Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1319 articles
Browse latest View live

Boekresensie: Huilboek deur Ryk Hattingh

$
0
0

Huilboek
Ryk Hattingh
Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798172493

Dit is nou byna 20 jaar sedert die publikasie van oudjoernalis Ryk Hattingh se Witskrif (1997). Die skrywer van onder andere ook Die tonnel (1984) en Ignatius Brand (1990) het Suid-Afrika teen die draai van die millennium verlaat en saam met sy gesin ’n nuwe nes in Nieu-Seeland gaan skrop. En soos Suid-Afrikaners al gesien het, kan uitgeweke skrywers dan vir ewig stil word, soos in die ingewikkelde geval van Peter Blum. Soms word hulle stem nog skerper en belangriker, soos in die geval van Elisabeth Eybers, wat tydens al haar jare in Nederland nog altyd in haar moedertaal gedig het. Laat ons ook nie vergeet van JM Coetzee nie, wat steeds romans skryf van waar hy ingeburger in Australië woon.

Hattingh se Huilboek is ’n outobiografiese novelle wat hoofsaaklik handel oor die verteller, Ryk, se emigrasie, maar ook terugdelf in sy herinneringe van sy grootwordjare in Benoni en sy dwelmverslawing wat bygedra het tot die besluit om Suid-Afrika vaarwel te roep vir die “twee ou eilandjies” wat “[ronddryf] soos twee drolle doer onder in die see” (64).

Die titel van die boek verwys na ’n voorval in die verteller se kinderjare, as ’n huilerige, “mislik[e]” seuntjie, toe sy ma vir hom ’n boekie gegee het waarin hy telkens ’n kruisie moes trek wanneer hy wou huil. Ofskoon dit vir ’n duidelik sensitiewe kind as afleiding moes dien, is dit dan die idee van die huilboek – dus treurmare, lamentasie en hartseer verhaal, maar ook lofsang vir die rykheid van menslike ervarings en herinneringe – wat struktuur aan Hattingh se novelle gee.

Jonger lesers sal dalk nie van Ryk Hattingh weet nie – enersyds weens die lang publikasiestilte wat op sy emigrasie gevolg het, en andersyds omdat hy nie ’n groot gekanoniseerde naam soos ’n Brink, Joubert of De Vries is nie. Oor die nietigheidsgevoel wat met ’n bewustheid van hierdie feit gepaardgaan, wonder die karakter in Huilboek dan

[of] iemand skielik gaan vra wanneer laas het julle ’n storie van Ryk Hattingh gelees en ai tog, hoe mis ’n mens nie sy alternatiewe, aweregse benadering tot dinge nie. Sy vreemde fiksies. En wat het in elk geval van hom geword? Laas het ek gehoor hy woon nou in Nieu-Seeland. Van alle plekke. Fokken cop-out as jy my vra. Wie het nou ooit gedink dat hy ’n glyer sal word? En fokken Nieu-Seeland! Jissis. Vervelig verby. (64)

Die liriese novelle is saamgestel uit ’n reeks episodiese spronge tussen die karakter se reeds genoemde grootwordjare aan die Oos-Rand, snitte uit die deurmekaar negentigerjare (waartydens die protagonis met ’n hewige dwelmverslawing worstel), asook vertellings oor sy aankoms en sy gesin se bestaan in Nieu-Seeland. Dit is heelwat om in 159 bladsye te verpak, maar Hattingh se verhaal vlot omdat die betrokke ervarings en herinneringe van die hoofkarakter dig met mekaar verweef word.

’n Afrikaanse ekspat-teks wat spesifiek handel oor landsverlating kan maklik in ’n moeë afskietery van Suid-Afrika ontaard. Vroeg al in die verhaal wil die leser amper dink dit is wat Huilboek inhou wanneer die karakter Ryk die clichéredes aanvoer waarom mense emigreer: “Die misdaad tuis, die geweld, die onsekerheid, die gebrek aan intelligente leierskap, die snelle Zimbabwefisering van alles, die ineenstorting van infrastrukture, die korrupsie ...” (17). Terwyl veral die gewelddadige misdaad Ryk en sy gesin se besluit tog beïnvloed, ontkom Huilboek aan afgesaagdheid omdat die verhaal die emigrasieproses vanuit die staanspoor problematiseer: Ryk en sy gesin is om verskeie redes vort.

Ryk se aanpassing in sy nuwe tuiste is moeilik, en om die vreemdheid te besweer en te voorkom dat hy weer in ou slagysters trap, moet hy sy verlede begin verwerk, soos wat hy hom verdiep in sy tuinwerk om sy nuwe huis. Die terugblikke op sy kinderjare verken sy verhouding met sy ouers (hoofsaaklik sy pa, wat skynbaar nie geskroom het om sy seun lyfstraf toe te dien nie) en ’n karakter wat tegelyk alomteenwoordig en afwesig is. Outa Toon was ’n tuinier in die diens van ’n jong Ryk se gesin wat ’n merkbare indruk op die seuntjie gemaak het. Soos die verhaal vorder, poog die karakter om lewe in sy herinneringe van hierdie man te blaas. Dit is deur hierdie verkenning dat die novelle daarin slaag om vreugde en hartseer realisties aan te bied. Ten spyte van die deernisvolle herinneringe aan outa Toon en die onvermoë om ’n wrede afgestorwe vader te verstaan, kan die karakter betekenis vind, al besef hy ook goed “[d]aar is nie ’n app wat die verlede ongedaan kan maak nie” (157).

Ryk Hattingh se Huilboek is ’n boek wat wys hoe ou herinneringe en nuwe ervarings gloedvol kan saamsmelt om ’n onopgesmukte verhaal te vertel. Mag hy nie weer so lank stil wees nie.

The post Boekresensie: Huilboek deur Ryk Hattingh appeared first on LitNet.


Uitnodiging: Bekendstelling van Joan Hambidge se Indeks

Boekresensie: Verlorenkop deur Celesté Fritze

$
0
0

Verlorenkop
Celesté Fritze
Queillerie
ISBN: 9780795801068

“As jy met empatie kyk, is daar plek vir die voorgeslagte om vir jou ʼn borswering teen die lewe te wees,” vertel Celesté Fritze in ’n onderhoud oor haar debuutroman op LitNet (Meyer, 2016). Vir Jo, die hoofkarakter in Verlorenkop, word die voorgeslagte wel uiteindelik ’n borswering, maar nie sonder ’n moeilike en uitgerekte proses van selfontdekking nie – waartydens haar naam verander van Johanna du Plooy, na Jo Pieterse, na Joanne Peters en uiteindelik na net Jo.

Vir die jong Johanna raak alles in Suid-Afrika net te veel: haar familie, die politiek en die geheime wat sy met haar moet saamdra. Na ’n traumatiese seksuele ervaring verander sy haar naam na Jo, trou met Kerneels Pieterse en vlug na Vermont in die VSA waar Kerneels navorsing doen oor Alzheimers en Jo haar liefde vir perde op ’n perdeterapieplaas kan uitleef. Maar dit maak nie saak hoeveel keer sy daarvan probeer wegvlug nie, die waarheid haal haar tog telkens in: sy is ’n homoseksuele vrou. Hierdie realiteit leef met haar saam ook in die figuur van haar tante Christine, ’n sterk vroueboer wat herinner aan die formidabele Anna Petronella van Heerden (1887-1975),[i] ʼn baanbreker wat die beeld van Afrikanervroue betref. Die karakter van ta’ Christine leef voort in die dagboeke wat sy aan Jo nalaat, waaruit Jo oor jare heen die binnewerkinge van die Retief-familie leer ken. Die Retiefs het baie geheime gehad, geheime wat met ’n ysterhand beheer is deur die matriarg Delores Retief, Jo se oumagrootjie. Jo se woede oor die sondes van die voorgeslagte manifesteer in skuldgevoelens oor haar eie “sondes”: die vermoede dat sy as kind die eerste minister “doodgebid” het, haar seksuele verwarring, die dood van haar seun Benjamin, emosionele ontrouheid aan haar man, die feit dat haar dogter Christi die lewe van ʼn ekspat moet lei sonder dat sy dit self gekies het.

Die vroulike narratief van Verlorenkop bied ’n blik op die lotgevalle van en verhoudings tussen sterk vroue in die Suid-Afrikaanse konteks vanaf die begin van die 1900’s tot die hede by monde van verskillende vroue, spesifiek die Retief-vroue. Aan die begin van die roman verskaf die skrywer ’n stamboom sodat die leser tred kan hou met die verskillende verhale wat vertel word. Jo en ta’ Christine se lewensverhale word gelyktydig weergegee en die leser besef gou dat hierdie twee vroue se stryd dieselfde stryd is. Waar ta’ Christine se liefde vir Dina wreed beëindig word nog voor dit kon begin, kry Jo die geleentheid om na baie jare vrede met haarself te vind in ʼn verhouding met die joernalis Marga.

Wat die sterk boerevroubeeld betref, staan Verlorenkop in die tradisie van groot verhale soos Olive Schreiner se The Story of an African Farm en Marlene Niekerk se Agaat. Alhoewel die roman nie van dieselfde kaliber as hierdie werke is nie, is die aanvulling wat Verlorenkop tot die Afrikaanse romankuns bied veral gestel in die lesbiese perspektief op die plaasgegewe. Ta’ Christine is ʼn sterk lesbiese vrou wat haar lewe lank ʼn boerdery suksesvol bedryf, en selfs al vlug Jo na ʼn ander vasteland, is sy ook maar ʼn boer in murg en been. Haar perdeboerdery-aktiwiteite verloop vlot danksy die hulp van die enigmatiese Kath. Kath is die een wat Jo Joanne noem en haar ou geheime en vrese weer kom oopkrap met haar intense Argentynse oë. Die onrus wat Jo haar lewe lank dryf, kom eers tot bedaring wanneer Jo op die plaas Kleinfontein in die Karoo gaan boer ná Kerneels se dood. Saam met Marga maak Jo daar uiteindelik vrede met haarself en haar voorgeslagte.

Die tema van oudword en vergeet is een wat sterk in die roman na vore tree. Alzheimer se siekte is in beide Jo en Kerneels se families teenwoordig. Kerneels wy ook sy hele professionele loopbaan aan navorsing daaroor. Jo word as kind saam met haar seniele oumagrootjie Delores in die afgekampte blomtuin “weggebêre”, ʼn beeld wat in die proloog die verhouding tussen die voorgeslagte en die nageslagte op die voorgrond bring: “So kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis ...” (12). Ta’ Christine se dagboeke bied verweer teen die aanslae van vergeet en bring ook die wêrelde van voorkennis en nakennis byeen. Ta’ Christine word so goed in hierdie dagboekinskrywings gekarakteriseer dat ʼn mens soms wonder of sy nie eerder die hoofkarakter moes gewees het nie. Die eerstepersoonsverteller wat in ta’ Christine se vertelling gebruik word, sou dalk die karakter Jo vir die leser ook meer toeganklik gemaak het.

Die titel van die roman verwys nie slegs na die Retiefs se familieplaas (Verlorenkoppe) nie, maar ook na ʼn soort oomblik, vertel Fritze in die onderhoud op LitNet: “Miskien is dit ʼn moment wanneer ʼn karakter besef sy het haarself ʼn onguns bewys: sy was te lank onder mensebeheer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans.” Dit is die moment wanneer sy haar ta’ Christine se blou jas met selfvertroue kan aantrek en kan sê: “Nee, ek is nie gepla nie ... Ek lê gemaklik tussen die skerwe van die glashuis. Die tewe lê by die tewe. Ek het die rubicon vir ons oorgesteek, ta’ Christine” (253).

Verlorenkop is ʼn verdienstelike debuut wat ʼn verhaal vertel wat interesseer en gemaklik lees. Dit dra by tot die verruiming van die tradisie van die plaasnarratief in Afrikaans deur spesifiek die lesbiese perspektief daarop oortuigend weer te gee.

Bibliografie

Meyer, N. 2016. Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze. http://www.litnet.co.za/tien-vrae-verlorenkop-deur-celeste-fritze.

Viljoen, L. 2008. Nationalism, gender and sexuality in the autobiographical writing of two

Afrikaner women. Social Dynamics, 34(2):186–202.


[i] Anna Petronella van Heerden was die eerste Afrikanervrou wat as dokter gekwalifiseer het. Sy was bekend daarvoor dat sy vir vroueregte gestry het. Daar bestaan ook ’n baie sterk vermoede dat sy lesbies was. Van Heerden het na haar aftrede ʼn suksesvolle boerdery op haar eie bedryf. Daar het twee outobiografiese tekste uit haar pen verskyn. (Viljoen 2008:187)

The post Boekresensie: Verlorenkop deur Celesté Fritze appeared first on LitNet.

Resensie: Vroue van die Bybel deur Esté Geldenhuys

$
0
0

Vroue van die Bybel
Esté Geldenhuys
Lux Verbi 
ISBN: 9780796319630

Geldenhuys is ‘n bekende skrywer en radio-omroeper wat met die moed van haar oortuiging eerlik en sonder skroom evangeliese waarhede oordra. Hierdie waarhede is nie alleen op haar geloof geskoei nie, maar ook op haar kennis van die Bybel en haar beleë insig  en integriteit.

Die subtitel van hierdie boek, Vroue van die Bybel, is ... praat met ons vandag. Enige resensent staan deesdae redelik skepties teenoor die tientalle boeke wat die klem op vrouwees laat val. Hierdie boek is egter geen liggewig nie. Manlike lesers behoort dit immers ook interessant te vind. Dit handel ook nie hoofsaaklik oor vroue van die Bybel nie. Dis nie ‘n oproep om goed te voel nie, maar bevat wel ‘n ope uitnodiging om God in jou lewe toe te laat. Die boek gaan dan ook in die eerste plek om God, die Here van hierdie vroue en hoe Hy hulle behandel het en steeds die gelowige vrou benader en hanteer.

Die leser word bekendgestel aan ‘n verskeidenheid vroue van die Bybel van Eva tot die Hooglied-vrou. Die oogmerk is om die leser te laat leer uit die universele aard van die mislukkings én suksesse in die lewe van hierdie vroue. Die postmoderne leser, al sou hy/sy ‘n gelowige wees, mag dalk skepties staan oor die genoemde "iets te leer" uit hierdie vroue se lewens. Die moontlike lewenslesse hierin vervat is hier bepaald nie vol versiersuiker nie. Niks in die lewe van vroue soos byvoorbeeld Maria, die moeder van Jesus, of Maria Magdalena, die volgeling van Jesus, word eufemisties uitgebeeld nie.

God weet die wêreld is stukkend. Van Ragab die hoer, soos wat sy pront in die Woord genoem word, tot by die ewe promiskue Samaritaanse vrou bewys God dat hy die sondaar liefhet, al sou Hy die sonde haat. Vir God bestaan kultuur- en rasseskeiding nie. Hy vee dit plat meermale wanneer sy dissipels dink Hy fouteer.

So word dié vroue van die Bybel se geskiedenis kortliks vertel, maar met God se rol onmiskenbaar daarin verweef.  Na elke geskiedenis volg Geldenhuys dit op met ‘n kort (of soms langer) essay as nabetragting.  Dit op sigself is ook deeglik gedoen binne die beperkinge van so ‘n boek. Een van die beperkinge is vanselfsprekend spasie. Die ruimte binne so ‘n boek wat op die mark gerig is, laat dit nie toe nie. Al die geskiedenisse van hierdie vroue kan veel dieper en teologies meer solied aangebied word, maar die oogmerk van hierdie boek is om die leser bewus te maak van God se rol ook in sy/haar lewe. Daarin slaag die skrywer beslis.

Geldenhuys hou dwarsdeur die boek voet by stuk: Liefde is ‘n daad, dis nie woorde of emosie nie, en sy baseer hierdie standpunt op 1 Johannes 4:10-12. God het die mens eerste liefgehad en uit liefde sy Seun gestuur om  namens die mens ons sonde te dra.

Verder  lig Geldenhuys  telkens uit dat die Here, Jahweh, die groot EK IS, is. Naomi hou byvoorbeeld met haar hele wese vas aan God, al verklaar sy in haar ellende dat God se hand teen haar is. Haar onwankelbare voorbeeld lei daartoe dat Rut onomwonde verklaar dat haar skoonma se God ook haar God is (Rut 1:16,17). Geldenhuys vra dan ook die volgende vraag in die nabetragting van Rut se geskiedenis, en beantwoord dit terselfdertyd: “Wanneer is ‘n getuienis geloofwaardig? Sekerlik wanneer dit volhoubaar gelééf word...” (115).

Die boek is vlot geskryf en die skrywer is seker van haar saak. Geldenhuys probeer nie bekeer nie, sy getuig net. Sy vertel van wat was en wat is en altyd sal wees: Die mens se soeke na God soos uitgebeeld in die soms erg treurige en meermaal wonderbaarlike gebeurtenisse in die lewens van hierdie vroue van die Bybel.

