Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1320 articles
Browse latest View live

Nederlandse vertalers van Mede-wete vir Filter Vertaalprijs benoem

$
0
0

medeweten

Die Nederlandse vertalers van Mede-wete deur Antjie Krog is vir die 2016 Filter Vertaalprijs benoem.

Alfred Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar se Nederlandse vertaling van Antjie Krog se jongste digbundel is benoem vir die gesogte Nederlandse vertaaltoekenning, die Filter Vertaalprijs. Schaffer is self ’n bekroonde digter en woon in Kaapstad.

Medeweten is een van vyf finaliste en ook die enigste digbundel wat meeding om die €10.000-prys. Die wenner word op 22 April tydens die International Literature Festival in Utrecht bekendgemaak.

The post Nederlandse vertalers van Mede-wete vir Filter Vertaalprijs benoem appeared first on LitNet.


Boekresensie: Rympies vir pikkies en peuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit

$
0
0

rympies_vir_pikkies650

Rympies vir pikkies en peuters
Saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit
Tafelberg
ISBN: 9780624074281

Met die verskyning van Rympies vir pikkies en peuters verlede jaar is ‘n waardevolle skat tot die kinderletterkunde in Afrikaans toegevoeg. Hierdie pragtig-geïllustreerde prent-en-klank-boek is gemik op die voorskoolse kind in ‘n baie belangrike en ontvanklike ontwikkelingsfase. Dit is vir voorlees en saamspeel. Vir leer deur die wonderspel van woorde, klanke, ritmes en illustrasies. En met hiérdie lekkerte gaan ‘n groot skoot humor gepaard.

Hoe lyk die kabouters wat hier leer?

Mooiste mensie (15)

Trippel toontjies
Vastrap voetjies
Knokkel knietjies
Blinkvet beentjies
Poeding pensie
Mooiste mensie!
- Theresa van Baalen

Is dit nou nie toonkrullekker nie!

In Die Afrikaanse Skryfgids vra Philip de Vos die vraag: Is kinderverse maar net versies geskrywe deur grootmense wat nie weet hoe om ordentlike gedigte te skryf nie? Dan beantwoord hy sy eie vraag: Jy moet besef dat as jy ‘n versieskrywer wil wees, jou werk tien keer beter moet wees as dié van die grotes (digters), want as jou werk goed genoeg is vir publikasie, gaan kinders jou versies hopelik eendag in die klaskamers of op die plaaslike eisteddfods opsê. En juis hierin lê die waarde van hierdie nuwe bundel opgesluit: in die opvoedkundige krag daarvan.

Na die sukses van Nuwe kinderverseboek (2009), saamgestel deur Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh, pak hierdie wenspan ‘n nuwe projek aan, geïnisieer deur die opvoedkundige en kenner van vroeëkindonderwys, Gertie Smit. Geskoei op die nasionale kurrikulum vir voorskoolse onderwys, is onderwerpvelde geïdentifiseer en riglyne aan skrywers gekommunikeer. Die span was op soek na gediggies, liedjies en aksierympies. Kort genoeg om binne die klein kind se aandagspan te bly en in eenvoudige woorde met baie herhaling en klanknabootsing. Die resultaat is ‘n pragbundel met ‘n keurversameling van versies vir kinders tussen die ouderdomme van 1 en 3 jaar.

Die bundel is ‘n prenteversboek en dus ‘n kombinasie van verbale en visuele tekens wat waardevolle leergeleenthede vir die voorskoolse kind bied. Die temas in die bundel dek die leefwêreld van die kleintjies in eenvoudige, vonkel-Afrikaans. Dit sluit in onderwerpe soos “hier is ek”, “ek speel”, “rondom my”, “ek raak slim” en “in die natuur”. Hierdie laaste tema van omgewingsbewusmaking en die kweek van ‘n deernis met die natuur is ‘n leerarea van al groter belang. Daarom is die versies in hierdie gedeelte van onskatbare waarde binne die vroeëleer-en-ontwikkelingskurrikulum:

Swaardra (174)

Klein slakkie en ou skilpad
dra al twee baie swaar.
Hulle sug so ug-ug-ug
met hul huisies op hul rug.
- Rika Nel

Hoe lyk ‘n ideale kindervers dan?

Volgens Die Afrikaanse Skryfgids moet kinderletterkunde geskryf word vanuit die perspektief van die kind. Dit moet ‘n vinnige pas hê en nie neerbuigend wees nie. Sedepreke en lessies moet vermy word en boodskappe moet slim oorgedra word. Die dialoog moet oortuig en in die geval van kleinkindverse moet dit spesifiek lekker hardop voorgelees kan word.

Die kleinkindvers is bedrieglik eenvoudig. In werklikheid verg dit slim dink, slyp en skaaf totdat “dit uiteindelik nes ‘n klein juweeltjie blink” (Philip de Vos, 2012:133). Die ritmiese en metriese vorm daarvan moet meesleurend wees en die rympatroon moet die kind se geheue stimuleer. Sulke verse ontwikkel ook die kind se taalvaardigheid. Die rymverse in die bundel sluit aan by die ervaringswêreld van die klein kind en sluit elemente soos die herhaling van woorde of klanke, klanknabootsing, bogwoorde, dialoog, vraag-en-antwoord-rympies, aksierympies, lekkersê-uitdrukkings, skote humor, raaisels en illustrasies in ‘n bonte mengelmoes van kleur in.

Met hierdie bundel voorsien die samestellers in ‘n groot behoefte. Daar is ‘n leemte in Afrikaans vir rympies, wat ‘n baie belangrike plek in kleinkindonderwys beklee. Studente, onderwysers, ouers en grootouers is voortdurend op soek na lekker voorlees en na-sê-versies in Afrikaans. En hier is dit nou, vir die heel ou kleintjies, ‘n kostelike boek wat baie harte gaan steel.

Deur die samehang van woorde, klanke, ritme en illustrasies word die klein kind blootgestel aan en meegevoer binne ‘n heerlike leerervaring. Dit bied ‘n wyse van blootstelling en verstaan van alledaagse gebeure, “vrolilkheid en olikheid” uit die leefwêreld van die kind.

Volgens Susan Smith het letterkunde, as bron van woorde, die potensiaal om ‘n kritiese bewussyn te kweek en te kan optree as ‘n etiese en epistemologiese vrymaking. Letterkunde, en spesifiek dan ook kinderletterkunde, beskik dus oor die potensiaal om op te voed. Kinders leer immers deur te speel, en wat is dan lekkerder as om vermaak te word deur ‘n sprankelversie wat jou ore kielie en jou lagspiere laat werk? “Luister” na hierdie ene deur Fanie Viljoen:

Veilig in die huis (37)

Sluit die deur,
bruinoogbeer,
Vensters toe,
kangaroe.
Almal slaap,
lammerskaap!

Dit is ‘n versie oor slaaptyd, maar ook oor veiligheid in die huis. Oor versigtigheid om met oop vensters en deure te slaap, maar dit word op ‘n speelse wyse oorgedra waar die kind humoristies met die realiteit gekonfronteer word.

Hoe vra jy? (137)

As jy skree, sê ek nee.
As jy vra, sê ek ja.
- Samantha van Riet

Rondom die tema van families is daar verskeie versies wat gesinsverhoudinge, gehoorsaamheid, goeie maniere en dies meer aansny, soos wat bostaande versie eenvoudig, maar kragtig uitbeeld.

Wat die illustrasies in die bundel betref, is daar van vyf kunstenaars gebruik gemaak, naamlik Maja Sereda, Adelle van Zyl, Alzette Prins, Susie Appleby en Sam van Riet. Volgens Maria Nikolajeva is ‘n prenteboek ‘n unieke kunsvorm, gebaseer op die kombinasie van twee vlakke van kommunikasie, naamlik die visuele en verbale. Al die illustreerders in hierdie versbundel slaag met hul individuele tegniek daarin om die woorde van die versies op so ‘n wyse aan te vul dat die boodskap speels, kleurvol en emosiebelaai aan die klein kind oorgedra word. Reeds van die omslag van die bundel, waar die blou aardbol met die vrolike bewonertjies teen ‘n gelukkige geel agtergrond voorgestel word, tot die laaste gedeelte wat handel oor die natuurlike omgewing, is die visuele voorstellings aangrypend. ‘n Vrolike, helderbont wêreld van geluk, humor en liefde word uitgestraal.

‘n Baie belangrike gedeelte van hierdie bundel is die gebruikersgids aan die einde (188–195, saamgestel deur Gertie Smit, wat die opvoedkundige waarde van die werk ondersteun. Hiermee gee Smit ‘n uiters bruikbare uiteensetting van hoe die versies in die verskillende leerareas aangewend kan word.

Soos by die prenteboek lê die krag van hierdie bundel in vryheid, kreatiwiteit, verbeelding en speelsheid opgesluit. Met werke soos Rympies vir pikkies en peuters bied Suid-Afrikaanse skrywers en illustreerders ‘n unieke leergeleentheid aan die baie jong kind. Deur die interaksie tussen teks (verse) en illustrasie word belangrike lewensboodskappe op ‘n speelse wyse aan die kleintjies gekommunikeer. Prenteboeke kan kragtige werktuie in die sosialiseringsproses van kinders wees. Die kind kan identifiseer met die karaktertjies, die gebeure, die dialoog en die situasies binne die verse. Sodoende kan hulle ‘n eie opinie oor die self en die wêreld om hulle vorm.

Kinderletterkunde beklee immers ‘n baie belangrike plek in die totale opvoedingsproses van jong kinders.

Elkeen van die samestellers van hierdie pragwerk verdien ‘n pluim in die hoed!

The post Boekresensie: Rympies vir pikkies en peuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit appeared first on LitNet.

Uit die argief: Toespraak deur Leon Rousseau by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag

$
0
0

Praatjie deur Leon Rousseau op Vrydagaand 13 Februarie 2009 in Leinster Hall, Kaapstad. Hierdie bydrae het oorspronklik op LitNet verskyn op 26 Februarie 2009.

 

 

Die oerbeginne

Voor ek begin, eers baie dankie aan NB-Uitgewers vir vanaand se vrolike en deftige byeenkoms. Die oorspronklike H&R, dit wil sê ek en Koos Human, is vanaand hierheen gebring deur ’n chauffeur agter die stuur van ’n pragtig-opgepaste Rolls Royce uit die jaar 1958. Baie gepas, want 1958 was in die verhaal van H&R ’n belangrike jaar.

Op die oorspronklike agenda vir vanaand was daar: “Leon Rousseau praat 15 minute, Koos Human praat 15 minute, Kerneels Breytenbach antwoord.”

Dit sou darem te wreed gewees het. Ek en Koos het besluit om saam net omtrent ’n kwartier te praat. (Applous asseblief.)

Human & Rousseau Uitgewers is vandeesmaand 50 jaar oud. Om iets van die firma se oorsprong te verstaan, is dit nodig om meer as 50 jaar in die verlede terug te flits, na 1956.

Ek was ’n redaksielid van Die Burger in Kaapstad, ’n jeugdige 25. Die ewe jeugdige Koos Human, wat weldra my vennoot sou word, het in dieselfde jaar uit die destydse Transvaal na die Kaap gekom om by Nasboek te werk. Dit was destyds die uitgewersafdeling van Naspers (vandag Media 24).

Ek en Koos was nie onmiddellik van mekaar bewus nie, want daar was min kontak tussen Die Burger in Keeromstraat en die uitgewery in die Tygerberg.

In daardie jaar het ek dit in my kop gekry om by Die Burger te bedank en vryskut te word. My kollegas het min hoop vir my planne gesien. Op my laaste werkdag het ons hoofsub, Willem Wepener, ’n spotprentjie geplaas waarin ’n netjies-geklede man aan ’n verflenterde bedelaar iets sê soos: “Dag, ou Leon, en hoe gaan dit met jou nuwe boek?”

Meer deur geluk as wysheid het ek toe al ’n huis en ’n vrou gehad. Die huis was Rugbyweg 7, heel bo teen die berg in Oranjezicht. Die dennebome van Tafelberg het trouens in ons agtertuin begin. Ek het £3 600 vir die baie eenvoudige en beknopte huisie betaal, maar die uitsig was na my skatting £3 000 werd. Dus somtotaal, soos Dirk Opperman graag gesê het, nie ’n slegte koop nie. Hier het ek ywerig met ’n nuwe Fritz Deelman-boek begin, elke dag op my ou Underwood ’n hoofstuk getik en die boek binne ’n maand voltooi. Dit was waarskynlik Fritz Deelman en die swart eiland.

Enter Koos Human. Die eerste outeurskontrak is nog deur George Minnaar na Die Burger gebring vir my om te onderteken, maar hy is in 1956 deur die jeugdige Koos Human as hoof van Nasboek se afdeling algemene publikasies opgevolg. Alles het in daardie dae op presies die regte tyd gebeur. Ek het gou besef ek het nou met ’n professional te doen. Sy bynaam in uitgewerskringe, The Boy Wonder, was nie onvanpas nie. Koos het my belangrik laat voel deur in eie persoon kontrakte en pas-gepubliseerde boeke na my huis te bring. Hy het daardie jaar reeds twee Fritz Deelmans laat verskyn. Ons het dadelik gekliek en gou vriende geword. Van toe af het die lang skraal wit Ford met die lang, ekstra-skraal Koos Human agter die stuur, meer dikwels voor Rugbyweg 7 kom stilhou.

