? Waar is die raakpunte, waar sny hierdie swaard aan by jou eie persoonlike lewe?

Soos ek in die Nabetragting agter in die boek sê, is die boek fiksie. Dis nie outobiografies nie. Van die tonele in die boek, veral in China, put uit my eie ondervindings daar, soos uit my antwoorde op jou vorige vraag blyk. Hier is nog ’n voorbeelde: in dié land met sy miljoene der miljoene mense word vlugte dikwels vertraag of, erger nog, gekanselleer soos ek met my eerste besoek daar self ondervind het, en dan is daar ’n stormloop vir ’n ander vlug of kaartjie soos in die boek beskryf. Ek het geen You Mei aan my sy gehad om my in my moedertaal aan te moedig nie. Toe ek begin tai ji leer doen het, is ek volgens die gewoonte daar eenvoudig in ’n klas ingedruk en moes sien en kom klaar. Toe ek dreig om my goed te vat en te loop, is ’n privaat instrukteur soggens aan my toegesê. Die beskrywing van Daan se eerste ete saam met die ander tai ji-studente is ook op my eie ondervinding gebaseer, maar geen gong fu-instrukteur het daardie eerste keer sy hand op my arm gesit en my geleer hoe om die stokkies vas te hou nie, nog minder my met sy stokkies brokkies kos gevoer.

’n Feestelike optog ter ere van die Boeddha (foto verskaf deur die skrywer)

Was daar ’n spesifieke sneller vir die skryf van die verhaal? Wat het dit geïnspireer?

Ongeveer 20 jaar gelede het ek, terwyl ek in my tandarts se spreekkamer gesit het, in ’n tydskrif op ’n brief aan die troostante afgekom waarin ’n wewenaar raad vra. Hy het met ’n gawe weduwee bevriend geraak. Een aand, na hulle gaan uiteet het, het hulle in haar woonstel gaan koffie drink. Hy is badkamer toe en toe hy uitkom, sit sy nakend op die rusbank. Hy wou weet wat is fout met haar. Met dié gegewe het ek my hand aan ’n kortverhaal gewaag wat in ’n laai beland het.

Ek wonder lankal oor getroude mans wat laat in hul huwelike ontdek of erken dat hulle tot ’n man aangetrokke voel en dan skei en by ’n man intrek. Waarom het so ’n man met ’n vrou getrou? In China lees ek ’n berig dat miljoene vroue wat met gay mans getroud is, daar in opstand kom. In dié land móét mans trou en ’n seun verwek. Konfusianisme en hul kultuur skryf dit vir hulle voor, soos die kerk en sosiale druk oor die jare hier by ons, behalwe as jy bereid was om jou lewe seksloos te slyt en as ’n oujongkêrel in die samelewing bekend te staan. Seks, die sondige ding, bly maar die slang tussen die blare. Vader Pedro Velasco in Endo se boek The samurai, waarna ek hier bo verwys, het saans met sy hande aanmekaar vasgebind gaan slaap en was, soos die Heilige Augustinus, sondebesmet na ’n nagtelike saadstorting. Wanneer die mooimaakgoedjies en die skraps onderkleertjies niks help om hul gay mans aan die gang te kry nie, wonder die arme Chinese vrou: wat is dan die fout met my?

Die kortverhaal in die laai het oor die jare gegroei tot die roman wat nou gepubliseer is.

Gebedestokkies (foto verskaf deur die skrywer)

Grepe Groen soos die hemel daarbo, grepe Charlie Oeng, grepe Spertyd, so skryf 'n resensent onlangs oor jou boek. Hoe sou jy dit self beskryf?

Al drie die boeke waarna die resensent verwys, is gepubliseer ná Die Dao van Daan klaar geskryf was. My boek gaan wel oor die problematiek van die ouer wordende mens, die kerk se opvatting en die Bybelse voorskrifte oor homoseksualiteit en ’n oumens se lewe in ’n volksvreemde land soos China. Natuurlik ook oor ander onderwerpe en probleme wat Daan op sy pad teëkom en by Winnie-the-Pooh-of-Tao hulp soek.

Jou boek is dalk die teenoorgestelde van 'n bildungsroman, of hoe? Dis 'n terugblik, dis bestekopname. Of is dit 'n boek oor sterflikheid? Al bogenoemde?

Vir dié strikvraag om die boek in ’n blik te druk met ’n naam-etiket op die deksel, is ek skrikkerig. Die boek het vir seker te doen met Daan se sielkundige, morele en godsdienstige groei in die aangesig van die dood. Die terugblik en bestekopname waarna jy verwys, noop Daan om sy agtergrond, soos die stuk steenkool waaruit die vlamme moet breek, te konfronteer. Die leser moet besluit of ek daarin geslaag het om aan te toon of dié groeiproses dit vir hom moontlik gemaak het om verby vervreemding, verlies en verwerping en die latere verwarring te beweeg in die rigting van nuwe insigte oor die sin van die lewe en die liefde en die dood met ’n gevolglike aanvaarding van wie hy, die man met die vele name, is. Sou dit van Daan gesê kon word dat hy aan die einde van die roman die essensie van sy lewe kon vasvang in paar woorde soos dié van ’n Japannees in sy doodsgedig?

Dit alles klink nou vreeslik ernstig. Daan konfronteer die stuk steenkool darem met ’n eiesinnige sin vir humor. Ek het verneem dat daar lesers is wat die boek so tussen die stukke hartseer deur heel komies vind.

Halongbaai in die eerste strale van die son (foto verskaf deur die skrywer)

Het jy al dikwels in die Ooste gereis? Watter reisbestemmings spreek tot jou?

Nie net gereis nie, ook tydelik daar gewoon. Dié nasies se onderskeie kulture, hul geskiedenis en vertrapping deur die groot Westerse moondhede spreek tot my.

