Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1338 articles
Browse latest View live

Indeks deur Joan Hambidge, ’n resensie

$
0
0

Indeks
Joan Hambidge
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN 9780798172967

“Die digkuns is liturgie; die digter ’n priester.” – Neruda

Donkiejare gelede in Utrecht het Wilhelm Liebenberg ooit opgemerk dat van agter af lees dikwels ’n vrugbaarder manier is om tekste te benader. Hier vind ’n mens dikwels die kern of ’n opsomming van die geheel.

Die voordele van dié soort lees het my onlangs weer opgeval by die lees van Die na-dood van Breyten Breytenbach, en John Miles se Op ’n dag, ’n hond (albei uit 2016, soos ook Joan Hambidge se Indeks). ’n Mens let dinge op wat jou andersins ontgaan. Daar steek dikwels ’n sleutel in ’n slot ...

Op die allerlaaste bladsy van Indeks is ’n foto afgedruk van ’n outydse hout-dekstoel en dofweg in die agtergrond ’n skeepsromp, met die luidende byskrif “op die Titanic” (fotograaf: Joan Hambidge; plek: Maritieme Museum in Halifax). Op die voorblad is ’n foto van ’n verweerde, leë houtbank wat uitkyk op ’n ysige Suid-Amerikaanse gletser. Ook geneem deur Hambidge, op haar onlangse reis na dié vasteland, onder meer na die Argentynse hoofstad, Buenos Aires (“stad van die Goeie Winde”) van Borges en Lorca, maar meer spesifiek na Chili, die land van Pablo Neruda (1904–1973). Die digter besoek ook weer Machu Picchu, die Inca-stad in die Andes (Peru). Albei foto’s suggereer uitsig op ondergang: vanaf ’n sinkende skip in die ope see, en oor die see, op ’n gletser. Verder is daar ook swart-wit foto’s van oorledenes (met een uitsondering: Lady Gaga). Dié foto’s vergesel in memoria van beroemde aktrises, sangers, familielede of digters.

Die visuele sy van die digbundel beklemtoon só die sentrale tema in Indeks: verganklikheid, die broosheid van die mens, en die vervlietendheid van die lewe, besonder pertinent in die bundel van ’n digter wat einde 2016 sestig geword het.

Terselfdertyd kan die leser ook nie loskom van die sosiopolitieke konteks waarin Indeks en die genoemde tekste van Breytenbach en Miles verskyn nie: die verbete eietydse stryd vir volwaardige beoefening van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal, nasionale en internasionale politieke onstabiliteit, ekologiese agteruitgang van seë, waters, lug en spesies. Laatwerk van ouer skrywers wat binne dié konteks verskyn, word onafwendbaar ook deur hierdie verswarende, verdonkerende elemente beïnvloed. Bestekopname soos in Indeks van ’n lewe en ’n oeuvre hou ook in bestekopname van ’n wêreld wat verby is, ’n literêre kanon wat agtertoe vasgelê was, maar toenemend deur populêre ikone soos Lady Gaga oorgeneem word.

Maar miskien was dit nog altyd so vir die ouer wordende en bejaarde kunstenaar (en mens)? Want “na alles word die lewe net lament,” staan daar in Hambidge se Lorca-vers, “Buenos Aires” (21); of soos die Amerikaanse digter John Ashbery dit op 89 jaar treffend verwoord in sy bundel Commotion of the birds (2016):

the indifferent breath
late every second of every day
          (“Land mass” – my beklemtoning)

Deel van dié laatwerkbundel is ook bestekopname of indeksering van die eie digterlike tematiek tot dusver, met ’n sterk skoot melancholiese, metapoëtiese kommentaar daarby ingebed. So bied die openingsvers, “Ars poetica” (wat alleen staan in afdeling I), ’n katalogus van eie werk en vroeëre, makliker werkswyse:

Daar was ’n tyd
toe ek sonder slag of stoot
’n versreël of inval
netjies kon ómtower in ’n aanklag
of ’n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog (…)

Sy bekla haar lot as digter in hierdie laatwerkperiode, want “Nou is dit helaas beurtkrag/ met die digterlike proses” (11–12). Daar is nou sprake van ’n selfbeklaenswaardige “onmag en frustrasie” by die versemaak.

Só ’n direkte selfbelydenis bring ’n byna naïewe eerlikheid in die bundel na vore wat empatie by die leser wek. Die digter smag na beelde wat weer eendag “helder” sal “skyn”, soos in Percy B Shelley se motto by die vers “words (as) a cloud of winged snakes”.

In dié “indeks van indekse” bied Hambidge dus voorlopig slegs “’n maer voetnoot, ’n refleksie van ’n verhaal”, soos in die motto van Valerio Magrelli gebruik by die tweede afdeling, “Reiskaart: Tarjeta Embarque”.

Dat alles egter hier nie eenvoudig en sonder bewimpeling is nie, blyk duidelik uit veral twee verse: “Paseo Trocadero” (15) en uit die vierde afdeling (“Inventaris”), die raaiselagtige “Wat goeie gedigte nooit verraai” (44). In “Paseo Trocadero” word die leser en digter gewaarsku teen uitlewering deur “dít wat moet beskerm” en “digters/ wat kierangslaai eet”, met in die volgende vers verwysings na die “goeie” gedig as “lokval”, “welsand” en “afgrond” waarin “geheime” versteek is. Dié vers, “Wat goeie gedigte nooit verraai”, is enigmaties genoeg om paranoïa by die “lig”-geraakte kritikus te ontketen vir wat hy of sy altemit miskyk (veral na heelwat onlangse bundels waarin verhuld met kritici die draak gesteek word).

Die bundel bevat dus aan die een kant oop verse met (oënskynlike) belydenis oor eie onvermoë, maar aan die ander kant waarskuwings oor verraderlike versteekthede. In die voortreflike vers “Die anatomie van reis” (17), soos in meerdere verse, groei die ondergrondse metro in Buenos Aires (”Subterráneos de Buenos Aires”) tot ’n sentrale beeld van dié geheime: “die subte of die ondergrond” (my beklemtoning – aanvanklik lyk dit na ’n drukfout vir “subteks”, maar by nadere onderdsoek blyk dit ’n Argentyns-geïnspireerde neologisme van die berese digter te wees). ’n Mens sou hierdie “ondergrondse gerommel” (21) ook kan lees as die satiriese inslag in die bundel, soos vergestalt in talle skerp parodieë in die vyfde afdeling, “Vinger in die lug”. Só is daar, op die patroon van Elisabeth Eybers se “Ode aan Kontroleur de Laar”, die gehate belastingman, by Hambidge ’n eietydse teenhanger in “Ode aan Kontroleur de Goor” (die spotdryf met ’n vermaledyde kritikus). “Ballade van die getroue verminktes” bevat ’n gesprek tussen die digters De Lange en Hambidge oor die gewaande swakhede van die Afrikaanse aanlyn letterkundejoernale Versindaba en LitNet. In die “Met groot apologie”-reeks word die tipiese stylkenmerke van ’n aantal sentrale Afrikaanse digters gebruik as parodiemateriaal. Dié parodieë en satires is vir Hambidge sentraal tot haar oeuvre, want:

gryns-laggend meen sy
kom voel my aan die tand
the poetry is in the biting
            (my beklemtoning),

en nog treffender in die tandartsvers (57) wat hierop volg:

[...] skryn
die boortjie om die binne-
vrot van intertekste los te boor
                    (my beklemtoning).

Vir haar is die tandarts se stopsels ’n digterlike beeld van haar “grynslag in steen”.

Indeks blyk dus ’n bundel te wees wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie, en inderdaad staan kritici hier dikwels in die digterlike visier as “kriewelkrappers” (61), of soos die “biblioteek-juffrou” van des jare, Mevrou van Stryk (42) wat alles wil “indekseer”, maar vir wie die digter beslis nie haar outobiografiese “mislukkings en misgrype” sal ten toonstel nie.

Dat daar ’n ou ervare digterlike hand in Indeks werksaam is, word duidelik uit ’n hele aantal treffende verse, met as hoogtepunt “Gala” (69) (Gala was Salvador Dali se vrou) – net die eerste deel word hier aangehaal:

Sy wys haar bors groter as skildergroot
vir ons dalk of vir hom, die man-met-die-snor
kandaulisties vreesbevange vir haar gleuf,
die vagina dentata wat hom mag ont-man.
Hierom wys Salvador graag sy geliefde Gala
vir ander soos ’n trofee of ’n tatoeëermerk
op ’n skaamtelike deel ’n donker gebied
soel klam mos onder ’n woudboom.
[…]

Die woord “kandaulisties” is hier presies op sy plek en funksioneel (terwyl die neiging tot vreemde wetenskaplike woorde elders in die bundel iets weg het van ’n Cloete-invloed, en nie altyd ewe heilsaam is vir Hambidge se andersins toeganklike poësie nie). Met “kandaulisties” (’n seksuele afwyking waarvolgens ’n eggenoot of minnaar graag sy geliefde se naakte liggaam, of dele daarvan, aan ’n bevriende voyeur toon) open die digter hier ’n hele eggokamer vanaf Herodotus se Histories, via die skilderkuns van onder meer Delacroix, Krafft-von Ebing se Psychopathia sexualis (1886) en talle films, soos Eyes wide shut (1999) van Stanley Kubrick. Hierdie woord is nié in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem nie, wat altemit ook boekdele spreek oor die behoudende aard van onse WAT. Hambidge verryk dus die moedertaal met dié invoer van ’n nuwe woord. Die vers word verder ondersteun deur ’n piepkleine afdruk van Dali se skildery Galarina wat haar naakte bors toon. Dali seg ooit hieroor:

A rigorous and keen-eyed analysis will show that Gala’s crossed arms are like the interwoven wicker of the breadbasket, and her breast, the crust of bread. I have already painted Gala with two lamb chops on her shoulder, as an expression of my subconscious desire to devour her. That was the age of the imagination’s raw meat. Today, now that Gala has risen in the heraldic hierarchy of my nobility, she has become my basket of bread. (https://www.salvador-dali.org/en/artwork/the-collection/135/galarina)

Gala (1894–1982) was die Russiese vrou van Paul Éluard voor sy Salvador Dalí se vrou geword het. Sy het baie kunstenaars en skrywers geïnspireer.

Terwyl Marlene van Niekerk ’n digbundel Kaar (2013) doop, neem Hambidge Dali se Gala as háár “mandjie” vir bevroeding van die poësie. Hier sou ’n mens altemit ironiese raakpunte tussen die twee digters en hul digterlike inspirasie kon vind.

Daar is nog heelwat sterk verse in Indeks, soos “Ingrid Jonker: revisited” (75), “Op hierdie vadersdag” (85), “Bardo Thodol” (83), “Vademecum” (86), “Epitaaf vir myself” (34), en die slotafdeling gewy aan Neruda, met treffende aanhalings uit sy werk, soos dié reëls uit ’n notaboek van hom:

die digter ’n eensame hond
in die huis van die odes (119),

of sy uitdrukking van intense droefenis:

toe jy jou eie oë wou eet in verdriet (123).

Joan Hambidge se Indeks is ’n veelfasettige en waardige toevoeging tot haar oeuvre, én tot die groeiende aantal laatwerkbundels in Afrikaans.

The post Indeks deur Joan Hambidge, ’n resensie appeared first on LitNet.


Hermann Giliomee – ’n onderhoud oor sy outobiografie

$
0
0

Jean Oosthuizen en Hermann Giliomee (Foto's: Naomi Bruwer)

Hermann Giliomee: Afrikaner-historikus op die rand van die volk

Die historikus Hermann Giliomee se uitgesprokenheid het hom al dikwels die gramskap uit wyd uiteenlopende oorde op die hals gehaal. In ’n breedvoerige onderhoud vertel hy aan Jean Oosthuizen waarom hy besluit het om, anders as die meeste historici, ’n outobiografie te skryf.

Giliomee vertel hoe hy as Afrikaner so half aan die rand van die volk beland het, waar die oorsprong van apartheid lê en die NG Kerk se rol daarin, hoe dit gebeur het dat mede-Afrikaanse bruin mense so verontreg is en waarom hy teleurgesteld is in die finale produk van die onderhandelingsproses wat tot ’n nuwe Suid-Afrika gelei het. Hy verduidelik ook waarom hy hom so sterk beywer vir die behoud van Afrikaans as akademiese taal.

In die voorwoord van jou boek sê jy historici wat oor Suid-Afrika werk, skryf normaalweg nie ’n outobiografie nie. Wat het jou laat besluit om af te wyk van die normale en wel een te skryf?

Historici ontdek gou dat mense maklik die waarheid verdraai ten einde hul eie beeld te poets. Hulle besef hoe verleidelik dit is om “’n goeie storie” oor jouself te vertel al is dit nie heeltemal waar nie.

Tot op hierdie stadium het net een Engelstalige historikus (Phyllis Lewsen) en een Afrikaanstalige historikus (At van Wyk), wat hulle hele loopbaan in Suid-Afrika werksaam was, ’n outobiografie nagelaat. WM Macmillan en Arthur Keppel-Jones het lank na hul vertrek van Suid-Afrika ’n outobiografie geskryf.

Dit was eers in die tweede helfte van die 20ste eeu dat dit ’n algemene verskynsel in die VSA en Europa geword het dat historici hul outobiografie skryf.

Die patroon is dat historici hul outobiografie geskryf het nadat hulle ’n groot werk oor ’n belangrike onderwerp gepubliseer het wat wyd gelees en bespreek is. Edward Gibbon se Memoirs (1796) was die eerste outobiografie deur ’n Britse historikus. Sy groot boek was die formidabele Decline and Fall of the Roman Empire wat in ses volumes gepubliseer is. Sy outobiografie vertel wie hy is en hoekom hy die boek geskryf het.

Sy tese is dat geestelike verval en die vreedsame boodskap van die Christelike godsdiens die Romeine te sag gemaak het om hul ryk teen die barbaarse invallers te verdedig.

In die Europa van die 20ste eeu was die bekendste outobiografie dié van die Brit Eric Hobsbawm, wat vier briljante boeke oor die geskiedenis van Europa tussen 1789 en 1991 geskryf het.

Hobsbawm was van een die weinige intellektueles in die Weste wat nooit uit die Kommunistiese Party bedank het nie. In sy outobiografie, Interesting times: A twentieth-century life (2002), verduidelik hy dat hy as skoolseun in Berlyn in lewensgevaar kommunistiese pamflette teen die Hitler-bewind versprei het. In die loop van 1933 het die Hobsbawm-gesin Londen toe gevlug.