Op ’n punt van kritiek: Die skrywer sê soms te veel. Byvoorbeeld op bladsy 211: “Maria het die beste keuse gemaak. Kom ons volg haar voorbeeld”.  Die “Kom ons volg haar voorbeeld” kon maar gebly het. Dit is ‘n gevolgtrekking wat die leser werklik self maak.

Ander voorbeelde van woordrykheid kom ook voor, byvoorbeeld op bladsye 218 en 219, waar herhaaldelik gevra word wat die leser vandag behoort te doen. Die hele wese van die boek (al verwys dit na gebeurtenisse van duisende jare gelede), is immers gerig op vandag se probleme, want universele probleme bly dieselfde. Dit  bly net ‘n kleinigheid in ‘n boek wat baie lesers sal raak.

The post Resensie: Vroue van die Bybel deur Esté Geldenhuys appeared first on LitNet.

Uitnodiging: Boekbekendstelling van Broedertwis deur Albert Blake

Resensie: die na-dood deur Breyten Breytenbach

$
0
0
nadoodresensie650

Breyten Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

die na-dood
Breyten Breytenbach
Human & Rousseau
ISBN: 978079817246

Breyten Breytenbach se jongste bundel, getiteld die na-dood (2016), verwys na die naderende dood, of “nabydood”, soos die digter in ’n voetnota op bladsy 150 aandui. Die titel vertel in die gelyknamige gedig van “drome/ van reise na wat nie/ gemeet kan word nie”, wat die tydperk ná die dood impliseer.

Die dood verkry konkrete gestalte in die elegiese verse, opgedra aan Tomaž Šalamun, getiteld “by die heengaan van Tomaž Šalamun, 27 desember 2014” (18–20), en André P Brink in “en skielik is dit stil (André, 7 Februarie 2015)” (32–3). Die dood van tydgenote bring ’n verskerpte bewustheid van verganklikheid vorendag, wat die digter soos volg in “klaarmaak” (189) verwoord:

ek het nog nie die bittersoet begin
drink wat my dood sal maak nie
maar die wind bring berig
dat die reis al te lank is
dat te veel mense in my geheue
moes sneuwel ...

Deur die digter se vernuftige woordwerk verkry die leser ’n begrip van die betekenis van die dood, soos die digterlike alter ego Woordvark in “die na-einde” (202–4) vir die vrou en die kind sê:

... dis tog net ’n oomblik
wat vir ewig duur.
moenie kyk nie.

In “die besoek” (34) word die ewigdurende doodsoomblik tydelik opgeskort, soos die spreker sy gestorwe moeder, “Ounooi”, op die stoep hiér by die katjiepieringbos aantref:

... o Ounooi Moederdogter
hier is jy dan nog hiér deur donkerte tydverbleik
in die katjiepieringbos by die stoep
se wit geur onsterflikheid.

Om gedagtig te wees aan die hier-wees loop soos ’n goue draad deur Breytenbach se digterlike oeuvre. Die motto van die bundel, “behier my hart, behiér –/ en laat wat buite is bedaar”, ’n fragment aangepas uit die gedig “kolkstilte, Kersfees 2015” (100–1), wil juis ’n oomblik van stilte, van gedagtig-wees, skep.

Maar hierdie gedagtig-wees veronderstel nie ’n apatiese houding ten opsigte van die wêreld “daar buite” nie; inteendeel: om gedagtig te wees, beteken om te onthou “van duisende naastes wat niks meer het nie”, van “stede in puin/ tussen koningsrotte gemartelde lyke”, “’n oomblik van weet/ ons vernietig die planeet”, “net ’n stilte-stil oomblik/ se onthou van krippe en kruise en krotte/ en krete en karkasse”:

behiér, hart – behiér:
laat wat buite is bedaar
in ’n oomblik van stilte
tussen stilte en stilte.

Die bundel bestaan uit ses afdelings. In afdeling 1, “onder sterre se gewig”, is ’n hoogtepunt Breytenbach se vry vertaling van die Marokkaanse digter en skrywer Abdellatif Laâbi se gedig “J’atteste”, wat na aanleiding van die terreuraanslag op Charlie Hebdo in Parys geskryf is. Breytenbach se vertaling hiervan, “hierdie woorde, ’n nederige gebed dat die barbarisme nie hoop ook sal vermoor nie” (12), weerspieël die soeke na menslikheid wat Breytenbach se digkuns kenmerk:

ek getuig net hy wie se hart bewe
van liefde vir die medemensmense
sal méns kan wees
net hy wat vuriglik méér vir hulle
as vir homself wil beding ...

’n Groot aantal gedigte handel oor die digkuns self. Wanneer die gedigtitels van die eerste afdeling gelees word, kom die leser dadelik tot die besef dat die verse oor woorde, gedigte, die digter – kortom, oor die digkuns – gaan. Die programgedig “opsomming” (11) is self ’n poëtikale gedig wat die paradoks belig van die “hoedanigheid van digter te wil wees”:

hoedanigheid van digter te wil wees
(behalwe die danigheid dan met woordself)
is om te laat deurskemer
dat daar dit is wat nie gesê kan word nie
en buite en agter die kadansdansery
val soos verkluimde trekganse in die sneeu.

Ten spyte van die paradoks hou die digter vol met sy soeke na “hoedoenige/ van daardie dit wat nie bestaan nie” en neem die persona van (onbeholpe) “ekdigter” aan:

ekdigter: die voëlverskrikker
wat iewers tussen die woorde
woer-woer om te kan vlieg.

Die titel van “gedigmaak gedig” (29) laat sien die wyse waarop Breytenbach reeds geskrewe gedigte gebruik vir die skryf van nuwe gedigte, met die gevolg dat sy gedigte voortdurend met mekaar in gesprek is. Die slotkoeplet van “gedigmaak gedig” neem hierdie verskynsel soos volg saam:

dat die gang en samesang van ooreenkomste
mag ontstaan en aan mag gaan.

In “en die wêreld het met my gepraat” (44), word Afrikaans as die medium van die gedig onder die loep geneem. Hierin vermeld die spreker op humoristiese wyse dat dit moontlik beter sou wees indien “die wis en die onwis” vir hom in “Mandaryns” uitgelê was –

en die wêreld/die skepping/die kosmos
het met my gepraat in Afrikaans
en ek het gesê:
no comprende, please don’t speaka dog
wiz mich –

[...]
is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie,
ondankbare hond!

Die tweede afdeling, getiteld “oggendboek”, skep die idee van ’n dagboek, met die gedigte wat voorsien word van ’n dag en datum as titel. Die gedig “Maandag 25 Augustus 2014” (65) is ’n voorbeeld van voorgenoemde “gedigmaak gedig”, waarin Breytenbach se bekende “Blomme vir Boeddha” in die ysterkoei moet sweet (1964) gebruik word as inspirasie vir ’n nuwe gedig. In “Maandag 25 Augustus 2014” word die oorspronklike “(ek)”, vervang met die digterlike personasie, die ou gek, of “(jek)” wat voortaan in ander gedigte in die na-dood optree.
Een van die dagboekgedigte, “die bedenkeling” (98), word ook voorsien van die tyd wanneer die gedig geskryf was: “16 September 2015, 5.30”. Die leser wat bekend is met Breytenbach se oeuvre sal dan ook weet dat hierdie gedig deel uitmaak van een van die digter se “verjaarsdagverse”, waarvan ook “die herfspampoen” (168–9) in afdeling 5 en “Die klippampoen” (173–5) in afdeling 6 voorbeelde is.  

Die derde afdeling, “Lumen Obscurum”, word ingelui deur ’n motto van Marlene van Niekerk:  “Mens word tog net oud en gaan dood,/ jy kan net sowel begin koer.” Met die oudword in gedagte, tree die digter in “laatwerk” (128) in gesprek met die akademikus Helize van Vuuren se begrip laatwerk, ontleen aan Edward Said se boek On late style (2006). Die gedig openbaar die wyse waarop die kunstenaarsaktiwiteit al hoe vryer word namate dit later word in die lewe – vergelyk die eerste strofe:

wanneer dit laat word in die lewe
en die aandstér reeds teen die dalende dag
se skuinstes bewe
soos ’n hartklop
is elke kwashaal vry
elke woord onbesonne los
van sin en sinne se dop.

’n Paar Engelse gedigte, byvoorbeeld “Gorée, 17 March 2015” (71), “(‘Jesus says’)” en “here is what I know” (201), word in die bundel aangetref. Dit is ook interessant om te sien dat die gedigte in afdeling 4, getiteld “kwartels in die loekwartboom / quails in the loquat tree”, in beide Afrikaans en in Engels geskryf is.

Die foto’s tussen gedigte, byvoorbeeld van die volmaan bo die heuwel ter inleiding van afdeling 4, het sedert die verskyning van Katalekte (2012) ’n meermalige gebruik in Breytenbach se bundels geword. Vergelyk byvoorbeeld die aanwysing van die woorde in “Die klippampoen” (173–4) en die foto van Breytenbach langs die pampoen in Lissabon: “... intussen kiek ek ’n prentjie van jou hier op straat in Lissabon langs die abobora in die winkelvenster dis Portugees vir pampoen met ’n strepie op die eerste o.”

Langer prosaverse wat herinner aan dié in Katastrofes (1964), kom voor in afdeling 5, “Hartkrake”, met die onderskrif “(betragtinge en ander gelykenisse uit die fragmentarium van ’n oorledige self)”. ’n Versetgedig getiteld “(gemeentebrief)” (149–50), wat vermoedelik in die sestigerjare geskryf is, word as die openingsgedig van hierdie afdeling gebruik.

In “Parys, 9 Januarie 2015” (152), die datum van die terreuraanslag op Charlie Hebdo in Parys, bring die spreker ’n relaas na vore wat die blindheid van fundamentalisme in ’n gedistansieerde, reportage-styl bespreek: “Spotprenttekenaars – obseen, wrede maar skerp draakstekers – word afgemaai as simbole van kritiese denke.”

Afdeling 6 is getiteld “Die singende hand”. In die openingsgedig, “Die klippampoen”, word “Die fascistiese pampoen” geparodieer, en die storiegegewe, van die man met die begeerte om ’n pampoen vir sy verjaarsdag te koop, in die konteks geplaas van ’n man wat beveel word dat hy nie meer mag verjaar nie:

Ek ken daardie rympie goed het die vrou hom in die rede geval. Jy kan maar vergeet van jou tjomme en gabbas en tjaainas hulle is almal bokveld toe. Jy moet nou probeer ophou verjaar. Jy moet nou ophou probeer verjaar het sy verder getroos.

Die gedig “aak” (187) keer weer terug na die woordwerk van “ekdigter: die voëlverskrikker” in die openingsgedig:

aak aak kô-klok aak
digter het ’n vers gemaak
vers verveel het aan gaan teel
veel foeifaai veels te veel:
en oral nou die verstopte kloaak.

In die twee laaste verse van die bundel, “die na-einde” (202–4) en “die na-dood” (205–7), word slotopmerkings oor bestaan en vergaan gemaak, die mens en die landskap, “met hierdie verse vaag geteken in niet se skynsel”.

In die ses afdelings van die na-dood kom bekende leitmotiewe van Breytenbach se werk opnuut weer aan bod: die digterlike alter ego’s soos Jek, Bill en Woordvark, die parodieë van verse, sintuiglike waarneming van plekke, die nuwe wending van sy verjaarsdagverse, die in gesprek tree met intertekste. Dit is egter ook die belangrike uitsprake omtrent sy interne poëtika, sy innige gesprek met die leser, sowel as die verbluffende verstegniese aspekte van sy werk, wat Breyten Breytenbach se meesterskap bevestig.

gaan gaan
oorkantoewer gaan
klaar oorkantoewer vergaan

o vreugde ontwaak.

The post Resensie: die na-dood deur Breyten Breytenbach appeared first on LitNet.

Book review: Writing what we like: A new generation speaks, edited by Yolisa Qunta

$
0
0

Photo of Yolisa Quntu: https://www.andtheplotthickens.com

Writing what we like: A new generation speaks
Edited by Yolisa Qunta
Tafelberg, 2016
ISBN: 9780624071808

For a white person, reading Writing what we like: A new generation speaks might feel like gatecrashing a party where some ugly truths will be revealed about you. Provocative and penetrating, Writing what we like is a difficult book to review when you happen to be white, because one feels that one should not be talking at all, but listening only. One is torn between possible accusations of one’s own “intellectual arrogance” and the need for dialogue. And yet, a way to disrupt entrenched ways of thinking and to establish connections across barriers imposed on us by a turbulent and harrowing history is to try to imagine ourselves into the skins of others. That is where creativity and empathy begin – in writing, reading and interpretation – where we cease to view ourselves in any other categories but human. The ultimate goal is understanding, coupled with compassion. Everything else will follow from there.

If there ever was a timely book, Writing what we like is definitely it. It is the brain child of Yolisa Qunta, who over the period of the past two years interviewed and collected essays written by her fellow young black South Africans for this remarkable publication. Only a few of the pieces first appeared elsewhere.

Qunta was concerned about the “dearth of books” published by her black peers and felt “duty-bound to record” their lived experience of transformation. She hopes the book will “help to shape the debates currently taking place in the workplaces and the bars, and over dinner tables ekasi and in suburbs across the country”.

Twenty-four contributors deliver twenty-eight pieces ranging in topics from hip hop and Rhodes Must Fall to Nkandla and BDSM. Unfortunately no biographical notes about the authors were included in the collection.

The volume represents fascinating and incisive slices of contemporary life in South Africa. Several themes are tightly woven into the fabric of the book: disillusionment, economic injustice, frustrations of the young, and their dreams and hopes, their confrontation with reality, often resulting in despair at the lack of opportunities. In “The gift of hope”, Thando Ntoi writes: “Freedom means different things to different people. For me, it is the ability to live my life with hope.”

Writing what we like is subdivided into six sections. In “Different shades of black”, authors interrogate privilege, the job market, identity and gender. As Seitiso Ntlothebe notes, “The only way to sort out our problems in South Africa is by acknowledging the elephant in the room. By ignoring it, those whose progenitors travelled to our shores for the sole purpose of pillaging do not have to feel uncomfortable about their wealth. Why do we keep up the pretence that all is well in South Africa?” Struggling to find employment beyond endless offers of internships which lead nowhere, Ntlothebe writes about having to survive on only the “crumbs” of the “cake of hope” baked in 1994.

In contrast, Thando Ntoi finds herself in the enviable position of being able to quit her job when it no longer fulfils her because she is financially secure enough to do as she pleases. For her, the country has become “a place where self-actualisation is a real possibility”. But she knows what sacrifices people had to make in order for her to feel this way, and she is aware of other pitfalls women face in the contemporary world, like “intimate femicide, the killing of women by their partners”.

In the section titled “What we have struggled for”, authors confront the topics of reconciliation and reparations, upliftment of rural communities, feminism and racism: “As black South Africans, we need to admit that we are angry and have every reason to be,” writes Qunta. In “Spider’s web” Qunta speaks of “the affliction of always wanting to do the right thing. Even though I could not articulate what it was, something about the carefully packaged transition from apartheid to freedom through Codesa and the Truth and Reconciliation Commission’s all too brief attempt at being a Band-Aid rankled me.”

What strikes me most about many pieces in the collection is that the authors are not afraid to voice even the vaguest of feelings, because very often that is where our greatest knowledge lies – in intuition. Only the brave can follow its lead. While we struggle to define our identities, find a language that best expresses them, we are still groping for answers. But even if not everything can be articulated at once, the texts included in this book make one think and reconsider, and that is what counts. There is a palpable signal for a need to engage, and there are no sacred cows in this collection. Several writers have no problems with tackling and redefining images and meanings of Mandela’s legacy and talking about the failures of the transformation process. It becomes obvious how colonialism has eroded traditional African values and community structures. The remaining reality is clearly difficult to negotiate for all concerned. Authors interrogate privilege, the expectations placed on them by their families and the resulting pressure to make it in previously inaccessible working environments.

The section “Romance in the time of freedom” includes stories about dating below one’s own income bracket, lobola negotiations, and what it means to be a sub in South Africa. “It’s not only annoying that being a sub is now associated with that badly written book that’s soaked in abuse, but it targets people who are going through what we call a sub frenzy,” writes Tshegofatso Senne about the Fifty shades of grey phenomenon. She warns: “Putting yourself in harm’s way by making yourself vulnerable to someone who doesn’t know what the fuck they’re doing, however, is a problem – one that becomes serious when the person to whom you relinquish control cares more about his or her pleasure than your comfort.” She continues: “In a nutshell, I want people to have the sex and get the love they deserve.”

Deadly serious or humorous, the texts reveal the complexities of our social tapestry. In “Mergers and acquisitions” Owethu Kheli talks about the costs of lobola in the modern day and age: “At one stage, I considered going to the house next door to find a wife instead. Or marrying a white woman, whose dad would have the pain of funding a lavish wedding with no lobola.”