Ek sal vertel hoe dit gekom het dat ek in die Ooste begin reis het. ’n Baie interessante man, Tiziano Terzani (aan die einde van sy lewe bekend as Anam – letterlik “die een sonder ’n naam”) se boek A fortune-teller told me was een van die redes dat my lewe ’n totaal nuwe en wonderlike rigting ingeslaan het. ’n Fortuinverteller het Terzani, Der Spiegel en verskeie Italiaanse koerante en tydskrifte se verteenwoordiger in Hongkong gewaarsku: “Pasop! Jy loop die gevaar om in 1993 te sterf. Moenie vlieg nie. Nie eers een keer nie.” Terzani het die waarskuwing ter harte geneem en daardie jaar te voet, per motor, bus, trein en boot Suidoos-Asië en China deurkruis en diep onder die indruk gekom hoe die Amerikaanse popkultuur die eeue oue Oosterse beskawings so korrupteer dat daar uiteindelik weinig daarvan gaan oorbly. Van sy ondervinding daardie jaar sê Terzani: “I was marked for death, and instead I was reborn.” En ja, Terzani sou waarskynlik op die vliegtuig gewees het wat daardie jaar in dié wêreld verongeluk het.

Na ek die boek gelees het, het ek besluit om vir ’n week in Phuket, aan die weskus van Thailand, te gaan vakansie hou. In plaas daarvan om aan die einde van die week terug te keer Suid-Afrika toe, het ek daarvandaan na Bangkok toe gevlieg en van daar noordwaarts gereis deur Chiangmai en Chiangrai tot by die samevloeiing van die Ruak- en Mekongriviere waar Thailand, Mianmar en Laos aan mekaar grens en die Goue Driehoek vorm, een van die wêreld se grootste opiumproduserende gebiede. Per boot is ek toe met Mekongrivier stroomaf na die suide tot in Luang Prabang, die ou hoofstad van Laos, en van daar na die tempels in Angkor in Kambodja. Op ’n latere vlug tussen Bangkok en Luang Prabang lees ek in die vlugtydskrif van ’n tai ji-skool in China en toe is ek soontoe en het tai ji leer doen. Dit was die begin. Maleisië, Singapoer, Viëtnam, Hongkong, Taiwan, die Filippyne en Indonesië het daarop gevolg.

Bestemmings wat tot my spreek, vra jy? Te veel om op te noem. Wat van die 9de-eeuse Borobudur-Boeddhiste-tempel op die eiland Java naby die stad Jogjakarta in sig van die vuurspuwende berg Merapi? Of Taiwan, waar ek so groot soos ’n mier gevoel het tussen die skrikwekkend hoë berge aan die ooskus? En daar is Halongbaai aan die ooskus van Viëtnam en die berg Huangshan waar die bergtoppe met sonsopkoms in die mis dryf en Chinese die tonele al vir duisende jare skilder. Ek beveel ’n tweede wittebrood vir oudgetroudes aan in die omgewing van die kusdorp El Nido (Die Nes) op die Filippynse eiland Palawan noord van Borneo. My kleinerige hotel het elke oggend ’n boot en bootman aan elke gas beskikbaar gestel om na ’n ander strand op ’n ander eiland te vaar en die dag daar piekniek te hou, vér weg van ander toeriste. Die see en berge is onbeskryflik mooi daar. Google “El Nido Palawan” en kyk self.

In Laos het ek geleer arm mense steel nie. Hulle hoenders slaap snags in die straat onder ’n gevlegte bamboesklok; in Singapoer en Maleisië kyk die inwoners sonder verwyt terug na die voordele wat kolonisasie vir hul lande gebring het; die Viëtnamese haat nie Amerikaners en Franse nie; Chinese werk tot 16 uur per dag, sewe dae per week vir hulleself. Die regering daar help tans arm boere met geld en deskundige raad en die boere kweek orgideë vir medisyne en sampioene wat binne 2 u4ur gereed is vir die mark en teel kakkerlakke om afval te verorber en word ryk.

En ek het gesien hoe oorbevolking en toerisme die mooi plekke op die aarde vernietig.

Hoenders slaap saans in die strate, selfs vegtende hane (foto verskaf deur die skrywer)

Met wie veg Daan van der Walt? Of wat kap hy af met sy mes (ek sien 'n dao is ook 'n swaard met net een snykant)? 

Ek dink hier het ’n misverstand oor die betekenis van Chinese woorde ingeglip. Die karakter (teken) in Chinees vir dao wat “weg” of “pad” beteken, verskil van die karakter vir dao (op ’n ander toonhoogte uitgespreek) wat “mes” beteken. Twee heeltemal verskillende woorde met heeltemal verskillende betekenisse. In die tweede brief aan Magrieta (bl 43) verduidelik Daan die diakritiese tekens wat die toonhoogte aantoon waarop woorde met dieselfde klank maar verskillende betekenisse in Chinees uitgespreek word en in die Nabetragting verduidelik ek die Pinjin-metode om Chinese karakters te translitereer/romaniseer sodat hulle klank in die Romeinse alfabet weergegee kan word.

’n Ryding vir ’n monnik (foto verskaf deur die skrywer)

In jou onderhoud met Frederik de Jager verwys jy na die liefde in al sy gedaantes: vir 'n vrou, vir 'n kind, vir 'n ander man. Watter aspekte van die verskillende gedaantes van die liefde is die mees intense, of die mees komplekse? Dalk kan jy in hierdie antwoord skryf oor die liefde. In watter gedaante ook al.

As ek geweet het wat die liefde is, het ek waarskynlik nie die roman geskryf nie. Wat is die aard van die liefde tussen Gilgamesj en Enkidu, keiser Ai en sy howeling Dong Xian? Om nie eers te praat van die liefde tussen Dawid en Jonatan nie. Ons moet ook onthou dat Daan dit op die eerste bladsy duidelik maak dat hy nie na liefde gesoek het toe hy die Opsitkers-briewe aan die weduwees en geskeide vrou gerig het. Hy het daardie ander dinge wat vir hom so lekker was, soos melktert en koeksisters op ’n Sondagmiddag op sy plaashuis se voorstoep saam met ’n koppie koffie, in gedagte gehad. Het hy dit gekry? Of dalk iets heel anders?