Die Hobsbawms was Joods. Hy vertel dat sy ma hom laat beloof het dat hy nooit iets sal doen of sê waaruit dit mag blyk dat hy skaam is om ’n Jood te wees nie.

Ek kan my goed indink dat my ma dieselfde aan my sou gesê het.

Hobsbawm is nooit in die topposte vir Britse historici aangestel nie. Hy het geglo dat sy bedanking uit die Kommunistiese Party algemeen beskou sou word as die prys wat hy bereid was om te betaal om die kruin van sy beroep te bereik. Hobsbawm het nie gedink sy lidmaatskap was tot nadeel van sy geskiedskrywing nie. Dikwels verstaan die verloorders die geskiedenis beter as die wenners.

Vir Hobsbawm het die skryf van geskiedenis nie oor goedkeuring, instemming of simpatiebetoning gegaan nie. Dit het oor historiese verstaan gegaan. Historici kon die kommunistiese beleid steun, maar daar kon nie van hulle verwag word om die leiers onvoorwaardelik te ondersteun nie. Historici moet hulle altyd deur die getuienis laat lei.

Was daar ook ander historici wat jou geïnspireer het om ’n outobiografie te skryf?

Ja, daar is ook ’n werk deur ’n ander historikus oor sy loopbaan en sy bydraes wat my baie geïnspireer het. Dit is C Vann Woodward se Thinking back: The perils of writing history. In die twee jaar wat ek by Yale-universiteit deurgebring het, het ek hom redelik goed leer ken en ek het met hom oor Suid-Afrika en die Amerikaanse Suide gekorrespondeer.

Woodward was ’n boorling van die Amerikaanse Suide (hy was, soos Bill Clinton, afkomstig van Arkansas) en ’n uitgesproke liberaal. Martin Luther King het sy boek oor die geskiedenis van segregasie as die Bybel van die burgerregtebeweging bestempel. Woodward het die grootste deel van loopbaan in die noordooste van Amerika deurgebring.

In Thinking back wys Woodward daarop dat die geskiedskrywing in diepverdeelde samelewings nie soseer gaan oor ’n verstaan van die verlede nie, maar oor ’n regverdiging van die hede. Historici van die Amerikaanse Suide het slawerny en segregasie probeer goedpraat, terwyl historici van die Noorde die Suide geblameer het vir al die rassekonflik in die VSA terwyl hul eie geskiedenis van rasseverhoudinge niks was om op trots te wees nie.

Maar hoe pas dit in by die geskiedenis van die Afrikaner?

Die geskiedenis van die Afrikaners stem ooreen met dié van mense in die Amerikaanse Suide. Dit is oorheers deur slawerny en materiële en kulturele armoede. Daarna het gekom ’n verpletterende nederlaag in ’n oorlog (die Amerikaanse burgeroorlog en die Anglo-Boereoorlog) en daarna ’n eeu van segregasie en apartheid en felle kritiek van buitestanders wat weinig bewus was van hul eie vooroordele.

Ek is deur die Afrikaner-volksbeweging gevorm en wou, selfs na ek by ’n Engelstalige universiteit ’n professoraat gekry het, my nie as ’n “detribalised Afrikaner” voordoen nie. In dié sin deel ek Hobsbawm en Woodward se sentimente.

En hoe beland jy toe self so half op die rand van die volk?

Waar HB Thom, rektor van die US in my studentejare, wou hê dat die historikus in die midde van sy volk moet staan, het ek geglo sy plek is op die rand van die volk, en dat hy somtyds baie krities moet kyk na die gemeenskap met wie hy hom vereenselwig. Soos William Faulkner, die groot skrywer van die Amerikaanse Suide, geskryf het: “You don’t love because, you love despite; not for the virtues, but despite the faults.”

As nagraadse student het ek met my professore op Stellenbosch gebots omdat hulle my nie wou toelaat om my tesis oor die kontemporêre geskiedenis te skryf nie. Ek het my proefskrif oor die laat 18de eeu geskryf, maar na ek dit afgehandel het , het ek vir koerante rubrieke en oor sake van die dag begin skryf. Van 1980 tot 2010 het meer as 300 van my politieke rubrieke in sowel Engelse as Afrikaanse koerante verskyn.

Ek twyfel egter of hierdie ervaring genoeg sou gewees het om my tot die skryf van my lewensverhaal te beweeg. Op die ou end was my boek oor die Afrikaners die aanleiding tot my outobiografie.

Die boek het in 2003 as The Afrikaners: Biography of a people verskyn. My Afrikaanse verwerking daarvan is die volgende jaar gepubliseer. Die boek, wat amper 700 bladsye lank is, het tien jaar gevat het om te skryf (en nog ’n jaar om dit in Afrikaans te vertaal0. Dit was ’n bestekopname van die hele Afrikanergeskiedenis. Dit stel ook die vraag of die Afrikaners na hul magsverlies in staat sou wees om die beste in hul kultuur te bewaar en uit te bou.

In sowel my boek oor die Afrikaners as my outobiografie probeer ek om die bruisende geesdrif van die volksbeweging in die 1950’s en vroeë 1960’s te beskryf – ons vereenselwiging met Afrikaans as ’n taal wat ons korrek moes praat en skryf, ons begeerte dat daar hoëgehalte-werk in Afrikaans gepubliseer word, ons ondersteuning van Afrikaanse ondernemings sodat die inkomstegaping tussen ons en die Engelse gemeenskap vernou kon word, ons aandrang op Suid-Afrikaanse nasionale simbole en op ’n republiek.

Ek het probeer verduidelik dat die latere obsessie met ’n eksklusiewe Afrikanerskap en “totale apartheid” ’n besoedeling van die gees van die volksbeweging was. Ek gebruik as epigraaf vir die boek die woorde van Elie Wiesel: “To live without a past is worse than to live without a future.” Dit was in reaksie teen die pogings van sommige na 1990 om feitlik die hele Afrikaanse geskiedenis te verguis.

Hoe verskil jou outobiografie van ’n gewone outobiografie?

My outobiografie is nie ’n memoir, soos dié van ’n politieke leier of generaal nie. My perspektief is dié van “’n getuie van groot tye” (die woorde van die titel van die gevierde koerantredakteur Schalk Pienaar se sprankelende lewensverhaal).

In 2002 het sowel die (destydse) Universiteit van Port Elizabeth as Leiden Universiteit my genooi om ’n openbare lesing oor my loopbaan en oor die skryf van die boek te gee. Albei het die teks van die lesing as ’n boekie gepubliseer. Erika Oosthuysen, my uitgewer by Tafelberg, het voorgestel dat ek die boekies tot ’n volwaardige outobiografie uitbrei.

Die politieke rubrieke wat ek vir verskillende koerante geskryf het, was van onmisbare waarde toe ek my outobiografie begin skryf het. Hulle het my in staat gestel om te bepaal waar ek reg was en waar verkeerd. Veral ’n mens se foute is onthullend.

Kan jy een of twee voorbeelde noem waar jy verkeerd was?

Ek het byvoorbeeld glad nie verwag dat die ANC twee jaar na sy ontbanning in 1990 die mag sou oorneem en die gang van die onderhandelinge sou bepaal nie.

Ek het ook nooit goed nagedink oor die vraag wat JM Coetzee aan my gestel het toe ek in 2009 aan ’n tweede uitgawe begin werk het nie:

In the overall account you offer of the negotiations for a new constitution, the party that held political power at the time – the NP – got little of what it wanted and the party without power – the ANC – got what it wanted. There are two ways to explain this outcome. One is that the NP negotiators were incompetent. The other is that the strength of the NP and the weakness of the ANC were more apparent than real. You seem to incline toward the former explanation. What leads you to believe that, in the larger political context, the latter is not more valid?”1

Dit bly nog steeds die skerpste vraag oor die onderhandelde skikking.

Jy verwys in jou boek daarna dat daar vanaf Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap tot feitlik die einde van die 18de eeu nie regtig ’n rassistiese ideologie was nie. Daar was ook dikwels gemengde huwelike tussen mense van verskillende rasse. Waar moet mens gaan soek na die wortel van rassisme wat so deel geword het van ons samelewing?

Tussen 1652 en 1795 was die Kompanjiebewind se amptelike klassifisering van die bevolking van die Kaap streng nierassig. Die drie groot groepe was amptenare, burgers en slawe. Tot ongeveer 1775 het die woord “blanke” of “swarte” of “Afrikaner” feitlik nie in die dokumente voorgekom nie.

’n Gemeenskap oorheers deur Europeërs het van die begin af bestaan en daar was geen kragte wat die korrelasie tussen afkoms, klas, geloof en status kon versteur nie.

Uit die staanspoor was die mense wat as burgers geklassifiseer was, feitlik almal van Europese afkoms. Hulle kon grond besit, kon as kinders van Christelike ouers reeds as suigelinge gedoop word, kon maklik lidmate van die kerk word, kon in ampte soos veldkornet of heemraad aangestel word, en kon sonder ’n pas rond beweeg. Vir slawe en hul kinders was feitlik nie een van die dinge beskore nie. As die Kompanjie hulle besit het, kon hulle as suigelinge gedoop word, maar as hulle in ’n burger se diens was, moes hulle eers kennis van die Christelike leer toon.

In 1814 moes ds Meent Borcherds van Stellenbosch aan die goewerneur, John Cradock, verduidelik waarom daar in so ’n groot distrik so min slawe gedoop is. Borcherds het geantwoord dat hy die slawe nie kon doop voor hulle sy vrae oor die Christelike leer bevredigend beantwoord het nie. Hy het verwag dat hulle die antwoorde uit hul kop moes ken. Volgens hom het hulle wel die “vreeze Gods” in hul harte gehad, maar was te “stomp” om die vrae te beantwoord.

Jy verwys ook in jou boek daarna dat apartheid eintlik sy ontstaan in die kerk gehad het. Watter rol het die kerk, en spesifiek die NG Kerk, gespeel om apartheid tot ’n ideologie te verhef, en het die kerk ooit genoeg gedoen om dit ongedaan te maak?

In 1929 is die term apartheid vir die eerste keer in sy moderne betekenis op skrif gebruik. Dit was in die boekie Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk. Dit bevat die toesprake van ’n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk, wat op Kroonstad gehou is.

By hierdie geleentheid het ds Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem gesê: “In die grondbegrip van sendingwerk en nie rassevooroordeel nie, moet die verklaring gesoek word vir die gees van apartheid wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het, en wat sommige deur misverstand in ons laak. Die verwyt word ons dikwels gemaak dat ons Kerk uit rassevooroordeel die vader is van die kleurlyn, deurdat ons nooit wou toelaat nie dat bekeerlinge uit die heidene in ons kerklike en sosiale samelewing met ons blanke lidmate sou meng.”

Met apartheid het Du Plessis enersyds bedoel dat die heidene gekersten moet word met behoud van hul “eie rasse-identiteit”, en in hul eie gemeentes en hul eie selfstandige kerk georganiseer moet word. Andersyds wou hy hê dat die NG Kerk self wit bly om die “aparte” en “suiwere voortbestaan van ’n handjievol blankes te verseker”.

Du Plessis het sy “apartheid” bedoel as ’n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge, wat na sy mening bekeerlinge probeer kry deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots. Idees soos “kollektiewe selfbehoud”, “gelykwaardige en selfstandige ontwikkeling” en “selfrespekterende Christelike volke” het gedurende die 1930’s ’n sentrale plek in die denke van baie ampsdraers in die NGK en die Sendingkerk ingeneem. Die Nasionale Party het die kerk se standpunt gebruik as regverdiging vir sy rassebeleid om op almal ’n bepaalde identiteit af te dwing.

In politieke kringe is die woord apartheid eers in 1943 vir die eerste keer in Die Burger gebruik. In 1944 was DF Malan die eerste man wat dit in die parlement gebruik het.

Alan Paton stel dit mooi in sy Journey continued (1988): “If the Afrikaner had found his identity then surely he would want everyone else to find it too. And God help those who did not want to be helped to find it” (bl 8).

Ek is ’n lid van die NG Kerk, maar het nie aan die debatte in die kerk deelgeneem nie. Omdat ek nooit aan die ontvangkant van apartheid was nie, kan ek nie oordeel of die kerk genoeg gedoen het om sy steun vir apartheid tot niet te maak nie. My wens is dat dieselfde eenheid bewerkstellig word as wat voor 1857 bestaan het.

Watter invloed het die Britse kolonisering van Suid-Afrika op rasseverhoudinge in die land gehad, indien enigsins?

Die Britse regering het die regsterm subject ingevoer. Dit was ’n heeltemal ander konsep as burger. Dit het onderdaanskap aan die Britse monarg en die gelyke status van alle “subjects” voor die gereg beklemtoon.

Burgerskap soos dit in die Kompanjiestyd bestaan het, het pligte, regte en voorregte beklemtoon, wat grootliks deur jou geboorte bepaal is. Burgers moes byvoorbeeld kommandodiens doen, maar hulle sou onder die Britse bewind daarop aandring dat hulle nie onder ’n Britse offisier of iemand van gemengde afkoms wou dien nie. Dit sou teen hul opvatting van burgerskap indruis.

Die Britte as die nuwe imperiale heersers wou hul stempel op die Afrikaners, veral in Kaapstad en die vernaamste dorpe, afdruk. Dit het uitdrukking gevind in die bevordering van Engels as ’n “progressiewe taal van beskawing”. Engelse kleredrag, argitektuur, sosiale etiket en gedrag het die norm geword. In baie opsigte was Engelse nasionalisme die oorspronklike nasionalisme in Suid-Afrika waarop sowel Afrikaner- as Afrika-nasionalisme later sou reageer.

Die Britte se beheptheid met ras was net so erg soos dié van Afrikaners. Net soos die Afrikaners wou hulle nie mense wat nie van Europese afkoms was nie, in hul gesin inbring of in die sentrale administrasie op plaaslike besture aanstel nie. Die sterk Britse klassestelsel het daarvoor gesorg dat min mense in die Engelse middelklas in Suid-Afrika ooit met iemand van kleur getrou het.

Afrikaner-organisasies soos die Broederbond en sy kleiner boetie, die Ruiterwag, het dikwels ’n rol agter die skerms gespeel om Afrikaners ten koste van ander te bevoordeel. Later het die Broederbond ’n rol gespeel om van apartheid ontslae te raak. Hoe sou jy dié organisasies se invloed op die land se politiek terugskouend beoordeel?

