Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1322 articles
Browse latest View live

Die dag toe die draak kom (vir seuns en vir meisies) deur Fanie Viljoen: ’n resensie van albei boeke

$
0
0

Die dag toe die draak kom (vir meisies) en (vir seuns)
Fanie Viljoen
Uitgewer: NB-Uitgewers

ISBN: 9780798178679

Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir seuns (Viljoen, 2019a) en Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies (Viljoen, 2019b) is twee besonderse boeke wat beslis 'n groot verskil in baie kinders se lewens kan maak.

Die boeke probeer om die tema van molestering aan te spreek op ’n manier wat vir kinders tussen 6 en 12 jaar verteerbaar en verstaanbaar is.  

Kinders kan hulle maklik vereenselwig met die hoofkarakters, Kevin en Kyla, in die onderskeie verhale. Kevin en Kyla hou van avonture, swem en glo in sprokies met ridders en prinsesse. Om elke dag skool toe te gaan is 'n groot deel van hul daaglikse lewe, wat die verhaal verder vir kinders toeganklik maak. Kevin en Kyla glo dat hulle die Prinses en Ridder van Arabia is wat drake verslaan en hul tande met doringdraad borsel. Die gebruik van ’n sprokie-narratief as agtergrond bevorder die toeganklikheid van dié twee boeke. Die hoofkarakters is die helde van hul eie verhale, wat die grondslag lê vir ’n belangrike lewensles.

Hierdie boeke is broodnodig binne die Suid-Afrikaanse konteks, omdat seksuele misdade teen kinders aan die toeneem is. Daar is ’n gepaste weergawe vir seuns en meisies, en beide is ook in Engels beskikbaar. Dit is noemenswaardig om te merk dat daar nie bloot geknip en plak is aan die twee weergawes van die verhaal nie. Kinders merk sulke knip-en-plak-praktyke baie vinnig op en dan verloor hulle belangstelling.

Goeie navorsing ondersteun die samestelling van die boek in sy geheel. Viljoen merk spesifiek in ’n onderhoud op dat daar afsonderlike boeke vir seuns en dogters is juis omdat navorsing toon dat meisies boeke sal lees wat op meisies en seuns gemik is, maar dat seuns nie maklik “meisieboeke” sal lees nie (Viljoen, 2019c). Navorsing oor die gedrag wat kinders van verskillende ouderdomme openbaar, word breedvoerig in die addendums agterin gedek. Daar is raad vir ouers, onderwysers en kinders.

Viljoen is ’n veelsydige skrywer en het reeds ’n goeie rekord van grensverskuiwende boeke, veral as dit by kinder- en jeuglitratuur kom. Uit het in 2014 verskyn, wat die verhaal vertel van ’n seun wat sy homoseksualiteit ontdek en die sosiale uitdagings daarrondom moet leer hanteer. Daar is ook BreinBliksem (2005), wat handel oor die ervarings van ’n seun met skisofrenie, en die novelle Onderwêreld (2008), wat tans vir gr.12 voorgeskryf word.

Die dag toe die draak kom: 'n Boek vir seuns (2019a) en Die dag toe die draak kom: 'n Boek vir meisies (2019b) is veelsydig. Dis geskryf met praktiese raad en doelgerigte leiding vir kinders sowel as bewusmaking vir almal wat met kinders te doen het. Tog is dit moontlik om hierdie boek met verskillende teoretiese interpretasies te beskou, wat ’n dieper dimensie aan die boek gee as net bloot ’n storie vir die bewusmaking van molestering. Die verhaal is nie minderwaardig teenoor sy doel nie en ’n goeie balans word gehandhaaf tussen verhaal, inligting en opvoeding.

Sou die ingeligte leser hierdie twee tekste vanuit ’n meer kritieke oogpunt wou beskou, kan die Pools-gebore psigoanalis, Alice Miller se teorieë dalk nuttig wees. Sy is opgelei in Zurich in die Freudiaanse Psigoanalise, maar distansieër haarself in 1988 van Freudiaanse denke. Volgens haar het Freudiaanse psigoanalise kinders en kindermishandeling beskou as deel van die kind se onbewuste drang om die ouer uit te wis. Dit verwys na die Oedipus Rex beginsel van Sigmund Freud en plaas dan die skuld van die daad op die kind. Miller was ten sterkste gekant teen hierdie beginsel. Sy het fokus op die beginsel van die verwonde kind. Met hierdie beginsel beweer sy dat enige trauma of diepgaande ervarings wat ’n kind ervaar, ’n indringende herinnering skep wat die liggaam sowel as die onbewuste sal onthou.  

Miller is bekend vir haar werk en navorsing oor trauma, geweld, mishandeling en onderdrukte emosies. Sy benader haar ontledings van tekste en kunswerke vanuit die perspektief van die volwassene wat as kind mishandel is of groot trauma beleef het. Dit is ’n belangrike perspektief om in gedagte hou, want sy verskaf insigte in verband met situasies wat Viljoen deur sy boeke wil help voorkom. Miller verskaf ook goeie insigte omtrent die beelde en die rol van die sprokiesgegewens in die onderskeie verhale. Die draak is hier ’n uitsonderlike metafoor wat dadelik verwysings na die donker, kwaad en die bedreiging vir eie veiligheid oproep. Die draak kan as ’n vergestalting van die vrees in die kind se onbewuste geïdentifiseer word.

Miller se treffendste uitspraak aangaande haar beginsel van die verwonde kind is dat “(t)here is a price to be paid for (this) morality, a price paid by the body” (Miller 2006:15). Hiermee wys Miller daarop dat ’n mens altyd ’n ervaring sal onthou, al vergeet die geheue dit – die liggaam sal dit onthou. Die diepgaande aard van so ’n ervaring speel ’n beduidende rol, wat dit juis toepaslik maak op die tema van kindermishandeling en mollestering. Die moraliteit waarna sy verwys, kan omskryf word as die tradisies, sosiaal aanvaarbare gedrag en patriargale hiërargieë wat in ons samelewing funksioneer. Hierdie moraliteit kan bespeur word wanneer Abby in die boek vir haar ma probeer vertel van die “draak” en wat hy aan haar doen, maar haar ma is oortuig sy jok.

Miller se waarskuwing vind aanklank by Kevin en Kyla se situasie, veral wanneer die maatskaplike werker aan hulle raad gee: “Ek wens ek kan vir julle sê dat dinge sommer dadelik makliker gaan wees. Dit is ongelukkig nie die geval nie. Daar gaan tye wees wat steeds moeilik is” (Viljoen 2019a, 2019b:70). Die maatskaplike werker erken hiermee dat hierdie ervaring lank deel van Kyla en Kevin se lewens sal wees.

Viljoen se verhale sluit aan by ander tekste wat oor dieselfde tema handel. Dis ek, Anna (2004) deur Elbie Lötter is ’n goeie voorbeeld. Abby se gedrag en reaksies stem baie ooreen met van dié van Anna, wat ook deur haar ma se kêrel gemolesteer is. Ongelukkig is ook Dis ek, Anna ’n voorbeeld van wat in die meeste molesteringsgevalle gebeur.

Dit wil nie sê dat Dis ek, Anna en Die dag toe die draak kom (2019a en b) geskik is vir dieselfde ouderdomsgroepe nie. Laasgenoemde vul beslis ’n broodnodige gaping vir jonger lesers. Boeke soos Dis ek, Anna is van waarde vir tienerdogters, omdat dit ’n gesprek oor molestering, mishandeling en geweld kan begelei. Daar is steeds die leemte vir sulke boeke vir seuns, alhoewel Koning Henry (2003) deur Carina Diedericks-Hugo ’n moontlike opsie is.

Die dag toe die draak kom (2019) is ’n moet vir ouers, onderwysers in die grondslagfase, oppassers en enigiemand wat ’n kind veilig wil hou teen die wreedhede van die samelewing. Dit behoort beskou te word met dieselfde erns as om met jou kind te praat oor hul liggaam, seksualiteit, vreemdelinge en hul veiligheid.

Ten slotte is hierdie twee boeke baie nodig, en hulle het die potensiaal om ’n kind (hopelik nog baie kinders) se onskuld en selfs lewe te red. Hulle is met sorg geskryf en bevat hope inligting. Die ekstra inligting wat as addendums agterin geplaas is, is toeganklik vir almal wat kan lees. Hierdie boeke is nie net oppervlakkige kinderboeke met ’n sedeles nie; daar is diepte en dit werk op ’n eenvoudige tog subtiele wyse met metafore. Beslis ’n aanwins vir elke biblioteek, klas en huis.

 

Verwysings

Diedericks-Hugo, C. 2003. Koning Henry. Kaapstad: Tafelberg.

Lötter, E. 2004. Dis ek, Anna. Kaapstad: Kwela.

Miller, A. 2006. The body never lies: the lingering effects of hurtful parenting. Uit Duits na Engels vertaal deur Andrew Jenkins. New York: WW Norton.

Viljoen, F. 2019a. Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir seuns. Human en Rousseau: Kaapstad

Viljoen, F. 2019b. Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies. Human en Rousseau: Kaapstad

Viljoen, F. 2019c. Die Groot Ontbyt:Onderhoud met Fanie Viljoen. [Video]. Beskikbaar aanlyn: https://www.youtube.com/watch?v=avnGRdzVlgE. (2019, April 4).

Viljoen, F. 2005. BreinBliksem. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2008. Onderwêreld. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2014. Uit. Pretoria: LAPA.

The post <em>Die dag toe die draak kom</em> (<em>vir seuns</em> en <em>vir meisies</em>) deur Fanie Viljoen: ’n resensie van albei boeke appeared first on LitNet.


Sweepslag deur Annerlé Barnard: ’n boekbekendstelling

Invitation to the launch of Christo Wiese – Risk & Riches by TJ Strydom

Invitation to the Cape Town launch of Christo Wiese – Risk & Riches by TJ Strydom

Press release: Sanlam Prize for Youth Literature 2019 finalists announced

$
0
0

The biennial Sanlam Prize for Youth Literature award has been a source of local young adult publications since its inception in 1980. Over the years some changes were made to the competition to ensure relevance to readers and the South African literary and social landscape. The most significant change was to open entries to all 11 official languages of SA, thus ensuring that more writers and readers benefit from the competition.