Om nou by jou vraag te kom: Die twee mees intense liefdes in die roman is sekerlik die liefde wat onbeantwoord is aan die een kant en aan die ander kant die geheime liefde, die liefde waaroor nie gepraat of aan uiting gegee mag word nie, dié een wat nie sy naam durf sê nie – en ook die onuitspreeklike hartseer by die verlies van hierdie liefde waarvan niemand weet nie en daar dus niemand is met wie jy jou pyn oor die verlies kan deel nie.

Het jy al vantevore geskryf? Gepubliseer? Indien wel, hoe het dit verskil van hierdie roman wat jy nou aangedurf het, die werk saam met ’n uitgewer?

Ek het nog nooit fiksie gepubliseer nie. Nie onder my eie of ’n skuilnaam nie.

As jy weer sou skryf, sal dit onder jou eie naam wees? En noudat die boek so baie aandag kry: Is jy spyt dat dit nie onder jou eie naam was nie?

As ek weer skryf, sal dit onder dieselfde skuilnaam wees. Ek is glad nie spyt dat die boek nie onder my eie naam geskryf is nie. Kom ons vergeet van die naam van die skrywer en lees die roman en luister na die pragtige opname wat Nic de Jager van drie uittreksels uit die boek gemaak het.

 

 

 

The post <em>Die dao van Daan van der Walt</em> – en die dao van Lodewyk G du Plessis appeared first on LitNet.

Ek & jy: verhoudings wat werk deur Louis Awerbuck en Lise Swart: ’n lesersindruk

$
0
0

Ek & jy: verhoudings wat werk
Louis Awerbuck en Lise Swart

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174404

Die meeste mense wat soms na Radio Sonder Grense luister, sal seker weet van Louis en Lise en hulle sielkundeprogram Wie is ek?. Soos verskeie ander RSG-programme het hierdie een ook nou uitgeloop op ’n publikasie, maar Louis en Lise se boek het darem ’n ander titel as die naam van die program; hulle boek se naam is Ek & jy: verhoudings wat werk. Dit is nie ’n boek wat in die algemeen na verhoudinge kyk nie. Die fokus in hierdie boek is spesifiek op die onderwerp van lewensmaats, hoewel daar darem in die inleiding gemeld word dat die boek “ook relevant vir die bestuur van verhoudings in familie-, gesins- of werksverband” (10) is.

Sielkundiges kan lekker stry onder mekaar, net soos in elke dissipline maar. Of dit nou teoloë, historici, argeoloë, dieetkundiges is, of wat die geval ook al mag wees, mense het verskillende idees oor hoe dinge moet werk. In hierdie boek word daar sterk gesteun op die psigoanalitiese idees van Carl Jung (1875–1961) asook die baie bekende Myers Briggs-model van ontleding. ’n Mens moet maar redelik oopkop probeer wees met dié tipe van ding. Die psigologie bied nie kitsoplossings nie. Inteendeel, Awerbuck en Swart se boek is eintlik wat mens sou kon noem ’n tipiese selfhelp boek, omdat dit ook praktiese oefeninge bevat. Die boek is in vier afdelings opgedeel en bestaan uit 13 hoofstukke. Daar is ook ’n opsomming van al die hoofstukke en dit eindig met ’n hele aantal gevallestudies.

Dit is dus ’n baie praktiese boek. Dis nie ’n boek van komplekse filosofie nie. Die filosowe word baie vlugtig besoek, en dan begin die nare waarhede uit die blaaie uitklim. Mense trou met vreemdelinge. Selfs mense wat 15 jaar getroud is, is dikwels vreemdelinge vir mekaar. Dit gebeur weens die aard van mense se verhoudinge. Moeilike vrae word aan die begin van verhoudinge vermy, en dan word dit later ’n kopseer. Die oplossing is vir mense om mekaar beter te leer ken. Dit kan gedoen word aan die hand van vraelyste wat in die boek voorsien word.

Maar verhoudinge vereis natuurlik nie net kennis van die ander persoon nie, dit vereis ook intieme selfkennis. ’n Mens moet jou eie nie-onderhandelbare eise vir ’n verhouding ken. Sê byvoorbeeld jy is soos ek en die reuk van sigarette maak jou naar. Jy sal tog nooit ’n verhouding met ’n roker begin in die hoop dat die persoon eendag sal ophou nie? Of dalk wil jy nooit kinders hê nie. Maak dit dan sin om met iemand te trou wat droom van vyf kinders? Selfs ’n enkele nie-onderhandelbare vereiste kan daartoe lei dat ’n hele verhouding skeefloop.

Dan is daar konflik en kommunikasie. Konflik floreer daar waar wanpersepsies en swak kommunikasie hoogty vier. ’n Mens moenie aanneem dat jy met ’n natuurlike talent vir kommunikasie gebore is nie. Kommunikasie is iets wat elke mens moet aanleer. Daar is baie hoogs suksesvolle mense wat nooit werklik die kuns van kommunikasie behoorlik geleer het nie, en wie se verhoudinge daaronder ly. Wanneer kommunikasievaardighede goed ontwikkel is, kan dit verrykende gevolge vir mense se verhoudinge inhou. Misverstande kan ook teëgewerk word deur groter begrip te ontwikkel. Awerbuck en Swart onderskei tussen temperament en persoonlikheid, en voer aan dat mens moet probeer om die ander persoon se temperament te leer ken, want dit kan ’n groter begrip vir mekaar se gedrag kweek. Mense verstaan en ervaar die wêreld verskillend, en om die verskille te probeer verstaan is die sleutel tot groter begrip en meer suksesvolle en bevredigende verhoudinge.

Volgens Louis en Lise is argumentasie die mees onsuksesvolle manier om die konflik van belange in verhoudinge op te los. Dit is omdat reg en verkeerd ook relatiewe begrippe is. In baie argumente is beide partye reg vanuit hulle perspektief. Geen normale mens wil ook opsetlik ’n ander te na kom nie. Daar is gewoonlik spesifieke faktore wat ’n persoon se gedrag veroorsaak en die konflik kan dan opgelos of bestuur word slegs deur groter begrip vir mekaar te ontwikkel. Die model wat Louis en Lise voorhou in Ek & jy is nie die enigste model wat bestaan nie, maar dit bied een stel praktiese riglyne van hoe mense tot groter insig in mekaar gelei kan word.