As vryskut moes ek meer doen as skryf. Spoedig ontvang ek van JD Pretorius, hoof van Tafelberg-Uitgewers, wat toe hoofsaaklik boekklub- en slapbandboeke uitgegee het, ‘n manuskrip deur ene Gerrie Radlof om te sub. Dit was die skuilnaam van Gerrit van Zyl, nou lankal dood, maar toe in Tamboerskloof woonagtig. Hy was die skrywer van die Buiter-boeke en baie ander. Na ek die manuskrip nagesien het, nooi ek die skrywer om my veranderings oor ‘n drankie in die Café Royal te kom bespreek. My kasboek uit daardie dae wys van tyd tot tyd “Drankies, 7/6”.

Gerrit was ’n fenomeen. Hy kon homself op ‘n Vrydagaand in sy werkkamer toesluit, gewapen met ’n bandopnemer (dit was ‘n Grundig), en iets vir die dors, en teen Sondagaand ’n boek klaar dikteer. Hy word hier genoem omdat hy die ontstaan van die firma Human & Rousseau help moontlik maak het.

As jy 25 of 26 is, sien jy vir baie kans. Na ’n ruk besluit ek en Gerrit om saam ’n onderneming te begin. So gesê so gedaan. Gerrit bedank by African Homes Trust om voltyds te skryf, ek koop vir £100, as ek reg onthou, ‘n bankrot persagentskap, Afritopics, by ene Nico van Rensburg. Ons verander die naam in die Uniale Persdiens en ek vestig dit in twee kantore in die Volkskas-gebou in Adderleystraat. Gerrit het tuis gewerk.

Min kon ek toe droom dat dié kantore binne twee jaar deur ’n nuwe firma, Human & Rousseau, beset sou word.

Na ‘n ruk koop ek Gerrit van Zyl uit, en teen Koos Human se tweede jaar by Nasboek is ek die alleeneienaar van Uniale Persdiens. Die firma het sy geld gemaak deur buitelandse foto’s en artikels aan plaaslike blaaie te verkoop, aangevul deur my vryskutwerk.

Vroeg in 1958 word Koos Human deur ’n aantreklike aanbod na ’n ander uitgewery, die Afrikaanse Pers Bpk van Johannesburg, gelok, maar na nege maande kon hy dit skaars meer daar uithou.

As gevolg hiervan kry ek op ’n dag uit die noorde ’n oproep van hom. Hoe lyk dit, vra hy, wil jy nie saam met my ’n uitgewery begin nie? Dit was die grootste kompliment wat ek ooit kon kry.

Vroeg in 1959 trek hy toe by die twee kantore in Adderleystraat in. Hoe ons ingepas het, onthou ek nie mooi nie, want ons was vier: ek en Koos, my sekretaresse, Helena Thiart van Windhoek (sy het dadelik ons albei se sekretaresse geword), en Ebrahim Petersen van Distrik 6, ons bode.

Ebrahim het ’n kleurryke Kaapse Afrikaans gepraat wat vir Koos Human seker nuut was. Hy het sy vrou, vir al wat ek weet ‘n lankmoedige vrou, teenoor ons beskryf as “die vrietende kanker”.

Koos Human was ’n bietjie soos Odusseus van ouds. Hy het altyd ’n plan gehad. Gedagtig aan die nuwe firma se beperkte middele het hy idees saamgebring vir verskeie dun maar nogal elegante boekies waarvan klein oplae gedruk kon word. Van die heel eerste een, The Last Division deur Anthony Delius, byvoorbeeld, is 1 000 eksemplare deur Tulp van Zwolle in Nederland gedruk. Die toegespykerde kis met die hele oplaag is by Koos-hulle se huis in Kampsbaai afgelewer en oopgemaak in wat destyds die bediendekamer genoem is.

Van kapitaal was daar geen sprake en geen sent nie. Alles moes uit Uniale Persdiens se inkomste kom. En terwyl die firma my, my vrou en ons eerste baba tevore ’n gerieflike inkomste besorg het, kon dit met moeite twee vennote en hul gesinne onderhou. Boonop moes ons nog boeke laat druk, voorskotte betaal, omslae laat ontwerp, manuskripte laat nasien.

So is die Human & Rousseau-boompie ’n halwe eeu gelede geplant. Dit was swaar tye, broekskeurtye, maar onvergeetlik – en ja, ook heerlik!

Ek het nou so min of meer die eerste jaar behandel. In Koos se vyf minute kan hy nou vertel wat in die volgende 49 jaar gebeur het.

Lees ook: Koos Human onthou Leon Rousseau.

The post Uit die argief: Toespraak deur Leon Rousseau by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag appeared first on LitNet.

Amraal @ US Woordfees 2016

$
0
0

Amraal
Marinda van Zyl
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624075615

In 2015 haal Marinda van Zyl se manuskrip Amraal die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. 

Kyk foto's en lees nog omtrent NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015.

Amraal is nou gepubliseer en is ’n historiese roman, gebaseer op die ware lewe van ’n merkwaardige Afrikaanssprekende Khoi-Khoiman, Amraal Lambert.

Amraal se naam verskyn in talle reisbeskrywing rondom 1800.

Marinda van Zyl

Hy was ’n mens van aansien en ’n persoon wat geglo het in menseregte. Hierdie verhaal gaan, onder andere, oor sy stryd om sy eie kinders buite bereik van die inboekstelsel te hou, want Khoi-Khoi is tot hulle 25 jaar oud was by wit kolonialiste ingeboek. Die inboekstelsel was eintlik maar verwant aan slawerny.

Elna van der Merwe was tydens die US Woordfees in gesprek met die skrywer. Van der Merwe sê die krag van hierdie teks gaan juis daaroor dat hier ’n swart stem - ’n swart hoofkarakter - aan die woord is.

Elna van der Merwe en Marinda van Zyl

Twee van Amraal se afstammelinge het die praatjie bygewoon. Horst Kleinschmidt, ’n toenmalige politieke gevangene en later adjunk-direkteur-generaal en hoof van mariene-en-kusbestuur, asook Kenneth Makatees, ’n bekende nuusman verbonde aan SABC News, kan hulle bloedlyn direk terugvors na Amraal oor wie die boek geskryf is.

Horst Kleinschmidt, Marinda van Zyl en Kenneth Makatees

Foto's voorsien

The post Amraal @ US Woordfees 2016 appeared first on LitNet.

US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika?

$
0
0

watnousuidafrika250Al word die engel Gabriël Suid-Afrika se volgende president sal dit nog sewe jaar duur om die gemors in die land reg te maak.

So het die oudrektor van Noordwes-Universiteit en tans die nie-uitvoerende voorsitter van die FW de Klerk Stigting, Theuns Eloff, tydens die bespreking van sy nuwe boek, Wat nou, Suid-Afrika?, by die Woordfees gesê.

Eloff het sy gedagtes in ’n volgepakte ATKV-Boektent gedeel oor daardie dinge waaroor alle Suid-Afrikaners om braaivleisvure wonder en praat: Is ons ’n mislukte staat?

In sy gesprek met die politieke joernalis Jan-Jan Joubert het Eloff geen doekies omgedraai nie. Die land is in groot moeilikheid, maar dit is nie nodig om in sak en as te gaan sit nie.

Wat hom betref, is die land nie ’n mislukte staat nie, maar wel ’n gekweste staat.

Die wonde wat die land toegedien is, sny diep. Eloff het geen rooskleurige prentjie geskep van die huidige Suid-Afrika nie. Die bedreigings wat op almal se lippe is, rammel hy die een na die ander af: werkloosheid en verlammende armoede, die impak van regstellende aksie, die bedreigings vir die oppergesag van die Grondwet, die probleme in ons onderwys, misdaad ... noem maar op.

_MG_3006

Eloff se kommer en hoop vir die land word nie uit die duim gesuig nie. Hy steun op die jongste navorsing en op sy ervaring in die politieke en sakewêreld om nuwe perspektief op al hierdie kwelvrae te gee.

Eloff het Woordfeesgangers vinger op die pols vertel hoe hy die land tans beleef en waarom hy ondanks alles steeds passievol is om nie net by braaivleisvure te sit en mor nie, maar om die bul by die horings te pak. Hy glo dit kan gedoen word sonder om altyd polities korrek te wees.

Met dieselfde passie waarmee hy hom destyds as studenteleier beywer het vir ’n beter en regverdiger Suid-Afrika, doen hy dit nou nog. Almal wat die geskiedenis ken, sal onthou hoe PW Botha sy en die ander jong “rebelle” van destyds se paspoorte wou terugtrek toe hulle in die tagtigerjare deel was van ’n groep Afrikaners wat Dakar toe is om met die ANC te praat oor die land se toekoms.

Eloff praat uit ondervinding van die donker verlede van destyds wanneer hy oor vandag se troebel stand van sake gesels.

Dit is nie net die staat wat die wonde dra van dit wat tans in die land gebeur nie. Eloff is self diep gewond as rektor by die Universiteit van die Noorde. Wonde waarvan die letsels duidelik nog sigbaar rou is.

“Ek het bewustelik nie in hierdie boek oor hoër onderwys geskryf nie,” sê Eloff. “En ek sal dalk net te kwaad raak as ek vandag daaroor praat.” Maar hieroor is die laaste woord duidelik nog nie gespreek nie. Hy het aangedui dat dit waarskynlik die volgende boek is wat besig is om in sy kop te broei.

Eloff gee toe dat die land nie in ’n japtrap in ’n paradys sal verander nie. Enige nuwe president wat ná Zuma kom, sal van voor af moet begin en ’n nuwe kultuur van etiek in veral die staatsdiens moet invoer.

Terwyl regerings regoor die wêreld kaderontplooiing suksesvol gebruik het om hulle onderskeie lande reg te ruk deur die regte mense in sleutelposisies te plaas, gebruik Zuma dit om diegene naaste aan hom in daardie posisies aan te stel om homself te bevoordeel, sê Eloff.

Ook die manier waarop regstellende aksie toegepas word, het ’n verwoestende uitwerking op die land. Die gevolg daarvan is dat die minderheid van die bevolking ontuis voel in hulle eie land en onbevoegde mense soms aangestel word in poste wat hulle nie kan bemeester nie.

Dit is veral die chaos in die onderwys wat hom kwel. Die grootse sondebok hier is volgens hom die ANC-geaffilieerde onderwysvakbond Sadou. Hy glo dié vakbond het ’n verwoestende greep op die land se skole wat die opvoeding van kinders duur te staan kom.

Die ander vrot appel in die onderwys is die taalprobleem. Nie Afrikaans nie, maar Engels. Leerders met inheemse tale as moedertaal ontvang van graad 3 af onderrig in Engels in plaas van in hulle eie moedertaal. Dit terwyl die meeste van die onderwysers nie eers self behoorlik Engels kan praat nie!

Om hierdie probleem reg te stel sal volgens Eloff minstens 12 jaar – die lengte van ’n kind se skoolloopbaan – duur.

_MG_3017

Die woelinge op voorheen Afrikaanse universiteitskampusse en die optrede van organisasies soos Solidariteit en AfriForum se jeug om Afrikaans as onderrigtaal te verdedig is een van die sake waaroor Jan-Jan Joubert Eloff gepols het. Wat doen Solidariteit en AfriForum reg om die onrus op kampusse aan te spreek en wat doen hulle verkeerd, wou Joubert weet.

Met sommige se goedkeuring en tot ander se ontsteltenis was Eloff besonder sag en tegemoetkomend oor die jeug van AfriForum en Solidariteit se optrede op die kampusse, al stem hy nie altyd saam met hulle strategie nie.

Sy verduideliking is dat baie Afrikaanse studente nie polities geskool is nie. AfriForum se jeug is volgens hom die enigste organisasie wat studente weer meer betrokke gemaak het en hy verwelkom dit.

As voorbeeld van hulle sukses het hy die onlangse ooreenkoms genoem wat tussen Solidariteit, AfriForum, die ANC en die SAKP bereik is om gemoedere op die kampusse te kalmeer. Hy gee toe dat dit net ’n tydelike alliansie is en dat die ANC en SAKP dit gebruik om die EFF voor die plaaslike verkiesing te isoleer. Die belangrikheid van so ’n ooreenkoms moet egter nie onderskat word nie.

In die algemeen gaan dit nie so sleg in die land ten opsigte van rasseverhoudings as wat mens altyd in die media lees nie, sê Eloff. Veral onder die gemiddelde inkomstegroepe van Suid-Afrikaners is daar ’n groter saambestaan tussen die verskillende rasse.

Hy waarsku egter dat die land groot moeilikheid in die gesig staar as daar nie daadwerklike pogings aangewend word om hierdie saambestaan deel te maak van ons kultuur nie. As die land nie daarmee slaag nie, kan Suid-Afrika maklik ’n twee Rwanda word, waar etniese konflik gedy en een groep deur ’n ander groep geteiken word.

Oppas vir oordrewe politieke korrektheid, het Eloff gewaarsku. Dit is ewe destruktief. Daar is ’n fyn balans tussen buffelagtige optrede soos dié van sommige verregses en politieke korrektheid.

_MG_3009

Die gesprek is afgesluit met ’n vraag van Joubert of Eloff hoop het vir die land se toekoms. Sy antwoord was ’n onomwonde ja, maar dit sal harde werk kos. Hy glo die geskiedenis het bewys dat Suid-Afrikaners al telkens tot baie naby aan die afgrond beweeg het, maar elke keer as hulle voor die afgrond te staan kom, besef hulle dit is beter om daarvan weg te beweeg as om oor die afgrond te tuimel.

