Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1319 articles
Browse latest View live

Selma en Louise: ’n onderhoud met Susan Coetzer

$
0
0

Selma en Louise
Susan Coetzer

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176569

Skrywers oor hul nuwe boeke: Susan Coetzer gesels met Naomi Meyer oor Susan se boek Selma en Louise.

Mens se heel eerste gedagte is: daardie film van jare gelede! Was dit bedoel om die leser se aanknopingspunt te wees? Hoe is die boek eenders en hoe is dit anders as die fliek?

’n Titel moet prikkelend wees en ’n gesprekspunt kan uitlok. Die titel het in my kop gespring nog voor die skryfproses in alle erns begin het. Die uitgewers het onmiddellik daarvan gehou – die titel leen hom tot ’n legio temas, soos vriendskap, lojaliteit, humor, seks, geweld, lig en donker, soortgelyk aan die temas in die bekende fliek. Hierdie is egter ’n boere-Selma-en-Louise-vriendskapstorie wat oor 40 jaar afspeel, en die verhaal self is nie op die fliek gebaseer nie. Daar is wel ’n paar tong-in-die-kies verwysings na die fliek Thelma and Louise in die roman – die twee hoofkarakters, wat besties is, fantaseer graag hoe hulle soos die karakters in die fliek, ontsnap van hulle verlede vol geweld en donker geheime.

Die soet en die bitter, die humor en die donkerte. Dis wat ek van die film onthou. Hoe sou jy hierdie vriendskap van die vroue in jou boek beskryf? 

Die vriendskap tussen Selma en Louise is nie net lig en speels nie; dit is ook donker en gekompliseerd sedert hulle kinderjare. Die twee kom uit teenoorgestelde pole wat betref hul onderskeie huise van herkoms, ouerleiding, opvoeding, verwysingsraamwerke, geloofsieninge en waardesisteme. Hulle persoonlikhede verskil ook soos dag en nag. Selma is die stil, behoudende introvert – die spreekwoordelike miss goody two shoes – op skool. Louise weer is as kind oud voor haar tyd en ’n uitgesproke rebel met ’n vuil bek.

Tog vind die twee as tienjarige dogtertjies ’n onmiddellike place of belonging by mekaar. Elkeen voel (om ’n ander rede) soos ’n buitestander in die samelewing. In die vriendskap wat in bloed gesweer word, vind hulle aanklank en aanvaarding buite die norm. Die lojaliteit, asook die donker geheime wat hulle sedert hul kinderjare deel en bewaar, dien as fondament vir die langasem vriendskap wat oor veertig jaar strek. Selma en Louise het uiteenlopende persoonlikhede wat mekaar aanvul en komplementeer in die reisroman. Elk dien as ’n spieël vir die ander – by tye word die lig gereflekteer; ander kere die donker. Die Bostik van die vriendskap is die deurlopende humor en meelewende deernis tussen die twee vroue wat die toets van die tyd en veranderlikes deurstaan.

Wat het jou inspireer om hierdie storie te skryf?

Ek het einde 2016 ’n drieboekkontrak met H & R gesluit vir drie romans vir die algemene mark, nie net die geestelike mark nie. Ek het geweet ek moet begin 2017 voor my rekenaar gaan sit en my hande optel en begin skryf om die keerdatum vir die eerste roman betyds te haal … met of sonder inspirasie. Ek het slegs ’n vae gevoel oor ’n vriendskapstema gehad wat ek wou verken.

Inspirasie is vir my ’n bonus en nie iets waarop ek durf wag voor ek die taak op hande aanpak nie. Wat van groter waarde vir my as skrywer is, is konsekwente dryfkrag, doelgerigtheid, harde werk en daaglikse dissipline. Wanneer ek hierdie elemente in posisie kry, daag inspirasie mettertyd op as die kersie op die koek, of dan nou die boek. Die eerste poging (konsep) van die roman oor drie maande was ’n spaghettibenadering, maar ek het deurgedruk tot die einde. Daarna het ek weer van reg voor begin en toe besluit wat het waarde om te behou en uit te bou. Ek vind ek het terugskouend ’n beter idee oor die gevoel van die roman, die karakters en die storielyne en kinkels. En toe kom die inspirasie! Ek kon myself uit die pad van die karakters skuif en die pen in hulle hande plaas soos ’n aflosstok om vrylik mee te hardloop. By NB Boeke het ek geleer ’n roman moet oor en oor geslyp word en ryp word soos goeie rooiwyn om diepte en goeie geur te kry. Hier het Human & Rousseau se fiksiespan my geweldig baie gehelp om te groei as skrywer (dis my eerste roman vir hulle), sowel as al die buitekeurders wat terugvoer gee op die manuskrip.

Vertel my van jou karakters, asseblief. En hoe laat hulle, en die besluite wat hulle neem, jou voel?

Dit is ’n misterieuse skeppingsproses waarvoor ek myself oopstel as skrywer. Die karakters is vooraf vir my onbekend en maak hulle opwagting in my psige of word gebore uit my onderbewussyn in daardie ongedwonge alfastaat. Ek self is soms baie verbaas om hulle te ontmoet en weet nie altyd waar hulle vandaan kom nie! Hulle skryf as’t ware hulle eie stories. Ek het iewers gelees Agatha Christie het nooit geweet wie die moordenaar in haar verhale is tot aan die einde van die boek nie! So het ek ook nie ’n idee wat die karakters gaan doen nie – geen idee waarheen die storie my gaan lei nie en het ook nie die einde in gedagte nie. Die twee vrouekarakters wat aangemeld het, was baie uiteenlopend en kompleks – dalk albei deeltjies van my?

Om die villain se bedrading te verstaan, het ek egter ’n langer pad geloop. Met die eerste konsep van die roman het ek sekere dele uit sy perspektief geskryf. Ek het narsistiese/psigopatiese denkpatrone nagevors, vertroulike inligting van slagoffers bestudeer, asook na gevallestudies op kanaal 171 gekyk om die karakter se charisma en manipulerende gedragspatrone onder die knie te kry. Met hierdie “binnekennis” (van die leuens) kon ek tydens die herskryf- en slypproses slegs Selma en Louise se perspektiewe behou en die villain (Theo Swanepoel) deur hulle goedgelowige oë beleef en daardeur spanning by die lesers opbou.

Ek wou soms inspring en van die karakters aan die skouers ruk; ander kere wou ek hulle waarsku om nie verkeerde besluite te neem nie. Soms wou ek moraliseer, hulle red van destruktiewe keuses en dan weer berispe of teen my bors vasdruk en vertroos – maar uiteindelik moes ek terugstaan en aan hulle ’n vrye wil gee om hulle eie stories te skryf. Op die ou einde was ek uit die pad gevee – en was ek, die skrywer, die geamuseerde, soms verbaasde (en soms geskokte) leser!

Ek wil vra oor die einde (maar is dalk te bang) ... 

Die einde het ’n kinkel in die kabel, baie na aan die afgrond, soos in die fliek. En daar is ook ’n cliffhanger vir ’n moontlike opvolgroman. (’n Hele paar lesers het al ’n opvolg versoek.)

Vertel my van jouself, die skrywer van hierdie boek. Het jy vriendskappe soos hierdie een in jou lewe?

Ek is eintlik ’n introvert en ’n baie privaat mens wat my energie kry deur alleen te wees – al leef ek ’n warm en gesellige persoonlikheid na buite uit wanneer ek sosialiseer of in die openbare oog is as spreker en aktrise. Ek smee nie maklik nuwe diep vriendskappe nie – oppervlakkige kennisse het ek wel in oormaat. Ek het nie ’n heel beste vriendin of ’n vriendskap wat sedert my laerskooldae strek soos in die roman nie. Ek het egter wel oor die laaste 20 jaar ’n paar hegte vriendskappe met ’n handjievol vroue gevorm. Hierdie paar vriendinne wat die toets van tyd en die gety wat draai deurstaan het, is vir my van onskatbare waarde – veral in tye van nood. Dit bevat lewensgewende krag – dis soos ’n tonikum. Die veilige spasie van ’n lojale vriendin, waar jy letterlik als kan deel, gee aan vroue ’n plek van “net wees” en aanvaarding as mens. Ek het dit al oor en oor uit die monde van vele vroue gehoor tydens hulle traumatiese seisoene, en van daar die tema van hegte vriendskap as goue draad deur die roman getrek.

Waarom het jy hierdie boek geskryf en hoe lank het dit jou geneem?

My vorige roman, ’n Tas vol blues songs, vir die geestelike mark, het enkele (ek dink drie) klagtes van erg konserwatiewe Christelike lesers ontvang. Op grond hiervan is 3 000 kopieë summier van die geestelike boekrakke gehaal en na die uitgewers teruggestuur. Dit is drie maande later weer teruggeplaas op die geestelike rakke – en al 10 000 eksemplare wat gedruk is, is nou uitverkoop. Dit was uiteindelik ’n boek van genade wat misplaas is.

Hierdie insident het my geesdrif gedemp om verdere vernuwende romans met real life-geskakeerde karakters wat die grense/gewete van die samelewing toets vir die slegs geestelike mark te probeer skryf – dis te veel van ’n eierdans. Dit het gevoel of my kreatiewe handrem opgetrek is. Ek het besluit om my skryfwerk voortaan anders te benader en eerder my werke te skei – soos jy ’n eierwit en eiergeel skei. Niefiksie vir die slegs geestelike mark en romans vir die breër algemene mark.

Derhalwe het ek Human & Rousseau in 2016 genader. Selma en Louise, ’n kombinasieroman, met lig sowel as donker, is sonder ’n kreatiewe handrem geskryf. Dis ’n reisroman met ’n byt, vol donker geheime, lewensvatbare temas, humor en kleurvolle eg-menslike karakters (en ’n paar gekruide woorde). Terselfdertyd is dit ook ’n roman met ’n sterk geestelike fondament – een wat die leser hopelik sal laat nadink oor die impak van egtheid en deursigtigheid versus verskuilde agendas. Ek is as skrywer gemakliker en meer in my soul seat met hierdie “combo”-aanslag. Ek wil vry wees om lig, donker en al die kleurskakerings van menswees aan te wend om ’n storie wat met my resoneer, so treffend as moontlik te skryf.

Met al die navorsing, slyp en herskryf het dit my ongeveer ’n jaar geneem om hierdie roman te voltooi. Hier het die fiksiespan (en veral Nèlleke de Jager) my geweldig baie gehelp om te groei as skrywer, sowel as, soos ek reeds vroeër gesê het, al die aan my onbekende buitekeurders met hul gereelde terugvoer.

Jy is ook ’n ervare aktrise. Wat is vir jou verskillend van aktrise-wees en in die velle van jou karakters klim en om skrywer te wees en in die velle van jou karakters te klim?

Ek dink wel my agtergrond as aktrise help my met die uitbeelding van eg-menslike karakters en veral hulle dialoog wanneer ek skryf. Ek klim soos ’n aktrise in hulle skoene in en hoor hulle dink en letterlik praat in my ore … en skrap enigiets wat vals klink en nie eg is aan die spesifieke karakter se stem nie. Verder dink ek baie in visuele prentjies – ek sien die gesigte, klerestyl en plekke wat hulle besoek. In al my romans is daar beslis universele temas en raakpunte ingeploeg wat stryk met my eie ervaring asook dié van duisende vroue wat oor die jare hulle stories met my gedeel het in ’n vertroulike spasie. Ek gebruik van my eie ervarings sowel as dié van ander en gooi ’n groot handvol fantasie by en bak ’n splinternuwe koek, of dan nou boek, uit die bestanddele. Ek is ook van kleintyd lief om mense fyn dop te hou en waar te neem – ek stoor hierdie indrukke en bring hierdie waarnemings graag na my romans.

Noem ’n paar van jou gunstelingflieks en -boeke.

Ek lees wyd en is altyd op soek na treffende boeke wat mense aanbeveel – ek lees meestal in Engels. Ek het nie net een gunstelingskrywer nie. Ek hou van Elizabeth Gilbert se skryfstyl, Jo Jo Moyes en Jodi Picoult. Shantaram van Gregory David Roberts is moontlik my gunstelingboek wat ek al gelees het. Ek dink Roberts was meesterlik. Daar is s-o-o-o-o baie flieks wat ek kan noem wat my al diep geraak het – baie van hulle kan oor en oor gekyk word op DVD. Meer onlangs staan Florence Foster Jenkins met Meryl Streep en Darkest hour met Gary Oldman vir my uit. Plaaslik het Sink my aangegryp.

Wat is vir jou lekker en vervullend van die skryfproses (van hierdie boek), en wat was/is vir jou moeilik of uitdagend?

Dit was vir my heerlik om vryer, meer kleurvol en meer humoristies te kon skryf – en met minder inhibisies en behoedsaamheid. Dit was werklik lekker om ’n ligter lekkerleesroman te skryf en ek het as skrywer te heerlik met die karakters gereis al die pad tot in Indië en my lekker ingeleef in hulle ervarings. Die kindergedeeltes in die roman was vir my veral lekker en het ook baie maklik gevloei. Die volwassenes was moeiliker om oor te skryf – omdat volwassenes meer issues, bagasie sowel as maskers het. Dis ook vir my emosioneel altyd moeiliker om karakters met donker psiges te verken en te verstaan – dit put my baie uit om in daardie donker dieptes te moet tande insink.

Verder was dit ’n groot uitdaging om in soveel besonderhede oor Indië te skryf en lesers te oortuig dat ek self al daardie plekke eerstehands besoek het. (Ek was nog nie in Indië nie.) Gelukkig het ’n filmspan van Bollywood Mumbai toevallig my huis in Linden vir ’n maand gehuur tydens die skryfproses. (Ek het toe reeds oor Indië geskryf.) Dit was so ’n onverwagse seën vir my as skrywer! Ek kon sessies met vrae met die span reël. Dit het my baie gehelp om onder die vel van die land in te kom, asook met verskillende dialekte. Die plaaslike inwoners van Mumbai het my ook daardie inside inligting gegee wat ek nie in boeke sou kon nagevors of uitgevind het deur te google nie. 

The post <i>Selma en Louise</i>: ’n onderhoud met Susan Coetzer appeared first on LitNet.


Yes, really! A life deur Kate Turkington: ’n resensie

$
0
0

Yes, really! A life
Kate Turkington
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624083672

Die boek belowe ’n vertelling van ’n lewe. Jy, die leser, vra dan natuurlik: Wat maak hierdie lewe dan so uitsonderlik dat 283 bladsye daaraan gewy word?

Jy het nie rekening gehou met Kate Turkington nie. So word jy, heel sappig, ingelei in ’n toneel van twee dogtertjies wat in 1942 van hulle ouers geskei word om uit die dreigende bombardering van Londen na die platteland uit te wyk. Maar hulle word gou met hul ouers herenig. Als goed.

Maar wanneer jy die boek toeslaan, is jy ’n ander leser. Verslae, uitgemergel.

Turkington is onthutsend eerlik, maar sy vertel haar storie soos enige goeie rillerskrywer sou. Hier en daar ’n leidraad dat dinge kan ontrafel, maar tussenin is dit ’n vreugderit van beskrywings, inligting, stoutighede, pret.

Op 83 skryf sy haar derde boek – hierdie ene. Saam met haar (sy is ’n baie gewilde reisjoernalis) besoek jy onmoontlike plekke op aarde; saam met haar raak jy amper sentimenteel geheg aan haar honde.

Sy het ’n byna maniese energie. Op 80 klim sy die steil, ontoeganklike Torres del Paine in Patagonië; jy beleef saam met haar die ongelooflike gesig van die reuseseeskilpad wat land toe sukkel om ’n nes met haar yslike vinne in die sand te skop vir haar ver oor die honded eiers – en dan weer haar twee meter lang liggaam terugsleep na die see.

Kate is Engels gebore, word uitermate geheg aan Ierland én Afrika. Sy is ’n akademikus (Engelse letterkunde) wat in Afrika aan vele projekte deelneem. Uiteindelik word sy ’n Johannesburger. Sy word weer aangekeer vir radiowerk en vir 17 jaar lei sy die Believe it or not-geselsprogram op die lug. Hier voer sy onderhoude met mense soos Richard Dawkins en die groot Anglikaanse kerkman Terry Waite wat vir vier jaar self in aanhouding was weens sy bemiddeling vir aangehoudenes in vyandige lande. Sy het met Tutsi-oorlewendes na die Rwanda-slagting gesels, asook met die vroue van die verstarde Hutteriete-sekte in Montana, VSA.

Sy doen televisieprogramme oor haar vele reise. Oomblikke in die Tibettaanse pieke word so realisties vertel dat jy, die leser, self rillings kry. Sy gaan soek die Noorderligte en kry ander verbysterende tonele.

Sy was twee keer getroud, het vier kinders, nege kleinkinders.

Sy het kortstondige affairs. Sy is bo alles doodeerlik. Verstandig. Mense vertel maklik hul lewenstories vir haar.