Broederbond-leiers in 1918

Dit is vergesog om te beweer dat die AB die kabinet beïnvloed het eerder as andersom, Soms het die invloedryke lede die Bond gebruik om dwase voorstelle nek om te draai. In die 1950’s het Anton Rupert en Sanlam se Andreas Wassenaar, wat albei lede was, sterk standpunt ingeneem teen die plan dat die regering gevra word om Afrikanersake deur middel van kwotas op die been te help. As gevolg van hul teenstand is die plan laat vaar.

In die 1960’s het die Bond as ’n soort waghond teen die afwatering van apartheid opgetree, maar in die laat 1980’s, onder leiding van Piet de Lange, het dit voorbrand gemaak vir die insluiting van swartes in die landsregering. Ek glo dat steun van De Lange en ander AB-leiers vir FW de Klerk belangrik was toe hy die groot besluit geneem het om die ANC te ontban en onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet te begin.

Klaarblyklik was daar op sommige plekke binnebaantjies vir die boeties wat verhoudinge, veral op sinodes, universiteite en skoolbeheerliggame, beduiwel het. Terugskouend sou ek sê dat dit jammer is dat die AB nie na die bereiking van die republikeinse ideaal in 1961 ontbind het nie, of ten minste van sy geheimhouding ontslae geraak het nie. Ironies genoeg was dit die geheimhouding wat die Engelse pers in staat gestel het om die AB as ’n almagtige, sinistere beweging te beskryf.

Waarom het demokrasie elders in Afrika so dikwels gefaal en wat is die vooruitsigte dat dit anders sal wees in Suid-Afrika as in die res van Afrika?

Demokrasie het gefaal omdat Afrika-lande nie ’n middelklas ontwikkel het wat vir sy ekonomiese bedrywighede onafhanklik van die staat en veral van die regerende party was nie. Dit was deels as gevolg van kolonisasie, maar deels ook vanweë die wyse waarop die ekonomie ná onafhanklikheid ontwikkel het. Die middelklas het kontrakte van die regerende party gekry. Dit het ’n kruk geword waarsonder hulle nie kon klaarkom nie. Die lyn tussen regerende party en staat het al meer vervaag. Algaande ontaard die politiek in ’n gejaag na staatskontrakte en die ineenstorting van persoonlike verantwoordbaarheid van lede van die parlement. Dit lei tot grootskaalse korrupsie, wat insluit die koop van stemme en die opstel van kandidaatlyste.

Die leuse “Geen onafhanklike middelklas, geen liberale demokrasie nie” is baie waar. Die onafhanklikheid van die middelklas is die sleutel tot die sukses van demokratiese en ekonomiese stelsels van Taiwan, Japan en Suid-Korea.

’n Ander rede vir die swak stand van demokrasie in Afrika is die kiesstelsel, wat gewoonlik ’n vorm van proporsionele verteenwoordiging is. Sonder kiesafdelings soos ons dit in Suid-Afrika voor 1994 geken het, word geen parlementslid deur sy kiesafdeling verantwoordbaar gehou nie. Ons kry wat genoem word die “suspended state”. Die staat sweef bo in die lug rond sonder enige wortels in die samelewing.

FW de Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 het jou opgewonde gemaak, maar die wyse waarop die NP volgens jou tweede gekom het tydens die onderhandelingsproses het jou teleurgestel. Waar het die De Klerk-regering die bal laat val en was daar regtig enige alternatief, gegewe die hoë aansien wat Nelson Mandela en die ANC internasionaal geniet het?

FW de Klerk

Ek het De Klerk baie sterk gesteun in wat hy tussen Februarie 1990 en Maart 1992 gedoen het. My kritiek het te doen met die feit dat hy nie ’n mandaat gehad het vir die grondwet wat die NP in November 1993 aanvaar het nie. Die NP-belofte aan sy kiesers was dat die NP slegs vir ’n vorm van magsdeling sou skik. Daarmee word algemeen bedoel dat daar nie in die kabinet koppe getel word nie. Die NP het ook beloof dat indien die skikking te ver afwyk van die voorstelle vir magsdeling wat die NP op sy federale kongres van September 1992 aanvaar het, daar ’n tweede referendum gehou sou word. Ook hierdie belofte is nie nagekom nie.

Wat sou die ideaal dan wees?

Vir my is die ideaal iets soos die proses in Noord-Ierland, waar die referendum in 1998 gehou is nadat die konsepgrondwet publiek bekend geword het. Dit moes ook in Suid-Afrika gebeur het en al die Suid-Afrikaanse gemeenskappe moes aan die referendum deelgeneem het.

Jy het die Waarheid-en-versoeningskommissie van die begin af teengestaan. Waarom was jy daarteen gekant en kon dit nie bygedra het tot nasiebou as die Afrikaanse gemeenskap nie so afwysend was daaroor nie?

Ek was geneig om saam te stem met Van Zyl Slabbert, wat privaat daarteen gekant was. Hy het aan my gesê enige persoon wat dink dat belydenis in die publiek van skendings van menseregte versoening sou meebring, net ’n paar egskeidingsake moet bywoon om sy kop skoon te kry. Die samestelling van ons WVK en die kommissie se navorsingspersoneel was heeltemal skeefgetrek wat politieke lojaliteit betref.

Die meeste kommentators is dit eens dat die gedagte van ’n reënboognasie ’n hersenskim was. Is ons gedoem tot ’n rasverdeelde land wat voortdurend in konflik met mekaar gaan wees op grond van ras?

As ons op die huidige trant voortgaan, is die antwoord ongelukkig ja. Ons laat toe dat mense op die sosiale media ’n heeltemal onverteenwoordigende prentjie skep. Die Menseregtekommissie is heeltemal eensydig, soos wat Ernst Roets van Solidariteit onlangs in ’n artikel op Politicsweb aangevoer het.

Jy verwys in ons gesprek, en ook in jou outobiografie, na Van Zyl Slabbert. In jou boek Die laaste Afrikanerleiers het jy hom as een van die Afrikanerleiers ingesluit hoewel hy nooit staatshoof was nie. Wat is dit wat van hom ’n goeie leier gemaak het en sou hy nie dalk meer vermag het as hy van binne die Afrikanerpolitiek vir verandering gewerk het nie?

Slabbert het ’n uitmuntende analitiese brein gehad en het nie sy gelyke gehad in die konteks van ’n klein groepie waar dinge uitgepraat moes word nie. Hy was nie bereid om sy loopbaan op die opposisiebanke af te sluit nie. Om ’n rede wat ek nooit heeltemal verstaan het nie, het hy besonder min van FW de Klerk gehou, terwyl De Klerk hom as parlementariër hoog geag het.

As Slabbert net drie jaar langer in die parlement aangehou het, kon hy dalk ’n ooreenkoms met De Klerk gesluit het dat die Demokratiese Party en Nasionale Party saam in die onderhandelinge optree.

Slabbert se groot fout was om te dink dat Thabo Mbeki hom in die hoofstroom van die ANC sou inbring. Soos Cyril Ramaphosa gesê het: “Mbeki wou altyd die slimste man in die kamer wees.” Dink daaraan wat sou gebeur het as Slabbert in die kabinet gesit het terwyl Mbeki sy vigs- of Zimbabwe-beleid probeer verdedig het. Maar ek dink Slabbert het die ANC heeltemal verkeerd gelees.

Vergeleke met die meeste ander historici is jy besonder genadig in jou beoordeling van Verwoerd. Wat is die rede daarvoor en dink jy die land sou ’n ander koers ingeslaan het as hy nie in 1966 in die parlement vermoor is nie?

Baie keer bepaal ’n persoonlike ontmoeting jou oordeel. Ek vertel van my persoonlike kontak met Verwoerd in my boek. Ek haal ook die uitgewer Koos Human aan wat tot dieselfde oordeel as ek gekom het. Maar miskien is die belangrikste rede dat CW de Kiewiet, die Suid-Afrikaanse historikus wat ek die hoogste aanslaan, in 1964 so positief oor hom in die invloedryke Amerikaanse tydskrif Foreign Affairs geskryf het. Hy vergelyk Verwoerd met niemand minder nie as Charles de Gaulle.

Wanneer ons Verwoerd beoordeel, moet ons dit doen binne die konteks van die kennisraamwerk wat in die eerste helfte van die 1960’s bestaan het. Hy het nie geweet dat daar teen die jaar 2000 ’n hele 15 miljoen meer swart mense sou wees as die getal waarmee die apartheidsbeplanners gewerk het nie. Hy het nie geweet dat planne vir ekonomiese desentralisering oral in die wêreld grootliks aan die misluk was nie – dit geld vir sowel die tuislande as die swart en bruin groepsgebiede. Hy het ook nie geweet dat argeoloë gedurende die 1960’s getuienis gevind het dat swartes teen 1652 oor ’n veel groter gebied in Suid-Afrika versprei was as wat in die 1950’s algemeen aanvaar was nie.

Dit was Verwoerd wat in 1950 as ’n nuwelingminister op ’n vergadering van swart leiers, wat verskeie vooraanstaande ANC-lede ingesluit het, voorgestel het dat swart mense “die grootste moontlike mate van selfregering” in die stedelike gebiede moet kry.

Swart mense sou hier self al die werk in hul stedelike woonbuurte moes doen om swart mense in staat te stel om, soos Verwoerd dit gestel het, ’n “vol lewe van werk en diens” te lei. Om hierdie rede moes swart mense opgelei word sodat hulle in baie sfere bekwaam genoeg sou wees. Verwoerd se voorwaarde was dat hulle hul ontwikkeling en kennis uitsluitlik in diens van hul eie mense sou gebruik.

In 1963, en toe weer 1966, het ’n bundel van Verwoerd se toesprake verskyn. Hy het self toesig oor die projek gehou. Die toespraak van 1950 is opgeneem. Ek dink Verwoerd was in staat om hierdie plan weer op die agenda te plaas.

Met die lees van jou outobiografie kom mens opnuut onder die indruk hoe die apartheidsbeleid wit en bruin Afrikaanssprekendes van mekaar vervreem het. Hoe is dit moontlik dat daar so ’n onreg teenoor taalgenote gepleeg is en hoe heel mens daardie wonde wat aan die bruin gemeenskap toegedien is?

Ek het eers met die skryf van my boek Nog altyd hier gewees (2007), wat gaan oor die geskiedenis van bruin mense in Stellenbosch, besef hoe ’n groot onreg gepleeg is. hoe salig onbewus die blankepubliek was en hoe swak die leiding van die universiteit en van Die Burger was.

Daar is eintlik geen verdediging nie, maar as ’n mens ’n verklaring wil soek, is die beste plek om te begin by die kiesstelsel van destyds. Dit was gebaseer op kiesafdelings en die reël van “die wenner vat alles” het gegeld. So ’n stelsel bevoordeel die grootste etniese groep in die kieserskorps en die eenheid van die groep word gewoonlik deur middel van radikale oplossings gekry.

Die teenstand wat gedurende die 1920’s onder ’n jonger geslag NP-leiers teen die bruin stem ontstaan het, het gespruit uit die oortuiging dat Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party (SAP) die NP in 1924 in die kiesafdelings van Paarl en Stellenbosch geklop het deur ’n dag of twee voor die verkiesings 300 bruin kiesers te registreer. Paul Sauer, wat vir die NP op Stellenbosch gestaan het, het verbitterd gebly oor die nederlaag wat hy gely het as gevolg van wat hy bestempel het as die “opportunisme” van die SAP.

Maar ook in die VSA, waar daar nie dieselfde skerp etniese verdeling in die wit gemeenskap was nie, is die oorgrote meerderheid “Neger”-stemme gedurende die 1890’s van die kieserslys afgehaal. Die gevoel was dat hul deelname te veel konflik tussen die twee groot partye veroorsaak het. In die Suide is die “Neger”-stem eers in die 1960’s teruggebring. President Lyndon Johnson het toe korrek voorspel dat die wit stem vir twee geslagte lank vir die Demokratiese Party verlore was.

Jy het die afgelope aantal jare ’n groot deel van jou tyd en energie in die sogenaamde taalstryd ingeploeg, en spesifiek op Stellenbosch, waar Afrikaans as akademiese taal onder beleg is. Hoekom?

Afrikaans is vir mense wat Afrikaans praat, hul kosbaarste kulturele erfenis. Dit is maar een van vier tale in die wêreld wat in die loop van die 20ste eeu daarin geslaag het om van ’n gewone spreektaal met lae status te vorder tot ’n taal wat in alle vertakkings van die samelewing, en ook nagraads op universiteit gebruik word. Die ander is Maleisies-Indonesies en Hindi, wat veel groter taalgemeenskappe is, en Hebreeus. Ek stem saam met Charles Taylor, die groot Kanadese filosoof, wat in sy Politics of recognition aanvoer dat elke geslag die verantwoordelikheid het om hul moedertaal in dieselfde toestand na die volgende geslag oor te dra.

Maar is dit nie ’n verlore stryd nie? Selfs Afrikaanse studente staan tot ’n groot mate apaties oor Afrikaans as akademiese taal en stel nie regtig belang om by die stryd betrokke te raak nie.

In 2008 het die firma Markdata ’n verslag gepubliseer wat gebaseer was op ’n opname onder voorgraadse studente op Stellenbosch. Dit was die enigste verslag wat die US Raad ooit aangevra het en wat tot vandag toe beskou word as die enigste een wat aan al die wetenskaplike vereistes voldoen. Dit het bevind dat meer as 80 persent van die Afrikaanse studente hoofsaaklik Afrikaanse onderrig verkies en dat meer as 40 persent van die Engelse studente dit aanvaarbaar vind.

Wat ons tussen 2008 en 2016 gesien het, is ’n verdubbeling van die getal Engelse studente, waarvan die groot meerderheid wit is. Intussen was daar in 2016 volgens hofstukke meer as 200 dosente wat aangedui het dat hulle nie in Afrikaans kan klasgee nie. Die vermoede is dat baie van hulle nie in Afrikaans wíl klasgee nie. Niemand weet waarom die universiteit in die laaste 16 jaar so vinnig gegroei het nie en waarom dit nie die implikasies van die inname van groot getalle wit Engelssprekende studente deurdink het nie.

Waarom is daar feitlik geen weerstand teen Engels nie terwyl dit tog eintlik die taal van die koloniale onderdrukking is?