Michelle Cooper, publisher and head of children’s and youth literature at Tafelberg, says: “I cherish each Sanlam award-winning book we’ve published. They represent the best of local writing for young adults. Our latest batch of winners covers themes that are right on trend with international YA (young adult) and I know readers will be enthralled.”

Debut authors compete on level ground against established writers in this anonymously judged competition and some have gone on to succeed as published authors in other genres as a result of winning. With a few exceptions, a Sanlam winner is prescribed in schools regularly and some have been turned into films. Sanlam award-winners have also gone on to win other local literary prizes, like the Media24 Books Literary Awards and the Percy FitzPatrick Prize.

“Sanlam believes that learning provides the foundation for building a world of Wealthsmiths. Our investment in this competition for almost 40 years has resulted in thousands of young people getting access to books ‒ laying the foundation for living their best lives, now and for the next generation,” says Elena Meyer, senior manager of sponsorships at Sanlam.

Sanlam and Tafelberg, (an imprint of NB Publishers) are proud to announce this year’s finalists.

English:

• Jayne Bauling from White River, Mpumalanga, with Smoke Across the Sun;
• Jenny Hatton from Lynnwood Glen, Pretoria, with Upstanding;
• Nerine Dorman from Welcome Glen, Simon’s Town, with Sing Down the Stars;
• Sally Partridge from Durbanville, Cape Town, with The Whoevers;
• Shafinaaz Hassim from Polokwane with Nisa Qamar and the Legend of Qawthar; and
• Toby Damon Bennett from Claremont, Cape Town, with The Music Box Blues.

Afrikaans:

• Annerle Barnard from Bainsvlei, Bloemfontein, with Sindikaat;
• Christina Venter from Louis Trichardt, Limpopo, with E-pos vir Trui;
• Derick van der Walt from Villieria, Pretoria, with Die Toring van Jasmyn;
• Frans Fourie from Strand with Neuk
• Nerine Ahlers and Aletta Steenkamp from Lynnwood and Waterkloof, Pretoria, with Ek is nog hier; and 
• Tertius Janse van Rensburg from Framesby, Port Elizabeth, with Die sindikaat.

African languages:

• Lungile Promise Zwane from Wasbank, KwaZulu-Natal, with Umzabalazo (isiZulu);
• Thembisile Kundlwana from Sebokeng, Vanderbijlpark, with Tata Siyakuxolela (isiXhosa); 
• July Innocent Mtsweni from Lindo Park, Pretoria, with Umfelasakhe (Ndebele);
• Thabo Kheswa from Bophelong, Vanderbijlpark, with Haeso ke kae! (Sesotho);
• Mokhwatsi Reuben Maponya from Tzaneen with Makhwatšo (Northern Sotho); 
• Othusitse Moses Lobelo from Delareyville, North West, with Mmatla kgomo kodumela(Setswana);
• Mbedzi Nyelisani from Thohoyandou, Limpopo, with U Kondelela (Tshivenda); and
• Musa Aubrey Baloyi from Soweto with Tinsimu To Pfumala Mpfumawulo (Xitsonga).

A gold and silver winner will be selected in each category and announced at an awards ceremony in October 2019. The six prize-winning books will be launched at this event, whereafter authors will visit local schools and festivals as part of a publicity tour. The total prize money amounts to R90,000: R20,000 for the gold winners and R10,000 for the runners-up.

The post Press release: Sanlam Prize for Youth Literature 2019 finalists announced appeared first on LitNet.

Duinhuis, ’n kookboek deur Isabella Niehaus: ’n resensie

$
0
0

Duinhuis
Isabella Niehaus
Human & Rousseau
ISBN: 9780798174350

Ek wys die boek vir my man. Sy eerste reaksie: “Onverbeterlik!” Hy verwys na die voorblad. Dit dui op die see, op varsheid, op eetgenot, ’n tikkie luukse en selfs ekstase. En eenvoud.

Later die aand sit my man nog met die boek in sy hande en trane in sy oë. “Hoekom huil jy dan?” vra ek. “Dis die Weskus,” sê hy. “Ek is so lief vir die Weskus.”

Isabella Niehaus se inleiding tot haar boek is aangrypend en die foto’s verruklik. Dit dra die bekoring van die kuslyn oor: die oggend- of namiddagsonnetjie, die stoepmeubels wat die wind en weer moet trotseer, en daardie verlate gevoel wat tog nie eensaam is nie omdat dit die siel voed. Blaai verder en vind foto’s met langtafels en mense en beelde van ʼn kombuis vol energie.

Ek wys die boek vir ’n agtienjarige. “Dit is nou die tipe kookboek waarvan ek hou!” sê sy. Nostalgie en nuutheid word daarin vasgevang. Ook iets uit ons kultuur as Afrikaners en Suid-Afrikaners, sonder om ’n heel basiese aanbieding van “Afrikaanse kos” te wees, soos wat die Sarie in hul spesiale uitgawe getiteld Lekker in 2018 saamgestel het.

Isabella Niehaus se Coronation chicken op ʼn broodjie (die eerste resep in die boek) spreek boekdele oor ons ingesteldheid. “Ons” is nou die tipiese Suid-Afrikaanse kok wat resepte versamel soos wat ʼn eekhoring neute huis toe dra. Wie van ons het nie ʼn Coronation chicken-resep uit die ’90’s nie? Dit is hoe ons graag resepte versamel – hertzoggies en flapjacks en melktert en Yorkshire pudding word als neergeskryf en probeer en geniet. So lyk my ouma se notas in haar resepteboeke uit 1926 en so lyk myne. Niehaus skryf in besonderhede oor hoe sy beïnvloed word en dit is juis wat die boek so innemend maak. Mens kan jou daarmee vereenselwig.

Soos die woorde op die voorblad aandui, gaan die boek oor smake en geure en dus die sintuie wat herinneringe diep inprent. Niehaus beskryf haar kinderjare. Haar belewenis in die Vrystaat is eiesoortig, dog bekend aan die leser. Dit skets ’n prentjie wat mens bybly. Op die agterblad sit sy by ʼn Claerhout-kunswerk. Mens kan amper insien hoe die kuns wat in haar ouerhuis gehang het, ʼn visuele indruk op haar gemaak het wat hom uitspeel in haar smaakvolle stilering. Haar keuse van tuiste speel hom af in ʼn Roy Cecil Taylor-kuslyn. Die verwysings na haar ouerhuis bied diepte. Etlike versamelstukke skep die visuele indruk.

Maar sjoe – die foto’s van die kos! Dit is geneem met ʼn beligting wat die Weskus tuis bring. Mens voel die kalmte van die mooiste tye van die dag as die lig sag is met sonsopkoms en -ondergang. Die foto’s is baie spesiaal.

Maar wat van die resepte self? As mens die boek vlugtig deurblaai, dan weet mens dat die resepte staatmakers is. Hoe dan so? Niehaus beskryf keer op keer hoe sy deur navorsing, passie vir kos, en vele probeerslae op ’n ideale resep afgekom het. Daar is ook telkens ’n interessante of geheime bestanddeel wat dadelik aandui dat die resep gaan uitstaan bo die algemene staatmakers. Ek dink nou byvoorbeeld aan die whisky by haar broodpoeding (bl 41) en die sjokolade by haar coq au vin (104).

Die sagtheid in haar stories is ook treffend. Die sagtheid van mense, soos in haar beskrywing van Michael Mol. Die sagtheid wat nodig is om met kos te werk, soos op bl 24. Dit vloei dalk uit haar eie sagtheid (soos wat Arina du Plessis haar beskryf op bl 205). En wie van ons het nie daardie sagtheid nodig nie? Dit is koesterend. Dit is baie spesiaal hoe sy die mans koester. Haar boek is opgedra aan haar seun Taro; op bl 189 deel sy David Kotze se kos. Mens moet die boek self lees om David Kotze te leer ken. Daar is iets aan hierdie boek wat mens laat voel dat teerheid nog bestaan.

Wat mens ook tref is Isabella Niehaus se veelsydigheid. Daar is eenvoudige, aardse kos en ingewikkelde luukse kos; daar word verwys na ryk maaltye met baie vleis (soos die maaltye uit haar kinderjare), en dan is daar die ligtheid van skepselkos (oftewel Buddha Bowl) wat sy by Louis Jansen van Vuuren geleer het.

Ek het tot dusver slegs twee resepte probeer. Die sjokoladetarte op bl 121 was eerste. My belangstelling in hierdie resep het ontstaan omdat dit my laat dink het aan ʼn sjokoladekoekresep (ʼn meelblomlose sjokoladekoek) wat ek tien jaar gelede ontdek het en wat, tot dusver, my gunsteling gebly het.

Daar is vyf gemene bestanddele tussen daardie koekresep en hierdie tarteresep. Om die waarheid te sê, die tarte bestaan uit bloot vyf. (My meelblomlose sjokoladekoek het vanieljegeursel en vars room by.) Tien jaar later, en ek het geweet ek lees weer ʼn goeie ding raak. Mens tref soms sulke resepte: die soort resep wat gaste vir ewig en altyd aan jou gasvryheid koppel; die soort smaak wat hul so bekoor dat hul altyd, maar altyd, vra wanneer jy weer gaan bak.

Hierdie tarte het dieselfde uitwerking op my gesin gehad. My man wou dit glad nie deel nie – hy wou die hele ding alleen opeet. Ek sal volgende keer ʼn losboompan kleiner as 23 cm gebruik; dan lyk die tarte minder plat.