In haar middel-sewentigs tref die lewe háár. Amper verlam van skok oor die verskriklike werklikheid wat haar toe tref, kry sy berading, word sy byna manies-onmoontlik met tye.

Dan besin sy. Sy skryf: “I knew for certain what my role in life was. It was to love and be loved. It was to be strong and to give strength.” Haar ma het immers altyd gesê: “You never know what happens behind closed doors.”

Yes, really! is nie ’n troosboek nie. Dis eerder ’n aansteeklik opwindende avontuur tussen skrywer en leser. Wanneer “the end of the world” haar tref, sluk ook die leser van verstomming.

Turkington móés hierdie boek skryf. Vir haarself en ook vir haar lesers.

The post <i>Yes, really! A life</i> deur Kate Turkington: ’n resensie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Jeremy Vearey

Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was lid van MK en was vir jare ’n gevangene op Robbeneiland. Hy is ’n generaal-majoor in die SAPD en was hoof van die Wes-Kaapse polisie se gang-eenheid. Op sy Facebook en blog (http://thedialecticalcop.blogspot.co.za, waar in Afrikaans en Engels geskryf word) vra lesers dikwels wanneer sy boek kom.


Opsomming

Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105

Van laaitie tot politieke kryger, “bandiet” tot polisiehoof, spioen tot presidensiële lyfwag. Van sy kleintyd in Elsiesrivier met die ooms wat domino speel en die lyk op die veld het Jeremy Vearey se lewe talle onvoorspelbare wendings geneem. In ’n vars, eiesoortige Afrikaans skryf hy oor geheime leeskringe, die kerkjeug en die (Afrikaanse) Kommuniste-manifes, sy tyd as onderwyser terwyl hy in die geheim ondergrondse werk vir MK uitvoer, en sy tyd op Robbeneiland. In Pollsmoor kook hy onwettige bully beef. (Die resep is ingesluit.)

Toe hulle onverwags vrygelaat word tydens die oorgang stap hy stap saam met Tokyo Sexwale van die hawe af Cowley House toe. As Mandela se lyfwag help hy ’n AWB-opstand in die Karoo ontlont, voor hy deel word van die nuwe SAPD saam met die gewese “vyand”. In naelbyt-operasies takel hulle terrorisme en Kaapse bendes.

“Ontstellend goed. Ek kon dit nie neersit nie; ’n bondel dinamiet.” – Riaan de Villiers

“’n Vars stem oor ’n lewe op die snykant.” – Tobie Wiese

“Dié boek sal jou ontroer, laat lag, laat kopskud en laat nadink, maar bowenal sal dit jou elke nou en dan laat vergeet om asem te haal. ’n Outobiografie wat in die riller-afdeling hoort.” – Nathan Trantraal


Uittreksel

Ouma Vearey se djaart in Tiervlei was heel anders uitgelê as ouma Galant se djaart in Elsiesrivier. Pa het my eendag vertel dat die verskil te doen het met hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is. Soos ek hom destyds verstaan het, trek ons mense nie eintlik uit eie wil nie, ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word. Huise word gebou soos treine wat altyd op pad êrens heen is en die djaart is maar net nog ’n stasie tussen die volgende een.

Ouma Vearey se djaart was ’n U-vormige sinkkraal van swart geverfde koppelhuisies om ’n sandbinneplaas, begrens deur soortgelyke buursinkkrale wat hekloos uitloop na die gryspad se stof van Sewendelaan. Een klein kwartstuk van die sinktrein was ontkoppel as ’n familiebalietoilet.

Oupa Vearey, of Dêrra soos ons hom genoem het, was ’n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog wie as soldaat in Tobruk deur die Germans gevang is en in 1945 verlos is uit ’n tronk vir krygsgevangenes in Italië. Dêrra was ’n oupa van min woorde en streng gevegsreëls. As daar onder die trop newe ’n bakleiery was, het hy altyd eers met sy kweperlat ons gewaarsku dat vloekery verbied word omdat dit wys dat jy jou emosies na ’n geveg toe bring. Sy tweede reël was ’n les in sy siening van regverdige manwees en sy beginsel dat enige geveg se einde finaal begrawe word met versoening.

“Die eerste een wie kaalvuis bloed trek, wen. Vat dan jou broer se hand en tel hom op. Sê hom dat alles nou oor is en dat jy jammer is dat dinge tot hierdie punt gekom het en dat dit nooit weer sal gebeur nie,” het Dêrra altyd verduidelik.

Die uitdra en begrawe van die djaart se oorvol kakbalie, veral op die laaste dag van ’n lang naweek, was gereeld die bron van vuisgevegte tussen die trop newe op die djaart. Alhoewel baliewerk ’n driemanskaptaak was, het dit altyd neergekom op die jongste newe – Ricky, Danny Boy en ek. Een bloedwarme middag op Paasmaandag in die vroeë sewentigs sukkel ek op my hurke in konsentrasie om die swart oorvol balie van onder die houttoilet se sitvlakplatform uit te skuif, toe Ricky skielik agter my begin skree dat daar ’n slang agter die balie seil. Met die skrik ruk ek die balie te vinnig los en die kak spat letterlik om en oor my.

Ricky breek los met ’n skaterlag en skree: “Dêrra! Jeremy het die balie laat omval!”

Ek gryp hom by die bors en begin hom net daar in die vuil toilet moer. Maar Dêrra storm nader met sy kweperlat en begin slaan om my van hom af te kry. Soos die ongeskrewe reëls verlang, volg ek en Ricky gedwee vir Dêrra na die djaart se binneplaas waar die geveg moet begin. Hier word daar nie gepraat nie en Dêrra trek ’n sirkel in die sand om die bokskryt te begrens terwyl ons oorkant mekaar stelling inneem. Dêrra lig die kweperlat en slaan dit neer in die stof.

Soos Dêrra se reëls verlang, pak ek en Ricky mekaar sonder ’n woord of ’n huilery. Daar kom ook nie van die toeskouers wat stil rondstaan ’n gejuig of aansporing nie want niemand waag dit om aan die erns van Dêrra se lesse afbreuk te doen nie. Ná ’n kortstondige gestoei van kinetiese vuishoue, kopskiete en skoppe breek Dêrra die stilte en skree: “Bloed!”

Ons stop onmiddellik en Dêrra begin sy inspeksie. “Julle al twee bloei. Wie eerste gebloei het, maak nie saak nie, julle het al twee gewen. Skud hande en gaan maak die toilet skoon,” beveel hy en loop na die ouer newe buite die sirkel. “Help hulle,” berispe hy, “julle het mos ledig rondgestaan terwyl julle gesien het hoe Jeremy sukkel en julle het saamgelag toe die balie omval.”

Dit het al ons newe tot net voor sononder gevat om die toilet skoon te maak en alles te begrawe onder die wakende oë van Dêrra, wie seker gemaak het dat elkeen sy bydrae gelykmatig lewer. En só het ek vir Dêrra verstaan, as ’n harde maar regverdige man wie altyd seker gemaak het dat niemand ooit verantwoordelikheid ontduik nie. Dit, en dat enige konflik altyd moet eindig met ’n gebaar van versoening, wat inderdaad samewerking vereis, om ons menswaardigheid te herwin.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Jeremy vannie Elsies</i> deur Jeremy Vearey appeared first on LitNet.

Truitjie roer my nie: ’n onderhoud met Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

$
0
0

Truitjie roer my nie
Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801778

Skrywers oor hul nuwe boeke. Naomi Meyer gesels met Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling oor Truitjie roer my nie.

Hallo, Schalk en Erns! Julle albei se name staan voorop Truitjie roer my nie. Wie van julle het die boek geskryf?

Erns: Hallo Naomi! Ek en Schalk het albei die boek geskryf, daarom is ons albei se name voor op. My naam is wel in kleiner letters, want Schalk het die meeste van die skryfwerk gedoen. Ek het aanvanklik gedink om ’n Schalk-boek te skryf, oor sy loopbaan en ons comedy bromance en lekker samewerking en stand-up comedy avonture regoor die land, maar toe het Schalk uit sy eie uit begin om hoofstukke in Word neer te pen en op Google Drive te save. Toe hy eers vir my van sy skryfwerk begin lees, was ek baie verlig, want ek het besef hy skryf uitstekend en dat my werk baie minder gaan wees! Op die ou end het ek ook ’n paar hoofstukke geskryf en plek-plek kommentaar op sy skryfwerk gelewer wat in kursief in die teks verskyn. So dit is nie ’n Schalk-boek deur Erns nie, maar ’n Schalk-boek deur Schalk, in samewerking met Erns. (En ek wil dit net kategories stel dat ek dit effens ongemaklik vind om na myself in die derde persoon te verwys.)

Onlangs sien ek op die Republiek van Zoid Afrika (waar julle nou albei in die kabinet dien) dat julle saam draf. Het julle mekaar daar langs die promenade ontmoet, of hoe?

Schalk: Ons vertel in die boek presies hoe ons ontmoet het. Erns het my eerste Afrikaanse one-man show by die KKNK kom kyk en my daarna as stand-up komediant vir ’n vriend se bachelor’s bespreek. In die parkeerarea van die German Club in Kaapstad het ek en Erns daardie aand gesels en ek het hom soos ’n skaam tienerdogter “uit gevra” om saam met my te werk. Hy was toe op pad om die Camino te gaan stap, maar kort na sy terugkeer het ons begin koffie drink en planne maak.

Truitjie roer my nie – my eerste gedagte was natuurlik dat die titel verwys na die uitdrukking "kruidjie-roer-my-nie" en toe gaan kyk ek gou in Pharos of ek die definisie nog reg onthou. Groot is my verbasing toe daar ook die frase "truitjie-roer-my-nie" verskyn, met die definisie daarby: "Spotnaam vir ’n prikkelbare, vermaaksieke persoon." Hoe het julle op hierdie titel afgekom? En besluit om die boek so te noem?

Erns: Wow, Naomi, ek het geen idee gehad dat “truitjie-roer-my-nie” ’n bestaande frase is nie. Dis nou vir my histeries snaaks! Ek was nogal trots op my “nuutskepping”, wat eintlik maar net ’n woordspeling was op die bekende Anton Goosen-liedjie se titel. Ek het gedink dit werk oulik omdat Schalk se truitjies so bekend is. Maar dit wys jou daar is wraggies niks nuuts onder die son nie. Ek het ook nog nie die woord “vermaaksieke” raakgelees nie. Ek het nie ’n HAT byderhand nie, en op Google is daar slegs een verwysing na die woord, uit ’n artikel in Tydskrif vir Letterkunde uit 1990: “Dink aan ons skare miljoene-verdienende gholfspekers, wat hulle so magtig ophou met balletjies in gaatjies slaan of tik, dít voor getroue, volgsame, vermaaksieke skares.” Ek dink nie Schalk is noodwendig ’n vermaaksieke persoon nie – hy sal dalk eerder siek word as hy mense nie kan vermaak nie.

Erns en Schalk (Foto: Alet Pretorius)

Schalk, is hierdie boek vol sketse van jou shows? Is dit verskillend om dit neer te skryf teenoor om dit voor ’n lewende gehoor te sê? En indien wel, hoe verskil dit?

Schalk: Nee, mense moet maar die shows kom kyk as hulle wil weet wat dáár aangaan. Dis meer oor hoe alles (die shows en my loopbaan) begin het, agter-die-skerms-gebeure by van die shows, dinge wat gebeur tydens die shows, drome vir toekomstige shows, ens. Ek vereenvoudig dit nou, maar dis basies ’n boek vol lekker stories en opinies en ek dink dat mense, veral aanhangers van my en/of Erns, dit baie sal geniet.

Julle twee is ook (saam met Bibi Slippers) op die program Die ware naarheid te siene. Hoe ervaar julle albei, onderskeidelik, dit voor die kamera?

Erns: Omdat ek Schalk so goed ken, antwoord ek sommer namens ons albei! Ek en Schalk het die laaste paar jaar goeie ervaring opgedoen voor die kamera in verskeie reekse en TV-projekte, so ons is teen dié tyd al gewoond daaraan. Wat Die ware naarheid se opnames baie opwindend maak, is dat dit “live to tape” opgeneem word. Ons neem 18:00 op ’n Maandagaand op en dan word die episode dieselfde aand 20:30 uitgesaai. Daar is geen tyd vir enige redigering nie, so enige flaters word uitgesaai. Ek geniet hierdie element en die adrenalien wat daarmee saamgaan baie. Ons het ook ’n gehoor van sowat 25 mense wat elke week die opname bywoon. Dit dra alles by tot die regstreekse gevoel van die reeks. En jy kan dadelik hoor of mense van ’n grappie hou of nie. Ek geniet dit veral om Schalk se “performance” elke week te sien – sy opleiding in drama en talent en ervaring as akteur en stand-up komediant kom baie nuttig te pas in sy rol as nuusanker.

Bibi Slippers en Schalk gesels voor die eerste boekbekendstelling van Truitjie roer my nie in Rosebank.

Hoekom hierdie boek? Enige spesifieke inspirasie, of verskillende snellers?

Schalk: Nee wat. Erns se boek Elders is deur Queillerie (NB Uitgewers) uitgegee en hy het eendag aan hulle genoem dat so ’n boek miskien cool sal wees. Hulle het baie van hierdie idee gehou en ek het maar net dadelik pen op papier begin sit. Of eerder woorde in Word.

In Engeland word daar dikwels die gek geskeer met mense wat vir mekaar verspotte truie present gee rondom die Kersseisoen. Hoe het truie deel van jou storie geword, Schalk? Wat was die snaaksste trui wat al jou pad gekruis het? En het jy terloops ’n paar foto's van jou en van jou beste/ergste truie?

Schalk: Foto’s van my beste en ergste truie is volop op my Instagram. Alhoewel ek nie enige van my truie as erg sien nie. Ek dink hulle almal is pragtig, maar mense dink dat ek dit dra om anders of snaaks te wees. Ek hou eintlik daarvan. Dit het alles half per ongeluk gebeur en ek verduidelik dit meer in besonderhede in die boek, maar ek het basies ’n ou trui by ’n tweedehandse kleremark gesien en dit gekoop. Toe ek dit na allerlei kuierplekke begin dra, het mense my gekomplimenteer en dit het die ding geword wat ek versamel – net soos wat ander mense posseëls of Star Wars-mannetjies versamel.

Foto's: Instagram

Erns, jou pad langs die Camino het jou op baie reise daarna geneem. Wil jy iets vertel van jou huidige staptogte, letterlik of figuurlik?

Erns: Dit was omtrént ’n reis vol verrassende wendings. Presies drie jaar gelede was ek nog te voet onderweg na Santiago de Compostela tydens my eerste Camino. Op daardie stadium het ek nog glad nie daaraan gedink om ’n boek daaroor te skryf nie. Ek het dit geweldig geniet om in September verlede jaar na die Camino te kon terugkeer vir die TV-reeks Elders: die Camino. Tans is ek druk besig met Die ware naarheid, wat tot 2 Julie op kykNET wys. PG du Plessis het altyd gewaarsku teen toekomsmusiek, so ek gaan nie te veel verklap oor my toekomsplanne nie. As als reg uitwerk, en met ’n bietjie goeie geluk en baie harde werk, sal daar teen volgende jaar iets nuut op TV én op die boekrakke wees.

Hoe het julle dit ervaar om saam-saam aan die boek te skryf? Het julle dan oor alles saamgestem, of hoe het julle gemaak as julle oor iets verskil wat daarin moes staan?

Erns: Ons het nie regtig ’n vaste roetine gevolg nie. Schalk het begin om hoofstukke te skryf en ek het gehelp met van die onderwerpe en struktuur. Ons het soms saam in dieselfde vertrek geskryf, veral wanneer ons lang WhatsApp-stemboodskappe getranskribeer het, waarvan sommige uiteindelik deel van die boek geword het. Ek het die hoofstukke in ’n volgorde rangskik wat vir my sin gemaak het, en ek het self ook ’n paar hoofstukke geskryf en kommentare onderaan van Schalk se skryfwerk bygevoeg. Ons het gelukkig geen groot verskille gehad oor die teks of foto’s nie. Ek dink ons albei is so vrek besig dat ons nie tyd of energie wou afstaan aan hare kloof nie. En wat sal dit ook baat? Schalk het te veel hare en ek te min ...

Ek steel ’n vraag by Henry Cloete, wat dikwels vir mense vra met wie hy musiekonderhoude voer: Wat is die sin van die lewe?

Schalk: Komedie.

Erns: Aanhou beweeg en geraas maak.

The post <i>Truitjie roer my nie</i>: ’n onderhoud met Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling appeared first on LitNet.