Uit verskeie oorde is daar berigte van studente dat dosente druk op hulle sit om nie op Afrikaans aan te dring nie omdat dit mag uitloop op ’n stelsel van parallelmedium waarvoor die dosente geen ekstra vergoeding kry nie. En dan vra die mense waarom die Afrikaanse studente nie aandring op Afrikaans nie.

In jou jonger dae is jy deur sommige Afrikaners as ’n linkse liberalis uitgekryt en deesdae word jy deur sommige as ’n taalbul geëtiketteer wat gekant is teen transformasie. Waar posisioneer jy jouself vandag polities?

Ek glo nie ek was ooit ’n klassieke liberaal nie, al was ek op ’n slag president van die SA Instituut van Rasseverhoudinge, wat die oudste liberale organisasie in die land is.

Wat is jy dan en waar lê ons politieke heil?

Ek is ’n pluralis en ek glo nie hierdie land sal ooit ’n sukses wees solank ’n enkele party alleen en eensydig al die besluite in die kabinet neem nie. In die wetenskaplike literatuur word algemeen aanvaar dat geen diepverdeelde samelewing soos dié van ons suksesvol kan wees sonder die institusionalisering van magsdeling nie.

Alhoewel die DA nie hierdie standpunt steun nie, dink ek dit is die enigste party waaromheen ’n nuwe politieke stelsel gebou kan word. Maar miskien kry ons nog ’n “opvolgskikking” soos wat Pierre du Toit en sy medewerkers dit in hul boek South Africa and the case for renegotiating the peace (Sun Press 2016) noem.

Eindnota

1 E-pos 14 Desember 2009

The post Hermann Giliomee – ’n onderhoud oor sy outobiografie appeared first on LitNet.

Delicious low carb – an interview with Sally-Ann Creed

$
0
0

 

Delicious low carb
Sally-Ann Creed
Human & Rousseau
ISBN: 9780798172349

Authors on their new books: Sally-Ann Creed talks to Naomi Meyer about Sally-Ann's book Delicious low carb

Sally-Ann Creed is a Functional Integrative Nutritional Therapist, product developer, speaker, author and co-author of the best-selling The Real Meal Revolution.

Low-carb diets have been the order of the day for a while now. Or do you think it is more of a fad?

Not at all. They’ve been around since the 1800s, but, more recently, since around 1972, during which time they have gained in popularity dramatically. Because they’re one of the best ways to regain health and lose weight, I doubt they will ever lose popularity!

People realise that too much carbohydrates and sugar can make them fat, but they also want to eat food that tastes good. Can they actually do so?

Low-carb food certainly does taste fantastic. You don’t need sugar and white flour to make food taste good; there are dozens of other ways to do this. But eating low-carb is, for the most part, cutting out junk food and eating real food. Good food that is not processed is delicious anyway, and can be made even more delicious with natural seasonings like garlic, spices and herbs.

http://www.sallyanncreed.co.za/

What is your favourite recipe in this book?

I think my special made-up sausage that I concocted one night when I wanted sausage, but didn’t want to buy one! It’s totally delicious.

But doesn’t it cost a lot of money to follow a low-carb diet? Is a low-carb diet necessarily expensive?

Not at all. Eating low-carb is avoiding junk and processed food, which is expensive food laced with chemicals and is often old through having been made ages ago. You can eat very affordable vegetables and animal proteins with their existing fat very inexpensively.

Can everybody follow a low-carb diet or are there certain people that do not do well on a low-carb diet?

Almost everyone can certainly follow a low-carb diet. Remember this is not a NO-carb diet, but a lower-carb diet. Eating less sugar-spiking food is always a good idea! Sugar and all carbs in the form of breads, biscuits, cake, etc have nothing to offer the body, whereas good, healthy food is brimming with nutrition – and if you look at it this way, then it’s for everyone. Having said that, some people do need more healthy carbs (in the form of starchy vegetables, primarily) than others, such as sick people, children, pregnant women and athletes.

The post Delicious low carb – an interview with Sally-Ann Creed appeared first on LitNet.

Web –'n onderhoud met Naomi Meyer

$
0
0

Naomi Meyer (foto: Izak de Vries)

Web
Naomi Meyer
Queillerie
ISBN: 9780795801204

Skrywers oor hul nuwe boeke. Jonathan Amid gesels met Naomi Meyer oor haar roman Web  

Hallo Naomi. Baie geluk met die publikasie van Web! Jy erken self op jou Facebook-blad dat Web onder ʼn amperse sluier van geheimhouding verskyn, en dat bitter min mense die boek/manuskrip onder oë gehad het voor dit nou verskyn. Soos lesers wat jou enigsins ken sal agterkom, is daar ʼn groot klomp raakpunte tussen jou eie lewe en onlangse geskiedenis en die gegewens van die roman – kan jy bietjie oor die “herkenbare” vertel? En die besluit om na amper ʼn dekade in Ierland saam met jou gesin weer na Suid-Afrika terug te keer en voltyds by LitNet te werk?

Wat is waar en wat is nie? Die skryf van 'n roman is dalk soos iemand wat sukkel met haar geheue: een oomblik is iets feit, die volgende fiksie. Dit het my self verbaas. En soms ontstel.

Daar is waarhede wat my verwysingsraamwerk is. Dit lyk wel baie herkenbaar. Ek het 'n man. Ek het twee kinders. My werksruimte is die internet. Ek en my gesin het jare lank in Ierland gewoon. Die roman moet dan sekerlik alles outobiografies wees?

Maar dis tog nie soos stories werk nie.

Ek weet dat gelukkige stories nie noodwendig goeie stories is nie. Geluk en vrede is prysenswaardige ideale om in die lewe na te streef, maar is dit boeiende storiemateriaal? Die volwasse hoofkarakter in Web is nie op 'n gelukkige plek in haar huwelik nie, byvoorbeeld. Hoe meer tragies die storie, hoe lekkerder. Bygesê, die feit dat die hoofkarakter en haar man nie in vrede en harmonie verkeer wanneer die storie afskop nie, beteken ook dat hulle sukkel om saam-saam hul dogtertjie op te spoor. Die verhoudingskwellinge help om die storie te dryf, as dit – so half teenstrydig – sin maak. Ek het gebly by my karakters se persoonlikhede, getrou probeer bly aan wie hulle is. Dikwels het dit teen my grein ingegaan. Soms was dit parallelle wêrelde van my eie wêreld, verwronge spieëlbeelde. Hoe verder dit van my af is, hoe meer vlot die skryfwerk. Hoe makliker vloei dit. Maar ek moet ook wéét waaroor ek skryf, so ek moet die omgewing ken. Jy weet?

Maar mens kry waarhede en valse waarhede, en dis moeilik om te onderskei wat is wat. Want al wat die werklike waarhede in my persoonlike lewe ten opsigte van hierdie boek is, is vertrekpunte. Dis bekende plekke vir my om my karakter in te plaas. Dink aan Google Maps. Ek vat 'n karakter van iewers af en sit haar neer. Sy kyk rond. Hoe voel dit in haar vel, hier waar ek haar gesit het? Wat sien sy?

Hier is tog een van die waarhede. 'n Meer ware waarheid, in 'n tyd waar niks meer die waarheid is nie (is dit nou nie baie gerieflik vir enigeen wat skryf nie ...?) is my manier van kyk. Ek en my gesin het jare lank oorsee gewoon en teruggekom Suid-Afrika toe. Ek kon hierdie manier van waarneming vir my hoofkarakter gebruik. Sy het eenmaal iewers gewoon, dis 'n land wat sy ken, dis hier. En toe gaan sy weg. Toe sy terugkeer na Suid-Afrika, was dit nie net soos ‘n Rip van Winkel en “Haai en toe word ek wakker en dit was alles net 'n droom en kyk hoe lyk dinge nou” nie. Nee, sy het weggegaan en verander. Gevorm deur elders. Terwyl sy weg was, het ander lewende goeters gebeur in die plek wat sy gedink het sy ken. Gis is by warm water gegooi, dit het begin skuim. Of swamme het begin groei. Sulke soort goed. Mens dink dis eintlik niks, maar dit lewe. En toe kom sy, nou ook 'n ander produk, terug na hierdie land wat tegelykertyd verander het.

Die ander deel van jou vraag oor wat my en my man, die regte mense, laat besluit het om terug te kom Suid-Afrika toe? Daar is 'n ellelange antwoord, maar hier is die kort weergawe: my seun (my oudste kind) moes skool toe gaan en ons moes besluit in watter land ons hom en sy sussie van toe af sou grootmaak. Mens neem maar 'n besluit met daardie oomblik se kennis tot jou beskikking. Niemand van ons besit 'n kristalbal wat werk nie.

Die krimi-genre is deesdae toenemend gewild onder debuutskrywers. Hoekom het jy besluit om jou hand te waag aan ʼn spanningsroman, en boonop een wat nie netjies in ʼn boks geplaas of eenvoudig geklassifiseer kan word nie?

Ek het nie aanvanklik bedoel om 'n spanningsroman te skryf nie. Maar die boek kan opgesom word deur te sê: 'n kind raak weg – waar is sy? Dit kon nie juis anders nie; dit was 'n raaisel om op te los.

Dalk het ek aanvanklik gedink ek werk aan 'n boek oor moederskap. Dalk een oor verlies en afskeid. Of oor skeidingsangs. Miskien was ek net 'n werkende ma wat heeldag by die werk moes wees, weg van my kinders, en die enigste manier om hulle nader aan my te kry, was om hul in my kopspasie te betrek. Wanneer hulle nog in die bed was saans of soggens, het ek aan die storie gespin. Wanneer ek dan nie aan die storie kon werk nie, was hulle nog steeds daar. Hierdie storie wou nie net weggaan nie; dit het heeltyd by my gebly.

Ek beantwoord nie jou vraag nie, Jonathan – ek wens hier was 'n redigeerder byderhand en dat dit nie ek self moet wees nie.

Ek werk tussen skrywers en ek kyk ook maar af, seker maar soos die Japannese soesji leer maak (ek verbeel my dis in ‘n dokumentêr Jiro dreams of sushi waar die man 'n ewigheid lank eers moet kyk hoe die meesters soesji maak voordat hy sy eie hand daaraan waag). Ek het besef ek gaan nie oor so 'n kombinasie van los gedagtes kan skryf nie.

Of eerder: ek moes die los gedagtes op die regte plekke in die storie verpak. Want die vraag wat die storie gedryf het, moes beantwoord word.

(Maar dis ook te eenvoudig, is dit nie: 'n heerlik-ongekompliseerde verhouding tussen ma en kind? Sê nou maar daardie karakter se verhouding met haar kind is nie heeltemal so ongelooflik vervullend nie?)

Hoe sou jy Web vir moontlike lesers beskryf in terme van die plot?

Kort opsomming: Een doodgewone dag raak 'n sewejarige dogtertjie weg – waar is sy?

Plot-in-'n-paragraaf: Die ma van die kind is ook so 'n bietjie weg. Terwyl sy na die kind soek, maak sy onthutsende ontdekkings oor die land rondom haar. Sy het besef dis 'n ongelyke samelewing, maar kan dit só erg wees? Wat is haar eie rol en aandadigheid? Ondertussen is die land toegespin in 'n giftige spinnekop se web en niemand sien dit raak nie, want almal spin saam.

Jou titel bied ʼn enorme aantal betekenismoontlikhede wat elk met erns en oortuiging ontgin word: die web van die spinnekop, wat figureer in die ontvoering van jou hoofkarakter, Sophia, se aangenome dogter, Magriet, maar ook later die ontvoering van Sophia self; die web wat die ontvoerders weef met die twee ontvoerdes; die web van komplekse familieverhoudings, veral die verhoudings tussen ouer en kind; en die web van persoonlike en landsgeskiedenis waarvan geeneen uiteindelik kan ontsnap nie. Dan is daar die web van intrige wat geweef word rondom etlike gegewens, maar dalk veral die spanningslyn rondom die besluite en binnewêrelde van Sophia, en haar bewuswordingsreis deur die loop van die roman. Wat veral vir my skitterend ontgin word, is die tydsgees waarin ons vasgevang is, waar dit amper onmoontlik is om nie op verskeie wyses deel van die wêreldwye web se landskap te word nie. Dit is dus baie duidelik dat jy jou titel besonder goed gekies het! Het jy begin skryf met die titel in jou agterkop, of het dit eers later bygekom? Was dit ʼn doelbewuste besluit om ʼn roman te skryf waar jy doelbewus sekere temas ontgin, of het die tematiese inhoud gevolg uit die gegewens van die ontvoering van Magriet?

Die aanvanklike werkstitel, lank voordat dit voorgelê is, was Weg. Dit het my gehinder. Daar was aspekte wat ek kon gebruik: die mense was weg van hul geboorteland, toe ook weg van Ierland, die kind was weg ... Maar dit was 'n tydskrif se naam – 'n wonderlike tydskrif! – en mense sou dalk die boek daarmee kon verwar of assosieer. En alles het nie met daardie titel geknoop nie. Ek het iewers heen gery eendag en die woord het voor my verskyn: WEG. Soos op 'n Scrabble-bord. Die G het afgeval en daar sien ek dit toe, die regte woord. Triple word score. Toe ek stop, het ek dit in die woordeboek nageslaan: web, met sy definisies. En die roman het voor my oë in plek geval. Alles daarvan.

Was dit 'n doelbewuste besluit, die temas? Nee, ek het nie die storie se einde geken toe ek dit begin skryf het nie. Ek het in die donker agter die storie aangeloop met 'n koplig wat net so 'n paar treë voor my uit skyn.

Jy werk al vir jare by LitNet, en verstaan dus die kompleksiteit van die aanlyn boekgemeenskap. Hoe het jou ervarings bygedra tot die outentieke gevoel van die roman soos wat kletskamers, trolle, Google, die Suid-Afrikaanse boeklandskap en die blykbaar eindelose gejaag na “likes” ondersoek word? Dink jy die publiek en veral ouers is “slim” genoeg wanneer dit by die gebruik van die internet, en veral sosiale-media-etiket, kom? Moes jy al op jou eie muur op FB en op die LitNet-webwerf met erge trolle afreken?