Dit is nie net die regering wat moet verhoed die land na benede stort nie. Daar is genoeg Suid-Afrikaners van alle rasse met gemeenskaplike waardes om te keer dat die afgrond ons voorland is.

Dit gaan tans sleg op baie terreine, maar wat is tien jaar in ’n land se leeftyd? het Eloff gevra. As studenteleier, predikant, voorsitter van ’n skoolbeheerliggaam, Dakar-ganger, administrateur by die vredesonderhandelinge en Kodesa, sakefasiliteerder, voorsitter van die Aardklop-kunstefees, president van ’n nasionale sakeorganisasie en rektor van Noordwes-Universiteit het Eloff al talle afgronde in die gesig gestaar.

Mens kan net hoop en glo hy is reg dat ook die huidige afgrond waarvoor die land hom bevind, tydelik is.

theunseloff650_woordfees

Foto's Naomi Bruwer

The post US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika? appeared first on LitNet.

Resensie: Liewe Heksie - Leesboek 5 deur Verna Vels

$
0
0

Margit Meyer-Rödenbeck is Levinia, Liewe Heksie, in die produksie Liewe Heksie Flower Power by US Woordfees 2016. Sy resenseer die boek Liewe Heksie - Leesboek 5, deur Verna Vels.

lieweheksieleesboek5_omslagLiewe Heksie - Leesboek 5
Verna Vels
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798168984

 

Om ‘n resensie te skryf oor Liewe Heksie: Leesboek 5 is ‘n vreugdevolle versoek wat Ma en dogter met groot geesdrif aanpak, want ons eet, drink slaap die afgelope jaar en ‘n half: Heksie, Heksie, Heksie.

Verna Vels se Liewe Heksie-stories is vir seker nie net op die kleingoed gerig nie, dis stories wat oud en jonk bekoor. In ‘n moeilike ekonomiese en sosiopolitiese omgewing kom die herdruk en uitgee van die reeks boeke net betyds, op die regte tyd. In Blommeland het die tyd die afgelope 55 jaar stilgestaan sedert Liewe Heksie (in 1961) geskep is. Dink net hoe ver was Verna Vels haar tyd vooruit om volronde humoristiese karakters te skep wat die tyd deurstaan het en volksbesit is.

Verna se wenresep lê in die karakters wat vol “lag” is, maar steeds met groot deernis na die lewe kyk. Die stories is altyd eenvoudig; die leser weet vooraf dat liewe Levinia vanweë haar naïwiteit (ek verkies dit bo die woord “dom”, want eintlik is die heksie baie slim) in die moeilikheid gaan beland en dat die situasie dan met die hulp van haar goeie vriende Blommie, Karel Kat en liewe ou Griet gered word. Teen alle verwagtinge in tree Levinia altyd as wenner uit die stryd.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die derde storie in Liewe Heksie: Leesboek 5: “Heksie gaan skool toe”. Heksie het die Hekse-kompetisie gewen en as prys kies sy om skool toe te gaan, wat natuurlik tot groot konsternasie lei (haai oe, watse groot woord is dit vir ‘n undercover heks …), want sy kan glad nie lees of skryf nie en is boonop nie op haar bek geval nie. So jaag Slimkop, die onderwyser, haar weg en dit lei daartoe dat Heksie op presies die regte tyd op die regte plek is om ‘n gifappeltjie te vang wat die Silwerroos wil steel. Heksie is die heldin in die verhaal, maar eintlik moet Matewis, haar slim babakatjie, baie van die eer kry.

Liewe Heksie kry ‘n kat” is beslis my sesjarige, Luca Human, se gunstelingstorie in die boek. Dit mag dalk daarmee te make hê dat sy die rol van Matewis in die pantomime Liewe Heksie: Flower Power vertolk. Boonop is sy werklik versot op katte en wie kan dan nou nie saamspin as Karel Kat sy nefie, die babakatjie Matewis, in Heksie se arms neerlê nie. Matewis raak tot ‘n mate Heksie se beskermengel met sy “Miau, miau, miau”.

“Liewe Heksie en die Mini” is my gunsteling van die drie stories in die bundel, as ek dan nou een moet kies. Heksie moet deelneem aan die Hekse-talentkompetisie en moet verkieslik iets toor soos die ander hekse. Sy weet dat toorwoorde nie haar sterkpunt is nie en soos altyd wend sy haar tot haar groot liefde: sang. (Tog jammer dat Verna Vels nooit ‘n storie kon skryf oor Liewe Heksie en The Voice nie – ek glo Levinia sou Bobby van Jaarsveld tot trane kon dryf.) Liewe Heksie sing en hoewel koning Rosekrans glad nie beïndruk is nie, kom die Heks van die Berge tot haar redding en sê dat Heksie moet wen, want sy is die oorspronklikste heks. So tree Levinia as oorwinnaar uit, ten spyte daarvan dat sy weer eens nie by die reëls hou nie. Levinia is ‘n goeie leermeester: jy hoef nie in ‘n boksie te pas nie, maar as jy in jouself glo en met die beste intensie lewe, sal jy die stryd wen.

Voeg by Verna Vels se vertellings Vian Oelofsen se illustrasies wat die komiese besonder knap vasvang. Die kleurryke tekeninge maak dat jy langer op die bladsy talm. Oelofsen slaag daarin om die Liewe Heksie-karakter te moderniseer, sonder om die tydloosheid van die verhale in te boet.

“Haai oe, Blommie. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek bly ‘n lewenslange fan. Levinia, you go girl!”


 

Bespreek vir Liewe Heksie Flower Power:

US Woordfees 2016: Stellenbosch Stadsaal - 5 Maart om 09:00; 12:00, 12 Maart om 09:00; 12:00, 13 Maart om 11:00 - Computicket

Pretoria: Brooklyn Teater- 19 April- 1 Mei - (012) 460 6033 & aanlyn by www.brooklyntheatre.co.za

 

The post Resensie: Liewe Heksie - Leesboek 5 deur Verna Vels appeared first on LitNet.

US Woordfees: Skuld, die grootste dwelm van die 21ste eeu

$
0
0

Te veel mense leef vir te lank bo hulle vermoëns en beland as gevolg daarvan in ’n finansiële krisis.

Dit was die kern van Hein Kruger, bekende entrepreneur en geldkenner, se boodskap tydens die bespreking van sy jongste boek, Jou geldsake, tydens vanjaar se Woordfees.

Kruger se boek bied ’n Bybelse perspektief aan Suid-Afrikaners wat spartel om hulle begroting te laat klop.

In gesprek met die oudjoernalis Tobie Wiese het Kruger vertel hy moes self op die harde manier leer hoe om suksesvol met geld om te gaan. Hy moes eers deur ’n lang leerskool gaan voordat hy sukses in die finansiële wêreld behaal het.

Die lesse wat hy van groot mentors in die sakelewe geleer het deel hy nou met sy lesers.

Sy uitgewer, Lux Verbi, beskryf hom in ’n mediavrystelling as ’n “Jack of all trades”. Van politieke en finansiële verslaggewer vir Beeld en eiendomsontwikkelaar in Johannesburg, tot aandelemakelaar op die JSE en uiteindelik besturende direkteur van sy se eie maatskappy. Die batebestuurmaatskappy Kruger Internasionaal is sy breinkind.

Hein Kruger van van die beleggingsfirma Kruger Internasionaal by die Woordfees.

Hoewel  sy boek uit en uit oor geld handel, sê Kruger hy het ’n broertjie dood aan voorspoedteologie. Hy wil mense help om binne hul vermoë te leef en verantwoordelik met hulle geld om te gaan.

Hy glo elke mens het die vermoë om finansieel suksesvol te wees as hulle die regte dinge op die regte tyd doen.

As Christen was dit vir hom ’n  spirituele ervaring om geldsake by die Bybel uit te bring, sê Kruger. “Mens kan God nie omkoop deur tien persent van jou inkomste vir Hom te gee nie.”

Finansiële instellings bied volgens hom skuld aan leners soos wat dwelmsmouse dwelms aan dwelmslawe aanbied. Skuld is die grootste dwelm van die 21ste eeu, sê Kruger.

Hy het vertel van ’n  egpaar wat saam ongeveer R60 000 per maand verdien het, maar in werklikheid was hulle kniediep in die skuld en hulle laste het hul bates oorskry. Iemand anders het ’n netto komste van R15 000 per maand gehad, maar kon nie haar twee kinders daarmee onderhou nie.

Daarteenoor het hy ’n  vrou ontmoet wat in ’n baie arm omgewing woon ontmoet en met skaars R3 000 per maand moet uitkom. Tog het hierdie enkelma van twee kinders nog drie straatkinders sonder herberg onder haar dak ingeneem en sorg vir haar en al vyf die kinders omdat sy geleer het hoe om binne haar vermoë te leef.

Op die vraag hoeveel is genoeg, sê Kruger genoeg is genoeg. Wat vir een mens genoeg is, is nie noodwendig vir ’n ander genoeg nie, maar almal moet leer om binne hulle vermoë te leef. Hy glo dit is moontlik.

“Te veel mense leef bokant hulle vermoë en dit was my siekte ook.”

Sy raad aan mense wat geld wil belê is om te onderskei tussen mense wat finansiële advies aanbied. Daar is ’n verskil tussen ’n agent wat net sy produk wil verkoop en ’n goeie finansiële adviseur wat sy kliënte se belange op die hart dra.

Sy jongste boek was die moeilikste skryfwerk wat hy tot dusver gedoen het, want dit is moeilik om die praktiese riglyne hoe om geld te maak in verband te bring met die Bybelse riglyne.

Die resep is egter eenvoudig: sorg dat jy jou begroting in lyn bring met jou inkomste. “Die meeste gegoede mense is nie ryk omdat hulle die lotto gewen of geld geërf het nie.” Welvaart word geskep deur selfdissipline, harde werk en goeie beplanning, sê Kruger.

Die eerste stap na welvaart is om te sorg dat jy elke maand iets van jou inkomste oor het om weg te sit. Bou daarmee ’n neseier op sodat jou geld vir jou kan begin werk. Hy glo elke mens wat geld verdien, is in staat om dit te doen, al is dit ’n klein begin.

Sy raad aan Christene is dat hulle nie net teen die regering en ander mense se wanbesteding uitvaar nie, maar om te sorg dat hulle eie neuse ook skoon is wanneer dit by die bestuur van hulle finansies kom.

The post US Woordfees: Skuld, die grootste dwelm van die 21ste eeu appeared first on LitNet.

Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze

$
0
0

Foto van Celesté Fritze deur Sue Charlton

Skrywers oor hul nuwe boeke: Celesté Fritze gesels met Naomi Meyer oor Verlorenkop.

Celesté, jy is nie 'n onbekende op LitNet nieEn die silwer vis waarna jy in hierdie gedig waarheen die skakel lei verwys, is toe 'n vismot ... Vertel asseblief vir ons lesers van hierdie vismot, of van die ma oor wie die digter hier geskryf het?

Die verteller in die gedig verwys na ʼn vismot, ja; nie na silwer visse van Sardinië nie. Dit is ʼn goeie voorbeeld van hoe wisselspellings betekenis kan beïnvloed, maar dalk was die digter ook ʼn bietjie moedswillig.

In die gedig hou die verteller ʼn tapisserie vas. Sy bekyk die toneel van wit vissershuisies langs die see van Sardinië wat haar ma eentyd geborduur het en ontdek ʼn vismot in die raam. Die rafel van die borduurgare, die gaatjies wat die vismot daarin gevreet het, laat die verteller besef dat haar ma se geheue ook aan die uitrafel is. Die verteller onthou haar bejaarde ma as ʼn lewenslustige jong vrou wat baiemaal die gesin se woonplekke moes opknap, vloere skuur, mure afwit en origens opvrolik, terwyl hulle van die een uithoek van die vasteland na die ander verhuis het. Die verteller dink na oor die verganklikheid van dinge, hoe die gesin na enige dramatiese gebeurtenis in die woonplekke van haar jeug herenig is. Sy besef dat die tyd soos ʼn vismot aan haar vergeetagtige ma se geheue en aan haar eie herinneringe kom torring. Sy is spyt oor haar ma se verlore gedagtes wat in die tapisserie ingeweef is en uiteindelik deur die vismot ingesluk word.

Ek vertoef nog by die vismot: is die vrou – en die digter se ma in hierdie gedig – méér as die somtotaal van die klere in haar kas wat so onseremonieel verorber is? (Dalk het die vismot iets anders gevreet, en, indien wel: wát?)

Vir seker is die vrou (of die ma in die gedig) meer as die somtotaal van haar fisieke voorkoms of besittings, of haar kinderlike drome. Sy is al daardie dinge waaroor haar dogter reflektief dink: eggenoot, ma, kunstenaar, ontdekkingsreisiger. Die idiosinkrasieë, die vele fasette van haar lewe, behels meer as wat die dogter ooit sal besef; en wanneer die dogter dit wel begin agterkom, raak die pas teen die afdraand van die dag al sneller.

My ma word vanjaar 82. Haar brein is helder en ek is bitter dankbaar dat die “afdraand van die dag” ons twee nog nie ingehaal het nie.