Op pad: Snyman se groot trek deur die ruimtes tussen mense

$
0
0

Op pad: ’n Reisjoernaal
Dana Snyman

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077176

Dana Snyman se Op pad: ’n Reisjoernaal (2017) is in werklikheid ’n joernaal van twéé reise wat die skrywer in 2015 onderneem het en wat hier ook as twee afsonderlike dele aangebied word, naamlik: “Deel I: Dieper die binneland in (Aantekeninge oor ’n reis)” en “Deel II: Koelkas (Enkele ervarings tydens Wêreldbeker 2015)”. Die woorde “aantekeninge” en “enkele ervarings” dien as aanduiding van die struktuur van die onderskeie teksdele: ’n oënskynlik lukrake versameling van aanhalings, beskrywings, indrukke en foto’s wat op verrassende wyse ’n groter geheel vorm. ’n Verhaal-in-dele, as ’t ware. In hierdie opsig herinner Op pad, veral wat aanbieding betref, aan ’n teks soos Huilboek deur Ryk Hattingh.

Eie aan die aard van die joernaal gaan dit in Op pad nie net oor die dinge wat Snyman tydens sy reise ervaar en die interessante mense wat hy ontmoet nie, maar veral ook oor sy persoonlike besinnings ten opsigte van dit wat hy meemaak. Dit is juis die onverskrokke eerlikheid waarmee hy oor sy ervarings nadink wat Op pad vir my so ’n boeiende leeservaring gemaak het.

Dieper die binneland in

In die eerste deel van die boek lewer Snyman verslag oor ’n reis wat hy as aanbieder van ’n televisiereeks van 13 episodes vir die VIA-kanaal op DStv onderneem het:

Elke oggend knip hulle ’n mikrofoon aan my hemp se kraag vas, dan ry ek dieper die binneland in. Leon, die een kameraman, ry saam met my in die bakkie. (...) Niel, die vervaardiger van die reeks, Charlenè, die regisseur, en Christiaan, die redigeerder en bykomende kameraman, kom in Niel se motor agterna. Net waar ek wil, hou ek stil en gesels met wie ek wil, maak aantekeninge, neem foto’s. Soos ek altyd maak wanneer ek ’n artikel of ’n storie navors. Het ek nog hoop vir Suid-Afrika? is die tema van die reeks. Maar daar is nie ’n draaiboek of veel van ’n reisplan nie. Wat op pad gebeur, moet spontaan gebeur waar dit ook al gebeur. (14)

Tog word dit gou duidelik dat hierdie geografiese reis vir Snyman ook ’n reis van selfkonfrontasie word. Nie net ’n reis dieper die binneland in nie, maar ook ’n reis dieper die land van sy binneste in.

In Op pad fokus Snyman veral op daardie dinge wat nie (volledig) deur ’n televisiekamera vasgevang of onthul kan word nie. Daarom behoort selfs lesers wat die televisiereeks getrou gevolg het, hierdie vertelling openbarend te vind. Wanneer Snyman byvoorbeeld aan die begin van die reis met geboë hoof in die NG Kerk op Hanover afgeneem word, dink hy wrang:

Hulle [die televisiekykers] sal nie weet ek kan nie bid nie, al wil ek ook. Ek probeer bid, maar my gebede is leeg, ’n ydel gewoonte, ’n rits kinderlike en selfsugtige versugtinge: “Help tog dat die televisie nie van my iets anders maak as wat ek is nie, Here. Help dat my bakkie nie breek nie. Vergewe my sondes ...” (16)

Tussen angs en (on)sekerheid

In aansluiting by die woorde van Günter Grass (’n Duitse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde wat eers op 78-jarige ouderdom erken het dat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n lid van Hitler se elite-eenheid, die Waften-SS, was) begin Snyman sy vertelling met ’n persoonlike skuldbelydenis. Nie alleen erken hy sy wankelende geloof en sy dors na die skelm bottel Jameson onder sy bakkie se sitplek nie, hy beken ook die woede, twyfel en vrees wat hy as wit Afrikaanssprekende in die nuwe Suid-Afrika ervaar:

[D]ie woede is ook in my. Ek kan dit voel. Dis daar. Dit wil knaend beheer van my oorneem. Miskien is woede verslawend. (26)

Oral verander plekke op ’n manier wat my, ’n wit middelklas Afrikaner bang en onseker laat voel. Jy voel dit. Jy sien dit. (35)

Hoe swaar hy aan die bagasie van die verlede dra, word treffend uitgebeeld in die toneel waar hy voor ’n groot portretfoto van Hendrik Verwoerd in die Orania-museum bewus raak van ’n weerkaatsing van sy eie gesig in die glas en opmerk: “Die buitelyne van ons gesigte vloei inmekaar” (44). ’n Paar bladsye later erken hy prontuit:

Ek is een van die kinders van Verwoerd, die produk van Christelik-Nasionale Onderwys, een van dié wat geglo het dis God se wil dat die volke hier aan die suidpunt van Afrika apart moet leef. (...) Ek is een van die gebreinspoeldes wat myself al hoe lank probeer ontspoel. (46)

Tog is sy subjekposisie alles behalwe eenduidig. By geleentheid merk hy byvoorbeeld op dat hoewel hy as mens deur “waarhede, halwe waarhede en versinsels, tesame met ’n eng interpretasie van die Bybel en die geskiedenis” (54) gevorm is, dié vorming vir hom altyd inherent met Afrikaans én met Afrika vervleg sal wees.

As “onrehabiliteerbare Afrikaner” (54) voel hy aan die een kant bang en onseker om die “bekende agter te laat en oor ’n drumpel te tree na iets nuuts, na iets onbekends” (101); aan die ander kant is hy maar alte bewus van die gevaar “[o]m vasgevang te wees in ’n manier van bestaan waarvoor daar nie meer plek in die wêreld is nie” (28).

In ’n denkbeeldige gesprek met sy oorlede predikantpa kom hy na aanleiding van dié se verhouding met Johannes Bogosi – ’n jare lange vriend en versorger – tot die gevolgtrekking dat ’n mens se kultuur “eers regtig betekenis kry wanneer jy dit in verhouding met ander kulture beleef”:

Ek sal nooit hier op Orania kan woon nie, Pa. Ek kan nie vassteek in wit nie. Ek moet dieper die binneland in – altyd die binneland in, op my groot trek deur die ruimtes tussen mense. (57)

Van sentimentaliteit en ’n nostalgiese terughunkering na die “goeie ou dae” is daar geen teken nie. Op bl 150 verklaar Snyman ondubbelsinnig: “Ek moet gaan, ek kan nie vassteek in nostalgie nie.”

Agterbly of vooruitry?

Een van die opvallendste kenmerke van die eerste deel van Op pad is die bedrewe wyse waarop Snyman die oënskynlik losstaande tekselemente in sy reisjoernaal integreer en uiteindelik met mekaar laat resoneer: die twee boeke wat hy tydens sy reis lees (JM Coetzee se Disgrace en Ferdinand Deist se Tussen angs en sekerheid); die pikswart hond wat hom net buite Orania soos “’n boodskapper uit die beleërde binneland” (58) tegemoet hardloop; die grafsteen wat hy na vyf jaar nog nie op sy pa se graf laat sit het nie; sy besoek aan Adriaan Vlok, die enigste apartheidsminister wat by die WVK aansoek gedoen het vir amnestie; en sy herbesoek aan MaNthombi en Manji in Nkandla.

Al erken Snyman die moontlikheid dat hy sy hele lewe in oorgang, tussen die oue en die nuwe, tussen angs en sekerheid, kan deurbring (175), is die grootste deel van sy vertelling juis ’n viering van daardie oomblikke wanneer iemand wel daarin slaag om bogenoemde drumpel oor te steek.

In die konsistorie van die NG Kerk in Mookgopong – die ou Naboomspruit – kyk Snyman byvoorbeeld na ’n foto van sy pa wat vier jaar daar leraar was. Dit is ’n konfrontasie wat botsende emosies by Snyman ontketen. Enersyds neem hy sy pa en die res van sy generasie kwalik vir die versmorende invloed wat hulle op sy denke gehad het:

Ek is die bliksem in vir jou en ooms soos jy, Pa, want met julle direkte NG-lyn na God toe en julle aardse planne vir ’n aparte naasbestaan het julle gemaak dat ek swart mense – bruin mense ook, almal wat nie soos ons is nie – as minder as mense begin sien het. (127)

Andersyds voel hy trots op die dapperheid waarmee hulle uiteindelik wel “’n Rubicon in hulle hart oorgesteek” (127) het. Oplaas vergewe hy sy pa soos oudminister Adriaan Vlok hom aangemoedig het, bestel telefonies ’n steen vir sy pa se graf en groet hom met die volgende gedagtewoorde:

Ek gaan nou verder die binneland inry, Pa. Ek gaan jou nou vrylaat. Ek het genoeg by jou geleer om alleen verder te gaan. Ek moet oor ’n nuwe drempel trap. Dankie, Pa. Gaan nou. Toe. Gaan. Jy is vry. (129)

Wanneer Snyman die swart, brandsiekhond buite Orania oplaai en ’n heenkome vir hom begin soek, identifiseer hy vir die eerste keer met die karakter David Lurie wat in JM Coetzee se Disgrace vir Bev Shaw by haar hondeskut help en self verknog raak aan ’n hond wat gedeeltelik verlam is in die agterlyf. Anders As Lurie, wat aan die einde van die roman die hond vir Bev Shaw neem om uit te sit, besluit Snyman eerder om Blackie (die naam wat hy aan “sy” hond gee) by Tania Volschenk – die vrou op Bloemfontein wat na die hond omgesien het – te gaan haal. Op dié wyse aanvaar hy nie net ’n bepaalde verantwoordelikheid teenoor die hond nie, maar ook verantwoordelikheid teenoor almal vir wie die hond ’n “boodskapper uit die beleërde binneland” is. Deur sy hand na ’n ander uit te reik, ontdek Snyman oplaas ook die geheim van gebed; iets wat hom so lank bly ontwyk het:

Hoop is Tania. (...) Hoop is Ferdinand Deist: “Om deel te neem in die lewe van ander rondom jou deur daaroor na te dink, is gebed, want dit is die antwoord op God se opdrag om mekaar lief te hê. Om ’n keer na te dink oor jou verhouding met ander mense, om jou intens in te leef in hul rou en seer en so werklik medemens te wees, dit is gebed ... (173)

Oor rugbykoors en desperate Saterdagmiddagdrome

Hoewel die tweede deel van die boek, waarin Snyman enkele ervarings tydens die Wêreldrugbybeker van 2015 verwoord, nie heeltemal dieselfde mate van integrasie as die eerste deel vertoon nie, sluit dit tog in sekere opsigte daarby aan.

Aan die hand van gesprekke met rugbyspelers (van toe én nou) en getroue rugby-ondersteuners (vir én teen die Springbokke) lê Snyman ’n interessante verband tussen Heyneke Meyer se voorspelbare wedstrydplan, sommige Springbokrugbyondersteuners se ontnugtering met die huidige stand van Suid-Afrikaanse rugby en die liminale posisie van die Afrikaner waaroor hy in die eerste teksdeel besin het:

Ek kry dit nie reg om vir Heyneke kwaad te wees nie. Nes soveel ander van ons Afrikanermans is hy vasgevang tussen twee wêrelde. Hy het grootgeword in die ou Suid-Afrika, waar dissipline en kragdadigheid alles was as jy wil wen; maar om in die nuwe land, die nuwe wêreld te floreer, vereis kreatiwiteit en die moed om oorspronklik te wees. Ook op die rugbyveld. (188)

In hierdie deel gaan dit dus ook oor ’n bepaalde reis op soek na hoop (meer spesifiek kreatiwiteit en oorspronklikheid as oorlewingsmeganismes). Ook hier verkry die reis toenemend ’n persoonlike en intieme dimensie:

Ek voel laag en moeg. Hier bevind ek my in my 53 jaar op aarde op die agtersitplek van ’n Kia Picanto, twee keer geskei, die vader van geen kind, op reis agter rugby aan, asof ek na iets in myself op soek is. (236)

Uiteindelik beken Snyman dat hy, soos soveel ander Springbokondersteuners, dikwels ’n vinger na die Springbokke wys sonder om eers deeglik voor sy eie deur te vee:

Verwag ons nie van die Springbokke wat ons nie van onsself verwag nie? Hulle speel sonder enige geesdrif en trots, sê ons. Maar hoe geesdriftig is ons, die Springbok-ondersteuners, op die oomblik oor Suid-Afrika? Hoe trots is ons op ons land? (...) Ons kla oor hulle speelstyl. Hulle is nie kreatief genoeg nie, sê ons. Hulle speel verbeeldingloos en patroongebonde, en tog verheerlik ons verbeeldingloosheid op soveel maniere. (250)

Die Springbokke speel nie as ’n eenheid saam nie, sê ons ook (...) Hoe verenig is ons, die mense van hierdie land? Is ons en die Springbokke op ’n manier nie dalk spieëlbeelde van mekaar nie? (251)

In die lig hiervan is dit vir Snyman ’n bemoediging en troos dat hy tydens sy “rugbyreis” mense teëkom wat wel daarin slaag om ’n drumpel in hulle gemoed oor te steek, die nuwe wêreld te omarm en hulle met kreatiwiteit en oorspronklikheid in daardie wêreld uit te leef. Mense soos Trevor Nyakana en sy gesin (sy pa, Norman, sy stiefma, Agnes, en sy susters, Abigail en Rhulani); Siphiwe Gxadushe; Rudi “Vleis” Visagie; “Frik du Preez” en Tilla Hechter van Marble Hall.

Dit is besonder gepas dat Snyman, terug by sy huis in Jacobsbaai, sy reisverslag afsluit met ’n siek hond wat sy hand vertroostend lek en die gousblomme wat geel in die blom staan, al is dit winter. Bittersoet, net soos die reis agter hoop aan!

Foto van Dana Snyman: verskaf

The post <em>Op pad</em>: Snyman se groot trek deur die ruimtes tussen mense appeared first on LitNet.

Die Afrikaners: ’n onderhoud met Hermann Giliomee oor die boek en die kykNET-reeks

$
0
0

Die Afrikaners
Hermann Giliomee

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624071075

Hermann Giliomee gesels met Naomi Meyer oor Die Afrikaners, sy boek wat nou bygewerk is vir ’n kykNET dokumentêre reeks.

Die Afrikaners (die boek) is nou op TV en dis verkort - dog dit is aangevul. Sal jy asseblief vertel hoe mens weet wat om te snoei, en ook wat bygewerk moes word?

As jy vir die TV skryf, sny jy dit wat nie visueel aangebied kan word nie, jy werk by wat gebeur het sedert jy die boek geskryf het. Die heel eerste uitgawe van my boek oor die Afrikaners het in 2003 verskyn.

Historici raak dikwels so verlief op die onderwerp waaraan hulle werk dat hulle verlei word om alles wat hulle daaroor vind in die skryfstuk op te neem. Die belangrikste ding van enige boek is wat jy uitlaat om die boek meer verteerbaar te maak en wat jy insit om dit boeiender te maak.

Hoe skryf mens ’n boek vir die TV? Wat is anders aan mens se teks?

As ’n mens boek of artikel vir die TV skryf, dink jy nie aan ’n leser, wat die tyd het om ’n paragraaf of ’n bladsy te lees en te herlees met die doel om die gegewe behoorlik te verstaan nie. Jy dink aan ’n TV-kyker wat oombliklik moet verstaan en die nodige agtergrond wil hê om dit wat op die skerm verskyn te begryp.

Die term Afrikaner is minder gelaai as vantevore, omdat die Afrikaners as groep finaal die mag verloor het en geen vooruitsig het om dit te herwin nie. Swart mense kyk wel deeglik na die wyse waarop die Afrikaners in die 20ste eeu georganiseer het en ’n deel van die stadsekonomie verower het. Die Afrikaners het nie politieke mag gebruik om die Engelse maatskappye te dwing om ’n deel van die ekonomiese koek aan hulle af te staan nie. Hulle moes hulself as entrepreneurs bewys. Dieselfde geld vir die akademici. Gehalte was en bly deurslaggewend om in die akademie uit te styg. Die Engelse as die dominante kultuurgroep in die vorige eeu het die Afrikaners ’n groot guns bewys deur hulle nie te probeer “bemagtig” nie soos wat die beleid van “bevolkingsverteenwoordiging” probeer doen nie.

Ons leef in ’n land waar mense te bang is om te praat, want elke onderwerp is ’n politieke slagveld. Hoe ervaar mense (landwyd) ’n term soos Afrikaner? Is die Afrikaners noodwendig die mense wat Afrikaans praat, of hoe definieer mens die Afrikaner?

Ek dink almal is so onseker oor hul identiteit in hierdie verwarde nasie van ons dat iemand wat hom of haar ’n Afrikaner noem, waarskynlik belangstelling eerder as afkeer sal wek. Miskien word die herontdekking van ’n bepaalde groepsidentiteit die nuwe normaal in die land.