“Seeking enlightenment” encompasses essays about untold histories, language as a basis for “re-imagining Africa”, belonging, and transformation at universities. In “White supremacy vs transformation” Siphokuhle Mathe writes about denial of white privilege and how discrimination is “sanctioned by institutional culture”: “Privilege allows you to skirt the issues while pain of the marginalised demands to be felt.” In “The post-apartheid colony: Rhodes must fall”, Mathe depicts the key events of the movement which began at UCT and exposes the multifaceted nature of its development, being constantly aware of the need to remain critical of what transpires.

Writing about identity and belonging, Sentletse Diakanyo states that the “term African refers predominantly to a racial identity and goes beyond the sentimental claim that being born in a certain geographical location – somewhere on the African continent – makes you African … The claim that we are all Africans because Africa is the cradle of humankind is also absurd: people in the rest of the world do not refer to themselves as Africans” (“Defining ourselves”).

“Comic relief” comprises Loyiso Gola’s take on Nkandla and Qunta’s observations about taxis in South Africa as well as her Q & As with David Kau and Sivuyile Ngesi. In other parts of the collection, Qunta also writes about her reasons for not wanting to participate in the activities of Mandela Day, and her experiences of dating “to find a husband”.

The last section of the book, “Thinking beyond privilege”, includes Ilham Rawoot’s story about the failures of the Cape Town Partnership to include all concerned citizens in the debate surrounding projects related to the World Design Capital campaign. Sibusiso Tshabalala addresses the language policies which marginalise people in broadcasting, Fezisa Mdibi talks about sexuality, sex and HIV, and Haji Mohamed Dawjee, asking why people can walk their dogs but not their children, writes about the lives of domestic workers and their employers.

These are all vital topics and it is clear how crucial it is for debates around them to continue. As Lwandile Fikeni states, “[R]ealities are forever shifting; at times, they appear not to be as black and white as one would like them to be.” I would welcome a collection of this kind every year or two. Highly informative and of great relevance to the way we see ourselves, Writing what we like might be the beginning of an important tradition. And perhaps one day there will be no need for exclusion. Qunta sounds a warning: “This is why we need to work overtime to fix this broken system – or be swept away in the coming tide.”

The post Book review: Writing what we like: A new generation speaks, edited by Yolisa Qunta appeared first on LitNet.

Onderhoud en video: Juanita Louw oor In die grot van die sibille

$
0
0

In die grot van die sibille
Juanita Louw
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801235

Skrywers oor hul nuwe werke: Juanita Louw oor In die grot van die sibille.

Juanita, waar het jy die eerste keer die woord "sibille" teëgekom?

In Marina Tswetajewa se Sibille-triptiek in haar laaste bundel, Na Rusland.

Betree lesers van jou digbundel jou grot as profetes as hulle jou bundel lees? En waaroor profeteer jy?

Eerder, die grot van die gedig.

Die Sibille van Cumae het volgens mite haar profesieë op blare geskryf en dit dan by die ingang van haar grot gelos. Die wind het dit dikwels deurmekaar gewaai en die persoon wat die orakel kom spreek het, moes dan self die betekenis ontsyfer.

Dít klink na hoe gedigte werk.

Toe dit blyk dat Pharos die woord baie goed ken, het ek gaan kyk wat Google weet. Google images het my dadelik foto's van tarotkaarte gewys. Watter simbole het vir jou betekenis en is dit relevant tot die titel van jou bundel?

'n Profesie is 'n antwoord op 'n vraag. Hoe mens die vraag stel, beïnvloed die antwoord wat mens kry. Soms is die gedig die antwoord; soms die vraag.

Ek is al daarop gewys dat daar baie sirkelbeelde in die bundel voorkom.

Die dood. Is dít eerder die grot wat deur middel van jou bundel betree word?

Die dood, in alle gedaantes, is eerder 'n poort.

Is alle digters profete? Dan kan ek seker ook vra: Wanneer beskou jy iemand as 'n digter?

Elke digter is, soos elke mens, sy eie profeet. Dis ons werk om die woorde, en profesieë, van die sibille-van-die-self te ontsyfer.

Ek skaar my by Wislawa Szymborska wat in haar Nobelprystoespraak 'n digter soos volg beskryf: “Someone [who] sits at a table or lies on a sofa while staring motionless at a wall or ceiling. Once in a while this person writes down seven lines only to cross out one of them fifteen minutes later, and then another hour passes, during which nothing happens ...”

Hoe lank gelede is van die eerste gedigte in die bundel geskryf en wanneer was die mees onlangse een klaar?

Sommige gedigte, in verskillende inkarnasies, reis al 20 jaar saam. Die “jongste” gedig is geskryf tydens die redigeringsproses van die bundel.

Was baie van jou gedigte dadelik klaar, of is hier heelwat herskryf?

Baie herskrywery, maar soms word 'n gedig aan my gegee, soos 'n mooi klippie, en ek moet net die modder afwas.

Voel jy dat sommige profesieë in hierdie bundel kan waar word?

Ek probeer om, soos Rilke voorstel, die vrae, en die antwoorde, te lééf.

Hoe lyk die grot aan die binnekant?

As die gedig die grot is, word dit eiesoortig deur elke leser geskep. Dis die wonder van die woord.

Skryf jy reeds weer aan iets anders?

Die volgende gedig …


Die video van Juanita Louw in gesprek met Marius Swart in Protea-boekwinkel in Stellenbosch is opgeneem deur Carolyn Meads.

The post Onderhoud en video: Juanita Louw oor In die grot van die sibille appeared first on LitNet.


Boekresensie: Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen

$
0
0

Hy kom met die skoenlappers
Valda Jansen
Human & Rousseau
ISBN: 9780798172523

Die leser kan aanneem dat mens hier – soos dit met die ondertitel aangegee word – te make het met “‘n elegie aan verlore liefde”. So ‘n aanname onderskat egter die omvang van Hy kom met die skoenlappers. Wat verdoesel word op die stofomslag, is ‘n konteks waaroor daar nie genoeg gepraat en geskryf word in Suid-Afrika nie: hoe die individu voortgebring word nie net deur ouers, familie en sleutelgebeurtenisse in sy of haar lewe nie, maar ook deur die geskiedenis, die omgewing en die sosiopolitieke toontaal van die kinderjare.

Die boek is op die oppervlak inderdaad ‘n tipe rouklag aan ‘n gestorwe liefde. Die hoofkarakter – wat ‘n naam met die skrywer deel – werk aan ‘n onbegonne legkaart oor haar verhouding met Anders, wat sy in die vroeë negentigerjare in Jena in Oos-Duitsland ontmoet, ‘n taak wat sy onderneem met behulp van ‘n pak briewe van hom wat sy lank van vergeet het, ‘n onbetroubare geheue en ‘n vreeslike berou oor verspeelde kanse.

Sy het onlangs ontdek dat Anders dood is, te midde van groot veranderinge in haar persoonlike lewe: sy trek Kaapstad toe van Johannesburg af met haar seun, onseker oor die toekoms van haar huwelik, en voel eensaam en vreemd in ‘n bekende stad.

Die nuus oor Anders se dood is soos ‘n klein ongeluk op die hoofweg: niemand is beseer nie en die lewe, die verkeer, gaan ongeërg aan. Net die skok bly oor, ‘n intensiteit wat deur die skrywer-karakter bemiddel word deur woorde. Want “[o]nbeantwoorde woorde gaan sit in selle. Vele onbeantwoorde woorde word vele kwaadaardige selle.”

Op dié manier word skerwe bymekaar gepas: vele verledes (haar kinderjare in die Strand, haar etlike besoeke aan Duitsland, haar universiteitsjare, haar lewe in Johannesburg) en ‘n skurwe, ongemaklike hede.

Die ongladheid van dié proses word benadruk deur ‘n verskeidenheid skryfstyle: soms eenvoudige maar onthullende reportage oor haar nuwe roetines in Kaapstad; soms spreek sy direk vir Anders – of sy spook – aan. Partykeer trek sy ‘n ruk lank aan ‘n vislyn en kom met ‘n klein, helder vissie van ‘n herinnering uit. En dan is daar ook passasies van bewussynstrome sonder leestekens, wat beklemtonend dringend is.

Die eindresultaat is ‘n teks wat suggestief eerder as eksplisiet te werk gaan. Die liriese word bo die vertellende benadruk en die storie ontwikkel stadig, wasig soos die figuur in die sneeu in die prent op die boekomslag. Dit verg aandag – die leser moet saamwerk. Maar omdat die teks so poëties te werk gaan, verlangsaam dit die pas – die liriese toon en ylheid wat deur die teks se elisie bewerkstellig word, bou ‘n verbasend lang en diep storie.

Hierdie verhaal is nie, kom ‘n mens agter, ‘n elegie aan ‘n verlore minnaar nie, maar ‘n elegie aan ‘n self wat soek geraak het agter skanse wat begin as blote mure maar mettertyd begin inkelder. As volwassene is die verteller omring deur hoë mure in Johannesburg waar die sekuriteit so goed is dat “niemand sal sien as jy agter die muur seerkry nie”. Vir die verteller as kind was die meer verraderlike mure van apartheid eintlik ruite waardeur sy as bruin kind net mag uitkyk op haar omgewing, waarvan sy egter nie deel kon wees nie.

Ook beperkend in haar kinderjare is haar gesinsomstandighede: ‘n onderwyseres-ma met ses kinders en min tyd, en ‘n afwesige pa wat terugkom van die grens en hulle onderwerp aan sy soldaatmaniere en problematiese lojaliteit – ‘n doofheid en doodsheid te midde van ‘n skaarsonderdrukte huishoudelike en landsgeweld.

Anders het op sy beurt grootgeword “agter die muur” in Oos-Duitsland, waar hy droom om eendag die Atlantiese Oseaan te kan sien – iets wat binne reikafstand van die verteller se huis was, maar wat vir haar as bruin kind net so onbereikbaar was.

Die verteller se enigste ontvlugting is deur woorde: “Ek gaan onder die grond in waar woorde groei sonder dat iemand sien ek duik ondergronds … net as ek skryf kan ek die taal wees net as ek is kan ek die taal word net as ék kan ek die taal word net as ék kan ek word.”

Maar dit word haar ook ontneem: wanneer sy vir haar pa die gedigte wys wat sy as kind skryf, haal hy sy belt uit – hy wil weet waar ’t sy die goed gesteel. Sy trek af in haarself in. Later, op universiteit, terwyl sy Duits studeer, vra die dosent vir haar ‘n vraag en sy kry nie ‘n antwoord uit nie. Maar skryf kan sy skryf, sê die dosent, en “ek kyk op soos iemand wat wakker word”. Die stilte self, die verteller self, word ‘n muur, ‘n burg – afgesny en onbereikbaar vir haarself.

Teen die einde van die boek ry sy Strand toe om te gaan kyk na die huis waarin sy grootgeword het. Dis nou omring deur ‘n heining. Sy ry met die kuspad langs en maak die kar se venster oop. “Hoe lank het dit my geneem om te besef dat ek nou mag kyk, dat die see my nou geoorloof is, dat ek die sand en see en alles wat daarin is nie meer hoef te sien asof deur ‘n venster nie, asof in ‘n prentjie wat in ‘n ander land afspeel.”

Gedurende die verblyf in Jena, wanneer sy vir Anders ontmoet, in die vroeë negentigerjare, word daar baie gepraat van “Vergangenheitsbewältigung”, ‘n woord wat beteken om vrede te maak met die verlede, veral in ‘n openbare diskoers met die doel om ‘n verskriklike geskiedenis kollektief te kan verwerk en verstaan.

Die intieme verhouding wat verlore gegaan het – as gevolg van die verteller se onbewuste skanse as verweerreaksie – vee ‘n komplekse hopie probleme bymekaar wat universeel uitdy: swart, wit, die beperkings wat mense opgelê word deur regimes, pa’s wat soldate is in oorloë wat later as onregverdigbaar en boos onthul word.

Deur die oog van hierdie naald onderneem Jansen ‘n belangrike literêre stap in die trant van Vergangenheitsbewältigung en trap suutjies agter die woeste ontploffings op sosiale media, waar die “dis alles in die verlede, kom ons beweeg aan”-brigade die beseerdes uittart. En waar, tereg, die ontwaakte (#woke) Twitter-leër meedoënloos uiteensit hoe en hoekom dit onmoontlik is in ‘n land waar die individu en die samelewing soos hy nou daar uitsien, gevorm is deur ‘n korrupte en etterende verlede.

Hierdie subtiele verhaal se bydrae op daardie vlak moet nie onderskat word nie, en omdat dit ‘n boek is wat fluister, sou dit maklik wees om te doen. “Ek soek na ‘n woordeskat … buite woorde”, en dit doen sy dan ook, en openbaar ‘n nuwe uitsig wat nóg in Afrikaans nóg in Engels al voorgekom het nie.

Dit is die storie van ‘n doodgewone mens wat besef dat sy haar nie kon weer teen die vernieling van ouers en vaderland nie: “Ek was nie ‘n heldin nie ek was nie in die struggle nie ek is nie gemartel nie ek is nie verban nie ek het nie gely vir my land nie ek het nie baklei nie ek is nie in die tronk gegooi nie.” Hierdie verklaring van ‘n gebrek aan heldhaftigheid is nie ironies bedoel nie en tog kan blote oorlewing soms ‘n teken van dapperheid wees.

Dit is hierdie stories wat vertel moet word – maar hulle moet gehoor word óók, want dit is hier waar die waarheid borrel soos waterstofperoksied op ‘n wond: in die marginale, die onmerkwaardige, die eentonige alledaagse afskaal, inkort en opsluit wat vir miljoene mense noodsaaklik was.

Daar is geen groot onthulling aan die einde van Skoenlappers nie: net ‘n stil aanvaarding van spyt; net genoeg om aan te hou met die aanhou.

En hoe? “Ek neem julle woorde met my saam ek neem julle woorde weg ek neem die woorde uit julle monde ongesiens ek neem julle van julle woorde weg ek is ‘n dissident ek is ‘n skandaal …”

Nie net met sy titel nie, maar ook met sy intieme stem en verlange herroep Hy kom met die Skoenlappers Hettie Smit se Sy kom met die Sekelmaan. En net soos Smit destyds baanbrekerswerk gedoen het, doen Jansen dit ook deur die elegie aan verlore liefde meer te laat wees: ‘n elegie aan ‘n verlore self, ‘n verlore land.

Dit stel ‘n nuwe, ‘n vurige standaard.

The post Boekresensie: Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-resensie-essay: 'n Hunkering se grein deur Johann de Lange

$
0
0

Foto van Johann de Lange: johanndelange.blogspot.com

'n Hunkering se grein
Johann de Lange
Humann & Rousseau
ISBN: 9780798172998

1. 'n Bundel van paradigmas

As 'n mens Johann de Lange se digkuns wil tipeer, is dit onmoontlik om weg te kom van die konstante ontwikkeling van paradigmas. In sosiale sin is paradigmas groepe wat bymekaar hoort, of bepaalde gewoontes wat 'n sekere groep mense tipeer. In 'n enger sin kan 'n mens praat van persoonlike paradigmas wat 'n individu se optrede of taalgebruik aandui.

In die fisiese wetenskappe is daar talle paradigmas wat wetenskaplike insigte en feite onderskeibaar maak van kenmerke wat weer 'n ander stel waarnemings ondersteun. In die taalkundige sin is ‘n paradigma enersyds 'n grammatiese konsep, andersyds patrone binne die taal. Die taalkundige siening van die paradigma is na alle waarskynlikheid die oorspronklike beskouing van hierdie verskynsel. In ouer grammatikas soos Latyn en Grieks bepaal stelle verbuigings, soos die verbuigings van selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde, of die vervoegings van werkwoorde, die aard van die paradigma. Ook kleiner groeperings word as paradigmas beskou: enkelvoud teenoor meervoud; stelle antonieme of sinonieme; of tydsbegrippe soos die presens, imperfektum en voorverlede tyd. In literêre sin, dus ook taalkundige sin, kan woorde paradigmas vorm wat 'n belangrike rol in die interpretasie van die teks (kan) speel.

Naas die rol van paradigmas is die sentrale kenmerk van De Lange se werk die digter se intense aanvoeling vir ‘n woord en die woord se betekenis. Dit klink asof dit 'n veralgemenende stelling is, want is alle digters nie met die woord en die sin besig nie? Dit is waar, maar by De Lange is dit feitlik 'n "beheptheid" met, 'n verknogtheid aan, die woord.