Ek wil jou egter nie vandag vra oor jou skryfwerk op LitNet nie, maar omtrent jou debuutroman, Verlorenkop. Die tema van die gedig waarna ek hier bo verwys, sluit losweg aan by die tema van jou roman – vroulike voorgeslagte.

Ja, die vroulike voorgeslagte kom as ʼn tema in die roman na vore, maar ek dink die skrywer moet die laaste een wees wat weet wat hy/sy alles in sy/haar werk gesit het. Die gedagte van verganklikheid is egter nie vreemd aan Verlorenkop nie. Daar is ʼn blou jas wat ʼn soortgelyke rol vervul, terwyl ek nou daaroor dink. As jy met empatie kyk, is daar plek vir die voorgeslagte om vir jou ʼn borswering teen die lewe te wees. Onbekend is onbemind. Dalk is voorsaattreitering die gevolg van onkunde. Wanneer die voorsate verdwyn, sluit die aardse biblioteek van jou voorlewe. Jy kan nie weer ʼn storie uit die geheuerakke gaan leen nie.

Die plaasjoernale van die hoofkarakter se groottante (Christine Retief) begin in 1916, 100 jaar gelede. Dit is ongelooflik hoe die wêreld sedertdien verander het. Ek dink daar is ʼn hunkering terug na ʼn tyd toe mense nader aan die natuur geleef het.

Van vroulike voorgeslagte gepraat, of sommer net voorgeslagte in die algemeen: Wat wéét ons regtig van hulle? 

Mens weet te min; jy let nie fyn genoeg op nie. Ons is te besig met onsself, maar êrens bly daar ʼn indruk agter, word ʼn gedagte geplant, word ʼn verdwaalde woord in ʼn geselskap opgepik en in die geheue van ʼn kind gestoor.

Toe ek so vier jaar oud was, vertel my ma, het ʼn omgeboude vistenk waarin my pa sy tropiese visse gehou het, meegegee terwyl ons gesin elders was. Dit was katastrofies. Dooie visse het oral verstrooi gelê toe ons by die huis instap. Ek het later in een van die kleiner, gebreekte tenks gaan inkruip en wou lank nie daar uitkom nie. “Maar wat maak jy daar?” het my ma gevra. “Ek verbeel my ek is ʼn dooie vis,” het ek geantwoord. Toe ek uiteindelik uit die beperkte ruimte opstaan, het van die glasskerwe in my rug gesteek en dit het glo erg gebloei. Ek meen ʼn skrywer moet hom in ʼn ander se skoene probeer inverbeel en dan nie terugdeins vir die ongemak wat dit dalk meebring nie.

Die herinneringe van voorsate, ook intense navorsing, en natuurlik ʼn opgeruide verbeelding het die karakters help vorm, ja.

Gaywees is ook 'n tema in jou boek. Meer spesifiek: 'n gay Afrikanervrou. Is hierdie drie komponente teenstrydig?

Jy praat van ʼn contradiction in terms, ʼn soort selfweerspreking? Dat hierdie terme nie met mekaar te versoen is nie? ʼn Mens kan jou maklik verbeel die samelewing het radikaal verander wat sy siening van, onder andere, gaywees betref. Lesers moet liewer Verlorenkop lees en self op ʼn antwoord besluit. Ek beskou myself nie as ʼn kenner van of aktivis vir enigeen van die drie onderwerpe nie.

Waar is Verlorenkop – is dit 'n plek, of is dit 'n ander soort ruimte?

Verlorenkop (enkelvoud) is ʼn soort oomblik, stel ek my dit voor. Miskien is dit ʼn moment wanneer ʼn karakter besef sy het haarself ʼn onguns bewys: sy was te lank ʼn mensebehaer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans. Daardie oomblik (ja, seker binne die ruimte waarin sy haar bevind) wanneer sy die ding doen wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar, wanneer sy haarself word, wanneer sy kop verloor en die gevolge van mindere waarde ag. Nie almal is op so ʼn oomblik aangewese nie. Veral nie in die 2016 waarin ons leef nie.

Verlorenkoppe (meervoud), daarenteen, is ʼn fisiese ruimte: die familieplaas van die Retiefs, met sy verspreide koppies en rantjies waar geheime skuil.

Jou hoofkarakter reis rond. Waar was sy, waarheen gaan sy en wat laat sy agter?

Die hoofkarakter, Jo Pieterse, verlaat Suid-Afrika in die vroeë tagtigs. Sy vlug om verskeie redes, onder andere van die benouende politieke bestel, die verkrampte ingesteldheid van die Retief-voorsate, en die sensuele kunsmodel waarom sy haar gayfantasieë weef. Jo en haar man “ontsnap” na die dorpie Colchester in die Amerikaanse deelstaat Vermont, waar hy ʼn navorsings- en doseerpos aan die Universiteit van Vermont beklee. Na byna 30 jaar keer Jo terug na Suid-Afrika. Op haar fisiese reise en met haar uitgebreide kopreise langs kom sy voor vele deure te staan. Wat en wie agter elkeen skuil, die dinge wat sy uiteindelik agterlaat, kan die leser in Verlorenkop gaan lees. Die boek verskyn op 20 Maart 2016.

In jou privaatlewe is jy 'n vertaler en taalversorger. Werk jy maklik bedags met woorde en hoe ruim jy tyd in vir jou eie woorde/skryfwerk tussen die ander mense s'n?

Dit bly vir my lekker om met ander se woorde te mag werk. Dalk put ek ʼn perverse genot daaruit om te mag vitsiek wees sonder dat ek daarvoor geblameer kan word. Wie weet? Die idee en omvang van die bemoeienis met ander se skryfwerk kan jou werklik benoud maak. Iemand plaas sy skryfstuk in jou hande. Iemand betaal jou om bemoeienis te maak met sy of haar skryfwerk. Dit is ʼn groot en uitputtende verantwoordelikheid, maar natuurlik ook ʼn voorreg; en dikwels is jy dan te moeg vir jou eie woorde. Gelukkig is daar baie ure in ʼn dag. Jy maak tyd vir iets wat jou as mens definieer, soos jou skryftaak.

Dit is ook baie, baie lekker wanneer ander hulle met jóú skryfwerk bemoei: die uitgewer, die teksredigeerder, die proeflesers, die persoon wat die tipografiese versorging doen, die omslagontwerper – die hele wonderlike span. En die leser: hoeveel is die skrywer nie aan hom/haar verskuldig nie?

Omdat dit vir sommige moeilik is om toegang agter die betaalmuur te kry: ek lees omtrent jou aanlyn resensie van Bloedwater (Douwleen Bredenhann), maar vir diegene wat dit nie gelees kry nie ... Taalkundig het die boek jou interesseer – hoe so? En hoe beïnvloed jou eie ingesteldheid op taal (weens jou werk) jou eie skryfwerk?

O, die bekoring van woorde! Daar is voortdurend boeke wat my op woord- of sintaktiese vlak interesseer. Daar is altyd ʼn dualiteit teenwoordig. Ek lees nie ʼn boek suiwer uit die oogpunt van ʼn taalkundige of uit die oogpunt van ʼn letterkundige nie. ʼn Boek meld hom aan en raak jou as leser om ʼn bepaalde rede of vanweë ʼn sekere belangstelling – hoe kan mens dit werklik verklaar?

Oor die resensie van Bloedwater: ek het eers later besef dat die woordeboekmakers en leksikograwe in die kantoor van die WAT verskeie terme en skatte uit Douwleen se roman gemyn het. Dit het hulle waarskynlik ook geboei. ʼn Resensent is dit aan sy leser verskuldig om presies uit te stip waarom ʼn boek hom verruk of afstoot.

Jy vra oor hoe ʼn ingesteldheid op taal my skryfwerk raak: ek vind dit moeilik om die skryffunksie en die redigeerfunksie te skei, maar dit is ontsettend belangrik dat hulle geskei word. Voor jy jou kom kry, is jy al weer besig met teksredigering, en dan staan die storie stil – dit verg ʼn voortdurende bewuswordingsproses. Sodra die twee saamsmelt, moet mens opstaan en ʼn ruskans neem en besluit wat jou hooftaak met die terugkomslag sal wees: skrywer of onbetrokke teksredigeerder. Jy is dit aan jou storie verskuldig. Miskien neem dit ʼn taalversorger (en ʼn debuutskrywer daarby) net soveel langer as ander skrywers om ʼn boek te skryf, ja.

Skryf jy nou al aan iets anders? Of, as jy nie wil verklap nie, wat lees jy op die oomblik?

Daar is gedagtes en drome van ander boeke, ja, maar vir eers geniet ek die stilte na die boek.

Ek is ʼn nuuskierige leser. Vanweë die taalpraktyk is daar nie altyd energie of tyd nie, maar ek proe-proe en herhaallees aan ʼn altyd groeiende stapel. Op die oomblik: Homemaking for the Down-at-Heart van Finuala Dowling; Wonderboom van Lien Botha; In die oog van die web van Engela van Rooyen; Es’kia van Es’kia Mphahlele; Wordsworth and the Poetry of Suffering van James Averill; Tender Buttons: The Corrected Centennial Edition van Gertrude Stein; The Mistress’s Dog van David Medalie; On Literature van Umberto Eco; The Reluctant Passenger van Michiel Heyns ...

The post Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze appeared first on LitNet.


US Woordfees 2016: Onthou is die pantser teen vergeet

$
0
0

Vyftien jaar na sy eerste boek, Moer toe die vreemde in, het die avontuurskrywer C Johannes Bakkes sy sewende reisverhaal, Openbaring, tydens die afgelope Woordfees aan feesgangers bekendgestel.

Foto: Gerrit Rautenbach

Johan Bakkes in gesprek met Erns Grundling.

Anders as sy Bybelse naamgenoot wat die boek Openbaring op die eiland Patmos geskryf het, is Bakkes se Openbaring in sy huiskroeg geskryf. Dit is nie ’n evangelie nie, maar ’n reisverhaal.

Daar is wel ’n ooreenkoms tussen Openbaring in die Bybel en Bakkes s’n. Die titel van sy boek sinspeel op daardie deel in die laaste Bybelboek wat sê: “As julle tog maar koud of warm was!”

Bakkes is nie lou nie. Daarvoor neem hy daardie teks in Openbaring te letterlik op.

Hy is een van net twee Suid-Afrikaners wat al op die koudste en die warmste plekke op aarde was waar mense ’n bestaan voer by temperature tot so koud as minus 57 grade en so warm as 50 grade Celsius. Mens moet maar “’n ietsie vat” as jy sulke uiterste plekke besoek, vertel hy terwyl Dana Snyman van agter in die gehoor ’n bier vir hom verhoog toe stuur.

Georganiseerde toere laat hom koud. Sy reise neem hom na plekke wat deur min reisigers besoek word.

Toe ’n resensent jare gelede kla dat Bakkes se boek Samoe(r)sa reis te veel “Jack Parow” in het en nie genoeg “Juanita du Plessis” nie, het hy besluit om sy volgende boek die ironiese titel Oepsedaisy te gee. Ná titels soos Moer toe die vreemde in, Nou’s ons in ons donner in en Norrevøk skryf hy in die voorwoord van Oepsedaisy dié boek se titel kon net sowel “O bliksem”, “O gits” of “O magtag” gewees het, want “miskien is dit tyd om Juanita du Plessis in plaas van Jack Parow te speel”.

Foto: Gerrit Rautenbach

Erns Grundling en Johan Bakkes

Maar waarom het hy vier jaar gewag voordat hy weer sy pen op papier gesit het, wou Ernst Grundling tydens die gesprek in die volgepakte Boektent van hom weet.

“Soos Johannes van die Bybel het ek net gevoel ek móét weer skryf.”

Sy brein is op ’n permanente galop.“Ek het eers gedink ek het al my stories wat ek wou vertel het, klaar vertel. Maar as jy eers begin skryf kan jy nooit ophou nie.”

Hy skryf omdat dit vir hom lekker is. Nie om pryse in palm of omdat hy dink hy het ’n literêre bydrae om te lewer nie. “Die enigste Hertzogprys wat ek ooit sal wen is as my vrou vir my Hertzoggies bak,” sê Bakkes. Hy beskou homself as die mees onbekroonde skrywer op die Woordfees.

Foto: Gerrit Rautenbach

Johan Bakkes

Hy skryf om sy ervarings met diegene te deel wat nooit so bevoorreg sal wees om die ongewone plekke te besoek waar hy kom nie. “Aristoteles het gesê om te onthou is die skriba van die siel.”

Om te onthou is volgens Bakkes die pantser teen vergeet.

Die skryfproses is nie vir hom moeilik nie. Hy doen dit op sy eie unieke manier. Geen goeie storie begin by mense wat slaai eet nie, sê die man wat daarvan hou “om ’n ietsie te vat”.

Wanneer hy begin skryf, maak ’n hy ’n bottel wyn oop en skryf die eerste hoofstuk met bottel nommer een langs hom. “Dan maak ek die tweede bottel oop en skryf hoofstuk twee. Om te skryf is nie vir my ’n wroegingsproses nie.”

Vir sy sekretaresse wat sy geskrewe notas later moet oortik, is dit wel soms ’n wroeging. Sy kan presies uit sy notas aflei wanneer hy die tweede bottel wyn se prop uitgetrek het en dan raak dit soms moeilik om die notas te ontsyfer, skerts hy.