Waar begin ’n storie? In hierdie boek begin die Afrikaners se verhaal by die VOC. Maar hoe gemaak met die ander tale wat invloed gehad het op Afrikaans, die tale wat hier was voordat die Nederlanders voet aan wal gesit het?

My TV-reeks gaan nie oor mense wat vroeg al Afrikaans gepraat het nie, maar oor ’n gemeenskap van oorwegend wit mense wat eers Hollands en later Afrikaans gepraat het. Die term Afrikaners om te verwys na ’n sogenaamd eksklusiewe wit, konserwatiewe groep het eers in die 1940’s beslag gekry, maar teen die 1970’s het die definisie weer oop begin raak, veral onder die invloed van die skrywers. Ek dink daar is ’n TV-reeks te maak oor die geskiedenis van die bruin Afrikaanse mense. Ek het ’n boek oor hulle geskryf met die titel Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap (2007).

Vir my was ’n Afrikaner nog altyd iemand wat hom met die Afrikaners vereenselwig en Afrikaans kon praat.

Waar begin die Afrikaner-storie?

Daar was heelwat interaksie tussen mense van verskillende groepe voor 1652, maar ons het geen verslag van wat hulle gesê het en hoe hulle hul politieke geskille gehanteer het nie. Ek begin dus die verhaal met die eerste konflikte tussen burgers van Europese afkoms, wat nasate gehad het wat hulle later Afrikaners genoem het, en ’n regering wat redelik onsimpatiek teenoor hulle was – baie dieselfde as vandag.

Hermann Giliomee (foto: verskaf)

Is die term Afrikaner gelaai weens die taal? Is die taal gelaai weens die mens, die Afrikaner self?

Omtrent alle tale is gelaai. Ons kan begin met Engels en Duits. Omdat hulle vandag polities magtig en ekonomies suksesvol is, word hul verlede nie teen hulle gehou nie. Die Duitsers het oor en oor verskoning gevra, maar die Engelse (as die sentrale deel van die Britse nasie) eintlik nooit nie.

Engels as internasionale taal het by wyse van spreke ander tale gevange geneem. Ek het op aanbeveling van JM Coetzee Anna Wierzbicka se Imprisoned in English: The hazards of English as a default language (2014) gelees. Sy is ’n Pools-Australiese vrou. Sy aanvaar dat Engels in die Weste die dominante taal op baie vlakke geword het, maar wys daarop dat ons die prisoniers geword het van kultuurspesifieke Engelse konsepte. Dink byvoorbeeld aan die verskil tussen woorde soos “citizen” en “burger”, en “subject” en “onderdaan”, en die wyse waarop nie-Britte of nie-Amerikaners hulle gebruik.

Is alle Afrikaners gemaklik daarmee om hulself as Afrikaners te beskryf? Indien nie, waarom dink jy is dit so?

Ek dink die term Afrikaner is vandag veel minder gelaai as 30 of 40 jaar gelede. Ek sê dit met die ervaring van iemand met ’n sterk Afrikaanse aksent wat in die tweede helfte van my loopbaan by ’n Engelse universiteit gewerk het. Gedurende die tagtigerjare het die getalle van swart studente in my klasse oor die Suid-Afrikaanse politiek sterk gegroei en later die meerderheid gevorm. Ek altyd ’n kursus begin met die woorde: “From my accent you would detect where I come from. Any questions?”

Vertel my van die Afrikaner se rol in "regverdige rasse-apartheid"? En of daar werklik so iets bestaan het.

Apartheid as konsep het eintlik in die dertigerjare in NG Sendingkerk ontwikkel. Toe het aparte gemeentes, kerke en skole al bestaan. Die NG Sendingkerk was ’n instelling wat begin het om die ideologie van apartheid te formuleer. Die NG Moederkerk het gou gevolg. Die uitgangspunt was dat segregasie as beleid net negatief is en die sin het van afskei en wegstoot. Apartheid moes egter vir iets positiefs staan; dit moes gaan oor die ontwikkeling van die “eie”, en daarmee is bedoel eie dorpe en eie stadsrade en ’n eie kamer in die parlement.

Dink jy die Afrikaner as nasie kan op enige manier vergelyk word met ander nasies in ander omstandighede? Duitsers, Amerikaners tydens verkiesingsveldtogte ... Sien jy raakpunte soos vrees, en verskille?

Donald Trump het laas jaar sy verkiesingsveldtog gevoer soos ons politici tussen 1910 en 1994. Miskien selfs erger.

Watter ontdekkings het jy gemaak toe jy die boek geskryf het, en ook nou, toe jy dit bygewerk het?

In watter diep ellendes die Afrikaners kan verval en watter merkwaardige herstelvermoë hulle aan die dag gelê het. Ook die “turning points when history did not turn”. Soos Margaret Thatcher wat vroeg in 1989 vir Pik Botha in die geheim Londen toe ontbied het met die voorstel van ’n Marshall-plan vir suidelike Afrika wat sy en die Duitse leier Helmuth Kohl wou aanpak op voorwaarde dat Nelson Mandela vrygelaat word en ’n ordelike verkiesing gehou word. As dit uitgewerk het, kon Suid-Afrika dalk by die Europese gemeenskap betrek word op dieselfde manier as Griekeland, Portugal en Spanje, wat destyds nie die demokratiese legitimiteit van vandag gehad het nie. Ons sou ontwikkelingshulp kry op voorwaarde dat ons sekere demokratiese standaarde handhaaf.

Wie is jou ideale leser? Of jou ideale kyker? En wie wil jy hê moet weet van hierdie groep mense, en wat moet hulle sien?

Alle mense wat wil weet hoe die Afrikaners gevorm is en wat graag wil hê hulle moet weer politieke selfvertroue ontwikkel.

The post <em>Die Afrikaners</em>: ’n onderhoud met Hermann Giliomee oor die boek en die kykNET-reeks appeared first on LitNet.

Rian – 16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n lesersindruk

$
0
0

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie
Rian van Heerden

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081104

Van Rian van Heerden se loopbaan weet ek nie veel nie. Ek volg dit nie intensief nie. Ek weet hy is veral bekend as radio-omroeper, maar die soort musiek wat die stasies speel waar hy uitsaai, is nie die soort musiek wat my geval nie. Van sy televisiewerk weet ek ’n lekseltjie meer, en het van die produksies geniet waar hy aangebied het. Ek onthou ek het een keer in die Medi-Clinic in Bloemfontein vir Rian by my verby sien stap. Maar al wanneer ek eintlik van hom hoor, is wanneer daar ’n mediastorm uitbreek oor iets wat hy nou weer op die radio gesê het, en wat die volk se moermeter die hoogte laat inskiet. Soos die laaste keer in 2016, toe hy die sedebewakers so kwaad gehad het oor sy uitlatings in verband met gode en homoseksuele mense.

So hoekom dan sy boek koop en lees? Dit is juis die feit dat Rian so uitgesproke is oor wie hy is, en die debatte wat hy al ontketen het, en die grense wat verskuif is wat maak dat ek hom bewonder. En in 16 dinge word dit alles bespreek en gekontekstualiseer, natuurlik vanuit Van Heerden se oogpunt. Die boek is nie ’n outobiografie soos wat sommige mense dit beskryf nie. Dit is ’n boek wat fokus op Van Heerden se openbare lewe, veral sy werk as radio-omroeper. Daar word vlugtig gekyk na sy grootwordjare, maar die meeste besonderhede daarvan word uitgelaat, “want wie is dan nou werklik geïnteresseerd in die grootwordjare van enigiemand?” (14).

Van Heerden skets gelukkige grootwordjare. Die gesin het heelwat rondgetrek, maar uiteindelik in ’n “avo-groen” huis in Randfontein gewoon. Hy beskryf dan sy eerste TV-verskyning. Hy was in daardie jare baie “regs”, en ’n bewonderaar van die Afrikaner Weerstandsbeweging, beter bekend as die AWB, toe hy tydens ’n debat op TV vir die destydse president FW de Klerk gevra het hoe die president die Afrikaners se identiteit gaan beskerm indien die nasionale simbole soos die volkslied en vlag verwyder gaan word. Die president het die vraag omseil, en Van Heerden is terug na sy ouerhuis, en die volgende was die eerste klagte oor hom, hoe durf hy só praat met die president!

Rian wat dinge op openbare platforms sê en dan ’n stroom kritiek ontvang, sou uiteindelik ’n patroon in sy loopbaan word.

Van Heerden wou aanvanklik ’n politikus word en het besluit om in die regte te studeer aan die Universiteit van Pretoria (oftewel Tukkies, na aanleiding van dié instelling se ou naam, Transvaalse Universiteitskollege), want hy het opgemerk dat baie van die bekende politici regte studeer het. Dit is by Tukkies dat sy loopbaan in die uitsaaiwese begin het, naamlik by die kampus se radiostasie genaamd TUKS FM. Later het hy ook ’n nagklub bestuur, was hy die stadionaankondiger by Loftus Versveld en het hy uiteindelik by Punt Radio gewerk. Hoewel hy as prokureur gekwalifiseer het, het hy nie op die lange duur ’n loopbaan vir homself as prokureur gesien nie.

Later het Van Heerden ook uitgesaai by ’n bekende Vrystaatse radiostasie in Bloemfontein. Hy skryf in gloeiende terme van Bloemfontein dat dit “sonder twyfel die lekkerste plek was waar ek ooit gebly het” (174). Ek onthou Van Heerden se tyd in Bloemfontein goed, want sy uitsendings van die middagprogram Mumbo jumbo het ook geweldige reaksie onder die publiek uitgelok, en daar was heelwat behoudende mense wat hom wou af hê van die radiogolwe, veral toe hy begin om spirituele mediums op die radio in te span. Uiteindelik sou hy teruggekeer na Pretoria, waar hy by Jacaranda FM sou aansluit.

Van Heerden skryf roerend oor sy pad as homoseksuele man. Hoe hy geworstel het met die wete. Hoe hy op ’n jong ouderdom reeds geweet het en nooit enige verhoudings gehad het soos “normale” heteroseksuele mense nie, omdat homoseksualiteit onaanvaarbaar was in die gemeenskap se oë. Hoe sy ouers dit aanvaar het toe hy aan hulle erken hy is homoseksueel. En hoe die gemeente waar hy lidmaat geword het, hom uiteindelik ook aanvaar het, maar dat hy steeds kerkloos is weens die kerk se beleid ten opsigte van gay mense. En daar was ook die sware tyd toe hy ’n onaangename opmerking op radio oor die Nuwe Hoop Skool gemaak het. Oor dié insident skryf Van Heerden dat hy ’n dure les geleer het oor die krag van woorde.

Stories van vermaak. Stories van hartseer. Stories van hoop. Die lief en leed van Rian van Heerden se openbare lewe het selfs my verwagtinge ’n bietjie oortref. Ek het lanklaas so ’n lekker boek gelees. Die laaste hoofstuk vertel hoe hy en sy radiokollegas water versprei het gedurende die onlangse groot droogte wat in Suid-Afrika gewoed het. Dit skets die geweldige krag van radio, en hoe Suid-Afrikaners kan saamwerk as hulle wil. As hulle maar net wil. En hy sluit af met ’n waarskuwing: ons praat te min met mekaar. Verskillende groepe en verskillende mense moet mekaar beter leer ken, so nie gaan ons nog baie sukkel in Suid-Afrika.

Foto van Rian: Hanneri de Wet

The post <i>Rian – 16 dinge wat ek nié moes sê nie</i> deur Rian van Heerden: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Press release: Call for entries – City Press-Tafelberg Nonfiction Award

$
0
0

The City Press-Tafelberg Nonfiction Award is now open for entries.

New and established writers are invited to submit proposals for the City Press-Tafelberg Nonfiction Award, South Africa’s largest award for the development of nonfiction manuscripts for publication. The award is made every two years, with a prize of R120 000.

The winning manuscript will be published by Tafelberg, an imprint of NB Publishers, a leading publishing house in South Africa, in partnership with prominent weekly newspaper City Press.

With the award, we seek to encourage the nonfiction that interprets and portrays South African realities in a ground-breaking, refreshing, thought-provoking way. The aim is to fund the research and writing of an original work of nonfiction on a subject of importance in the South African context, irrespective of genre. The award is for English manuscripts only.

Previous winners of the City Press-Tafelberg Nonfiction Award include Democracy and delusion by Sizwe Mpofu-Walsh, Gang Town by Don Pinnock and Postmortem: The doctor who walked away by Maria Phalime.

The closing date for entries is 30 June 2018.

The criteria for submissions/entries are:

  • Relevance: The book should add to our understanding of South African society, history and/or politics.
  • Independence: The author must be unafraid to investigate sensitive or difficult issues.
  • Credibility: Research and information should be of an impeccable standard.
  • Readability: The book should be accessible, with quality writing.

Your submission should please include the following:

  • One page motivation on the relevance of the proposed book.
  • Draft table of contents.
  • One or more chapters, but a minimum of 4 000 words.
  • Your Author CV.

Proposals must be submitted electronically. To download an entry form, go to http://nb.co.za/Citypress.

"The City Press-Tafelberg Nonfiction Award is the preeminent opportunity in nonfiction writing in South Africa. I would encourage any author serious about pursuing a future work to apply." – Sizwe Mpofu-Walsh

"City Press and Tafelberg want to support South African voices – the fresh, informative, provocative, insightful. I hope anyone who wants to take their chance to speak will submit an entry." – Kristin Paremoer

For more information contact:

Kristin Paremoer
Tafelberg Nonfiction
021 406 3393
kristin@nb.co.za

 

The post Press release: Call for entries – City Press-Tafelberg Nonfiction Award appeared first on LitNet.


Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

$
0
0

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G du Plessis

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082521

Reeds van kleins af is Daan geleer dat daar sekere dinge is waaraan ’n man nie torring nie. Jy aanvaar bloot die sigwaarde daarvan omdat dit is soos dit is. Maar soos Daan ouer word, word die plek en ruimte waarin hy van kindsbeen af veilig en geborge gevoel het, bedreig. Sy magsposisie is hom ontneem, hy voel nie meer veilig op sy plaas nie, daar is groot fout met sy seun Jan-Willem en gevolglik geen vooruitsig op ’n erfgenaam of nageslag nie. Verder moet Daan gewoond raak aan ’n nuwe bedeling met kragonderbrekings, swak dienslewering, misdaad en gruwelike plaasmoorde. Oortreders stap helder oordag in strate rond sonder dat iemand hulle hinder, terwyl hy onskuldig en as ondergeskikte in ’n vuil, oorvol tronksel opgesluit word. Tog is daar ’n baie groter rede as die gewone irritasies van die nuwe Suid-Afrika wat Daan se rus en vrede versteur. Hy versteek sy ware self omdat dit nie inpas by die tradisionele manlike beeld wat juis sy identiteit tot nou toe onderlê het nie. Daarsonder is hy niks nie en nou word hy ook nog op ander terreine ontman: sy posisie as patriarg word uitgedaag, allerhande oumenskwale treiter hom, sy geheue is ook nie meer wat dit moet wees nie. Selfs sy seun kan nie meer vertrou word om die erwe van die vaders aan sy blonde blouoog kleinseun oor te dra wanneer dié eendag gebore word nie. Skielik is Daan, stoere Afrikanerboer en Dopper sedert geboorte, nie meer so seker wie en wat hy is nie, maar hy bly soek na daardie pilare wat hom aanvaarbaar in die gemeenskap gemaak het en nog altyd vir sekuriteit en dus ewewig gesorg het. Hy klou vas aan bekende sekerhede soos sy plaas, Bybel, kerk, waardes, tradisies en rituele om weer sin aan sy lewe te gee. Hy probeer sy manwees opnuut bevestig deur ’n voorskrif vir ietsie sterker as Viagra, doen inkopies by die plaaslike weduweeklub, gaan Sondag na Sondag getrou kerk toe, lees sy Bybel met nuwe ywer, maar al waarmee dit hom laat is ’n byna ondraaglike skuldlas. Uiteindelik verloor Daan sy ewewig en stort ineen. Jan-Willem gaan laai sy pa by ’n daoïstiese monnikeklooster in China af sodat hy “die weg” daar kan vind.

Aanvanklik wil Daan niks weet van dié volksvreemde instelling nie, maar hy sien ook geen lig in die eindelose donkerte waarin hy besig is om al hoe dieper weg te sak nie. Hier, in ’n gestroopte halfdonker sel, op ’n horrelpootstoel en by ’n onstabiele tafel, besluit Daan om sake in eie hande te neem: hy sal sy persoonlike Historia, as bevestiging van eie identiteit, opteken. Sekerhede uit die geskiedenis wat hom lewenslank op koers gehou het, sal weer sorg dat hy sy voete vind. Maar hóé hard Daan ook al probeer, dit blyk ’n futiele oefening te wees. Eers wanneer hy weg van die verlede na die toekoms kyk, besef Daan dat die pad wat agter hom lê, toe nie die enigste ware weg is nie. Geskiedskrywing word ’n lewensreis tot selfontdekking en Daan stel homself oop vir nuwe idees.

