Quantcast
Channel: NB-Uitgewersportaal - LitNet
Viewing all 1324 articles
Browse latest View live

Video: Bekendstelling van Betrayal: The secret lives of apartheid spies deur Jonathan Ancer

$
0
0

Op Donderdag 19 September 2019 is Jonathan Ancer se Betrayal: The secret lives of apartheid spies by die Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. Tom Eaton het met Jonathan gesels. Kyk hier na die gesprek:

..............

Opsomming

Betrayal: The secret lives of apartheid spies
Jonathan Ancer
Publisher: Tafelberg
ISBN: 9780624083894

What does it take to deceive those closest to you? How do you lead a double life and not lose yourself? Is there ever a point of return? Jonathan Ancer explores these questions in the tales of SA’s spies: from the navy superspy on the Russian payroll to the party girl who fell in love with Cuba and the idealistic students used and abused in apartheid’s intelligence war. Ancer gets under the skin of what it takes to betray those closest to you – and what it is means to be betrayed.

..............

In gesprek: Jonathan Ancer en Tom Eaton

Jonathan Ancer

Tom Eaton

Book Lounge in Kaapstad

  • Video en foto’s: Cliffordene Norton 

The post Video: Bekendstelling van <i>Betrayal: The secret lives of apartheid spies</i> deur Jonathan Ancer appeared first on LitNet.


Soekmekaar deur Dana Snyman: 'n lesersindruk

$
0
0

Titel: Soekmekaar
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088660

Soekmekaar, die nuutste boek deur Dana Snyman, is alles wat mens verwag van Snyman se skryfwerk. En dalk meer.

Soos wat ek gelees het, het ek probeer onthou wat in al sy vorige boeke geskryf staan. Ek wil my verbeel dat sy boeke oor die jare al meer en meer persoonlik geword het. In Soekmekaar onthul hy sommer baie van homself en sy familie. Die familie het natuurlik lank op die klein dorpie Daniëlskuil in die Noord-Kaap gewoon, maar mens moet ver soek in sy skryfwerk om iets oor Daniëlskuil op te spoor. In Soekmekaar is daar egter ’n vertelling van ’n Republiekdagviering op dié dorp in 1971 waarby die familie betrokke was, en waar hy ook ’n paragraaf of twee skryf oor sy mees onlangse besoek aan die dorp.

Dit is egter Snyman se uitgebreide vertellinge van Ventersdorp en sy mense waar die boek uiters onthullend word. Vir myself as ’n boorling van Noordwes, is dit ’n wêreld wat mens dink jy ken. En tog ook nie. Ek onthou ook die 1990’s en vir Eugène Terre’Blanche goed. Ek het eenkeer na ’n prosessie van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) in die dorpie Bloemhof gaan kyk. ’n Prosessie met perde, as mens dit so kan noem. En die onsinnige magsvertoon van kinders, wat geen indruk op my gemaak het nie. Snyman skryf oor sy verhouding met Terre’Blanche, en hulle gedeelde liefde vir die Afrikaanse poësie. Snyman se predikantvader had ’n rang van hoofkapelaan in die AWB, en was uiteraard dus huisvriende met Terre’Blanche. In een van die dramatiese vertellinge in die boek, hoofstuk 22, getiteld “Ventersdorp – ’n ware lewensdrama”, met as subtitel tussen hakies “(Opsomming vir ’n boek wat nie geskryf gaan word nie)”, vertel Snyman hoe hy as Huisgenoot-joernalis deur sy redakteur verplig is om ’n ongemaklike onderhoud met Terre’Blanche te gaan voer. Die drama wat daar afspeel, kan mens skoon aanvoel soos jy lees.

Die tyd het egter alles verander. Die AWB kon die nuwe Suid-Afrika nie stop nie. En Snyman vertel later roerend hoe sy ma uiteindelik uit die Hervormde Kerk begrawe is omdat die Afrikaanse Protestantse Kerk nie die familie se swart arbeiders wou toelaat by die begrafnis nie.

Dana Snyman se grootste kritici verwyt hom konstant daarvoor dat sy boeke wemel van wit skuld. Diesulkes moet maar liefs ver wegbly van Soekmekaar af. Of nee, miskien moet ek niemand ontmoedig om die boek te lees nie. Maar wees gewaarsku. Gelukkig is dit darem ook nie alles net politiek politiek politiek nie. Tipies van Snyman is daar ook sosiale kommentaar. Hoofstuk 18, getiteld “John-Henry”, ’n stuk kritiek teen die sogenaamde goedvoelteologie, het ek al voorheen gelees, maar dit is so treffend dat mens dit sommer weer wil lees. Daar is ook ’n hoofstuk oor Karel Schoeman – die groot skrywer van wie baie mense ook hulle eie ervaringe kan vertel. En daar is ’n stuk oor die skrywer JP Nel. In hoofstukke 51 en 52 reis Snyman na Suid-Afrika se buurland Mosambiek, waar hy besoek aflê by die Trichardt-gedenkmuur, ter nagedagtenis aan die mense van die Trichardt-trek wat tydens die Groot Trek van 1838 daar oorlede is. Die verhaal getiteld “Barend”, wat om ooglopende redes my aandag getrek het, en wat ek eerste gelees het, sou egter weer vierkantig onder die vaandel van blanke skuld kon ressorteer.

Daar is verskeie ander hoofstukke waarop mens hier sou kon voortborduur, maar in essensie is Soekmekaar weereens ’n briljante boek deur ’n geliefde Afrikaanse skrywer. Dit is ’n boek wat lesers gaan aangryp en roer. Heelwat van die verhale is al voorheen  in die media en sosiale media gepubliseer, maar ek vermoed nie almal nie. Die vertelling van Snyman se reis na Bloemfontein na sy verloofde, Anette Roberts, se tragiese heengaan, is ook opgeneem in die boek. Op sy kenmerkende manier worstel Snyman in Soekmekaar voort met Afrikaneridentiteit. Daar is ook hoofstukke waar hy besin oor Steve Hofmeyr en die laertrekkery van sy mense. Dit word dan weer gebalanseer met die verval van die land en die wanhoop en armoede, wat hom egter telkens weer uitbring by stories van hoop. Dit is hierdie nimmereindigende siklus van Snyman se skryfwerk waarvan sy aanhangers net nooit genoeg kan kry nie. Omdat dit so eerlik is en jy jouself daarin herken, en ook jou eie wêreld daarin kan raaksien.

Snyman se predikantvader het ’n getekende kopie gehad van Andries Treurnicht se boek Credo van ’n Afrikaner. Ek onthou die boekie. Dit was in so ’n geel omslag, en ek het self eens deur daardie opstelle van Treurnicht geworstel. In die slotverhaal vertel Snyman egter hoe hy van die boek ontslae raak, want “dit is ’n padkaart na nêrens” (bl 229). Treurnicht was eens ’n prominente leier binne die Nasionale Party, ’n sterk kandidaat vir latere presidentskap van die land, maar het uiteindelik die leier van die wegbreek-Konserwatiewe Party (KP) geword. In ’n hoofstuk met dieselfde titel as daardie boek lys Snyman ’n versameling gesegdes waarvan baie vandag verdag is, maar wat sy lesers sal eien as tipiese Afrikaanse sêgoed uit die verlede. Hy kom dan tot die volgende ontnugterde gevolgtrekking: “Soveel van wat ek is, is onder beleg en verdenking. Ek is ’n onseker, wankelende Afrikaner (150).

Soekmekaar is ’n boek vol van onsekerheid, maar ook een van sekerheid kry van wat agtergelaat moet word op die pad vorentoe.

Lees ook:

Op pad deur Dana Snyman: ’n lesersindruk

 

The post <em>Soekmekaar</em> deur Dana Snyman: 'n lesersindruk appeared first on LitNet.

Lesersindruk: Die verevrou deur Jan van Tonder

$
0
0

Titel: Die verevrou
Skrywer: Jan van Tonder

Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798170505

Daar is, soos dikwels met goeie boeke die geval is, ’n interessante mengsel van kritiek op Die verevrou. In ’n lesersindruk skryf Sonja van der Westhuizen byvoorbeeld op LitNet dat die boek “’n ambisieuse verskeidenheid onderwerpe en omgewings [dek] wat moontlik die aandag kan aftrek van die ontwikkeling van stewiger karakters”. Daar is “te veel potensiële storielyne en karakters … wat my met onopgeloste vrae gelaat het.”

Daar steek vir my ’n mate van waarheid in Van der Westhuizen se kritiek. Wat gesê word, kan nie eenvoudig net weggewens word nie. En tog is daar baie boeke wat so wemel van karakters. En net soos Van der Westhuizen, is ook ek, alles in ag genome, einde ten laaste heel tevrede met Die verevrou. Op die laagste punt van die kurwe van kritiek sou ek sê dat ek al baie erger gesien het. Op die hoogste punt sou ek sê die boek is ’n lekker eksotiese roman. Dit is geskryf uit die oogpunt van die vroue – uit eie reg lekker verfrissend en indrukwekkend, gegewe dat skrywers heel dikwels uit die oogpunt van hulle eie gender skryf, en dat die skrywer ’n man is. Hoewel daar moontlik te veel karakters is, is dit duidelik wie die hoofkarakter is: Liora, wat op ’n plaas in Algerië grootword. Die storie speel af in Algerië, Suid-Afrika en Frankryk. Dit maak dit uit die staanspoor eksoties. Algerië is ’n plek waarvan die meeste van ons as Afrikaanse lesers nie juis iets weet nie. Volgens Van der Westhuizen is die verhaal ook dalk soms sensasioneel seksueel en gewelddadig eksplisiet – dit was egter glad nie my ervaring van die boek nie.

In Suid-Afrika wentel die storie rondom Oudtshoorn en die volstruisverebedryf. En met die prys van petrol vandag is selfs Oudtshoorn ook maar ’n eksotiese plek vir die deursnee-Suid-Afrikaner – tensy jy dalk self in daardie omgewing woon, of dalk welaf is en kan petrol koop soos jy wil. Die verhaal spring rond tussen die verlede en die hede, en skynbaar ook heel arbitrêr. In Algerië woed ’n bloedige oorlog, waarby Liora betrokke raak. Sy leer egter later die kuns om volstruisvere te bewerk. Heelwat besonderhede van hoe die verhaal ontvou, vloei uit die kinkels van die verhaal, wat mens nie hier wil verklap nie, maar dit word uiteindelik duidelik dat die hoofkarakters hulleself almal met ’n plan in Suid-Afrika in die 1990’s kom vestig.

Dit is hier in Suid-Afrika waar die mees menslike aspek van die verhaal vir my inkom, en waar die storie werklik momentum begin kry. Sonder om die storie te verklap kan mens sê dat dit wat in Suid-Afrika afspeel, glad nie is wat die karakters in gedagte gehad het toe hulle hierheen verhuis het nie. So is dit mos in die lewe – dat die mens planne beraam en die toekoms visualiseer, maar dit speel heeltemal anders uit as wat ons ooit verwag. So was dit ook in Die verevrou.

Hierdie boek gaan nog baie golwe veroorsaak. Ten spyte van die geldige kritiek wat teen die boek bestaan, is dit ’n aangename, verfrissende verhaal. Dit is miskien so dat die karakters nie sterk genoeg ontwikkel nie. Die storie is moontlik te vlietend geskryf. Maar deurdat die verhaal nie drentel nie, word die leser se aandag dalk beter behou. So sal mens in sirkels kan redeneer oor hierdie boek. Ek kan net namens myself praat – ek het die boek boeiend en heel stimulerend gevind. Die verevrou bied iets ongewoon in Afrikaans en geniet reeds ’n groot aanhang onder heelwat lesers. Ek het geen twyfel dat dit nog in baie lesers se harte sal inkruip en lank onthou sal word nie.

Lees ook:

Die verevrou deur Jan van Tonder: ’n lesersindruk

Die verevrou beeld wêreld van volstruise epies uit

The post Lesersindruk: <em>Die verevrou</em> deur Jan van Tonder appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor Sushi en Shosholoza

$
0
0

Sushi en Shosholoza
Erns Grundling
ISBN: 9780795802102
NB-Uitgewers

Erns Grundling praat met Naomi Meyer oor sy boek Sushi en Shosholoza.

Erns, baie geluk met die verskyning van Sushi en Shosholoza. Sushi staan tot “Shosholoza” soos rugbyreise teenoor pelgrimstogte, maar in omgekeerde volgorde. Vertel vir my wat is vir jou die verwantskappe en die verskille tussen hierdie onderwerpe - die land Japan, jou reise hier en dan iets so aards soos rugby.