Foto: Gerrit Rautenbach

Marga Stoffer van NB-Uitgewers stel Johan en Erns bekend.

Baie van die reise waaroor hy skryf, het jare gelede plaasgevind. Hy het ’n ding oor kiekies en neem alles af wat leef en beef. Dit help hom om te onthou. Hy neem selfs die gehoor af wanneer hy op plekke optree, “sodat ek vir my vrou kan wys ek was regtig daar”. Verder hou hy ’n joernaal tydens sy reise wat help om die onthou terug te bring, al is dit jare later. Dit is deel van sy pantser teen vergeet.

As mens op die Bakkes-manier wil reis, het jy geduld nodig. Hy sê geduld is egter ’n stadige manier om jou moer te strip.

Heelwat van sy reise onderneem hy saam met sy kamerade, want baie daarvan kan mens eenvoudig nie alleen aandurf nie. Maar eintlik verkies hy dit om alleen te reis. “As ek die keuse moet maak is alleenreis die lekkerste.”

Wanneer hy op reis is, sal jy hom eerder in ’n kroeg aantref as in ’n kerk. Hy het niks teen kerke nie. “Ek is self ’n Hervormer en my vrou was ’n Dopper voordat sy ’n Christen geword het,” grap hy.

“Elke liewe toergids wil jou altyd al wat kerk is wys, maar eintlik lyk almal min of meer dieselfde. Kroeë is anders. Daar gebeur meer in ’n kroeg as in ’n kerk, want in ’n kroeg verander alles gedurig.” Dit is dikwels dáár waar hy van die interessante mense ontmoet oor wie hy so kleurvol kan skryf.

Sy pa, wat onlangs oorlede is, het ’n groot rol in sy lewe gespeel en die lus vir reis in hom wakker gemaak.

“Ek is eintlik ’n pallieter,” sê Johannes. “Dit is iemand wat die lewe aangryp en dit tot op die laaste droesem geniet.”

Sy grootste vrees wanneer hy reis is dat die ys gaan opraak. Dit het al gebeur sê hy, maar dit was as gevolg van “kak beplanning”. Skielik onthou hy dan van die gebedsgroepie in Gordonsbaai wat ernstig bid dat hy hierdie gevloek moet los en vat maar nog ietsie vir die keel terwyl hy na sy pyp mik.

Mens sal dalk die Juanita du Plessis uit hierdie gewilde bebaarde avonturier kry, maar nie maklik die Jack Parow nie. Daarvoor is hy te veel van ’n lewensgenieter. Die ewige pallieter op reis na nóg ’n nuwe avontuur.

Foto: Gerrit Rautenbach

Foto's: Gerrit Rautenbach

The post US Woordfees 2016: Onthou is die pantser teen vergeet appeared first on LitNet.

US Woordfees: Kanker die keiser van alle kwale

$
0
0

vir-ewig-en-altyd-280Dit was soos growwe skuurpapier op rou senuwees om dié boek te skryf.

So het Danny Fourie by die Woordfees gesê tydens die bespreking van sy boek Vir ewig en altyd saam.

Fourie se boekbespreking was meer as net ʼn boekbespreking. Dit was ʼn viering van een van die merkwaardigste vroue in die Afrikaanse joernalistiek, Adri-Louise van Renen, wie se lewe deur kanker kortgeknip is toe sy op haar gelukkigste was kort nadat sy met haar droomman, Danny Fourie, getroud is.

Die boek handel oor daardie deel van hulle kort liefdeslewe, hulle reis met die keiser van alle kwale, met die slingerende pendulum tussen hoop en werklikheid, tussen chemosessies en skanderings, tussen hartseer en lag, tussen dae vol liefde en speel, en dae van bekommernis en stilte – immer met die swaard oor hulle kop.

Onder die talle mense wat die boekbespreking bygewoon het, was verskeie vriende, oudkollegas en familielede wat Adri-Louise geken het. Selfs haar bejaarde pa, wat op Oudtshoorn woon, het die geleentheid bygewoon.

Adri-Louise was die redakteur van LiG en die eerste vroulike redakteur van Kerkbode. Danny, wat die boek geskryf het, werk as vryskut in die mediabedryf nadat hy drie jaar gelede sy werk by Bybel-Media verloor het as gevolg van Kerkbode se Woordfeesfiasko drie jaar gelede.

ʼn Gebeurtenis waarvan Adri-Louise self vertel het: “’n Jaar van my lewe het in hierdie ding (die Woordfees-sage) opgegaan. My tweede sarsie chemobehandeling het ernstig skade gely as gevolg hiervan. Ek het natuurlik nie vrede oor die saak nie, maar ek het in my gedagtes weggestap daarvan.”

Adri-Louise het laat in haar lewe verloof geraak. Kort daarna is sy gediagnoseer met fase 4-kanker en ʼn paar maande later is sy oorlede.

Fourie sê hy het die boek geskryf vir sy merkwaardige vrou, en vir almal wat die trauma van terminale kanker beleef het en treur oor ’n geliefde wat nie meer hier is nie.

Kanker is die siekte van ons tyd, het Fourie tydens die bespreking gesê. “Dit is ʼn bedrieglike siekte wat ʼn onbeskryflike invloed het op almal rondom die persoon wat met kanker gediagnoseer is.”

Tydens die bespreking van sy boek het Danny op ʼn merkwaardige manier daarin geslaag om sy emosies te beheer. Terwyl die sangeres Annalise Wiid teen die einde van die bespreking dieselfde lied sing wat sy op Adri-Louise se begrafnis gesing het, “As alles stil word”, het die trane vrylik oor Danny se wange geloop terwyl hy daarna geluister het.

danny650

Oor die rede vir die skryf van die boek sê hy dit was nie omdat hulle verhaal so spesiaal is nie. “Dit is eerder om, soos baie ander voor my, vir dié wat belangstel ’n kykie te gee in die verwoestende effek van kanker – op die liggaam en op die geliefdes om die persoon wat met kanker leef. Ek het so eerlik moontlik probeer skryf.”

Die skryfproses het hom emosioneel verinneweer. Sy en Adri-Louise se verhaal is in baie opsigte dieselfde as dié van die skrywer CS Lewis, wie se vrou vier jaar na hulle troue as gevolg van kanker dood is en met wie hy kon identifiseer.

Op ʼn vraag van Lizette de Bruyn, wat die gesprek hom gevoer het, sê hy: “Ek het die grond aanbid waarop sy geloop het.”

Die hoogtepunt van hulle kort maar gelukkige huwelik was die dag toe sy – reeds ernstig siek aan kanker – in ʼn vlamrooi rok met hom getrou het. Sy het spesifiek rooi gedra om die lewe te vier.

“Toe sy met haar rooi tabberd die kerk instap het ek net een wens gehad en dit is dat ek iets kon doen om haar gesond te maak.”

Die eerste twintig maande van haar siekte het goed verloop. Sy het goed op die behandeling reageer. Uit van die briewe wat sy uit die blou stoel aan vriende en familie geskryf het terwyl sy chemo kry, lees mens telkens die hoop wat sy koester op volkome herstel. In haar briewe wat deel is van die boek, hoor mens Adri-Louise se eie stem van hoop op genesing.

Twintig chemosessies later en ongeveer drie maande voor haar dood het die onkoloog hulle diplomaties ingelig die einde is nie meer ver nie.

“Ek is nie kwaad vir die Here nie,” sê Fourie, wat ʼn diep gelowige is. “Maar somtyds as ek haar so mis, vra ek steeds: Here, kon U dan nie maar net ʼn ander plan gemaak het nie?”

In die voorwoord skryf Danny: “Kanker is die oudste siekte bekend aan die mens. “‘The emperor of all maladies’ – die keiser van alle kwale – het dr Siddhartha Mukherjee dit gedoop.”

Dit is ʼn titel wat Adri-Louise altyd gevoel het te veel eer aan kanker laat toekom.

’n Ierse skrywer het gesê die noodlot is nie ’n arend nie – dit kruip soos ’n rot.

Danny-een

The post US Woordfees: Kanker die keiser van alle kwale appeared first on LitNet.

US Woordfees 2016: My kind, my memoire

$
0
0

Juliana Coetzer, Douwleen Bredenhann, Marga van Rooy en Madri Victor

kindmemoireboeke

Hoe skryf ’n ma oor die trauma wat haar kind beleef? Is dit ’n manier om sin te gee aan jou kind se lewe en jou eie struweling?

Madri Victor het dié vrae gestel aan Marga van Rooy, die medeskrywer van Marga & Henriëtte, in die skadu van skisofrenie (LAPA), Juliana Coetzer, die skrywer van Bloedvreemd (Jonathan Ball) en Douwleen Bredenhann wat ʼn Hemelhoë hekkie (Tafelberg) geskryf het. Die gesprek het op 7 Maart om 15:30 by die US Woordfees plaasgevind.

Marga van Rooy se dogter, Henriëtte Boot, is pas ná matriek met skisofrenie gediagnoseer. Henriëtte was bewus van haar siekte en het baie hard saam met die dokters gewerk. Vandag woon sy in ’n veilige huis waar haar siekte gemonitor kan word, maar sy het ’n werk en sy kon meedoen aan die skryf van die boek. Marga het dus sekere dele geskryf, en Henriëtte ander.

Henriëtte was onkreukbaar eerlik en dit het Marga soms ontstel, maar tog vind albei dat hulle verhouding nou, ná die skryf van die boek, veel beter is as tevore.

Douwleen Bredenhann se dogter is vermoor. Tot vandag weet sy nie hoekom nie. Die moordenaar is vasgetrek, maar haar dogter is steeds weg.

Juliana Coetzer se dogter het weer die herpesvirus gekry wat haar brein aangetas het.

Al drie vroue het gesels oor die trauma wat hulle en hul gesinne ervaar het. Die rouproses is bespreek, asook die feit dat die skryfproses in al drie gevalle weer ou rowe oopgekrap met.

Al drie skrywers sê dit was nodig om hul pyn met ander te deel, want daar is talle mense daarbuite wat ook deur trauma geraak word; die lesers moet weet hulle is nie alleen nie.

Die saal was stampvol. Ekstra sitplekke moes ingedra word.

Henriëtte Boot, derde van links in die blombloes, was daar saam met kollegas. Haar sussie staan langs haar in donker pienk.

The post US Woordfees 2016: My kind, my memoire appeared first on LitNet.

US Woordfees 2016: Brugbouers na gister

$
0
0

Helene de Kock en Irma Joubert

Irma Joubert is deesdae ’n internasionale skrywer met uitstekende verkope in Nederland, Duitsland en die VSA. Sy skryf historiese romans en vang telkens ’n tydperk in die geskiedenis vas.

Helene de Kock, die skrywer van meer as veertig romans, waaronder Debora en seuns (Human & Rousseau), het op 9 Maart 15:30 by die US Woordfees met Irma ’n onderhoud gevoer oor Immer wes. Die roman speel af vanaf die eerste Bolsjewistiese revolusie in 1905 tot net ná die Tweede Oorlog.

Helene het in ’n kort inleiding genoem dat die skrywer van historiese romans as brugbouer tussen generasies en kultuurgroepe optree. Vandag se lesers kan hulself nie indink in die tydsgees van ander tye nie. Dit is waarom fiksie belangrik is. Fiksie help die leser om daardie tye te interpreteer.

Irma vertel dat sy baie navorsing doen deur te luister na ander mense se stories. Haar ma was byvoorbeeld ’n verpleegster en was besonder behulpsaam om Hildegard se karakter te help verstaan terwyl die karakter in die hospitaal werk tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Irma sê feite staan vir haar vas, maar sy vleg uiteindelik die verskillende karakters se stories in die feite in om seker te maak dat haar leser haar situasies geloofwaardig kan vind.

Irma doen moeite om die plekke te besoek waaroor sy skryf. Dan lees sy baie en probeer altyd om na mense se eie stories te luister. So het Hildegaard ontstaan. Hoe meer sy navorsing gedoen het, hoe meer het die meisie vir haar lewendig geword. Op hierdie manier kan sy uiteindelik haar leser met haar saamneem in ’n woordreis na die verlede.

Helene het daarby aangesluit dat sy sorg dat selfs die kos histories korrek is. Dit help die brug na die verlede bou.

The post US Woordfees 2016: Brugbouers na gister appeared first on LitNet.

Boekresensie: Donderslag deur Wilbur Smith

$
0
0

donderslag280Donderslag
Wilbur Smith, vertaal deur Zirk van den Berg
NB-Uitgewers
ISBN:  9780795707544

Wilbur Smith het sy Afrikaanse debuut met Witwatersrand (Kwela, 2014) gemaak. Die oorspronklike titel was When the lion feeds (1964), en The sound of thunder (1966), nou vertaal as Donderslag (Adamastor, 2015), het daarop gevolg, met hoofsaaklik dieselfde karakters. Hierdie keer is die Suid-Afrikaanse Oorlog, of Anglo-Boereoorlog, van 1899–1902 deel van die aksie, wat die hoofkarakter Sean Courtney, ‘n amperse karikatuur van die alfa-man-held wat oral waar hy kom die natuur, vyande en beeldskone vroue ewe gemaklik oorwin, oorleef en ‘n vreemde stryd met sy broer, die skynheilige, haatdraende Garry, voortsit. Soos die verhaal ontplooi, kom allerhande vriende en vyande na vore, want Sean is geen diplomaat nie en mense hou van hom of haat hom; skynbaar is daar skaars ‘n middeweg as dit by dié bobaas vegter en minnaar kom. En al sy passievrugte, soos by sy einste broer se vrou én sy beste vriend s’n, skyn eenvoudig deel van die legende van Sean Courtney te wees. Smith slaag daarin om die onwaarskynlike en clichéagtige so aanloklik aan te bied dat die leser dit met sonder eens ‘n skouerophaling aanvaar. En gretig verder lees.