Hy begin sy lewe sien as ’n klein onderdeel van ’n groter geheel en leer ingevolge daoïstiese leerstellings dat die enigste sinvolle handelinge dié is wat in ooreenstemming met die gang van die natuur is. Sodanige handelinge impliseer dat idees of ideologieë wat mag lei tot te veel selfgeldende optrede of oordrewe toewyding aan ’n taak om wêreldse doelwitte te bereik, vermy moet word. Geweld en aggressie is die gevolg van onnatuurlike selfgeldende optrede, nie alleen in die groter opset nie, maar ook binne die individu self, met die gevolg dat sin en betekenis verlore gaan. Die weg van die natuur fokus op die spontane en eenvoudige. In plaas daarvan om krag te put uit die praktiese uitoefening van rituele en tradisies moet daar eerder gestrewe word na selfkennis, want alleen dan sal die individu se lewe sinvol wees. Die kernelement van Tái chi ch’üan as niereligieuse meditasie en spirituele praktyk is die aanleer van ’n metode tot selfkennis en -ontdekking sodat die betrokkene in kontak met homself en sy plek in die breër kosmos kan kom. Wanneer opponerende kragte op persoonlike vlak binne-in ’n individu geïdentifiseer is, word studente geleer om nie brute krag te gebruik om een van hierdie kragte te onderdruk of weerstand daarteen te bied nie, want in sodanige geval sal die uitkoms sonder uitsondering negatief wees. Die individu moet eerder met piëteit en sensitiwiteit die probleem aanspreek, want die weerlose “self” moet beskerm word. Daan leer dat hy die twee strydende magte binne-in homself, naamlik dit wat hy is en dit wat hy nog altyd probeer het om te wees (jin en jang) in balans moet bring. Selfkennis alleen is nie genoeg nie: daar moet ook eie aanvaarding en vergifnis wees; die stryd tussen goed en kwaad moet bygelê word; jin en jang moet in balans wees. Vir Daan beteken dit vergifnis, nie alleen van homself nie, maar ook deur sy vrou.

Kommunikasie, taal en woorde neem ’n belangrike plek in die roman in. Daan verstaan uiteindelik waarom Magrieta op sy vyftigste verjaarsdag vir hom ’n vulpen gegee het. Sy het veel meer begrip vir sy situasie gehad as wat hy ooit bereid was om te erken. Selfs nou, na haar dood, kan Daan steeds nie met haar kommunikeer nie, maar hy kan haar ook nie laat gaan nie. Hy is afhanklik van Magrieta, wat hy op soveel terreine te na gekom het, se vergifnis. Daarom probeer hy haar op verskeie maniere lewend hou: hy skryf briewe hemel toe en hoop dat sy iewers ’n leesbril te lene sal kry; hy praat snags met haar en gebruik ’n oormaat Latynse aanhalings in gewone gesprekke, want, sê Daan, wanneer ’n mens in ’n taal kommunikeer wat reeds uitgesterf het, wek jy dit tot nuwe lewe. Hier in die “Tempel van Ewige Vrede” ontdek hy die helende krag van woorde, verstaan hy waarom dit haar regop gehou het terwyl sy as gevolg van sy onbegrip vir haar behoeftes al hoe meer vereensaam het op sy dorre plaas in die Karoo met sy versengende hitte. Hy begin dit regkry om deur middel van woorde op papier stem aan die onsêbare te gee en vind heling.

Daan se eerste treë op “die weg” begin so ver terug as wat hy kan onthou. Hy stap getrou op eie voetspoor, verkry insig in sy foute en tekortkominge, alhoewel hy aanvanklik probeer om homself te oortuig dat hy ’n goeie landsburger en lid van sy kollektiewe groep was, ’n “ware Van der Walt van die plaas, Ystervarkfontein”. Hy delf diep in klassieke mitologiese verhale om vir hom te sê wat hy nog altyd geweet het. Daan begin wonder of hy nie maar nog altyd ’n kaartman aan ’n tou was nie (256). Hy leer dat waardesisteme, rituele, tradisies en religie wel ’n individu se kollektiewe identiteit bepaal, maar nie tot selfkennis, so noodsaaklik vir ’n sinvolle lewe, lei nie. Hy mag die stowwerige kombers van kollektiewe identiteit en die voorskrifte van die Dordtse Leerreëls en Gereformeerde Dogmatiek van sy skouers afgooi en homself verlos van versmorende skuldgevoelens, mensgemaakte wette en voorskrifte. So al skrywend begin Daan om sy leë bestaan met nuwe betekenis te vul. Hy leer dat ’n individu nooit te oud is om homself te aanvaar en te vergewe ten einde sy ware weg hier op aarde te vind nie. Kaalvoet is Daan Duiwelspiek oor, nou kan sy nuwe lewe begin.

Sonder om afbreuk te doen aan die verdienstelikheid van die roman, moet ek tog op ’n paar haakplekke wys. Dikwels swig skrywers, veral in debuutwerke, voor die versoeking om té veel stof aan te bied. Daar is net eenvoudig té veel in die roman. So byvoorbeeld vertel Daan vir Magrieta stories was sy duidelik behoort te ken uit hoofde van haar Latynse agtergrond en kennis van Engelse letterkunde. Ander opsies om hierdie inligting aan lesers oor te dra moes eerder ondersoek word indien die skrywer van mening was dat dit onontbeerlik is om die storie vorentoe te neem. Verder kry ’n mens die gevoel dat die skrywer nie sy lesers genoeg vertrou om tematies korrekte afleidings te maak nie. Op bl 218 verwys Daan byvoorbeeld na die storie van Gilgamesj wat “vir die dood kwesbaar gemaak moes word en op ’n lang reis moes gaan, die dieptes moes aanskou voor hy nederigheid geleer het”. En verder: “’n Verhaal wat ons sekerhede uitdaag, die rigiede grense tussen goed en kwaad bevraagteken, ’n soeke na balans.”

Die groot aantal metafore, vergelykings en vreemde woorde, veral in die begin van die roman (gluip, kanoeters, blaaskakerig, kleppermanspoëet, knittelryme) is nie altyd funksioneel nie en doen eintlik afbreuk aan die ander plekke waar hierdie stylfigure juis op meesterlike wyse aangewend is. Dit is juis onderspeelde metafore wat nie so voor die hand liggend is nie waarin ware trefkrag lê. Vergelyk byvoorbeeld die horrelpootstoel, lendelam tafel en half donker sel waarin Daan sit by die “Tempel van Ewige Vrede”, die oog van sy bokke wat hom gedurig dophou, Elsie met haar dubbelduimpie wat sy altyd wegsteek, die analogie tussen hogere letterkunde en Gereformeerde dogmatiek, die draaiende vliegtuigie bo Jan-Willem se bed, Daan wat as baba piepie oor die Heilige boeke in die konsistorie van die plaaslike gemeente en die feit dat beide Daan en dominee Flip lief is vir soetgoed.

Ander uitdrukkings is van die mooistes in Afrikaans, soos “Die nag spat aan skerwe” (98); “My somer het verflenter” (91); “Uitgeteer soos ’n lokasiebrak” (222); “Almal weet ’n getjie-tjie agter ’n bakhand is soos ’n wegholvuur” (185); en “Soos ’n koringkorrel in ’n graanmeul raak ek benoud” (255). Beskrywings van die liefde van ’n pa vir sy kind en veral die gedeelte waar Daan vir oulaas spore op sy plaas loop nadat dit verkoop is: “Ek het aanskou hoe my diere in trokke oor die paaie van my hart weggery word” (185) staan uit.

Lodewyk G du Plessis swem gemaklik saam met ander skrywers wat onlangs manlike identiteit en seksualiteit in Afrikaans ondersoek het (Eben Venter, Groen soos die hemel daarbo en SP Naudé, Die derde spoel). Die dao van Daan van der Walt voeg ’n ander dimensie by deurdat dit spesifiek fokus op ’n ouer Afrikaner-man vir wie dit as gevolg van institusionele handhawing van kollektiewe identiteit nooit voorheen nodig was om eie identiteit te bevraagteken nie. Die roman lewer op verskillende vlakke ’n bydrae tot die debat en verdien ’n plek op elke leser se boekrak. Op ’n manier is almal maar slagoffers van mensgemaakte wette en hierdie roman laat ’n mens met sagter oë na ander rondom jou kyk.

Marietjie Lambrechts
Navorsingsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Junie 2018

The post <i>Die dao van Daan van der Walt</i> deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.

You have to be gay to know God by Siya Khumalo: book launch

Die ou vrou en die priester deur Cecile Cilliers: ’n resensie

$
0
0

Hierdie resensie het oorspronklik op die 14de Maart 2018 verskyn.

Die ou vrou en die priester
Cecile Cilliers
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798176996

“Sy naam moes nooit Kevin gewees het nie. Ek wou hom James noem.”

Ontredderd, verslae en aangrypend. Hierdie kortverhaal, “Erica”, in Cecile Cilliers se bundel gee die toonaard van die versameling.

Tog, ook onverwags duik daar ’n erotiese verhaal op; ’n lagwekkende maar dieper beskrywing van die twee kaalgatswemmers; en dan weer ’n asem-ophou beskrywing van ’n goue hings wat sy kop ruk, op sy agterpote steier, oë gesper. Om dan skielik stil te word – en die nuwe lewe wat hy moet lei, fier tegemoet gaan.

Veel gewag word gemaak van die sg ouderdom in Cilliers se versameling. Immers het sy dit op 84 geskryf. Maar dis ’n fout om verhale van verweer, verdriet, verslaenheid – kenmerke van die ouderdom – te verwag. Daarvoor is Cilliers te veel van ’n woordskilder, ’n eerlike ondersoeker na die twyfel, woede, oneerlikheid van ’n bestaan.

Sokrates het beweer: die onondersoekte lewe is nie die moeite werd om te leef nie. Cilliers gee antwoord.

Baie verwysings na geloof – woorde soos “Skepper” byvoorbeeld – bevestig dat hier ’n gelowige aan die woord is met geen bedoelings om die leser ongemaklik of aangespreek te laat voel nie.

Inteendeel, die leser sal veral die satiriese slot van die titelverhaal heuglik geniet. Die innige, krapperige en eindelik woedende breuk word ’n heerlike oorwinning in die regop skouers van die dowe godsman.

Cilliers het nie die skerpheid van ’n Annie Proulx nie, maar wel die amper tasbare beskrywing van mens, dier, omgewing. Die eenvoud van woorde wat Proulx het, het Cilliers ook, daarom laat haar werk met sy heel ander toonaard as Proulx s’n my tog die twee vergelyk.

Soms wil-wil die leser te veel woorde, te veel verduideliking lees, maar soos die goeie kortverhaal eis, besweer die slot van elke storie die soms omslagtige aanloop daarna.

Terwyl “Brood” aan die hart rem, sal “Herrnhut” op ’n ander vlak die leser aangryp. “Die fox fur” roep ’n sinnelike-hartseer op en “Die verloofring” eindig soos dit moet – anders as wat die leser verwag.

Die omslag is treffend – ’n skildery deur Robert Hodgins: A woman of the twenties. Pers, sag, versluierd, onverwags.

Nogal ’n debuut vir ’n 84-jarige, hierdie 14 verhale oor die lewe van meestal die enkeling.

The post <em>Die ou vrou en die priester</em> deur Cecile Cilliers: ’n resensie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sielskos deur Koos van der Merwe

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Koos van der Merwe

Koos van der Merwe het bekendheid verwerf as deel van die groep Prophet met die treffer "Houtkruis". Koos is ook ’n predikant, filosoof en woordkunstenaar. Onlangs het hy ook Leonard Cohen en toe Bob Dylan in Afrikaans vertaal en gesing. Hy het vir 15 jaar Sarie se "Laaste sê"-rubriek hanteer.

Foto: verskaf


Opsomming

Sielskos: Stories oor verlange en hoop
Koos van der Merwe

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320995

Hierdie bundel is saamgestel uit hoogtepunte van die laaste 15 jaar se "Laaste sê"-rubrieke deur Koos van der Merwe in Sarie. Koos weef meesterlik met woorde en het die vermoë om diep betekenis uit alledaagse situasies te haal. Koos vertel van mense, en hulle soeke na hoop, maar ook ons almal se verlange na die Een wat ons nooit sal laat gaan nie.


Uittreksel

Verlang

daar lê lang en somber wense
in die afstand tussen mense
ver lê eendag
hier lê nou
tussenin lê berge blou
met die hartseer tussen daar en hier
bly die mens ’n kuddedier

Geleende tyd

Dit gebeur so dikwels. Jou lewe raak besig. Jou lewe gaan al hoe meer net oor jou eie werk, jou eie huis, eie kinders en vrou. Daar is geen kwade gevoelens tussen jou en jou broers en susters nie. Die lewe het maar net sy gang gegaan. Julle is dekades reeds nie meer kinders nie. Sien mekaar darem nou en dan by ’n troue of ’n begrafnis. Belowe om te bel. Ons moet kuier. En dan gaan maande en jare weer verby.

Abel is suksesvol. En besig. Daar is so ’n effense ongemaklikheid in sy binneste. Dis eintlik seker nie reg dat hy en sy broers so min praat nie. Maar wat kan hy nou eintlik daaraan doen? Sedert sy ouers se egskeiding is dit nou maar die situasie. Daar is nie meer ’n gemeenskaplike huis nie. Dis of die boom sy penwortel verloor het. Hy aanvaar dit maar as ’n deel van die hartseer van die lewe waarvoor hy nie verantwoordelik is nie en waaraan hy nie regtig iets kan doen nie. Ten minste praat hy dikwels met sy dierbare ou moeder en bly op die hoogte van die belangrikste familienuus.

Maar soms dink hy terug aan hoe dit was. Hul kinderdae lê ver terug. Die visvangdae. Die sokkerspeel op die sypaadjie. Die baklei met mekaar, maar die onverbiddelike eenheid as enigiemand van buite dit durf waag om sy hande teen een van hulle te lig. Maar veral die visvang. Hoe sou dit wees as die boeties dit weer saam kon doen? Maar voor die hunkering hom te hartseer stem, gee hy eerder sy gedagtes aan dít wat sy lewe nou van hom vereis. Dit help tog nie om te probeer veg teen die realiteite van die lewe nie.

Drie jaar gelede het Abel die nuus gekry. Faan is siek. Hy was saam met sy ma hospitaal toe. In die hospitaal kom die hunkering weer. Hoe wens hy nie die lewe was anders nie. Maar meer as duisend kilometer skei hulle van mekaar. En ook meer as veertig jaar van hoe die lewe met hulle gemaak het. ’n Paar weke later kry hy die nuus. Die breingewas is nie kwaadaardig nie, maar dokters kan dit nie heeltemal verwyder nie. Die nuus is goed én sleg. Daar is nog tyd. Maar die gewas sal groei en die tyd wat daar nog is, is geleende tyd.

Terug in sy besige lewe vervaag die besluit dat hy moet werk maak en meer met Faan gesels. Dis of die siekte dit nog moeiliker maak. Hy voel ongemaklik. Weet nie wat om met sy emosies te maak nie. Miskien ook skuldig oor die jare se stilte.

Maar dan begin Faan bel. Elke week. Sy spraak is effens anders, maar hy is nog steeds so skerpsinnig soos voorheen. Maar sagter en ernstiger. Die geleende tyd doen iets aan Faan. Hy weet die broers het iets om in te haal. En tyd is min. Ná ’n paar weke is die vreemdheid iets van die verlede. Abel kan nie wag dat Faan bel nie. Faan spreek hom ernstig aan. Jy moet jou ander broers bel. Bloed is bloed. Hy maak die eerste tentatiewe oproepe. Soos ’n ware oudste broer vra Faan verslag.

Abel moet vir sake Vrystaat toe. Miskien moet hy twee dae langer bly en die paar honderd ekstra kilometers na Faan se dorpie toe ry. Sal Faan nog in staat wees om vis te vang? Hulle beplan en die weke kan net nie gou genoeg verbygaan nie.

En dan sien die broers mekaar. Hulle is weer waar hulle vroeër jare was. Dis midwinter en die yskoue plaasdam is plek-plek gevries. Maar Abel en Faan sit by ’n plaasdam. Die water is koud, maar hul harte is warm. Die vis byt nie, maar die vangs is baie groter as ’n net vol vis.

Abel ry die lang pad terug. Sy gedagtes is ’n warboel van hartseer en blydskap. Hy wonder hoekom hy so lank gewag het. Maar in die weke wat volg, is daar nie kans vir selfverwyt nie. Die tyd is te kort. Hy en Faan praat elke dag. As die geleende tyd tog net kan hou. Die somer kom. Die plaasdam wag. En skielik is duisende kilometers en ’n paar dekades geen verskoning nie.