DJ Opperman (bron: wikipedia)

In DJ Opperman se grootse gedig, "Kroniek van Kristien", is die sentrale paradigma die papajabos en vorm die papaja 'n verband met klippe, in al hulle vorme, met die turksvy, die geel son, die brood en die liggaam as 'n kuil vol sproete en word dit 'n voltooide sirkel van die mens wat getransformeer word tot gees. Die slot van die gedig loop tot 'n zeropunt:

 "O allersoetste
liggaam," en sy begin haar lede soen,
"my bediendes wat gehoorsaam alles doen
net wat ek vra, berei jul vir die bruidegom
nou voor wat uiteindelik na Sy bruid toe kom:
papajas, klippe ... Was en soek skoon linne,
Hy tree alreeds die ledemate binne."
Sy sukkel na die orrel, blaastrappe knars
en dreun oor alles uit: die groot troumars. (Blom en baaierd)

2. Woord

Jou woord jou woord jou dessit woord
wie werk met jou sosit bewoort
ek gooi hom hier ek gooi hom daar
ek gooi my woorde deurmekaar
olsaitsymsait onnerstebo ... (Boerneef: Palissandryne)

Boerneef (bron: wikipedia)

Die taaljuffrou en die samestellers van die Afrikaanse woordelys en spelreëls sal hieroor nie sonder meer gelukkig wees nie, maat dit is wat die ware digter doen, sonder apologie. Soos ek eendag, as jong dosent op Stellenbosch, bystaan toe die taalkenner Willem Kempen vir die digter DJ Opperman sê: “Dirk, jy spel daardie woord verkeerd; neem jy nie kennis van die Woordelys en spelreëls nie?” En DJO hom antwoord: "Ek as digter skep die taal, julle as taalkundiges kan net opteken wat ek doen." In speelse gees gesê, maar met 'n groot element van waarheid. Jare gelede het die Nederlandse taalkundige Anton Reichling geskryf dat die taal sy eie intrinsieke wette het, nie net grammaties aktief nie, maar 'n dissipline wat die taal skep om sy wesenlike aard te beskerm (Het Woord). Slegs as die digter die taal te veel buig, sodat sy skeppings heeltemal onverstaanbaar word, oortree die digter hierdie inherente norme.

Die volgende vers van Johann de Lange vat hierdie saak binne sy digkuns keurig saam:

"Taal is 'n boom"

my taal is 'n ou boom
herfskleure diep & ryk
winters val die blare

bruin leestekens bevry
tot net die gebeente
van segging weerbaar staan. (57)

Die een metafoor loop oor in die volgende (ou boom = herfskleure = winters); dan beweeg die teks van die boom-metafoor na die taal-metafoor (bruin blare = bruin leestekens); dan gaan die taal oor na die mens (gebeente); en daarna gaan mens oor na gedig (segging) en behou die taal sy intrinsieke dissipline (segging = weerbaar). 'n Puik en kompakte illustrasie van De Lange se digkuns. Die natuur, en die natuurlike, in talle vorme, is aan die grond daarvan, maar dit beweeg daarvandaan na die mens en die menslike kondisie. Die bindende faktor wat sowel die middelpunt as die struktuur vorm, is die taal. Dit is terselfdertyd die sentrale paradigma of paradigmatiese bou van die gedig.

Dit spreek vanself dat die digter dikwels 'n spel met die taal en sy betekenis speel, soos byvoorbeeld hier:

"'n Uiltjie knip"

Ek gaan 'n uiltjie knip:
flink die penvere van droom dip
in ink, of die stertvere van die slaap
sprei, & só 'n uiltjie kaap.

'n Definisie van die uitdrukking in speelse trant, met die assosiasies van "uiltjie" as die stof vir die gedig: uiltjie > penvere > stertvere > uiltjie. Die woord "knip" dui op die beperking wat op die woord "uiltjie" gelê word, en dus word knip = kaap. Dit is oënskynlik net woordspel, maar "uiltjie" word metafoor vir "slaap", en dan kom die nuwe vorm "kaap" tot sy reg – met slaap kaap 'n mens die tyd. Die digter gee nuwe vryheid aan hierdie uitdrukking in Afrikaans. Die teks is 'n kwatryn met twee rymende koeplette. “Droom” dui op die vlug van die verbeelding; die penveer wat in ink gedip word, dui op skryf. Elke woord in hierdie kompakte kwatryn dra sy betekenis, en die geheel verryk die idioom van die taal.

Die bundel bevat heelwat kwatryne en bevestig De Lange as die voorste kwatryndigter in Afrikaans – hy is in baie opsigte 'n goeie opvolger van DJ Opperman, die meester van die Afrikaanse kwatryn.

NP Van Wyk Louw (bron: wikipedia)

De Lange gebruik 'n verskeidenheid digvorme in hierdie bundel: naas kwatryne ook onder meer etse, limerieke, spotgedigte en parodieë. Belangrik is egter om in hierdie bundel nie na besondere kenmerke van digsoorte te soek nie. Die teks is te spontaan, te ontdaan van enige pretensie of selfs die skyn van pretensie, te direk eerlik. Die digter word, in goeie sin, verlei deur die skep van paradigmas. Dit gee aan die bundel 'n besonder spontane aard, maar die dubbelkantigheid van die woord bly nie agter nie. Johann de Lange is 'n deurwinterde digter, maar in 'n Hunkering se grein kom 'n gemaklikheid met die woord na vore wat dui op 'n volwassenheid in die digter se verhouding met die taal soos geen van sy vorige werk nie. Om NP Van Wyk Louw na te praat: dit is asof die digter "in vreugde en spel die woord uit sy hand laat val". Die woorde volg mekaar op in reëlmatige verhouding, in diskante ritme of in betekenisspronge. 

"Boksgeveg"

In die kryt word twee vriende
volgens die reëls opponente.

Agterna sal elkeen alleen,
gehurk by sy sluitkas,

die geveg flits vir flits
nogmaals in sy gedagtes

laat afspeel, & besef: ánders
as 'n gebreekte neus,

of gekloofde oogbank,
is die steelhoue wat dieper kneus. (93)

Die gedig is in die vorm van vyf koeplette, en slegs die slotwoord van die vierde koeplet rym met die slotwoord van die vyfde koeplet: "neus" dui op die breekbare liggaam, "kneus" op die brose gees. Die geveg dui op 'n geordende sportsoort wat binne sy reëls beoefen word; nie alleen binne die sport se reëls nie, maar ook binne die beperkings van die toue van die kryt. Buite die kryt is die twee boksers oënskynlik vriende, maar in die kryt is hulle opponente. In die volgende drie koeplette word die leser ingelig oor die boksers se nadenke oor die geveg binne die intieme ruimte van die kleedkamer. In die laaste koeplet beweeg die gedig van die liggaamlike na die gees. Die steelhoue sluit nog volkome aan by die geheel van die boksgeveg, al is hierdie houe nie wat verwag word nie. Die titel is bloot 'n beginpunt om die gedig in 'n bepaalde rigting te stuur. Tot voor die laaste reël is daar geen rede om te dink dat die teks oor meer as die boksgeveg gaan nie – die aandag is tog bewustelik soontoe gelei deur die titel. Die woorde "dieper kneus" open tog metaforiese moontlikhede, en dit vra om 'n hersiene lees van die teks. Vriende en opponente vorm 'n ongelyke speelveld. Selfs ná die geveg, wanneer die reëls nie meer geld nie, is daar geen toenadering of sprake van dialoog nie; elkeen is in sy alleenheid gesluit. Die boksgeveg is nie 'n gebeurtenis as 't ware langs die pad nie, maar dit is 'n eindpunt. Dit word die kulminering van twee vriende wat 'n ervaring van 'n gebreekte neus en gekloofde oogbank agter die rug het. Met die stilte van die twee "vriende" word hulle "opponentskap" beklemtoon. Die steelhoue kneus nie die liggaam nie, maar die emosie, die "vriendskap". Dan val die gedig in patroon, en dui dit op die verlies wat 'n verlore houding bring. Eensaamheid neem oor van kameraderie, en dit word 'n gedig oor liefdesverlies, oor menslike broosheid. Die slotreël staan in direkte kontras tot die ruheid van 'n boksgeveg, en in hierdie kontras kry die gedig betekenis – 'n hele emosionele register word geopen. 'n Verhouding word 'n boksgeveg van flits op flits, woord op woord, tot op die punt van verraad. Op hierdie manier benut die digter telkens in hierdie merkwaardige bundel die dubbelkantigheid van die woord, en van die paradigma.

In die bundel word daar wel gewerk met die woord soos dit "bewoort". In 'n kwatryn getitel "Die behoud van eensaamheid" is daar 'n interessante wending:

Die tyd is 'n geil verwoester,
'n chimera wat alles verniel.
Ek sal my ontroosbaarheid koester
of in 'n vers bly soek na asiel.

Die denklyn is herkenbaar as die rus en veiligheid wat die woord en die gedig kan bied teen die geweld van die tyd wat alles verniel. Dit kan dui op die weerloosheid wat die ouderdom bring, of op die konstante onsekerheid wat ons lewe noem. Die gebruik van die woord "chimera" dui op 'n dubbelspel. Die woord is goed gevestig in poëtiese taal as die onwerklikheid van die droom- en gevoelswêreld, die valse troos wat dit meebring en 'n hersenskim wat buite die werklikheid vertoef. 'n Minder gebruiklike betekenis is egter dié van 'n vuurspuwende monster met die voorlyf van 'n leeu, die middellyf van 'n bok en die agterlyf van 'n slang. Dit skep gesamentlik 'n beeld van die tyd as meedoënlose monster, 'n valse wêreld en trouelose verraad. Binne die groter geheel van die bundel pas albei interpretasies: dié van oudword en verniel van die liggaam, en dié van verraad en die "steelhoue" in.

Die gevoelswêreld van die woord word goed verken sonder 'n sweem van sentimentaliteit. In 'n gedig wat binne die bundelraamwerk na Hennie Aucamp se dood verwys, kry die leser 'n voorbeeld van hoe pynlike gevoel binne hierdie gevoelswêreld van die woord verken word:

"Oortog"

Jy't gehoop om op die middaguur betrap te word,
of wou teen skemering gereed vir die oorgang wees
met die stadskom wat traag oopgaan soos 'n neonblom.
Jy het die nag met sy slaaploosheid & pyn gevrees
wanneer jy oor inkswart waters die boot sien kom. (116)

Die boot waarmee Charon die mens oor die Styx-rivier vervoer van hierdie lewe na die doderyk, is 'n bekende mitologiese gegewe. Die oorgang van die sterfling se begeertes in die eerste drie reëls spreek vanself, en is geanker in 'n duidelike toneel binne tyd en ruimte. Die sieke vrees die magteloosheid en die pyn wat die nag bring, dus is die middaguur of skemertyd aanneemlik voor die nag kom. Die skemering het die kleurryke voordeel van die neonligte wat oor die stadskom oopgaan. Maar toe kom die boot juis in die nag, en die tyd van vrees word die verlossing uit pyn en moedeloosheid. Die gedig is diep emosioneel, en roep die onverwagsheid op wat die dood maar altyd meebring. Die toon van die gedig dra die weemoed oor, die rustigheid van die ritme van die gedig is soos die beweging van die boot op die stilvloeiende rivier, een van nege riviere in die mitologie van die doderyk. Die water van die Styx is inkswart; dis 'n skrywer en digter wat die reis meemaak. Die verhouding tussen die boot wat die skrywer na die doderyk vervoer en die ontstellende inkswart waters openbaar die ontsteltenis van die digter wat agterbly en sterk emosie ervaar. Inderdaad word die gevoelswêreld van die woord in hierdie vers innig benut, beklemtoon deur die onvermydelike en onheilspellende vaart van die boot.

3. Teks en interteks

Ek is Gert Bok van die Sederberg
ek ken 'n ding en ek ken 'n dier
maar die mens is bo die vuurmaakplek
van lang Gert Bok van die Sederberg
nou soek ek 'n beter vuurmaakplek
waar die rook nie so in my oë trek
dit rook al hoe meer en dit word steeds later. (Boerneef: Palissandryne)

'n Hunkering se grein is in vyf afdelings ingedeel. Die afdelings is geensins waterdig afgemerk nie, en die temas loop oor mekaar. Die ooglopende tema is die afwisselende buie van die mens en sy emosionele wêrelde. Die natuur is dikwels die eerste trefpunt en daarvandaan word beweeg na die mens wat bo Gert Bok van die Sederberg se vuurmaakplek is. In De Lange se verse word die digterlike ongemak met die mens vanuit talle hoeke belig, maar nêrens word daar voorgegee dat die mens ooit "geken" kan word nie. Met die medium van woord en paradigma bekyk die digter die mens soms satiries, dan weer parodiërend, dan met weemoed, en ander kere met humor en begrip vir die mens en sy sondes. Die vyf afdelings gee slegs in breë terme 'n kategorie-indeling van die bundel weer. Regdeur die bundel loop 'n goue draad van intertekste, en die digterlike stemme wat saampraat, word op hulle beurt deel van die mense wat hierdie bundel bevolk.

“Die berggans het 'n veer laat val”duidelik verwys die woorde na Boerneef se bekende vers. Die algemene tema binne hierdie afdeling betrek die natuur as vertrekpunt, maar dit word telkens gelei na die mens, dikwels baie subtiel.

'n Kwatryn uit hierdie afdeling dien as goeie illustrasie:

"Weef"

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan wal. (18)

Op die oog af 'n bra tradisionele vers, maar die kontras tussen die vinkneste wat prekêr bo die water hang en die drome wat tydloos swerf, maak ook verdere moontlikhede oop. Vinkneste en drome beweeg albei, maar sou die vinknes val, beland dit in die water. Die beperking bly gelokaliseerd, maar die mens se drome gaan verby die lokale, die tyd en die ruimte. Tog is die mens se drome, sy gees, meer beperk as die vinkneste, want die mens bly geanker aan die wal. In fisiese sin is die vinknes minder geanker, vryer, as die mens, wat in sy gees oral kan beweeg, maar, anders as die vink, nie eers bo die watervlak kan opstyg nie. Die gedig word beeld van die mens in sy geestelike gevangenskap, en die paradigma van vinknes = watervlak = anker = wal trek saam tot 'n dam, 'n beperkte waterruimte waar die mens droom, 'n idilliese prentjie by die damwal. Alhoewel in geen opsig direkte interteks nie, roep dit die beeld op van Van Wyk Louw se gedig "Nog eenmaal wil ek in die skemeraand" (Nuwe verse) waar die klippie wat die seun (volwassene) met sy rekkie óp in die donker skiet, weer uit die donker in die donker water plof. Die idee dat die klippie nie verder kan beweeg as die water van die dam nie, sluit aan by die De Lange-vers. Die eerste afdeling kan gelees word as natuur- en metafisies gerig.

“Palissander" – 'n subtitel wat aansluit by Boerneef se bundel Palissandryne. Palissanderhout is 'n baie harde Brasiliaanse hout, en by Boerneef is "my blokfluit van palissanderhout" en dan word "palissander" die fluitspel: "My blokfluit is van palissanderhout/ daarom speel hy so palissander/ ... ek trek dit my nie in die minste aan/ as niemand palissandertaal verstaan." Boerneef ontwikkel sy eie paradigma rondom palissander: hout = fluit = fluitspel = taal = gedig.

By elke afdeling haal De Lange "motto’s" aan; by dié afdeling is dit 'n aanhaling van Robert Graves:

Love is a universal migraine,
A bright stain on the vision
Blotting out reason.

Hierdie afdeling wentel om die gebrek aan rasionaliteit as dit by die "skunnige" dinge kom. 'n Pittige voorbeeld is:

"Eros"

Dit stoot & beur in die skram, & gryp
handevol vlees, agternekke vasgeknyp
in die reet. Lense rek, & kykers, perpleks,
begryp sport is Eros sonder seks. (28)

Die speelse trant van hierdie kwatryn gee woorde aan wat baie in 'n ligte luim dink. Rugby is nou maar ten ene male 'n sportsoort wat besonder lyflik is. Dit is goed dat hier 'n keer gespot word met hierdie hoogheilige liefde van die rugbyliefhebbers. Regdeur De Lange se oeuvre speel die erotiese en meer direkte seksverse 'n groot rol. Enersyds dui dit op die openheid en volwassenheid wat in die Afrikaanse letterkunde binne hierdie genre bereik is; andersyds gee dit woorde aan die lyflike drange van die mens, 'n basiese drang by elke stukkie mens- en dierlewe. De Lange is, saam met Joan Hambidge en Hennie Aucamp, toonaangewend op hierdie terrein. Al hierdie digters/skrywers is geoefende woordkunstenaars en skram nie weg van die realiteit van taal in al sy vorme nie. Hulle hou egter binne beskaafde norme van taalgebruik en sonder om noodwendig eufemisties te skryf, is hulle werk hoegenaamd nie subtiel nie. As 'n mens die erotiese verwysings by die twee grotes, Opperman en Van Wyk Louw, lees, was daar 'n begryplike huiwering om meer brute terme te gebruik. Lees gerus weer die verkragtingstoneel in Opperman se "Brandaan-siklus", of talle verse in Louw se Tristia – groot poësie met pragtige beelde. De Lange en ander jongeres gee hulleself die vryheid van groter direktheid. By De Lange, soos by Aucamp, is die erotiese verse/verhale ingestel op manlike erotiek, of gay-temas. Hulle volg die voorbeeld van talle internasionale skrywers. Terwyl instansies soos die meeste hoofstroomkerke, ook die NG Kerk, steeds die menswaardigheid van gay mense ontken, het digters soos Johann de Lange hierdie menslike kondisie oopgeskryf. Soms effe brutaal, maar dit het die sosiale onreg sterker beklemtoon.