Toe’t ek die coq au vin probeer. Als het vlot verloop. Dit werk net so lekker met ʼn heel hoender in porsies gesny. (Organiese hoender, natuurlik.) Ek het besluit “baie lourierblare” is drie gedroog en drie vars uit my tuin. Ek het die hoeveelheid “oorblywende botter” nie in die resep gevind nie, maar die oplossing was maklik: Ek reken die 4 eetlepels botter word gedeel. Twee van daardie eetlepels gebruik jy saam met die olyfolie vir die braai van die hoender en spek en groente; die ander twee vir die klein uitjies. Hoe ook al, mens het slegs twee eetlepels vet nodig wanner mens die meel-en-wyn-mengsel aanmaak.

Ek het dit in die AGA-ond gaargemaak om lank en stadig te prut. Die resultaat? Ek gaan nie weer ʼn ander coq au vin-resep benodig nie. Hierdie een is die beste.

Wat kan mens in die boek kritiseer? Daar is etlike taalfoute. Op bl 121 word daar verwys na ʼn “fanatstiese” kosblog. Op bl 23 word daar na die Suid-Afrikaanse kunstenaar Ampenberger verkeerdelik verwys as Ampenbergen. Dit het my laat wonder of die begroting vir taaldienste dalk te knap was. Maar dit maak nie eintlik saak nie. Hierdie boek is ʼn inspirasie. Dit is méér as inspirerend. Dit is ʼn riem onder die hart.

Die stories uit Hermanus en van Sir Lowry’s in die Kaap, die verwysings na al die mense en kosbekendes, die liefde vir die lewe, word in die skrywer se eiesoortige storievertelstyl opgeneem. Sy hou nie van te veel volsinne nie. Tussen die volsinne is daar woorde wat sweef. Sy skryf in wat taalkundiges sou noem fragmente. Dit is lekker, omdat mens op hierdie manier nie te “vol word” van woorde nie. Die skryfstyl is ʼn happie hier, en ʼn proesel daar.

Daar is nie ʼn resep hier wat nie haalbaar en heerlik lyk nie. Die seekosresepte lyk smullekker. Niehaus se Langtafel by Langebaan sou mens seker kon ophef na ʼn Weskus-juweel. Die aanbevelings vir ʼn wyn vir elke dis en die kortstorie en resepte uit Parys wat die boek afsluit, maak hierdie boek ʼn wenner. ʼn Tien uit tien.

The post <i>Duinhuis</i>, ’n kookboek deur Isabella Niehaus: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die verevrou beeld wêreld van volstruise epies uit

$
0
0

Die verevrou
Jan van Tonder

Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780798170505

Na ses jaar verskyn daar weer ’n roman uit die pen van Jan van Tonder: Die verevrou. En watter epiese verhaal is dit nie!

Die verevrou vertel twee verhale wat afwisselend maar gelyklopend vertel word, naamlik die verhale van Liora Papalato en Candice Amat. Saam met hierdie verhaallyne wat oor twee sterk vrouekarakters handel, is daar die verhale van ander sterk maar ook weerlose vrouens: Liora se ma, Charlotte; haar tante, Alessandra; die doktersvrou, Odette; die skilder, Maja; Candice se ma. Die verevrou is Liora Papalato, wie se verhaal van bykans 40 jaar vanaf Algerië na Parys na Oudtshoorn aan die leser vertel word, maar dit is ook die verhaal van Candice Amat. Dit is in De Rust waar die twee verevrouens se lewens ineengevleg raak.

Die roman begin in 1948 in Algerië en eindig in 1992 in De Rust. Die verhaal van Liora begin in 1948 op Finisterre, ’n volstruisplaas in Algerië. As jong kind neem sy kinderlik die wêreld om haar waar, maar bly naïef onbewus van die bedreiging en gevare van die oorlog en geweld wat op haar en haar familie wag. Die eerste gedeelte fokus op die verhouding tussen haar pa, Emile, van Korsika en haar Franse ma, Charlotte en die Joodse man van Oudsthoorn, Moshe. Liora se verhouding met haar pa is nie goed nie en Moshe is meer die pa-figuur in haar lewe – die rede waarom sy dan later na Oudtshoorn reis. ’n Ander belangrike karakter is haar tante, Alessandra, wat met die vere werk en dit voorberei – wat later, ten spyte daarvan dat sy ’n gewelddadige slagoffer word van die geweld wat in Algerië uitbreek, tog ’n sterk karakter bly. Liora werk later as verpleegster midde-in die gewelddadige tydperk in Algerië en moet in 1962 na Parys vlug, waar sy haar daarop begin toespits om as pluimbereider opgelei te word.

Candice se verhaal begin in 1976 in De Rust – ook in ’n volstruisomgewing, waar haar pa op volstruisplase werk. Sy raak, nes Liora, ’n tipe van ’n verewerker en ondergaan ook hartseer op vele gebiede, maar as gevolg van die feit dat sy verlief raak op die wit seun, Walter, gaan sy oorsee. Sy keer later terug na De Rust en maak vereprodukte wat sy aan toeriste verkoop. Die raakpunt tuusen Liora en Candice se verhale is die volstruisvere en dit lei tot ’n vriendskap wat alle grense oorskry. Tog verwoord Candice die belangrikste verskil tussen hulle: “Jy moet net weet dat ek nie Liora Papalato is nie – ek wil my eie goed ontwerp en maak, nie die verlede herhaal nie.”

Die roman oorspan bykans 40 jaar se vertelling wat belangrike historiese gebeure insluit en kontinente oorbrug. Van Tonder slaag meesterlik daarin om die historiese gebeurtenisse beeldryk en emosioneel te beskryf en is nie bang om die gewelddadigheid – veral teenoort vroue – te verwoord nie. Daarmee skakel Van Tonder met een van die temas van die roman: geweld, en veral geweld teenoor vroue – ’n tema wat vandag nog steeds relevant is. Ander belangrike temas is kwesbaarheid, liefde in al haar fasette, ouer-kind-verhoudings, paternalisme en seksuele identiteit. Die tema van vlug is ook ’n belangrike motief in die roman: Liora en haar ma vlug van Finisterre af; Liora vlug later Parys toe; Candice vlug Londen toe; en karakters soos Candice en Walter vlug selfs weg van mekaar.

Die verskillende ruimtes wat Van Tonder ontgin, dra by tot die veelvlakkige verhaal. Die oorbrugging van die kontinente word meesterlik uitgebeeld: van die dorre Sahara met sy warm sirokkowind (“uur na uur, nagdeur hou dit aan, met die wind wat so erg aan die vensterhortjies en dakplate stamp en pluk dat dit klink of dit gaan losskeur en wegwaai”) tot die beeldryke en skone Parys, tot die droë Karoo en die majestueuse Meiringspoort (“Die kloof vernou steeds, met bruin en geel en blou en oranje kranse weerskante van die pad”). Die ruimtes ondersteun die karakters en die tematiek en dra by tot die ontknoping van die verhaal.

’n Ander belangrike motief in die roman is die beeld van geskende liggame soos vergestalt deur Liora self, maar ook Chrestien en Maja. Nog ’n deurlopende leitmotief en interteks is Albert Camus se Die pes – wat later vergestalting kry in die oorlog en anargie in Algerië, maar die boek bring veral vir Liora troos wanneer sy ten slotte ’n afsluiting van haar eie verhaal vind: “Sy wat gebore is in ’n land sonder voorvaders en sonder geheue, sy met haar passie vir die lewe wat nou met die dood gekonfronteer word; sy wat nou voel hoe die lewe en jeug en mense haar ontglip.”

Dan is daar die motief van die swaai wat vanaf die voorblad en die eerste bladsy in die roman belangrik is tot die einde van die roman: “Sy vergeet om haarself te maak swaai en elke swaaislag word kleiner totdat sy skaars nog beweeg”; “Sy vlug na die skoppelmaai waar sy gaan sit en met bewende hande ’n sigaret opsteek”; en “Moshe staan op die skoppelmaai, buig sy bene, maak reguit. Buig.” Dit vind sy teenpool in die stelte wat Candice dra: “As jy dan so gelukkig is, vir wat hou jy jou so uitwêrelds, doer in die lug op jou pale, weg van almal af.” Die swaai en die stelte is beide motiewe van ontsnapping en wegkom van die realiteite.

Die verevrou is ’n epiese verhaal van bevryding wat waarskynlik in die slottonele ’n hoogtepunt bereik met die religieuse element van die Goeie Vrydag-optog waarin daar genesing vir etlike karakters kom: moontlike versoening tussen Candice en Walter en vir Liora: “Sedert haar deelname aan die Goeie Vrydag-optog het sy vreugde in dit wat nooit aan haar kan behoort nie” totdat sy bevrydend in die swempoel “oopvlerk op pad” sweef bo almal uit soos Moshe aan haar as kind gesê het: “Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel.”

Jan van Tonder se oeuvre bereik ’n hoogtepunt met Die verevrou. Dit is ’n moet-lees vir diegene wat van verweefde karakters en storielyne en motiewe hou.

The post <i>Die verevrou</i> beeld wêreld van volstruise epies uit appeared first on LitNet.

Wanneer water wyn word deur Vivian Kleynhans (soos vertel aan Jacqueline Leuvennink): ’n resensie

$
0
0

Opstaan ná die lewe jou telkemale platslaan, is moontlik

Wanneer water wyn word
Vivian Kleynhans, soos vertel aan Jacqueline Leuvennink
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321893

Die boekomslag vertel: Toe Vivian as 16-jarige haar pa in die winkel se deur sien staan, het sy geweet haar lewe gaan verander. Haar pa het sy werk verloor, en die gesin word uit hulle huis gesit. Vivian kan haar geluk nie glo toe ’n ouer man in haar begin belangstel nie. Hy gaan vir hulle huis op Vredenburg kry. Min weet sy watter prys sy gaan moet betaal.

Vervreem van haar familie, in ’n spiraal van mishandeling, gooi sy byna tou op. Met God se hulp kon Vivian egter van voor af begin. Vandag is sy ’n sakevrou wat wyn uitvoer.

Vivian se verhaal is een van hoop, passie, deursettingsvermoë.

Hierdie kind van Paternoster se viswaters het haar lewe omgedraai en vandag word sy as mens én sakevrou gereken. Haar tweede kans het gekom, ná baie swaarkry, mishandeling en emosionele en fisieke aftakeling.