Dis 'n digte vraag hierdie, hoor. En dis meer as een vraag. Die boekgemeenskap jag likes, want die samelewing jag likes. Is die internetwêreld nie fassinerend nie? Dis soos die res van die heelal. Op ‘n tyd was daar niks nie en toe, op 'n dag, was daar lig. Daar was lewe. Daar was nielewe en toe, die teenoorgestelde. Voor die web ... wel, daar was ander dinge. 'n Markplein. 'n Kolosseum. 'n Katedraal. 'n Bordeel. 'n Brief. Kommunikasie was anders. Om sosiaal te verkeer, was verskillend. Aspekte daarvan was openbaar, maar dit was verkieslik nie openbaar nie. Die lewe soos wat ons dit nou ken, was 'n ander plek. Baie van hierdie sosiale omgewings bestaan vandag nog, en is natuurlik meer as net kuierplekke. Tog het die web hierdie omgewings aangeraak en dalk selfs van binne af verander. Grense vervaag, mense deel bewustelik meer van hul private lewens met ander. Ja, daar is trolle op die web. Maar een van die redes hiervoor is dat die web 'n mensgemaakte konstruk is. Daar's trolle op die web want die trolle is om ons. Die keersy van die muntstuk is egter: die wêreld is 'n wonderskone plek, met oneindige moontlikhede. Ek dink nie die boek is net 'n soort waarskuwing nie; die internet bied ook verruklike en verrykende inligting.

Web is prysenswaardig in die wyse waarop die balans tussen filosofiese ondersoeke en die spanningslyn gehandhaaf word. Is jy self ʼn krimi-slaaf? Het die gewildheid van die genre plaaslik en wêreldwyd die deur vir jou oopgemaak om te skryf wat jy wou, aangesien die kiem van die roman reeds jare in jou agterkop vassit?

Weet jy wat het my ook so ‘n bietjie oortuig dat dit oukei is om spanningsverhale te skryf? Jou intelligente bydrae op LitNet se Poolshoogte-seminaar. Mens moenie 'n genre sommerso vlak kyk nie. Elke skrywer skryf vir 'n mens, en as sy storie verskyn, beteken dit sy storie het tot iemand gespreek. Al die onsigbare skrywers van sagtebandboeke, al die gesiglose skrywers van kinder- en jeugboeke ... dis slim mense. Hulle het 'n begrip van verpakking. Ek het wraggies gesukkel om vrede te maak met die genre. Maar soos jy waarskynlik nog beter as ek weet, weens jou navorsing in die genre, hoef geen genre se boeke in netjiese blokkies, soos in 'n yshouertjie, te lê nie. Selfs fotostate is uniek, of hoe, Bibi Slippers?

Weet jy wat het my finaal oorgewen na die genre? Behalwe jou bepeinsinge in Poolshoogte? Die Deense/Sweedse reekse Forbrydelsen (The Killing), Bron | Broen (The Bridge). Die Amerikaanse The Wire, Baltimore se storie. Daardie drie TV-reekse. Het jy dit al gekyk? Dis eerlikwaar verslawend. Vandat ek kinders het, hou ek verskriklik baie van ononderbroke slaap. Maar 'n reeks soos The Bridge sal my vier of vyf ure lank voor die televisie vasgenael hou, ek en my man het die reeks gekyk soos studente wat leef asof môre met sy sorge vir homself sou sorg. Na elke episode druk een van ons maar net die knoppie en daar gaan die reeks voort.

My man, terloops, weet baie van stories. Hy het voorgestel ons kyk hierdie drie reekse omdat kollegas van hom in Ierland dit aanbeveel of hy dit in The Guardian raakgesien het. Ek was nie lus om met 'n tang te raak aan 'n reeks met 'n titel soos The Killing nie. Toe ons saam begin kyk, was dit egter nie meer nodig om my te oortuig nie. Dis regtig moeilik om my man as eerste leser in my huis te hê. Maar die manuskrip en ons huwelik het sy aanvanklike kommentaar oorleef. En ek is hom dit dankbaar: hy het 'n paar tegniese flaters raakgesien en ek kon dit regmaak.

Jy betrek die uiters dringende en gelade gesprek rondom die afgelope twee jaar se studenteprotesaksie en maak die proteste deel van die plot van jou roman. Dis egter so gedoen dat dit nooit as ʼn kunsmatige foefie deurskemer nie, maar tot die organiese opbou van spanning bydra. Kan jy bietjie oor die invloed van die media en aktualiteit in jou skrywe praat?

Ek werk by LitNet, soos jy al genoem het en baie mense weet. Die ruimte, as werksomgewing, bied my elke dag iets interessants. Ek sit heeltyd en kyk hoe ander skrywers hul ambag beoefen – dit kan nie anders nie. Ek moet ook byvoeg: dit kom vandat ek klein is. My ma was my eerste voorbeeld as skrywer. Sy doen iets wat ek absoluut haat: sy staan bitter vroeg op en sy skryf op tye wanneer sy eintlik iets anders wou doen. Weet jy wat? Nou doen ek dit ook. Maar my en haar definisies van "bitter vroeg" verskil so met 'n paar uur.

Hoe verduidelik mens die skryfproses? Dis soos om te probeer verduidelik hoe mens die eerste keer verstaan wat is balans. Wat is praat. Hoe verstaan mens die lukrake betekenisse van woorde soos "tafel" of "wieldop" of "nuk". Jy weet? Mens kan nie, daar is nêrens 'n begin nie. Daar is dalk 'n gemaklike sneller (sê maar my kind raak weg), maar daar is algemene en alledaagse goed wat gebeur. 'n Sensasie een reënerige dag, of dalk ook iets wat mens so sterk oor voel en dan besef jy: nee, dit was nie die karakter nie. Dit was jy. Dis maar 'n gekke storie, die skryfstorie.

Terug by LitNet – wat het inspireer? Die universiteitseminaar. Mense soos Hans Pienaar en diegene met wie hy gesels. Maar jare en jare en jare voor hierdie universiteitseminaar, 'n brief van Pierre de Vos aan SêNet. Dalk was dit my heel eerste stimulus vir hierdie verhaal. Parafrase: geen Suid-Afrikaanse skrywer kan hom losmaak van hierdie land as hy skryf nie. Jou storie kan afspeel in Khayelitsha en die karakters kan almal swart wees en Xhosa praat. Of die storie kan afspeel in Bellville, almal doen hul inkopies in Tygervallei en aanbid by die plaaslike NG Kerk. Daar is altyd karakters wat uitgelaat is – sien jy hulle? Die onsigbares? Dis soos Orania. Dis 'n tuisland, maar wie's tuis in die land?

Het jy enige van die misdaadfiksie wat in Stellenbosch afspeel, soos Andrew Brown se Coldsleep Lullaby, Karin Brynard se Onse vaders en Jeanette Stals se Katoog, gelees? Watter skrywers lees jy die graagste, en het enige spesifieke skrywer jou eie skryfstyl en belangstelling in die krimi-genre geprikkel?

Al Karin Brynard se boeke, beslis ook Rudie van Rensburg. Deon Meyer, Martin Steyn. Deborah Steinmair – voor haar spanningsromans ook haar onvergeetlike Marike se laaste dans.

Een slag, by die Edinburgh-boekefees, omdat ek nie kon kaartjies kry vir die groot name nie – die mense het tot in Engeland tou gestaan vir Terry Pratchett – het ek beland by 'n bekendstelling van ene Sophie Hannah. Wonderlike, donker misdaadskrywer. Haar gesin is haar vertrekpunt; mens wou heeltyd kliphard lag en huil by die geleentheid. Ek het ook na Val McDermid gaan luister.

Maar weer plaaslik: hier was nog groot inspirasie – Michiel Heyns se Lost ground. Het jy dit ooit gelees? Die boek het my kop gedraai. Hy het geskryf uit die perspektief van 'n Suid-Afrikaner wat vanuit Brittanje teruggekom het Suid-Afrika toe. Agaat, ongetwyfeld, altyd Agaat. Soveel stimulerende dinge wat ek op LitNet teëkom – Lou-Marié Kruger se navorsing, wat opgeneem is in Winelands, wealth and work. Soos familie, Ena Jansen. Slaafs, Bettina Wyngaard.

Weet jy? Daar is baie mense wat ek moet bedank vir hierdie verhaal. Elke dag se werk by LitNet. My werkgewer, my kollegas. Ek het so baie by elke mens met wie ek saamgewerk het, geleer. En ek moet eintlik spesiaal melding maak van Estéve le Cordeur. Hy weet soveel van rekenaars, en by hom het ek geleer dat rekenaartaal – kodering – maar eintlik soos enige spreektaal werk. Daar is grammatika, daar is struktuur. As jy dit eers verstaan, kan jy die taal praat. En as jy 'n taal kan praat, verstaan jy die mens/ding wat dit praat, of hoe? 'n Mens en 'n rekenaar word albei geprogrammeer. Kortom: skrywers inspireer my, maar inspirasies kom ook van ander, soms onverwagse, plekke.

Web se karakterisering is besonder goed. Jy neem die berekende risiko’s om nie net ʼn ma die hoofkarakter te maak en ʼn speurder die pa van die ontvoerde Magriet nie, maar jy skryf ook uit die perspektief van ʼn aantal bruin karakters. Vertel ons asseblief meer van die verskillende uitdagings wat jou karakters gebied het? Ook, as jy kan, van die problematiek rondom die skryf van kwessies soos armoede, wit bevoorregting, transformasie, ongelykheid en rassespanning in Suid-Afrika, vanuit jou perspektief as wit vroulike skrywer?

Jonathan, jy maak dit nie maklik nie! Beantwoord jy bietjie jou eie vrae, ek daag jou uit! 🙂

Ek gaan jou eerlik sê: ek kan dit nie werklik beantwoord nie. Dis dalk hoekom ek die storie geskryf het. Daar was so baie dinge wat ek nie kon beantwoord nie. En ek kan nog steeds nie. Later het ek ook nie meer geweet wat die vraag is nie.

Dis 'n land van ongelykhede, dis een van die antwoorde. Die studenteprotes het soveel fasette.

Hoe skryf mens 'n ander, werklike, mens se storie?

Op 'n tyd het ek in die regte studeer. My lieflingvak was Latyn. Hier was 'n lekker beginsel, ook van toepassing op die letterkunde: die belang van die omissie. Die Latynse beginsels van commissio en omissio verwys na 'n doen en 'n late.

Ek is bewus van hierdie land se kompleksiteite en ek hoop dat my storie dit aksentueer. As ek karakters uit my storie sou haal wat die hele tyd nog daar is, is die storie ook nie meer die storie nie.

My commissio, my aksie, was om my karakters se storie neer te skryf: eerlik, sonder voorgee, net soos hulle hul aan my opgedring het.

Terug na die vraag oor die vertel van 'n ander, werklike mens, se storie: dit durf nie. Ek glo: vertel net 'n eie storie. En mag die storie seëvier. Mag die rede vir al die karakters duidelik wees. Mag die land se mense mekaar begin raaksien, in al almal se onvolmaaktheid.

Dalk is daar iets positiefs wat ek kan sê. My seun (graad 4) berei voor vir 'n geskiedenistoets. Een van die vrae is: "Hoe vind ek uit van die geskiedenis?" "Ja?" vra ek, want ek wil uitvind wat hy dink. Ek verwag hy gaan sê: "Google." Want dis wat hy altyd sê. Maar ek is verkeerd. "Mens luister na ander mense se stories," is sy antwoord. "Daar is baie stories, daar is baie geskiedenisse."

Jou deernis vir veral die kinders van Magriet en haar man, Diederick, is opvallend. Sekere oomblikke het my na aan trane gehad. Hoe beïnvloed jou eie rol as ouer en eggenoot jou skrywe? Is dit vir jou belangrik om te skryf oor onderwerpe waaroor jy iets weet, of moes jy baie navorsing vir jou roman doen?

My liefde vir my kinders is 'n verterende vuur. En ek moet byvoeg: ouerskap is die grootste uitdaging wat bestaan, groter as die skryf van 'n roman. My man werk op die oomblik voltyds terwyl ek smiddae by ons kinders is, maar tot betreklik onlangs het ek voltyds gewerk en hy het huis gehou. Ek mis dit om by die huis te kom en sy kos te eet! Noudat ek self by die kinders is, weet ek ook nie hoe hy dit gedoen het nie: om met hulle te speel, hul te versorg, huiswerk te doen, en die huishouding te behartig.

Ek klink of ek oor persoonlike dinge praat. Dit beantwoord dalk jou vraag. Ek is werklik deel van 'n gesin. Dis 'n komplekse sisteem – ons elkeen het sy eie kommer en vreugde. Natuurlik het ek gedeeltes van die intensiteit van hierdie dinamika gesteel en die klei in my hand gevorm. Die figure wat ek gebou het, lyk egter anders as die plek waar ek daagliks woon.

Nikodemus en Trouw is bitter interessante karakters, beide met hul eie hebbelikhede. Dog ʼn mens het deernis met hul albei. Vertel ons bietjie meer van hulle asseblief?

Nikodemus en Trouw is Frankenstein-karakters. Hulle is aanmekaargestik uit materiaal van verskillende mense wat ek ken, nie goed ken nie, in die straat sien stap, hoor praat, uit my studentelewe kom, en nog meer.

Nikodemus se kennis is wel deeglik nagevors – ek het 'n informant wie se naam ek nie gaan verklap nie! Trouw het nogal verskillende gedaantes in die storie aangeneem. Ek het baie met haar rondgespeel. Haar verhouding met die hoofkarakter het gewissel. Uiteindelik het ek gesnap hoe belangrik sy in die verhaal sou wees en haar dienooreenkomstig van voor af weer bewerk.

Dis natuurlik ook ʼn eksplisiete vraag in die roman self, maar ek moet vra: Hoekom is misdaadfiksie tans so gewild in Suid-Afrika?

Wie is die skuldige, Jonathan?

En wat is die soektog, die sogenaamde quest?

Ons almal, is natuurlik die antwoord (vraag 1).

Die soeke? Hopelik nie na Atlantis nie.

Ek dink dis die vrae waaroor ons almal wonder. Maar ek dink ook misdaadfiksie is lekker raaisels om te skryf en op te los. En dis deel van alle Suid-Afrikaners se verwysingsraamwerke, se nagmerriemateriaal: misdaad. Deel van elkeen van ons, in elke buurt, rykmanshuis en krot, se lewens.

Naomi, jy bring uiteindelik die verskillende drade van die web behendig saam, en die klimaks is intens, om die minste te sê! Wat was vir jou die lekkerste en uitdagendste dele van die skryfproses? Kan ons ʼn vervolg vir Web verwag?