In "Twee vryverse vir Joan op 60" (39) gee die digter 'n inventaris van seksuele ervarings, digterlik kunstig en kundig verweef. Die leser maak kennis met onderwysers, predikante, ou ooms, 'n lugmagoffisier en dese en gene op allerlei plekke van urinale tot die kerkhof, wat gretig was vir die seksspel. Die gedig beklemtoon basiese drange by die mens; dit maak korte mette met skynheiligheid en verskansings. Blatant eerlik word dit sosiale kommentaar op die algehele prentjie van seks. Dit verwoes die houding wat Aucamp so raak gestel het in sy vers oor Raka waar die mens die seks geniet met al sy emosie, maar "trek jou dan blasé opsy". De Lange ruk die lakens af en bring in hierdie eerlikheid die mens gekonfronteer met homself.

III. “Vals bodems” – verdere gesprekke met digters. Die motto by afdeling III is van Roland Barthes: “Language is a skin”: "I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers at the tip of my words. My language trembles with desire." Woorde het ook 'n sensuele dimensie.

In hierdie afdeling word daar ook satiries en skepties gekyk na digters en hulle hebbelikhede. Die digkuns as 'n spel met die muse staan sterk voorop. Die spottende toon van die volgende gedig kom tuis onder die dubbelsinnige titel "Opsteek":

I.

Snags onder die Suidersterre wag ek
met papier & ink, gereed vir die bedryf:
sou die muse perdalks hier verbyswiep
pluk ek 'n lang stertveer uit & skryf.

dis tussen die wind & die veer
wat die vers gebeur.

Nog meer so vir die digter wat in die nag wag vir die muse om inspirasie te bring. Baie deftig onder die Suidersterre wat groot en wydse temas oproep, wag die digter vir die openbaring om die universum met die woord te ontsluit. Die noodsaaklike bestanddele vir skryf is gereed vir die digterlike bedryf wat 'n lewe in beslag neem. Maar dan wag die digter om maar slegs 'n stertveer te kan uitpluk en die woorde te laat rol.

TT Cloete (foto: Naomi Bruwer)

Die tweede deel van hierdie bekoorlike spotvers gee aan die gedig 'n erotiese kleur. Hierdie ontluisterende klein vers oor die waardigheid van die inspirasie om die horisonne onder die Suiderkruis en Suidersterre in grootse perspektief te bring, gebeur maar net tussen die wind en die veer met al die skunnige moontlikhede wat dít insluit! Opperman het dikwels gesê dat inspirasie maar 'n klein deeltjie van 'n gedig uitmaak; die werklikheid is perspirasie. In 'n bundel waar die intertekstuele gesprek tussen die digter en talle ander digters so spontaan voorkom soos in hierdie bundel, kan dit 'n leser ook laat dink aan Opperman se "Nagwag" wat begin met die reël: "Hy kom met flits en Suiderkruis ..." Hierdie gedig van Opperman het politieke ondertone, maar dit kan inderdaad ook dui op die digter wat die geweld van die gees moet oopskryf.

Hierdie afdeling bring ook deernisvolle hulde aan TT Cloete in "Plaasmiddag, Vredefort-distrik" waar die rustigheid van die plaas 'n soort “in memoriam” vir Cloete word. Ook bevat dit 'n parodie op en 'n hartseervers vir Boerneef:

"Boerneef Redux"

Die berg het 'n gansveer laat val
nié by Wuppertal, nóg die haai karoo
maar by 'n plek waar mense nie langer
aan sendelinge glo
ek stuur vir jou gans die veer
ek soek nie langer ganse
sonder verse nie
mits dese wil ek vir jou sê
hoe vlak my trane oor jou lê. (68)

'n Uitmuntende voorbeeld van poëtiese inversie. Die interteks is Boerneef se gedig "Die berggans het 'n veer laat val". Dié gedig dien reeds as 'n mottovers by die eerste afdeling. In die De Lange-vers word dit opgevolg in die derde afdeling waar dit die slotvers van die afdeling is. In die De Lange-teks is "die berg" die onderwerp of die agent; die ruimte skuif weg van Wuppertal en sy sendelingverlede, wat dan vir C Louis Leipoldt in die teks inbring, en die assosiasies beweeg weg van sendelinge en tradisionele geloof. Die gans (berggans) word die ontvanger, die ek (digter) is die versender, en die veer dien nie meer as liefdesbetuiging nie, maar as bewys van rou en hartseer. Die inversie begin deur die omkeer van die veronderstelde sintaksis, daarna beweeg dit van fisiese ruimte na 'n leë ruimte (ongeloof), en dan word die “jou” vir wie die gansveer bedoel is, die digter Boerneef. Die droefheid oor die woordwêreld van Boerneef bewys ook liefde, liefde vir die woord en die sensitiwiteit van die woord. Die rolle van die vermeende twee figure in die oorspronklike Boerneef-teks word nou De Lange en Boerneef, maar in inversie. Leipoldt word, soos Boerneef, betrek in 'n drieluik van digters wat praat met 'n sobere eenvoud en eerlikheid wat geen plek bied vir pretensie nie, wat die verwikkeldheid van die mens in eenvoudige en instinktiewe emosies probeer begryp.

Sheila Cusson (bron: sahistory.org.za)

Die inversie in hierdie gedig dui ook op die spontane intertekstualiteit by Johann de Lange. Die interteks is by hom 'n gegewe, en tekste kommunikeer gemaklik met mekaar. In die verruklike en groot tweedelige gedig "Nelson Mandela (1918–2013)" (89-90) skryf die digter oor hoe Mandela, byna sonblind, sy droom van vryheid en 'n inklusiewe demokrasie "moes vrykap uit metamorfiese klip", dit stelselmatig laat ontwikkel het. Dan lui die teks verder: "Soos die melaatses het hy hier gekap/ ook óngekaarte streke van die gees verken, ver en vry buite port." Heel spontaan korreleer hierdie gedig met Opperman se "Nagwaak by die ou man" (Negester oor Ninevé) waar 'n jongeling uit hom (die ou man) hom bevind voor bosse van 'n nuwe land, maar hy sal weet, soos sy voorvaders, "die streke van die gees bly ongekaart". So ook was vir Mandela die nuwe land wat sou volg, geensins planmatig bepaal nie, maar uit verskeie etniese groepe moes die nuwe streke van die gees verken word.

“Aansterflik”tegnologies en ruimtelik gerig. Die subtitel dui ook op sterflikheid, dinge wat verbygaan, en sinspeel ook op “aansteeklik”. Vooraf is daar twee motto-aanhalings: die een uit Sheila Cussons en die ander uit DJ Opperman.

Die Cussons-aanhaling bevat die titel van die bundel:

God vindloos vir die teleskoop
gee Hom aan die vinger oor
wat saggies soek oor 'n okkerneut
of 'n hunkering se grein.

In die gedig "Ramifikasie" word die verbeelde vinger van God gevolg soos dit oor die menslike gees beweeg:

Ek dag die gees is rein,
& wit soos 'n lelie
of soos linne, 'n evangelie
wat skyn van binne.

Onverdeelbaar. Maar wit
is veelvoud, 'n reënboog
van kleur, elk enig & een-
voudig. Klaar. (78)

Die titel dui op die versteuring van die verwagte beeld van volkome suiwerheid. Met die soeke na die mens se aard en sy gees is die vertrekpunt om die mens se grein noukeurig na te loop, met die hunkering na die wit, die skoonheid. Daar word gedink dat die gees so suiwer soos 'n blom sal wees, of so skoon soos wit linne. Maar linne suggereer ook die bed, en die bed suggereer slaap en seks. Die evangelie moet die suiwer boodskap van verlossing bring, vry van die gevangenskap van menswees en sy onsuiwere denke en dade. Die evangelie moet so skyn dat alles wat onsuiwer is, helder en oop sal word. Helaas, wit is egter nie maar 'n enkele kleur nie: wit is 'n verskeidenheid van kleure; wit is 'n "paradigma" van skakerings. Alles is verdeelbaar, en die suiwerheid van gees is onderworpe aan al die kleure met hulle reënboog van emosies en instinkte. Inderdaad 'n ramifikasie binne die grein, en die hunkering bly net ‘n hunkering.

De Lange se vers het 'n suiwer metafisiese onderbou. Die metafisika is oral in die bundel voelbaar, soms sigbaar, maar altyd subtiel. Alhoewel dit nie as 'n direkte interteks kan geld nie, is 'n kwatryn van Boerneef ter sake:

Hoe jy ook al prakseer en dink
om almelewe helder wyn te skink
die vaaljapie foeter al tussenin
dis frank en troewel wat mens drink. (Palissandryne)

Die Opperman-aanhaling by hierdie afdeling kom uit die gedig "Vigiti Magna":

... wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas.

Hierdie beeld kan inderdaad van toepassing wees op De Lange se bundel. Ook in 'n Hunkering se grein is die woorde telkens waterpas. Maar die netjiese bouwerk is konstant bewus van die "rustelose borrel" in die waterpas. De Lange se bundel beweeg tussen die helderheid van die woord enersyds en die troebel waters andersyds. Dit is 'n bundel van en oor die woord, en vir en oor die mens. Vir die resensent is dit frustrerend dat 'n resensie nie die vryheid laat om noukeurig na elke gedig te kyk nie.

“Die swaartekrag van as” – die sentrale tema is verganklikheid. Met die verganklikheid stap hand aan hand die patos. Soos van die dood, ontkom die mens ook nie van sy patos nie. In hierdie afdeling is 'n pragtige toevoeging tot die Marilyn Monroe-tekste in Afrikaans, by name die verse van TT Cloete en Joan Hambidge; die Mandela-tweeluik; 'n aangrypende vers oor Michael Jackson; en een oor prinses Diana. "MM" (87) is een van die allermooiste poëtiese uitdrukkings van patos in Afrikaans:

"MM"

In twee rare filmgrepe onlangs opgediep,
proefskote vir 'n assuransiemaatskappy,
pruil Marilyn Monroe platinumblond
vir die lens wat gluipend inzoem op haar hals,

haar lag wat niks verklap:
in een greep dra sy 'n silwerwit rok,
in die ander 'n knalrooie
wat noupassend om

versekerde kurwes sluit.
In nabyskoot vermaan die mond, "Ek haat nalatige mans."
Los praatjies, briewe, minnaars wat vals
ontboesemings verkwansel, drie keer voor die kansel,

& die rooi dagboek wat haar swye verbreek,
haar geheime uitlap, haar leed.
Die outopsiefoto's aan die pers gelek,
stroop haar, vlekkig en indiskreet.

Marilyn Monroe (foto: wikipedia)

Die titel, bestaande uit net haar voorletters, stroop klaar die mens van haar naam. Sy word op drie maniere waargeneem: in twee filmgrepe bedoel as deel van 'n advertensie, in 'n nabyskoot, en op outopsiefoto's. Die gedig het op die oog af die vorm van 'n losse sonnetstyl, met vier kwatryne. Die eerste agt reëls konsentreer op haar voorkoms en die rokke wat sy dra. Die tweede kwatryn sluit nie in sigself nie, maar loop enjambementies oor na die derde kwatryn. Die rede is voor die hand liggend: dit lei die aandag na die noupassende sluit om die versekerde kurwes. Hierdie vrou is konsekwent gesien as 'n sekssimbool en met die oorgang van die tweede na die derde kwatryn word hierdie algemene siening saamgevat. Die enjambement verrig dié taak met woord en vorm. Die bekende Monroe-beelde is almal hier: pruil, platinumblond, die nousluitende en uitdagende rokke, en die versekerde kurwes. In die derde kwatryn word bespiegel oor haar houding oor mans, en word haar ervarings met mans in al hulle valsheid aangesny. Die woord "nalatig" word hier in 'n geassosieerde betekenis gebruik – dit sluit etlike oppervlakkige en vals optrede teenoor haar in. Tot op daardie punt in die gedig is Monroe die glansryke en begeerde vrou, maar ook reeds het die "vaaljapie" die suiwer wyn begin verdring, is die gees nie net wit nie. Die gedig lei die leser stap vir stap tot 'n beeld van Monroe as eintlik 'n eensame vrou, begeerlik én verwerpbaar. Sterk woorde met ewe sterk gevoelswaarde, soos “nalatig”, “verkwansel” en “vals” beweeg van die glansryke beeld oor na die patetiese beeld, eerder beeld van patos, weerloosheid. Die rooi dagboek lap haar geheime uit, verbreek haar swye en versterk die beeld van haar as 'n verdwaasde vrou. Die laaste twee reëls van die gedig, eintlik 'n slotkoeplet, bevestig haar uiteindelike patos. Outopsiefoto's neem alle glans weg; dit stroop ook menslikheid. Dit wys die vlekke op die mooi lyf, dit versteur alles wat haar gekenmerk het. Hierdie vers is perfek gekonstrueer en praat uiteindelik ook verby Monroe. Selfs die uitbeelding van Monroe se patos word 'n beeld van die verwese mens. Steeds bly sy geskei van individualiteit, van haar menswees. Dit is volkome ontbloting van die liggaam en die gees.

'n Kwatryn in dieselfde afdeling gee 'n indringende en feitlik pynlike beeld van gestrooptheid.

"Werf"

Hadidas skeur die rooidag
oop – skryn soos trokke
in 'n rangeerwerf
staal op staal, tot in die nerf. (91)

“Rust-mijn-ziel: 'n hartseerwals” – elegiese verse, veral oor Hennie Aucamp. Die afdeling bevat ook parodieë wat aan die hartseerwals sy humor besorg. Met 'n gedigtitel "Gewis is alles net 'n grap" (Eugène Marais) en met duidelike verwysings na Leipoldt word ouer digters deel van die gesprek in die bundel. Daar is ook 'n innige kwatryn oor die dood van Adam Small, en met aansluitings by Van Wyk Louw en ook weer Boerneef en Opperman, word die afdeling 'n soort heldeakker van groot digters. Die elegiese toon word deurgaans gehandhaaf, selfs in die humor.

"Twee blaaie geskeur uit Groot Verseboek"

met liefde & apologieë all round

I.

Die trilpoplier het 'n blaar laat val
van die hoogste tak bo jou balkon,
die wysters van die dag het stil gaan staan.
Ek hou vir my dié trilpoplier se blaar,
mits dese wil ek vir jou sê
hoe hoog en laag my liefde vir jou lê.

II.

Jy't weggedros & jy plak nou
in die murasie op Rust-mijn-ziel,
die vensters gaap nog elke nag
oor die leë werf & in die niet

die werf is tolbos en sand & wind
& peperboom & sand
& wintermiddags voer niemand meer die woord
woorde is maar sterre in 'n swart wind verskiet. (108)

Die eerste deel van die vers voltooi die Boerneef-verwysingsiklus in die bundel. Die toneel verskuif egter van die hoogste punt by Wuppertal na 'n stadsbalkon, en die berggans en sy veer word vervang met 'n trilpoplier en sy blaar. Die poplier (populier) het 'n gelaaide simboolwaarde: populier is die vox populi en ook onder meer 'n boom van lewe en van heiligheid. Met die dood gaan staan die wysters van die dag, maar die aarde en sy seisoenswisselinge gaan onverstoorbaar voort. Maar die populierblaar word nie gestuur nie, maar gehou, en word teken van 'n diep liefde wat nou stol in die tyd.

Die tweede deel van die gedig speel in op Van Wyk Louw se "Jy't weggegaan en jy bewoon 'n silwer herberg in die sneeu" uit Tristia. Die Louw-gedig dui op 'n verlore liefde en vertoon 'n ritme van verdriet en verlatenheid. By De Lange het die gestorwene gedros en plak nou in die murasie op die familieplaas. Liefdesverlies het oorgegaan in doodsverlies. Oënskynlik is daar verwyt oor die weggaan van die dooie, en woorde soos “dros” en “plak” is oënskynlik ongevoelig. Maar dan keer die weemoed terug, en “die vensters gaap nog elke nag oor die leë werf”. By die Louw-gedig is daar die romantiese toon van die leë blink vensters van die geliefde se vertrek, maar die dood het geen romantiek nie. Hierdie vensters kyk nie net oor die plein nie, maar in die niet. By Louw is die plein beeld van troosteloosheid en is die plein "boom en wind en boom en wind en wind/ en wintermiddag voer daar iemand die meeue krummels teen die wind". By De Lange word dit 'n Karootoneel met wind, sand en peperboom. Ook hier is daar geen romantiese klank nie, maar die woorde is self beeld van 'n geharde en fundamentele wêreld. Die plein is harde plaaswêreld, werf. Daar is ook nie die beeld van vereensaming in die “iemand” nie, maar die ruwe werklikheid van “niemand”. Hierdie niemand voer ook nie meer die woord nie, want woorde verskiet soos sterre in die wind van die dood. Waar die Louw-vers romantiese weemoed oproep, bring De Lange die ruheid van die dood en verganklikheid tuis. Dit maak die vers selfs nog meer aangrypend, sterk aards in die voldongenheid van dood.