Natuurlik word sy amoreuse eskapades so uitgebeeld dat die leser self wens hy of sy kon daarin deel, eerder as om terug te deins vir die etiese dilemmas wat dit skep, vir Sean self en ook vir diegene wat hy willens en wetens aanraak. So nonchalant as wat hy sy manlike teenstanders in die stof agterlaat, so passievol stof hy sy minnaresse af. Wat ‘n man! wil ‘n mens uitroep, die soort waarop die Britse Empaaier mos gebou is – of op gebou móés gewees het? Ironies lyk dit egter asof die Ryk se vuurvreters eerder dun gesaai was en die slinkse en die immorele, verpersoonlik deur die boelieagtige generaal Buller en sy sikofant Garry Courtney, nogal die draer van die Victoria Cross, eerder die botoon gevoer het. Die leser weet sommer die skurke sal uiteindelik aan die pen ry en geregtigheid sal seëvier – indien nie destyds nie, wel in fiksie, en op Smith se genadelose manier. Soos sy karakters draai hy nie doekies om nie en is sy graaf se naam Gatskop Fieniesenklaar.

Soos in al sy romans, spin Smith nogmaals ‘n web van intrige wat swaar leun op toeval en ‘n tikkie melodrama om ‘n roman uit die ware “bestseller”-gietvorm te skep; dis aksie en romanse, nimmereindigend en in die oortreffende trap, en daar is skaars kans vir die karakters en die leser om asem te skep. Reg van die begin van Smith se loopbaan het hy reeds uitstekende ontspanningromans geskryf en die trefferformule behendig aangewend. Sy familiesages met die Courtneys en Ballantynes herinner sterk aan Louis L’Amour se pioniersavonture waarin verskillende generasies van die Sacketts en Chantrys mens en dier getem en hul fortuine gemaak het. Soos L’Amour is Smith ‘n meesterstorievertellers wat ook heelwat van hulle gekose milieus en geskiedkundige periodes bekendmaak: dis vermaaklik en leersaam, die basiese elemente van ‘n goeie historiese roman.

Tussen When the lion feeds en The sound of thunder het Smith The Dark of the sun (1965) geskryf en toe ‘n paar ander boeke – persoonlike gunstelinge is Eagle in the sky (1974), Eye of the Tiger (1975) en Hungry as the sea (1978) – voordat hy na die Courtneys teruggekeer het met A sparrow falls (1977). Altesaam het hy 13 boeke in die reeks geskryf uit sy meer as 30 romans sover. Daar is ook ‘n reeks van ses oor die Ballantynes wat min van die Courtneys verskil – duidelik versinnebeeld hierdie karakters Smith se ideaal van die koloniale droom, van vreeslose en kreatiewe baanbrekers wat selfs die mense wat hulle onderwerp se bewondering afdwing, in hierdie geval “big bwana” Sean Courtney se eie Tonto, die gedugte Zoeloe Mbejane.

Ek wonder waarom ‘n boek uit Engels in Afrikaans vertaal word – dis tog nie dat Afrikaanssprekendes nie Engels kan verstaan nie. Of het ons te min Afrikaanse historiese romans? Hoop die uitgewer om ‘n nuwe mark te bereik of te skep? Dat die vertaler wel daarin slaag om die oorspronklike teks in Afrikaans om te skakel sonder dat aan die vertellerstem afbreuk gedoen word, is egter waar – ek het The sound of thunder maklik 40 jaar gelede gelees, en geniet Donderslag net soveel. Smith het my weer ingetrek, en hoewel ek deesdae meer krities lees as ’n kwarteeu gelede, en soos Mark Twain glo dat ‘n mens clichés moet vang en doodmaak, is Smith se oorbekende oorlogstonele van stink derms en blink dapperheid steeds kleurvol genoeg om te geniet, en selfs die scenario van die koppige heldin wat daarop aandring om saam te reis na die dal van doodskaduwee en teen die aanvanklike weiering van die deurwinterde held tóg saamgaan en almal se harte met haar onverwagste vaardighede en verruklike skoonheid verower, bied Smith so vernuftig aan dat die meer ervare leser nogmaals stadig en genotlik aan dié ou winddroog bokkompie suie.

Met When the lion feeds / Witwatersrand het Smith ‘n heerlike stel karakters in ‘n redelik bekende omgewing (ons Afrikaanses kan uiteraard daarmee identifiseer) laat liefhê, moor, verneuk en roof en die pad nie net vir The sound of thunder / Donderslag oopgestel nie, maar ook vir ‘n hele gelid van soortgelyke avontuurverhale wat nou ook deur ‘n jonger generasie in Afrikaans geniet kan word. Altans, ‘n mens neem aan daar sal nog ‘n hele paar volg, in Afrikaans.

Ek glo nie ek wil regtig L’Amour se boeke in Afrikaans lees nie, maar ek kan Smith s’n tog aanbeveel, want Zirk van den Berg het dit baie oortuigend vertaal. En die vertalers hoef nie ‘n Afrikaans-vreemde milieu te verafrikaans en terme soos “gunslinger”, “bushwack”, “cowboy” of “sidewinder” te vertaal nie. Nee, inderdaad pas Donderslag heel goed in sy nuwe vel. Geluk aan Adamastor, en sukses toegewens met nog ’n paar pyle uit ou Wille Wilbur se koker. Ons geniet ook die Courtneys, hoewel net iemand soos Cecil John Rhodes regtig op hulle sou kon trots wees. Veral deesdae.

The post Boekresensie: Donderslag deur Wilbur Smith appeared first on LitNet.

Wenner aangekondig: Wen saam met kykNET se Die Boekklub

$
0
0

Die wenner van hierdie kompetisie is Elmari Potgieter. Baie geluk!

 

Behoort jy aan 'n boekklub? Dan sal 'n nuwe reeks op kykNET jou interesseer. 

Of is jy sommer net 'n mens met jou eie storie? Dan sal hierdie selfde reeks op kykNET jou ook interesseer.

Lees 'n onderhoud rondom Die Boekklub op kykNET.

In Die Boekklub, 'n nuwe dramareeks op kykNET, erf 'n hipster uit Kaapstad sy ouma se gastehuis – en haar leeskring. Tydens elke program word 'n boek gekies wat bespreek word en die episode se verhaallyn beïnvloed. Die eerste episode, waarin die besonderse ouma van die hoofkarakter en haar boekklubsusters en -broeders ontmoet word, se titel was Susters van Eva (deur Dalene Matthee). Amanda Botha het van dié boek gesê (http://www.oulitnet.co.za/inmemoriam/dalene_matthee.asp): "'n Boek soos Susters van Eva bied byvoorbeeld 'n besondere beskouing van die feminisme en is beslis die moeite werd om weer te besoek."

As jy self 'n reeks moes maak wat handel oor boeke en mense wat lees, watter boek sou jy kies en hoe sou dit jou fantasie-episode beïnvloed? Die boek kan in enige taal wees. Vertel in een sin waaroor die boek handel en in die volgende sin wat in jou verbeelde televisiereeks sou gebeur. (Ter voorbeeld: Die tweede episode het gehandel oor Die swye van Mario Salviati. Daar was elemente van magiese realisme; kuns was ter sprake omdat twee karakters geskilder het, en ook spookagtigheid toe 'n spook verskyn het.)

As LitNet hou van die kombinasie van jou boekvoorstel en jou voorgestelde episode opwindend vind, kan jy die volgende boekpakkie wen:

  • Carmen se beste resepte deur Carmen Niehaus (Human & Rousseau)
  • Kreatiewe kinderkamers deur Sam Scarborough (Human & Rousseau)
  • Koekedoor-bakboek deur Errieda du Toit (Human & Rousseau).

Stuur asseblief jou inskrywings na wen@litnet.co.za.

LitNet kan, weens tydsbeperkinge, nie onderneem om alle inskrywings te plaas nie. Die sluitingsdatum is 4 Februarie 2016. Kyk Dinsdae-aande na Die Boekklub op kanaal 144 vir inspirasie.

 

The post Wenner aangekondig: Wen saam met kykNET se Die Boekklub appeared first on LitNet.

NB Akademie bied weer kursusse aan vir uitgewersbedryf

$
0
0

 

Die NB Akademie, ’n inisiatief van NB-Uitgewers, bied in April en Mei vanjaar weer kortkursusse oor verskillende aspekte van die uitgewersbedryf aan. Dit volg op die sukses van verlede jaar se kursusse, wat deur sowel uitgewerspersoneel as vryskutwerkers van oor die hele land bygewoon is.

NB-Uitgewers is die grootste plaaslike uitgewersmaatskappy in Suid-Afrika, met drukname soos Human & Rousseau, Tafelberg, Kwela, Lux Verbi, Queillerie en Pharos. Die kursusse neem die vorm aan van praktiese werkswinkels en word aangebied deur van NB-Uitgewers se mees ervare medewerkers – spesialiste met jare se ervaring. Vir teksgebaseerde kursusse word uittreksels uit pas gepubliseerde manuskripte gebruik. 

Ses kursusse word in die eerste helte van die jaar aangebied – drie gemik op tekswerkers en drie op ontwerpers. Die volgende kursusse word in April en Mei in Kaapstad en Pretoria aangebied:

Proeflees 101

Hierdie eendagwerkswinkel is gerig op beginner-tekswerkers in Afrikaans en is 'n moet vir enigiemand wat 'n voet in die deur in die uitgewersbedryf wil kry. Dit word aangebied deur Riëtte Bothma, 'n proefleser, redigeerder en vertaler met meer as 25 jaar ervaring. Aspekte wat gedek word, wissel van die gebruik van proefleestekens en die gebruik van woordeboeke en naslaanbronne tot die verskil tussen proeflees en redigeer. Die grootste deel van die kursus word gewy aan praktiese oefeninge aan die hand van uittreksels uit nuwe fiksie- en niefiksietekste.

Proeflees 201

Tekswerkers met ervaring kry die kans om hul vaardighede te verfyn onder leiding van die ervare Riëtte Bothma. Uittreksels uit 'n stimulerende verskeidenheid nuwe tekste word tydens die tweedagwerkswinkel geproeflees. Die kursus word afgesluit met 'n proeflees-toetslopie, met 'n boekpakkie as prys vir die beste proefleser.

Hoe om ’n e-boek te kontroleer

Die kontrolering van e-boeke is ’n nuwe vaardigheid wat die boekbedryf nodig het. Iemand wat kan seker maak dat die inhoudsopgawe reg opgestel is en die e-boek en ander visuele materiaal reg vertoon op rekenaarskerms en mobiele toestelle. Die kursus word in Engels aangebied deur 'n spesialis in die veld, Surene Esterhuizen.

Hoe om ’n elektroniese boek te ontwerp 101

Jy’s dalk al ’n gesoute boekontwerper, maar hoe pak jy die ontwerp van ’n e-boek aan? Wouter Reinders het jare se ervaring in tipografiese ontwerp en hy verstaan die uitdagings van e-boekontwerp. Die kursus is gemik op beginners en kennis van InDesign 6 is ’n voorvereiste. Dit word in Engels aangebied.

Hoe om ’n boek te ontwerp

Dit bly ’n kuns om ’n boek te ontwerp: Hoe kies jy die lettertipe? Watter styl moet jy volg wanneer jy ’n sakeboek ontwerp? Moet die binnewerk die omslag eggo? Hoe gemaak met woordbreuke en spasiëring? Twee kenners in die bedryf – Nazli Jacobs en Wouter Reinders – gee leiding ten opsigte van hierdie proses. Kennis van InDesign 6 is ’n voorvereiste. Die kursus word in Engels aangebied.

Die volgende kursusse is ook op aanvraag beskikbaar: redigeer 'n resepteboek (Afrikaans), redigeer 'n fiksieteks (Afrikaans), en hoe om 'n boekomslag te ontwerp (Engels).

Belangstellendes kan meer inligting kry oor die kortkursusse en hoe om te registreer op NB Akademie se webwerf, http://nbakademie.co.za/. Pryse vir die kursusse wissel tussen R1 800 en R3 000.

 

The post NB Akademie bied weer kursusse aan vir uitgewersbedryf appeared first on LitNet.


Wenners: UJ-pryse, 2016

$
0
0

Ena Jansen (foto: Mudboots Creative Art, met toestemming vantevore op LitNet geplaas); Roela Hattingh (foto verskaf)

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000) en die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R75 000).

Titels wat in aanmerking vir die UJ-pryse kom is Afrikaanse kreatiewe tekste gepubliseer in die voorafgaande kalenderjaar. Vir die 2016 UJ-pryse is altesaam 50 titels is ingeskryf, waaronder 11 debute.

Die keurpaneel verteenwoordig lesers in Afrikaans betrokke by akademiese instellings en die media.

Dit is ’n groot voorreg en plesier vir die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg om hiermee die twee wenners van die 2016 UJ-pryse bekend te maak.