Die boek is geskryf deur Jacqueline Leuvennink, wat verskeie boeke op haar kerfstok het. Die storie is meesleurend, maar dis die eerlike, gestroopte beskrywing van ’n Weskuskind wat die swaarste aan jou hartsnare pluk.

My boek was vol merkers oor die mooi sinsnedes wat my onmiddellik saam in daardie klein tweekamer-vissersmanshuis op Paternoster laat leef het.

Enkeles wat vir my uitgestaan het: “Vistermanne is ’n ongeskraapte lot.” Of “In die maanskyn op die strand lyk als anders. Dis soos kerslig. Als lê geel gekleur. Ons voel iets aan van ’n groot, geheimsinnige wêreld buite Paternoster.”

Met die onverbiddellikheid en ingehoue woede wat Vivian elke dag in haar ma sien, het hierdie sin spesiale betekenis: “Daar kom sit ’n harde gevoel in my nek en skouers. Ons wil onse koppe kan oplig. Dronkwees laat jou ágtertoe gaan. En ek hou van vorentoe gaan.

“Dit smyt my in ’n duwweltjieveld van frustrasie. Dis beter om stil te bly. Maar ek haat die gevoel van magteloosheid wat soms om my skouers kom hang. Ek moet keer teen die kwaadwees wat ook in my wil begin stoel. As kind het elke dag met daardie gestoelde kwaad in haar Ma saamgeleef; in vrees meestal.”

Hierdie bewuswording daar in die veld met die man wat hul hond doodgeskiet het, wat ook dreigend teenoor haar staan, is ’n reuse-openbaring wat sy op daardie jonge ouderdom nie kan verwoord nie, maar tog só intiem ken.

En natuurlik die versugting van ’n kind wat streng en arm grootword; voel dat die lewe elders gebeur terwyl die wêreld hier op jou mishoop van jou vergeet het: “I need an elsewhere. Ek weet hoe dit voel.”

Wat my die langste bygebly het nadat ek die laaste bladsy gelees het, was hierdie wysheid van haar: “Ek besef eers later in my lewe armoede laat jou wêreld krimp tot net dit wat jy rondom jou sien. In mense se stryd om die wolf van die voordeur af te weer, glip ideale by die agterdeur uit. Baie is verslaan nog voor die geveg vir iets beters eens begin het.” Dis die tipe insig van dié wat ontbeer het wat met meer mense gedeel moet word. Mens kyk anders na jou eie lewe as hierdie woorde op jou hart kom sit.

En dan kom die ommeswaai en sy vertel dat jy “op ’n dag – sonder dat jy eintlik weet hoe – jou stem terugkry”.

Maar dit maak nie saak hoe mooi en poëties haar beskrywings is nie, mishandeling kan nie mooi geskryf word nie. Dis ’n vernietigende siekte wat soos ’n vlymskerp mes deur murg en been sny en families in twee dele kap wat soms nooit die afgrond tussen hulle kan oorbrug nie.

Die boek is ’n pragtige ode aan opstaan uit die verdrukking; van kop oplig en tweede kanse. Daarin lê die mooie. Ek is onseker wie se woorde die mooies in hierdie boek is – Vivian s’n wat dit geleef het, of Jacqueline s’n wat dit geskryf het nadat dit aan haar oorvertel is.

’n Kort stukkie deur die uitgewer of skrywer oor hoe die twee vroue se paaie gekruis het en hoekom Jacqueline die skryfwerk gedoen het, sou vir my die boek baie meer lewe en konteks gegee het.

Wat wel vir my die hardste praat in hierdie boek, is die krag van ’n vrou. En hoewel hierdie ’n bruin vrou is wat swaargekry het onder apartheid en die verhaal uit daardie oogpunt geskryf is, is haar storie universeel.

Armoede, onderdrukking, en hoop verloor het geen taal, kleur of kultuur nie.

Ook nie die oorbegin en tweede kanse nie. Haar verhaal van hoop is ’n groot inspirasie vir dié in haar skoene waar ook al in die wêreld; maar ook weer ’n stilword in dankbaarheid vir dié wat nié in haar skoene staan of ooit sal staan nie.

The post <i>Wanneer water wyn word</i> deur Vivian Kleynhans (soos vertel aan Jacqueline Leuvennink): ’n resensie appeared first on LitNet.


Ons raaiselpad met alzheimersiekte deur Elise Nel: ’n resensie

$
0
0

Ons raaiselpad met alzheimersiekte
Elise Nel
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321756

Hierdie ware verhaal het verskeie emosies by my as leser ontketen. My ma (64) ly aan demensie en woon by my en my man. Ek is haar alleenversorger en dus honderd persent verantwoordelik om in al haar onmiddellike behoeftes te voorsien, hetsy liggaamlik, geestelik of emosioneel. Ons familie woon in ander provinsies en ek kan dus nie op hulle steun om vir ’n rukkie na Ma te kyk terwyl ek ’n blaaskans neem of dalk ’n draaitjie in die dorp gaan ry nie. My sibbe betaal wel maandeliks ’n geldjie oor om te help met die koop van die peperduur doeke, medikasie, ens. Hulle skakel ook gereeld om te hoor hoe dit met Ma gaan. Ek het ’n engel van ’n man wat my bystaan en begryp dat Ma se behoeftes eerste gestel word en dat elke faset van ons huishouding om haar draai. Dis ’n harde, moeilike en erg uitputtende pad om te stap. Daar is nie ’n alternatief nie – my ongetroude broer werk maande op ’n keer oorsee en my suster baklei teen kanker. Plekke wat mense soos my ma inneem, vra R12 500+ per maand en dan sluit dit nie eens haar medikasie in nie. My ma is ’n staatspensioenaris.

Hoe beskryf ek wat dit behels om na ’n demensielyer om te sien? Die naaste wat ek daaraan kan kom is om die voorbeeld te gebruik van ’n vrou wat vir ure lank in kraam is, maar wanneer die baba uiteindelik in haar arms lê, vergeet sy onmiddellik van die pyn wat die geboorte voorafgegaan het en drink net die wonder van die oomblik in. Al die opofferinge, al die moedelose huil in stilte, al die bid om krag en geduld – alles verdwyn in ’n oogwink wanneer daar ’n raar oomblik van herkenning en bewustheid in jou geliefde se oë huiwer en haar ou self deur die newels breek. Dan maak die herhalende gedragspatrone wat enige regdenkende mens naderhand tot raserny wil dryf, die skreeuende honger of dors omdat hulle vergeet het dat hulle wel al geëet en gedrink het, die uiters vreemde optrede met tye, die aggressie (verbaal én fisiek), die verlies aan sekere liggaamsfunksies en inhibisies, die hallusinasies, ens meteens nie meer saak nie, want vir ’n kort rukkie lank is jou geliefde se brein verbasend helder en is hy of sy terug. Jy hou vas aan hierdie kosbare flentertjies onthou en put krag daaruit vir wanneer jou geliefde weer “weg” is in die donker landskap waarin hulle dwaal.

My ma het my kind geword. My gestremde kind. Sy het ’n volwassene se liggaam, maar die verstand van ’n kleuter. ’n Kleuter wat nooit groot sal word nie, maar wel mettertyd heeltemal  baba gaan word. Ek is bitterlik baie lief vir my ma, maar soms raak die gedagte aan dit wat nog voorlê vir my ’n verskrikking, want dis nóú al met tye baie swaar. Die fisieke versorging is een ding. Jy ruil doeke sonder ’n oogknip om. Jy was jou ma se lyf asof dit jou eie is. Jy is daar elke keer as sy die toilet moet gebruik, want sy kan nie self afvee nie. Jy sorg dat sy eet en drink, voer haar wanneer sy soms nie die eetgerei herken nie. Jy staan drie keer ’n nag op om seker te maak sy is nog in haar bed en dwaal nie in die huis rond of het nie haar doek afgewoel nie. Dis die rugbrekende gewig van die verantwoordelikheid wat jou soms vang. Dít, en die verlies aan vryheid en spontaniteit. Jou tyd is nie meer jou eie nie. Jy kom by jou eie werk uit slegs wanneer jou geliefde vir kort rukkies slaap. Jy kom een maal in ’n maand vlugtig in die supermark, want jy moet die “uitstappie” deeglik beplan. Jy stoot die trollie met een hand en hou met die ander een jou ma se hand vas. Kry die nodige en gaan reguit huis toe. Dan sukkel jy vir twee dae om jou ma net weer rustig te kry, want al lyk dit of sy die inkopietog geniet, ontstem die gewoel en gedruis haar. Sy kyk nie TV nie, luister nie radio nie, lees nie. Sy wil jou dus heeltyd in die oog hê, jou aandag opeis. Ek en manlief het ’n oopplanhuis en werk albei van die huis af. Ek het nie ’n huishulp nie, want ons sien nie kans dat nóg iemand die bietjie privaatheid wat ons jaloers bewaak, binnedring nie.

Elke laatmiddag vat ek Ma se hand styf vas en ons gaan stap ’n ent en ons haal net asem, al vloek sy die kwartiermaan wat soms bedags in die hemel hang omdat hy kwansuis sy stertjie vir haar wys en al trek sy skewemond vir die ander stappers wat verbykom. Wanneer die huil en die moeg soms dik in my keel kom sit, dan onthou ek weer hoe my ma op ’n dag soos ’n klein, bang dogtertjie in my arms kom lê en oor en oor geprewel het: “Jy sal by my bly, nè? Jy sal my nie los nie, nè?” Liefde, empatie en pligsbesef. Dís wat my dryf om na my ma te kyk. Mens gee nie op of gooi iemand weg net omdat dinge moeilik is nie. 

Ek verstaan dus volkome waarom Elise Nel haar eens briljante eggenoot versorg het, want hy het haar gevra om by hom te bly tot aan die einde. “Jy moet altyd na my kyk, net jy moet na my kyk, jy moet altyd by my bly.” En sy het. Ten spyte van alles. Met toewyding en liefde. Want hy was haar man. “Deernis het al my moegheid en al my hopeloosheid oor ons situasie effens versag.” Haar dogter skryf dan ook in die bedankingsbrief ná haar pa se afsterwe: “Ons gun Ma nou die vrede om te weet Pa het gewéét Ma was daar vir hom; Ma was by hom.”