4. Nulpunt

Hierdie bundel verloop nie siklies nie. Die fyn woord, die spot en die nostalgiese loop eenlynig. Uit die woord, die beeld, die gesprekke met veral gestorwenes gaan alles na 'n nulpunt. Die bundel is geensins nihilisties nie; daarvoor is die mag en die skoonheid van die woord te universeel; ook die pyn van menswees te geldig, te wesenlik. In Van Wyk Louw se woorde:

Ringmure wit om wingerde
ons hart bly soos 'n ring gesluit
maar oop en buite bakens is die pyn. (Tristia)

Uit die simbiose tussen woord, lewe, dood en metafisika vloei die paradigmas in hierdie uiters besonderse bundel, 'n ware kleinood in die Afrikaanse poësie. Die omslagontwerp bring Afrika en die Westerse wêreld bymekaar, die tipografie verbeeld keurigheid en liefde vir die woord en taal. Die gedig "Ikarus Redux" op bl 17 bring die sentrale temas van die bundel in perspektief:

"Ikarus Redux"

Erta Ale, Ethiopië

Die helikopter met kameraman
& ander lede van die span
sweefhang bo die krater:
'n gloeiende vurige pan
halfvol pruttende klip
wat ópklots teen die lip,
& geel rookpluime
wat uit skeure sis.

Dan stol die rotor & kantel –
die vliegmasjien stort neer
op die vloeiende vulkaanvloer.
Die staalblink naaldekoker
smelt weg sonder 'n klank,
terug na sy elementale moer.

Die mitologie, wat, volgens Borges, die begin en die einde van letterkunde is, word hier verbind met die moderne tegnologie. Volgens die legende is Daedalus en sy seun Ikarus  gevange gehou deur Minos, die koning van Krete. Die pa het vlerke ontwerp waarmee hulle kon ontsnap en wegvlieg. Ikarus het te na aan die son gekom, die was wat die vlerke vasgehou het, het gesmelt, en hy het neergestort in die Egeïese see. Daedalus word as die meester van vakmanskap beskou. Die titel bring drie wêrelde bymekaar: Afrika, die Klassieke wêreld en die kuns van ware vakmanskap. Die legendariese aard van die gegewe verteenwoordig die woord en die ritueel van verse maak. 'n Helikopter hang oor die aktiewe vulkaan in Ethiopië met onder meer 'n kameraman wat die toneel op film moet vaslê, "kuns" daarvan moet maak en aan die wêreld moet vertoon. Die krater is vuur en klip en rook, en dit sis onheilspellend. In sy geheel 'n ontstellende gesig, maar volkome aards, volkome deel van fundamentele Afrika. Deel van die land, soos die stof, die wind en die peperboom op Rust-mijn-ziel. Inherent is die vulkaanoppervlak gestroopte en gelouterde aarde, tegelyk lewe én dood.

Soos 'n naaldekoker oor 'n dam hang, maar ook heen en weer flits, so hang die mensgemaakte naaldekoker bo die gevaarlike vulkaan. Die beeld van die naaldekoker is een van brose natuur, die vulkaan een van die natuur in sy grofste gedaante. Die beeld breek soos 'n naaldekoker vinnig wegskiet, maar vir die helikopter met sy gebondenheid aan menslike vakmanskap is daar nie die bevryding wat eie is aan die naaldekoker nie, en die helikopter kantel en stort neer as sy rotor stol. Die mens en sy skepping het geen verweer teen die verwoestende mag van die natuur nie. Die ewewig en die prekêre kondisie van menswees is teen hierdie groter mag nie bestand nie. Die staalblink naaldekoker smelt weg soos die was aan Icarus se vlerke, sonder geluid, sonder die moontlikheid van 'n angskreet, heeltemal magteloos. Die helikopter – lees ook “mens” –  keer terug na sy elementale moer. “Moer” kan dui op 'n beginpunt, ook op 'n metaalblok, of afsaksel, droesem. Al hierdie betekenisse kan ter sake wees in hierdie vers, maar dit kan ook dui op die kras uitdrukking: "Gaan in jou moer", of die verbale gebruik: "Ek moer jou." Die elementale beperk egter die betekenis tot die begin of die einde van lewe. “Elementale” kan dui op die elemente waaruit die helikopter vervaardig is, maar eerder op die mens in sy weerlose toestand. Dan word dit meer as 'n ongeluk en die dood, maar verwys dit ook na die mens wat in sy vakmanskap en tegnologiese kennis nietig staan teenoor die natuur. In die loop van die bundel speel die natuur 'n beduidende rol om tot kennis van die self te kom, en 'n semantiese oorgang om tot by die volle konsep van gedig te ontwikkel, maar in hierdie vers is daar 'n inversie wat die teenoorgestelde suggereer. Alhoewel hierdie gedig 'n harde en selfs siniese aanslag het, is die kern ontstellend, apokalipties en elegies.

Vincent van Gogh (bron: wikipedia)

In "Vincent van Gogh, twee stoele" (65) het die eensaamheid van Van Gogh as kern. Sy vriend en gespreksgenoot "vat die pad" en Van Gogh skilder twee stoele: een wat wag vir sy lyf met die pyp reggesit, die ander stoel leeg, wat nie op 'n terugkeer wag nie:

Twee stoele, rug aan rug
of teenoor mekaar: beide swyg,
is uitgepraat, die een
het die ander afgeskryf
& stilte is soos 'n wig
tussen twee lewens ingedryf.

'n Hunkering se grein is 'n veelkantige bundel en plaas telkens die fokus op 'n verdere aspek van die mens en sy pyn en eensaamheid. Die bundel is ‘n viering van die kriptiese woord, maar ook van die gelaaide woord. Dit deel die taalspel met, en van, ander digters, maar is uiteindelik eg menslik en persoonlik. In een woord: 'n pragbundel.

As 'n naskrif van Boerneef:

Oom Jampie Bedroef is 'n neerslagtige mens
hulle sê hy was van kleinsaf so
'n stilweg man 'n eenkant ou
dink sy ding en hou hom innie mou
oom Jampie is 'n ompaarman
hy sê hy weet dikwerf g'n raad nie
daars te baie skemer te weinag lig
voor die mensekind se aangesig. (Palissandryne)

Henning Snyman

The post LitNet Akademies-resensie-essay: 'n Hunkering se grein deur Johann de Lange appeared first on LitNet.

Uitnodiging: Skryf nou in vir Nuwe Stemme 6

$
0
0

Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers

Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers stel Nuwe Stemme 6 saam. Dit sal die nuutste versameling in hierdie opwindende poësiereeks wees. Alle aspirantdigters word genooi om werk voor te lê vir keuring.

Charl-Pierre Naudé is ’n bekroonde digter met vier bundels agter sy naam. Sy eerste bundel, Die nomadiese oomblik, verskyn in 1995 by Tafelberg, en word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Sy tweede bundel, In die geheim van die dag, ontvang in 2005 die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie en die Proteaprys vir poësie.

Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Sy bied die boeke-program In die bed met Bibi aan op Via-TV, tree gereeld op by poësiefeeste, en debuteer vanjaar met die bundel Fotostaatmasjien.

Die reeks se geskiedenis

  • Nuwe stemme 1 (1997) met George Weideman en Anastasia de Vries as samestellers
  • Nuwe stemme 2 (2001) met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers
  • Nuwe stemme 3 (2005) met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers
  • Nuwe stemme 4 (2010) met Danie Marais en Ronel Foster as samestellers
  • Nuwe stemme 5 (2012) met Heilna du Plooy en Loftus Marais as samestellers

Die bundelreeks het met die verloop van slegs ’n paar jaar reeds ’n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebutteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha.

As jy van plan is om in te skryf, lees die reëls versigtig deur – inskrywings wat nie by die reëls hou nie, mag gediskwalifiseer word.

Reëls

  1. Die sperdatum vir voorleggings is 31 November 2016.
  2. Stuur ’n manuskrip met sewe ongepubliseerde gedigte wat aan die volgende voorwaardes voldoen:
  • Slegs Afrikaanse gedigte sal oorweeg word.
  • Die manuskrip moet in dubbelspasiëring getik word.
  • Stuur jou manuskrip in elektroniese formaat, in pdf-formaat.
  • Stuur die volgende inligting in jou brief:
    • Jou volle naam
    • Jou posadres
    • Jou telefoonnommer
    • Die titels van jou gedigte
  • Stuur jou manuskrip na nuwestemme@nb.co.za met die onderwerp “Nuwe stemme 6”.
  • Maak seker dat jy ’n bevestiging van ontvangs kry.
  1. Suksesvolle digters sal deur Tafelberg in kennis gestel word waarna die uitgebreide redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  2. Die beste digters – nie minder as 15 maar nie meer as 30 individue nie – sal uit die voorlegging van manuskripte aan Tafelberg-Uitgewers geselekteer word. Daar sal direk met hulle in verbinding getree word.
  3. Tafelberg beoog om die bundel in die tweede helfte van 2017 te publiseer.
  4. Navrae kan gerig word by die e-pos adres nuwestemme@nb.co.za.

 

Inligting ook beskikbaar by www.tafelberg.com

 

The post Uitnodiging: Skryf nou in vir Nuwe Stemme 6 appeared first on LitNet.

Boekresensie: Rapport Junior Blokraaiboek, met raaiselontwerp deur Ollie Olwagen

$
0
0

Blokkiesraaisels is een van die gewildste woordspeletjies ter wêreld, maar eintlik het dit ‘n baie kort geskiedenis. Dit blyk dat die eerste blokraaisels maar skaars ‘n eeu gelede gepubliseer is! Arthur Wynne, ‘n gebore Brit, het na Amerika geïmmigreer, waar hy vir ‘n Sondagkoerant, New York World, gewerk het. Hy is gevra om ‘n nuwe speletjie vir die vermaakblad te ontwerp en só is die eerste blokraai op Sondag 21 Desember 1913 gepubliseer. Aanvanklik was dit diamantvormig en eers later is horisontaal-en-vertikaalvormige blokraaie met swart blokke ontwikkel. Wynne het sy blokraaie gebaseer op ‘n antieke speletjie van Pompeii genaamd “magic squares” wat van Latyns na Engels vertaal is. In dié speletjie word ‘n groep woorde gegee wat op ‘n ruitenet gerangskik moet word. Die blokraai is dieselfde konsep, behalwe dat leidrade in plaas van die woorde gegee word. Dit is ‘n speletjie wat grotendeels vir volwassenes ontwikkel is, en dit is ‘n redelik nuwe en gewilde gedagte om kinders te betrek om sodoende onder andere hulle algemene kennis te verbeter.

Rapport se Junior Blokraaiboek, deur Tafelberg uitgegee, vul ‘n welkome gaping in die mark van speletjies waar jong kinders betrek word. Ek het my eie tienjarige seun, Wynand, ingespan en sy terugvoering is presies wat ek dink G Olwagen en Tafelberg in gedagte gehad het met dié boek. Volgens Wynand verbreed dit sy algemene kennis: hy is geneig om te onthou wat hy invul, en leer nuwe woorde aan, asook korrekte spelling. Hy vind dit baie interessant en fokus minder op die foto’s en meer op die blokraai self – dus maak dit nie werklik saak of daar kleur by betrokke is nie. In dié geval is dit egter wel in kleur, wat heel moontlik meer kinders sal aanspoor om dié woordspel te leer.

‘n Graad 4-onderwyseres by Laerskool Bredasdorp, Eileen Janson, noem dat die waarde van blokraaisels vir die leerders onder meer die volgende insluit: verbeterde spelling en algemene kennis; dit brei woordeskat uit en leer kinders hoe om te dink en te redeneer. Sy gee dit gereeld aan die leerders om dié waardes in te skerp en hopelik kweek dit ‘n natuurlike liefde vir die speletjie. Dis natuurlik ook ‘n gewilde manier om kinders te leer en om dit spelendergewys te doen.

Junior Blokraaiboek bevat 59 bladsye se woordvermaak met die oplossings gerieflik agterin. Dus is dit iets wat die jongspan ‘n wyle kan besighou en agterna kan hul agterin kyk of hul antwoorde reg is of dié invul wat steeds soek is. Dit is ‘n gebruiksvriendelike boek, lekker leersaam en wissel in moeilikheidsgraad om kinders vanaf 7 jaar welkom te heet in die wêreld van blokraaie. Die eerste 20 blokraaie is ideaal omdat sommige letters verskaf word en ‘n goeie grondslag lê vir die daaropvolgende raaisels. Ouer kinders asook volwassenes se kennis sal hier getoets word. Die glansomhulsel sal ook verseker dat vuil handjies nie ‘n merk op die omslag los nie. Die prente is kleurvol, vermaaklik en selfs amusant en sal beslis kinders van enige belangstellingsveld prikkel om dit te begin invul.

As ‘n mens in ag neem wat die doel van ‘n blokraai is, dan is kinders beslis nie verhewe bo dié doel nie, en inteendeel behoort daar vele meer van dié vermaak beskikbaar te wees.

Vir volwassenes is dit ‘n manier om verbale kommunikasie aan te moedig, stres te verminder, probleemoplossingsvermoëns te ontwikkel, dementia te verminder en algemene kennis te verbeter, ondanks die ontspanningselement. Dus, presies waarby kinders kan baat vind. Daar word gesê kinders leer maklik so speel-speel en dié blokraaiboek slaag beslis hierin. Ouers kan hulle vergewis dat hul kinders op ‘n speelse dog akademiese manier besiggehou word. Beslis ‘n nodigheid in jóú kind se boekrak en die ideale verjaarsdag- of Kersgeskenk onder die boom dié jaar.

 

  • Rapport se Junior blokraaiboek word uitgegee deur Tafelberg en kos R135. Dit is beskikbaar in alle goeie boekwinkels.
  • Indien lesers probleme ondervind om die boek in die hande te kry, stuur ’n e-pos aan nvalent@rapport.co.za.

The post Boekresensie: Rapport Junior Blokraaiboek, met raaiselontwerp deur Ollie Olwagen appeared first on LitNet.

Boekresensie: Elf dae in Parys deur Elizabeth Wasserman

$
0
0

Elf dae in Parys
Elizabeth Wasserman
Tafelberg, 2016
ISBN: 9780624077442

Teorieë oor die opvoedkundige waarde van fiktiewe tekste was sekerlik lank laas so van toepassing soos met hierdie boek deur Elizabeth Wasserman. Elf dae in Parys is ’n heerlike versmelting van feit en fiksie wat die leser met ’n gevoel van genoegdoening laat. Jy kén nou vir Parys, en die beste van alles is jy wil teruggaan soontoe, want daardie stad betower. Die skrywer begogel en verwar die sinne, so wees gewaarsku: “Parys kan jou oorweldig. Dit word Stendhal sindroom genoem – jou sintuie raak oorhoeks en jy voel skoon beneweld.”

Op haar ouma se aandrang, en as geskenk vir haar 16de verjaardag, gaan Emma op ’n taaltoer na Parys. Haar beste vriendin, Salome, kan nie saamgaan nie en aanvanklik is sy min lus vir die hele gedoente. Maar dis ver van die huis af en dis wat sy dalk nodig het: om weg te kom van haar ouers se mislukte huwelik en die spanning wat dit bring. Elf dae in die Stad van Lig en Liefde lê voor en Emma kon nie anders as om uit te sien na ’n tydjie waar sy haar nie oor haar ma hoef te bekommer nie.

’n Paar van haar reisgenote gee haar ’n pyn, soos die oppervlakkige Clarissa en haar “giggelende maskarabende”, maar haar vriendskap met die eksotiese Afrika-prinses Tombisa groei gaandeweg. So reis die groep na Frankryk – sewentien kinders uit verskillende skole, en vier onderwysers, en die avontuur begin.

Elizabeth Wasserman is geen groentjie as dit by die skryf van uitmuntende kinderverhale kom nie. Haar wetenskaplike agtergrond as patoloog en as professor in geneeskundige mikrobiologie het, veral met die Anna Atoom-reeks (2011 en 2012), vir ’n vervloeiing van feit en fiksie gesorg. Daar is ook haar Speurhond Willem-reeks (2010–2012), Die Dingesfabriek-boeke (2013), asook die wonderlike Professor Sabatina se groot wetenskapboek (2014). Laasgenoemde is ’n feiteboek wat soos ’n storieboek lees. Wasserman het die kuns bemeester om feitekennis prettig aan jong lesers oor te dra en sodoende op te voed sonder dat hulle dit agterkom.

Elf dae in Parys is ’n jeugroman, maar selfs volwasse lesers sal dit geniet. Weer eens slaag die skrywer daarin om ladings feitelike inligting op so ’n wyse aan te bied dat dit soomloos deel van die verhaalgebeure word. Emma leer Parys ken. Dikwels flits sy op ’n motorfiets saam met die aantreklike Luc deur die strate. Hy is die seun van madame Flaubert, by wie die groep tuisgaan. Hy wys vir haar skatte uit wat gewone reisigers na Parys nie sou ontdek nie. Emma leer ken “’n stad vol ou stories”, soos dat Chez Flaubert geleë is in ’n steeg digby die plek waar die wolwe snags die stad binnekom. Benewens die Franse cuisine en die kultuur en gewoontes van die Parysenaars, maak sy kennis met besienswaardighede met indrukwekkende, ou argitektuur, die betowering van musiek en dan natuurlik die kuns. In die Musée d’Orsay kruis haar pad met dié van ’n ondeunde sater en sy oulike beertjies. Want sien, sy is die muse van die kunste wat met ’n baie spesifieke doel na Parys gestuur is. ’n Doel waarvan net haar rare ouma Hebsodemma weet. Sy word onbewustelik deel van ’n oeroue ritueel om die magiese krag van die stad te bewaar, maar dit is ook die rede waarom sy in gevaarlike situasies beland.