Ek & jy fokus, soos reeds gemeld, op lewensmaatverhoudinge, en die voorbeelde en studiegevalle is dan ook uitsluitlik daarop gebou. Dit maak dit ietwat moeilik om die beginsels in die boek in praktiese terme deur te trek na ander verhoudinge. Miskien kan daar nog boeke op hierdie een volg wat meer sal fokus op werksverhoudinge, of op algemene familieverhoudinge. Dit is nogtans ’n boek waarvan ek nie gou ontslae sal raak nie. Dis nie ’n lekkerleesboek nie, dis ’n boek wat mens prakties sal moet gebruik om konflik te ontlont.

The post <i>Ek & jy: verhoudings wat werk</i> deur Louis Awerbuck en Lise Swart: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

’n Luiperd in my bed deur Annelize Slabbert: ’n resensie

$
0
0

’n Luiperd in my bed
Annelize Slabbert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082354

“Saam met die vlamme begin X!uma en X!amse in ’n sirkel om die vuur skuifeldans. ’n Dans wat die lied sing van elande wat oor die rante draf, van gemsbokke in die gras, van duikers teen hange, van die liefde tussen man en vrou. En, natuurlik, van die maan.”

Dís vir my eenvoudig, maar tog so mooi gestel. Lanklaas het ek ’n boek gelees wat my tegelykertyd só laat lag het, laat terugdink het aan my eie ervarings in die bos én met soveel stof tot nadenke oor ons alledaagse bestaan gelaat het. Annelize Slabbert se verhaal van haar volwasse lewe, boeiend vertel, deurtrek met selfhumor, staaltjies en lewenswaarhede is ’n lekkerleesboek perfek vir ’n koue winternaweek.

Slabbert en haar man, Gerard, en seun Jacobus, het die knus lewe in Johannesburg (meer as een keer) verlaat op soek na die plattelandse rus en vrede. Uiteindelik het hulle op ’n plaas in Botswana se Sentraal-Kalahari beland, waar hulle ‘n luukse viersterlodge bestuur het. Hier leef hulle die ideaal van baie ander wat net soos hulle romantiese drome van ’n bestaan in die bos droom, maar die leser kom vinnig agter dit is nie so idillies soos mens dink nie. Dalk ook nie so winsgewend en gebruikersvriendelik nie. Tog voldoen dit aan die vereistes van ’n soeke na eenvoud en afsondering. En ek is sélf nog vol hoop om eendag óók so ‘n bestaan te voer.

Annelize en Gerard se reis begin in Johannesburg waar sy ’n joernalis en hy ’n apteker is. Hulle eerste skuif is na ’n klein plasie buite die stad, met sy eie uitdagings. En dan na ’n stuk grond naby Port Elizabeth, waar ’n steeks Jersey-bulletjie die hoofspeler is. Dan word alle wortels gelig en belangrike besittings gaan verlore langs die pad soos wat hulle stoei om hulself in die Kalaharisand in te grawe.

Slabbert beskryf die wêreld waar hulle woon met al sy geite op ’n poëties-humoristiese manier. Saam met die uitdagings soos droogte, ernstige veldbrande, muise, insekte, wilde diere, voertuigprobleme, administratiewe rompslomp en hardnekkige verkeerspolisie kom daar ook die prag van die lewe in die natuur.

Ek het veral saam gelag oor hulle inkopietogte na Maun, wat my onwillekeurig laat terugdink het aan ons eie tyd in die Kgalagadi-Oorgrenspark en die Parque Nacional do Limpopo in Mosambiek, waar die naaste dorpies ’n paar uur se klipperige of duinepad ver is.

Elke paragraaf sluit af met ’n watertandresep uit die lodge se kombuis, waar haar seun se verloofde wondere op ’n bord toor. Die resepte voer die leser mee na die etenstafel en atmosfeer om die kampvuur daar by die lodge in die middel van Botswana.

Ek is ’n groot voorstander van foto’s in ’n niefiksieboek (my verbeelding gaan net só ver). Haar seun, Jacobus, se foto’s gee die leser ’n goeie idee van die pragtige omgewing waarin hulle leef en werk.

Daar is ook heelwat mooi en respekvolle beskrywings van die Boesmans wat saam met hulle die werk by die lodge deel, en dit herinner nogal aan Christiaan Bakkes se stories. En natuurlik die keer toe ’n Land Rover hulle Toyota moes sleep. In Botswana wys mens nie hulp van die hand nie.

Om nie te praat van die behoeftiges in die veld nie, soos die drie aardwolfkleintjies, die vinke met hulle reusedors en troeteldiere om die lewe in die woesteny meer soos tuis te laat voel. Het ek reg gelees? Was daar ’n leeu op die stoep en ’n luiperd in die stort?

Helaas, die realiteit van hierdie bestaan gaan jou ook nie verby nie. Wees elke dag dankbaar vir drinkbare water uit die kraan, elektrisiteit en lekkerleesboeke oor die eenvoud van die lewe. Eenvoud wat bestaan uit gasvryheid, respek en aanpasbaarheid.

The post <em>’n Luiperd in my bed</em> deur Annelize Slabbert: ’n resensie appeared first on LitNet.

Dors deur Marinda van Zyl: bekendstelling in Bloemfontein

Truitjie roer my nie deur Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling: boektoer


Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Truitjie roer my nie deur Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

Erns en Schalk (Foto: Alet Pretorius)

Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met die snor en kenmerkende truitjies, is op 26 reeds volksbesit. Sedert hy in 2015 in Trevor Noah se voorprogram opgetree het, het hy meteoriese opgang gemaak as 'n stand-up-komediant, TV-aanbieder en -akteur. Schalk woon in Groenpunt in Kaapstad, maar voorstedelike Kempton Park in Gauteng is sy grootwordplek. 

Erns Grundling is ’n TV-aanbieder en veelbekroonde joernalis. Hy het voorheen by Weg, LitNet, Insig en Huisgenoot gewerk. Hy is oorspronklik van Port Elizabeth en woon in Kaapstad. Sy 2016-reisboek Elders, oor sy Camino-staptog, was ’n groot treffer.