Ek wou met die boek se titel – behalwe natuurlik vir lekker klankherhaling én iets wat 'n mens nie maklik ná drie drankies kan uitspreek nie – fokus op Japan en rugby. Ek dink vir die meeste Suid-Afrikaners is soesji dalk die maklikste assosiasie met Japan, en "Shosholoza" het reeds met ons eerste roemryke Wêreldrugbybeker in 1995 deel van ons land se kollektiewe onbewuste geword. Ek dink met die Wêreldrugbybekertoernooi wat tans in Japan plaasvind (die eerste keer dat hierdie toernooi in Asië aangebied word), en met die komende Olimpiese Spele in Tokio in 2020, gaan Japan dalk nou meer as ooit tevore op Suid-Afrikaners se radar wees. Ek het veral in Japan geleer hoe belangrik harmonie is – dit is 'n integrale deel van die Japannese kultuur. Harmonie tussen mense tot so 'n mate dat kollektiewe belange ver bó die individu s'n geskat word. Maar ook harmonie tussen die mens en die natuur. Dalk is dit te ambisieus om met die boek se titel 'n tipe harmonie tussen die estetika van soesji en die aardsheid van rugby te probeer bewerkstellig – maar ek hou baie van albei. Dit is veral lekker om in Japan soesji te eet terwyl jy rugby kyk!

Ek sien op die voorblad 'n ooreenkoms tussen rugby en Japan: die soesji-rugbybal. Vertel my wat jy dink van Japan se kos. Hou jy daarvan? Enige nuwe ontdekkings?

Kyk, ek hou van kos, enige kos, tot op die punt dat ek gereeld met gewigsprobleme sukkel. Baie mense het al vir my gesê ek lyk op my gelukkigste wanneer ek lekker eet. Maar ek geniet veral Japannese kos: ek is 'n soesji-slaaf, maar hou ook baie van udon, ramen en soba. In Japan is tempura – diepgebraaide groente of vleis en vis – ook baie gewild. En Japannese kerrie is 'n onderskatte bakkie vol bederf, hoewel die sous dikwels oorheers. Ek moet bieg, ek het al 'n paar "vreemde" maaltye in Japan gehad: fugu (blaasoppie), seekastaiings en selfs enkele stukkies perd-sasjimi. Maar in die algemeen is Japannese cuisine nie te vreemd nie. Rys is 'n stapelvoedsel, en hier is volop vis- en vleisgeregte. Die Wagyu-beesvleis het my aangenaam verras: peperduur, maar buitengewoon sag en sappig.

Jy het al so baie rondgereis. Wat is vir jou uniek aan Japan en jou reise daar? Vertel my ook van die eerste keer toe jy daarheen gegaan het. Was die land soos wat jy gedink het dit sou wees? En wat het jou dalk onkant gevang?

Japan was vir lánk, rofweg tydens die Edo-periode tussen 1603 en 1868, geïsoleer van die buitewêreld. Omtrent slegs die VOC het in daardie tyd met Japan handel gedryf (selfs Jan van Riebeeck het in die 1640’s 'n draai in Japan gemaak). Die Edo-periode was 'n bloeitydperk van Japannese kultuur, ekonomiese groei, en die vestiging van 'n sosiale orde. Ek dink hierdie isolasie van meer as 250 jaar het 'n blywende invloed op Japannese kultuur gehad. Dit is vandag steeds 'n baie eiesoortige kultuur, maar ook natuurlik hipermodern in die groot stede. Die eerste keer toe ek die land besoek het, was dit heeltemal oorweldigend, maar nie op 'n negatiewe manier nie. Ek skryf daaroor in die boek, waar ek vir die eerste keer in Tokio by die Shibuya Crossing – die besigste voetoorgang op aarde – staan en voel of ek op 'n ander planeet is. Ek het doelbewus nie te veel navorsing vooraf gedoen of groot verwagtinge gehad nie. Die frase "alles werk" is iets wat 'n mens baie in Japan hoor, en dit is 'n feit. Die samelewing is onderdanig en ordelik, die publieke vervoer is byna pynlik stiptelik, dit is skoon en veilig, die mense is hoflik en vriendelik, maar ek dink as Westerling gaan jy altyd 'n buitestander wees. Japan is 'n stil land – ek dink die byna doodse stilte op treine het my aanvanklik 'n bietjie onkant gevang. Niemand praat eers op hulle fone op 'n trein nie, maar almal is diep doenig op hulle slimfone: kyk video’s, speel speletjies, chat ens. Wat het hulle voor slimfone gedoen? Boeke gelees? Dalk meer met mekaar gesels?

Skielik is Japan 'n baie meer gedugte sportland, of dalk voel dit net so omdat die Springbokke hulle rieme teen Japan styfgeloop het. Hoe ervaar jy die Japannese manier van leef en hul ondersteuning van sport anders as die Suid-Afrikaanse manier van doen? Is rugby in Japan ook 'n soort geloof?

Sumo is Japan se nasionale sport, en wat gewildheid betref, staan rugby agter in die tou ná bofbal, sokker en basketbal. Japan se beroemde skokoorwinning oor die Springbokke tydens die vorige Wêreldrugbybeker het wel vir 'n tipe rugbyrevolusie in Japan gesorg. Skielik het miljoene Japannese vir die eerste keer van rugby kennis geneem. En met Japan se onlangse oorwinning oor Ierland in die huidige toernooi het rugbykoors behoorlik in Japan uitgebreek. Tog bly dit interessant hoe Japannese rugbyondersteuners optree: steeds ordelik en bedagsaam – hulle sal saam hande klap en "Nippon! Nippon!" ("Japan! Japan!”) uitroep, en natuurlik mekaar omhels en luidkeels skreeu as Japan wen. Maar hier is nie Japannese hooligans nie, en ek het nog nie een Japannees hoor "Boo!" skreeu by 'n rugbywedstryd nie.

Hoe het jou reise en ervarings in Japan jóú verander? En wat het jou geïnspireer om hierdie boek te skryf?

Ek is nie een vir grootskaalse veranderings of massiewe ingrypings of bekerings nie. Ek dink werklike verandering is iets wat, indien dit gebeur, stadig en subtiel plaasvind. Om in Japan te reis is wel 'n openbaring, en het die potensiaal om die manier waarop jy na ander mense – en na jouself – kyk, te verander. Ek is nou vir die tweede keer in Japan en ek vind die land ewe oorweldigend én inspirerend as tydens my eerste besoek. Wat die inspirasie vir die boek betref: Ek het met die skiet van die kykNET-reeks Elders: Japan in Oktober en November verlede jaar die geleentheid gekry om vyf weke lank in Japan te reis. Ek en die kameraspan het onsself oor 'n mik gewerk om 13 episodes te skiet, maar ek het reeds vooraf besluit om ook 'n boek oor die reis deur Japan te skryf. Ek wou met die boek meer van 'n persoonlike blik op my en die kameraspan se reis skryf, en ook baie van die inhoud en onderhoude waarvoor daar nie tyd in die TV-reeks was nie, in die boek insluit of uitbou. Soos in my vorige reisboek, Elders, het ek ook tussendeur die reisbeskrywings 'n paar terugflitse na jeugherinneringe ingesluit, veral dié wat met rugby te doen het of wat hulle onwillekeurig by my aangemeld het tydens die reis deur Japan. Die boek het 'n rugbyfokus, maar ek skryf ook breedvoerig oor staptogte soos die Kumano Kodo en die Nakasendo. Ek sou myself nie uitgee as 'n kenner van Japannese kultuur nie – ek is veel eerder maar net 'n nuuskierige, lomperige, amper veertigjarige vent wat hou van soesji en alliterasie.

Hier is nog besonderhede van Sushi en Shosholoza se boektoer:

The post Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor <em>Sushi en Shosholoza</em> appeared first on LitNet.

Invitation to book launch of Impossible return by Siona O'Connell

Drie ouer verhale bied lekker leesvermaak

$
0
0

Titel: Helene de Kock Keur 4
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177580  

Drie van Helene de Kock se ouer romans word saam in hierdie bundel uitgegee.

Digby Grootgewaag vertel die verhaal van drie susters, Zia, Bettina en Carola, se lief en leed. ’n Verhaal van diep, intense liefde; van offervaardigheid en ootmoed. Die hoofkarakters worstel almal met aanvaarding – nie net van hul eie lewens nie, maar van die liefde en van ander. Carola se jeugdigheid laat haar verlief raak op ’n sepiester, terwyl Zia die slagoffer van ’n ryk, pretensieuse, liefdelose man was. Bettina blyk almal se staatmaker te wees, maar sy het ’n donker verlede wat haar gaan inhaal.

Die boek is oorspronklik in 1983 deur Tafelberg uitgegee.

In Kronkelpad na Vergenoeg kom besoek Tessa, ’n internasionale konsertpianis, haar mense in die Oos-Vrystaat. Sy is as klein dogtertjie van haar beste maatjie, Mossie, geskei en met haar terugkoms vind sy uit dat die lewe nie net uit hoogtepunte bestaan nie. Haar lewe is in Italië en konsertsale regoor die wêreld waar sy met haar klavierspel bekoor, maar haar hart het in die Riemland agtergebly. Sy moet luister na haar hart se versugting van internasionale roem, maar haar voete is stewig op die Vrystaatse aarde by ’n bruingebrande man met oë soos waterpoele, wat maklik vertroebel as hy seerkry. Hoe gemaak om daardie twee wêrelde te probeer versoen?

Die boek is oorspronklik in 1986 deur Human & Rousseau gepubliseer.

In Sonder winter is dr Karen Marais ’n vrou wat liefde geken en weer verloor het. En dan kry sy die kans om daardie liefde terug te wen wanneer sy na die platteland terugkeer. Maar daar het baie water in die see geloop sedert sy vier jaar tevore haar koffers gepak het en Londen toe is.

Die boek is oorspronklik in 1979 deur Human & Rousseau uitgegee.

Al drie boeke speel in die Riemland in die Oos-Vrystaat af en Helene se beskrywings van die omgewing; hoe na die boere aan die natuur leef; die wye oop vlaktes wat mense se harte en siele vernuwe, is aandoenlik en tasbaar. Jy is onmiddellik daar op die plase en kan byna die ou plaashuise se plankvloere hoor kraak as die wind deur die bome suis. Jy ken uit jou eie kinderdae die stiltes in daardie kolossale plekke; hoe, as daar om ’n groot seer geleef word, niemand die seer by die naam wil noem nie, maar almal weet dit is daar.

Die eerste twee boeke volg op mekaar en dis een van my gunstelingstyle. Ek hou daarvan as jy die karakters van kindsbeen af leer ken en dan saam met hulle stap tot hulle self kinders het. Dit maak volronde karakters van wie jy swaar afskeid neem. En des te beter as dit in een boek kan wees, dat jy nie hoef te wag vir ’n opvolg nie.

Die laaste boek is aansienlik dunner as die ander twee en voel byna te skraps om behoorlike karakterontwikkeling toe te laat. Hoewel die hoofkarakters ’n geskiedenis het en die hele hofmakery dus nie nodig is nie, is die storie se lyf vir my effe te yl. Dis die oudste van die drie boeke en dit is natuurlik te verstane dat Helene toe nog besig was om haar stem te vind. Dit doen egter vir my afbreuk aan die eerste twee in hierdie keur.

In die eerste twee boeke is die Grensoorlog en die nadraai daarvan deel van die storie: óf een van die karakters is die slagoffer van die oorlog óf die oorlog word die finale breuk tussen twee mense.

In die tweede boek word ’n rehabilitasiesentrum opgerig vir soldate wat vermink of gestremd terugkom van die grens af.

Mens vergeet so gou die hele generasie wat direk deur die oorlog geraak is; en nog te meer die geslagte daarna wat dit met hulle gaan saamdra. Ek was baie klein tydens die oorlog en het die gegewens vanuit ’n romanperspektief baie insiggewend gevind.

In 1988 is Kronkelpad na Vergenoeg benoem vir die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa. Helene het verskeie pryse op haar kerfstok en een van haar boeke, Somersneeu, was ’n finalis vir die ATKV Woordveertjies (2010) in die kategorie liefdesverhale. Sy gee gereeld lesings oor die skryfkuns by die ATKV Skryfskool en spreek gereeld leeskringe toe.

Helene is ’n ervare woordsmid en dat sy uitgeknip is om met woorde te toor, is gewis. Ek het die boek oor die algemeen baie geniet, maar sou tog die laaste verhaal weggelaat het uit hierdie bundel. As jy ’n Helene de Kock-aanhanger is, is hierdie egter net die boek om heeldag in ’n sonkol te sit en lees.

The post Drie ouer verhale bied lekker leesvermaak appeared first on LitNet.

Bekendstelling: Sewe-en-veertig deur Irma Venter in Pretoria

Boekresensie: The vagabond deur Frank Rautenbach

$
0
0

Titel: The Vagabond
Skrywer: Frank Rautenbach
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321589

“A memoir draws on selected anecdotes from your life to support a theme and make a point. For instance, if your point is how you came from some unlikely place to where you are now, you would choose scenes from your life to support that.” – Jerry Jenkins

In die voorwoord van sy boek omskryf Frank Rautenbach The vagabond as 'n “memoir” en motiveer waarom hy besluit het om hierdie roete en nie 'n outobiografiese roete te volg nie.