Sy wil onthou word

Jy kon haar klein lewetjie se storie sommer op die eerste dag lees. Op haar gesiggie. Die bang oë. Die skurwe hande. Klere wat lank reeds dít geword het waarvoor selfs vierjariges skaam begin kry.

Ander ouers by my sussie se kleuterskool bring die kinders tot by die deur. Kom ons noem haar Emmie. Emmie moet maar by die hek uitklim. Sy is al gewoond dat niemand haar drukkies en soentjies gee nie. Gewoond dat niemand gaan verlang nie. Gewoond om alleen te wees. En bang.

Emmie kyk grond toe. Grootmense se oë maak haar bang. Want waar sy vandaan kom, is grootmense se oë kwaai. Waar sy vandaan kom, is grootmense se oë bloedbelope. Sy kruip weg vir die soort kyk wat haar nie wil raaksien nie. En sy kruip weg vir die asems wat altyd ruik soos die goed wat in die bottel op die tafel is. Nee, sy kyk nie op nie. Daar bo raas en skel dit. Afkyk en wegkyk is beter in Emmie se wêreld.

Sy praat nie baie wanneer sy tussen maatjies kom nie. Eenkant is vir haar veiliger. Naby kom is nie goed nie. Emmie oorleef omdat sy weet om buite trefafstand te bly. Vir maande bly hierdie afkykkind in haar eenkantplek. Speel alleen. Eet alleen. Terwyl ander kindertjies op ouma Breggie se skoot kom sit en hulle verwonder oor die baie plooie onder haar dierbare ou ken en arms sit Emmie onder die boom.

Maar geen kind kan vir altyd die liefde wat wink op die sagte skoot en liefdevolle kyk van ’n ouma vermy nie. Emmie begin opkyk. Skaam en versigtig. ’n Kyk wat vra of sy veilig is. Sy is nie meer elke dag onder die boom in die verste hoek van die tuin nie. Sy loer om die hoek na waar Ouma op haar tuinwoonstel se stoep sit en naaldwerk doen. As Ouma haar roep, hardloop sy weg. Maar môre kom loer sy weer. Effens nader.

Emmie speel steeds alleen. Maar nou nie meer onder die boom nie. Ouma se tuin is nou haar alleenplek. En sy begin al hoe meer opkyk. Haar oë volg die liefdevolle oumens op die stoep. As Ouma ingaan om tee te maak speel Emmie vlak voor die deur. As Ouma uitkom, speel sy weer effens verder. Maar elke dag al hoe nader. Nader aan die vreemde wêreld waar grootmense nie seermaak nie.

My ma ken kinders. Sy het al meer afvlerke in haar nes vertroetel en grootgemaak as wat ons kan tel. Sy weet Emmie is gereed vir haar arms. Emmie speel vlak onder haar oë. Ouma laat val kamma ’n tolletjie gare en maak asof sy sukkel om op te kom om dit op te tel. Emmie tel dit op en gee dit vir Ouma. En op haar kindergesiggie wil-wil dit lyk asof ’n eerste glimlaggie verskyn.

En so begin dit. Die stadige ingang na ’n kinderhart. Emmie kom help met lappies en ouma-goeters. Maar sy is nog buite vat-afstand. Tot op ’n dag. Sy val en skaaf haar knieg. Sonder dat sy dit besef, hardloop sy na Ouma toe. En dan is sy veilig. Op Ouma se skoot. Ouma soen die skaafplek gesond. Vir meer as ’n week kom Emmie elke dag en vertel hoe seer die skaafplek is. En dan soen Ouma. Daar is skaafplekke wat net deur soene gesond gemaak kan word.

Drie jaar later moet Emmie groot skool toe. Sy sit elke dag by die grys tannie en help met dit en dat. In die laaste week draai sy om Ouma. Sy vra ’n skêr en ’n lap. My ma wonder wat in haar kindergedagtes aan die gang is. Emmie sny versigtig ’n lang reep uit die lap wat Ouma vir haar gegee het. En dan bind sy dit aan die tralies voor my ma se deur. Wat maak jy, Emmie? Dis dat Ouma my nie sal vergeet nie. En ou trane rol oor ou wange.

Emmie is amper ’n jaar reeds in die groot skool. En as die motor stilhou om haar boetie te kom haal, spring sy uit. Om my ma te kom druk. En seker te maak die lap is aan die tralie.

Want ons almal wil onthou word …

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Sielskos</i> deur Koos van der Merwe appeared first on LitNet.

Ys deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Ys
Rudie van Rensburg
Uitgewer: Quillerie
ISBN: 9780795801501

Plaaslike boekwinkels se rakke staan deesdae vol van Afrikaanse spanningsverhale met kragtige een-woord titels. Vir diegene wat op soek is na ’n lekkerlees-boek om die stil Sondag-middagure, voor die Carte Blanche-deuntjie begin speel, mee te verwyl, is een grilller seker net so goed soos die ander.

Maar verkies jy ’n intelligente, donker spanningsroman wat jou lank na die laaste bladsy nog effe ongemaklik laat, is Rudie van Rensburg jou man.

Kaptein Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els is terug in Ys, Van Rensburg se jongste spanningsverhaal. Hierdie keer bevind die paar hulle in die Spesiale Spookeenheid (SGU) – die SAPD se nuwe elite-speureenheid. Ondanks die fênsie naam en die belofte aan hoëprofielsake sonder administratiewe rompslomp, bied die SGU (nooit die SS nie, asseblief) nie veel opwinding vir Kassie en sy regterhandman nie.

Met net twee moordsake tussen drie speurspanne, lees hulle intussen maar deur stapels en stapels opleidingsmateriaal. Boonop het Kassie se nuwe bevelvoerder nie veel vertroue in twee oud-stasiespeurders se vaardighede nie.

Wanneer ’n vooraanstaande Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit die ideale geleentheid vir die tweemanskap om hulle speurvernuf te bewys. Op die oog af lyk dit soos ’n rooftog wat skeef geloop het, maar daar is dalk meer as een kinkel in hierdie kabel.

So word Kassie in ’n ingewikkelde komplot gedompel. Hoe steek ’n moord in die Noordpool, ’n politiese gekonkel in Washington, en die geval van ’n voortvlugtige oud-Pollsmoor-gevangene inmekaar? En dan is daar ook nog die geheimsinnige man met Die Drang wat snags deur die Kaap se strate rondsluip. Die intriges loop diep, maar Kaptein Kassie Kasselman laat hom mos nie so maklik afskrik nie.

Ys bevat al die kenmerke van ’n goeie spanningsverhaal. Soos dit die genre betaam, is dit ’n boeiende, aksie-belaaide roman met genoeg onverwagte draaie in die knoop om die leser se aandag tot die einde te behou.

Wat van Ys ’n uitstekende speurverhaal maak, is egter Van Rensburg se vermoë om fyn verwikkelde verhaallyne, komplekse karakters en vlymskerp sosiale kommentaar te verweef in ’n roman wat bloot net lekker is om te lees.

Ys deins nie terug vir groot vraagstukke nie. Die roman ondersoek die interseksie tussen politiese- en omgewingskwessies op ’n manier wat, veral in ’n nuwe, onsekere Trump-era, na genoeg aan die werklikheid voel om die leser onrustig te stem oor die lot van ons wêreld. So ook word die kwessie van huishoudelike geweld met sensitiwiteit en vernuf hanteer.

Boonop wend Van Rensburg ’n prysenswaardige poging aan om in sy moorddadige antagoniste se psiges rond te delf en hulle motiverings en snellers op ’n geloofwaarlike manier uit te beeld – iets wat bitter selde in blitsverkopers te vinde is en dui op diep insig in die kriminele gemoed (of dalk net goeie navorsing).

Kassie Kasselman is een van die mees innemende hoofkarakters wat ek nog in ’n speurverhaal teëgekom het. Met sy onooglik rooi windjekker, hare wat lyk of dit elke oggend deur ’n koei natgelek word en ongesonde Creme Soda en Lucky Strike gewoonte, herinner hy aan Peter Falk se Columbo – oënskynlik onbekwaamd en lomp, maar as’t ware ’n skerpsinnige bobaasspeurder.

Indien jy nog nie met Kassie Kasselman kennis gemaak het nie, wag daar ’n groot bederf op jou. Hy is ook te vinde in Van Rensburg se vyf vroëere spanningsverhale: Slagyster (2013), Kopskoot (2014), Judaskus (2015), Pirana (2016) en Kamikaze (2017). Jy kan hulle almal sommer binge-lees.

The post <em>Ys</em> deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Tot die dood ons skei deur Schalk Schoombie: ’n lesersindruk

$
0
0

Tot die dood ons skei: Mans wat hul vroue vermoor
Schalk Schoombie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172905

Hierdie lesersindruk is uit eie bewewging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

In sy inleiding tot Tot die dood ons skei onthul Schalk Schoombie reeds die hoofargument van sy boek: Wêreldwye geweldsmisdaad teen vroue is grotendeels die resultaat van “’n patriargale sienswyse”. Dit is misdade wat intiem verweef is met ’n magspel. Met ’n ongesonde balans in genderverhoudinge. En, verklaar hy dan ook ten slotte in sy inleiding, dat hy “nou in murg en been ’n feminis” is. Dan volg daar 14 hoofstukke, 14 lang, pynlike hoofstukke. Pynlik, nie omdat dit oninteressant is nie, maar dis ’n lang bloedspoor van geweld. Dit is nie die tipe stof wat jy lees vir ontspanning nie. Die goeie mense wen nie. Dis die een bloederige geval na die ander. ’n Stroom van sinnelose geweld teen vroue, wat soms voel of dit nooit gaan einde kry nie.

Die boek bevat geen hoofstuk wat as ’n slot of samevatting beskryf word nie. In die laaste twee hoofstukke ondersoek Schoombie die tipiese gevaartekens van gewelddadige mans, en hy maak ook voorstelle oor hoe om uit gewelddadige verhoudinge los te breek. Die boek het dus ook ’n nuttige praktiese deel.

Dit is heel gepas dat Schoombie ’n sin uit die trouformulier gebruik as tema van hierdie boek. Want as daar nou al ooit ’n patriargale gebruik was wat genderrolle tipeer, wat die basis van die wanbalans tussen verskillende genders sement, dan is dit nou die troue en die huwelik. Natuurlik het die huwelik ook goeie bedoelinge. Dis ’n kontrak tussen twee partye en dis eintlik veronderstel om mense se regte te beskerm. Wanneer die huwelik werk, werk dit dikwels baie goed, maar die huwelik skep ook verwagtinge by baie; dikwels ongesonde en onrealistiese verwagtinge. Saam met die aanhaling uit die huweliksformulier, plaas Schoombie ook twee aanhalings uit die Bybel. Beide uit die boek Spreuke van die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Die Bybel is natuurlik in eie reg hoogs omstrede waar dit by gender kom, en dit is asof hierdie twee aanhalings uit die Bybel, wat reg aan die begin van hierdie boek geplaas word, nie vir my lekker hier pas nie. Die feit dat die moderne mensdom nog so baie waarde aan die Bybel as ’n boek wat na bewering normatief is heg, dra na my beskeie mening net verder by tot die probleem van geweld teen vroue, aangesien die Bybel die grootste wapen in die hande van die patriargie is. So was dit in die verlede, en dit is vandag nog so. Hoe dikwels sal mens in ’n kerk instap en hoor: "só lyk ’n Bybelse huwelik", "só lyk die lewe van ’n Christenman of -vrou", en selfs "só lyk Bybelse seksualiteit " … Of jy ry daar verby en sien ’n advertensie: Kom woon ons seminaar by, ons besprekinge, ons sal jou uit die Bybel wys hoe ’n gelowige man se lewe moet wees, hoe ’n Christusvrou lyk …

Die kerk en die samelewing het nog lank nie die onderwerp van die Bybel, en hoe die Bybel vandag verstaan en gelees moet word, voldoende uitgepluis nie.

Schalk Schoombie | Foto: verskaf

Daar word baie in hierdie boek geskryf oor die geweld van mans teen vroue. Dit sal, want dis die boek se onderwerp en dit is goed dat dit gedokumenteer word en die verhale moet vertel word. Dis pynlike verhale, en moet daarom juis vertel word. En daar volg wel interessante ontledings oor die patriargie en sielkundige ontleding saam met elke bespreking, maar ek voel die onderwerp van patriargie kon selfs nog meer ontgin geword het. Van die grootste proseliete van patriargale waardes is dikwels self vroue. Vroue tipeer in verhoudinge ook dikwels  mans en mans se rol in die samelewing. En dan is daar die rol van God, godsdiens en die Bybel.

Die onderwerp van misdaad en veral geweldsmisdaad sal altyd belangstelling wek. Miskien is dit vir baie van ons ’n desperate poging om sin te probeer maak van al die sinnelose geweld waarvan ons elke dag hoor en dikwels selfs in ons eie gemeenskappe sien. In Tot die dood ons skei verlang mens amper na ’n lekker ou misdaadfiksie. Dié is ook maar meestal baie bloederig, maar jy weet ten minste die karakters is fiktief en uiteindelik sal die goeie ouens die oorhand kry. Daarteenoor lyk die bloedbad in Tot die dood ons skei na ’n onoorkombare berg, en miskien is dit nie meer genoeg om net met onsself nie, maar met die saak van die bevordering van vroueregte te identifiseer. Miskien het die tyd aangebreek om meer krities met die Bybel om te gaan, en die Bybel as ’n voorbeeld te begin voorhou van hoe dinge nié moet wees in die verhoudinge tussen mense nie. Die mens moet hulle romanse met die Bybel en ook ander godsdienstige boeke soos die Koran begin verwater, en aanvaar dat die verhoudinge wat daarin geskets word, dateer uit ’n baie verre en donker verlede. Dat die mens sedertdien baie ontwikkel het, en dat mens eers die mens in die ander moet raaksien voordat jy die gender van daardie persoon oorweeg. Byna alle godsdienste is patriargaal, en moet drasties hervorm word.

The post <i>Tot die dood ons skei</i> deur Schalk Schoombie: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Hartklop Omnibus 4: ’n oorsig

$
0
0

Hartklop Omnibus 4
Malene Breytenbach, Madeleine Malherbe en Rykie Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084631

Die romantiese verhale in Omnibus 4 speel al drie af teen ’n mediese agtergrond.

Dokter van ver

In Dokter van ver deur Malene Breytenbach ontmoet dr Rafaella Continari die sjarmante dr Giulio di Mareneschi en nooi haar na sy familielandgoed op die Italiaanse platteland. Hier ontmoet sy vir Luigi, Giulio se sjarmante maar opdringerige broer wat dinge ietwat deurmekaarkrap.

Malene Breytenbach, gebore in Port Shepstone, het ná skool haar BA- en BA (Hons)- grade (Engels) aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy het daarna as vertaler gewerk. Sy en haar gesin het in 1985 na Stellenbosch verhuis, waar sy die grade honneurs, magister en DPhil in joernalistiek, MA (Ou Nabye-Oosterse Studie) en MPhil (Antieke Studie) behaal het, van 1990 tot 2008 aan die Universiteit Stellenbosch. In 2005 het sy by LAPA Uitgewers met ’n romanse, Palmyra herleef, gedebuteer. Sedertdien is verskeie van haar romanses (kontemporêr, medies en histories) by LAPA en Tafelberg/NB-Uitgewers gepubliseer. Sy het ook vir Tafelberg romanses onder die skuilnaam Marilyn Bennett geskryf. Sy het ses romans geskryf en verskeie van haar kortverhale het al in tydskrifte en bundels verskyn. Sy en haar man Willie het een dogter en twee kleinkinders.

Yskoue, vuurwarm liefde

In Yskoue, vuurwarm liefde leer ken Sandra Botes vir Brandon, die ekspedisieleier op die vakansieskip waarop sy as skeepsdokter werk. Sy leer ken die aantreklike blondekop Konrad Malan wat op die skip vakansie hou. Die vraag is: wie laat haar hart vinniger klop?

Madeleine Malherbe is die skrywer Eleine Roets se doop- en skuilnaam. Sy is gebore in Pretoria, maar haar kinderjare was in Vanderbijlpark, waar haar pa die Yskorfabriek help stig het. Sy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het tot met haar aftrede in WNNR se biblioteek in Pretoria gewerk. Sy het later jare begin skryf as gevolg van haar liefde vir Afrikaans. ’n Lied vir Chablis verskyn in 2000 by Human & Rousseau.

Dokter Draak

In Dokter Draak kruis Livia Naudé se pad ná vier jaar weer met dié van haar broer se vriend, die broeiende, donker Anton Duvel. ’n Ongeluk stuur hul lewens in ’n ander koers en met die herontmoeting het die eens sorgelose student in Dokter Draak verander.