Mitiese figure, grillerige katakombes, nagtelike gesluip, gevegte om die besit van ou-ou sleutels en ontmoetings met Pan, die bosgod, is deel van die spannende, opwindende verhaalgebeure.

Elf dae in Parys is waarskynlik geskryf met ’n spesifieke leser in gedagte: ’n intelligente, nuuskierige een en moontlik een wat Frans as skoolvak neem. Die taalgebruik is gesofistikeerd, met net hier en daar ’n blertsie tienertaal. Dit mag dalk nie jou trae leser inspireer om die boek van die rak af te gryp nie, tog is hierdie boek ’n voorbeeld van die tipiese jeugverhaal met sy gebruiklike karakters: die gekwelde protagonis (Emma), die (moontlike) geliefde (Luc), die vriende (Thombi en Kim) en die vyande (Clarissa en die maskarabende; die boewe). Die verhaal sny tienerkwessies soos gebroke gesinstrukture en ’n soeke na die liefde en aanvaarding van vriende aan. Dit is ook deurspek van lekker spannende kinkels.

Vir ’n liefhebber van die geskrewe woord, vir ’n leser wat daarvan hou om in betowerende verhaalgebeure te verdwaal, is Elf dae ’n moet-lees. Met aangrypende taalgebruik soos hierdie, waarvan die teks deurspek is, kan dit nie anders as om leesgenot te verskaf nie: “Die suiwer vioolklanke ryg deur die kombers van lawaai wat die stad oortrek ... haar brein torring die note los van die rumoer om haar ...” Mooier kan dit nie!

Elf dae in Parys trek jou in, dit sleur mee, dit verskerp jou sinne en dit laat jou met die nodige kennis oor wat om met jou volgende besoek aan Parys te gaan doen.

The post Boekresensie: Elf dae in Parys deur Elizabeth Wasserman appeared first on LitNet.

Onderhoud: François Bloemhof oor Doodskoot

$
0
0

 

François Bloemhof (foto verskaf)

“Toe my eerste boek uitkom, het ek vir myself gesê ek sal eers soos ’n regte skrywer voel as ek drie boeke op die rak het. Maar dit voel steeds te goed om waar te wees, asof dit nie my regte werk is nie – en ek skat dis omdat dit nooit soos werk voel nie.”

Só sê François Bloemhof vir Org Potgieter. Voor sy eerste boek het hy ’n baie lang pad geloop: Agt jaar lank probeer om ’n kortverhaal geplaas te kry. Hy het op skool al begin om stories vir Engelse tydskrifte te stuur, maar dit was “gruwelike goed” omdat hy sy eie kop wou volg en net skryf wat hy wil. Die kersie op die koek is dat dit presies is wat hy nou doen – meer as 80 boeke later!

Skrywers kla-spog dikwels oor die wroeging wat met die skryfproses gepaard gaan, maar vir hom is dit die makliker deel.

“Die skryf van fiksie vermaak my. Voor ek ’n boek begin, het ek reeds die raamwerk – karakters, intrige, dwaalspore en ontknoping – gevestig. Dan volg die maklike deel.”

Hy sê hy skryf baie vinnig, maar redigeer baie stadig en krities.

Sy genres sluit in speur, spanning, gruwel, humor, misterie en liefde en hy het ook reeds talle jeugverhale gepubliseer. Hy waag ook sy hand aan draaiboeke en sê die verskil tussen ’n boek en ’n draaiboek is nie so groot as wat baie mense reken nie, veral as daar heelwat aksie en dialoog is.

Noudat sy jongste boek - Doodskoot - verskyn het, gesels François Bloemhof met Org Potgieter oor Bloemhof se skryf- en redigeerwerk.

Waar kry jy jou idees, wat skynbaar sonder einde is?

Ek droom baie en van my idees ontstaan soms só. Of dit kom uit koerante en my eie waarneming, ook uit ander mense se boeke. Ek dink dis belangrik dat skrywers ander mense se boeke lees vir idees. ’n Mens moet net pasop: Die verskil tussen inspirasie skep en afkyk kan baie klein wees. Daar is ook nie iets soos ’n heeltemal nuwe storie nie – jy kan dink jy is nou heeltemal oorspronklik, maar iewers bestaan daar reeds ’n verhaal met groot ooreenkomste. Die fondamente is eeue gelede al gelê. Jy is die eggo, nie die kreet nie!

Daar is ’n geweldige toename in Afrikaanse rolprente – ek dink daar was verlede jaar 34 nuwes – en hulle kry goeie resensies. Jou siening?

Dis natuurlik ’n goeie ding, maar goeie resensies beteken nie noodwendig goeie bywoning nie. Miskien is daar ’n ooraanbod taamlik eensoortige Afrikaanse rolprente? Wat boeke betref, is daar oorgenoeg gehalte en verskeidenheid.

Reekse verkoop oral goed en daar is veral oorsese skrywers wat hul roem en aanhang rondom reekskarakters gebou het. Jy het nog net twee reekse geskryf: die Rooi Luiperd en die reeks oor Alma van der Pool, die eerste vrouespeurder in Afrikaans.

Ja, reekse verkoop oor die algemeen goed en word goed gereklameer. Maar ek voel as jy vier boeke in ’n reeks geskryf het, kon jy in dieselfde tyd vier verskillende, meer unieke leeservarings geskep het. Ek verkies ’n groter verskeidenheid, ek is kreatief ingestel en reekse is vir my ’n aanpassing, ek voel ek gee iets prys. Nogtans het ek ’n idee vir ’n nuwe reeks en as so iets sterks by jou opkom, moet jy luister.             

Jyself het al meermale gesê daar is geen navorsing vir hierdie boek van jou gedoen nie. Dit voel soms of ’n skrywer te veel op navorsing konsentreer, dan is dit soos ’n swart bra by ’n deurskynende wit bloes.

Ja, daar is mense wat daardie bra met trots vertoon. Navorsing moet onopsigtelik wees en ’n storie geloofbaar maak. Die leser kan self gaan google as hy byvoorbeeld meer van ’n skildery wil weet, of oor hoekom ’n vlinder sulke uitsonderlike vlerke het. ’n Mens moet jou altyd afvra: Is dit regtig nodig vir die storie, of vertraag dit hom net?   

Jou jongste boek – Doodskoot – is in Engels vertaal as Double Echo. Twee van ons fiksieskrywers se boeke gaan ook in Turks vertaal word. Sê dit iets?  

Nie regtig nie. Uitgewers verken pal ander tale. Dis tyd dat Afrikaans ’n beurt kry en dit moes lankal gebeur het. Dis nie altyd ’n teken van die boek se gehalte nie, maar dis ’n bonus, ook wat die binnelandse mark betref.

Ek wil aanhou skryf totdat ek nie meer kan nie, solank my kop en my vingers werk. Ek is te lief vir stories en glo my idees sal nie opraak nie. Verskillende stories moet op verskillende maniere vertel word en as skrywer moet ek my styl vir elke genre aanpas, iets wat voortdurende uitdagings skep.

Om iemand se boekeredakteur te wees – wat jy dikwels doen – verg seker ook sy eie dissipline?  

Soos met navorsing, moet jy onsigbaar wees. Jy kan die skrywer soms help om iets duideliker of meer subtiel te sê, maar jy moet sy styl respekteer. Dis natuurlik ook makliker om ander mense se foute raak te sien en dis ook goed om jou eie manuskrip drie maande te laat lê, want jy sien nie dadelik jou eie foute nie.  

Wat kan lesers in Doodskoot te wagte wees?

Dis geskryf in die styl van die film noir van die 1940’s en vyftigerjare. Daar is ’n held met probleme en ’n vrou met baie planne wat net tot verdriet kan lei – en die spanning loop op. Anders as daardie outydse flieks, speel dit plaaslik af, op Riebeek-Kasteel, met moderne karakters en situasies wat hedendaagse eise aan hulle stel. Die mense kry swaar, maar hulle wou mos! 

The post Onderhoud: François Bloemhof oor Doodskoot appeared first on LitNet.

Uitnodiging na die Facebook-bekendstelling van Vir die voëls


Tien vrae: Stefan Blom oor Die waarheid oor verhoudings

$
0
0

Stefan Blom (bron: http://www.stefanblompsychologist.co.za/)

Die waarheid oor verhoudings
Stefan Blom
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798172103

Stefan Blom vertel vir Naomi Meyer van sy boek Die waarheid oor verhoudings.

Hallo Stefan, jy is die skrywer van Die waarheid oor verhoudings. Wil jy dalk eers iets oor jouself vertel?

As ’n kliniese sielkundige woon en werk ek vir amper 20 jaar in Kaapstad. Elke dag werk ek met individue en paartjies wat probeer sin maak van hulle verhoudings, en dit sluit verskillende tipes verhoudings in, soos intieme en familieverhoudings en ook jou verhouding met jouself. My werk is stimulerend en kreatief; verhoudings interesseer my en ek leer elke dag oor wat ons gelukkig en seer maak. Ek voel bevoorreg om te werk met alledaagse mense wat (soos ek self) belangrike verhoudingslesse wil leer en bereid is om te werk aan hulle verhoudings om werklik gelukkig te lewe.

Oor die titel van jou boek: Is daar net een waarheid oor verhoudings? Of as jy een (of meer as een) moet uitsonder, wat sou dit wees?

Die “waarheid oor verhoudings” is ’n versameling van waarhede. Die waarhede het ek geleer by ander in terapie en ook deur self te lewe. Natuurlik is daar nie net een waarheid nie en in elke verhouding sal daar ’n waarheid wees wat nou meer belangrik is, maar in my boek deel ek die meeste algemeenste onderwerpe wat oor die jare in terapie met my gedeel was.

As dit by waarhede kom, en as ek vir die meeste mense kan praat, het ek geleer dat die ervaring van mens se verhoudings die ervaring van jou lewe bepaal. Met ander woorde, as jy nie gelukkig is in jou belangrikste verhoudings nie, is dit moeilik om regtig gelukkig te wees. 

Ek het ook geleer dat as mens nie leer om mooi met mekaar te praat nie (maak nie saak hoe jy voel nie), dan beïnvloed dit die boustene van jou ervaring van liefde: respek, verbintenis en vertroue. Die manier waarop julle mekaar behandel en met mekaar praat sal julle verhouding bou of breek.

Is jou boek geskryf vir mense in romantiese verhoudings?

Die waarheid oor verhoudings is geskryf vir alle verhoudings, insluitende vriende, familie, besigheidsverhoudings en die verhouding met jouself. My oogmerk was om ’n baie praktiese en op die punt af boek te skryf oor verhoudings; die tipe boek wat ek wens iemand vir my gegee het voor ek in verhoudings betrokke geraak het.

Watter onderafdelings is daar in jou boek – en brei asseblief ook uit op watter gedeeltes jy reken die belangrikste in ‘n menseverhouding is, as jy kan.

My boek bestaan hoofsaaklik uit belangrike verhoudingsvaardighede (wat enige verhouding nodig het om te oorleef) en lesse (wat ander geleer het in terapie en wat mense se lewe verander). Die onderwerpe wat die meeste met my bespreek word in terapie, kry elkeen ’n hoofstuk: hoe om te praat; om te verskil; om vertroue te herstel; om mekaar seksueel of intiem te vind; om uit te gaan en nuwe mense te ontmoet; hoe om jouself lief te hê en die einde van ‘n verhouding te hanteer. Die boek eindig met vrae en antwoorde wat ek op my webtuiste ontvang het.

‘n Verhouding neem baie energie in beslag. Hoe gemaak met verhoudinge wat meer terloops is – mense met wie mens oor die weg kom, maar daar is eenvoudig nie tyd tussen gesin en werk deur om genoeg aandag te gee nie. Beteken dit dalk dis nie ‘n ware vriendskapsverhouding nie?

Vir enige verhouding om te oorleef moet mens natuurlik daarvoor tyd en plek maak. En as ’n verhouding regtig saak maak, sál jy plek maak in jou besige program vir die mense wat jy lief het. Maar wanneer mens ’n hegte band vorm met iemand of werklik “kliek”, is jou band altyd teenwoordig sonder dat jy daaraan hoef te dink en voel dit sonder twyfel asof julle mekaar gister gesien het. 

Wat is jou gedagte oor verhoudings (nie noodwendig romanties nie) of konneksies op die sosiale media? Wat is die waarheid van hierdie soort verhoudinge?

’n Konneksie op sosiale media lei nie noodwendig tot ’n ware konneksie of band nie. Sosiale media is dikwels projeksies van wie ons dink ons is of wil wees en vol vals idees (delusies). Alhoewel baie mense iemand ontmoet op sosiale media, vind jy jou ware konneksie wanneer jy iemand persoonlik ontmoet en oor tyd leer ken. Die persoon wat jy dink jy ken op sosiale media is dikwels nie die persoon wat jy sal ontmoet nie. 

Ons lees dikwels in die media oor mense se romantiese verhoudings, veral as ‘n glanspaartjie uitmekaargaan. Opvallend dat een van die twee dan voorgehou word as die duiwel en die ander een as die engel. Wérk dit so swart en wit in verhoudings, so absoluut? Een is volkome reg en die ander een verkeerd?

In die verbrokkeling van ’n verhouding is dit glad nie so eenvoudig soos reg en verkeerd of swart en wit nie. Dit is ’n komplekse prentjie en daar is baie aspekte wat bydra tot die einde van ’n verhouding; en natuurlik het beide partye ’n verantwoordelikheid tot die einde. Die maat wat net ’n vinger wys na die ander, het nog nie verantwoordelikheid begin vat vir sy of haar bydrae nie. ’n Verhouding waar een persoon altyd reg en ’n ander verkeerd is of waar twee mense in die publiek leef, oorleef selde. Alle verhoudings het privaatheid nodig en te veel invloede van buite sal enige verhouding van binne vernietig.

Is daar altyd ‘n oplossing in ‘n verhouding? Kan selfs onwaarskynlike verhoudings slaag? Of wanneer behoort ‘n verhouding verbreek te word (as dit moontlik is om so te oorvereenvoudig)?

Daar is altyd ’n oplossing vir verhoudings solank beide partye bereid is om te werk aan hulleself en hulle verhouding; en oop is vir verandering. Ek glo dit vas, anders sou ek nie werk gehad het nie! ’n Bereidwilligheid van alle partye om veranderinge te maak om ’n beter verhouding te hê, is noodsaaklik vir sukses. Dit verbaas my steeds dat twee mense soveel spanning, konflik en ongelukkigheid in hulle verhouding kan ervaar, maar nie ’n verandering wil maak nie.  As daar geen verbintenis tot verandering is deur een of albei partye nie, is dit gewoonlik die einde van ’n verhouding. 

Waarom het jy die webwerf thetruthaboutrelationships geskep?

My oorspronklike bedoeling was om alles wat ek geleer het oor verhoudings in terapie en in my lewe, op my webwerf weg te gee of terug te gee aan die wêreld. Die waardevolle lesse wat ek by ander leer beskou ek as ‘n voorreg en ek voel sterk dat almal behoort toegang te hê tot die vaardighede en lesse (die waarheid oor verhoudings) wat net ’n paar “bevoorregtes” in terapie ontvang. Die verhoudingsvaardighede en -lesse verander mense se verhoudings en ek het oor die jare ’n persoonlike verantwoordelikheid gevoel om dit te deel. Ek glo dit kan ’n verskil maak in die wêreld en dit is my bydrae. Die boek het gevolg op die webwerf en is ’n ware seëning.

Wie is die mees noemenswaardige persoon in elke mense se lewe? Is dit noodwendig ‘n lewensmaat? Moet dit ‘n mens se strewe wees – hierdie een met wie mens die diepste konneksie vorm? En wat van jou konneksie met jouself?

Jou konneksie met ander begin natuurlik met jou konneksie met jouself. Alle veranderinge begin sekerlik in jouself. En mens kan betekenisvolle verhoudings hê met mense, diere, plekke, boeke, tuine, werk ... Tydens verskillende tye in jou lewe sal wat waarde dra vir jou verander. Jou lewensmaat sal nie altyd jou prioriteit kan wees te alle tye nie, maar vir enige verhouding om te oorleef moet dit betekenisvol bly en prioriteit ontvang. En natuurlik maak verskeie konneksie of hegte bande met mense en dinge jou lewe ryker.

The post Tien vrae: Stefan Blom oor Die waarheid oor verhoudings appeared first on LitNet.