In die voorwoord berei die skrywer die leser kortliks voor op wat gaan volg en maak melding van 'n insident wat, soos “’n dief in die nag” sy opwagting gemaak het en sy lewe ingrypend verander het.

The vagabond kan in kort omskryf word as 'n reis wat met tye onverwagse kronkels en draaie loop, lig werp op die harde werklikheid van die vermaaklikheidsbedryf, die verhaal vertel van teleurstellings en onbeantwoorde verwagtings, en deurspek is van die skrywer se versugting na 'n dieper betekenis en God se hand in sy bestaan.

Die memoir skop af met 'n voorwoord wat konteks skep vir die skrywer se aanvanklike ontmoeting met die geloofsprediker, Angus Buchan. Hy verwys na 'n gesprek tussen hom en Buchan oor sy vertolking van Buchan se karakter in die Frans Cronje-film Faith like potatoes.  Hy deel met die leser dat Buchan hom gewaarsku het dat hy deur 'n vuurdoop sou gaan net soos die geval was met Buchan self, indien hy hierdie rol sou vertolk. Hierdie boodskap, vervat in die voorwoord, is 'n tema wat  deurlopend in die boek herhaal word en dit blyk dat Buchan se woorde in die skrywer se lewe waar geword het.

In die eerste hoofstuk vertel die skrywer van sy geboortedag en skets die agtergrond waarteen hy gebore is (Koue Oorlog-era, BJ Vorster aan die hoof van sake, ensomeer). Hy maak ook melding van sy geloofsperspektief en lewensbeskouing en noem dat sy geboortedag deur God vooruitbepaal is en dat elke individu 'n spesifieke lewensroeping en skeppingsdoel het vir ons tyd op aarde. Hy gaan egter 'n tree verder deur te noem dat elke mens by tye gekonfronteer word met gebrokenheid, onvervulde verwagtings en teleurstelling en dat dit menslik is om met  tye moedeloos te vra waar die Skepper se hand is en was in moeilike tye. Die skrywer noem ook dat hy self daar was en deur donker waters is, maar antwoord later in die teks dat swaar tye die menslike karakter versterk.

Iets wat opval, is dat die skrywer deurentyd die keuse maak om die positiewe raak te sien ten spyte van moeilike omstandighede, en erken dat hierdie gebeure hom as mens verryk het, nederig gemaak het en hom gebrei het tot wie hy vandag is. Hy vertel byvoorbeeld ook van 'n insident waar hy en twee vriende as tieners 'n naweek op 'n seiljag deurgebring het en onverwags in twee massiewe storms vasgevang was. Hy gee egter erkenning aan God se hand in hom en sy vriende se beskerming tydens hierdie insident.

Dit word later duidelik uit die teks dat die skrywer se verhouding met sy pa met tye problematies en stormagtig was, soveel so dat hy as jong tiener 'n vuishou van sy pa moes deurstaan wat tot geweldige skok en trauma gely het by die skrywer. Later in die teks vertel hy egter van sy pa se behendigheid as mediese dokter en die middelklasbestaan wat hulle gesin gevoer het, iets wat hy as 'n voorreg beskou. Rautenbach deel ook 'n versoeningsoomblik met sy pa voor sy afsterwe. 

Rautenbach het in Suid-Afrika naam gemaak in (onder andere) die plaaslike TV-reekse Sewende laan en Egoli. Hy het ná sy rol in Faith like potatoes 'n versoek ontvang van dieselfde vervaardiger om die rol van Hansie te vertolk in die film oor die legendariese krieketspeler. Hy vertel van sy toewyding aan die rol en die geweldige groei wat hy as akteur deurgemaak het. Ná 'n jaar se skiet aan die film het gebeure gevolg wat hom in 'n finansiële krisis gedompel het toe hy nie tydig betaal is ná 'n volle jaar se akteurswerk aan die film nie.

Sy planne om sy hand as akteur in die Amerikaanse filmbedryf te waag was teen dié tyd reeds gemaak en hy het geen keuse gehad as om dit deur te voer nie. Hierdie besluit het egter n beduidende impak op sy lewe gehad en die skrywer vertel hoe hy gedurende sy tyd in die VSA op die ouderdom van 40 een nag wakker geskrik het met 'n angsaanval (een van verskeie) en desperaat geroep het na God vir finansiële uitkoms en net nie meer geweet het watter kant toe nie.

Hy deel eerlik oor storms wat hy en sy eggenote Leigh in hierdie tyd moes deurstaan, dat hy in die VSA nagenoeg 10 000 km gereis het om oudisies af te lê sonder sukses en dat hy en Leigh in hierdie tyd deur geweldige geloofstoetse moes worstel, insluitende vier mislukte swangerskappe. Die skrywer bak ook geen mooi broodjies oor die vermaaklikheidsbedryf en filmbedryf in die VSA nie en daar word melding gemaak van die verraad en dislojaliteit wat gepaardgaan met 'n lewe in die kunste.

Ná maande se gespartel in die VSA en talle tweegesprekke met God en sy lewensmaat, is hy gedwing om sy “afgode” te bely en verantwoording te doen oor sy besluite rakende sy loopbaan en die feit dat hy nie weggestap het van situasies wat skadelik was nie, omdat hy glo hy vasgeklou het aan vals gode soos sy akteursloopbaan, die glans wat daarmee saamgaan en die volgende groot rol wat hy sou losslaan.

Tydens hierdie waterskeidingsmoment besef hy dat hy die monumente van glans in sy lewe moet agterlaat, moet pa-staan vir sy besluite en 'n vaste inkomste moet verdien om vir hom en sy eggenote te voorsien. Hy gaan soek werk en word aangestel as 'n taxibestuurder. Hy kry in dié tyd te doen met talle interessante karakters, maar hy kry ook tyd om nabetragting te doen. Hy besluit ná drie jaar om sy pos as taxibestuurder te verruil vir 'n faktotumpos by 'n kerk en hier word hy verder tot nederigheid gedwing wanneer hy met tye toilette moet skrop en vloere was. Hierna onstaan sy idee vir 'n boek oor sy wedervaringe en hy begin onder meer praatjies by kerke oor sy geloofsreis en oor God se werk in sy lewe lewer.

Dit is duidelik dat Frank Rautenbach 'n harde pad gestap het en nie skaam is om die lesse wat hy in donker tye geleer het vanuit 'n plek van nederigheid en weerloosheid met lesers te deel nie. Dit is verfrissend om 'n boek te lees waarin die skrywer op 'n eerlike wyse gesels oor die “superficiality” van die vermaaklikheidsbedryf en die vals sekuriteit wat op die oog af sukses meebring.

In 'n era waar selfverheerliking en selfdokumentering taamlik algemeen voorkom, is The vagabond 'n eerlike boek oor swaarkry, karakterbou en sommer net menswees. Dit verg moed om die waarheid te skryf ná 'n hou op die ken en bloed op die knieë. Om te deel oor afstof, opstaan en weer probeer met geen waarborg dat die volgende probeerslag suksesvol sal wees nie. Frank Rautenbach doen dit met 'n rou eerlikheid en kweek in die proses respek by die leser en laat 'n boodskap van hoop agter by die neersit van die boek.

*Die goeie nuus is dat Frank en Leigh teruggekeer het na Suid-Afrika en dat Frank op die ou end wél 'n rol in 'n top Amerikaanse TV-produksie getiteld Warrior wat eersdaags op die HBO Cinemax Channel te siene sal wees, losgeslaan het.

The post Boekresensie: <em>The vagabond</em> deur Frank Rautenbach appeared first on LitNet.


Boekresensie: Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout

$
0
0

 Titel: Die dekonstruksie van Retta Blom
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780795708992

Die dekonstruksie van Retta Blom is die debuutroman van Zelda Bezuidenhout en ’n onlangse toevoeging tot die chicklit-genre. Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van Retta, ’n huisvrou wat jare lank baie tevrede was met haar rol as ma van twee seuns en huweliksmaat vir Tobias nie, maar ook van haar dekonstruksie as sy al die sekerhede in haar lewe begin bevraagteken.

Bezuidenhout is meer bekend as jeugverhaalskrywer, met haar jeugverhaal As mens geluk kon proe wat in 2017 die tweede prys in Lapa se jeugromankompetisie gewen het. En nou waag sy haar hand aan volwassene-literatuur. Sy skryf toeganklik en met humor en deernis oor vrouwees en verhoudings – en veral van ontnugtering, maar ook hoop.

Die dekonstruksie van Retta Blom vertel die verhaal van etlike vrouekarakters bo en behalwe Retta sʼn  – daar is byvoorbeeld Koba en Leigh, Retta se boesemvriendinne; Suria, die “ander vrou” in die verhaal; Klarabelle, Tobias se dogter by Suria wat  ’n epilepsielyer is; Nura, Suria se ma. Deur die verskillende verhaalperspektiewe lees die leser nie net van Retta en haar dekonstruksie nie, maar lees ons ook meer van die ander lewe van Tobias saam met Suria en Klarabelle. Die twee huishoudings word afwisselend aangebied en die leser kry toenemend simpatie met Suria en Klarabelle se situasie as die “ander gesin” wat van Retta weggesteek word: “Dit gaan alles oor Lauretta, Mommy. Nét Lauretta. Die hele tyd. Ek ken die reëls. As dit nie lewe en dood is nie, dan mag ons hom nie bel nie. Finish en klaar!” “Jy kan nie so aanhou lewe nie, my kind. Jy verdien beter. En julle gaan uitgevang word.”

Dit is ’n roman wat handel oor verhoudinge – veral die huweliksverhouding en hoe vroue hulleself in ’n huwelik kan verloor. Maar dit is ook ’n verhaal oor veral die vriendskappe tussen vroue, en met hierdie twee temas kan baie lesers identifiseer. Die tema van verhoudinge en die verbrokkelinge daarvan is die een wat met die dekonstruksie-metafoor verband hou: Retta se huwelik en lewe is aan die verbrokkel. “Met die aanvanklike traumatrane gestort, sit Retta nou stroef en luister hoe haar vriendin die sagte beige kniekombersie van haar lewe ry vir ry lostrek.” Daarteenoor is die tema van vriendskap een van genesing en hoop. Wat uitstaan, is juis die vriendskappe en ondersteuning wat die vroue het – die sogenaamde “sisterhood”. Retta het Koba en Leigh: Leigh verteenwoordig die spontane en ongekompliseerde lewe wat Retta (en alle vroue) mag hê, terwyl Koba die sterk, praktiese en gestruktureerde kant van vrouwees uitbeeld. Suria het weer haar ma wat haar ondersteun. Die verskillende vroue se stories is nie net hulle stories nie, maar verteenwoordig dit wat in baie vroue se lewens aangaan.

Soos die titel aandui, is dekonstruksie ʼn belangrike motief deur die hele roman. Dit is veral Retta se dekonstruksie. Sy kyk na haar lewe en ontleed en dekonstrueer dit. Dawid, haar een seun, hou van die “deconstructed cuisine”. Paul, Retta en Tobias se een buurman vra: “Deconstructed? Is dit ’n ander woord vir stukkend?”, terwyl Tobias sê: “Dalk is dit goed om nou en dan na die essensie van iets te kyk, om dit opnuut te waardeer vir dit wat intrinsiek is.” Beide hierdie twee betekenisse word in die roman uitgebeeld: om stukkend te wees, is om by jou essensie uit te kom, besef Retta aan die einde van die roman.

Bezuidenhout maak slim van intertekstualiteit gebruik om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. Dit is veral musiek wat die tema ondersteun. Die gebruik van die Dave Matthews Band se lied “The space between” en Tracy Chapman se “Telling stories” wat op belangrike oomblikke in die roman gebruik word, staan uit. “The space between” ondersteun die “negatiewe ruimte”-beeld van Leigh: “Wel. Om proporsies en skaal reg te kry, werk kunstenaars dikwels met die negatiewe ruimte rondom die eintlike onderwerp wat hulle wil skets. Hulle teken dus wat nie daar is nie, eerder as dit wat daar is” – wat aansluit by die “dit wat nie gesê word nie”-motief in die roman. Soos wat dit op die agterblad verwoord word: “As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nie sê nie. Kyk na dit wat hulle nie doen nie.” Die lied “Telling stories” waarmee die roman afsluit, handel oor “die fiksie in die ruimte tussen herinneringe” en Retta besef aan die einde: “Nie alle oop ruimtes is negatief nie.”

Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die stereotiepe “aantreklike held wat die prinses moet kom red”-beeld van Adam wat boonop voorkom as die “eerste ware man” vir Retta. Daar is die “mooi” slot en “gelukkige einde” wat tipies in romantiese verhale voorkom. Ten spyte hiervan is dié ’n roman wat vroue gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van Retta se ontnugtering nie, maar verwoord veral die hoop wat daar vir ons almal na ontnugtering is

Die dekonstruksie van Retta Blom is ten slotte ’n dekonstruksie om by die essensie van Retta se reis na ʼn nuwe begin uit te kom.

The post Boekresensie: <em>Die dekonstruksie van Retta Blom</em> deur Zelda Bezuidenhout appeared first on LitNet.