Elise vertel: “Dit was so swaar om my knap en intelligente lewensmaat te sien verdwyn en hierdie sukkelende, struikelende, afhanklike mens te leer ken.” “Die uitdaging om dag en nag na ’n alzheimerpasiënt om te sien, met bitter min slaap in die nag, en om terselfdertyd ’n huishouding sonder hulp aan die gang te hou ... was voorwaar ’n groot uitdaging. Maar so leer ’n mens dat die einde van jou krag en geduld, as dit moet, so ver soos die blou berge in die bekende liedjie lê.”

Sy skryf roerend oor haar persoonlike reis om hom by te staan. “Alzheimers het alle orde en genot uit ons lewens gesteel. Dit het soos ’n nare monster geword wat ons lewens heen en weer laat tuimel het.” “Wanneer ’n mens te midde van so ’n stroom is, is dit maar ’n geval van: ‘Swem, Jannie, swem.’ Daar was nie ander raad nie.” “My emosies het rondgespring tussen jammerte, ongeduld, hartseer en radeloosheid. Niemand kon vir my sê wat nog sou volg nie. Nêrens kon ek iemand kry wat reeds daardie pad geloop het om vir my raad te gee nie. Dié wat ek kon uitvra, het hulle geliefdes in versorgingsoorde geplaas voordat hulle hierdie fase bereik het. Elke nuwe uitdaging moes ek maar net leer hanteer. Die mense wat wel kennis gehad het, het al my baie vrae oor wat op ons wag, probeer wegpraat.”

Sy gesels openlik oor die stelselmatige agteruitgaan van haar man. Hoe moeilik (en later onmoontlik) selfs inkopietogte saam met hom geraak het en hoe uitdagend alledaagse bedrywighede soos badtyd en eettyd geword het. Ook die planne wat sy moes maak om hom sy medikasie te laat neem. Hy kon op ’n stadium nog help om skottelgoed te was en het die taak opsigtelik geniet, maar hy kon nie meer ’n motordeur oopmaak nie. Selfs tande borsel en skoene aantrek het ’n stryd geword. Hy moes naderhand doek dra. Het deurmekaar geraak en gedink hy sien en hoor mense waar daar niemand was nie. Die “moeilikste stukkie van die lang alzheimerpad” was sy alewige rondloop en probeer wegloop. Sy het ook agtergekom dat sy “geroep en geskree na die Allerhoogste was nie ’n gevloek nie, maar ’n hulpkreet”. “Dit was een van die enkele kere dat hy wel die hopeloosheid van die siekte se gevangeskap op ’n magtelose manier probeer verwoord het. Dit was hartverskeurend.”

Op bladsy 113 vertel Elise hoe haar man op ’n dag knaend na “Ma” bly vra het en sy toe met ’n skok besef het hy praat van sy eie moeder wat al lankal oorlede is. Hy het die doodstyding ontvang asof dit vars was en het droewig geween. My ma het weer op ’n keer na haar pa gevra en was ook erg geskok om te verneem dat hy reeds jare lank dood is. Vandag besef ek dit sou dalk genadiger gewees het om haar aandag eerder af te trek as om haar die waarheid te vertel, maar gelukkig vergeet alzheimermense gou. Dit was byvoorbeeld vir my ma een oggend vreeslik traumaties toe ek haar help om haar valstande skoon te maak en sy meteens besef het dat sy nie tande het nie. Sy het haar mond wyd oopgerek met haar vingers en in die spieël gestaar terwyl sy uitgeroep het: “Waar is my tande? Ek het dan nie tande nie.” Vyf minute later het sy die voorval vergeet.

Een oggend stap Elise se man oënskynlik sonder moeite rond. Hierna gaan sit hy op die rand van die bed en weier om weer op te staan, al soebat sy hom. Sy laat hom noodgedwonge alleen om vir hulle in die kombuis ontbyt voor te berei. Die volgende oomblik is daar ’n harde slag toe hy teen die skerp hoek van die bed se houtraam val en verskeie ribbes breek. Sy skryf hieroor: “Wat oomblikke vroeër vir hom maklik was [die opstaan en loop], kan binne minute onmoontlik wees en môre weer makliker. Soms word boodskappe van die brein af deurgestuur en ander kere is daar kortsluitings. Al hierdie dinge het ek te laat uitgevind.” “Dit het my selfverwyt soos vuur laat brand. Hy moes hierdie verskriklike duur prys betaal omdat ek in my onkunde sy onwilligheid as moedswilligheid gesien het.” Sy vertel ook hoe sy in hierdie tyd bekkenvloerbeserings opgedoen het wat ná sy dood tot ’n ingrypende operasie gely het, want sy moes ’n groot deel van sy gewig dra wanneer hy opgehelp moes word in die tyd waarin die ribbes weer moes vasgroei. Later het die tyd vir permanente bedverpleging aangebreek wat sy eie tol geëis het. Die spanning was egter tog minder, “want hy was nou tot een bed in een kamer beperk. Die aanhoudende rondhardlopery en waaksame dophou was nie meer nodig nie.”

Sy het ook besef dat alhoewel kommunikasie so afwesig was en daar geen gesigsuitdrukking was nie, haar man, wat toe permanent bedlêend was, wel nog emosie ervaar het en tog in ’n mate verstaan het. “Al het dit gelyk of hy verby weet en verstaan was, het hy steeds op ’n beperkte manier in sy verlamde liggaam geleef.” “Dat daar agter die uiterlike beeld van onbewus-wees steeds ’n lewe van hoor en herken is.”

Elise het sóveel fasette van die uitmergelende alzheimerpad wat sy saam met haar man gestap het, in hierdie boek vervat. Sy gee raad oor die praktiese versorging van ’n alzheimerpasiënt en vertel hoe sy byvoorbeeld verhoed het dat hy bedsere kry, ens. Die laaste paar hoofstukke, “Ek het geleer ...”, “Simptome om op te let”, “Raad aan die versorger” en “Ondersteuning van buite”, bevat kosbare inligting en wenke – nie net vir die versorger en/of geliefdes van die alzheimerpasiënt nie, maar ook vir diegene wat graag hulp of bystand wil verleen. Aan die einde van die boek rig sy ’n kort skrywe aan die demensielyer: “Vir jou wat sukkel om in die hoofstroomlewe aan die eise van menswees te voldoen wil ek graag die geskenk van aanvaarding en kalmte bring.” “As jy die kruk en bystand van jou geliefdes gebruik wanneer jou denke dit benodig, bly jy steeds die kosbare jy.”

Sy deel van haar dagboekinskrywings en vertel ook meer oor haar geloofstryd. Hoe sy met God onderhandel het en bly hoop en bid het op ’n wonderwerk. Hoe Hy wel meer as een keer die onmoontlike moontlik gemaak het, al het sy dit eers agterna besef. Sy het elke oggend haar oggendgebed afgesluit met: “Here, ek vra net krag, genoeg krag vir hierdie een dag.” Dis ’n gebed wat ek myself al telkens gevang bid het.

Elise skryf ook oor die tydperk ná haar man se afsterwe en roudiens: “So lank was my verstand, denke, emosies, roetine en plig in een smal stroom verswelg. Om weer in te pas en sin te maak buite daardie nou stroom het vir my onmoontlik gelyk. Mense sê so maklik dis eintlik ’n verligting, en almal het geweet dit sou kom. So dit maak die dood soveel makliker. Maar rou is rou. Dis soos ’n groot donker spelonk in jou binneste terwyl jy lag en knik en meedoen.” 

Ons raaiselpad met alzheimersiekte is ’n eerlike verhaal vol deernis. Barend Vos skryf dit is “’n roerende vertelling van ’n vrou se lewe saam met haar eens begaafde man ... Intiem en aangrypend.” Dis ’n vertelling wat jou aan die hart ruk vanaf die heel eerste paragrawe: “Ongemerk. Dit is die enigste woord wat ek het om die aankoms van alzheimersiekte te beskryf. Eers in die lyer se wete, dan in die binnekring van die huisgesin en later saggies, dwarrelend verder. Ek het so min van hierdie siekte geweet. ... net geweet dit is die siekte van vergeet.” “Die pad was onherbergsaam en my sig was soos om in ’n dowwe spieël te kyk.” “Nou sien ek dit duideliker, want ek het by die eindpunt gekom.” Hierin lê die waarde van die boek opgesluit. Elise het die pad gestap. Haar boek, wat 195 bladsye beslaan, is soos ’n welkome rigtingaanwyser op ’n onbekende pad vir diegene wat struikelend daarop moet rondtas. Ek het beslis baie waarde gevind by die lees daarvan. Elise verdien ’n toekenning vir haar dapperheid, moed en deursettingsvermoë. Hierdie boek behoort ver en wyd gelees te word.

The post <i>Ons raaiselpad met alzheimersiekte</i> deur Elise Nel: ’n resensie appeared first on LitNet.

UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Frederick J Botha

$
0
0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die 2019 UJ-prys is aan Charl-Pierre Naudé toegeken vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Luister hier na Frederick J Botha se commendatio. 

Lees ook

UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Luister ook

UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

The post UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom <em>Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey</em> deur Frederick J Botha appeared first on LitNet.

UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

$
0
0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die 2019 UJ-prys is aan Charl-Pierre Naudé toegeken vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Luister hier na Charl-Pierre Naudé se repliek.

Lees ook

UJ-pryse 2019: Repliek deur Charl-Pierre Naudé

Luister ook

UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Frederick J Botha

The post UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom <em>Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey</em> deur Charl-Pierre Naudé appeared first on LitNet.

UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom Die dao van Daan van der Walt deur Amanda Lourens

$
0
0

UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom Die dao van Daan van der Walt deur Andries Buys

$
0
0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die debuutprys is aan Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) toegeken vir Die dao van Daan van der Walt. Luister hier na sy repliek.