Wel, as 'n kind sou lewe, word 'n kind seker groot, of hoe? Of as die kind nie lewe nie, is daar dalk altyd ander kinders. Of as 'n kind letsels het, veroorsaak die letsels dalk nuwe misdade. Of as iemand oorsee gewoon het en teruggekeer het na hul geboorteland, kan hul altyd weer oorsee gaan woon. Is daar 'n opvolg ná Web? Miskien. Of dit 'n direkte vervolg sal wees, is 'n ander vraag. Daar is oneindig baie dinge van Ierland (en Noord-Ierland) wat my interesseer. Ek gesels tydens die US Woordfees met Bill Nasson oor sy boek History matters – juis omdat ons 'n Ierland-konneksie het, en ek een slag gretig gaan luister het hoe hy praat oor Swart Paasfees. Gesprekke met hom wakker van voor af my nuuskierigheid oor Ierland se kompleksiteite aan. Wie weet watter navorsing mens sou kon doen met kennis van twee sulke onstuimige lande, waarvan min mense op aarde notisie neem, soos Suid-Afrika en Ierland, die onbenullige groen eiland wat so misleidend-romanties lyk?

Wie is jou ideale leser?

Mense soos jy, Jonathan, wat sulke indringende vrae vra. En enigeen wat bereid is om haar oop te stel vir hierdie storie. Of net wil uitvind: Waar is Magriet Stipp?

Nogmaals baie geluk met Web, Naomi, en dankie vir jou tyd om hierdie vrae te beantwoord.

The post Web – 'n onderhoud met Naomi Meyer appeared first on LitNet.

NB-Uitgewers by die US Woordfees 2017

US Woordfees: Hitler, Verwoerd, Mandela en ek deur Marianne Thamm

$
0
0

Nie die Nazi-gene van haar pa, die apartheidsdae waarin sy as buitestander in ’n werkersklas Afrikaanse buurt grootgeword het, óf die feit dat haar ma nie kon lees en skryf kon die humor en deursettingsvermoë van die joernalis Marianne Thamm smoor nie.

Selfs nie die feit dat sy as gay vrou in ’n hoogs homofobiese samelewing grootgeword het nie.

Tydens ’n gesprek oor haar boek Hitler, Verwoerd and me het sy die Woordfees-gehoor in die Boektent verskeie kere kliphard laat lag met haar eerlike maar reguit antwoorde sonder om doekies om te draai.

Hierdie ten volle tweetalige vrou beskryf haarself as half-Portugees, half-Duitse Katolieke ateïs wat die 20ste eeu verpes het.

Haar onkonvensionele lewensverhaal klink byna te raar om waar te wees.

Soos baie geharde joernaliste uit die ou skool speel sy nie met woorde nie. “Ek het so baie geskryf oor die kak wat SARS (die Suid-Afrikaanse Inkomstediens) aangejaag het dat dit my nie sal verbaas as hulle my sommer hier kom haal nie,” laat sy die gehoor reg aan die begin van haar boekpraatjie regop sit.

Sy is in Engeland gebore as gay dogter van ’n pa wat vir Hitler geveg het in die Tweede Wêreldoorlog, ’n Portugese ma wat nie kon lees of skryf nie maar met ’n onoortreflike veglus vir haar kinders.

Haar boek waarin sy haar woede uitstort oor die 20ste eeu waarin sy die grootste deel van haar lewe deurgebring het, is ’n aweregse tipe biografie oor haar lewe en die omstandighede waarin sy grootgeword het.

Haar ma, wat ondanks haar ongeletterdheid soos ’n tierkat vir haar kinders kon baklei, het beroerte gekry toe Marianne 21 jaar oud was en kon vir die 14 jaar van haar oorblywende lewe nie praat nie, en was vir rondbeweeg van ’n rolstoel afhanklik. Hoewel haar ma nie kon lees of skryf nie, is dit aan haar te danke dat sy vandag so ‘n sterk selfbeeld het, sê Marianne. “Sy sou moord gepleeg het ter wille van my.”

Met haar pa het sy ’n ambivalente verhouding gehad. Sy het hom verag vir sy deelname aan Hitler se weermag, maar was ondanks dit alles baie lief vir hom en het hom tot sy dood opgepas na haar ma se afsterwe.

Sy is tans die assistentredakteur van die gewilde aanlyn koerant Daily Maverick en was voorheen op die redaksie van Huisgenoot se Engelse eweknie YOU. “Ek gee nie om wat ek skryf nie. Ek stel net in mense belang.”

Een van die skreeusnaakse stories wat sy moes skryf, was dié van ’n man wie se huis inmekaargeval het. Hy het in ’n mindergegoede buurt gewoon, maar wou self ’n swembad in sy erf bou met kroegdeure wat op die swembad se terras oopmaak. Hy het egter die gat vir die swembad so na aan sy huis se swak fondamente gegrawe dat die hele vooraansig van die huis ineengestort het.

Sonder om te probeer skok, vertel sy dat sy dagga leer rook het om te ontsnap uit die eng benoude omgewring in die konserwatiewe wit werkersklasbuurt waar sy grootgeword het.

Sy rook steeds van tyd tot tyd dagga, maar het ’n hekel aan alkohol, wat volgens haar veel gevaarliker is.

Dit het ongeveer 30 jaar geneem om ontslae te raak van die kollektiewe skuldgevoel wat sy gehad het omdat haar pa ’n Nazi-soldaat was. “Dit het gevoel of Hitler deel is van my gene.” Selfs vandag nog soek sy haar pa se gesig oral op foto’s as sy in boeke of tydskrifte foto’s van die Tweede Wêreldoorlog opmerk met Nazi-soldate daarin.

Hoewel haar pa haar twee aangenome swart kinders liefgekry het, kon hy nooit werklik ontslae raak van sy rassevooroordeel nie. Vandag verstaan sy beter dat hy ’n man van sy tyd was. “Jy het ’n lesbiese dogter en twee swart kleinkinders nodig gehad,” het sy later jare aan haar pa gesê.

Na die oorlog, toe die geallieerde magte Duitsland verslaan het, het die Duitse volk so skuldig gevoel oor alles dat hulle vir geslagte lank glad nie daaroor wou praat nie. Dit is eintlik maar nou eers dat van die nageslagte makliker daaroor begin praat, sê sy.

“Afrikaners wat in die apartheidsera geleef het, praat makliker daaroor as hulle Engelse burgers wat saam met hulle geleef het.” Sy sê dit is asof Engelse Suid-Afrikaners hulle probeer verontskuldig vir die wandade van apartheid deur dit weg te swyg asof hulle geen aandeel daarin gehad het nie.

Van die vorige eeu wil sy so min as moontlikheid weet en onthou. “Ek het niks van die 20ste eeu gehou nie en kan fokken niks daarvan onthou nie.”

Nelson Mandela het vir ons vryheid gebring, hoewel hy buite voeling was met baie dinge, meen sy. Hy was die verpersoonliking van die hoogste morele waardes waarna ons streef. Vir Zuma het sy egter geen goeie woord nie. Hy het die ANC se morele hoë grond weggekalwe.

Net soos vandag se generasie vrae vra oor Hitler en apartheid, sal toekomstige generasie vra: Wat het julle gedoen toe Nkandla plaasgevind het? Wat het julle gesê en hoe het julle dit gestop?

The post US Woordfees: Hitler, Verwoerd, Mandela en ek deur Marianne Thamm appeared first on LitNet.

Breytenbach wen top internasionale toekenning

$
0
0

Breyten Breytenbach (Foto: Tessa Louw)

Breyten Breytenbach is aangewys as die wenner van die 2017 Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning. Breytenbach, ’n Suid-Afrikaanse digter, skrywer en kunstenaar, was vir etlike jare ’n politieke gevangene tydens die apartheidsera en het deur middel van sy skryfwerk verset getoon teen die regering van die dag. Die prys sal tydens ’n formele seremonie in Warskou op 25 Mei aan Breytenbach oorhandig word.

Die Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning is ’n internasionale literêre eer, vernaam op die gebied van die poësie. Dit word sedert 2013 jaarliks toegeken vir uitstaande kunswerk en intellektuele prestasies gekoppel aan die Poolse skrywer, digter en moralis Zbigniew Herbert.

Volgens die beoordelaars, ’n paneel wat bestaan uit internasionale digters, skrywers en essayiste, herroep Breytenbach se oeuvre Herbert se woorde: “Let the anger of the powerless be like the sea / whenever you hear the voice of the humiliated and beaten.”

Breytenbach het die toekenning as ’n besonderse voorreg beskryf. “Dis inderdaad ’n besonderse voorreg om ’n toekenning te kry wat die naam dra van so ’n groot Europese gees en intellek – digters se 'digtershart' (so sou die meeste digters Zbigniew Herbert as denker en kreatiewe mens koester) – en soveel te meer so omdat dit toegeken is deur ’n jurie van heel uitsonderlike woordmense. As brak uit die buiteveld sal ek maar tjoepstil bly in sulke luisterryke geselskap. ‘Groot honde’ het lang skaduwees oor daardie werf gegooi. Ek verwys nou na vorige pryswenners soos, oa, William Merwin, Charles Simic en Lars Gustafson ... So ek sal maar wye draaie draf en hoop hulle kom nie agter hulle het per ongeluk die verkeerde ou nader genooi nie. Ek is dankbaar en bly namens almal wat in Afrikaans skrywe.

Want dis tog insiggewend dat een van die jurielede, Joeri Androekhowietsj van Oekraïne, met die bekendmaking van die toekenning daarop gewys het dat Afrikaans tans met uitwissing bedreig word. Ek sou kon byvoeg dat hierdie totaal sinnelose taalmoord gerasionaliseer word deur die heldhaftige Afrikaansveragtende Stalinistiese pragmatiste aan bewind by die Joenewersitie van Kakiebosch.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van NB-Uitgewers, het beklemtoon dat dit ’n merkwaardige prestasie is: “Dié prys bevestig weer Breyten Breytenbach se internasionale statuur en die verweefdheid van sy oeuvre in ’n internasionale netwerk van poësie en verset. Dit bevestig ook die aansien van Afrikaans as literêre taal op die wêreldverhoog. Ons is saam met ons skrywer trots op hierdie welverdiende en betekenisvolle erkenning!”

The post Breytenbach wen top internasionale toekenning appeared first on LitNet.

Book launch: Business Writing for South Africans


Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling / The South African Milk Tart Collection

$
0
0

Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling / The South African Milk Tart Collection
Callie Maritz & Mari-Louis Guy

Prys: R280
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN: 9780798174633 / 9780798174640

In Die Suid-Afrikaanse melktert-versameling neem Mari-Louis en Callie ’n melktert-reis, van sy ontstaan tot die toekoms – die geur van nostalgie vir elke Suid-Afrikaner en die mees blywende simbool van ons baktradisie. Daar is regtig ’n melktert vir elke okkasie en na elkeen se smaak: met ’n handgemaakte skilferkors-kraag met etlike lagies of ’n krummelrige broskors, koekiekrummelkors of sonder kors gegeur met kaneel, naartjieskil, perskeblare, neutmuskaat of ’n vanieljepeul, selfs amandelgeursel, karamel, sitrusskil of kardemom. Sommige kry ’n bietjie skop met ’n skeut rum of brandewyn. Gebruik as ’n tert; gebak of ongebak, nagereg, skommeldrankie, “shooter”, melkskommel of as vulsel vir ander gebak soos doughnuts. Melktert van oor die hele wêreld; van Nederland, Portugal, Spanje, Amerika, Frankryk, Engeland en selfs China. Hierdie gewilde lekkerny bly so gewild dat dit selfs gelei het tot ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Melktertdag.

Hierdie is die sesde boek van skrywersbroer en -suster Callie Maritz en Mari-Louis Guy. Hul boeke sluit in Koeke ter viering van die liefde en lewe, Cakebread, pudding and pie, Markdag, Onthaal op grootskaal en EEN-pan/pot/bakplaat. Die outeurs is bekend vir hul besonderse stilering. Mari-Louis is ook ’n beoordelaar op die TV-reeks Koekedoor.

The post Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling / The South African Milk Tart Collection appeared first on LitNet.

Book launch: Lady Anne: A Chronicle in Verse by Antjie Krog

Book launch: Turning point by Theuns Eloff

LitNet Eerste slukkie: Web deur Naomi Meyer

$
0
0

LitNet publiseer voortaan uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Naomi Meyer

Ná haar regstudies in Bloemfontein voltooi Naomi haar meestersgraad in Afrikaans met lof by die Universiteit van Kaapstad. Tussen 2002 en 2011 het sy in Ierland gewoon. Haar jeugroman Ruik jy die filmster? het in 2006 by Tafelberg verskyn. Deesdae is sy terug in Stellenbosch as LitNet se inhoudsbestuurder. Web is haar debuutroman vir volwassenes.

Foto: Naomi Bruwer


Opsomming

Web
Naomi Meyer

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801204

Stellenbosch se studente is opstandig. Die dorp brand, en in Sophia se klein dog veilige huisie droom sy van Pompeii en wegloop, weg van elke dag se sleur by die sukkelende BoekWeb-webwerf waar sy werk, haar moeilike baas, Trouw, en haar man se speurderwerk wat hom aan soveel gesinstragedies blootstel. Wanneer hul klein Magriet, die bruin dogtertjie wat sy en Diederick oorsee aangeneem het, wegraak en Sophia self eers ontsenu word deur die herontmoet van ’n jeugliefde en daarna ontvoer word, moet sy spartel om uit die web te kom en haar kind van die spinnekop te red. Het die man wat haar kom wegraap het – weg, soos sy heeltyd gedink het sy wíl wees – iets met Magriet se verdwyning te doen? Of is dit ’n vreemde, die een wat so met Magrietjie gepraat het op die internet? Wáár is haar kind?

In Naomi Meyer se debuutroman word die Boland en SA se brandpunte helder verlig deur die storie van ’n wit gesin met een bruin kind, hul huiswerker en die gewig van die geskiedenis.


Uittreksel

SOPHIA, TWEE DAE NADAT MAGRIET WEGGERAAK HET
Saterdag 15 Julie, Faro, Algarve, Portugal

Sonskyn. Helwarm hawe. En sy, op die passasiersitplek van ’n onbekende motor.