Pasverskyn: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux

$
0
0

Titel: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan 
Skrywer: Christine Barkhuizen-Le Roux 
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISBN: 9780798179706

Corinne Prinsloo, ’n kliniese sielkundige, se huwelik is nie meer wat dit eens was nie. Dis asof haar domineeman, Frank, wegkruip in sy studeerkamer, en saans al hoe vroeër die whiskeybottel nadertrek. Die liefdevolle saamwees van vroeër het verander in ’n versigtige eierdans rondom mekaar.

Wanneer Deon, ’n oudpasiënt, haar nader om saam met hom ’n pelgrimstog te onderneem na die dorp van sy kinderjare, word Corinne voor ’n belangrike keuse geplaas. Begelei sy Deon ’n laaste maal terug na die trauma van sy verlede, of moet sy by Frank bly en self agter die kap van die byl van haar man se drinkprobleme probeer kom?

In Christine Barkhuizen-le Roux se jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, vra die skrywer skreiende, dapper vrae. Wat beteken dit om ’n goeie man te wees? Hoe raak ’n mens ontslae van die verlede? En bowenal, hoe heel jy veertig jaar later die pyn van ’n klein seuntjie genaamd Prins?

“’n Broodnodige verhaal. Dit gee ’n stem aan mense wat nie gehoor is nie.” – Juliana Coetzer

Lees ook 

Christine Barkhuizen le Roux (1959–)

Boekresensie: Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux

The post Pasverskyn: <i>My naam is Prins, ek slaap met die lig aan</i> deur Christine Barkhuizen-Le Roux appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Helene de Kock oor Die kind uit die wingerd

$
0
0

Titel: Die kind uit die wingerd
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179096

Helene de Kock vertel vir Naomi Meyer van Helene se Die kind uit die wingerd.

Helene, geluk met Die kind uit die wingerd. Die boek begin met gedagtes oor daardie einste kind. Hoe betroubaar dink jy is die geheue, en hoe belangrik is dit vir 'n skrywer om juis die wisselvalligheid hiervan in 'n storie te kan aanwend?

Baie dankie, Naomi! Ek het die verhaal vanuit twee perspektiewe geskryf: dié van Carijn den Hagen en dié van Laurens Erasmus, die kind wat op driejarige ouderdom uit die wingerd aangestap gekom het. Geheue het die mag om die kern van 'n saak vas te vat en te behou, selfs al sou van die besonderhede verlore gaan. Die gedagtes oor die kind waarna jy verwys, is juis wat Carijn van daardie dag onthou – en dit is die verwesenheid van die seuntjie en die deernis wat hy by haar gewek het. In hierdie geval is haar geheue plek-plek yl, maar tog onthou sy die sterk konneksie wat hulle feitlik dadelik tussen hulle gevoel het. 'n Skrywer kan natuurlik met hierdie betreklike wisselvalligheid van die mens se geheue op allerlei maniere speel. Hier het ek verkies om dit so betroubaar moontlik te maak, wat in die omstandighede eintlik logies is, aangesien die gebeure iets is wat onmiddellik die emosies betrek het.

Jy doen graag navorsing en skryf oor historiese tydperke. Hoe het jy die navorsing vir hierdie boek gedoen en wat was jou ontdekkings?

Die skryf van 'n historiese roman verg uiteraard dat mens deeglik navorsing moet doen, en ek besoek graag self die plekke waaroor ek skryf om die atmosfeer te kan peil. Feite kan soms later verkry word. Maar feite op sigself is morsdood tensy die storie dit laat verlewendig. Inligting moet vanselfsprekend korrek wees, maar die storie is wat belangrik is. Dit is fiksie en fiksie moet verkieslik beide intellek én emosies betrek. Mens moet in gedagte hou dat fiksie soms gewigtiger waarhede as die blote feite van geskiedenis kan oordra. Ek het oral en op allerlei wyses navorsing gedoen, ja, maar hoofsaaklik met die oog op die uitwerking wat feite op mense het. Ek het jare gelede met ‘n dokter gesels wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Guy’s Hospital in Londen gewerk het. Dit het daardie oorlog vir my as’t ware oopgemaak. Ek het ook met die gewese dekaan van 'n regsfakulteit gesels wat in Leiden gestudeer het. En ek het talle en talle werke oor die oorlog en daardie tydperk gelees.

 Vir wie skryf jy en wie is jou ideale lesers?

Ek het geen idee nie. Ek skryf 'n verhaal om die verhaal se onthalwe. As iemand daarvan hou en by my lewensbeskouing – soos deur die karakters geopenbaar – aansluiting vind, is dit gaaf. Indien nie, is die boek nie vir hom of haar geskryf nie. Enige roman weerspieël onvermydelik die skrywer se werklikheidsbeeld en ek hou daarvan om aan my siening van die werklikheid getrou te bly sonder om dit die hooftema van die boek te maak. Dit is soos suurdeeg in brood. Hopelik proe die leser dit nie, maar is bewus daarvan dat 'n smaaklike brood baie aan suurdeeg te danke het.

Hoekom skryf jy?

Ek skryf al van my tweede jaar op universiteit af en het gaandeweg 'n dieper belangstelling en liefde daarvoor ontwikkel. Sodanig dat ek verder in die skryfkuns gestudeer het en in later jare 'n PhD gedoen het oor die skep van ruimtelike dinamika in 'n roman. Die uitbeelding van ruimte met al sy wisselwerkende fasette is vir my een van die mees fassinerende aspekte van die skryfproses. Die skep van ruimte in 'n verhaal kan vanselfsprekend nie los staan van karakter, tyd en handeling nie. Ek skat derhalwe ek skryf omdat ek die skep van karakters binne hul konkrete en abstrakte ruimtes so geniet.

Wat was vir jou spesifiek die inspirasie vir hierdie storie, en kan jy onthou op watter dag jy besef het: Dit is die tema en hierdie is die karakters? Of ontwikkel 'n boek vir jou meer organies as op hierdie manier?

Ek dink inspirasie is 'n populêre mite. Ek raak geïnspireerd eers as ek begin werk het en goed aan die gang is. Ek weet nie wanneer die idee van die kleintjie wat uit die wingerd gestap kom, by my gedaag het nie. Net dat ek dit op 'n dag herken het as 'n moontlike idee vir 'n roman waarvan die tema buitestanderskap kan wees. Die hele roman draai eintlik om die tema dat buitestanderskap, wat verskeie oorsake het, eintlik diep verdriet kan veroorsaak.

Skryf jy dadelik weer 'n volgende boek nadat die een klaar is?

 Nee wat, ek rus so 'n maand of wat en dan begin ek met die volgende roman.

 Dalk kan jy in 'n sin vertel waaroor hierdie verhaal handel.

Die kind uit die wingerd handel kortliks oor Laurens Erasmus wat op driejarige ouderdom uit 'n wingerd aangestap kom. Sy naam is aan sy baadjie vasgespeld. Verder weet hy nie wie hy is of waar hy vandaan kom nie. Mense gee hom 'n tuiste, maar hy bly sy lewe lank 'n buitestander. Later stuur die mense wat hom “aangeneem” het, hom terug Nederland toe om verder te studeer, en die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Te midde van die verwoesting leer hy van sy herkoms en vind hy homself.

Die nuwe boek waaraan ek werk, is Elisabet se oorlog en gaan oor iets anders. Dis 'n historiese roman wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika, Londen en Frankryk afspeel. Die tema is moontlik 'n meer aktuele een, naamlik 'n vrou se soeke na eie identiteit. Sy loop kort voor haar troue weg en beland in situasies waarin sy gou moet wys van watter staal sy gemaak is. Sy vind haar bestaansruimte word erg deur die patriargale stelsel bedreig en sy maak 'n plan – met gevolge wat sy nooit sou kon voorsien het nie.

The post Skrywersonderhoud: Helene de Kock oor <em>Die kind uit die wingerd</em> appeared first on LitNet.

Resensie: 'n Belofte vir Bippie deur Elsa Winckler

$
0
0

Titel: 'n Belofte vir Bippie
Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321459

Elsa Winckler is een van die min skrywers wat dit regkry om kwantiteit met kwaliteit te versoen. Nie alleen publiseer sy in verskillende genres in Afrikaans sowel as Engels nie, maar op haar kaggelrak pryk ook 'n hele rits ATKV-Woordveertjies vir die beste romanse van die betrokke jaar.

'n Belofte vir Bippie is 'n liefdesverhaal met 'n Christelike inslag. Beide die held en heldin is gelowiges en ervaar die hand van die Here in hulle lewens en in die ontwikkeling van hulle verhouding. Die Christelike aspek is egter nie so prominent dat dit die boek uitskakel as keuse vir lesers wat nie spesifiek na geestelike leesstof op soek is nie. In die eerste instansie is dit 'n lekker liefdesverhaal met aantreklike mense wat na liefde soek en dit vind. Die Christelike ondertoon gee 'n verdere dimensie aan die boek, maar oorheers nie die liefdesverhaal nie.

Al die nodige bestanddele vir 'n liefdesverhaal wat romantiese lesers se monde sal laat water, is daar: die pragtige, hardekwas heldin, sterk en daadkragtig, maar ook sag en onseker; die aantreklike held met die vierkantige kakebeen, wat geneig is om oor te neem en haar telkens die josie in maak, terwyl albei maar te bewus is van die aantrekkingskrag tussen hulle. Soos die neiging deesdae is, word die verhaal nie meer bloot uit die heldin se oogpunt vertel nie, maar kry die held ook 'n kans om sy innerlike aan die leser te toon. Dit verleen onmiddellik meer diepte aan die verhaal.

Anders as in die liefdesverhale van 'n dekade of drie gelede, is die hoofkarakters in moderne Afrikaanse stories nie meer volmaak beeldskoon en “uitgesorteer” nie en berus die plot nie tot 'n groot mate op onbenullige misverstande nie. Bippie en Riekert is beide gebroke mense met 'n goeie draggie bagasie, maar die liefde wat tussen hulle ontwikkel, word die motivering om aan hulle kwessies te werk.

'n Mens kan jou kwalik voorstel dat 'n Christelike liefdesverhaal met 'n swanger heldin – buite die huwelik – selfs net 'n dekade gelede vir Afrikaanse lesers aanvaarbaar sou gewees het. Bippie is egter 'n oortuigende heldin wat verantwoordelikheid vir haar situasie neem en haar bes probeer om vir haar kind 'n goeie toekoms te skep. Sy loop ook nie draaie om die feit dat sy dwaas was om by haar gewese minnaar te bly en by hom te slaap nie, terwyl sy alreeds vermoed het hy is nie die regte een vir haar nie. Die verhaal sou egter oortuigender gewees het as die biologiese pa van die baba ook in die prentjie geplaas is. Hy bly bloot 'n skim op die agtergrond wat geen rol speel nie. In vandag se samelewing waar pa’s toenemend ook aanspraak maak op hulle regte, sou sy perspektief en die motivering vir sy keuse welkom gewees het.

In die proses van heelwording van die twee hoofkarakters word verskeie temas aangeroer. Bippie is bewus daarvan dat sy moet leer om hulp te aanvaar. Riekert besef dat sy familie gekniehalter word deur hulle onwilligheid en onvermoë om oor hulle emosies te praat. Bippie hou ‘n dagboek, wat aansluit by die erkenning wat deesdae aan “journalling” as terapie gegee word.

'n Belofte vir Bippie is die tweede boek in 'n reeks wat op die dorpie McGregor afspeel, en die karakters van 'n Brief vir Reina verskyn ook in Bippie se storie. Vir 'n leser wat nie die eerste boek gelees het nie, kan dit wel verwarrend wees, hoewel daar gepoog is om die agtergrond te skets sonder om Reina se storie nog 'n keer te vertel. Dis inderdaad nie maklik om 'n balans in hierdie opsig te handhaaf nie. Nora Roberts is (onder andere) op hierdie gebied 'n meester wat nagevolg kan word in die manier waarop sy individuele boeke in haar reekse met mekaar skakel.

Die aandag wat aan albei hoofkarakters se onderskeie beroepe gegee word, verryk die storie sonder om die leser te laat voel hy of sy ontvang 'n les in geologie of die restourasie van huise of die bedryf van 'n oudhedewinkel. Net so verdring die newekarakters uit die eerste boek in die reeks ook nie die sentrale liefdesverhaal nie.

Een frustrerende aspek is die tekening van Bippie se ouers as totaal ongevoelig en veroordelend, die teenpool van haar nuwe “familie” wat haar volkome aanvaar. Die inkeer teen die einde van die verhaal is welkom, maar nie besonder gemotiveerd nie.

'n Belofte vir Bippie is 'n heerlike liefdesverhaal uit die stal van 'n bedrewe skrywer. Elsa se aanhangers sal hulle verlustig in die storie, en vir nuwe lesers wag daar 'n aangename verrassing.

The post Resensie: <em>'n Belofte vir Bippie</em> deur Elsa Winckler appeared first on LitNet.