Lees ook

UJ-pryse 2019: Repliek deur Andries Buys

Luister ook

UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom Die dao van Daan van der Walt deur Amanda Lourens

UJ-pryse 2019: ’n video van die commendatio-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Frederick J Botha

UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

The post UJ-pryse 2019: ’n video van die repliek-toespraak rondom <i>Die dao van Daan van der Walt</i> deur Andries Buys appeared first on LitNet.

Sandveldstories deur Ferdinand Deist: ’n resensie

$
0
0

Sandveldstories
Ferdinand Deist
nb Uitgewers
ISBN: 9780624087267

ʼn Keur uit Ferdinand Deist se gewilde kontreistories uit Pofadder en Peddelford, Die pomporrel-konsert en Blom Appeltiet op Eselspoort is onlangs deur Tafelberg uitgegee as Sandveldstories.

Deist is ʼn ervare storieverteller wat die Sandveldse wêreld en unieke karakters van daardie omgewing meesterlik aan die lesers bekendstel. Die stories, wat in die tipiese streekstaal geskryf is, dra by tot die verruiming van die Afrikaanse literatuur – juis deur die gebruik van die streekstaal, maar ook deur die verskeidenheid tematiese elemente en die kleurryke karakteruitbeelding van die verskillende karakters in die verhale.

Sandveldstories bevat 30 kortverhaaltjies en “handel oor ʼn unieke wêreld en sy mense, sommige groots soos hul omgewing of klein en dwaas soos mense ook maar is”, soos op die agterblad vermeld word. Die stories boei die leser om verder te wil lees en al is dit aanvanklik nie maklik om aan die streekstaal gewoond te raak nie, pla dit nie – veral as die leser die stories hardop vir hom-/haarself begin lees.

Dit is die uitbeelding van menswees waarmee lesers sal identifiseer. Ons ken almal ʼn “ou Lettie” wat “Mar kan ’ie ou mens nou vir jou geskinner ’t!” of “ou Sarel” wat “ʼn selfgemaakte man” is wat hom opgewerk het van ʼn skaapwagter tot ʼn bywoner tot “hy op so vyf-en-veertig nie net ʼn vermoënde man gewees het nie, mar sommer ʼn miljoenêr”, of ʼn Hermaans wat “nie vannie stoepsitter-soort gewees (het) nie”. Almal karakters met wie die leser deernis sal hê omdat hulle so herkenbaar is en so met deernis beskryf word in die verhaaltjies. Interessant is dat baie titels die name van karakters in het: “Ta’ Anna se wye tanne” en “Hermaans Askies se opperasie” en “Fransiena se slieflis rok” en “Oom Willem Booise se gedagteverlies”. Dit vat ook die inhoud van die verhaal saam: “Die Jôn Deere trekter” handel oor die verkoop van ʼn ou “Lans”-trekker sodat ʼn nuwe John Deere-trekker gekoop kan word; in “Die plaag van Bawel”, wat handel oor die verwarring met tale, leer Eg Vannermerwe hoe om “Bom Appeltiet” te sê en in “Witblits betekent besigheid” leer die “agjint” die effek van witblits: “En met dié lat hy die leë beker oppie tafel neerkap, kom ‘ie tafel so ʼn ent nader aan hom toe en hy gaan weer weg van hom af.” Net soos die leser die verskillende gesigte van die Sandveldse mense leer ken, net so leer ons van die gebruike en tradisies van die mense: die inwyding van die nuwe pomporreltjie in die kerk, die skelm afluister by die telefoon op die partylyne, die negatiewe persepsies oor prokureurs, en die rol van die koster by begrafnisse.

Ook die rykheid en uniekheid van die ruimte word pragtig beskryf: “Sy’t allie jare hier op Eselspoort innie wit huisietjie m’t die twee gewels ennie buitetrap gebly”; die son brand seer “want dié kan al smôrs teen agtuur lelik in ʼn man se nek gesteek het”; “Eselspoort ‘t ok, so klein gewees ‘t, sy bodorp en sy onderdorp gehad”, maar veral leer die aarde jou: “Jy moet gespessialiseerd geraak het op darie stuk aarde. Annerster het hy vir jou afgegooi van hom af. Mar as hy jou self geteel het, dan’t hy jou nie sommer afgegooi nie en dan’t hy goed vir jou gesôre.” Dit is waarskynlik wat die verhale oordra: ʼn Mens moet een word met hierdie ruimte om hier te kan oorleef.

Deist slaag meesterlik daarin om in die tradisie van kontreiverhale soos deur Jan Spies en Herman Charles Bosman neergepen, die tipiese eiesoortigheid van ʼn kontrei, hier die Sandveld, aan die leser oor te dra. Lees die boek en raak bekend met die karakters en wêreld van die Sandveld.

The post <i>Sandveldstories</i> deur Ferdinand Deist: ’n resensie appeared first on LitNet.

50 Blertse blou deur Blouwillem: ’n resensie

$
0
0

50 Blertse blou
Blouwillem
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485308607

Wederom en welkom in ons eie bewoë stukkie wêreld hier op die ondermaanse. Die polisie is so doeltreffend dat hulle 80% van die kere reeds op die toneel is voordat die publiek ’n misdaad kan aanmeld; vroue met spraakgebreke doen in Zoeloeryns afkondigings op lughawens; die hoofstad van Moordwes is ook as Thlokwestroom bekend, en alle kombi’s is ten behoewe van die land se piepols genasionaliseer. 

Danksy Blouwillem Theron en medewerkers deur dik en dun, soos Dik Daan, Boerewors Nel van Ceres, Oom Johnny en Neef Bartel (wat hopelik alger in die tantieme gaan deel) kry ons opnuut uit Tshwanetoria (Pretoria vir oningewydes) ’n insiggewende boek. ’n Eiesoortige kykie onder die deksel word aan die leser gebied na hoe die poerlament (danksy stewige hupstote van die Kroeptas, Moergabes an andere) sake bekook terwyl Eksdom ons letterlik en figuurlik in die duisternis hou.

Moenie skrik nie, swaarbelaste ou volkie. Hierdie is geen swaarwigtige politieke boek vol statistieke, projeksies en toekomskundige visies nie. Blouwillem Theron is so plus-minus almal se pel in die suiwerste verskyningsvorm van die betekenisvolle begrip. Die wye verskeidenheid onderwerpe wat hy en sy vriende aanroer, is die dinge waaroor pelle praat as die geselskap op dreef raak.

Min weet dit seker nie, maar Blouwillem is die man wat, ondanks sy kleurryke naam, Maandae vir duisende minder blou help maak met sy rubriek oor alles en nog wat in Beeld. Die Burger en Volksblad – stigtelike leesstof wat nie sommer in ligsinnige Vuisboekboodskappe, op Wat’sApe en in Twieters rondflenter nie (en vir seker ook nie te vinde is in die gratis Kroektakoerant wat vir elke lugpassasier verpligtend is nie). ’n Derde boek, 50 Blertsies Blou, met ’n keur uit die Maandagskrywes is pas deur Protea Boekhuis gepubliseer. Mooi skoot, Protea! 

Of dit tot my eer strek of tot die skrywer s’n, is nie vir my om oor te oordeel nie, maar ons twee glo albei sterk aan die krag van die geskrewe woord. As ons van boeke praat, praat ons nie van daai ding wat met knoppies werk en soos ’n klein laptop lyk nie. Ons praat van ’n ding wat op papier gedruk is en wat jy kan saamneem na die kleinste plek in die huis of in eensaamheid bed toe. 50 Blertsies Blou is vir sulke gewigtige alleenoomblikke (en ’n paar ander) uitgeknip.

Willem se liefde vir boeke is deur sy oorlede moedertjie (ouma Tinkie) ingegee. Haar veelseggende geskenkboeke vorm feitlik ’n opsomming van sy lewe, verklap hy: Vaaljas die eensame donkie, Enid Blyton se Knikkop-reeks, Trompie, Die Uile, Joof en sy maats, Swart Kat, Rooi Jan, Die Franse Vreemde Legioen, Doc Immelman, FA Venter, Wat elke seun moet weet, Te vinnig innig, 365 dinge wat elke man moet weet, Men in midlife crisis en Sorgvrye aftrede,

Oor die vraag of sy eie 50 Blertsies die eerbiedwaardige ouma Tinkie se voorkeurlys van verdienstelike pennevrugte sou gehaal het, laat ek my liefs nie uit nie. Die boek is nou nie lelik of banaal of so nie, maar plek-plek … wel … tog stouterig. Ek wonder so in my stilligheid hoe dames met ferme standpunte oor sulke sake soos die Amanda Gouwse van hierdie dag en dae van sekere Blouwillem-beklemtonings sal hou, soos sy ode aan die onthullende bikini op haar (?) 70ste en sy verwondering toe hy ontdek nie alle meisies het swart sterre op hul noordelike dele nie. Ons lees ook van die rondborstige studentnooi met die T-hemp wat lui “Alles is nie plat in Bloemfontein nie” en die tikster by die destydse Publikasieraad wat ’n briefie uitgestuur het met die edik oor ’n tydskrif (Speelseun, meen ek) wat met die banvloek getref is weens die verbode vertoning van piepie se hare!

Hoop nie Blouwillem neem my, aan die ander kant, kwalik as ek een van sy sappigste stories in geografiese besonderhede hier lug gee nie. Dit is na aanleiding van die berugte Schweizer-Reneke-plekkiekiekie en die stomme Margaret van Wyk se indiskresie in haar verstomde hokkieklub. Toemaar, Margaret, niks nuuts onder die son nie, troos ’n simpatieke Blouwillem haar. Hy vertel dan van Sannie wat vir Boetman op die grens ’n insgelykse intieme foto ter opbeuring gestuur het. Die bokskamera (sic) en afskeepwerk in die donkerkamer het nie vir die beste produk gesorg nie. Die ontvanger draai die kiekie in sy warm Ondangwatent so en weer so, hou sy presentjie teen die lig, maar gee op lange laas moed op oor wat dit kan wees. ’n Medetroep se hulp word ingeroep. Ná lang oorweging kom die antwoord: “Jy moet maar vir Korporaal ook vra maar vir my lyk dit soos Bainskloof daar van Wellington se kant af!”