Hier binne ruik dit na nuwe sitplekke en die sweet van die man wat pas aan die bestuurskant uitgeklim het. Die son brand haar kaal regterarm deur die toe ruit, maar die Kaapse winterreën is nie te ver weg nie. Die wind vanaf Simonsberg waai ysig in haar geheue. Op twee plekke, soos altyd. Selfs nou. Saam met die vrees. Deur die motor se voorruit sien sy ’n chaotiese skare op Faro se hawe. Hy is seker ook daar, maar haar oë vind hom nie tussen die baie mense nie. Alles is sedert die vlug nog uit fokus. Hoe het sy hier beland, in hierdie bedompige motor? Vasgekeer.

Soos in ’n droom waar mens weet hulp is net in die kamer langsaan, maar as jy wil skree, is daar geen klank nie. Sy kry nie asem nie, en sukkel om haar hand te lig. Alles nog pap, iemand anders se lyf.

Uiteindelik draai sy die ruit met moeite op ’n skreef oop.

“O sol está brilhando . . .”

Wat die res van die woorde ook al beteken, sy weet sommer die verbyganger praat van die son. Hierdie vreemde land s’n. Haar branderige oë kan nie lank oop bly nie. Sy maak hulle toe en agter haar ooglede is daar weer die baie ligte, nes op die vliegtuig.

Soos honderde flitsende rekenaarmonitors.

Die vars lug laat haar benewelde brein egter ’n oomblik lank verhelder, sodat sy besef: Ek moet hier wegkom. Tot dusver was sy te deurmekaar om iets te doen. Die bordjie langs die pad met die naam van die berugte strandoord daarop, het haar tot haar sinne laat kom.

Maak oop die deur, klim uit. Word ’n vakansieganger tussen die skare. Nóú.

Iemand klop aan die ander ruit, en sy weet dis die bestuurder.

Sy maak haar oë oop in ’n vertraagde refleksbeweging. Word tog nou regtig wakker – kom by, Sophia! Maar sy gáán nie vir hom kyk nie. Draai haar kop doelbewus weg.

Sy sien die skare op die hawe hergroepeer soos miere wat eers blindelings deur suiker geskarrel het en nou gedissiplineerd in ’n ry inval om die kosvoorraad nes toe te dra. Hulle het ’n doelwit voor

oë, hulle wil seker kaartjies koop vir bootvaarte. Hy beweeg om die motor, sy hoor sy voetstappe. Sy het al op die internet gelees wat mens moet doen as jy gekaap word. Dis op ’n manier dieselfde.

Moenie oogkontak maak nie. Bly kalm. Soek hulp. Soek hulp. Maar sy kan nie die miere op die kaai se taal praat nie. Hulle is van ’n ander dimensie. Hoe kommunikeer sy haar situasie aan enigiemand?

Sy kan nie gered word nie, sy is vasgekeer.

En toe slaan die naarheid haar weer, in ’n groter golf as dié by die hawe.

Knars-knars. Voetstappe tot vlak by die oop ruit.

Iemand sê haar naam en sy hoor die deurslot oopwip. Sy kyk op en sien heel eerste die tande. Dan kom die seerkry soos wat sy vingers in haar boarms druk en hy haar by die motor uitpluk.

Alles is nie meer donkerblou soos die voorruit dit oomblikke gelede nog gekleur het nie. Terwyl die helder son alles oranje laat lyk, is dit nie aan haar eie lewe wat sy op dié oomblik dink nie.

Daar is net die een gedagte, asof hy dit in haar losskud. Dieselfde vraag, oor en oor.

Waar is my kind, waar is my kind, waar is my kind?

 

SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK
Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

Dis ’n dag soos enige ander, dáárdie dag. Sy koester die kinders. Sy wil wegloop.

In die oggend se skemerdonker is daar ’n figuurtjie aan haar kant van die bed.

“Spinnekoppe, Mamma,” fluister die kind.

Tussen droomnewels deur begryp Sophia onmiddellik. Die natuur vereis dit van die moederdier. Diederick draai om in die bed, maar sy staan op en trek haar kamerjas aan en volg Magriet in die gang af en deur die kombuis.

Die oggendlug is klam toe sy die agterdeur oopmaak en sy besef dit reën steeds liggies soos dwarsdeur die nag.

Die dogtertjie se entoesiasme is onblusbaar. Sy en haar broer, wat hom vyf minute later by hulle aansluit, hare skeefgeslaap, laat hulle nie afsit deur ’n paar druppels nie. Hulle soek ywerig spinnekoppe in die agterplaas vir navorsingsdoeleindes. Hulle kon nie hier dinosourusse opspoor vir die vorige klastema nie, maar dié taak is ’n ander saak.

Dis nie woorde oor opwindende ontdekkingstogte wat uitkom toe sy praat nie.

“Julle gaan siek word, ons gaan laat wees, oppas vir knopiespinnekoppe . . .

“Ek’s Spider-Man!” skree Mathys en duik in sy sussie se rigting.

Magriet lig iets op en Sophia herken dit as ’n plastiekpop wat haar kop in ’n vorige skermutseling verloor het. Dis al waarvoor die pop nog goed is: selfverdediging. Sophia is met drie groot spronge by om die rusie stop te sit. Sy is besig om haar tussen die kinders en die afkop-pop in te forseer, toe iets op haar arm spring.

“ ’n Gogga!” gil Spider-Man, hoër as enige meisie. Terwyl Sophia na die insek slaan, registreer sy en haar dogtertjie gelyk wat dit is.

“ ’n Spinnekop!”

Magriet bulder dit uit. Hulle leer van spinnekoppe op skool. Sy is sewe – twee jaar ouer as Mathys – en sy wéét waaroor die lewe gaan, al is dit ook net die lewe binne hierdie paar vierkante meter. Die kind skree ook so hard, weet Sophia, omdat hierdie wrede ma pas die enigste resultaat van hulle soektog van kant gemaak het.

“Wat skree julle so, Sophia?”

Diederick se stem is ook hard. Hy staan op die stoepie en die bietjie kuif wat hy nog het, lig op in die bries. Nie meer ’n seun nie. Veertig.

Dit het haar agt-en-dertig lewens- en elf huweliksjare gekos om te besef soms moet sy haar mond hou, soos nou.

Dis die kinders wat skree, Diederick, en jy moenie ook nie. Sy sukkel om stil te bly, maar aan die ligkwaliteit kan sy sien sy is reeds laat genoeg vir werk soos wat dit is, hier tussen die houtstompe in die gras met sy normaalweg wye verskeidenheid spinnekoppe.

As sy nou reageer, gaan hy weer. Dan weer sy. En so aan. Soos ’n aggressiewe tenniswedstryd, ene sonder ophou. En soos sy hom hier van onder af bekyk, lyk hy opeens vir haar teleurgesteld. Sy wens sy kan sy moeë oë laat ophelder.


Lees ook

Web deur Naomi Meyer, ’n resensie

Deborah Steinmair
Resensies

"In ’n lesersmark met voortreflike misdaadfiksie transendeer hierdie boek die genre: dis heelwat meer as misdaad, terwyl dit al die elemente het om misdaadvrate te versadig."

Web – ’n onderhoud met Naomi Meyer

Naomi Meyer, Jonathan Amid
Skrywersonderhoude

"Nee, ek het nie die storie se einde geken toe ek dit begin skryf het nie. Ek het in die donker agter die storie aangeloop met 'n koplig wat net so 'n paar treë voor my uit skyn."

The post LitNet Eerste slukkie: Web deur Naomi Meyer appeared first on LitNet.

Boekbekendstelling: ’n Liedjie vir Anine deur Elsa Winckler

Press release: Turning point by Theuns Eloff

$
0
0

Turning point
Theuns Eloff

Publisher: Tafelberg
ISBN: 9780624080343

Living in South Africa isn’t easy − with crime, unemployment, poverty, racism, state capture, unrest at our universities …

Tempers flare. People take their anger to the streets.  As a country we are at a crossroads and the future is uncertain. How do we make sense of what is happening around us, and how can we help build the society we would like? Using the latest research and his years of experience in politics and business, Theuns Eloff asks critical questions:

What does South Africa's balance sheet look like?

Are we already a failed state?

How strong is our democracy really?

What can we, as ordinary South Africans do?

This book gives perspective on burning issues, including education, the rule of law, lack of service delivery, the ailing economy, corruption, cronyism and the predator state. Eloff’s fresh, fact-based analysis tells us how South Africa really works  –  and how we can all pitch in to make it better.   

"A crucial book which opens up a conversation South Africa desperately needs" – Ralph Mathekga

About the author

Theuns Eloff has been a student leader, minister of religion, administrator of constitutional negotiations, president of a national business organisation and university vice-chancellor. He is currently non-executive chairman of two trusts and a listed company, and executive director of the FW de Klerk Foundation.

His involvement in South Africa’s groundbreaking constitutional negotiations in the 1990s, including the Codesa conventions, and in organisations promoting the new South Africa fueled his passion for the country. It also left him uniquely equipped to write about current affairs across a broad spectrum – issues debated by political and business elites at high-profile conferences, but also furiously argued around ordinary South African dinner tables.

The post Press release: Turning point by Theuns Eloff appeared first on LitNet.

For Friends & Family deur Nicky Stubbs: ’n resensie

$
0
0

For Friends & Family
Nicky Stubbs
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798171250

Nicky Stubbs, die bemarking- en verkoopsbestuurder by NB-Uitgewers, het onlangs haar eerste kookboek gepubliseer via Human & Rousseau. Haar kleurvolle loopbaan sluit ’n Cordon Blue-kookkursus in, asook ervaring as spysenier, restaurantbestuurder, kookklasaanbieder en joernalis. Haar selferkende passie vir familie en vriende is die dryfkrag agter haar boek For Friends & Family.

Met die eerste oogopslag is Nicky se boek ’n herinnering aan ouwêreldse huislikheid met die tekstuur van ’n gedrukte tafeldoek op die omslag asook ’n nieperfekte pavlova vol pragtige krake, versier met vars vye, room en stroop. Vir ’n oomblik is ek huiwerig oor wat ek binne sal vind, want so baie skrywers se eerste kookboek is ’n valerige verhaal van die disse wat hulle graag tuis bedien – ’n herhaling van honderde ander se gunstelinge, niks nuut nie, niks vars nie. Tog is daar ’n spesiale “sjarme” of bekoorlikheid aan ’n kok wat klassieke resepte eer en jou ’n versameling van die lekkerste huiskosdisse kan bied op ’n manier wat ander nie kan nie: onintimiderende gunstelinge wat in elke Suid-Afrikaanse huiskok se arsenaal behoort te wees.

Nicky se keuse van resepte sal vir seker baie harte verower, al dink jy dalk met die eerste oogopslag dat dit bloot té bekend lyk: van bobotie en viskoekies tot karringmelkbeskuit en melktert, van hoenderlewerpatee en gebakte aartappels tot beesstert en bolognaise. Sy sluit ook internasionale klassieke geregte in, soos geroosterde bief met Yorkshire-poedings, paella, hummus, bruschetta en crème brûlée. Sy noem haar ma en ander familielede op die naam as dit kom by Diana’s chocolate cake, Lindsay’s quick & easy seed loaf, (Victoria’s) cabbage salad, en Gogo van der Riet’s Christmas cake. Familiefoto’s uit haar kinderdae verleen ’n ekstra skeut nostalgie en jy kan die onopgesmukte samesyn sien – dis ware familieresepte vir hegte familietye om tafels oraloor.

Soos Nicky sê: die boek is ’n liefdeslied aan haar familie en vriende saam met wie sy geleer kook het en saam met wie sy aanhoudend kreunende tafels gedeel het. Haar kinderdae en grootwordtye draai rondom die kombuis, rondom familieresepte en rondom vrygewige samekomste. Sy het as kind die skoonheid van plaasmelk en -botter ontdek op hul kleinhoewe (hulle het altyd ’n koei gehad) en het help ertjies en wortels pluk uit haar ouma se groentetuin in Kokstad. Dis somtyds die nostalgiese rituele van Aga-stowe, Kersfeesreuke en deegbakke uitlek wat mense verlief maak op die heilsaamheid van kosmaak vir jou geliefdes.

Jy sal jou familie en vriende baie gelukkig maak deur vir hulle uit Nicky se boek te kook. Die stadig-geroosterde lamsboud met baie knoffel, roosmaryn en rooiwyn lyk hemels (dit kook 10 ure teen 120°C); die aartappelslaai met hardgekookte eier en agurkies laat my mond water; en die gebakte soetpampoen met kaneel, bruinsuiker en lemoen het daai donker rande wat jy weet gaan soos karamel in jou mond smelt. Nicky se rocky road laat my planne maak vir ’n skaamtelose soet aand voor die TV en haar donker brownies se klam tekstuur lyk soos iets uit my drome. Sy herinner my dat Bar-One-sous bestaan (wanneer laas het jy dit geproe?) en dat amper almal hou van blatjanghoender met ’n skelm soppoeierpakkie ingemeng (al is jy ’n snob). Na ek die boek deurgeblaai het, is ek lus vir outydse frikkadelle, broccoli met kaassous en pangebraaide mieliekoekies. Wil jy nou meer.

Elke resep het ’n pragtige volbladfoto (fotografie deur Myburgh du Plessis, Pippa Hetherington en Diana Stubbs). Die kos lyk absoluut heerlik (voorberei deur Tani Kirsten, stilering deur Caro Alberts) en die resepte is deurgaans toeganklik en doenbaar. Ek wens ek was ’n gas aan Nicky Stubbs se tafel, want haar boek spreek boekdele van hoe sy met liefde, talent, toewyding en vrygewigheid onthaal.

Foto van Nicky Stubbs: Pippa Hetherington

The post For Friends & Family deur Nicky Stubbs: ’n resensie appeared first on LitNet.


Hanna deur Maretha Maartens: ’n resensie

$
0
0

Hanna
Maretha Maartens
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796319661

Behoort daar onderskeid getref te word tussen die Bybelroman (’n verhaal wat op ’n gedeelte uit die Bybel gebaseer is) en die sogenaamde sekulêre roman? Die vereistes waaraan ’n goeie roman behoort te voldoen, geld tog eweneens vir romans met ’n spirituele onderbou.

Die Bybelroman verg trouens selfs meer van die skrywer: jy kan tog nie ’n verhaal op geskiedenis baseer en dan nie getrou aan die werklikheid bly nie. Ja, ’n skrywer kan bykomende karakters skep en die verhaal aanvul. Maar nie karakters insleep wat so volksvreemd is dat hulle die leser laat twyfel aan geloofwaardigheid nie.