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die wolkversamelaars deur Nadia de Kock

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

______________________________________

Nadia de Kock

Nadia de Kock is ’n IT-­spesialis met haar kop in die wolke. Sy is ook skrywer, reisiger en gewese uitgewer. Haar roman Heildronk op ’n gypsyromp het in 2009 verskyn. Haar nuutste roman is Die wolkversamelaars. Sy bly in Johannesburg.

______________________________________

Opsomming

 

Die wolkversamelaars
Nadia de Kock
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709036

Die laaste wens van ’n liewe vriendin stuur Talla na die Glencoe­vallei in Skotland. Sy neem haar wolkboekie saam om haar stokperdjie, die
soeke na seldsame wolke, voort te sit. Daar word sy by ’n eienaardige rondloper, Mikey, se soektog na sy verdwene geliefde betrek. Maar dit blyk gou dat Mikey se geestestoestand troebel is. Dan duik herinneringe aan Talla se kinderdae in Warmbad, en aan haar eerste liefde, Astian, by haar op. Sal sy waag om antwoorde op vrae uit haar verlede na te jaag?

____________________________________

Uittreksel

1

Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ’n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar dié afstand nóg kleiner is en het dit “dun plekke” genoem.

Talla draai die boek ’n aks na haar toe sodat sy makliker kan lees. Hongkong se lughawe is beslis ’n dun plek, sê die boek. Die Blou Moskee in Istanboel ook. Nader aan die natuur is Mull- eiland aan die Skotse kus en Slea Head in Ierland bekende dun plekke.

Die boek behoort aan die vrou in die vliegtuigsitplek langs Talla, maar sy is badkamer toe en Talla tel dit van die sitplek op. Die foto op die voorblad is dié van ’n vervalle kasteel.

“Stel jy in dun plekke belang?” Dit is die boek se eienaar wat terugkeer na haar sitplek en langs Talla inskuif. Haar stem is sag en sterk. Sy het haar lang, reguit grys hare losgemaak en dit hang oor haar skouers.

“Ek dink so . . . ek bedoel, ek het nie daarvan geweet tot nou nie. Dit lyk interessant.” ’n Boek is ’n intieme besitting en Talla voel skuldig toe sy dit na die vrou uithou.

“Fassinerend,” sê die vrou. Sy vat die boek by Talla aan. Haar gewrig is fyn en die silwer kettingarmband lyk effens te groot. Sy het lang, dun vingers.

“Dit is toevallig dat ek juis nou oor die Kelte lees,” sê Talla. “Ek is op pad Skotland toe.”

Die vrou kyk haar ondersoekend aan.“Waar in Skotland?” “Die Glencoe-vallei. In die Hoogland.”

“A, ek ken Glencoe. ’n Meedoënlose dal in die winter.Was jy al daar?”

“Nee.”

“‘Fearful in their grandeur and amazing solitude.’ Só het Charles Dickens die berge en skeure beskryf.” Die vrou sak in haar sitplek terug. “Dit is ’n ontsagwekkende vallei. Pragtige landskap maar ’n intense plek. Ek glo dit gaan ’n besonderse ervaring vir jou wees.” Sy druk haar hare agter haar ore in, die fronsie tussen haar oë algaande dieper.“Dis ’n plek wat maskers afhaal,” sê sy, meer vir haarself as vir Talla. Sy glimlag uiteindelik en die frons verdwyn stelselmatig. Toe sit sy haar leesbril op en maak die boek oop. Die gesprek is verby.

Talla wonder vlugtig of Glencoe ’n dun plek is. Haar maag trek op ’n knop. Wanneer sy terug is in Suid-Afrika sal sy oor dun plekke nalees.

Sy reik na haar rugsak wat by haar voete lê, maak dit oop en voel daarin rond vir die wolkboek. Sy vat eers haar nuwe nota- boek raak, toe haar paspoort en die hopie geld wat sy saam in ’n plastieksakkie toegedraai het. Dit hoort nie in haar rugsak nie. Sy is agterlosig, twee weke gelede het sy haar identiteitskaart in die Mugg & Bean in Rosebank Mall laat lê en moes sy op haar spoor terugloop totdat sy dit gekry het. Sy lig haar effens uit die sitplek op en druk die paspoort en geld diep in haar jeans se regtersak. Die dun pakkie twintigpondnote is die helfte van haar sakgeld. Die ander helfte is opgerol in een van haar sokkies in haar tas en een twintigpondnoot is in die dun muntebeursie saam met haar OTM-kaart in haar linkersak. Dis wel haar eerste keer oorsee, maar sy is streetwise, sy is immers ’n Johannesburger. Al haar eiers is nie in een mandjie gepak nie.

Nie dat die OTM-kaart veel waarde het nie, haar bankbalans lyk maar beroerd. Sy het die res van haar vakansiegeld al gereed gehad toe Ma se geskeurde meniskusse ’n maand gelede ’n nood- knieoperasie nodig kry. Die beste, én duurste, ortopeed was in Pretoria en Talla moes help betaal. Sy kla nie te hard nie, wie anders moes help?

Gelukkig is die eerste maand van haar verblyf in Skotland reeds betaal. Sy sal ná die maand uitkyk vir iets goedkopers.

Uiteindelik vat sy die hardebandwolkboekie raak. Dit lê heel onder, diep onder die res van haar goed ingedruk. Sy haal dit uit, knip die sak toe en skuif dit met haar voet tot onder die sitplek voor haar.

Sy kyk om of sy die dranktrollie kan sien. Haar senuwees is klaar. Maar haar tas is veilig in die bagasieruim. As die lughawe- personeel, of hul snuffelhonde, iets agtergekom het, sou hulle haar nie toegelaat het om op die vliegtuig te klim nie. Die rooi roomysbak met Theresa se as in is onopgespoor in haar tas. Veilig van ander oë en veral hondesnoete.

Sy hoop net nie die bak gaan oop nie. Dít sal ’n gemors wees. Verbete druk sy die gedagte terug: die bak is styf toe, die bak is styf toe. Styf toe. Sy sien die rooi bak in haar geestesoog, en die deksel is behoorlik vas.

Toe maak sy haar wolkboek oop. Dit was saam na Modimolle, toe sy haar ma en tant Lettie, haar ma se niggie, laas week gaan groet het. Tant Lettie het natuurlik baie te sê gehad oor die tipe mense wat hulle ophou met iets soos wolke versamel.“Van Engeland af, ja. Ek kon dit van dié bleek spulletjie verwag.” Sy het gesnork. “Beslis daardie eenvoudige prins Charles wat dié soort snert sal uitdink.”

Talla blaai verby bladsy twee-en-twintig. Die besonderse wolkformasie wat deur ’n versamelaar van Windermere inge-stuur is, trek weer haar aandag. Dit is ’n reusagtige donderwolk, kilometers hoog, en lyk soos ’n wolkontploffing. ’n Uitstaande voorbeeld van die cumulonimbus-tipe, sê die skrywer.

Presies hoe ver is Windermere van Skotland af? Skotland, die plek waarheen sy vanaand onverwags op pad is. Moeilik om te glo sy was nog nooit oorsee nie; sy raak immers al aan vyf-en- veertig. En as sy haar eerste oorsese bestemming self kon kies, sou sy na ’n Griekse eiland gaan. Son en see, nie Skotland wat vir haar maar koud en grys lyk nie.

Waar bly die dranktrollie? ’n Groot glas cabernet is wat sy nodig het. Sy rek haar nek, maar sien niks. Dan probeer sy haar aandag weer by die boekie bepaal en lees verder na oor die donderwolk. Die cumulonimbuswolk is ’n volle veertig punte werd uit ’n moontlike vyf-en-vyftig punte, wat aan die Kelvin-Helmholtz-wolkformasies toegeken word. Cumulonimbus neem taamlik gereeld die vorm van ’n aambeeld aan, wat slegs sigbaar is op ’n groot afstand van die wolk af.

Sy is seker Theresa sou entoesiasties gewees het oor haar versameling van wolke. Wel, indien nie opgewonde nie, sou sy beslis nie veroordelend gewees het nie. Dit is nie die soort mens wat sy was nie. Sy sou met ’n glimlag na Talla geluister en die stokperdjie as “werklik interessant” bestempel het.

Die glase op die dranktrollie rinkel en Talla slaan haar skink- bord af. Sy bestel ’n bottel cabernet en nadat sy geskink het, bestudeer sy die wyn se diep pruimrooi kleur. Dit is ryk en kom nie tot sy volle reg in die lugredery se plastiekglasie nie. Gelukkig proe dit amper net so lekker soos cabernet in ’n gewone glas. Sy vat nog ’n sluk en sit terug.

Sy het ’n paar weke gelede Skotland in alle erns begin google, en meer gekry as waarop sy gereken het. Sy het op Astian se fotografiewebwerf afgekom.

Sebastian Joubert. “Astian” vir sy vriende en Talla  se eerste groot liefde. Dit was ’n helse skok om op sy foto op die internet af te kom. Sy het twee keer gekyk en ja, dit was beslis hy. Sy het die kunstige swart-en-wit portretstudie by sy kunstenaarsbiografie goed beskou. Ná al die jare het hy nie baie verander nie. Hoë wangbene, sagte oë, vol mond, welige krulkop, net effens silwer by sy slape. Hy het sy kamera in die hand gehad en sy biografie het gesê dat hy ’n gastehuis op Shetland bedryf, met waterverf skilder en wolke fotografeer. Shetland is ’n klompie eilande noord van Skotland en ’n mens kan die noorderligte daar sien, sê Astian.

Sy biografie het ook gesê dat hy ’n wolkversamelaar is, met ’n skakel na die Cloud Collection Appreciation Society se webwerf. Talla het daarop geklik en ’n paar uur later haar wolkboekie bestel.

Daardie aand by die huis het sy in die skoendoos met ou Kers- en verjaardagkaartjies en ander memento’s gaan krap en ’n paar kaartjies van Astian af uitgehaal om te lees. Die klein Sterns-boksie het sy vir laaste gehou, al het sy geweet wat daarin is. Sy het die silwer Sint Christopher wat Astian vir haar gegee het, uitgehaal, dit aangesit en die skoendoos toegemaak. Sint Christopher is die beskermheilige vir reisigers – as sy hom ooit nodig gehad het, is dit nou.

Natuurlik het sy Astian nie laat weet dat sy Skotland toe kom nie. Hoekom sou sy? Hulle het nie weer kontak gehad nadat hulle uitmekaar is nie. Sy was ook verbaas oor die kloppende hartseer die paar dae nadat sy Astian se foto gesien het.Vyf-en- twintig jaar het immers verloop vandat hulle uitmekaar is.

Sy sluk haar wyn klaar. Sy moet haar gedagtes streng beheer, geen nostalgiese drome oor Astian word nou meer toegelaat nie. Die verlede kan nie uit die dood opgeroep word nie, dis verby.

Daar is ’n reusagtige wolk ’n ent van die vliegtuig af. Sy skat dit omtrent ’n kilometer hoog, maar dis moeilik om te sê. Dit is glad aan die bokant – ’n lenticularis, ’n lenswolk. Maar toe sy mooi kyk, sien sy dat dit eintlik twee wolke is. Die boonste een, die gladde een wat soos ’n wit baret windmakerig skeef op die onderste een sit, is ’n pileuswolk, nie ’n lenswolk nie. Talla blaai na die betrokke bladsy in haar boekie en bestudeer die foto van die pileus. Sy kyk na die foto en dan weer by die venster uit na haar wolk. Dit lyk beslis soos ’n pileus. Dié wolk is ook ’n volle vyf-en-veertig punte werd.

Sy teken die datum, tyd en plek waarop sy dit gesien het onder die foto aan. Dit is verreweg die waardevolste wolk in haar versameling.

Terug na die wolk buite die vliegtuig. Dit verdwyn vinnig, soos pileuswolke blykbaar doen. Terwyl die boonste een disintegreer, vorm die figuur van ’n man in die middel van die onderste wolk. Hy staan in ’n vegtersposisie. Hy het lang hare en lyk na die een of ander mitiese figuur, ’n god. Hoe verder hulle van die god af wegvlieg, hoe langer word sy hare.

Later bly net lang, dun slierte hare en een arm oor. In sy oorblywende hand hou hy nou ’n swaard vas. Hy is net enkele minute herkenbaar voordat hy heeltemal vervorm.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: <em>Die wolkversamelaars</em> deur Nadia de Kock appeared first on LitNet.

Kerneels Breytenbach oor die Wêreldrugbybeker 2019 en oor Hond se gedagte

$
0
0

Kerneels Breytenbach praat met Naomi Meyer oor die rugby en oor Hond se gedagte.Kerneels, ek het hond se gedagte dat jy die afgelope paar naweke die rugby getrou volg. Jy en miljoene ander Suid-Afrikaners! Wat is jou gedagtes oor die afgelope naweek se wedstryd en die Springbokke se vertoning tot dusver?