Opsomming

Truitjie roer my nie
Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801778

Wat beteken dit as ’n jong Afrikanerman jou beskryf as “nogals orraait”? Hoe trek jy die gehoor se aandag as die basaarpoeding hulle gemesmeraais het? En waar in die wêreld is die berugte Pomona Spur? In dié piepie-jou-nat-van-die-lag memoire verklap Schalk – en sy soortvan-bestuurder, Erns Grundling – die bisarre en hartroerende dinge wat hy oorgekom het op sy reise regoor die land na oral waar ’n mikrofoon en ’n gehoor hom inwag.


Uittreksel

Die begin

Ek haat die stereotipe dat komediante die funny guy in school was. Ongelukkig is dit in my geval waar. Ek was die clown in die klas. Ek sê altyd die humorgeen in my is ’n kombinasie van my ma en my pa. My pa is so skerp soos ’n lem, maar baie deadpan. My ma is weer baie animated, maar haar grappe is nie altyd so goed nie. Ek is waar hulle comedy powers ontmoet. Oftewel, ek dink graag so.

Ek is nog altyd mal oor Jim Carrey. Ek wil amper sê dat hy my gunstelingakteur van alle tye is. By die huis het ek altyd Jim Carrey se bekende karakter, Ace Ventura, nagemaak. Dan het my ma, wanneer ons by mense kuier of mense by ons, my altyd forseer om dit te doen. “Doen Ace Ventura vir die tannie! Ag toe man, Schalkie, jy doen dit so oulik!” Ek sou altyd protesteer, maar altyd verloor. As ek weer sien, staan ek voor ’n vreemde tannie en trek gesigte wat lyk soos ’n demoon wat uit die hel uit ontsnap en maak asof ek uit ’n renoster se hol uit kruip (dit gebeur in een van die Ace Ventura movies, net ingeval jy nou wonder waarvan ek praat). Die belangrikste vereiste vir ’n Ace Ventura impersonation is dat die gehoorlid al ’n Ace Ventura-fliek moes gesien het. Meeste van die tannies vir wie ek Ace Ventura nagemaak het, het nog nooit eers van Jim Carrey gehoor nie. Hulle het altyd vriendelik gesmile en stilletjies gedink: Arme Greta, haar kind is fokken mal.

Ek was (jy kan seker raai) ’n verfynde klein seuntjie. Ek is baie gespot en het baie kere ná skool by die huis aangekom en by my pa gehuil: “Die kinders by die skool noem my ’n moffie.” My pa se advies het nie veel gehelp nie. “Die volgende ou wat jou ’n moffie noem, slaan jy so hard as wat jy kan met jou vuis op die neus.” Thanks, Pa. Dan is ék die een wat uit Laerskool Kruinsig geskors word. My gesin is middelklas. Hulle het nie die lapa of eers die onder-dertiens se derde rugbyspanuniform geborg nie. Ek was nou nie juis ’n valuable asset vir die skool nie.

Ek sal nie sê my humorsin is gebore uit survival nie, maar een ding is seker: Boelies is gewoonlik nie baie snaaks nie. So as die snaakse outjie kom jy gewoonlik vinnig in hulle goeie boekies. Jy is die nar wat met die klap van ’n vinger sal perform en hulle sal entertain soos een of ander Middeleeuse hofnar wat vir die koning optree. As hy weier, word sy kop afgekap. Die boelies sou nou nie my kop afkap nie, maar sonder hulle goedkeuring was my sosiale status dood. As gevolg van jou snaakse maniertjies hou die meisies ook baie van jou. Dan is die boelies (met ander woorde die rugbyouens) baie nice, want as hulle lelik is met jou, hou jou mooi vriendinnetjies nie so baie van hulle nie. Niemand het my ooit as ’n bedreiging in die meisie-afdeling gesien nie. Ek was mos die drama-outjie en die redenaar en dié is mos almal moffies.

In die hoërskool het daar ’n wonderlike ding gebeur. Daar was ’n outjie (wat nou in Binnelanders is), Germandt Geldenhuys, wat ’n maandelikse nuusbulletin gedoen het tydens saalopening. Hy het dit 94.7 genoem en voor die bulletin het hy die Highveld Stereo-deuntjie gesing. Hy sou onderwysers, die cool kinders, kinders wat gedink het hulle is cool, die nuutste couples, almal uithaal. Ek was in graad 9 (standerd 7 vir die ouer lesers) toe Germandt in matriek was. Die kinders was MAL oor 94.7 en Germandt wou nie dat dit ’n natuurlike dood sterf wanneer hy die skool verlaat nie. Hy het my eendag ’n lift in sy vanilla Volla gegee en 94.7 aan my oorhandig. Dit was vir my ’n massiewe eer en ek het die verantwoordelikheid met trots aanvaar.

Met 94.7 het ek respek ervaar soos nog nooit vantevore nie. Skielik het ek ’n soort mag gehad. ’n Soort mag wat niemand anders gehad het nie. Fok rugby speel – ek kon die rugbyspelers embarrass! Voor die hele skool! Ek kon die hotste meisie in die skool verneder. Kinders het links en regs na my toe gekom, die nuutste skindernuus in my oor gefluister en my gesmeek om dit in die volgende 94.7 te gebruik. Die onderwysers was nie altyd so mal oor my nie. My pa was die adjunkhoof en onderwysers het dikwels in sy kantoor ingestorm en gekla oor my “onvanpaste” aanmerkings op die aantreeblad. My pa het sy skouers opgetrek en gesê: “Dit het niks met my te doen nie.”

Ek onthou ’n spesifieke oggend wat ek op die verhoog gestap het om ’n 94.7 te doen. As die kinders my sien opstap, het hulle al geweet wat kom. Die skool, al eenduisend-tweehonderd van hulle, cheer nog voor ek my mond oopgemaak het. Net voor ek my eerste skoot af vuur, hoor ek hoe een van die Lewensoriënteringonderwysers sê: “Iemand moet hierdie kind stop.”