Nog ’n vereistes wat vir die Bybelroman geld, is dat karakters nie die Here se naam ydellik mag gebruik nie. Nog minder sal lesers eksplisiete sekstonele aantref. Suggestie kan daar wel wees.

Die skrywer behoort beslis ook die Bybel – veral die gedeelte waarop die verhaal gebaseer is – behoorlik te ken. Die tydvak moet so korrek moontlik weergegee word. Die leser kan dalk verwag om olielampies in so ’n verhaal aan te tref, maar nie elektriese lig nie. Jy sal miskien ook lees oor uitwanning, dorsstokke en broodmeel, nie van meganiese toerusting of filodeeg nie. En jy sal waarskynlik seuns in lendedoeke of rokke aantref. Beslis nie in jeans nie.

Met Hanna voldoen Maretha Maartens aan al dié vereistes. En meer. Hanna is ’n knap roman wat aards en sintuiglik aangebied word. Die hoofkarater is die Hanna van 1 Samuel 1:2. Sy is Elkana se vrou en Samuel se ma. Die hooftema is kinderloosheid. Nie lig nie, nee. Anders as wat dikwels afgelei word, is dit juis belangrik dat ’n goeie Bybelroman nie soetlik of sonnig hoef te wees nie.

Dit moes intense toewyding geverg het om met die beperkte gegewe oor die Bybelse Hanna ’n verhaal te kon skep wat jou vasgryp, laat huil en soms laat glimlag. Merab, die vroedvrou, is byvoorbeeld “fris soos ’n man en het ’n stem wat by haar breë skouers en gespierde boarms pas”. Wat ’n karakter!

Die skrywer slaag uitstekend daarin om sóveel fasette van kinderloosheid vas te vang dat die verhaal steeds relevant is. Veral vir vroue. Hulle sal hulle kan inleef in die hoofkarakter se wroeginge teenoor God en teenoor haar man se bykomende vrou, asook in Hanna se twyfel aan haarself as geskikte huweliksmaat.

Arme Hanna. Vroue wat nie kinders kon hê nie, is dorhout genoem. In Bybelse tye was kinderloosheid soveel meer as bloot nie kinders kan hê nie. Dis as God se straf vir sonde beskou. Hanna se straf, so glo sy, kleef al sedert haar kinderjare toe sy haar aggressiewe pa kwalik geneem het vir haar boetie, Nemuel, se dood. En die man boonop vervloek het. Ook die pa-dogter-verhouding word sensitief, maar realisties, aangebied.

Al beteken Hanna (Chanah in Hebreeus) “God se gegewe geskenk aan die wêreld”, is die hoofkarakter nie ’n engel nie. Eerder ’n volronde, gebalanseerde karakter wat ook bitter ontsteld en opstandig kan raak. Daarby ontwikkel sy algaande na behore. En soos dikwels in die werklike lewe gebeur, “vervaag die ouderdomsverskil” tussen dogter en ma algaande. Ma Ada ontken later nie meer die waarheid (oor haar ongelukkige huwelik) nie.

Hanna voel éérs soos ’n mislukking en verstoteling wanneer haar man (vir wie sy nog voor hul verhouding van ’n vlammedood gered het) ook met Peninna, die dogter van ’n Leviet, trou en sy die een volmaakte kind ná die ander het. Om sake te vererger, visualiseer Hanna vir Peninna, “die beeldskone, geil meisie”, saans in haar man se arms. “Hy ken elke kontoer van haar liggaam ...” Dis ook Peninna wat vir Hanna spot en verneder oor haar onvrugbaarheid. Maar ná 26 jaar van onvervuld wees, smeek Hanna die Here vir ’n kind en belowe sy dat sy haar seun vir Hom sal teruggee.

Maartens moet die Bybel, veral Samuel, goed ken om die milieu, tradisies en gebruike van daardie tyd so lewensgetrou te kan weergee. Sy moes ook heelwat navorsing gedoen het sodat die leser nie ’n oomblik aan die egtheid van die gegewe twyfel nie. (Dit bly darem érg dat ’n vrou haar aan haar man moes onderwerp en hom haar heer en meester moes noem. Om nie te praat van 12-jarige meisies wat trou en swanger raak nie!) Selfs insekte en reptiele is nagevors. Soos hier: “Dit (Bosrant) was ’n wilde plek met klipdassies, groot skerpioene, elke soort klipgogga onder die son, die reuk van wilde diere se mis en urine, en spoegkobras wat hul koppe plat trek en regop staan, soos wat die slang in die tuin van Eden seker voor Eva gaan staan het.”

Ook die name van karakters is “Ou-Testamenties”: Seruja, Gesron, Jispan. Die Bybelse verwysings in Hanna is besonder leersaam. Dis hier waar die eindnotas op bl 261 nuttig te pas kom. En indien jy oor die betekenis van ’n woord twyfel, raadpleeg jy eenvoudig die woordelys op bl 259. ’n Ghannab is byvoorbeeld ’n dief, en ruach gees.

Maartens se taalgebruik en beeldspraak is treffend en pas by die ou beskawing in. Jy wil dit dikwels herlees. Soos: “Haar skoonpa se eie verhaal was soos ongesuurde brood met bitter kruie.”

Die dialoog werk goed. Net soms kan jy dalk wonder of ’n pa wel sulke hogere begrippe aan sy jong kinders sou probeer verduidelik. Soos: “Elkana vertel hulle van die ark wat hy nog nooit met sy eie oë gesien het en nooit sal sien nie – die onaantasbare kis met die getuienis van die ewige verbond van God se goedgesindheid en die Goddelike plan met die wêreld daarin.” Hoe het hy dit oorgedra? kan die leser wonder.

Die verlede tyd waarmee sommige hoofstukke begin, pla ook. Soos: “Elkana het sy arm om haar gesit. Hy lei haar stadig weg.” Wat van “Elkana sit sy arm om haar. Hy lei haar stadig weg”? Kort hierna word gebeure weer in die hede geplaas wanneer Maartens skryf: “Hanna kyk om.” Die verlede tyd skep ongelukkig afstand.

Hier en daar kom setfoute voor. Soos: “Sy loop na buiten ...” op bl 220 en die ontbreking van “se” op bl 88: “Goedgesindheid en opregtheid is deel van Elkana wese.”

Ten spyte van dié mindere kritiek, is die lees van Hanna ’n sielsverrykende ervaring. Die roman is besonder goed deurdink en deurleef. Lees gerus hierdie uittreksel: “Jy kry die geur van Kanaän bo die warm reuk van gras en bossies in die beeste se asems en bo hulle gebulk uit. Wat jy daar by die dorsvloer ruik, is die wierook van die saailand.” En hoe prikkelend word die roman nie ingelei nie: “Peninna kyk op en haar gesigsuitdrukking verander.”

Dis wat Maretha Maartens se Hanna waarskynlik ook aan lesers sal doen.

Koop en geniet!

The post Hanna deur Maretha Maartens: ’n resensie appeared first on LitNet.

Book launch: Cult Sister by Lesley Smailes

Video: Turning point by Theuns Eloff

$
0
0

The following video was recorded by Reney Warrington at the book launch of Turning point by Theuns Eloff at Love Books in Melville. Ralph Mathekga spoke to Eloff about this important new work.

The post Video: Turning point by Theuns Eloff appeared first on LitNet.

Jump on the Bant Wagon by Nick Charlie Key: book launch

Eindspel deur Wilna Adriaanse: ’n resensie

$
0
0

Eindspel
Wilna Adriaanse
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075301

Eindspel, die nuutste roman uit die pen van Wilna Adriaanse, is die langverwagte vervolg op Dubbelspel. Hiermee word die verhaal van Ellie, die polisievrou, afgehandel. Met Dubbelspel het Adriaanse wegbeweeg van die romantiese verhale na die polisieromangenre toe. Met Eindspel voer sy die wegbeweeg van die romantiese genre nog verder, na die misdaadfiksie toe.

Die roman begin waar Ellie gemaklik op die platteland ’n gewone lewe lei. Sy het goeie vriende gemaak, werk in die kroeg en is somtyds die kerkorrelis. Daar is selfs sprake van ’n verhouding met die dominee. Sy doen retrospeksie na die traumatiese gebeure aan die einde van Dubbelspel en probeer haarself weer vind: “Dalk vat sy anderdag weer die pad, maar nou voel dit vir haar of sy eers ’n bietjie hier by die jakaranda en die leidam moet vertoef. As sy geduldig is, haal sy haarself dalk hier in.” Wanneer sy nie kan slaap nie, ondersoek sy haar pa se dood.

Dan, op ’n dag, besef sy dat haar doodgewone lewe verby is.

Ellie word weer ingesleep in die lewe van Clara Veldman, vir wie sy in Dubbelspel opgepas het, en wat nou verdwyn het en vermoedelik ontvoer is. Sodoende raak sy weer ingetrek in Nazeem Williams se ondergrondse lewe van misdaad. Enzio Allegretti, met wie Clara in die vorige roman in ’n verhouding was, is ook weg en so kom Ellie en Nick Malherbe, agent van Interpol en wat die sekuriteitshoof van die Allegretti’s is, weer by mekaar uit,

Net soos in Dubbelspel is die tema van speletjies speel en ’n dubbelspel weer belangrik in Eindspel, soos blyk uit die gebruik van -spel in beide romantitels, maar onderliggend daaraan is die gevoel dat dinge voltooi moet word – soos die titel vooruit wys. Tergende vrae is of Enzio ook saam met Clara verdwyn het, en later of hy iets te doen gehad het met Clara se verdwyning – veral as dit bekend raak dat hulle mekaar wel gereeld gesien het. Ander vrae is of daar mense in Nazeem Williams se binnekring is wat dalk iets te doen gehad het met beide Clara en Enzio se verdwynings: “As jy nie betrokke is by Clara se verdwyning nie en Williams se hande is ook skoon, is die vraag seker wie het haar? En waarom?” Of het die Chinese of Russe dit gedoen? ’n Ander speletjie wat voortgesit word, is dat Ellie en Nick hul onderskeie rolle in die misdaadsindikate moet voortsit sonder dat hulle uitgevang word. Verder is daar ook die belangrike speletjie tussen Ellie en Nick: “Al dansend om mekaar. Besig met ’n gevaarlike speletjie.” Maar dreigend en onderliggend in die roman is die tema van die spel met, en die onverskillige omgaan met, mense se lewens: Clara se ontvoering; die feit dat Ellie se motor deur ’n ander motor getref en sy beseer word; die koelbloedige moord op die ouer Allegretti’s, ens.

Adriaanse gebruik weer die tema van verhoudings wat ook in haar ander romans voorkom – veral Ellie se verhouding met Nick Malherbe. Die aangetrokkenheid tussen die twee is nog daar, en waar die speletjies en die geheimhouding oor wie hulle is van die eerste roman nou verby is, is dit duidelik dat die verhouding na ’n punt toe moet beweeg. Hulle weet in die hede van die roman dat hulle albei in die veiligheidsdiens werksaam is en werk nou saam om Clara en Enzio te vind: “Tussen hulle twee was daar nog altyd wantroue, en baie leuens. Die feit dat hy haar kom soek het en bereid is dat sy na Clara en Allegretti help soek, beteken hulle is met hulle rug teen die muur.” Maar dis die fyngevoelige spanningslyn tussen Ellie en Nick wat die verhoudingstema dryf, en die leser wil weet of die twee aan die einde by mekaar gaan uitkom.

Die ander bekende karakters is daar: Melissa is daar as Ellie se boesemvriendin, terwyl Happy en Brenda belangriker rolle speel as in Dubbelspel. Brenda veral lewer subtiele kommentaar op Ellie se lewe: “You know what your problem is – jy dink te veel. Let it go. Just be. Daai is baie eenvoudig.” Ellie en haar ma het ook nog die stram verhouding soos in die vorige roman. Ellie voel nie soos die tipiese ondersteunende dogter by haar ma se troue nie: “Haar ma het wragtig die jackpot geslaan. Nie net ’n nuwe man nie, maar sommer twee liewe dogters ook. En ’n seun.” Alhoewel die gemis en verlange na haar pa teenwoordig is, is Ellie nou meer klinies oor sy dood waar sy in haar spaarkamer diagramme, name, kaarte opgeplak het om sy dood te ondersoek: “Sy glo die mense wat aan die saak werk, doen hulle bes; sy weet ook hoe meer tyd verstryk, hoe skraler is die kans dat hulle die skuldige gaan vind.” Van die karakters wat in Dubbelspel minder belangrike karakters was, speel in hierdie roman belangriker rolle: Reggie, Gabriella, Elroy, Jonathan, Ken Visser.

Tipies Adriaanse is die ingewikkelde storielyn en die karakters wat nie eensydig en stereotipies uitgebeeld word nie. Dit lees nie moeilik nie, maar tog is die storielyn nie eenvoudig en maklik nie. Spanning word deurgaans opgebou en die onsekerheid rondom Clara se ontvoering en Enzio se verdwyning hou die spanningslyn hoog. In hierdie storielyn word skerp kritiese kommentaar oor hedendaagse Suid-Afrika gelewer. Dit laat die leser nadink oor die probleme in ons land – veral wat misdaad betref. Die karakters in Eindspel is deurleefde karakters wat getrou uitgebeeld word. Al is die misdaadwêreld nie een waarmee almal sal kan identifiseer nie, is die karakters in daardie ruimte en die polisieruimte lewensgetrou.

Die verhaal van Ellie is ’n lekker verhaal om oor ’n naweek te lees. Ja, daar is die voorspelbare gelukkige einde, maar die heldin, Ellie, is sterk, denkend en onafhanklik, net soos Nick ook sterk en onafhanklik is. Ellie is aan die begin van die roman stukkend: emosioneel en fisiek: “En in die plek daarvan rooi, opgehewe hale, soos merke op ’n snybord. En een lang letsel van haar bors tot by haar naeltjie.” Aan die einde van die roman is sy heel: “Dis soos hoop voel, besluit sy êrens in die nag. Hoop op iets normaals. Sy wil nie dink dat sy dit vir iemand laat doen het nie. Dit moet haar geskenk aan haarself wees. Hierdie behoort net aan haarself.” Maar Ellie en Nick is feilbaar en moes eers op hulle eie introspeksie gaan hou voordat die eindspel tussen hulle kan begin.

Foto van Wilna Adriaanse: Naomi Bruwer

The post Eindspel deur Wilna Adriaanse: ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1338 articles
Browse latest View live