Ja, ek was vasgenael voor die TV! Ek dink nie die Bokke het al hul beste gelewer nie. Ek moet met Jean de Villiers saamstem dat hul vertoning teen Wallis nie werklik hul beste poging was nie. Nou hoop ek dat hulle komende naweek ’n skouspelagtige vertoning sal lewer en Engeland sal stil speel.

In jou boek Hond se gedagte speel rugby 'n prominente rol. Jou vroulike hoofkarakter is nie baie gefokus op rugby nie. Het jy 'n spesifieke vrou in gedagte gehad toe jy oor haar geskryf het? Of vertel my oor jou karakter, die een wat jy geskep het? (En hoe reageer sy op die Wêreldrugbybeker?)

Ek het gedink aan Fleur de Villiers wat ’n paar dekades gelede by die Sunday Times politieke kommentaar geskryf het, maar omdat ek haar in ’n meer moderne tyd moes plaas, het ek eienskappe van eietydse joernaliste aan haar toegedig, ’n bietjie van Marianne Thamm, ’n bietjie van Sylvia Vollenhoven. My Fleur de Villiers sien rugby as ’n kulturele sfeer waarby sy geen aanklank vind nie. Sy hou nie van rugga buggers nie. Maar wanneer sy om den brode daarby betrokke raak, sien sy skielik dinge raak wat altyd vir haar verhul gebly het. Sy besef skielik dat rugby se wortels ver terug na antieke tye strek, en dat die samekoms van rugby en godsdiens in ons land nie toevallig is nie.

Het jy op natuurlike wyse en uit natuurlike belangstelling navorsing oor rugby gedoen en was dit dus vir jou lekker om die boek daaroor te skryf? Of wat beskou jy as die tema van die boek?

Ek het nog my hele lewe lank op een of ander manier die werkinge van rugby en die binnewerkinge van die rugbybedryf gevolg. Deur 'n sameloop van omstandighede het ek my toks al in die laerskool opgehang. Tog het ek meer ure aan rugby afgestaan as die meeste van my skoolmaats, en in die beste geselskap - my pa s’n. Ek het my rugby geleer langs die klubvelde van die Transvaalse Rugbyvoetbalunie, nie as speler nie, maar as kyker. My pa had 'n vriend, Wouter du Toit, wat 'n nek was by die skeidsregtersvereniging. Du Toit het hom omgepraat om een van die mense te word wat elke naweek gaan kyk hoe hanteer die skeidsregters hul wedstryde, en dan verslae oor hulle te skryf. Omdat my pa op sy dag vir Wanderers flank gespeel het en ook op skolevlak die fluitjie gedra het, het hy dit met groot toewyding aangepak. Op dié manier het ek rugby weekliks ingekry langs die velde van Diggers, Simmer & Jack, Wanderers, Alberton en dikwels ook die ou Ellispark. Rugby het deel van my jeug geword en daarna deel gebly. Ek het miskien meer van die reëls geweet as sommige van my skoolmaats, maar dit is iets wat eers later in my guns begin tel het. Ek het deur die jare tred probeer hou met die reëlveranderings, en selfs in ’n stadium geweet watter kleur die reëlboek was. Vandag het ek ’n app op my foon daarvoor. Die plesier van Hond se gedagte was vir my om rugby te gebruik om mense oor godsdiens te laat nadink. Die boek handel oor geloof – hoe mense dit verloor, hoe hulle geloof herwin, hoe bereid hulle is om in wonderwerke te glo.

Vertel my van die skryf van hierdie boek? Die vonke van inspirasie, die skryfproses, die beplanning en die lekkerste en moeilikste aspekte rondom die skep van hierdie boek.

Sedert ek in die vroeë 1970’s Van Wyk Louw se “Die hond van God” gelees het, en deur my Afrikaans-dosent aangeraai is om Dostojewski se The Brothers Karamazov te gaan lees om Louw se werk beter te kan verstaan, het die gedagte oor wonderwerke en hoe mense daarin glo by my bly spook. Ek het al baie eienaardige dinge op die rugbyveld sien gebeur, en het begin speel met die idee van ’n insident met religieuse implikasies tydens die eindwedstryd van die Wêreldbeker. En ek het ’n hond gehad, Jasper (het gelyk soos die een op die omslag van die boek), en die dinge het bymekaar gekom. My oorlede vrou, Carien, het altyd geterg dat Jasper salig onbewus is van die feit dat hy nie ’n mens is nie, en dat niemand dit tog vir hom moet sê nie. Nou ja, hoe kon ek anders?

Wat voorspel jy gaan eerskomende Saterdag gebeur?

Mens het eintlik geen ander keuse as om in wonderwerke te glo nie, nè?

Lees 'n uittreksel van Hond se gedagte hier:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

The post Kerneels Breytenbach oor die Wêreldrugbybeker 2019 en oor <em>Hond se gedagte</em> appeared first on LitNet.

Boekbekendstelling: Gaan Suid-Afrika oukei wees?


Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur 2019 bekend gemaak

$
0
0

Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur 2019 bekend gemaak

Sanlam en Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, kondig met trots die wenners van die 2019-Sanlampryse vir Jeuglektuur aan. Die pryse, wat ingestel is om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers en jong volwassenes (12-18 jaar oud) aan te moedig, is gisteraand (31 Oktober 2019) in Johannesburg toegeken. Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van drie kategorieë – Afrikaans, Engels en Afrikatale (Nguni- en Sotho-tale, Tshivenda en Xitsonga) – aangewys. Die totale prysgeld beloop R90 000.

Sydney Mbhele, Uitvoerende Hoof: Handelsmerk by Sanlam, sê toegewydheid om die beste te maak van wat jy het is ’n vereiste om jou heel beste lewe te kan lei. “Sanlam se 39-jaar lange borgskap van hierdie toekenning illustreer ons belegging in die jeug en om hulle toegang te gee tot die beste jeuglektuur in hul moedertaal. Soortgelyk aan Sanlam se vermoё om welvaart te skep, erken en beloon ons die ses skrywers vir hul vermoё om as woordmeesters 26 letters te omskep in iets van groter waarde – ’n literêre meesterstuk wat jongmense op ’n emosionele reis neem, of na plekke wat hulle dalk nooit in hul leeftyd sal besoek nie.” Hy wens die skrywers geluk met hul positiewe bydrae tot die ontwikkeling van ons leiers van die toekoms. 

Vanjaar se wentitels weerspieël die diepte in Suid-Afrikaanse jeugliteratuur, met genres wat wissel van realistiese fiksie en fantasie (wetenskapfiksie en gruwel) tot fabels. Die wenners is:

Afrikaans

  • Derick van der Walt wen sy tweede Sanlam-goud met Toring van Jasmyn, ’n spanningsverhaal wat in die kleurryke, onstuimige strate van Istanbul afspeel. Volgens die keurders is dit ’n storie wat jong lesers se verwysingsraamwerk sal verbreed en aksie en avontuur kombineer met geloofwaardige karakters by wie hulle aanklank sal vind. Dit vertel die verhaal van Markus wat Turkye saam met sy familie besoek, en bomaanvalle en ’n ontvoering beleef. Van der Walt het in 2007 vir die eerste keer Sanlam-goud gewen met sy nou klassieke Afrikaanse jeugroman Lien se lankstaanskoene. Derick woon in Pretoria.
  • Annerle Barnard kry silwer vir Sindikaat, nog ’n aksiebelaaide reisverhaal en ’n “weldeurdagte, realistiese storie wat die leser tot op die laaste bladsy boei”. Die 16-jarige Paul word die teiken van die Chinese mafia wanneer hy ’n sindikaat ontdek wat bedreigde seeperdjies na die Ooste smokkel. Vir sy veiligheid stuur sy pa hom en twee vriende op vakansie na Zambië en Zimbabwe – maar die bende is agter hulle aan. Annerle woon in Bloemfontein.

Engels

  • Nerine Dorman wen goud vir Sing Down the Stars, wat deur die keurders beskryf is as “’n briljant geskrewe distopiese verhaal. Die manier waarop die skrywer ’n vreemde wêreld verbeel en steeds karakters skep met konflik waarmee ons kan identifiseer, is uitsonderlik.” Die protagonis, die 12-jarige Nuri, oorleef in die troostelose, gevaarlike agterstrate van ’n stad in die verre toekoms deur met ’n bende te assosieer. Nuri, half mens, half buiteaardse wese, moet kritieke besluite neem om aan die lewe te bly. Nerine woon in Welcome Glen.
  • Toby Bennett wen silwer vir The Music Box, volgens die keurders ’n meesterlike fantasieverhaal wat worstel met die stryd tussen goed en kwaad. Die hoofkarakter, John, kan enigiets regmaak, behalwe sy wispelturige ma. Toe sy weer teenoor hom uitvaar, gaan kruip hy saam met sy nuwe sigeunervriend weg in ’n geheime grot. Die aankoms van ’n vreemdeling lei hulle na ’n magiese dimensie en die begin van 'n reis waarop John sy familie se diepste geheime ontdek. Toby woon in Claremont.

Afrikatale

  • Goud is toegeken aan debuutskrywer Thembisile Kundlwana vir Tata sikuxolele (“Pappa, ons vergewe jou”), ’n isiXhosa-verhaal “oor ’n stille pandemie in Afrika – die mishandeling van weeskinders deur familie”. Tweelingmeisies Silinda en Sinekusasa trek by hulle oom in ná die dood van hulle ma. Hulle word soos slawe behandel en gaan soek na hulle pa, wat hulle wegwys. Harde werk en deursettingsvermoë help hulle om ’n sukses van hulle lewe te maak. Thembisile woon in Sebokeng.
  • Nog ’n debuutskrywer Mbedzi Nyelisani, wat slegs 24 jaar oud is, wen silwer met U kondelela (“Geduld”), ’n Tshivenda-fabel met “’n boeiende boodskap” oor leierskap, magshonger, demokrasie, ware vriendskap en geduld. Wanneer koning Leeu sterf, is sy opvolger nie ’n nasaat nie maar ’n dier sonder koninklike bloed. Deur diere te gebruik om menslike koninklikes uit te beeld, toon die skrywer ook sy begrip van menslike gedrag, sê die keurders. Mbedzi woon in Polokwane.

Die wenmanuskripte is deur Tafelberg ontwikkel en uitgegee, in sowel gedrukte as e-boekformaat. Manuskripte is anoniem gekeur sodat debuutskrywers op gelyke voet met gevestigde skrywers kan meeding.

“Ons is opgewonde oor die verskeidenheid van temas en genres van vanjaar se weninskrywings,” sê Michelle Cooper, Tafelberg-uitgewer. “Hier is genoeg wat bekend is om Suid-Afrikaanse tienerlesers te boei, maar ook heelwat wat nuut en anders is om hulle koppe oop te maak en grense te skuif. Dit is jeugromans met integriteit, deur skrywers wat kinders en hul ervarings respekteer.”

Sedert die Sanlampryse in 1980 die eerste keer toegeken is, is nagenoeg 80 inskrywings vir skole voorgeskryf. “Dit bevestig die waarde van die kompetisie vir die ontwikkeling van plaaslike jeuglektuur van gehalte,” sê Cooper. Op die lang lys van voorgeskrewe wentitels is onder meer Praise Song deur Jenny Robson, Kungasa Ngifile deur EDM Sibaya, Leba Seipone deur Kabelo Duncan Kgatea, SuperZero deur Darrel Bristow-Bovey en Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt. Rolprente is ook van sommige titels gemaak, soos Lien se lankstaanskoene en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom deur Marita van der Vyver.

Die pryse is gisteraand by Exclusive Books, Hyde Park Corner, oorhandig deur Sydney Mbhele, Uitvoerende Hoof: Handelsmerk by Sanlam en Michelle Cooper, Hoof van die kinder- en jeugafdeling by NB-Uitgewers.

Inskrywings ingewag

Inskrywings word nou ingewag vir die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 1 Junie 2020.

*

Sanlam and Tafelberg, an imprint of NB Publishers, are proud to announce the winners of the 2019 Sanlam Prizes for Youth Literature. The prizes, which serve to encourage original and creative writing for teenage readers and young adults (ages 12-18), were announced in Johannesburg last night, 31 October 2019. The prizes are for new manuscripts and are awarded biennially.

Two winners (gold and silver) are chosen in each of three categories – English, African languages (Tshivenda, Xitsonga, Nguni and Sotho languages) and Afrikaans. The prize money totals R90 000.

Sydney Mbhele, Chief Executive of Brand at Sanlam, says that living your best life possible, requires a commitment to make the most of what you have.  “Sanlam’s 39 year-sponsorship of this acclaimed award is evident of our commitment to our youth, giving them access to the highest level of youth literature available in their home language. Similar to the skill applied by Sanlam in creating wealth, we recognize and congratulate our six writers for the craftmanship they apply as wordsmiths, turning 26 letters into something of much greater value – a literary masterpiece that takes our youth on a journey to experience emotions and places they might never visit in real life.” He congratulated the authors on their positive contribution towards the development of the leaders of tomorrow. 