Nou was ek ’n rockstar. Niks meer van hierdie moffie-moffie-kak nie.

Net ’n vinnige iets oor die woord “moffie”. Ek is die verste ding van ’n homophobe. Van my beste vriende is gay! (Grappie. Dis mos wat mense sê om enige soort haatspraak te justify. Maar net vir die rekord, van my beste vriende ís gay.) Om iemand ’n moffie te noem het vir my niks te doen met gay-wees nie. Ek bedoel, op laerskool het ons nie eers werklik verstaan wat gay is nie. Daar was een outjie wat twee mammas gehad het, maar ons het gedink dit is awesome. Deur vir ’n outjie te sê hy is ’n moffie, sê jy dat hy minder van ’n man/seun is as jy, met ander woorde minderwaardig. Daarom sê ek dat dit niks te doen het met homoseksualiteit nie. ’n Gay man is nie outomaties minder van ’n man nie. Om ’n moffie genoem te word maak seer, maak nie saak wie jy is nie. Dis ’n boelie se manier van sê: Jy kan niks aan my terugdoen nie al wil jy, want jy is ’n moffie. Ironies genoeg, baie van die boelies wat my op skool ’n moffie genoem het, is nou bouncers by gay clubs.

Ek het ’n paar jokes in daai nuusbulletins gedoen waarop ek nou nog trots is. Ook ’n paar waaroor ek spyt is. Ek sal jou laat besluit waaroor ek trots en waaroor ek spyt is.

Daar was ’n outjie, Riaan van Staden, wat baie kort was. In matriek het ek gesê dat ek mal is oor Riaan se diverse style, “want Riaan koop sy klere by Build-A-Bear; so een dag is hy ’n polisieman, dan ’n dokter, dan ’n brand- weerman”.

Dan was daar ’n meisie, Johané Noble, wat gedink het sy is baie hotter as wat sy was. Sy het gedink elke ou probeer haar vry. Meanwhile wou hulle net haar huiswerk afskryf. In een van my 94.7-stories het ek gesê: “Hier is ’n storie oor een van die hotste meisies in die skool . . . SIT JOHANÉ! DIS NIE JY NIE!” Johané was in trane en haar ma het haar voor die eerste periode kom haal.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Truitjie roer my nie</i> deur Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling appeared first on LitNet.

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak

$
0
0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Beide die pryse word sonder inagneming van genre toegeken. 

Die wenner van die UJ-debuutprys is Jolyn Phillips vir haar digbundel Radbraak. Hier is haar repliek by ontvangs van die prys tydens die toekenningsgeleentheid.

Jolyn Phillips (foto verskaf)

 

Ek was eenkeer by ’n konferensie en ’n bekende skrywer op die paneel het die skryfproses vergelyk met swangerskap. Haar praat het soos eelte in my vingertoppe kom sit. Sy het haarself welseggend in Engels uitgedruk, maar ek sal terugpraat soos my kop dit in daardie oomblik verstaan het: “As jy nie weet wanneer om geboorte te gee aan jou gedig nie, sit jy óf met ’n ontydige skryfkind, óf as jy te lank wag, gee jy geboorte aan ’n stildood skryfkind.”

Hierdie woorde draai nog altyd in my vingertoppe as ek potlood en papier aandurf. Met hierdie bundel het ek gevoel my taal raak op. Ek het ’n kortverhaalbundel in Engels neergepen en tog voel elke skryfbegin soos die eerste trekpleister. Met die eerste boek het ek tyd gehad; die boek wás die kursus.

How to kill your darlings, how to not commit the cliché (the author’s death). My skryf het netjies in ’n bundel gepas, geïnk en toe gepubliseer soos ’n gedrukte blom. ’n Gedrukte blom wat nou in twee tale vermink.

Iemand het vir my gevra after all that, wat is daar nog oor om te sê. Ek wens ek kon toe antwoord ’n boek is ’n lewe nie die lewe nie. Ek wens ek het dit al geweet, want ek het gedink ek sal nooit weer skryf nie. En toe ek nie meer kan skryf nie, is ek terug boeke toe, want taal in boeke was nog altyd vir my ’n lewende fossiel, ’n skulp, en die skulp breek vir my die woord radbraak oop. Eers vir ’n hele ruk sit ek en toktokkies soek in my skryf en toe ek die woord kry, soek ek soos ’n bloedhond in die etimologie en die argiewe. Wie is jy, woord? Wie se woord is jy, woord?

Die woorde skryf terug:

ek het eiertand uit Grootkop
se skoot getik-tik-tik
ek het skip daar aangekom
en nou sit ek vas palmietbossies
aan die rotse van die Baviaan. (radbraak, bl 7)

Met hierdie woorde breek die wêreld van dié bundel oop. Hierdie gesplete tong van my het eers geraas en gegrens en toe kom radbraak en leer my: Taal is niemand se behoort nie. Taal is niemand se hou en houer nie.

Die ekkerige mens wat ek is, het bekommerd geraak, die angs dat ek besig was om my woorde te verloor, my taal te verloor. Ek was bekommerd ek verloor my Afrikaans.

Die gespletenheid, die toiingrige taal wat ek praat, wat maak ek hiermee? Wie gaan my verstaan, dié babel van my? Ek het aan my Afrikaans vasgehou, maar dit het die hele tyd soos water deur my hande gegly, dit wou stukkend stap en stukkend praat en ek wou heeltyd net teruggryp: ordentlik, standaardvariëteit soos die spreker in “skoonmaakmiddels” (10):

ek kan jou nie uit my kop uit was nie
   [fluister die spreker]
al vryf ek
al spoel ek
al vryf ek jou in jik
al vra ek die son om jou uit te bleik
ek kan jou nie uit my kop pars nie (radbraak, bl 10).

Ek is jou spreker, jou taal, jou rekenskap.

Die woord radbraak kom weer - ek sit met die etimologie:

  1. (histories) ’n Oortreder se ledemate breek en hom doodmartel.
  2. ’n Taal vermink.