Boekresensie: Jesus ruik na mirre en stof deur Pierre du Plessis

$
0
0

mirrestof250Jesus ruik na mirre en stof
Pierre de Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780796319401

Reuke is in mens se sensoriese geheue, dit wat die persoon deur die sintuie onthou. Dit is net 'n treetjie weg van die emosies.

Die reuksintuig is 'n uitsonderlike boeg waaroor die skrywer hierdie werk gegooi het. Sou dié boek, soos in die inleiding belowe, die "vergeestelikte" Jesus meer menslik vir die leser maak, hom inspireer en meer liefde gee?

Pierre du Plessis, skrywer en onder meer ook kunstenaar, begin by die vraag: "Hoe het Jesus geruik?"

Uitleg en organisasie

Jesus ruik na mirre en stof gee die verloop van Jesus se geboorte, met die stal en met die reuke van diere, mis en hooi, die kruisdood met die afgryslikheid van bloed, sweet en urine, en die kerk, waar onder meer samekoms met kos en wyn se reuk aangeraak word. Lg is saam met vriende sowel as vreemdelinge, almal met hulle mensreuke.

Soos in katedrale deur die mandorla uitgebeeld, is daar 'n plek waar die hemel en die aarde oorvleuel – "vir ons ontmoet die hemel en die aarde in 'n persoon, Jesus self" (77).

Deur die eeue heen probeer kunstenaars gestalte gee aan Jesus se lewe.

"Katedrale doen meer evangelisasie as die meeste kerke," merk Pierre op in sy afdeling oor "die reuk van vis".

Albrecht Dürer het reeds in die 16de eeu mense wat toe nie kon lees nie, ingelig met sy gravures van Bybelse gebeure. Digters soos Sheila Cussons gebruik dikwels die sintuie: “ek hoor dit,/ hoor die singende geur van hout ...” (“Lied van die hout”, Omtoorvuur, 1982, Tafelberg).

In Mirre en Stof word 'n hoofstuk aan elke reuk gewy en sal op sigself reeds die leser se nuuskierigheid prikkel: “Krip”: na skaap, wierook, mirre, hout en klip, vis, stof en sweet, kos en wyn; “Kruis”: na parfuum, na bloed, na dood en na nat grond. (Die onderafdeling oor bloed troef talle bekende draaiboeke. Daar is die ontstellende beskrywing van die kruisiging aan die hand van onder meer menslike uitskeidings.)

Die skrywer gebruik ook die beeld van die nardussalf wat 'n vrou oor Christus uitgestort het. Die reuk daarvan het Hom gevolg tot aan die kruis, namens die vrou, ook deur alle mense (122).

In die derde afdeling, “Kerk”, vind ons die hoofstukke: soos Jesus, soos vriende en soos vreemdelinge.

In die laaste hoofstuk, oor die reuk van vreemdelinge (hoofstuk 14), sluit hy almal wat “anders” is in. Almal word verwelkom. Almal het vriende nodig, minstens vier.

Hierdie werk vir moderne Christene is toeganklik geskryf, met 'n gemaklike en onderhoudende verteltrant. In teenstelling met die onderwerp is die toon lig en persoonlik.

In 'n tyd waarin die visuele 'n geweldige rol speel, is hierdie klem op reuk vernuwend.

Die skrywer het goeie navorsing gedoen en is bewus van die simboliek in die Bybel. Hy verduidelik byvoorbeeld op kundige wyse waar die kruis en die vis as simbole vandaan kom en die dieper betekenis daarvan. Oor rituele in 3rd Place, die geloofsgemeenskap waarmee hy tien jaar vantevore begin het, vertel hy: "Wanneer ons die nagmaal by 3rd Place gebruik, sit ons om 'n lang houttafel, die reuk van die brood en wyn hang in die lug ... almal bedien mekaar rondom die tafel, dan kyk ons in mekaar se oë en sê die woorde: ‘Sy liggaam gebreek vir jou. Sy bloed uitgegiet vir jou. Jy is vry’" (181).

Die doel van die boek om te wys: “Die reuke van ons wêreld het aan Hom afgesmeer en sy heilige reuk uiteindelik aan ons” is geslaagd en inspireer. Daar is ook interessante inligting.

Bybelse teksverwysings in die eindnotas en 'n bronnelys is bygevoeg.

The post Boekresensie: Jesus ruik na mirre en stof deur Pierre du Plessis appeared first on LitNet.

Ten questions: Arien van der Merwe on the book Managing diabetes and related health challenges

$
0
0

Picture of Arien van der Merwe provided

Managing Diabetes and Related Health Challenges
Arien van der Merwe
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169417

  • Also available in Afrikaans - see picture of cover below

Ten questions: Arien van der Merwe on the book Managing Diabetes and Related Health Challenges.

Arien, you are a medical doctor, and you are also registered with the Natural Healers Association. Do you have a traditional approach to medicine, or a more holistic one? What is your philosophy?

I practise natural, integrative medicine and I’m registered with the NHA as a trainer in ethnomedicine, which is a holistic approach including body (herbal remedies – also traditional herbs, nutriceuticals, healthy eating, enjoyable exercise), mind (mind training to change old brain networks of belief in disease, deep relaxation practices to quieten the monkey-chatter mind), emotions (releasing trapped emotions that cause disease) and soul (the authentic human being whose natural state is to be happy and well).

You recently wrote a book called Managing Diabetes and Related Health Challenges. Why did you write this and why is this field of specific interest to you?

I was asked to write the book by NB Publishers (Human & Rousseau became the end publisher) because of the sheer numbers of people with this health challenge. I insisted on adding "and related health challenges" to the title, because diabetes (high blood sugar) hardly ever occurs on its own, but is accompanied or preceded by high blood pressure, increased waist circumference (insulin resistance), high triglycerides and LDL-cholesterol (harmful one) and low HDL (good one) – all of these are part of Metabolic Syndrome (MetS). Depression is often part of the symptoms. I also developed MetS while writing the book!

Metabolic syndrome can be recognised by the following common symptoms:

  • Increased waist circumference: abdominal (waist) circumference more than 102 cm in men, and more than 88 cm in women
  • Increased triglycerides: 1,7 mmol/L* or above
  • Increased LDL cholesterol: > 3 mmol/L
  • Increased HDL cholesterol: < 1,0 mmol/L for men; < 1,3 mmol/L for women
  • Elevated blood pressure: 130 mmHg systolic; 85 mmHg diastolic or above
  • Increased fasting insulin indicating insulin resistance (dependent on laboratory specific values)
  • Increased fasting glucose: >5,5 mmol/L

* mmol/L = millimoles per litre – measurement for very small quantities.

I used this as my own journey into healing to prove that it can be done.

Is your book written especially for people living with diabetes, or also for people living with depression, to which you referred briefly earlier? How are these conditions related?

It is written for any person who has, or who knows someone who has, any of these symptoms:

Symptoms of diabetes

  • Diabetes might be present for many years without any symptoms.
  • Early symptoms might include extreme thirst and frequent urinating, also at night. If you eat anything sweet, and experience extreme thirst or tiredness afterwards, it’s important to have your fasting blood sugar tested.
  • Frequent candida (thrush) in the mouth or vagina, or frequent other infections, or sores on the skin that don’t heal.
  • Tiredness for no apparent reason.
  • Blurred vision.

The integrative approach will be of benefit to anybody. The section on how trapped emotions lead to disease is also, of course, applicable to any health challenge/disease, as are the stress management and lifestyle recommendations.

Many families are affected by diabetes (1 or 2). A young boy I know who seemed healthy was recently diagnosed with diabetes 1; a less healthy grown-up I know, with diabetes 2. Have both types of diabetes been everywhere around us all the time – or why do we hear so much about it nowadays?

These are examples of the chronic diseases of lifestyle (CDLs) so prevalent in modern times. Because of our lifestyles, high levels of stress and especially all the trapped emotions causing distress, more and more people are diagnosed with various of the CDLs. The system would then depend on the specific trapped emotions or the area of an existing genetic weakness.

No sweets, no chocolate, no cake ... ever? Is diabetes a lifelong death sentence?

It isn’t. My book is a message of hope that this disease can be managed and even healed. It’s not about no sweet things, but to really limit those to maybe once every 10 days and also controlling the quantity and emphasising complex carbohydrates rather than refined sugar; also replacing with healthier sugar substitutes (eg xylitol and stevia) and other options (such as the chocolate recipe that’s on my website).

Is the Banting way of life a natural cure for diabetes?

Banting is not for everyone, but its limitation on sugar consumption is good for those with diabetes. I recommend a LCHF (low carb, healthy fat (= plant oils, especially coconut, olive, avo)) eating plan.

Please elaborate a bit on relaxation, meditation and sleep. Of much importance, or not so much?

Sleep is essential for rest, recovery and replenishment of body and mind (7–8 hours of sleep per day in quiet and darkness). It is of the utmost importance to practise some relaxation or meditation every single day, even for 10 minutes to start off with. We have to do something to calm our hectic, busy left-brain mode (beta and high beta brainwave rhythm or pattern) into becoming calm, peaceful and still, to move to alpha rhythm or right-brain mode and from there to whole-brain functioning.

How would anybody know whether they have diabetes – or what are the warning signals to change your lifestyle even before you are diagnosed?

Going for annual check-ups is essential – prediabetes can be diagnosed before fasting blood sugar goes really high. Always include fasting insulin as well, and lipid profile including homocystein, C-reactive protein (to measure inflammation), blood pressure of course, and weight (including WHR and BMI). Most people with type 2 diabetes are overweight, stressed and eating the wrong foods. However, it is not always the case, and the diagnosis can occur in people with really healthy lifestyles. Those with insulin resistance are inclined to find losing fat weight around the abdomen very challenging.

You write “dis-ease” rather than “disease”. Please will you explain why?

“Dis-” means “un-”, therefore a body that is not at ease. It’s so important to remember that our natural state is to be at ease, healthy (and happy!). What we have to do is learn how to return to this natural state, and that is what my book is about.

Disease is a natural part of life, is it not? Which diseases do we need to manage and which ones do we need to embrace because we cannot change them?

Disease is not natural! Health is natural and we have to unblock the old beliefs (including wrong world views and our own beliefs in sickness).

 

The post Ten questions: Arien van der Merwe on the book Managing diabetes and related health challenges appeared first on LitNet.

Video: Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux word bekendgestel

$
0
0

Christine Barkhuizen-le Roux se jongste roman, Drieklawerblaar, is onlangs by Stellenbosch Protea Boekwinkel bekendgestel. Elna van der Merwe het met haar gesels.

 

Kyk ook:

Video: Breyten Breytenbach se dubbele boekbekendstelling

Breyten Breytenbach se versamelbundel die singende hand, sowel as sy jongste bundel die na-dood is Woensdag by Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel. Breytenbach het met Louise Viljoen gesels.

 
Video: Johan C Bakkes lees voor uit Openbaring

Johan C Bakkes se reisroman Openbaring is onlangs by die Wild Clover Bierbrouery bekendgestel.

 

The post Video: Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux word bekendgestel appeared first on LitNet.

Tien vrae: Duane Aslett oor Goudduiwel

$
0
0

Foto van Duane Aslett: Twitter

Goudduiwel
Duane Aslett
Queillerie
ISBN: 9780795801174

Skrywers oor hul nuwe boeke: Duane Aslett oor Goudduiwel 

Duane, jy is ‘n forensiese rekenmeester. Wat is jou spesialiteitsgebiede – met ander woorde: wat ondersoek jy?

Eintlik is ek nie ʼn rekenmeester nie, maar het ʼn strafregagtergrond (voormalige polisiebeampte en later staatsaanklaer). Tans doseer ek die strafreggedeelte in die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap, met spesifieke fokus op diefstal, bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery.

Jou tweede spanningsroman, Goudduiwel, het pas verskyn. Jou werk help jou seker baie met jou navorsing, of hoe?

Beslis – baie van die agtergrond vir die romans kom uit die navorsing vir my LLD-proefskrif. Mens skryf mos maar oor wat jy weet.

Jou werk neem sekerlik ook baie tyd in beslag – waar kry jy tyd vir skryfwerk tussen jou werk deur (of tyd vir werk tussen die skryf deur)?

Vakansies – dit is wat ek doen vir ontspanning, so vakansietye werk die beste vir my, want dan kan ek ook sonder ander verpligtinge of afleiding aan ‘n manuskrip werk.

Waar het jy die idee vir Goudduiwel gekry? En, sonder om te veel te verklap van die storie: kan jy Goudduiwel se plot/intrige in ‘n sin of twee opsom?

Ek ʼn jare lange belangstelling in die legende van die Krugermiljoene – hoe die legende ontstaan het, waarom, die waarheid daarvan ens – en het gevoel dit sal as interessante agtergrond vir ʼn roman dien, veral in die lig van Dan Brown se romans. Die intrige handel oor Niel Campher wat in sy eie soeke na die Krugermiljoene met ʼn geheime organisasie, die Ysterhoutlaer, deurmekaar raak. Hy het egter sy eie agenda want “iemand moet boet”. Die titel is geïnspireer deur die gesegde in die kloue van die Goudduiwel”, wat gierigheid beteken, en waar Skoppensboer oor die dood gehandel het, handel Goudduiwel oor gierigheid.

Maak sommige van Skoppensboer se karakters weer hul opwagting in Goudduiwel? En is dit verkieslik dat lesers ook Skoppensboer moes gelees het om die storie in Goudduiwel beter te volg?

Dieselfde karakters verskyn weer in Goudduiwel, maar omdat dit ʼn totaal ander storie is (aldus Thys Human tydens die Aardklop Boeke-oase gesprek), is dit nie nodig om eers Skoppensboer te gelees het nie.

Soos jy aangedui het, is die Krugermiljoene ‘n tema in jou boek – en dis ‘n legende wat steeds mense se verbeeldings aangryp. Watter interessanthede kon jy hieromtrent uitvind?

Ek was aanvanklik bekommerd oor die cliché van skatte wat in die grond begrawe is op ʼn plek gemerk “X”, en moes dus versigtig met die legende omgaan. Die kern van die saak is dat daar werklik goud per trein ooswaarts vervoer is toe die Boeremagte Pretoria ontruim het met lord Roberts se inval. Later was daar bewerings dat baie goudstawe “weg” was (nie verreken kon word nie), en so is die legende van die Krugermiljoene gebore. Of dit waar of vals is, sal ons seker nooit werklik weet nie.

Skryf jy sodat jou fiktiewe speurder ‘n saak namens die werklike jy, as skrywer, kan oplos? En is hierdie saak dan ‘n verbeelde saak, of ‘n werklike een?

Daar is plek-plek werklike gebeure van sake tussen die fiksie deur verweef, juis omdat ek lesers wil laat wonder waar feite stop en fiksie begin. Maar merendeels is die sake fiksie gebaseer op feite – om die skuldiges te beskerm. J

Hoe lank het jy aan hierdie boek geskryf? En het jy ‘n daaglikse skryfroetine?

Ongeveer twee jaar lank. Nee, ek het nie werklik ʼn vaste roetine nie, omdat ek ook nie op ʼn vaste plek skryf nie. Soms skryf ek in koffiewinkels, ander kere weer in iemand se sit- of eetkamer, so ek skryf waar en wanneer ek kan en hou my “roetine” dus buigbaar.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie aldag ‘n goeie naam nie. Jy is besig om jou doktorale studie te voltooi. Kry jy spesifiek in jóú alledaagse werk se doen en late te doen met kundige polisiebeamptes?

Ja, wel, en ek het baie respek vir die manne in blou wat gedrewe is om ʼn verskil te maak. In die Staat v Botha-uitspraak in 1995 reeds het die hof egter bevind dat ons samelewing só gespesialiseerd geraak het en daar soveel wetgewing en bedrywe is wat geadministreer en gereguleer word, dat geen polisiediens in 'n moderne samelewing sonder die hulp van private instansies alle misdaad kan ondersoek en voorkom nie. Die polisie het dus die samelewing se hulp met misdaadbekamping nodig. Toe ek in die polisie was in daardie selfde tyd (rondom 1995) het gemeenskapspolisiëring ʼn belangrike komponent van misdaadbekamping begin word, wat sekerlik vandag nog meer geld. Op daardie tydstip was gemeenskapspolisiëring reeds geruime tyd deur die Bobbies (Britse polisie) geïmplementeer – een van die beste polisiedienste ter wêreld, indien nie dié beste nie.

Wat lees jy op die oomblik?  

Ek het onlangs Rudi van Rensburg se Pirana klaargemaak en is tans besig met Karin Brynard se Tuisland. Tussendeur verstout ek my met Staal Burger deur Fanus Rautenbach, wat ek tydens Aardklop ontdek het (ek onthou die radiodrama, maar was nooit bewus dat dit in boekvorm gepubliseer is nie). Ou Staal Burger wat in sy swart Panther-motor misdaad bekamp, herinner my aan Rex Reynecke en sy swart Audi S5.

The post Tien vrae: Duane Aslett oor Goudduiwel appeared first on LitNet.

Viewing all 1319 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>