Bouwillem Theron verdien lof vir vele aspekte van sy gevatte rubrieke. In die boekie van hierdie gereelde leser (vroegsoggens al saam met ’n eerste koppie koffie) is die aardse adviese aan dese en gene dalk die onskatbaarste bates van die man se relevante geskrifte. Van sy raad is so nommerpas dat dit amper jou geloofwaardigheid in die gedrang kan bring om dit oor te vertel.

Sal ek byvoorbeeld nie aan die vooraand van ’n hoge “swart-das”-feestelikheid wat swaar op die gemoed rus, aan die hand van die man se eie ervaring by hom die ridderlike raad kry om die broek van my veteraanaandpak met cable ties vas te maak, die strikdas met behulp van ’n ekstra pajamabroek se rek toe te rus ten einde ook die frilletjieshemp te help toehou en om die baadjie nonchalant oor die arm te dra nie! Dit het soos ’n bom gewerk. Hy het ook blink idees vir Kers- en Moedersdaggeskenke, asook annerlike eggenootlike en vaderlike pligte. Nader my gerus vir gratis bladsyverwysings.

Vir egpare en ander wat weens Eksdom se langdurige donkertes name moet vind vir spontane uitbreidings van hul gesinne, bied hy onder meer die volgende verfrissendes aan: Flits Brits, Darkness Mapogo, Lampies Lampbrecht, Donker Jonker, Kerswas van As, Blackout Dube, Gaslamp Aucamp, Vuurhoutjie van Vuuren, Sonpaneel Daneel en Nagskof Boshoff .

Nie al die blertsies is gemoedelik en goedig nie. Oor die “jong baarbarre” se skending van beelde soos veral die ene van “Liewe goeie Oom Black (Swart) van alle mense” is Blouwillem behoorlik de ongeluk-de hel in. Die humor is skrynend as hy oor ’n moontlike kompromis in die skandbeeld-debakel rapporteer: soos dat generaals Christiaan de Wet, Louis Botha en Koos de la Rey se perde Fleur, Doppie en Bokkie ter wille van nasiebou vervang word met Basoetoponies; hul uniforms en roers met reënboogkomberse en knopkieries; en dat oom Paul karwagte gaan kry in die plek van die vier ou krygers wat hom so lank getrou opgepas het. Hul name is Innocent, Blessing, Lucky en Waaksaam!

By Fanus Rautenbach het hy geleer dat patos en lag met ’n traan die toppunt van goeie humor is. Nêrens pas hy daardie vername lewensles beter toe as in sy roerende stuk oor “Ouma Tinkie se Laaste Oppak” nie. Dit was kort voordat op sy vrome moedertjie (“skaars groter as ’n middelslag pikkewyntjie”) se winkelrak ook die beproewende kennisgewing “discontinued” sou verskyn. En nee, hy het toe nie al haar “waardevolle gemorsies” weggegooi nie, al het sy gedink hy gaan.

Lees ook

50 blertse blou deur Blouwillem: ’n FMR-resensie

The post <i>50 Blertse blou</i> deur Blouwillem: ’n resensie appeared first on LitNet.


Invitation to the launch of Holding the fort by Toni Strasburg

Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2019 bekend

$
0
0

Oudregter Andries Buys het vir die derde keer bewys dat dit nooit te laat is om ’n debuutroman te skryf nie. Die 80-jarige Buys is met Die Dao van Daan van der Walt, wat hy onder die skuilnaam Lodewyk G du Plessis geskryf het, onder die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse wat vanaand (Donderdagaand 13 Junie 2019) in Kaapstad bekend gemaak is.

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

Die Media24 Boeke Literêre Pryse word jaarliks toegeken vir boeke wat in die vorige jaar deur uitgewers in die Media24-stal, wat Jonathan Ball Publishers insluit, uitgegee is. Vanjaar is pryse met ’n gesamentlike waarde van meer as R200 000 in ses kategorieë toegeken.

Ander 2019-wenners sluit in die redakteur van Financial Mail, Rob Rose, vir sy boek oor die Steinhoff-debakel, Niq Mhlongo vir sy jongste kortverhaalbundel en die digter Gabeba Baderoon.

Buys alias Lodewyk G du Plessis het die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie, een van die oudste letterkundepryse in Afrikaans, ontvang nadat Die Dao van Daan van der Walt vroeër vanjaar ook met die UJ-debuutprys en die Eugène Maraisprys bekroon is. Die boek, wat by Tafelberg verskyn het, vertel die verhaal van ’n afgetrede Kalahariboer wat in ’n monnikeklooster in China sy lewensverhaal neerpen. In hul kommentaar verwys die keurders onder meer na die roman se “verbluffende veelfasettigheid”.

Ook op die kortlys vir die WA Hofmeyrprys was Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé en Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach.

By Engelse fiksie is die Herman Charles Bosmanprys toegeken aan Niq Mhlongo vir Soweto, Under the Apricot Tree, wat deur Kwela Boeke uitgegee is. Volgens die keurpaneel wys Mhlongo met dié kortverhale onder meer dat Soweto “nie net daardie plek suidwes van Johannesburg is nie, maar tot in wit ruimtes, en potensieel tot anderkant landsgrense, strek. Soweto word ’n geestesingesteldheid, ’n kulturele fenomeen, ’n manier van wees.”

Soweto, under the apricot tree deur Niq Mhlongo: ’n resensie

Die ander benoemdes vir dié prys was The Ones with Purpose deur Nozizwe Cynthia Jele en The Hum of the Sun deur Kirsten Miller.

Rob Rose wen die Recht Malanprys vir niefiksie met Steinheist: Markus Jooste, Steinhoff and SA’s biggest corporate fraud, uitgegee deur Tafelberg. Oor dié boek sê die keurders dat die Steinhoff-skandaal, anders as die onlangse staatskapingskandale, kompleks en tegnies is, en moeilik vir die publiek om te verstaan. Rose dokumenteer die gegewe met groot helderheid, verskaf nuwe insigte, en laat lees dit amper soos ’n spanningsverhaal. “Dit sal nog jare lank as naslaanbron gebruik word en stel ’n standaard vir ander ondersoekende joernaliste,” sê die keurders.
Ook op die niefiksiekortlys was The Last Words of Rowan du Preez deur Simone Haysom en Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal.

Steinheist: Markus Jooste, Steinhoff and SA’s biggest corporate fraud by Rob Rose: book review

Gabeba Baderoon is bekroon met die Elisabeth Eybersprys vir Afrikaanse en Engelse digbundels, vir haar vierde digbundel, The History of Intimacy, wat by Kwela Boeke verskyn het. Baderoon is deur die keurders geloof vir die beheerste liriek en kalme volwassenheid van haar gedigte waarin die beelde die werk doen, nie die retoriek nie. “Nie net 'n persoonlike verhaal nie maar 'n hele kurwe van die geskiedenis distilleer in die agtergond, beginnende met die diasporas wat die Kaap gevorm het tot by die meer onlangse verstrooiings wat die vorm daarvan weer verander,” sê die keurders onder meer.

The history of intimacy by Gabeba Baderoon: a review

Baderoon se bundel het te staan gekom teen Pieter Odendaal se Asof geen berge ooit hier gewoon het nie.
Die MER-prys vir jeugverhale is vir die derde keer aan Sally Ann Partridge toegeken, dié keer vir Mine (Tafelberg). Partridge het dié prys ook in 2008 en 2012 gewen. Die ander titels op die kortlys was The Reject deur Edyth Bulbring (Tafelberg) en Kraak deur Rouxnette Meiring (Tafelberg)

Die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke is toegeken vir Die legendariese Lua Verwey: Wilder as die wildtuin (Human & Rousseau), geskryf deur Dihanna Taute en geïllustreer deur Theodore Key. Dit het meegeding met Stories vir pikkies en peuters deur Gertie Smit en verskeie illustreerders, en Bennie Boekwurm se mooiste sprokies deur Louise Smit, geïllustreer deur Johann Strauss

Die keurpanele was soos volg: Vir die WA Hofmeyrprys: Francois Smith, Sonja Loots, Kerneels Breytenbach; vir die Recht Malanprys: Max du Preez, Pauli van Wyk en Pierre de Vos; vir die Herman Charles Bosmanprys: Johan Jacobs, Molly Brown en Karl van Wyk; vir die Elisabeth Eybersprys: Bibi Slippers, Alfred Schaffer en Charl-Pierre Naudé; vir die MER-prys vir jeugromans: Nanette van Rooyen, Henriëtte Linde-Loubser en Jaco Jacobs; en vir die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Magdel Vorster, Jaco Jacobs en Aldré Lategan.

The post Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2019 bekend appeared first on LitNet.

Vir mans deur Johan Ferreira: ’n resensie

$
0
0

Vir mans: Rus jouself toe om vervuld te leef
Johan Ferreira

Lux Verbi, 2019
ISBN: 9780796317902

Terwyl Cas van Rensburg se Mans en hulle wonde Jungiaanse lig op manlikheid en manlikhede laat val en Theo Kemp in Strafjaart verwys na afwesige manlike vaderfigure en rolmodelle as ’n belangrike oorsaak dat mans in die gevangenis beland, fokus Johan Ferreira se Vir mans: Rus jouself toe om vervuld te leef ook op manwees. As bekende Johannesburgse voorligtingsielkundige bespreek hy onderwerpe waarmee hy in die spreekkamer te doen kry.

Die verhalende trant waarmee hy ’n reeks situasies skets waarmee mans te doen kry, en hulle simptome, maak die boek toeganklik. Ferreira is reg wanneer hy inleidend sê dat jy jou waarskynlik êrens in die boek gaan raaklees. ’n Wye verskeidenheid kwessies wat breedweg met manlike identiteit vervleg is, kom ter sprake. Die rol wat manlike sosialisering hierin speel, is belangrik, omdat dit tot gevolg het hoe “manlikheid” uiteindelik gekonstrueer word.