Hulle het meegeding teen 50 ander titels wat voorgelê is – van jeugromans tot literêr-historiese speurtogte (Carel van der Merwe), Jonker en Brink se gepubliseerde liefdesbriewe, ’n verskeidenheid speur- en spanningsromans (Deon Meyer, André Krüger, Chris Karsten), oorlogboeke (Alexander Strachan) en vorige UJ-pryswenners (Willem Anker, Ingrid Winterbach, André Krüger).

Die wenner van die 2016 UJ-debuutprys, is Roela Hattingh vir haar kortverhaaldebuut Kamee.

Die wenner van die 2016 UJ-prys vir die beste kreatiewe werk in Afrikaans, is Ena Jansen vir haar omvangryke en hoogs leesbare boek met literêre, sosiologiese en politieke impak oor  “Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste”, Soos familie.

Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste

Ena Jansen, Naomi Meyer
Resensies

"Soos familie ... Dit veronderstel ’n intieme verbintenis, maar dit kan ook ’n slagveld van emosies wees, van afstandelikheid en wantroue. Wat huiswerkers betref: die angel lê in die woordjie soos. Uiteindelik kan hulle uit jou lewe verdwyn op ’n manier wat regte familie nie maklik sou nie."

 

Boekresensie: Kamee deur Roela Hattingh

Thys Human
Resensies

"Kamee is inderdaad ’n kortverhaaldebuut om oor opgewonde te raak."

Vir 2016 was die aangewese paneel van nege beoordelaars:

Frederick Botha (UJ)

Karin Catell (US)

Marius Crous (NMMU)

Karen de Wet (UJ)  (voorsitter)

Ronél Johl (UJ)

Marné Pienaar (UJ)

Alwyn Roux (UNISA)

Ilse Salzwedel (RSG / Skrywers en boeke)

Corina van der Spoel (Wits UP)

The post Wenners: UJ-pryse, 2016 appeared first on LitNet.

Sanlamprys vir Jeuglektuur 2017|Sanlam Prize for Youth Literature 2017

$
0
0

Aankondiging van die 2017 Sanlamprys vir Jeuglektuur tesame met die "250 Woorde per dag"-veldtog

Inskrywings vir die 2017 Sanlamprys vir Jeuglektuur is nou oop!

Om 'n boek te skryf kan egter intimiderend wees . . . "As Welvaartmeesters, verstaan en respekteer ons wat dit verg om die 26 letters van die alfabet te omskep in iets wat jou laat huil, bang maak of jou laat lief hê.  Dit is 'n proses wat spreek van toewyding en vasberadenheid, maar haalbaar is vir enige persoon met 'n liefde vir woorde. Ons wil hê dat die kompetisie nie net toeganklik vir gevestigde skrywers moet wees nie, maar ook vir jong, nuwelingskrywers," sê Elena Meyer (senior borgskapsbestuurder by Sanlam).

Deur by die "250 Woorde per dag"- veldtog op Facebook aan te sluit het deelnemers toegang tot 'n span ervare en gepubliseerde skrywers wat as mentors sal optree. Voornemende skrywers word aangemoedig om elke dag minstens 250 woorde neer te pen. Sodoende sal hulle teen einde September 'n manuskrip gereed hê om in te skryf. Nie net sal raad, inspirasie en handige skryfwenke verskaf word nie, maar die span gesoute skrywers sal selfs insette op deelnemers se skryfwerk lewer. Mentors sluit onder andere Fanie Viljoen, Paige Nick, Cat Hellisen, Redi Tlhabi en Kagiso Lesego in. Volgens Michelle Cooper (uitgewer van kinder- en jeugboeke by Tafelberg) is die Sanlamprys vir Jeuglektuur belangrik in die soeke na vars stemme en die ontwikkeling van nuwe talent om leesstof van hoogstaande gehalte vir 12- tot 18-jariges te skep. "Ons is baie opgewonde oor die ‘250 Woorde per dag’- veldtog en sien daarna uit om nuwe skryftalent te ontdek!"

Die Sanlamprys vir Jeuglektuur is in 1980 bekend gestel en word tweejaarliks toegeken. Dit is oop vir inskrywings in al 11 amptelike tale. 'n Goue en silwerprys word in kategorieë vir Afrikaans, Engels en Afrika tale (Tshivenda, Xitsonga en Nguni- en Sotho-tale) uitgereik.

'n Paneel lesers stel 'n kortlys van 18 manuskripte saam wat deur verteenwoordigers uit die onderwys en algemene boekhandel, biblioteke en akademici beoordeel word. Manuskripte word anoniem beoordeel ten einde nuwelinge die geleentheid te gee om met gepubliseerde skrywers mee te ding. Deur die jare is 78 romans wat met die Sanlam Prys vir Jeuglektuur vereer is, voorgeskryf in skole en party is selfs in films omskep, soos Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt en Die ongelooflike avonture van Hanna  Hoekom geskryf deur Marita van der Vyver.

Die totale prysgeld beloop R54 000: R12 000 vir die wenner (goud) en R6 000 vir die naaswenner (silwer) in elke kategorie.

Die wenboeke sal in boekwinkels en as e-boeke te koop wees. Inskrywings sluit op 7 Oktober 2016.

Sluit by die "250 Woorde per dag"- veldtog aan deur hierdie skakel te besoek: http://bit.ly/SanlamYouth

Vind die inskrywingsvorm aangeheg, of laai dit af by: http://www.nb.co.za/Sanlam

 

Sanlam Prize for Youth Literature 2017 launched with an exciting new component

Sanlam Prize for Youth Literature 2017 launched alongside "250 Words a Day" campaign

Entries for the 2017 Sanlam Prize for Youth Literature are now open!

However, writing a whole book can be daunting . . . "As Wealthsmiths, we have a deep understanding and respect for what it takes to turn 26 alphabetic letters into something that can make you cry, scared or make you love. A process that talks to commitment and determination, yet achievable for any person that has a love for the word. It is from this understanding that our campaign of "250 Words a Day" was born. We want this competition to be accessible to not only established authors, but also to young and upcoming writers," says Elena Meyer (Senior Sponsorships Manager at Sanlam).

By joining the "250 Words a Day" campaign on Facebook, entrants will have access to a panel of renowned and established authors who will act as writing mentors. Would-be authors are encouraged to write 250 words every day. If they commit to this, they should have a manuscript ready to submit by the closing date. Not only will advice, inspiration and helpful writing tips be offered, but mentors will also read segments of manuscripts and respond to writers with useful feedback. Mentors include amongst others Paige Nick, Cat Hellisen, Fanie Viljoen, Redi Tlhabi and Kagiso Lesego.

According to Michelle Cooper (publisher of children and young adult fiction at Tafelberg) the Sanlam Prize for Youth Literature is vital in finding and developing new talent and to create literature of high quality for readers between 12 and 18 years of age. "We are excited about the 250 Words a Day campaign and are looking forward to discovering talented new writing voices!"

The Sanlam Prize for Youth Literature was launched in 1980 and is awarded every second year. It is open to entries in all 11 official languages. A gold and silver prize is awarded in the categories for African languages (Tshivenda, Xitsonga and Nguni & Sotho languages), Afrikaans and English.

A panel of readers will compile a shortlist of 18 manuscripts which will then be judged by representatives from the educational and trade book sector, librarians and academics. Manuscripts are judged anonymously so that debut writers are able to compete with established authors.

Over the years around 78 novels that were awarded the Sanlam Prize for Youth Literature have been prescribed as set work books in schools, while some have even been made into films — Lien se lankstaanskoene by Derick van der Walt and Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom written by Marita van der Vyver.

The total prize money amounts to R54 000: R12 000 for the winner (gold) and R6 000 for the runner-up (silver) in each category.

The prize-winning books will be available in bookshops and in e-book format. The closing date for entries is 7 October 2016.

To join the "250 Words a Day" campaign, visit http://bit.ly/SanlamYouth

See entry form attached, or download at http://www.nb.co.za/Sanlam

 

 

 

 

The post Sanlamprys vir Jeuglektuur 2017|Sanlam Prize for Youth Literature 2017 appeared first on LitNet.

Boekresensie: Skarlaken deur Irma Venter

$
0
0

 

Skarlaken
Irma Venter
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798170444

Janien Steyn, Jaap Reyneke se peetkind, is dood. Haar pa het haar op ʼn stil oggend in Julie in die bevrore pan gekry “tussen die tafelkoppe en digte versamelvoëlneste vasgemessel aan telefoonpale” [...] “op die vlakte met sy enkele groot boom waar niemand meer kom piekniek hou tussen kwetterende vaalbruin voëls nie”. 

Sy was opgestel as die fokuspunt van ʼn landskapkunswerk: op haar sy, presies halflyf in die modderige ys vasgevang, met die rooi fiets onder haar en 'n ou vliegbril uit die Eerste Wêreldoorlog op haar een oog. Sy het haar trourok aangehad, hoog teen haar bene kort afgeskeur, maar steeds met die lang kantmoue. En daar was omtrent vyf meter dieprooi fluweel lap wat soos ʼn lang bruidsluier oor die pan versprei gelê het. 

“As jy ʼn foto uit die lug sou neem, sou dit lyk of sy nog steeds ry, hande op die fiets se stuurstang.” Sy peetkind se dood is die een onopgelosde saak wat ná jare steeds by Jaap spook. Hy het homself destyds hardkoppig homself by die ondersoek betrek, tot groot irritasie van die plaaslike polisie. En jaar ná jaar gaan hy terug Carnavon toe om te kyk of hy iets nuuts kan wysraak.

Sy familie het die einde van hul geduld bereik; hulle wil nie jaarliks herinner word aan hul dogter se moord en die feit dat niemand ooit daarvoor vasgetrek is nie. Vossie wil haar dogter se besittings verbrand. Alles. Jaap hoop om hierdie keer daardie los draadjie te kry wat hy moontlik gemis het en wat hom na die skuldige sal lei. Hy ken Sarah nou immers. En Sarah, die voormalige kuberkraker, móét eenvoudig iets op Janien se rekenaar kry. Sy is Jaap se laaste hoop.

In Venter se vorige boeke, Skrapnel en Sondebok, (Skarlaken is die vierde boek in die reeks; Venter het in 2012 met Skoenlapper debuteer) het ons Sarah leer ken as ʼn aweregse, hardegat rekenaargenie wat min sosiale vaardighede het en aan nikotien en kafeïen verslaaf is. Sy is nie ʼn maklike karakter om te leer ken of lief te kry nie. 

In Skarlaken het Sarah pas haar pa verloor, is weerloos en in pyn en vir die eerste keer leer ons Sarah as mens beter ken. Miskien is dit juis omdat sy weerloos is dat sy instem om Jaap te help. Want sy hou nie van Jaap Reyneke nie. Dié afgetrede polisieman met sy “benerige draadhanger-skouers, effense maag, lastige regterknie en die mooi glimlag” doen alles volgens die boek en irriteer Sarah. 

Dié twee is nie goeie pasmaats nie, maar sy word gou ingetrek by die raaisel nadat sy Janien se rekenaar bestudeer en afgekom het op ʼn spoor wat hulle kan volg.

“Ek kan sien hoe die polisie haar geheime misgekyk het,” dink Sarah. “Jy moet deeglik soek om dit te kry. Jy moet ʼn sprong in jou kop maak. Jy moet aan Janien dink as ʼn volwasse vrou, en nie net ʼn slagoffer nie. Jy moenie na haar lewe kyk en dink dis iemand wat dalk bietjie anders, maar steeds jonk en onskuldig was nie. Nie dieselfde dogtertjie wat jy destyds op jou skoot getel en op die voorkop nag gesoen het nie. Jy moet wíl weet (45).” 

Janien het grootliks Afrikakuns, mainstream, vervelig, gewone kuns waarin die gemiddelde mens belangstel, deur haar webwerf So What! verkoop. Sy het egter ook onder die naam Jane Stone ʼn webwerf So What Now? bedryf wat alternatief en eksplisiet, baie meer seksueel en eksperimenteel van aard is. 

Janien wou kennelik nie hê haar ouers moet weet van haar eksplisiete werk nie, maar iemand op buurman Fanus Malan se werf het geweet, want aan dié persoon het Janien naakfoto’s van haarself via Snapshot gestuur. Dit kon aan Fanus self, sy seun, Stefan, of Janien se vriendin, Maggie (oftewel Spreeu), wees. Dalk het haar verloofde, Henk, of haar pa of broer, Leon, uitgevind. Aan potensiële verdagtes is daar nie ʼn tekort nie.

Irma Venter se werk word gekenmerk deur ʼn verskeidenheid verskuiwende landskappe wat sy inspan om spanning te skep en eentonigheid te voorkom; ruimte en landskap is in al haar boeke ʼn belangrike aspek. In Sondebok, haar vorige roman, het sy ruimtes teen mekaar afgespeel om onder meer kommentaar te lewer op die komplekse aard van identiteit. 

Ruimte, sien ons in Sondebok, is gekoppel aan jou identiteit. Die spanning wat vlugtelinge ervaar, lê tot ʼn groot mate ook daarin dat so ʼn persoon die ruimte of landskap van sy identiteit moet aflê en homself in ʼn nuwe, emosioneel ongekarteerde landskap bevind. 

In Skarlaken voer Venter die landskaptema verder: sy gebruik soos gewoonlik verskillende ruimtes (Canarvon, Stellenbosch, Clarence, Walvisbaai, Gaborone), maar betrek landskap as iets wat omskep kan word tot kunsvorm, wat ingespan kan word as protes en gemanipuleer kan word.