Uit Ndl radbraken (al Mnl in bet 1; 1589 in bet 2), ’n samestelling van rad “wiel” en braken “breek”, in bet 1 so genoem omdat ’n oortreder se liggaam op ’n wiel gelê is en gebreek is. In Afr kom as simpleks vir Ndl rad slegs rat voor. (Van Wyk ea, 2003:367)

Hoe gevaarlik en martelend is woorde nie? Woorde kan jou ’n rat voor die oë draai, die folter en die martel uitwas tot ’n eufemisme, uitwas tot ’n sêding – soos skoonmaakmiddels.

Ek lees om te folter was nog altyd om te martel met die doel om informasie te verkry. Hier leer ek my taal is onbetroubaar – ek praat eintlik ’n taal meer geërf, geswerf, aangegee, opgegee.

Ek besef hoe onveilig en gevaarlik en brutaal woorde is. Voor die woord dié uitdrukking geword het, was die aksie, die martel, die breek, die taal vermink, eers mens-vermink.

Afrikaans is gebore die dag toe iemand besluit het om te radbraak.

En dan val radbraak my eie ekkerigheid aan. Wie is jy in die taal? In die Afrikaans? Wat gaan jy doen om vir jouself in die taal in te breek? Gaan jy martel? Wie gee jou die reg?

In baie opsigte is die digter soos ’n snydokter. Waar trek jy die lyn tussen vermink en versorg? Waar trek die digter die lyn tussen taal vermink en taal versorg? Hier staan ek heeltemal geradbraak en vertaal voor jou. Ek hoop ek het reg gewag vir die hierdie folterbundel. Ek vra my weer af: Wat is dit wat jy wou uitmartel?

radbraak antwoord:

Ek weet my woord het ’n ander stam ander woorde
is vir my gevoer geleer ek belowe ek fluister my
woorde in die grond maar ek kan nie ’n sewejaartjie lospraat nie. (radbraak, bl 38)

radbraak leer my weer taal is niemand se hou of houer nie. Jy praat dit, maar dit behoort nie net aan jou nie. Die taal praat aan – met of sonder jou.

Jy kan nie ’n sewejaartjie lospraat nie.

Maar soos ’n kind wat tande tel in grootmense se geselskap, is my taal ook stukke, parte en dele van ander mense – die – dié? – taal van my breek saam. My Afrikaans is gebore die dag toe ek besluit het om te radbraak:

uit my liggaam wil ’n ander alfabet simfonie
ek is meer as net ’n vel-taal ...
...
ek praat al my tonge gelyk
Ma sê dis gevaarlik as mense
in tonge praat niemand kan
’n prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes
in my besig om bakstene aan te dra
vir ’n nuwe babel (radbraak, ble 38, 39)

Ná die skryf is ek terug huis toe. My antie het vir my twee skulpe gegee. Die mooiste skulpe wat ek nog gesien het. “Dis nie die soort skulpe wat Gansbaai se water uitspoel nie,” het ek gesê – vir wat sal sy vir my ’n ander plek se skulpe geskenk gee as ons so baie het, dink ek. Sy sê toe: “Ja, mens kry hulle daar doer op Mosselbaai.”

Skulpe het soveel simboliese betekenisse, maar vir my is die skulp vir die see soos wat taal vir die mens ’n lewende fossiel is. Ek lees ook fossiele vorm die beste onder die see, omdat fossiele nie kan vorm as daar suurstof is nie; fossiele vorm met ander woorde waar die mensdom nie kan lewe nie.

Ek wonder toe of dit dieselfde vir taal is. Ek sê nou die dag vir iemand dat mens eintlik skryf tot jy uitskryf en uiteindelik opskryf, maar in daai tyd wou my onwysheid die uurglas omdop vir my woorde.

“Taal is niemand se hou en houer nie. Taal praat aan met of sonder jou,” kom die hinder.

radbraak het my soveel skulpe gegee. My taal het in ’n mate skulp geword, gekalk, gevlek, geknop, by tye glad geword en ander tye kere weer grof geword.

Ek het ’n bundel vol ongewerwelde diere wat ek in daardie digskulpe gevorm het, laat doodgaan het en laat vrot word het.

Ek het gelees leë skulpe is eintlik grafte wat uitspoel omdat die weekdier wat dit bewoon, doodgegaan het, uitgevreet is of vrot geword het, maar dat die mens dit weer ander dinge maak – bygesê: ander tale maak.

Die skulp ’n lewende fossielouer as taal-ouer as die “wyse mens”.

Ek weet nie wie of wat besluit het dat ek ’n strandloper en Gansbaaier geword het nie, maar ek weet: dié plek is die plek van my woordbegin en my dankwoord.

Ek kan nog nie die vraag beantwoord van waar pas ek in die taal nie, maar radbraak is hier, geskulp, ’n kraak.

My naivety, my ekkerigheid, wil glo sy’t probeer deur ’n ou taal uit-, op- en deur te breek tot ’n nuwe taal en tong begin.

My ekkerigheid wil glo in hierdie begin en die bundel het my op my plek gesit: “Dié taal gaan aan – met of sonder jou, al probeer jy die lewe hier in ’n gedig distilleer.”[1]

Ek wil vir Human & Rousseau dankie sê wat ’n kans gevat het in dié begin van my. Nèlleke, toe ek jou die eerste keer ontmoet het om te praat oor hoe ons die manuskrip in ’n bundel gaan skep, het jy gesê: “Ons wil vir jou ’n bundel maak waarop jy oor 50 jaar nog trots kan wees.” Die manuskrip kom uit my hand, maar die bundel is moontlik gemaak deur jou en die span by Human & Rousseau. Elke keer wanneer ek die bundel optel en oopmaak, sit hierdie belofte in die manier hoe die boek ontwerp en geset is. Ook dankie, Michiel Botha, die bandontwerper, wat ’n antwoord ontwerp het vir die vraag: Hoe ontwerp mens ’n radbraak?

Dankie, Human & Rousseau, dankie dat julle taalsorg en boeksorg ook sinoniem is aan sielsorg en integriteit.

Aan die UJ-pryskomitee: baie dankie vir hierdie wonderlike eer wat dit vir my moontlik maak om vir ’n hele ruk te kan skryf sonder die albatros van finansiële verpligtinge.