Rykie Roux is die skuilnaam van Marisa Haasbroek, wat aan die Universiteit van Pretoria studeer het en redakteur van verskeie korporatiewe tydskrifte is. Haar eerste kortverhaal is deur Sarie gepubliseer. Mettertyd beproef sy langer werk en begin romanses skryf. Sy is getroud met die ingenieur Dries Roux en hulle het twee kinders, ’n seun en ’n dogter. Haar jeugverhaal Fairy Dust wen in 2015 die ATKV-Kinderboektoekenning vir graad 8–10.

The post <i>Hartklop Omnibus 4</i>: ’n oorsig appeared first on LitNet.


Keur 17 deur Ena Murray: ’n oorsig

$
0
0

Keur 17
Ena Murray

Uitgewer: Jasmyn
ISBN: 9780624084914

Elsa Winckler is gebore op Loxton in die Karoo, een van drie dogters van die plaaslike geneesheer, dr Mans. Sy het reeds op laerskool begin skryf. Ná skool het sy in Bloemfontein verpleeg. Sy is met Boet Murray getroud en ná hul egskeiding twintig jaar later het sy haar in Wildernis gevestig. Twee jaar later trou sy met Jacques Mostert. Beide huwelike was kinderloos. In 1991 het hulle na die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai getrek. Ná voltooiing van haar eerste twee verhale het sy dit aan Rooi Rose gestuur en dit is as vervolgverhaal gepubliseer. Lisé het in 1960 by JP van der Walt-uitgewers verskyn en was die begin van Ena se lang loopbaan as een van die gewildste skrywers van Afrikaanse ontspanningsverhale. Die glimmende simitar was Ena se heel eerste pennevrug en is geskryf toe sy maar veertien was. Dis eers ’n dekade later gepubliseer!

Ena se resep vir sukses was haar selfdissipline en streng skryfprogram. Haar meer as 130 titels is meestal snags geskryf, en vyftien uur per dag agter die tikmasjien was vir Ena niks vreemds nie. Sy het deeglike navorsing gedoen en meestal vir haar liefdesverhale bekendheid verwerf. Dit het waarskynlik bygedra tot haar sukses dat baie van haar boeke op ware gebeure en regte mense gebaseer was. Lesers kon dus maklik met die karakters vereenselwig. Sy is in ’n opname deur Radio Sonder Grense en Tafelberg-Uitgewers aangewys as die gewildste skrywer in Afrikaans.

In 1996 het Ena haar tikmasjien weggepak, maar haar verhale is in 40 omnibusse gebundel. Reënboog van koraal is vir skole voorgeskryf, terwyl twee van haar boeke, Vrou uit die nag en Plekkie in die son, verfilm is. Oor hoe sy nederig gebly het ná al haar sukses, het Ena gesê: “Wanneer ek sien een van my boeke is boaan die topverkoperlys, sê ek vir myself: ‘Dis alles net genade.’” Ena is in Junie 2015 oorlede.

Keur 17 is ’n versameling van drie verhale: Verwonde jare, Môre lê ver en Die meisie van Klaradynstraat. In Verwonde jare stort Daniël Pohl se wêreld in duie ná ’n nuusberig van ’n man wat met ’n silwergrys Mercedes ’n vrou se baba in ’n stootwaentjie doodgery en weggejaag het. ’n Motor presies soos Daniël s’n, en hy was boonop daardie middag in dieselfde omgewing waar die voorval plaasgevind het …

In Môre lê ver word die rykmansdogter Tania Erasmus se gemaksugtige wêreld tot ommekeer gebring toe ’n vreemdeling onverwags by haar verlowingspartytjie opdaag. Sy leer ’n baie belangrike lewensles: dat ryk nie gelyk is aan beter nie.

In Die meisie van Klaradynstraat het prokureur Owen Kemp Elsa Brits van haar agterbuurtbestaan verlos, maar nie van haar probleme en pyn nie.

Lees meer oor die outeur:

Ena Murray (1936–2015)

The post <i>Keur 17</i> deur Ena Murray: ’n oorsig appeared first on LitNet.

Die Afrikaners deur Hermann Giliomee: bekendstelling in Stellenbosch

Stroomop deur Adeline Radloff: boekbekendstelling

Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal: ’n resensie

$
0
0

Wit issie ’n colour nie
Nathan Trantaal
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707988

Nathan Trantaal se Wit issie ’n colour nie, behoort verpligte leesstof te wees. Vir wie? Wel, alle politici, alle kerkgangers en almal wat in die onderwys belangstel. Gooi sommer mediese mense en regsmense ook hierby in.

Waarom? Want, dit is bitter min dat armoede van binne beskryf word. Hierdie resensent was onlangs in gesprek met ’n baie senior bestuurder van een van ons groot boekwinkelgroepe en dié sê toe: “Lesers is middelklas, daarom is skrywers ook middelklas.” Sy is natuurlik korrek, en daarom is die probleme wat tans in ons boeke aangespreek word, middeklasprobleme. Dit is maklik om oor armoede te sê: “Ek het nie geweet nie.”

Suid-Afrika het ras baie vinnig met klas vervang. In my woonbuurt woon mense van alle rasse. Hulle is hoogs professioneel. Met sommige, van alle rasse, kom ons goed genoeg oor die weg, daarom kuier ons oor en weer. Hier woon egter nie ’n enkele arm persoon in ons buurt nie. Huispryse skakel selfs die gemiddelde inkomstegroepe uit. Dit is dus maklik om te sê: “Ek weet nie. Ek betaal wel my bediende meer as die minimumloon.”

Dis maklik. En dit geld vir alle rasse in my buurt.

Die Afrikaanse letterkunde het ’n baie trotse en deeglike rol gespeel in die stryd teen apartheid. Die lys boeke en skrywers wat aktief die staat se wanstaltigheid uitgedaag het, is lank en indrukwekkend. Maar wat nou?

Een van die redes waarom middelklasprobleme aangespreek móét word, is presies omdat daar universele kwessies is wat ons almal raak: seks, gender, die (skyn)heiligheid van ’n verbrokkelende huwelik, vroueregte in ’n manswêreld... so kan ons aangaan.

Sophia Kapp is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat namens haar portuur skryf, maar neem haar na die Kaapse Vlakte, dan ken die lesers haar karakters asof hulle ou vriende is. Die werkersklasvroue, veral, kan identifiseer met vroue wat mishandel word. Dit maak nie saak van watter stand of klas jy is nie, geweld in die huwelik vind orals plaas.

Maar wat van armoede? Hans du Plessis se Drie vroue en ’n meisie (LAPA Uitgewers), is ’n onlangse boek wat hierdie kwessie aanspreek – maar dan in ’n historiese konteks.

’n Mens sou verder in die Afrikaanse letterkunde kon gaan delf in Boerneef se sketse en beslis sommige van daardie bergies se honger kan ervaar, maar... hoe weet ek tans in my wit huis (-watdit is) versteek agter ’n sesvoetmuur met viervoet-elektriese-heining, wat aangaan in iemand se huisie op die Kaapse Vlakte?

Sommige van ons ry wel “daarheen” om te gaan help. My geliefde werk in ’n buurt waar geen ambulans sonder polisiebegeleiding mag ingaan nie. Sy ry vrou alleen daar in en uit. Elke weeksdag.

En tog: Tog kan ons terugkeer, die outomatiese hek oopmaak nadat ADT die straat veilig verklaar het, en weer die hek outomaties toemaak om te kan skuil agter die elektriese heining, diefwering en alarm.

Dis die punt. Selfs ons wat daagliks in ons middelklashuise worstel met ander se armoede, doen dit met ’n daaglikse bord kos om te geniet.

Nathan Trantraal (Foto: Naomi Bruwer)

Enter Nathan Trantaal, stage left

Nathan mag dalk vandag al opbeweeg het. Ons weet waar hy studeer (feit) en hoe die Nederlanders vliegkaartjies borg (so skinder die jaloerses graag). Is Nathan al middelklas? Wie weet? Maak dit saak? Hy is steeds na genoeg aan die honger en die skaam wees oor armoede om daaroor te kan skryf. Van binne.

Interessant genoeg verwys hy na ’n gedig van sy broer, André, toe hy by geleentheid gevra word om oor sy komvandaan te vertel: “Skaam oo alles / Skaam oo kakpapie / Koerante in plaas van toiletpapie”.

Maar, al is Nathan deesdae meer bevoorreg, is die honger naby genoeg aan hom dat hy vanuit sy eie maag kan skryf daaroor. Een van die treffendste stukke is juis die verhaal “Departures” waarin hy praat oor hoe hy wegvlieg van die Kaapse armoede af. Lees dit.

Het hierdie resensent pas geskryf “een van die treffendste stukke”? Hoe kies ’n mens? Dit is waar dat sommige verhale dalk minder seer in die maag skop as ander, maar daar is min van hulle wat nie skop nie. Keer op keer het Nathan se gestroopte verhale, gemeng met die allerslimste aanhalings uit die wêreldletterkunde, hierdie leser na sy asem laat snak.

Ek kan nie anders nie as om te sê: Lees Wit issie ’n colour nie.

Nathan Trantaal is dalk nie uniek nie. HemelBesem se biografiese werk God praat Afrikaans (LAPA Uitgewers) vertel ook verhale van swaarkry en sou as tweelingteks interessante vergelykings met die van Trantaal oplewer. Ek sou beslis ook Jeremy vannie Elsies, deur Jeremy Veary (Tafelberg) aanbeveel. Laasgenoemde is ’n fantastiese teks. Ook sou ’n mens Skollie – One man’s struggle to survive by telling stories, die boek deur John W. Fredericks (Penguin), waarop die film Noem my Skollie gebaseer is, moet noem.

Eintlik is die eerste sin in die vorige paragraaf louter snert. Nathan se stem is juis nie uniek nie. Daar is duisende ander op die Kaapse vlakte wat stories het soos syne, en wat praat soos hy. Maar hoeveel van hulle sit in ons huise en vertel daardie stories?

Dis waarom Wit issie ’n colour nie so ’n wonderlike boek is. Ten spyte van die overte rasverwysing in die teks, is daar bitter min geskryf oor rassituasies. Hierdie boek spreek armoede aan op ’n manier waarop niemand kan sê “ek het nie geweet nie”. Mag die diknekke in die parlement elkeen so ’n boek kry vir Kersfees.

Wit issie ’n colour nie is geskryf in Trantaal se dialek van Kaaps. Ek lees dit baie maklik met slegs enkele woorde wat my gepootjie het.

Daar is al gewag gemaak van Trantaal se aanvallende houding oor Adam Small se taal, maar net soos “Standaardafrikaans” geen standaard is nie, so is daar ook geen standaard vir Kaaps nie.

Nathan Trantaal is dalk nie uniek nie, ook nie noodwendig altyd reg nie. Dit is egter sy storie en sy stem hierdie en hy vertel ’n storie waarvan ons moet weet – juis omdat Nathan nie uniek is nie.

The post <em>Wit issie ’n colour nie</em> deur Nathan Trantraal: ’n resensie appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Dowe gode deur Dibi Breytenbach

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Dibi Breytenbach

Foto: verskaf

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde wat saam met haar gesin op die platteland van KwaZulu-Natal woon. Sy het ’n passie vir kinders en kinderregte en spesialiseer op daardie gebied in haar professionele hoedanigheid. Sy put heelwat uit werkskennis om polisieprosedures van binne te beskryf.

Breytenbach debuteer in 2015 met Saliger en volg dit op met Vrediger in 2016 en Heiliger in 2017.

Van Saliger sê joernalis en resensent Org Potgieter: “Dibi Breytenbach verdien applous vir haar eerste poging met ’n boek wat lekker lees en teen die einde moeilik neergesit word.”

Sy volg haar debuut op met Vrediger in 2016 waarin grondkwessies en gesinsgeweld te berde kom. Riaan Grobler maak in sy resensie op Netwerk 24 die volgende opmerking: “Vrediger is ’n fassinerende blik op Suid Afrika se strafregstelsel en is boonop ’n boeiende raaisel wat knap en ekonomies geskryf is.”

In 2017 word Vrediger gevolg deur Heiliger. LitNet oor Heiliger: “Heiliger kan met Rudie van Rensburg se Kamikaze en Madelein Rust se Moordhuis vergelyk word as die hoogtepunt van die skrywer se oeuvre tot dusver. Eenvoudig uitstaande.”

Heiliger haal ook die kortlys van die 2017 Tempo-toekennings.


Opsomming

Dowe gode
Dibi Breytenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389814

Wanneer het lewe so goedkoop geword en genade so duur?

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis.

Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ’n boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ’n doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet.

Wat is die motief? Is dit net nog ’n sinlose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting?

Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ’n gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem.

Die roman bied ’n sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ’n kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ’n disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk.

Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin?

Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ’n verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.

Wat maak die boek anders?

  • Die konflik onder die ou en nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op grondvlak word ontgin;
  • Die polisiekultuur word lewensgetrou uitgebeeld;
  • Die roman word geweef rondom ’n oënskynlike plaasaanval waarin die lot van die slagoffers sowel as die misdadigers aangespreek word.

Uittreksel

Die predikant maak sy mond oop, maar word onderbreek deur Aella se selfoon.

Hy lig sy wenkbroue. “Mozart?”

Sy knik. Roel het self nog die eerste mate van “Eine kleine Nachtmusik” as haar luitoon geïnstalleer Sy haal haar selfoon uit haar kortmoubaadjie se sak.

“Ekskuus, Dominee,” sê sy terwyl sy antwoord. Dit is Handsome Kunene van die misdaadkamer.

“Hulle soek na jou,” sê hy in swaar geaksentueerde Engels. “Jy moet kom.”

In die agtergrond hoor sy dringende stemme. Radio’s piep en kraak. Die elektriese atmosfeer van die misdaadkamer knetter deur die eter.

“Praat met my,” sê sy vir haar kollega. Sy skuif uit die orrelbank, staan op en stap sonder ’n woord na die stoepie onder die kerktoring. Dit is reeds amper donker. ’n Helder lig skyn oor die Muur van Herinnering. Leë nisse staar soos die hol oë van ’n skedelbeen kerkwaarts en wag vir die een of ander ongelukkige siel se as om sin aan dié uitgawe vir die bouwerk te verleen.

“There was an attack.”

Aella maak haar oë toe en trek haar asem diep in.

“Waar?” vra sy toe sy dit stadig uitblaas.

“Die plaas Carlsbad. Hulle wag vir jou.”

’n Onsigbare hand knel om haar bors en pers die lug uit haar longe. In haar geestesoog sien sy die plaaswerf, die ouderwetse huis met sy tuin en sy gasvrye mense. Sy ken die plek goed.

“Carlsbad?” vra sy toe sy uiteindelik beheer oor haar stembande herwin het. “Is jy seker?”

“Yebo.”

“Is iemand dood?” Dit is ’n sinnelose vraag. Hulle sou haar andersins nie gebel het nie. Sy is die enigste speurder wat moordsake in hulle distrik ondersoek.

“Hulle sê so,” antwoord Buthelezi. “Jy moet ry. Die PKRS is reeds gekontak.” Hy beëindig die gesprek sonder seremo-nie.

“Ek kom,” sê sy vir die dooie handstuk. Sy byt haar onderlip vas tot sy bloed deur die dun epiteel kan proe.

Sy het Henno op Boerevereniging-vergaderings leer ken as ’n korrelkopwewenaar. Heinrich se vrou Irmela oefen by dieselfde gimnasium as sy. Daarby het sy en Roel, toe hy nog kon, gereeld op Sondagmiddae met die boer se seën op die uitgestrekte wildplaas gaan rondry in die hoop om renosters of olifante te sien te kry.

Aella trek haar asem diep deur haar neus in. Geleidelik klop haar hart stadiger. Sy ril. Waar is haar motorsleutels? Sy tik-tik aan haar baadjiesakke. Wat het sy daarmee gemaak? Sy stap met afgemete treë die kerk binne. Die sleutels lê op die orrelbank waar sy gesit het.

“Ek moet ry,” sê sy stomp.

“Jy is wasbleek.” Die dominee frons. “Was dit slegte nuus?”

“Daar was ’n plaasaanval.”

“Liewe hemel.” Die man sit sy saamgevoude hande voor sy mond asof hy bid. “Nog een?”

Die kerkklok beier deur die leë kerk en doof die leraar se woorde uit. Dit is seweuur.

“Ek stap saam met jou na jou kar toe,” sê die dominee.

“Dis oukei.” Aella lig haar hand. “Tot later.”

Die jong leraar maak sy mond oop om iets te sê. Sy wag nie om te hoor wat dit kan wees nie. Sonder ’n verdere woord stap sy na die wit dubbelkajuit-Hilux wat die staat aan haar toegeken het.

’n Aanval. Nog een.