Landskap word ʼn boodskapper.  Selfs die liggaam as meetbare en karteerbare landskap word betrek:  Maggie doen navorsing oor DNS-maskers, ʼn proses waardeur jy met ʼn DNS-monster ʼn gesigmasker van iemand kan vorm. En Janien, wat in haar dood opgestel is as landskapkunswerk, word ook langsamerhand soos ʼn nuwe, onbekende landskap gekarteer.

Die leser leer ken hierdie jong meisie deur ander karakters se persepsies en herinneringe, maar in die proses giet jy as ’t ware jou eie DNS-masker van haar. Sarah waarsku die leser immers vroeg dat jy onder die oppervlak moet kyk, dat die onsigbare, dit wat buite die waarnemer se oog lê, direk beïnvloed hoe die kontoere van ons lewe loop en nagetrek word.

Landskap is nie die enigste tema in Skarlaken nie; Venter het self voorheen daarop gewys dat die motto’s voorin haar boeke as ʼn sleutel tot die verhaal gelees kan word:

Dance, when you’re broken open.
Dance, if you have torn the bandage off.
Dance in the middle of the fighting.
Dance in your blood.
Dance when your’e perfectly free.
(Rumi, vertaal deur Coleman Barks met John Moyne)

Here at the frontier, there are falling leaves.
Although my neighbours are all barbarians,
And you, you are a thousand miles away,
There are always two cups at my table.
(Tang-gesegde)

In hierdie roman word daar gewerk met verlies en die rouproses ná die dood, ook die dood van ʼn verhouding; die mag van liefde in sy verskillende vorms; die onbewustelike blootstelling van onsself deur tegnologie en sosiale media; die teenstrydige vryheid en gebondenheid van “anders” wees. 

Sarah en Jaap verwerk albei op verskillende maniere die dood van ʼn geliefde en maak tydens die ondersoek vrede met hulself en die gevoel van afwesigheid wat hulle voortdurend ervaar.

Sarah vou hier oop soos ʼn jong varing, sensitief, beeldskoon en broos met meer krag as wat op die oppervlak sigbaar is, ʼn karakter met wie ek simpatie en empatie het, maar ook respek vir haar krag en vreeslose gedrewenheid. En Jaap, wat byna as haar teenpool beskou kan word, ontluik as ʼn interessante, genuanseerde karakter, meer as die steriotipe afgetrede polisieman.

Irma Venter is ʼn baie slim en vernuftige skrywer. Sy verweef haar navorsing moeiteloos, gebruik die gevreesde ek-verteller met soveel gemak en vernuf, en skryf op veelvuldigge vlakke vir haar leser met interessante temas en inligting onderliggend aan die vinnige tempo en naelbyt spanning waarvoor sy bekend is.  Venter werk die raaiself vir jou so vernuftig en moedswillig uit dat jy behoorlik moet kopkrap saam met Sarah en Jaap. En met elke boek karteer sy skynbaar moeiteloos en met groot sukses ʼn nuwe gebied op die krimilandskap. 

The post Boekresensie: Skarlaken deur Irma Venter appeared first on LitNet.

Review: Affluenza by Niq Mhlongo

$
0
0

Photo of Niq Mhlongo: laurenbeukes.com

Affluenza: Short stories
Niq Mhlongo
Kwela
EAN: 9780795706967

Every new book by Niq Mhlongo is literature to my ears. His three novels, Dog eat dog (2004), After tears (2007) and Way back home (2013), were fresh, gritty and not to be ignored. Reading them in sequence you witness a writer coming into his own, developing an unmistakably individual voice that captures a historical moment like no other. That moment for Mhlongo is now. If you want to take the pulse of present-day South Africa, you can turn to his work for insight.

Dog eat dog encapsulates the lives of a group of Wits students at the time of the first democratic elections. After tears describes the challenges and disillusionments of their generation after graduation. In Way back home the characters have seemingly made it, but their lives are haunted by greed, corruption and ghosts from their past. Never afraid to tell it like it is, Mhlongo offers a brutally honest glance into contemporary South Africa.

In his first short-story collection, Affluenza, he continues in this vein, but at the same time the writing is even grittier. Four of the eleven stories were published before. The topics range from farm murder, suicide, and paternity to animal attacks in a game park. Mhlongo does not shy away from difficult discussions surrounding the issues of race, gender, sexuality or class, pointing to the horrendous levels of miscommunication arising when people approach one another with bigotry.

Two couples experience more than just the excitement of encountering the big five on a game drive in “Betrayal in the wilderness”. In the opening scene of “The dark end of our street” a young man jumps to his death. His university friend from the same residence attempts to comprehend the fatal step. He finds a shocking letter that explains the heart-wrenching decision.

In “The warning sign” prejudice and violence escalate when a white farmer is visited by members of a land redistribution committee. Workers keep disappearing from the farm under mysterious circumstances, while others reach their breaking point and revolt.

Before a bachelor party, two friends end up in a deadly situation when they meet three alluring women at a bar in the titular story, “Affluenza”: “This is Johussleburg and everyone here is suffering from affluenza. Almost every black person pretends to be rich while staying in a rented room. Didn’t he just pay for the ladies’ expensive drinks with his credit card when he already skipped two instalments on his car? Who was he to judge?”

In the last and longest story of the collection, “Passport and dreadlocks”, it is unclear who is about to exploit whom when a group of Jozi men decide to save up for a holiday at the Victoria Falls, where they can pick up and sponge off rich white women: “We’ll go hunting for white women, or they will be hunting for us.” To get to Zimbabwe, one of them has to travel on a fake passport because his is stolen along with his dreadlocks (a magnet for white women, they believe) before the trip. Prejudices abound, the stalking of “prey” begins, and when it all goes horribly wrong, no one is willing to take the fall.

Negotiating traditions and dealing with family responsibilities feature strongly in some of the stories. A father of three accuses his partner of being unfaithful in “Goliwood drama”. He insists on a paternity test before paying maintenance for the youngest child. The court’s findings in his case are not what he expects. Another man is tricked into fatherhood by his mentally ill wife in “The baby shower”. When their baby is allegedly stolen, he discovers the truth about his son’s origins. A gullible woman is seduced by a womaniser of note in “My name is Peaches”, but she discovers her fate only when it is far too late to escape the dire consequences of her careless actions.

In “Catching the sun” the family of a sculptor is plagued by foreboding signs. Then, strangers arrive at their house to announce the passing of their daughter Mpho. Unbeknown to them, Mpho had not only been living in a relationship with a man but had given birth to his child before dying in a car accident. The partner’s family deliver the terrible news and try to assist with the burial arrangements as well as lobola payments in the wake of the tragedy. But it is nearly impossible to navigate through the labyrinth of superstitions and traditions both families abide by, especially when other calamities follow and people need to find explanation for these occurrences. A strange tragicomedy of errors ensues. Money changes hands, blame is attributed, and consciences are cleared, but only greed wins in the end.

“Four blocks away” had me chuckling most of the way. On cultural exchange in Washington DC at the time of Barack Obama’s election, a gumboot dancer is desperate to spend the night with a woman he encounters there. She is more than willing, and her rules of engagement are simple: “No glove, no love.” The eager lover dashes out into the night to procure condoms. After a series of misfortunate incidents and misunderstandings which nearly get him arrested he returns to the hotel where the woman is waiting, only to be confronted with another twist in his quest.

Another gumboot dancer tries to pick up a woman during a trip to Mauritius in “The gumboot dancer”. In order to get her attention he is willing to lie shamelessly about his friend Kabelo’s sexual preferences and to tolerate the hateful homophobic nonsense which continues spilling from the woman’s mouth: “I still found her excitingly desirable even after all she had said.”

These everyday encounters between families, friends or strangers are plucked out of the ordinary and portray a society in crisis. We live in interesting times that make for interesting stories. Whether it is a blessing or a curse for contemporary writers, history will decide. In the meantime, it is reassuring to know that affluenza going viral does not go unnoticed and that the next generation of writers is willing to engage with the sicknesses afflicting our present.

Despite its light laugh-out-aloud moments, like all of Mhlongo’s previous books Affluenza is not a comfortable read, but it is one of those that should not be missed if you want to understand what is at stake in today’s South Africa.

The post Review: Affluenza by Niq Mhlongo appeared first on LitNet.

Boekresensie: Omega, oor en uit deur François Verster

$
0
0

Titel: Omega, oor en uit
Skrywer: François Verster
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624072614

’n Koffiewinkel in ’n winkelsentrum in die Kaap se noordelike voorstede is die gepaste plek om François Verster se boek te lees oor sy belewenis van diensplig en sy lewensloop daarna in die nuwe demokratiese Suid-Afrika.

Dit is hier, in die kuierplekke en winkels van oorwegend Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners, waar mens jou deursnee-dienspligtiges, van wie die laastes so 27 jaar terug met die beëindiging van die Grensoorlog in 1989 uitgeklaar het, sal kry. Hulle moet vandag so tussen 45 en 50 wees. Amper nog in die fleur van hulle lewens. Ander is ouer, heelwat al afgetree. Honderde is nie hier nie. Net hul geliefdes met die skrale troos dat hulle hul lewens vir ’n vreedsame oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika opgeoffer het.

Mens soek antwoorde by hulle: Wat doen dié wat oorleef het vandag? Is hulle spyt oor die revolusie en bloedvergieting wat hulle help afweer het? Is hulle verbitterd? Ly hulle aan posttraumatiese stres? Hoe hanteer hulle dit om laaste in die tou te staan wanneer dit kom by bevorderings en aanstellings?

Die subtitel van Verster se boek is Die storie van ’n opstandige troep. Dit klink oppervlakkig. Die woorde op elkeen van die 207 bladsye is egter meer as “kostelike anekdotes” soos op die agterblad aangedui word.

Dit gaan nie net oor dieselfde ou “army”-staaltjies waaroor al baie geskryf is nie. Stories wat nodig was om geskryf te word. Om die kop skoon te kry. Om die toe en die nou te verstaan

François Verster, opgeleide geskiedenisonderwyser, dienspligtige op 25, later staatsargivaris by die Kaapse argief in die ou Roelandstraattronk en uiteindelik, en vandag nog, maatskappy-argivaris van Naspers, gee sý antwoorde in hierdie boek. Onder meer oor hoe die plafon in die staatsdiens, soos elders, helaas, ook vir hom te ondeurdringbaar laag geword het vir bevordering.

Hy skryf boeiend oor vandat hy as 25-jarige gegradueerde in Januarie 1987 vir sy verpligte diensplig van twee jaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn aangemeld het.

Sy skrywe oor die twee jaar is inderdaad dikwels skreeusnaaks oor die oppervlakkige dag-tot-dag-lewe as dienspligtige. Van die rit op die trein en sy basiese opleiding tot uitplasing na die Omega-basis in die Caprivi, waar hy vir Boesmankinders moes skoolhou.

Verster se vertelling word egter diepsinnig verweef met ’n verhaallyn wat in die hede afspeel, byna 25 jaar nadat hy sy diensplig voltooi het. Waar hy antwoorde probeer gee op die vrae oor hoe hy (en ander) die lewe ná diensplig as gevolg van diensplig, en nou, ervaar. Hoe hy sy en die land se toekoms sien.

Vandag wonder hy oor die Boesmans wat in 1990, ’n jaar na die beëindiging van die Grensoorlog, na Schmidtsdrift in die Noord-Kaap gestuur is. En sommiges wat later, in 2000, na die Weskus-Sanpark verskuif is.

Hy skryf (bl 122): “Die SAW het seker goed bedoel toe hy die Boesmanskole en hospitale opgerig het en die Boesmanskool het sukses behaal, maar waar is hulle nou, die kinders van destyds?”

Hy wonder oor die argiefdienste. En sê wat hy dink: “Daar bestaan ’n wesenlike gevaar dat ook dié openbare diens kan verval en enige argivaris sal jou kan vertel dat dokumente wat wegraak, selfs net weens verkeerde liassering, vir altyd verlore kan wees” (207).

Hy wonder oor sy rol op die pad vorentoe: “Ekself voel soos ’n klimtol in ’n hyser: vir my gaan dinge op en af, meestal draai my kop en klop my hart in my keel wanneer ek dink oor my plek in hierdie land” (203).

Hy wonder wie gaan luister na die dinge wat hom pla. “Dan dink jy: die kanse dat pres Zuma ’n ontevrede Afrikaner se vertoë in Die Burger sal lees, is ewe skraal as wat ’n geliefde, afgestorwe foksterriër sy baas se woorde aan hom in die koerant se sterfgevalle sal lees.”

Dus, vra Verster, aan wie skryf ’n mens dan wanneer iets op jou hart druk? Sy antwoord: “Seker maar aan mense soos jyself.”

Hy gee nog antwoorde . . . Gaan lees gerus.

Aan wie jy ook al skryf, dit moet geskryf word, geboekstaaf word. As argivaris en bewaarder van die verlede weet hy dit.

Hopelik kan hy ander, nie net voormalige dienspligtiges nie, maar ook families en geliefdes wat deur diep waters is, aansteek om oor meer te skryf as net die dienspligjare – vir baie maar net “die lekkerste twee jaar van my lewe wat ek nooit wil oor hê nie”.

The post Boekresensie: Omega, oor en uit deur François Verster appeared first on LitNet.

Viewing all 1320 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>