Wanneer die onderwerp van angs byvoorbeeld behandel word, sê Ferreira dat mans geneig is om “dit weg te steek of te internaliseer omdat dit nie as baie manlik beskou word om angstigheid te beleef nie”. Daar moet dus “na die ware identiteit van die man gekyk en besef word dat mans ook kwesbaar en bang kan voel”. Dis in die aanvaarding van dié emosie dat die antwoord lê (en ook, sou ’n mens kon byvoeg, in die integrasie van ander emosies).  

Dis hier waar die dilemma met manlike sosialisering lê: Mans is meestal nie ’n taal aangeleer om emosies te verwoord nie en dus sukkel hulle om op ’n ervaringsvlak te deel. Dit skakel met afwesige pa’s wat hier, soos in Strafjaart, ter sprake kom. Ferreira noem dat manlike identiteit grootliks aan werksukses gekoppel word en moedig ’n meer gebalanseerde uitkyk aan.

Ferreira gee in sy vertellings leidrade oor hoe hy die spreekkamersituasies hanteer het. Hy poog dus om ’n ruimte te skep vir selfrefleksie na aanleiding van die scenario’s wat hy skets. ’n Paar vrae dien telkens as hulpmiddel om jouself te toets in terme van die simptome wat bespreek word.

Die boek is in verskillende afdelings verdeel wat gaan oor verhoudings, verslawing, gemoedsprobleme, lewensfase-uitdagings en traumatiese ervarings. Situasies wat aan die orde kom, wissel van reeksverneukery tot afpersing na ’n buite-egtelike kuberverhouding, ’n lewensmaat met demensie, pornografie-, dwelm- en tegnologieverslawing, bipolêre gemoedsteurnis, posttraumatiese stres, loopbaankeuses, ’n middeljarekrisis, oefening, vriendskap, selfvertroue, aftrede, verhuising, kanker en nog meer.

Moenie indringende ontleding hier verwag nie. Cas van Rensburg kan ons waarskynlik meer daarmee help. Jy sal waarskynlik wel weerklanke van jou eie ervarings raakhoor in hierdie boek. Dit kan jou stem tot bestekopname en nadenke oor waar jy jou bevind. Jy kan ’n paar stimulerende gedagtes kry wat jou situasie verhelder en volgende stappe aandui.

The post <i>Vir mans</i> deur Johan Ferreira: ’n resensie appeared first on LitNet.

Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie vir 2019

$
0
0

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2019 is pas aangekondig. Dit is Pieter Odendaal vir sy bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (uitgegee deur Tafelberg Uitgewers). ’n Rekordgetal van 17 bundels is voorgelê en die kompetisie was besonder straf. Die ander twee digters op die kortlys was (alfabeties) Corné Coetzee vir Nou, hier en Jolyn Phillips vir Radbraak (albei uitgegee deur Human & Rousseau).

Die grootste verdienste van Odendaal se bundel is volgens een van die drie beoordelaars “die oorspronklike, verbeeldingryke en vernuftige wyse waarop hy die huidige Suid-Afrikaanse samelewing in ’n toestand van ‘op-weg-wees’ uitbeeld”. Lesers word gekonfronteer met vrae rondom persoonlike betrokkenheid en aandadigheid, historiese verbande en erfenis, verantwoordelikheid, en ander verwante vraagstukke. Die sukses van die bundel berus nie slegs op die hantering van hoogs aktuele tematiek nie, maar “op ’n deurlopende toepassing van ontwikkelde verstegniek om dit lewend en skrynend te maak”.

Die ongewone bundeltitel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, vang die aandag vas deur die oproep van “ʼn alternatiewe, ongeskonde bestel, ʼn natuurlike oerbestaan sonder die eietydse problematiek wat deur menslike intervensies geskep is. Die vraag wat bly hang, is wat die mens te doen staan om sin te maak van die gevolge – op sigself ʼn boeiende gedagte.”

Die kanon word verryk “met ’n vars en ongewone vorm van betrokke literatuur”. Die hantering daarvan is besonder volwasse: “die gedagtegoed is verruimend en die verstegniek reeds gevorderd en skerp. Ook ten opsigte van diepte en wydte van sowel die denke as die verbeelding, die taalvernuf en die gesuggereerde tematiese samehang” is dit ʼn wenbundel.

Die beoordelaars het ook groot lof gehad vir die ander twee bundels op die kortlys.

Corné Coetzee se Hier, nou word bestempel as “’n besondere debuut, ’n digte teks waarin die talige selde die aandag vir sigself opeis, maar so keurig versorg is dat dit wat anderkant die talige aanbod lê, die fokus van die leser se aandag word, om weer láter te besin oor presies hoe stip die taal aangewend is. Dit is ’n bundel wat spreek van rypheid, oorwoënheid en menslikheid”. ʼn Ander beoordelaar skryf dat hoewel die tematiese inkleding rondom die persoonlike sentreer (die huis, gesin en aktiwiteite wat daarmee verband hou), is die werking daarvan eksemplaries: “Dit is die agterdoek waarteen die algemeen-menslike situasie, en veral die tragiek van gebrokenheid, onvrede, buitestaanderskap en desillusie, hom afspeel – as metafore vir die bestaansituasie, maar ook as eenheidskeppende faktor.”

Jolyn Phillips se Radbraak word as ʼn “merkwaardige” debuutbundel beskou, veral deur die “volgehoue verkenning van gebrokenheid en gebroke taal”. Die benutting van die taal van verskillende streke, soos Gansbaai, Perdeberg en die Kaapse Vlakte, asook van isiXhosa, is “’n verfrissende toevoeging tot die Afrikaanse digkuns”. Die karakters en stemme wat in hierdie toeganklike, sterk en afgeronde bundel aanwesig is, “kompeteer nie met mekaar nie en hierdeur normaliseer Phillips amper hul uniekheid”, lui ʼn ander verslag. Die digter is in beheer van haar stof en die kwesbaarheid van mense in haar omgewing word met “sagtheid” aangebied. Die liriese kwaliteit van die verse word ook aangeprys –die sangerigheid van sommige gedigte word as “sjarmant” beskou.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel – die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die beoordelaars was die digters Zandra Bezuidenhout, Martjie Bosman en Ronelda Kamfer. Die komiteelede is almal vrywilligers: Ronel de Goede (Foster) is die sameroeper, en die ander lede is Finuala Dowling, Vincent Oliphant, Kobus Moolman en Marius Crous. Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op. Die prys word op 14 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Die prysgeld van R10 000 is ’n skenking deur die Dagbreek Trust.

The post Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie vir 2019 appeared first on LitNet.

Blou is nie ’n kleur nie : ’n leeskring se bespreking

$
0
0

 

Blou is nie 'n kleur nie deur Carin Krahtz was die onderwerp van ’n LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel deur Elize Vos en Ronel van Oort (https://www.litnet.co.za/n-selfgerigte-leesproses-traumabelewing-en-verwerking-in-die-jeugroman-blou-is-nie-n-kleur-nie-deur-carin-krahtz) waarin daar onder meer ’n baie goeie ontleding en verwysing na resensies en gesprekke met die skrywer voorkom.

Estelle Kruger het besluit om Krahtz se boek by die leeskring in Sedgefield waarvan sy ’n lid is, te behandel en het ’n interessante benadering daarvoor gebruik. Sy vertel hier hoe sy te werk gegaan het.

Ek deel graag met LitNet-lesers wat ek Vrydag met ons plaaslike leeskring hier in Sedgefield gedoen het in my aanbieding van Blou is nie 'n kleur nie – ’n jeugroman wat Sanlam en die MER-toekenning se goue pryse ontvang het.

Na aanleiding van Elize Vos en Ronel van Oort van NWU se artikel oor die boek einde Oktober verlede jaar het ek baie inligting op die punte van my vingers gehad.

Omdat ek nie 'n spreker of ’n letterkundige is nie, maar 'n groepsfasiliteerder, het ek die gesprek op die volgende manier gestruktureer:

My inleiding was dat omdat dit 'n omstrede boek is, die ATKV besluit het om die boek vir 'n ATKV-Veertjie te oorweeg. Die ATKV wou egter nie beoordelaars se mening kry nie (dit was daar klaar met die Sanlam- en MER-beoordelings), maar eerder die menings en reaksies van leeskringe in Suid-Afrika.

Ek het die dames (ons was 10) vir die doel van die bespreking in drie groepe ingedeel volgens hulle keuse:

  • Ja, die boek moet voorgeskryf word vir gr 10–12.
  • Nee, die boek moet nie voorgeskryf word nie.
  • Onseker of dit voorgeskryf moet word of nie.

Het ek pret gehad om hulle so interaktief te laat deelneem! 'n Klassieke debatsvorm of skynhof...

Sodra hulle 'n mening gelug het, moes hulle skyfies (rooi vir nee en wit vir ja) in blikkies gooi sodat die “onseker” groep uiteindelik die laaste sê hiermee kon sê.

Ook het ek vir hulle 'n responsvraelys gegee, en die lys van kriteria (wat ek kwansuis gebruik het toe ek ‘n beoordelaar vir die MER-prys was), waarvolgens hulle kon besluit na aanleiding van die literêre waarde en hul response.

Die was 'n heerlike oggend, met baie energie – selfs intensiteit.

Uiteindelik het ek vir hulle gesê dat dit net 'n verbeeldingspeletjie was en ons nie regtig vir die ATKV ons reaksies gaan stuur nie.

Wat 'n gelag het dit nie uitgelok nie, wat sommer dadelik die spanning (en gevoel van openbare verantwoordelikheid) verbreek het!

Volg hierdie skakels vir nog artikels oor die boek:

Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz: ’n resensie

MER-prys vir jeugromans 2018: Wenner- en kortlysmotiverings

The post <em>Blou is nie ’n kleur nie </em>: ’n leeskring se bespreking appeared first on LitNet.

Viewing all 1322 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>