Illustrating the depth of South African youth literature, this year’s winning titles cover genres ranging from realistic fiction and fantasy (science fiction and horror) to fables. The winners are:

English

  • Nerine Dorman won gold for Sing Down the Stars, described by the judges as “a brilliant piece of dystopian writing. The manner in which the author has created a strange world, yet created characters that have conflicts we can identify with is extraordinary.” The protagonist, 12-year-old Nuri, survives in the desolate barrens surrounding a far-future city by running with a gang. Half human and half alien, she has to make critical decisions to stay alive. Nerine lives in Welcome Glen.
  • Toby Bennett won silver for The Music Box, which, according to the judges, is a masterfully told fantasy novel grappling with big questions of good and evil. It tells the story of Jonathan, who has an uncanny ability to fix things, except his erratic mother. When her episodes grow worse, he hides out in his secret cave, together with his new gypsy friend. The arrival of a stranger sets off a chain of events that leads them into a magical dimension where his family secrets are revealed. Toby lives in Claremont.

African Languages

  • Gold went to isiXhosa debut author Thembisile Kundlwana for Tata sikuxolele (“Dad, We’ve Forgiven You”), described as “an eloquently written novel that engages a silent pandemic in African families – the abuse of orphans by relatives”. Twin girls Silinda and Sinekusasa go to live with their uncle after the death of their mother. Treated like slaves, they go looking for their father, who turns them away. Hard work and resilience help them to succeed in life. Thembisile lives in Sebokeng.
  • Another debut author Mbedzi Nyelisani, who is only 24 years old, won silver for U kondelela (“Patience”), a Tshivenda novel in fable form with “a compelling message” about leadership, the greed for power, democracy, true friendship and patience. When Lion, king of the jungle, dies, his successor is not his own offspring but an animal with no royal bloodline. Using animals to portray human royalty, the author also illustrates his understanding of human behaviour, the judges said. Mbedzi lives in Polokwane.

Afrikaans

  • Derick van der Walt won his second Sanlam gold for Toring van Jasmyn, a suspense story set in the turbulent streets of Istanbul. It was described by the judges as a perspective broadening story which combines action and adventure with living, breathing characters that readers can relate to. In it, Markus Combrink visits Turkey with his family, only to experience bomb attacks and a kidnapping. Van der Walt won Sanlam Gold for the classic Afrikaans youth novel Lien se lankstaanskoene in 2007. Derick lives in Pretoria.
  • Annerle Barnard won silver for Sindikaat, another action-packed travel story. The judges called it a “well-thought-out, realistic text that grips the reader until the last page”. 16-year-old Paul finds himself in the crosshairs of the Chinese mafia when he uncovers a syndicate smuggling endangered sea horses to the Eastern market. His worried father sends him and two friends on holiday to Zambia and Zimbabwe – but the gang is in pursuit. Annerle lives in Bloemfontein.

The winning manuscripts were developed and published by Tafelberg and are available in both print and ebook format. Manuscripts were judged anonymously so that debut writers were able to compete on an equal footing with established authors.

“We’re excited about the diversity in themes and genres of this year’s winning submissions,” says Michelle Cooper, Tafelberg publisher. “These novels cover enough familiar ground to engage South African teen readers but also offer much that is new and different to expand their minds and shift boundaries. These are novels with integrity, by authors who respect children and their experiences.”

Since the Sanlam awards were first bestowed in 1980, close to 80 entries have been prescribed for schools, emphasising the value of the competition, says Cooper. Among the long list of prescribed prize-winning titles have been Praise Song by Jenny Robson, Kungasa Ngifile by EDM Sibaya, Leba Seipone by Kabelo Duncan Kgatea, SuperZero by Darrel Bristow-Bovey and Lien se lankstaanskoene by Derick van der Walt. Some titles have also been made into films, including Lien se lankstaanskoene and Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom by Marita van der Vyver.

The prizes were handed over last night at Exclusive Books, Hyde Park Corner by Sydney Mbhele, Chief Executive of Brand at Sanlam and Michelle Cooper, Head of NB Publishers’ Children’s and YA Division.

Call to entry

Entries for the 2021 Sanlam Prizes for Youth Literature are now open. Entry forms are available at www.nb.co.za and the closing date is 1 June 2010.

The post Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur 2019 bekend gemaak appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

$
0
0

Remona Voges het met Christine Barkhuizen-Le Roux oor haar nuutste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, gesels. 

Hallo Christine. Geluk met jou nuwe boek! Jou vorige roman gaan ook, onder meer, oor die verhouding tussen ouer en kind en die impak wat een geslag op die volgende laat. In hoe ’n mate sluit My naam is Prins, ek slaap met die lig aan tematies by jou vorige werk aan?

Remona, voordat ek hierdie boek begin skryf het, het daar soveel twyfel in my kop gedraai. Sál ek dit kan regkry om reg te laat geskied aan hierdie onderwerp – aan die slagoffers van soveel emosionele én fisieke pyn? Dis om die minste te sê ’n “tall order”. Maar ek glo vas die onderwerp is deur “Iets groter as ek” op my tafel kom sit. En toe ek uiteindelik begin navorsing doen, en begin skryf, het ek besef: Eintlik het ál my romans tot dusver ook te make met onreg. En veral onreg teenoor kinders.

Ek was ongeveer twee jaar oud toe ek die eerste keer self ’n ervaring gehad het wat my laat voel het / weet het: wat hier gebeur, is nie reg nie. Natuurlik het ek nie ’n woord gehad om aan daardie gevoel te gee nie, maar deur die jare het ek besef dat dít dalk die ding is wat my die meeste aangryp. Onreg teenoor kinders, teenoor die weerloses, die randfigure – diegene wat hulleself nie kan verdedig nie. Hulle wat “nie gehoor is nie”, soos wat Juliana Coetzer dit stel.

Terselfdertyd het ek geweet dis ’n baie groot verantwoordelikheid wat ek op my skouers neem. En tog het ek besluit om die verantwoordelikheid te aanvaar en dit te dra. Natuurlik kan ek nóóit werklik in die lyf/vel van só ’n misbruikte seuntjie klim nie, maar ek het wyd gelees, baie onderhoude gevoer, werklik die meeste inligting (wat my soms so verskriklik ontstel het dat ek uit die huis gehardloop het om net asem te haal) bymekaar gemaak oor ’n tydperk van baie jare. Daarmee het ek probeer om ’n profiel van ’n pedofiel te “maak”, en so ook ’n profiel van ’n slagoffer. Ek het ’n verhaal daar om geweef wat ek gehoop het die leser die verskrikking en die onreg sal laat besef. Terselfdertyd het ek probeer om dit só aan te bied dat die leser die teks nie as walglik ervaar nie – hoewel die dade teen die kinders natuurlik wel walglik en verskriklik is.

Ek wil egter hê dat lesers dit as ’n verhaal lees, nie as ’n verhandeling nie – dis nie wat dit is nie. Hoewel ek baie navorsing gedoen het, is dit ’n roman, en nie ’n verslag nie. Dis ’n verhaal oor verhoudings – verskeie verhoudings; en nie te vergeet nie: die verhaal van ’n sielkundige wat al meer as twee jaar lank op ’n sabbatical is en nou deur ’n ekspasiënt, en veral sy dogter, gevra word om saam met hulle te reis na die plek van haar pa, Deon, se grootwordjare.

Oor of ’n sielkundige op so ’n reis sal/mag saamgaan, het ek baie navraag en navorsing gedoen by sielkundiges en psigiaters. Die tydperk wat verloop het, is lank genoeg – maar sy mag nie weer so ’n persoon se sielkundige wees nie. (Iemand wat goed lees, sal al hierdie stukkies inligting raaklees.) Deur die bank het hulle gesê dit is nie teen die morele of wetlike kodes van sielkundiges nie, en verder: hierdie sielkundige het nóg ’n ander baie belangrike motief. Sy het sedert haar sessies met Deon destyds parallelle begin sien tussen haar eie dominee-man en haar pasiënt. Frank, haar man, kruip in sy studeerkamer weg en probeer sy sorge en herinneringe verdrink in bottel ná bottel whiskey. Wanneer sy dan die kans kry om te gaan soek na ook sý verlede, weet sy sy wil haar huwelik red, en Deon en sy dogter bied haar hierdie geleentheid. Sy nooi haar man saam, maar hy weier volstrek om saam te gaan na die plek van sy grootword – dieselfde Skuilkrans as waar Deon op skool was. Daar is dus klinkklare redes waarom sy besluit sy sal saamgaan op hierdie letterlike sowel as figuurlike reis.

Daar is al in Afrikaans boeke oor kindermolestering geskryf (ek dink byvoorbeeld aan Dis ek, Anna en Thula-thula). Wat jou boek egter interessant maak, is dat dit molestering van jong seuns onder die loep bring. Hoekom het jy op dié invalshoek besluit?

Ek is bly oor hierdie vraag. My jare lange Nederlandse vriendin, Resl, het met my besoek (alles steeds toe nog in die pyplyn met proewe ens) vir my gesê: “Christine, jij bent al meer dan vijftien jaar bezig met deze onderwerp – want het boek die je mij met onze eerste ontmoeting had gegeven, was Dis ek Anna.” Dit het my laat dink. Inderdaad. Die onderwerp “hang” al baie lank in my kop – “hover”, die Engels, is eintlik ’n beter beskrywing. Ek het besluit om ook wanneer mense vra, reguit te sê: “My oupa het my en my sussie ook betas.” Jy vergeet dit nooit. En al is dit nie verkragting nie, jy blý weet van die aantasting van jou diepste privaatheid.

Maar om by jou eintlike vraag uit te kom: Dit het by my begin daag dat daar byna nooit ’n stem gegee word aan seuntjies/seuns wat seksueel gemolesteer word nie. Toe ek met mense daaroor begin praat, was dit soos ’n magneet wat al die ystervylsels na hom toe aantrek. Met die lees oor die onderwerp (my eerste bronne is altyd persoonlike gesprekke en dan boeke, in plaas van die internet – wat ook later bykom) was ek opreg geskok. In baie Engelse boeke, en boeke in Engels vertaal, is daar ’n magdom gevalle, meer as op te noem, lewens, waaroor geskryf word. Daar is ook sindikate van mense in hoë posisies wat kinders – in dié geval seuns – “aangee” van die een na die ander.

In Afrikaans was daar Die reuk van appels van Mark Behr en Roepman van Jan van Tonder wat die verlies van onskuld van so ’n seun net-net aanraak, en dit in die leser se kop laat hang. Maar waar was die stem van die slagoffers? Die seuns? Die emosies en gedagtes wat jare lank in hierdie mans verwarring bly skep. Iemand moes dit skryf – en omdat ek gevoel het hierdie ding druk só hard op my hart, het ek ’n roman daaroor geskryf. Let wel, om ’n nuwe werklikheid te skep (die roman-werklikheid) uit verskeie, ware werklikhede waaroor ek navorsing gedoen het. ’n Verhaal – nié ’n lys van statistieke of ’n gevallestudie nie.

Koerantberigte skok ons daagliks, maar môre is daar een wat weer skok, en oormôre weer. John Steinbeck het tydens die skryf van sy roman The grapes of wrath aan sy vriendin Elizabeth Otis geskryf: “[T]he suffering was so great that objective reporting could only falsify the moment.” Eers ná die lees van Steinbeck se roman het president Roosevelt self gaan ondersoek instel na die haglike omstandighede waaronder die mense in Oklahoma verkeer. Steinbeck skryf onder andere: “When I wrote The Grapes of Wrath ... I was filled ... with certain angers ... at people who were doing injustices to other people.”

Ook by my was daar ’n seker woede terwyl ek gelees het oor, en geskryf het oor, wat aan weerlose kinders gedoen word. Ek glo dat ’n roman ’n groter impak op die leser/hoorder kan hê as blote statistiek. As jy iemand kan “intrek” om die omstandigheide self te beleef, bereik jy die hart van die mens.

Hierdie volgende vraag sluit eintlik ’n bietjie by my vorige een aan: Jy gee in die roman ’n stem aan die ongehoordes. Hoekom dink jy hoor ’n mens eintlik betreklik min oor kinderverkragtings as dit by seuns kom?

Daar is soveel redes ...

Stel vir jou ’n beeld voor van die “tradisionele Afrikanerman” (erg om so te veralgemeen, maar nuttig vir die doel van die vraag):

  • Stoer en sterk
  • Manlik, en geleer om nie emosies te wys nie
  • Die broodwinner, versorger en beskermer van sy vrou en kinders
  • Die toonbeeld van gesag en betroubaarheid.

Só ’n man is dalk ook in sy kinderjare gemolesteer, betas, verkrag.

Máár:

  • Hoe sê ek dit vir my vrou? Sy sal dink ek was is eintlik gay ...
  • Wat sou gebeur as ek dieselfde paadjie volg en iets aan ons kinders doen?
  • Ek was te pieperig om myself te verdedig.
  • Ek is skáám om hieroor te praat, selfs te dink ...
  • Ek is eintlik nie die sterk man wat sy gedink het ek is nie.
  • Wanneer haak ek ook uit – ek twyfel oor myself.
  • Hoe kan ek uitkom daarmee – ek gaan huil – en cowboys don’t cry ...
  • Ek is nié “goed” nie ...
  • Ek is “aangetas” ...