Ek is geleer “hou kop, behou balans”. Dankie vir jou, my anker, my kompas, my leibaan, my sonsopkoms ...

Ek is aangeraai om die kuns van verloor aan te leer as jy dig: mense koop nie meer poësie nie, en wen amper, maar nie heeltemal nie.

’n Prys soos hierdie bewys hierdie siening verkeerd. As mens oefen om te verloor, oefen jy nie jou dankie nie en ek is nie seker of ek dit reg gedoen het nie – maar ek sien die prys ook as ’n dankie aan digkuns.

Die sprekers en stemme reken met hul eie Afrikaanse in die bundel; hulle stap stukkend, maar die radbraak in dié bundel stukkend saam soos ’n mosaïek, ’n simbiotiese taal. Húlle is die talenaars.

radbraak (bl 36) herinner:

skiet mielies met jou woorde
kap tol met jou toiing-tong
skip tou met jou flentervlees.

Maar vir myself onthou ek altyd:

ek ken van lila heuwels
wat pers bloos vir die lente
ek loop nog elke dag
op bros grond
hier in die dal van genade
word ek wakker tussen bloekombome
wat groener raak hoe ouer
my herdenking
hoe silwerder my ouers
ek het nog altyd geglo
dat die bome met die groen wolke
net-net aan die takke hang
en die kleihuise
my beter ken as ek self. (radbraak, bl 14)

  • Jolyn Phillips, 11 Mei 2018, Universiteit van Johannesburg

 

Bronne

Phillips, J. 2017. radbraak. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Wyk, GJ, AE Cloete, A Jordaan, HC Liebenberg en HJ Lubbe. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.

[1] Met verwysing na Gwendolyn Brooks: “poetry is life distilled” deur Christine M Hill (Enslow Publishers, 2005).

 

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die prys vir Die derde spoel

The post UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir <em>radbraak</em> appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Senior leksikograaf – Pharos Woordeboeke (Kaapstad)

$
0
0

Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, het tans ’n vakature vir ’n senior leksikograaf by hul kantoor in Kaapstad.

Slegs gesoute leksikograwe of kandidate wat oor ’n meestersgraad in leksikografie of linguistiek beskik, sal vir hierdie uitdagende posisie in aanmerking geneem word. Buitengewoon goeie taalvaardigheid en in sowel Afrikaans as Engels is nodig. Hierbenewens is die kapasiteit om probleme op ’n professionele en kreatiewe wyse op te los noodsaaklik, asook die vermoë om as deel van ’n span onder druk te werk en sperdatums te haal. Kandidate moet voorts oor rekenaargeletterdheid beskik.

Die suksesvolle kandidaat sal aan die Hoof: Pharos Woordeboeke verslag doen en verantwoordelik wees vir leksikografiese werk aan eentalig verklarende woordeboeke, tweetalige woordeboeke en ander taaltekste, algemene leksikografiese werk, korpusontleding en proefleeswerk en redigering.

In ruil bied die maatskappy ’n markverwante vergoedingspakket en lidmaatskap van die pensioen- en siekefonds.

Kandidate kan aansoek doen via die volgende skakel: https://media24.simplify.hr/Vacancy/Apply/sbqqyk

Aansoeke sluit op 8 Junie 2018.

Indien die uitgewery nie binne twee weke na die sluitingsdatum met ’n aansoeker in verbinding getree het nie, was hy/sy aansoek onsuksesvol. NB-Uitgewers is onder geen verpligting om hierdie vakature te vul nie.

Ingevolge NB-Uitgewers se diensbillikheidsbeleid sal voorkeur verleen word aan geskikte kandidate uit die aangewese groepe.

Aansoekers kan die webwerf www.nb.co.za besoek vir inligting oor NB-Uitgewers.

The post Pos beskikbaar: Senior leksikograaf – Pharos Woordeboeke (Kaapstad) appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Leksikograaf – Pharos Woordeboeke (Kaapstad)

$
0
0

Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, het tans ’n vakature vir ’n junior leksikograaf  by hul kantoor in Kaapstad.

Die mees geskikte kandidaat vir hierdie uitdagende pos het kennis van leksikografie of beskik oor ’n driejaar-kwalifikasie in Afrikaans en Engels, met ’n sterk belangstelling in en aanvoeling vir die tegniese aspekte van woordeboekwerk.

Die suksesvolle kandidaat sal aan die Hoof: Pharos Woordeboeke verslag doen. Die pos behels grotendeels die ondersteuning van leksikograwe met hulle projekte (leksikografies en tegnies) wat algemene leksikografiese werk, korpusontleding en proefleeswerk insluit.

Kennis van webwerfbestuur, xml en datamanipulasie sal voordelig wees, hoewel die suksesvolle kandidaat ten volle opgelei sal word in al die tegniese aspekte.

Die geskikte kandidaat moet analities en sistematies te werk kan gaan, ʼn fyn oog vir detail hê, inisiatief aan die dag kan lê en onafhanklik kan werk.

In ruil bied die maatskappy ’n markverwante vergoedingspakket en lidmaatskap van die pensioen- en siekefonds.

Kandidate kan aansoek doen via die volgende skakel: https://nbpublishers.simplify.hr/vacancy/mwvr1s

Aansoeke sluit op 8 Junie 2018.

Indien die uitgewery nie binne twee weke na die sluitingdatum met ’n aansoeker in verbinding getree het nie, was hy/sy aansoek onsuksesvol. NB-Uitgewers is onder geen verpligting om hierdie vakature te vul nie.

Ingevolge NB-Uitgewers se diensbillikheidsbeleid sal voorkeur verleen word aan geskikte kandidate uit die aangewese groepe.

Aansoekers kan die webwerf www.nb.co.za besoek vir inligting oor NB-Uitgewers.

The post Pos beskikbaar: Leksikograaf – Pharos Woordeboeke (Kaapstad) appeared first on LitNet.

Invitation: Join us for a celebration of Colour me yellow by Thuli Nhlapo

Viewing all 1360 articles
Browse latest View live