Sy klim in die hoë voertuig en druk die sleutel in die aansitter. Haar voete raak die pedale net-net. Met ’n sug knip sy haar pistoolholster los en sit die vuurwapen op die passasiersitplek neer. Dis beter. Sy draai die sleutel en die voertuig dreun gerusstellend onder haar. Toe ry sy by die kerk se lowerryke parkeerterrein uit en draai regs in die rigting van die grootpad na die see. Die roete na Carlsbad lei verby die laerskool aan die regterkant van die pad, verby die groot madressa aan die linkerkant.

Carlsbad, ’n groen juweel in die hartjie van die KwaZulu-Natalse bos. Aella was vyf weke tevore saam met Whistler daar toe drie renosters gestroop is. Sy het vir Roel daardie oggend in die hande van ’n tuisversorger gelaat, want sy moes die Volkers gaan bystaan.

“Fokken bliksems,” het Whistler afgemete gesê terwyl hulle in afgryse na die opgeblaasde, horinglose karkasse in die klein oopte tussen die platkruine gestaar het. “Etters.”

Henno, Heinrich en Irmela Volker was ook daar, stil en woedend. Daar was nie woorde nie.

Dit was die tweede keer dat die Volkers se renosters gestroop is. Die stropers is professioneel. Sover is daar nog niemand gearresteer nie.

Buite die dorp trap sy die versneller dieper met die punte van haar tone in. Die kragtige enjin antwoord sonder teëspraak. Plase en plantasies flits soos ’n snelfilm in die nag verby. Baie daarvan lê braak, want hulle eienaars het lank reeds die grond verlaat om ’n ander heenkome in vreemde lande te soek. Dis net die bittereinders wat steeds vasklou aan hulle plase soos wat hulle dit al vir geslagte lank doen.

Nog ’n aanval.

Dit is die derde een binne agtien maande.

Haar kakebene klem onwillekeurig opmekaar en haar vingers verstyf om die stuurwiel.

Die eerste aanval was verlede Maartmaand by Afgunswinkel op oom Van Galen se plaas. As kind in Nederland het die ouman die Tweede Wêreldoorlog oorleef. Ná die oorlog het hy sy fortuin in Afrika kom soek. ’n Driekwarteeu later het Aella sy lyk in die melkstal opgetel. Hy is vir twee duisend rand en ’n haelgeweer vermoor deur die man wat koeldrank by sy kontantwinkel afgelewer het. In die nag sien sy steeds die ouman se gesig voor haar met sy yl wit hare wat soos donsvere oor sy bebloede gesig wapper.

Sy draai die ruit af. Die koel aandwind streel met sagte vingers oor haar gesig. Die lug ruik na bos en stof en die poeieragtigheid van soetdoringbloeisels.

In Desember was daar Adams in Laersdrift. Dié boer is doodgeslaan deur ’n familielid van ’n werker op ’n buurplaas. Toe Aella op die toneel kom, kon hulle hom slegs uitken aan die trouring aan sy vinger.

Al die sterftes, al die lyke.

Dit hol haar van binne uit.

Sy knip haar oë en fokus op die pad wat soos ’n lanferlint voor haar uitstrek. Dit is donkermaan en die dorp se stralekrans lê reeds ver agter haar. Bliksemstrale speel op die horison en verlig die naghemel. Sy ry verby die witgepleisterde biltongstalletjie aan die linkerkant van die pad. Dit gloei soos ’n baken in die donker. Dié tyd van die aand is dit toe, maar deur die dag doen dit goeie besigheid met vakansiegangers en sakemanne op pad na die see toe. Een of ander tyd gaan dit ook deel word van die statistiek, want daar is geld en die mense is honger.

By die afdraai na Konfoormeule met die klein satellietpolisiestasie langsaan flikker die rooi ligte van ’n ambulans in die donker voor haar. Sy draai links en volg in die voertuig se stofspoor. Dié ry besadig in die rigting van Carlsbad.

“My magtig,” sê Aella afgemete toe sy die voertuig verbysteek. Sy flikker haar ligte. Ry vinniger, beduie sy. Sy wag nie om te kyk of die ambulansbestuurder haar boodskap verstaan nie. Ver voor, omhul deur die duister van plantasies wat die pad aan beide kante begrens, sien sy nog ligte.

Sy byt haar onderlip tussen haar tande vas.

Die boere en die plaaswag is gemobiliseer. Dit voorspel moeilikheid. Angstige boere het ’n kort lont, groot gewere en jeukerige vingers. Daarby vertrou hulle niemand nie. Ná wat sy die afgelope agtien maande gesien en gehoor het, kan niemand hulle daarvoor verkwalik nie. Haar bakkie ratel op die sinkplaatpad en die duisternis suig haar in.

Dit is piknagdonker in die plantasie. Niemand weet hoe donker dit in hierdie deel van Afrika kan word nie. Drie plaasbakkies voor haar verlig egter haar pad. Voor haar ry ’n bruin Land Cruiser. Dit is die verstekvoertuig in hulle distrik. Elke tweede boer het een. Sy toet toe sy verbysteek en in die polisiebakkie se kopligte kan sy vlugtig ’n hand sien waai. Voor haar is daar nog ’n Cruiser en ’n Toyota Hilux. Hulle ry vinnig, maar Aella ry vinniger. Sy steek die drie voertuie moeiteloos verby. In die verbygaan herken sy die Hilux. Dit behoort aan S.P. van der Walt, voorsitter van die plaasbeveiligingskomitee en ouderling in Roel se kerk. Hy flits sy ligte vir haar.

Nie nou nie, dink Aella. Hulle ligte verdwyn om die draai by Mawana Game Ranch. Weer is sy en die donker alleen op die pad. Sy ry stadiger, want voor haar op ’n heuwel gloei die wit muur van Carlsbad se indrukwekkende hek. Henno Volker het baie geld vir hierdie hek betaal. Irmela het haar vertel.

“En vir wat?” het sy retories gevra terwyl hulle besig was om af te koel ná ’n intensiewe oefensessie in Vicky se gimnasium. “Hy moet eerder die geld vat en iemand aanstel om vir Heinrich te help. My arme man werk hom dood terwyl my skoonpa lekker van die stoep af boer.”

Sy ry nog stadiger totdat sy amper tot stilstand kom voor die oordadige konstruksie. Carlsbad, staan daar in swierige koperletters teen die onberispelike muur. Die naam roep beelde van koue sneeu en skerp bergspitse op, nie stof en mot en roes nie. Die bakkie skud en ratel oor spoorstawe wat in ’n netjiese rooster op die grond tussen die hekpale uitgelê is sodat ’n bees of ’n bok nie daaroor kan stap nie. Of dit ’n olifant sal stuit, weet sy nie. In teenstelling met die oordadigheid van die plaasingang lei ’n eenvoudige tweespoorpaadjie haar die bos binne. Oë gloei onheilspellend in die donker ruigtes.

Sy ril.

Daar is baie ongediertes op Carlsbad.

Sy ry nog stadiger, want sy wil nie in ’n olifant vasry nie. ’n Jakkals draf voor haar oor die klipperige paadjie, toe nog een. Hulle is donkerdiere. Sinister. Sy ril weer. Koue vingers streel oor haar skouers en die weerlose agterkant van haar nek. Sy sal dit nooit erken nie, maar ná ’n leeftyd laat die eerste roep na ’n moordtoneel haar steeds hoendervleis uitslaan.

Die plaashuis se ligte glinster deur die roering van takke en blare. Die bakkie skud op sy harde vere toe sy teen ’n klein steilte af met ’n tuisgeboude laagwaterbruggie oor ’n droë rivierbedding ry. Haar lippe pers ferm opmekaar. Die voertuig stoei aan die ander kant van die bruggie teen die steilte op na die werfhek toe. Uiteindelik is sy bo. Die hek staan oop. Sy ry deur en hou stil onder die akasia waar sy en Whistler stilgehou het die dag toe die renosters geskiet is. ’n Bottel water rol onder die passasiersitplek uit; iets wat sy daar begin bêre het op Roel se aandrang. Sy skakel die enjin af. Daar is ’n algehele afwesigheid van klank op die werf.

Dit is altyd so.

Sy trek haar asem diep in terwyl sy die deur oopmaak. Die groen-en-wit Avanza van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum staan langs ’n blou Skyline met roeskolle op die kattebak. Die kar behoort aan Sibisi. Hy is ’n oorblyfsel uit ’n ander tyd, op die rand van aftrede. Omdat hy uit die ou bedeling stam, sal hy aftree op die rang van adjudant-offisier. In drie en twintig jaar is hy nooit bevorder nie, want die nuwe geskiedenis is in ’n onvergewensgesinde stryd met die oue.

Dit is ’n skande. Sibisi is ’n goeie polisieman. Hy verdien beter. Daarby is hy die enigste speurder op die klein polisiestasie langs Konfoormeule. Hy is hoofsaaklik getaak met die bemiddeling van onderlinge dispute wat die potensiaal het om op geweld uit te loop. Sibisi is ’n vredemaker. Hy is waarskynlik eerste gekontak omdat Carlsbad vir amptelike doeleindes van die satellietstasie met sy gebrekkige hulpbronne vir polisiëringsdoeleindes afhanklik is.

Sy tel haar pistool op en klim stadig uit die bakkie. Lig spoel uit die huis oor die onverligte grasperk en laat skadu’s voor haar voete speel. Haar oë gly oor die werf terwyl sy die holster aan haar broekband vasknip. Die pistoolkolf druk koel teen haar vel.

“Sawubona,” klink ’n diep stem uit die nag op.

Aella kyk op. Sibisi leun in die skadu’s teen die stoepmuur langs die strelitziabos. Toe sy naderstap, staan hy regop en strek regaf teen sy lyf.

“Captain.”

“Naand, Adjudant.” Aella hoor bewegings in die huis, maar geen stemme nie. “Praat met my.”

Hy maak sy keel skoon. In die oorspoellig van die stoep lyk sy gesig so grys soos as. Sibisi hoort nie op hierdie toneel nie.

“Amabili,” sê hy sag – twee.

Aella probeer praat, maar haar woorde stol in haar keel.

“Wie?” vra sy uiteindelik.

Hy druk met sy duim en voorvinger teen sy neusbrug. “Mister Volker and his son.”

Sy maak haar oë toe. Vir ’n oomblik wieg sy op haar voete. “Mevrou Volker en haar kind?” Sy maak haar oë oop.

“Hulle is binne.” Sibisi knipper sy oë. “Hulle is . . . orraait.” Hy fluister die woorde.

Aella lek oor haar droë lippe. “Waar is hulle?”

“In die eetkamer.”

Sy trek haar asem diep in en draai na die stoeptrappe om die huis binne te gaan.           

“Wag,” sê Sibisi.

Aella frons. “Wat nou?”

“LCRC. Hulle het gesê ons moet wag. Hulle neem nog foto’s.”

Sy draai terug. “Het jy met haar gepraat?”

Sibisi skud sy kop. “Not much. Sy praat deurmekaar.”

Aella byt aan haar wysvinger se nael tot sy die bloed soos warm koper in haar mond proe. “Het sy seergekry?” vra sy uiteindelik.

“Angisabona” – ek het nie gesien nie.

Haar oë gly oor die werf. Sy hoor ’n ritseling in die bos langs die draad en verbeel haar sy hoor die flappende ore van ’n olifant wat stilweg in die duisternis verdwyn.

Sy is bang vir olifante.

“Hoe het hulle by die werf ingekom?” Hulle. Hy. Sy weet nie. Sy tuur na die donker bos. Die huis is ’n eiland van lig in die duister van die woesteny wat hulle omring. Sewentig kilometer na die ooste lê die eindelose Indiese Oseaan, na die noorde die ruigtes van Mosambiek en die einders van die res van Afrika. Is die boosdoeners nog in die omgewing?

Sibisi skud sy kop. “Angazi” – ek weet nie. Hy volg haar oë. “It is very dark.”

Vir ’n lang oomblik staan hulle en luister na die bosgeluide wat deur die stil nag klief. Iewers skree ’n jakkals en verder af, in die rigting van die rivier, klink die onheilspellende antwoord van sy maat.

Sibisi maak sy keel skoon. “Hulle het die jong mister Volker daar op die stoep geskiet.” Hy beduie met sy kop na die voordeur.

“Waar is sy liggaam dan?” vra Aella fronsend. Van waar sy staan, kan sy die voordeur sien. Daar is geen liggaam op die stoep nie.

“Inside.”

“Binne?”

Sibisi knik. “Sy’t hom binnetoe gesleep.”

“Jy’s nie ernstig nie.” Heinrich Volker was ’n lang man, groot en swaar van been. Ten spyte van die feit dat Irmela se lyf reeds ’n kind gedra en gebaar het, is sy steeds gebou soos ’n merrievul.

“Dis wat sy sê.”

Die diep dreuning van meer as een voertuig onderbreek die gesprek.

Aella kyk om.

Die neus van S.P. van der Walt se Hilux verskyn in die werfhek.

“Heiden,” sê sy sag terwyl sy haar weerbarstige hare uit haar gesig stoot.

Sibisi antwoord nie.

Sy kyk woordeloos na die bakkie wat langs die voëlbad op die gras stilhou. Die twee Land Cruisers parkeer in gelid. Die voertuie se kopligte gooi helder strale oor die werf. Sy byt aan die los naelriem van haar verwoeste vingernael terwyl Van der Walt sy deur oopmaak en met ’n vloeiende beweging uitklim. Die spoeg in haar mond laat haar vinger brand. Sy vee haar hand aan haar broekspyp af en stap met lang treë vorentoe.

“Klim terug in jou kar en draai om,” beveel sy sonder om te groet. Sy moet opkyk, want Van der Walt is ’n groot man.

“Sê jy?” vra hy met sy growwe stem.

Aella sit haar hande op haar heupe en hou sy oë met hare gevange. S.P. van der Walt is ’n intimiderende man met ’n lyf en gesig wat lyk of dit uit Afrika-klip gekap is. Sy het die eerste keer met hom te doen gekry toe sy net in Opathe aangekom het en saam met Whistler die boer se gesteelde beeste moes opspoor. Dis hy wat vir haar van die geskiedenis van hulle distrik vertel het, van die Voortrekker-setlaars wat gesteelde beeste vir koning Cetshwayo gaan soek het en toe deur sy impi op die pad na Opathe in ’n hinderlaag gelei en uitgemoor is. In omgangstaal is die verwysing “die pad na Opathe” ’n doodsdreigement. Die pad na Opathe is ’n verraderlike pad.

“Sê ek. Dit is my toneel, S.P. Moet dit nie moeiliker maak as wat dit is nie.”

“Irmela het geradio.” Van der Walt se mond is ’n donker spleet.

Aella trek haar asem in. “Sy is daarbinne. Sy en Sigrid is oukei.”

’n Kiewiet roep onrustig. Die wind steek van die see se kant af op en fluister deur die doringbome wat hulle omring.

Die groot boer staar na Aella en asem uiteindelik uit. “Heinrich? En die oom?” Sy neusvleuels sper wyd. Hy wil verbybeur na die huis, maar Aella sit haar hand op sy arm.

Sy skud woordeloos haar kop.

Van der Walt maak sy oë toe. Sy lippe beweeg, maar hy maak geen geluid nie.

“Ry,” sê sy weer. “Daar is niks wat julle nou kan doen nie.”

Die boer knip sy oë en staar oor Aella se skouer na die huis agter haar. “Die ander manne het reeds begin om die paaie af te sper, tot anderkant Konfoormeule.”

Aella maak keel skoon, want ’n knop het hom in daar tuisgemaak en sy sukkel om te praat. “Dis ’n goeie ding.” Sy lek oor haar droë lippe. “Gaan nou.”

’n Motordeur klap en Aella kyk op. Vet Jan Pieterse klim stadig uit sy Land Cruiser en stap moeisaam oor die netjiese grasperk in hulle rigting. ’n Groot rewolwer hang in ’n holster aan sy sy.

“Ons kan nie ingaan nie,” sê Van der Walt met ’n strak gesig toe die vet man by hulle aansluit.

Selfs dié tyd van die aand kan Aella die sweetdruppels op die boer se bolip in die swak werflig sien glinster. Sy hartaanval is ’n ramp wat ’n plek soek om te gebeur.

“Nou wat dan?” vra hy. Sy asem hyg deur sy oorwerkte longe.

“Ons kan nie ingaan nie.” Van der Walt se woorde is strak.

“Draai terug,” sê Aella.

Jan Pieterse trap besluiteloos rond.

“Julle kan niks hier doen nie,” sê sy sag. “Nie voor ons klaar is nie.”

Die twee boere staar woordeloos na mekaar en toe na haar. Daar is niks om te sê nie, niks om te doen nie. “Ons wag by Konfoormeule,” sê Van der Walt uiteindelik. Hy haal ’n selfoon uit sy sak en hou dit in die lug. Sy gesig gloei in die lig van die instrumentjie in sy hand. “Fok, daar’s al weer nie sein nie.”

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <i>Dowe gode</i> deur Dibi Breytenbach appeared first on LitNet.

Viewing all 1319 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>