Hierdie is maar ’n paar ruwe aanduidings oor waarom mans nie vorendag sal/wil kom daarmee dat hulle misbruik is nie. Daar is sóveel nuanses nog. Maar dit is ván die redes waarom mans nie daarmee wil “uitkom” nie. Die skuheid, die skaamte, die seerkry.

Daarom is dit nodig dat ons, die Afrikaanses wat Afrikaans lees, óók moet kennis neem van hierdie onreg wat teenoor seuns gedoen word, en wat weggesteek word onder dik komberse. Ons is so bang dat iets ons sal ontstel, ons druk liewer ons hand oor die oë en sê: “Ek wil nie hoor nie/ nie sien nie.”

Die tema van die boek is swaar, maar dit is ook in ’n sekere sin opvoedkundig. Is dit wat jy wou regkry met die boek – om mense deur die lees van die roman ook in te lig of te waarsku?

Dis ’n swaar en ingewikkelde tema ja. Maar ek kry daagliks terugvoer van lesers wat sê die onderwerp en dit wat met die seuns gebeur, is verskriklik, maar hulle kon nie ophou lees nie. Dit was nie vir hulle ’n “grusame” leeservaring nie, hoewel dit ontstellend is om jou oë op ’n dag oop te maak en te sien: Dit gebeur hier rondom, tussen, ons!

En ja, ek het gehoop mense sal nie net “kennis neem” van wat op ’n ontsaglik groot skaal hier by almal , en in elke gemeenskap, gebeur nie, maar dat hulle ook sal begin praat. Jy hoef nie “betrokke” te raak nie – maar as jy vermoed ’n kind word misbruik, gaan gee dit aan by die maatskaplike werker in jou omgewing. Jou identiteit word nie in gedrang gebring nie! Maar as ons swyg, is ons skuldig. Net so skuldig soos die persoon wat die kinders molesteer.

Watter tekens is daar, as jy ’n paar moet noem, waarvoor ’n mens op die uitkyk kan wees as jy vermoed dat iemand seksueel misbruik word?

Ek konsentreer hier nou veral op seuns, hoewel dit ook op dogtertjies van toepassing kan wees.

  • Die kind tree vreemd, en op ’n “seksuele manier”, op met betrekking tot speelgoed en ander voorwerpe.
  • Nagmerries, slaapprobleme.
  • Word geheimsinnig oor sy optrede – waar, en saam met wie hy was.
  • Die kind onttrek homself, óf wil glad nie van die ma geskei word nie – klouerig – wil nie met anders kinders speel nie.
  • Persoonlikheidsverandering, “mood swings”.
  • ’n Vrees vir sekere plekke of sekere persone.
  • Woede-uitbarstings.
  • Eetgewoontes wat verander – te veel eet / te min eet.
  • Skielike nuwe woorde (waaraan hy nie normaalweg blootgestel sou wees nie) wat die kind gebruik vir liggaamsdele.
  • Die kind praat van ’n gawe omie, nuwe vriend, by wie hy ook geld/of presente kry.
  • Wegloop – die kind pak sy goed in en probeer wegkom van alles wat hom ontstel.
  • Onverklaarbare tekens soos sere om die seun se mond, sy geslagsdele.
  • Selfbesering – soos sny, brandwonde, blou kolle – soos wat hy homself seermaak. (As gevolg van skuldgevoelens – die pedofiel laat die seun altyd voel dit is sý skuld dat hy hierdie goed aan hom doen.)
  • Oordraagbare siektes.
  • Die kind wil nie alleen wees met ’n spesifieke ouer kind of volwassene nie.

Fisieke tekens:

  • Pyn, verkleuring van vel rondom genitalieë, bloeding, of afskeidings deur genitalieë, anus of mond.
  • Voortdurende pyn gedurende stoelgang en urinering.
  • Om homself nat of vuil te maak – onafhanklik van toiletgebruik.

Ek is nie ’n sielkundige nie – hoewel ek ook sielkunde studeer het. Tog het ek met verskeie professionele mense in hierdie rigting gepraat, en ek wil beklemtoon dat van bogenoemde simptome ook by kinders kan voorkom wanneer daar erge stres is – die dood van ’n familielid, ’n egskeiding van ouers, probleme by die skool of met vriende, oorangstigheid as ’n psigiese manifestasie

Dis nie te sê dat één van hierdie tekens dui op misbruik nie, maar wanneer ’n aantal van hierdie simptome aanmeld by ’n kind, moet ouers of voogde beslis begin uitvind, en aandag gee aan wat aangaan.

Was dit vir jou moeilik om hierdie verhaal te skryf? En hoe het jy dit benader? Het jy met gevallestudies te werk gegaan?

Dis beslis die moeilikste ding wat ek nog ooit in my lewe geskryf het. Padmaker was baie moeilik, want ’n groot deel daarvan is my eie verhaal, maar Prins het my “gut” uitgeruk. Die bewuswording van onskuldige seuntjies wat misbruik word – op so ’n groot skaal! – en die stilswye van almal wat weet. Ek het verskeie gevallestudies deurgewerk, verskeie onderhoude gevoer (ook met buitelandse kundiges soos Peter Adriaenssens wat vanaf 2010 met die slagoffers van pedofilie in die Rooms-Katolieke Kerk gewerk het – die meeste toe al in hulle tagtigs), baie boeke gelees (fiksie sowel as niefiksie), artikels (gedruk sowel as op die internet).

Tog is hierdie boek ook ’n verhaal waarin versoening en vergifnis ’n rol speel. Ek, die skrywer, gee nie uitsluitsel hieroor nie. Maar die vraag word gevra: Kán ek ’n pedofiel vergewe? Hieroor moet elke leser vir homself/haarself besluit. Wat egter belangrik is, is dat daar heling moontlik is. Die Ierse skrywer Colm O’Gorman het aan my gesê: Wanneer jy hierdie boek skryf, maak seker dat mense daar buite, veral slagoffers, wéét dis nie bepalend vir hulle hele lewe nie. Daar ís ook lewe ná seksuele molestering.

Die skryf van My naam is Prins, ek slaap met die lig aan het my nie onaangeraak gelaat nie. Ek is iemand anders as wat ek daarvóór was.

Die boek is in ’n sekere mate ook ’n aanklag teen mense wat kies om weg te kyk. Wat dink jy is ons as ’n samelewing se verantwoordelikheid teenoor slagoffers? En hoekom dink jy kies mense soos pa Pietie se vrou partykeer om hierdie dinge te ignoreer?

 My naam is Prins, ek slaap met die lig aan is ’n verhaal van reaksies op gebeure, van die benadering van verskeie kwessies deur die samelewing. ’n Diverse samelewing van diversiteit wat keuses maak, wat besluit om te praat of stil te bly – veel meer as wat dit ’n kliniese realiteit van ’n sielkundige is.

Wat is ons verantwoordelikheid?

Deur alles waardeur ek gewerk het, weet ek: In die eerste plek moet ons as individue “wakker” wees. Waar kinders (jou eie, of iemand anders s’n) in jou omgewing is, moet jy weet: Hierdie kind is ’n weerlose wese – ons as volwassenes moet hierdie weerloses beskerm, ons moet oplet as daar iets anders as normaal by die kind voorkomdinge wat hier bo genoem is.

Ons kies, ja. Soos ons dikwels in koerante lees, kies ook pedofiele se vroue/geliefdes om weg te kyk. Omdat ons bang is vir die persoon, die mag wat hy oor my kan uitoefen. Ons glo ons kan nie die status van “gerespekteerde lede van die samelewing” aantas of bevraagteken nie. Ons is bang dat die “ander mense” ons nie sal glo nie of óns sal verwerp – in plaas van om die pedofiel aan die kaak te stel. Dis geriefliker om in ons gemaksones te bly sit. En die kind op te offer.

Dan is daar natuurlik ook die kwessie van hoe die kerk dikwels pedofiele beskerm, en daar is ook heelwat verwysings na die Rooms-Katolieke Kerk se priesters. Sien jy ’n duidelike verband met die Rooms-Katolieke Kerk en die manier waarop dinge dikwels in die Protestantse Kerk toegesmeer word?

Wêreldwyd word die Rooms-Katolieke Kerk daarvan beskuldig dat priesters seuns molesteer. Dat dit waar is, is nie te betwyfel nie. Maar weer eens: Dis so maklik om die vinger na die Katolieke priesters te wys. Want so bly dié van ons wat Protestante is buite skot. Ons was ons hande in onskuld, terwyl die onskuld van kinders geskend word as gevolg van toesmeerdery deur instansies soos kerke, skole, politieke bewegings, sportorganisasies, talentkompetisies – oral waar toegang tot kinders maklik is.

Het jy in jou navorsing bevind dat pedofiele dikwels self slagoffers van een of ander vorm van misbruik is of was?

Dit ís so dat sommige kinders wat slagoffers was, ook pedofiele kan word/wees. Maar dis glad nie noodwendig so nie. Enige mens kan ’n pedofiel wees. Daar is sekere algemene ooreenkomste tussen pedofiele wat ’n mens opval, maar dis beslis nie so dat die misbruik van ’n seun hom noodwendig óók ’n pedofiel gaan maak nie! En dis ’n groot mite dat gay mans die éintlike pedofiele is. Persentasiegewys sal die oorgrote meerderheid van pedofiele heteroseksuele mans wees. Daar is ook vroue, maar hulle is in die minderheid.

Samevattend: Al hierdie gegewens en feite is interessant, en skokkend – maar Prins is ’n roman, nié ’n handboek nie.

Laastens: Iemand het my vertel dat hy vir sy kinders gesê het: “Julle moet oppas vir die ‘lelike’ omies.” Waarop een van die kinders gevra het: “Pappa, hoe lýk ’n lelike omie?” Dit was vir my ’n hou in die maag. Want inderdaad: Hoe lyk ’n lelike omie? En: Wie wil die waarheid van ’n “goeie man” weet?

The post Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor <em>My naam is Prins, ek slaap met die lig aan</em> appeared first on LitNet.

Uittreksel: Dit proe soos huis deur Herman Lensing

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit boeke wat pas verskyn het. Lees ’n gedeelte uit die resepteboek Dit proe soos huis deur Herman Lensing.

Titel: Dit proe soos huis
Skrywer: Herman Lensing

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179911

Kerriefrikkadelle 

Frikkadelle

  • 1 sny witbrood
  • 100 ml melk
  • 500 g maer maalvleis (ek verkies lam)
  • 1 groot tamatie, geskil en grofgerasper
  • 2 takkies tiemie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Sous

  • 2 uie, grofgerasper
  • 250 ml warm water
  • 15 ml sterk kerriepoeier
  • 30 ml suiker
  • 15 ml mielieblom
  • ’n knippie sout
  • 5 ml borrie
  • 60 ml witwynasyn
  • 15 ml appelkooskonfyt

Frikkadelle

Verhit die oond tot 180 ºC. Week die brood in die melk. Sit die maalvleis, tamatie en tiemie in ’n groot mengbak en voeg die geweekte brood by. Geur met sout en peper en meng goed. Vorm die maalvleis in klein happiegroot balletjies van ongeveer 20 g elk en pak dit in ’n oondpan. Voeg ’n klein bietjie kookwater by en bak in ’n warm oond (nie te droog nie, ongeveer 10 minute). Haal uit en hou eenkant.

Sous

Meng al die bestanddele vir die sous goed in ’n groot pot totdat die mielieblom opgelos het. Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute of tot ’n lang sous vorm. Giet oor die gaar frikkadelle en maak seker alles is mooi bedek. Maak die bak toe en laat staan in die yskas vir 2-3 dae sodat die geure kan ontwikkel. Sit voor.

My ma het hierdie frikkadelle vir byna elke geleentheid op die dorp gemaak. Sy het selfs ’n spesiale bak gehad waarin hulle in die yskas gestaan het; dit was geel gevlek van die kerriesous. Een van my herinneringe aan dié frikkadelle is bitter-soet. My ma het vir ’n funksie gekook. Die dienborde was gepak met die kos, gereed om weg te neem. Eers het ek net een frikkadel van die bord af gesteel; toe’s ek terug vir nog een en toe weer vir nog ’n paar. Ek het my oortreding probeer verdoesel deur die happies rond te skuif op die bord, maar my ma se perfeksionis-oog het dit nie misgekyk nie ... As ek my oë toeknyp brand my boude nou nog, maar ek proe steeds die frikkadelle ook!

The post Uittreksel: <em>Dit proe soos huis</em> deur Herman Lensing appeared first on LitNet.

Bekendstelling: Sushi en Shosholoza deur Erns Grundling (Stellenbosch)

Boekbekendstelling: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Stellenbosch)

Viewing all 1324 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>